Hoofstuk dertien
‘Roep eenstemmig met vreugde uit’!
1. Waarom is die profetiese woorde van Jesaja hoofstuk 52 ’n bron van vreugde, en watter twee vervullings het dit?
BEVRYDING! Kan enige ander vooruitsig groter vreugde vir ’n gevange volk verskaf? Aangesien ’n vername tema van die boek Jesaja bevryding en herstelling is, is dit glad nie verbasend nie dat hierdie Bybelboek meer woorde van vreugde bevat as enige ander Bybelboek buiten die Psalms. Veral Jesaja hoofstuk 52 gee God se volk rede tot vreugde. Die profetiese woorde daarin is in 537 v.G.J. ten opsigte van Jerusalem vervul. En dit het ’n grotere vervulling in die “Jerusalem daar bo”, Jehovah se hemelse organisasie van geesskepsele, wat soms as ’n moeder en ’n vrou beskryf word.—Galasiërs 4:26; Openbaring 12:1.
“Beklee jou met jou sterkte, o Sion!”
2. Wanneer word Sion wakker, en hoe gebeur dit?
2 Deur Jesaja roep Jehovah Sy geliefde stad, Sion, toe: “Ontwaak, ontwaak, beklee jou met jou sterkte, o Sion! Trek jou pragtige klere aan, o Jerusalem, die heilige stad! Want in jou sal daar verder geen onbesnedene en onreine meer kom nie. Skud jou los uit die stof, staan op, gaan sit, o Jerusalem. Maak los die bande om jou nek, o gevange dogter van Sion” (Jesaja 52:1, 2). Omdat Jerusalem se inwoners hulle Jehovah se woede op die hals gehaal het, het die stad 70 jaar lank woes gelê (2 Konings 24:4; 2 Kronieke 36:15-21; Jeremia 25:8-11; Daniël 9:2). Dit is nou tyd om wakker te word ná die lang tyd van onbedrywigheid en om die pragtige klere van vryheid aan te trek. Jehovah het Kores se hart beweeg om die “gevange dogter van Sion” te bevry sodat die voormalige inwoners van Jerusalem en hulle kinders Babilon kan verlaat, na Jerusalem kan terugkeer en ware aanbidding kan herstel. Geen onbesnede en onrein persone mag in Jerusalem wees nie.—Esra 1:1-4.
3. Waarom kan die gemeente van gesalfde Christene die “dogter van Sion” genoem word, en in watter opsig is hulle bevry?
3 Hierdie woorde van Jesaja het ook ’n vervulling ten opsigte van die Christengemeente. Die gemeente van gesalfde Christene kan beskryf word as die hedendaagse “dogter van Sion”, aangesien die “Jerusalem daar bo” hulle moeder is.a Die gesalfdes is vrygestel van heidense leringe en afvallige leerstellings en moet ’n rein posisie voor Jehovah behou, nie deur in die vlees besny te word nie, maar deur in hulle harte besny te word (Jeremia 31:33; Romeine 2:25-29). Dit sluit in dat ’n mens geestelike, verstandelike en sedelike reinheid voor Jehovah handhaaf.—1 Korintiërs 7:19; Efesiërs 2:3.
4. Watter ondervindinge van haar aardse verteenwoordigers toon ’n ooreenkoms met dié van die eertydse inwoners van Jerusalem, al was die “Jerusalem daar bo” nog nooit ongehoorsaam aan Jehovah nie?
4 Die “Jerusalem daar bo” was weliswaar nog nooit ongehoorsaam aan Jehovah nie. Maar gedurende die Eerste Wêreldoorlog het haar verteenwoordigers op aarde—gesalfde Christene—Jehovah se wet onbewustelik oortree omdat hulle nie verstaan het presies wat ware Christelike neutraliteit behels nie. Hulle het God se guns verloor en het in geestelike gevangenskap aan “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, gekom (Openbaring 17:5). Hulle toestand van slawerny het in Junie 1918 ’n hoogtepunt bereik toe agt personeellede van die Wagtoringgenootskap op valse aanklagte, onder andere sameswering, in die tronk gegooi is. Op daardie tydstip het die georganiseerde verkondiging van die goeie nuus feitlik tot ’n stilstand gekom. Maar in 1919 het ’n duidelike oproep tot geestelike waaksaamheid uitgegaan. Gesalfde Christene het begin om hulle selfs in groter mate van die sedelike en geestelike onreinheid van Babilon die Grote af te skei. Hulle het uit die stof van gevangenskap opgestaan, en die “Jerusalem daar bo” het die prag van ’n “heilige stad” gekry waar geestelike onreinheid nie toegelaat word nie.
5. Waarom het Jehovah die volste reg om sy volk terug te koop sonder om hulle gevangenemers te vergoed?
5 In 537 v.G.J. sowel as in 1919 G.J. het Jehovah die volste reg gehad om sy volk te bevry. Jesaja verduidelik: “Só het Jehovah gesê: ‘Julle is vir niks verkoop, en sonder geld sal julle teruggekoop word’” (Jesaja 52:3). Eertydse Babilon sowel as Babilon die Grote het niks betaal toe hulle God se verbondsvolk as slawe in besit geneem het nie. Aangesien geen transaksie plaasgevind het waarby geld betrokke was nie, was Jehovah nog steeds die wettige Eienaar van sy volk. Was dit vir hom nodig om te voel dat hy enigiemand iets verskuldig is? Natuurlik nie. In albei gevalle het Jehovah die reg gehad om sy aanbidders terug te koop sonder om hulle gevangenemers enigsins te vergoed.—Jesaja 45:13.
6. Op watter lesse uit die geskiedenis het Jehovah se vyande nie ag geslaan nie?
6 Jehovah se vyande het geen lesse uit die geskiedenis geleer nie. Ons lees: “Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: ‘Na Egipte het my volk aanvanklik afgetrek om daar as vreemdelinge te woon; en sonder oorsaak het Assirië hulle onderdruk’” (Jesaja 52:4). Farao van Egipte het slawe gemaak van die Israeliete, wat genooi was om as gaste in sy land te woon. Maar Jehovah het Farao en sy leër in die Rooi See laat verdrink (Eksodus 1:11-14; 14:27, 28). Toe koning Sanherib van Assirië Jerusalem bedreig het, het Jehovah se engel 185 000 van die koning se soldate doodgemaak (Jesaja 37:33-37). Net so ook sal nie eertydse Babilon of Babilon die Grote aan die gevolge van hulle onderdrukking van God se volk kan ontkom nie.
‘My volk sal my naam ken’
7. Watter uitwerking het die gevangenskap van Jehovah se volk op sy naam gehad?
7 Die gevange toestand van Jehovah se volk het ’n uitwerking op sy naam, soos die profesie toon: “‘Watter belang het ek hier?’ is die woord van Jehovah. ‘Want my volk is vir niks weggeneem. Dié wat oor hulle heers, het bly skreeu’, is die woord van Jehovah, ‘en my naam is voortdurend, die hele dag, met minagting bejeën. Daarom sal my volk my naam ken, ja, daarom op dié dag, want dit is ek wat praat. Kyk! Dit is ek’” (Jesaja 52:5, 6). Waarom stel Jehovah in die situasie belang? Hoe raak dit hom dat Israel slawe in Babilon is? Jehovah moet optree omdat Babilon sy volk gevange geneem en in triomf oor hulle geskreeu het. Hierdie gespog het daartoe gelei dat Babilon Jehovah se naam met minagting bejeën (Esegiël 36:20, 21). Hulle het nie besef dat Jerusalem se verwoeste toestand die gevolg van Jehovah se misnoeë met sy volk is nie. Babilon het eerder die feit dat die Jode slawe is, beskou as ’n bewys dat hulle God swak is. Die Babiloniese medeheerser Belsasar bespot Jehovah selfs deur houers uit Sy tempel te gebruik gedurende ’n fees ter ere van Babiloniese gode.—Daniël 5:1-4.
8. Hoe is Jehovah se naam ná die dood van die apostels met minagting bejeën?
8 Hoe is al hierdie dinge op die “Jerusalem daar bo” van toepassing? Vandat afvalligheid onder verklaarde Christene posgevat het, kon daar gesê word dat ‘die naam van God weens hulle onder die nasies gelaster word’ (Romeine 2:24; Handelinge 20:29, 30). Trouens, die Jode het weens bygelowigheid uiteindelik opgehou om God se naam te gebruik. Kort ná die dood van die apostels het afvallige Christene ook opgehou om God se persoonlike naam te gebruik. Die afvalligheid het gelei tot die ontwikkeling van die Christendom, ’n vername deel van Babilon die Grote (2 Tessalonisense 2:3, 7; Openbaring 17:5). Die Christendom se skaamtelose onsedelikheid en bloedskuld het Jehovah se naam oneer aangedoen.—2 Petrus 2:1, 2.
9, 10. Tot watter dieper begrip van Jehovah se standaarde en sy naam het God se hedendaagse verbondsvolk gekom?
9 Toe die Grotere Kores, Jesus Christus, God se verbondsvolk in 1919 uit gevangenskap aan Babilon die Grote bevry het, het hulle Jehovah se vereistes beter verstaan. Hulle het hulleself reeds gereinig van baie van die leringe van die Christendom wat in die voor-Christelike heidendom ontstaan het, soos die Drie-eenheid, onsterflikheid van die siel en ewige foltering in ’n brandende hel. Nou het hulle begin om van alle spore van Babiloniese invloed ontslae te raak. Hulle het ook besef hoe belangrik dit is om streng neutraliteit in hierdie wêreld se geskille te handhaaf. Hulle wou hulle selfs reinig van enige bloedskuld waaraan party moontlik skuldig was.
10 God se hedendaagse knegte het ook tot ’n dieper begrip gekom van die belangrikheid van Jehovah se naam. In 1931 het hulle die naam Jehovah se Getuies aangeneem, en sodoende in die openbaar aangekondig dat hulle Jehovah en sy naam ondersteun. Daarbenewens het Jehovah se Getuies sedert 1950 deur middel van die Nuwe wêreld-vertaling God se naam op sy regmatige plek in die Bybel herstel. Ja, hulle waardeer Jehovah se naam en maak dit tot aan die eindes van die aarde bekend.
“Die een wat goeie nuus bring”
11. Waarom is die uitroep “Jou God het koning geword!” gepas met betrekking tot gebeure in 537 v.G.J.?
11 Nou word ons aandag weer op Sion gevestig terwyl dit nog woes lê. ’n Boodskapper kom met goeie nuus: “Hoe lieflik op die berge is die voete van die een wat goeie nuus bring, wat vrede verkondig, wat goeie nuus van iets beters bring, wat redding verkondig, wat vir Sion sê: ‘Jou God het koning geword!’” (Jesaja 52:7). Hoe kan daar in 537 v.G.J. gesê word dat Sion se God Koning geword het? Was Jehovah dan nie altyd Koning nie? Ja, hy is die “Koning van die ewigheid”! (Openbaring 15:3). Maar die uitroep: “Jou God het koning geword!” is gepas, want Babilon se val en die koninklike opdrag dat die tempel in Jerusalem herbou en ware aanbidding daar herstel moet word, is ’n nuwe manier waarop Jehovah bewys lewer van sy koningskap.—Psalm 97:1.
12. Wie het die leiding geneem om ‘goeie nuus te bring’, en hoe?
12 In Jesaja se dag is geen persoon of groep persone as “die een wat goeie nuus bring”, geïdentifiseer nie. Maar vandag is die identiteit van die draer van goeie nuus bekend. Jesus Christus is Jehovah se grootste boodskapper van vrede. Terwyl hy op aarde was, het hy die goeie nuus verkondig dat mense bevry sal word van al die gevolge van sonde wat van Adam oorgeërf is, wat siekte en die dood insluit (Matteus 9:35). Jesus het ’n ywerige voorbeeld gestel om hierdie goeie nuus van iets beters te verkondig en het elke geleentheid aangegryp om mense van die Koninkryk van God te leer (Matteus 5:1, 2; Markus 6:34; Lukas 19:1-10; Johannes 4:5-26). En sy dissipels het sy voorbeeld gevolg.
13. (a) Hoe brei die apostel Paulus die betekenis van die uitdrukking “Hoe lieflik op die berge is die voete van die een wat goeie nuus bring” uit? (b) Waarom kan daar gesê word dat die voete van die boodskappers “lieflik” is?
13 In sy brief aan die Romeine haal die apostel Paulus Jesaja 52:7 aan om te beklemtoon hoe belangrik die werk is om die goeie nuus te verkondig. Hy stel ’n reeks gedagteprikkelende vrae, onder andere: ‘Hoe sal mense hoor sonder dat iemand preek?’ Dan sê hy: “Net soos daar geskrywe staan: ‘Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!’” (Romeine 10:14, 15). Paulus brei dus die toepassing van Jesaja 52:7 uit en gebruik die meervoudsvorm “dié”, in plaas van die enkelvoudige “een”, wat in die oorspronklike teks van Jesaja verskyn. Alle Christene is in navolging van Jesus Christus boodskappers van die goeie nuus van vrede. Hoe is hulle voete “lieflik”? Jesaja praat asof die boodskapper van die nabygeleë berge van Juda af na Jerusalem toe aankom. Van ver af is dit onmoontlik om die boodskapper se voete te sien. Die aandag is hier eerder op die boodskapper, en die voete verteenwoordig die boodskapper self. Net soos Jesus en sy dissipels vir sagmoediges in die eerste eeu ’n pragtige gesig was, is hedendaagse Getuies ’n welkome gesig vir nederiges wat ag slaan op die lewensreddende boodskap van die goeie nuus.
14. Hoe het Jehovah in hedendaagse tye Koning geword, en van wanneer af is dit aan die mensdom bekend gemaak?
14 Van wanneer af word die uitroep “Jou God het koning geword!” in hedendaagse tye gehoor? Sedert 1919. In daardie jaar het J. F. Rutherford, destyds die president van die Wagtoringgenootskap, by ’n byeenkoms in Cedar Point, Ohio, sy toehoorders geboei met ’n toespraak wat die titel “Toespraak aan mede-arbeiders” gehad het. Die toespraak was op Jesaja 52:7 en Openbaring 15:2 gebaseer en het almal wat daar teenwoordig was, aangespoor om die predikingswerk te begin doen. ‘Lieflike voete’ het dus op “die berge” begin verskyn. Aanvanklik het gesalfde Christene en later het hulle metgeselle, die “ander skape”, ywerig uitgegaan om die goeie nuus dat Jehovah Koning geword het, te verkondig (Johannes 10:16). Hoe het Jehovah Koning geword? Hy het in 1914 opnuut bewys gelewer van sy koningskap toe hy sy Seun, Jesus Christus, as Koning in die pas opgerigte hemelse Koninkryk gekroon het. En Jehovah het in 1919 weer eens bewys dat hy koning is toe hy “die Israel van God” uit Babilon die Grote bevry het.—Galasiërs 6:16; Psalm 47:8; Openbaring 11:15, 17; 19:6.
“Jou wagte het hulle stem verhef”
15. Wie is die “wagte” wat hulle stemme in 537 v.G.J. verhef?
15 Lok die uitroep “Jou God het koning geword!” ’n reaksie uit? Ja. Jesaja sê: “Luister! Jou wagte het hulle stem verhef. Eenstemmig bly hulle met vreugde uitroep; want oog in oog sal hulle sien wanneer Jehovah Sion laat terugkeer” (Jesaja 52:8). Geen letterlike wagte neem in 537 v.G.J. hulle posisie in Jerusalem in om die eerste terugkerende ballinge te verwelkom nie. Die stad lê al 70 jaar lank woes (Jeremia 25:11, 12). Die “wagte” wat hulle stem verhef, moet dus dié Israeliete wees wat vooraf die nuus van Sion se herstelling kry en wat daarvoor verantwoordelik is om die nuus aan die res van Sion se kinders oor te dra. Wanneer die wagte sien dat Jehovah Babilon in 539 v.G.J. in die hande van Kores oorgee, bestaan daar geen twyfel in hulle gedagtes dat Jehovah sy volk bevry nie. Saam met dié wat op hulle oproep reageer, hou die wagte aan om eenstemmig en vreugdevol uit te roep en ander van die goeie nuus te laat hoor.
16. Vir wie sien die wagte “oog in oog”, en in watter sin?
16 Die wakker wagte vorm ’n hegte, persoonlike verhouding met Jehovah, en sien hom “oog in oog”, as ’t ware van aangesig tot aangesig (Numeri 14:14). Hulle noue kontak met Jehovah en met mekaar beklemtoon hulle eenheid en hulle vreugdevolle boodskap.—1 Korintiërs 1:10.
17, 18. (a) Hoe het die hedendaagse wagklas sy stem verhef? (b) In watter sin het die wagklas eenstemmig uitgeroep?
17 In die hedendaagse vervulling verhef die wagklas, “die getroue en verstandige slaaf”, sy stem nie net vir diegene wat reeds in God se sigbare organisasie is nie, maar ook vir buitestanders (Matteus 24:45-47). In 1919 het ’n oproep uitgegaan om die oorblywende lede van die gesalfdes in te samel, en in 1922 is die oproep by die byeenkoms in Cedar Point, Ohio, versterk met die versoek: “Adverteer, adverteer, adverteer, die Koning en sy koninkryk.” Sedert 1935 is daar aandag gegee aan die insameling van ’n groot menigte skaapgeaardes (Openbaring 7:9, 10). In onlangse jare is Jehovah se koningskap met groter intensiteit bekend gemaak. Hoe? In die jaar 2000 was daar sowat sesmiljoen wat mense in meer as 230 lande en gebiede vertel het van Jehovah se koningskap. Verder maak Die Wagtoring, die vernaamste instrument van die wagklas, die vreugdevolle boodskap in meer as 130 tale bekend.
18 Om aan so ’n verenigende werk deel te neem, verg nederigheid en broederliefde. Sodat die werk suksesvol gedoen kan word, moet al die betrokkenes dieselfde boodskap verkondig, wat oor Jehovah se naam, sy voorsiening van die losprys, sy wysheid, sy liefde en sy Koninkryk handel. Wanneer Christene in alle wêrelddele die werk eendragtig doen, word hulle persoonlike verhouding met Jehovah versterk, sodat hulle die blye tyding eenstemmig kan laat hoor.
19. (a) Hoe word die “verwoeste plekke van Jerusalem” vrolik? (b) In watter sin het Jehovah “sy heilige arm . . . ontbloot”?
19 Wanneer God se volk van vreugde uitroep, lyk selfs hulle woonplek vrolik. Die profesie gaan voort: “Word vrolik, roep eenstemmig met vreugde uit, o verwoeste plekke van Jerusalem, want Jehovah het sy volk vertroos; hy het Jerusalem teruggekoop. Jehovah het sy heilige arm voor die oë van al die nasies ontbloot; en al die eindes van die aarde sal die redding van ons God sien” (Jesaja 52:9, 10). Wanneer die terugkerendes uit Babilon aankom, het die plekke in die verwoeste Jerusalem wat droewig lyk, ’n vrolike voorkoms, omdat Jehovah se rein aanbidding nou herstel kan word (Jesaja 35:1, 2). Jehovah se hand kan duidelik hierin gesien word. Hy het “sy heilige arm . . . ontbloot”, asof hy sy moue oprol om voor te berei vir die taak om sy volk te red.—Esra 1:2, 3.
20. Wat het gebeur en sal nog gebeur wanneer Jehovah sy heilige arm in hedendaagse tye ontbloot?
20 In hierdie “laaste dae” het Jehovah sy heilige arm ontbloot om die gesalfde oorblyfsel, die “twee getuies” van die boek Openbaring, te laat herlewe (2 Timoteus 3:1; Openbaring 11:3, 7-13). Sedert 1919 is hulle in ’n geestelike paradys ingebring, die geestelike toestand waarin hulle nou saam met miljoene van hulle metgeselle, die ander skape, verkeer. Jehovah sal uiteindelik sy heilige arm ontbloot om by “Har–Magedon” redding vir sy volk te bring (Openbaring 16:14, 16). Dan sal “al die eindes van die aarde . . . die redding van ons God sien”.
’n Dringende vereiste
21. (a) Wat word vereis van dié “wat die voorwerpe van Jehovah dra”? (b) Waarom is daar geen rede vir Jode wat uit Babilon vertrek om paniekerig te wees nie?
21 Daar is ’n vereiste waaraan diegene wat uit Babilon uitkom en na Jerusalem terugkeer, moet voldoen. Jesaja skryf: “Vertrek, vertrek, gaan daar uit, raak aan niks wat onrein is nie; gaan uit hom uit, hou julle rein, julle wat die voorwerpe van Jehovah dra. Want julle sal nie in paniek uitgaan nie, en julle sal nie soos vlugtelinge vertrek nie. Want Jehovah sal voor julle uit gaan, en die God van Israel sal julle agterhoede wees” (Jesaja 52:11, 12). Die Israeliete wat vertrek, moet alles in Babilon agterlaat wat hoegenaamd deur Babilon se valse aanbidding besmet is. Aangesien hulle die voorwerpe van Jehovah dra wat uit die tempel in Jerusalem gekom het, moet hulle rein wees, nie net seremonieel, of wat hulle uiterlike betref nie, maar hoofsaaklik in hulle harte (2 Konings 24:11-13; Esra 1:7). Verder gaan Jehovah voor hulle uit sodat hulle nie paniekerig hoef te wees nie, en hulle hoef ook nie vreesbevange te hardloop asof bloeddorstige agtervolgers op hulle hakke is nie. Die God van Israel is hulle agterhoede.—Esra 8:21-23.
22. Hoe beklemtoon Paulus dat dit vir gesalfde Christene belangrik is om rein te wees?
22 Jesaja se woorde oor reinheid het ’n belangrike vervulling ten opsigte van die kinders van die “Jerusalem daar bo”. Toe Paulus die Korintiese Christene vermaan het om nie onder ’n ongelyke juk met ongelowiges te kom nie, het hy die woorde van Jesaja 52:11 aangehaal: “‘Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is, aan te raak’” (2 Korintiërs 6:14-17). Net soos die Israeliete wat van Babilon af op pad terug na hulle vaderland was, moet Christene wegbly van Babiloniese valse aanbidding.
23. Hoe probeer knegte van Jehovah vandag om hulle rein te hou?
23 Dit was veral waar van die gesalfde volgelinge van Jesus Christus wat in 1919 uit Babilon die Grote gevlug het. Hulle het hulle stelselmatig van alle spore van valse aanbidding gereinig (Jesaja 8:19, 20; Romeine 15:4). Hulle het ook in groter mate bewus geword van die belangrikheid van sedelike reinheid. Hoewel Jehovah se Getuies nog altyd hoë sedelike standaarde gehandhaaf het, het daar in 1952 artikels in Die Wagtoring verskyn wat beklemtoon het dat dit nodig is om onsedelike persone te dissiplineer sodat die gemeente skoon gehou kan word. Hierdie dissipline help ook die oortreder om te besef dat dit noodsaaklik is om opregte berou te hê.—1 Korintiërs 5:6, 7, 9-13; 2 Korintiërs 7:8-10; 2 Johannes 10, 11.
24. (a) Wat is “die voorwerpe van Jehovah” in hedendaagse tye? (b) Waarom het Christene vandag die vertroue dat Jehovah sal aanhou om voor hulle uit te gaan sowel as om hulle agterhoede te wees?
24 Gesalfde Christene en die groot menigte ander skape is vasbeslote om niks aan te raak wat geestelik onrein is nie. Hulle gereinigde toestand stel hulle in staat om draers te wees van “die voorwerpe van Jehovah”—die kosbare voorsienings wat God maak om heilige diens te lewer in die huis-tot-huis- en Bybelstudiewerk en ander Christelike bedrywighede. As God se volk rein bly, kan hulle vandag die vertroue hê dat Jehovah sal aanhou om voor hulle uit te gaan sowel as om hulle agterhoede te wees. As God se rein volk het hulle ’n oorvloed redes om ‘eenstemmig met vreugde uit te roep’!
[Voetnote]
a Sien Hoofstuk 15 van hierdie boek vir ’n breedvoeriger bespreking van die verhouding tussen die “Jerusalem daar bo” en haar aardse, gesalfde kinders.
[Prent op bladsy 183]
Sion sal uit gevangenskap bevry word
[Prent op bladsy 186]
Van 1919 af het ‘lieflike voete’ weer op “die berge” verskyn
[Prent op bladsy 189]
Jehovah se Getuies praat eenstemmig
[Prent op bladsy 192]
Dié “wat die voorwerpe van Jehovah dra”, moet sedelik en geestelik rein wees