Hoofstuk elf
“Moenie julle vertroue in edeles stel nie”
1, 2. (a) Op watter geïnspireerde raad gee die Jode nie ag nie, en wat is die gevolg? (b) Waarom vra Jehovah: “Waar is die skeibrief?”
“MOENIE julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie. . . . Gelukkig is hy wat die God van Jakob as sy hulp het, wie se hoop op Jehovah sy God is, die Maker van hemel en aarde” (Psalm 146:3-6). As die Jode wat in Jesaja se dag leef maar net die psalmis se raad wou toepas! As hulle maar net hulle vertroue in “die God van Jakob” wou stel, en nie in Egipte of enige ander heidense nasie nie! Dan sal Jehovah optree om hulle te beskerm wanneer Juda se vyande teen hulle opkom. Maar Juda weier om by Jehovah hulp te soek. Gevolglik sal Jehovah toelaat dat Jerusalem vernietig word en dat die inwoners van Juda in gevangenskap na Babilon weggevoer word.
2 Juda kan niemand anders hiervoor kwalik neem nie. Hulle kan nie tereg sê dat hulle vernietig word omdat Jehovah verraderlik met hulle gehandel het of sy verbond met die nasie verwaarloos het nie. Die Skepper verbreek nooit sy verbond nie (Jeremia 31:32; Daniël 9:27; Openbaring 15:4). Jehovah beklemtoon dié feit en vra die Jode: “Waar is die skeibrief dan van julle moeder, wat ek weggestuur het?” (Jesaja 50:1a). Onder die Mosaïese Wet moet ’n man wat van sy vrou skei, vir haar ’n skeibrief gee. Dan is sy vry om ’n ander man se vrou te word (Deuteronomium 24:1, 2). Jehovah het in figuurlike sin so ’n skeibrief vir Juda se susterkoninkryk, Israel, gegee, maar nie vir Juda nie.a Hy is nog steeds hulle “eggenoot-eienaar” (Jeremia 3:8, 14). Juda is sekerlik nie vry om met heidense nasies om te gaan nie. Jehovah se verhouding met hulle sal voortduur “totdat Silo [die Messias] kom”.—Genesis 49:10.
3. Waarom ‘verkoop’ Jehovah sy volk?
3 Jehovah vra Juda ook: “Aan wie van my skuldeisers het ek julle verkoop?” (Jesaja 50:1b). Die Jode sal nie in Babiloniese ballingskap gestuur word om die een of ander skuld te betaal wat Jehovah hom kwansuis op die hals gehaal het nie. Jehovah is nie soos ’n arm Israeliet wat sy kinders aan ’n skuldeiser moet verkoop om sy skuld te vereffen nie (Eksodus 21:7). Jehovah sê eerder wat die werklike rede is waarom sy volk in slawerny sal verkeer: “Kyk! Weens julle ongeregtighede is julle verkoop, en weens julle oortredings is julle moeder weggestuur” (Jesaja 50:1c). Die Jode het Jehovah verstoot; hy het hulle nie verstoot nie.
4, 5. Hoe toon Jehovah sy liefde vir sy volk, maar hoe reageer Juda daarop?
4 Jehovah se volgende vraag beklemtoon werklik sy liefde vir sy volk: “Waarom was daar niemand toe ek gekom het nie? Waarom het niemand geantwoord toe ek geroep het nie?” (Jesaja 50:2a). Deur middel van sy knegte die profete het Jehovah as ’t ware in sy volk se tuiste ingekom om met hulle te pleit dat hulle met hulle hele hart na hom moet terugkeer. Maar die antwoord is stilte. Die Jode verkies om by mense hulp te soek, en soek dit selfs soms by Egipte.—Jesaja 30:2; 31:1-3; Jeremia 37:5-7.
5 Is Egipte ’n betroubaarder redder as Jehovah? Daardie ontroue Jode het klaarblyklik die gebeure vergeet wat eeue tevore tot die ontstaan van hulle nasie gelei het. Jehovah vra hulle: “Het my hand in werklikheid so kort geword dat dit nie kan verlos nie, of is daar in my geen krag om te bevry nie? Kyk! Met my bestrawwing laat ek die see opdroog; ek maak riviere ’n wildernis. Hulle visse stink omdat daar geen water is nie, en hulle sterf van dors. Ek beklee die hemel met donkerte, en ek bedek dit met saklinne.”—Jesaja 50:2b, 3.
6, 7. Hoe het Jehovah sy reddingskrag getoon toe die Egiptenaars ’n bedreiging was?
6 In 1513 v.G.J. was Egipte die onderdrukker van God se volk—nie die verwagte verlosser nie. Die Israeliete was slawe in daardie heidense land. Maar Jehovah het hulle verlos, en wat ’n wonderlike verlossing was dit tog nie! Hy het eers die Tien Plae oor die land gebring. Ná die besonder verwoestende tiende plaag, het Egipte se Farao die Israeliete aangespoor om die land te verlaat (Eksodus 7:14–12:31). Maar kort ná hulle dit gedoen het, het Farao van plan verander. Hy het sy troepe bymekaargeroep en uitgetrek om die Israeliete te dwing om na Egipte terug te keer (Eksodus 14:5-9). Met ’n menigte Egiptiese soldate agter hulle en die Rooi See voor hulle, was die Israeliete vasgekeer! Maar Jehovah was daar om vir hulle te veg.
7 Jehovah het die Egiptenaars in hulle vaart gestuit deur ’n wolkkolom tussen hulle en die Israeliete te plaas. Aan die Egiptenaars se kant van die wolkmassa was daar duisternis; aan die Israeliete se kant was daar lig (Eksodus 14:20). Terwyl die Egiptiese leërmag teruggehou is, het Jehovah “die see deur ’n sterk oostewind laat wegvloei, die hele nag deur, en die seebodem in droë grond verander” (Eksodus 14:21). Toe die water geskei is, kon die hele volk—manne, vroue en kinders—deur die Rooi See na veiligheid trek. Toe sy volk goed op pad na die oorkant toe was, het Jehovah die wolk gelig. Die Egiptenaars het hulle so vinnig as wat hulle kon, agternagesit en in die seebedding ingestorm. Toe sy volk veilig aan die ander kant was, het Jehovah die water laat terugvloei, en Farao en sy leër het verdrink. So het Jehovah vir sy volk geveg. Wat ’n aansporing is dit tog vir hedendaagse Christene!—Eksodus 14:23-28.
8. Weens watter waarskuwings wat die inwoners van Juda geïgnoreer het, word hulle eindelik in ballingskap weggevoer?
8 Teen Jesaja se tyd het sewehonderd jaar al verbygegaan sedert daardie Goddelike oorwinning. Juda is nou ’n onafhanklike nasie. Soms knoop hulle diplomatieke betrekkinge met ander regerings aan, soos Assirië en Egipte. Maar die leiers van daardie heidense nasies kan nie vertrou word nie. Hulle sal altyd hulle eie belange voor enige verbond plaas wat hulle met Juda sluit. Die profete praat in die naam van Jehovah en waarsku die volk om nie op sulke mense te vertrou nie, maar die volk slaan nie ag op die profete se woorde nie. Uiteindelik sal die Jode in ballingskap na Babilon weggevoer word en 70 jaar in slawerny daar deurbring (Jeremia 25:11). Maar Jehovah sal sy volk nie vergeet nie en hy sal hulle ook nie tot onbepaalde tyd verwerp nie. Op die vasgestelde tyd sal hy hulle onthou, en hy sal die weg open sodat hulle na hulle vaderland kan terugkeer om ware aanbidding te herstel. Waarom? Om voor te berei vir die koms van Silo, die een aan wie die gehoorsaamheid van al die volke sal behoort!
Silo kom
9. Wie is Silo, en watter soort onderrigter is hy?
9 Eeue gaan verby. “Die voleinding van die tyd” breek aan, en die een wat Silo genoem word, die Here Jesus Chris-tus, verskyn op die aarde (Galasiërs 4:4; Hebreërs 1:1, 2). Die feit dat Jehovah die een wat naaste aan hom was, aangestel het om sy Woordvoerder vir die Jode te wees, toon hoe lief Jehovah sy volk het. Watter soort woordvoerder is Jesus? Die beste! Jesus is meer as net ’n woordvoerder, hy is ’n onderrigter—’n Meesteronderrigter. Dit is geen wonder nie, want hy het ’n wonderlike Leermeester gehad—Jehovah God self (Johannes 5:30; 6:45; 7:15, 16, 46; 8:26). Dit word bevestig deur wat Jesus in ’n profesie deur middel van Jesaja sê: “Die Soewereine Heer Jehovah het my die tong gegee van dié wat geleer is, sodat ek kan weet hoe om die vermoeide met ’n woord te antwoord. Hy wek oggend na oggend; hy wek my oor om te hoor soos dié wat geleer is.”—Jesaja 50:4.b
10. Hoe weerspieël Jesus Jehovah se liefde vir Sy volk, en hoe reageer mense op Jesus?
10 Voordat Jesus aarde toe gekom het, het hy aan sy Vader se sy in die hemel gewerk. Die liefdevolle verhouding tussen Vader en Seun word in digterlike terme in Spreuke 8:30 beskryf: “Ek [het] ’n meesterwerker naas [Jehovah] geword, . . . terwyl ek die hele tyd voor hom verheug was.” Dit het vir Jesus groot vreugde verskaf om na sy Vader te luister. Soos sy Vader het hy “die mensekinders” lief (Spreuke 8:31). Wanneer hy aarde toe kom, antwoord Jesus “die vermoeide met ’n woord”. Hy begin sy bediening deur ’n bemoedigende gedeelte uit Jesaja se profesie te lees: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak, . . . om die verbryseldes in vryheid weg te stuur” (Lukas 4:18; Jesaja 61:1). Goeie nuus vir die armes! Verkwikking vir die vermoeides! Hoe bly moet daardie aankondiging die volk tog maak! Party is verheug—maar nie almal nie. Op die ou end aanvaar baie nie die getuienis dat Jesus deur Jehovah geleer is nie.
11. Wie kom onder die juk saam met Jesus, en wat ervaar hulle?
11 Maar party wil meer hoor. Hulle reageer met vreugde op Jesus se hartverblydende uitnodiging: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind” (Matteus 11:28, 29). Onder diegene wat na Jesus toe kom, is die manne wat sy apostels word. Hulle weet dat dit vir hulle harde werk sal beteken om saam met Jesus onder die juk te kom. Hierdie werk behels onder meer dat die goeie nuus van die Koninkryk tot die eindes van die aarde verkondig moet word (Matteus 24:14). Wanneer die apostels en ander dissipels by hierdie werk betrokke raak, vind hulle dat dit inderdaad verkwikking vir hulle siele beteken. Dieselfde werk word vandag deur getroue Christene gedoen, en ’n deelname daaraan bring vir hulle ook sulke vreugde mee.
Hy is nie opstandig nie
12. Op watter maniere toon Jesus sy gehoorsaamheid aan sy hemelse Vader?
12 Jesus verloor nooit die doel waarom hy aarde toe gekom het—om God se wil te doen—uit die oog nie. Sy beskouing van sake is voorspel: “Die Soewereine Heer Jehovah het my oor geopen, en ek was nie opstandig nie. Ek het my nie in die teenoorgestelde rigting gedraai nie” (Jesaja 50:5). Jesus is altyd aan God gehoorsaam. Trouens, hy sê selfs: “Die Seun kan hoegenaamd niks op eie inisiatief doen nie, maar net wat hy die Vader sien doen” (Johannes 5:19). In sy voormenslike bestaan het Jesus heel waarskynlik miljoene, selfs biljoene, jare saam met sy vader gewerk. Nadat hy aarde toe gekom het, volg hy nog altyd Jehovah se instruksies. Hoeveel te meer moet ons, Christus se onvolmaakte volgelinge, sorg dat ons doen wat Jehovah vir ons sê!
13. Wat lê vir Jesus voor, maar hoe toon hy dat hy moedig is?
13 Party van dié wat Jehovah se enigverwekte Seun verwerp, vervolg hom, en ook dít is voorspel: “Ek het my rug gegee vir dié wat slaan, en my wange vir dié wat die hare uitpluk. My gesig het ek nie vir vernederende dinge en spoeg verberg nie” (Jesaja 50:6). Volgens die profesie sal die teenstanders van die Messias hom pynig en verneder. Jesus weet dit. En hy weet hoe ver hierdie vervolging sal gaan. Maar wanneer die einde van sy tyd op die aarde aanbreek, is hy nie bevrees nie. Met rotsvaste vasberadenheid gaan hy na Jerusalem, waar sy menselewe tot ’n einde sal kom. Op pad daarheen sê Jesus vir sy dissipels: “Ons gaan nou op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal aan die hoofpriesters en die skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal hom ter dood veroordeel en hom aan mense van die nasies oorlewer, en hulle sal met hom die spot dryf en sal op hom spoeg en hom gesel en hom doodmaak, maar drie dae later sal hy opstaan” (Markus 10:33, 34). Al hierdie bose mishandeling sal plaasvind weens die aanhitsing van manne wat eintlik van beter moet weet—die hoofpriesters en die skrifgeleerdes.
14, 15. Hoe word Jesaja se woorde vervul dat Jesus geslaan en verneder sal word?
14 Op die nag van 14 Nisan 33 G.J. is Jesus saam met van sy volgelinge in die tuin van Getsemane. Hy bid. Skielik kom ’n skare daar aan en neem hom in hegtenis. Maar hy is nie bang nie. Hy weet dat Jehovah met hom is. Jesus verseker sy verbouereerde apostels dat hy, as hy wou, sy Vader kan vra om meer as twaalf legioene engele te stuur om hom te red, maar dan sê hy: “Hoe sou die Skrif dan vervul word?”—Matteus 26:36, 47, 53, 54.
15 Alles wat aangaande die beproewinge en dood van die Messias voorspel is, word vervul. Ná ’n skynverhoor voor die Sanhedrin, word Jesus ondervra deur Pontius Pilatus, wat hom laat gesel. Romeinse soldate het “hom met ’n riet op die kop geslaan en op hom gespoeg”. So word Jesaja se woorde vervul (Markus 14:65; 15:19; Matteus 26:67, 68). Hoewel die Bybel nie sê dat van die hare van Jesus se baard letterlik uitgetrek word nie, wat ’n gebaar van groot veragting is, gebeur dit ongetwyfeld, net soos Jesaja voorspel het.c—Nehemia 13:25.
16. Wat is Jesus se houding, selfs wanneer hy onder ontsaglike druk verkeer, en waarom skaam hy hom nie?
16 Wanneer Jesus voor Pilatus staan, smeek hy nie dat sy lewe gespaar word nie, maar hy behou sy stille waardigheid omdat hy weet dat hy moet sterf sodat die Skrif vervul kan word. Wanneer die Romeinse goewerneur Jesus daarop wys dat hy die mag het om hom tot die dood te veroordeel of hom vry te laat, antwoord Jesus onbevrees: “U sou hoegenaamd geen gesag teen my hê as dit nie van bo aan u gegee was nie” (Johannes 19:11). Pilatus se soldate onderwerp Jesus aan onmenslike behandeling, maar hulle kan hom nie beskaamd maak nie. Waaroor moet hy hom skaam? Hy word nie met reg vir die een of ander oortreding gestraf nie. Hy word eerder ter wille van regverdigheid vervolg. In hierdie opsig word Jesaja se verdere profetiese woorde vervul: “Die Soewereine Heer Jehovah sal my help. Daarom sal ek nie verneder hoef te voel nie. Daarom het ek my gesig soos ’n vuurklip gemaak, en ek weet dat ek nie beskaamd sal staan nie.”—Jesaja 50:7.
17. Op watter maniere het Jehovah Jesus deur sy hele bediening bygestaan?
17 Jesus se moed is gegrond op sy vaste vertroue in Jehovah. Sy houding toon dat hy ten volle saamstem met die woorde van Jesaja: “Die Een wat my regverdig verklaar, is naby. Wie kan met my twis? Laat ons saam opstaan. Wie is my teenparty in die gereg? Laat hom nader kom na my toe. Kyk! Die Soewereine Heer Jehovah sal my help. Wie is daar wat my goddeloos kan verklaar? Kyk! Hulle sal almal soos ’n kleed verslyt. ’n Mot sal hulle opeet” (Jesaja 50:8, 9). Op die dag van Jesus se doop, verklaar Jehovah hom regverdig as ’n geestelike seun van God. Trouens, by daardie geleentheid word God se eie stem gehoor, wat sê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Kort voor die einde van sy aardse lewe, terwyl Jesus in gebed in die tuin van Getsemane kniel, ‘verskyn ’n engel uit die hemel aan hom en versterk hom’ (Lukas 22:41-43). Jesus weet dus dat sy Vader sy lewenswandel goedkeur. Hierdie volmaakte Seun van God het geen sonde gepleeg nie (1 Petrus 2:22). Sy vyande beskuldig hom valslik dat hy ’n Sabbatskender, ’n dronkaard en ’n demoonbesetene is, maar hulle leuens doen Jesus geen oneer aan nie. God is met hom, wie kan dan teen hom wees?—Lukas 7:34; Johannes 5:18; 7:20; Romeine 8:31; Hebreërs 12:3.
18, 19. Watter ondervindinge soortgelyk aan dié van Jesus het gesalfde Christene gehad?
18 Jesus waarsku sy dissipels: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Johannes 15:20). Die gebeure bewys gou die waarheid hiervan. Met Pinkster 33 G.J. word die heilige gees op Jesus se getroue dissipels uitgestort, en die Christengemeente word gebore. Amper onmiddellik daarna probeer godsdiensleiers die predikingswerk onderdruk van hierdie getroue manne en vroue wat nou saam met Jesus deel uitmaak van “Abraham se saad” en as geestelike kinders van God aangeneem is (Galasiërs 3:26, 29; 4:5, 6). Hoewel gesalfde Christene ’n ferm standpunt vir regverdigheid inneem, moes hulle van die eerste eeu af tot nou toe leuenagtige propaganda en bittere vervolging deur Jesus se vyande die hoof bied.
19 Hulle onthou nogtans Jesus se aanmoedigende woorde: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele” (Matteus 5:11, 12). Ondanks die venynigste aanvalle op hulle hou gesalfde Christene dus hulle koppe hoog. Ongeag wat hulle teenstanders sê, hulle weet dat God hulle regverdig verklaar het. In sy oë is hulle “smetloos en vry van enige beskuldiging”.—Kolossense 1:21, 22.
20. (a) Wie ondersteun gesalfde Christene, en wat het hulle ervaar? (b) Hoe kry gesalfde Christene en die “ander skape” die tong van dié wat geleer is?
20 In hedendaagse tye word gesalfde Christene deur “’n groot menigte” “ander skape” ondersteun. Hulle neem ook ’n standpunt vir regverdigheid in. Gevolglik het hulle saam met hulle gesalfde broers gely en “hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam”. Jehovah het hulle regverdig verklaar sodat hulle “die groot verdrukking” kan oorleef (Openbaring 7:9, 14, 15; Johannes 10:16; Jakobus 2:23). Al lyk hulle teenstanders nou sterk, sê Jesaja se profesie dat hierdie teenstanders op God se vasgestelde tyd soos ’n kleed sal wees wat deur motte gevreet is, goed vir niks anders as om weggegooi te word nie. Intussen bly gesalfde Christene sowel as die “ander skape” sterk deur gereeld te bid, God se Woord te bestudeer en vergaderinge vir aanbidding by te woon. Op hierdie manier word hulle deur Jehovah geleer, en hulle leer om te praat met die tong van dié wat geleer is.
Vertrou op die naam van Jehovah
21. (a) Wie is dié wat in die lig wandel, en wat het dit vir hulle tot gevolg? (b) Wat gebeur met dié wat in die duisternis wandel?
21 Let nou op hierdie skrille teenstelling: “Wie onder julle vrees Jehovah en luister na die stem van sy kneg, wat in voortdurende duisternis gewandel het en vir wie daar geen ligglans was nie? Laat hom op die naam van Jehovah vertrou en op sy God steun” (Jesaja 50:10). Diegene wat na die stem van God se Kneg, Jesus Christus, luister, wandel in die lig (Johannes 3:21). Hulle gebruik nie alleen God se naam, Jehovah, nie, maar hulle stel ook hulle vertroue in die een wat daardie naam dra. Al het hulle eens op ’n tyd in die duisternis gewandel, het hulle nou geen mensevrees nie. Hulle steun op God. Maar dié wat in die duisternis bly wandel, is vasgevang in die greep van mensevrees. Dit is die geval met Pontius Pilatus. Al weet hy dat Jesus onskuldig is aan die valse beskuldigings wat teen hom ingebring is, verhinder vrees daardie Romeinse amptenaar om Jesus vry te laat. Romeinse soldate maak die Seun van God dood, maar Jehovah wek hom op en bekroon hom met heerlikheid en eer. Wat van Pilatus? Volgens die Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus is Pilatus skaars vier jaar ná Jesus se dood as Romeinse goewerneur vervang en is hy beveel om na Rome terug te keer om verantwoording te doen weens aanklagte van ernstige misdrywe. Wat van die Jode wat Jesus se dood veroorsaak het? Minder as vier dekades later het die leërs van Rome Jerusalem vernietig en sy inwoners doodgemaak of in slawerny weggevoer. Daar is geen helder lig vir dié wat die duisternis verkies nie!—Johannes 3:19.
22. Waarom is dit die toppunt van dwaasheid om op mense te vertrou vir redding?
22 Om op mense te vertrou vir redding, is die toppunt van dwaasheid. Jesaja se profesie verduidelik waarom: “Kyk! Julle almal wat ’n vuur aansteek, wat vonke laat helder word, wandel in die lig van julle vuur en te midde van die vonke wat julle aangesteek het. Uit my hand sal dít julle beslis oorkom: In loutere pyn sal julle gaan lê” (Jesaja 50:11). Menseleiers kom en gaan. ’n Charismatiese persoon is dalk ’n ruk lank gewild. Maar selfs die opregste mens is beperk in wat hy kan uitrig. Sy ondersteuners verwag dalk dat hy ’n groot vuur sal aansteek, maar dalk kry hy dit net reg om ’n paar “vonke” te laat skiet wat maar min lig en hitte afgee en gou wegsterf. Aan die ander kant sal dié wat hulle vertroue in Silo, God se beloofde Messias, stel, nooit teleurgestel word nie.
[Voetnote]
a In die eerste drie verse van Jesaja hoofstuk 50 beskryf Jehovah die nasie Juda as ’n geheel as sy vrou en die afsonderlike inwoners daarvan as haar kinders.
b Van vers 4 af tot die einde van die hoofstuk lyk dit of die skrywer van homself praat. Jesaja het moontlik van die beproewinge deurgemaak wat hy in hierdie verse noem. Maar die profesie word in sy volste sin in Jesus Christus vervul.
c Dit is interessant dat Jesaja 50:6 in die Septuagint sê: “Ek het my rug vir geseling gegee, en my wange vir houe.”
[Prent op bladsy 155]
Die Jode vertrou op mense en nie op Jehovah nie
[Prent op bladsy 156, 157]
By die Rooi See het Jehovah sy volk beskerm deur ’n wolkkolom tussen hulle en die Egiptenaars te sit