Hoofstuk twee-en-twintig
Regverdigheid spruit in Sion uit
1, 2. Watter verandering gaan Israel binnekort ondervind, en wie sal dit teweegbring?
ROEP vryheid uit! Jehovah het bepaal dat sy volk bevry gaan word en dat hulle na die land van hulle voorvaders sal terugkeer. Ware aanbidding sal weer verskyn, soos ’n saad wat uitspruit ná sagte reën. Wanneer daardie dag kom, sal wanhoop deur vreugdevolle lof vervang word, en koppe wat vroeër weens verdriet met as bedek is, sal met Goddelike goedkeuring gekroon word.
2 Wie sal hierdie wonderlike verandering teweegbring? Net Jehovah kan so iets doen (Psalm 9:19, 20; Jesaja 40:25). Die profeet Sefanja het in ’n profesie beveel: “Roep met vreugde uit, o dogter van Sion! Hef ’n gejuig aan, o Israel! Verbly en verheug jou van ganser harte, o dogter van Jerusalem! Jehovah het jou oordele verwyder” (Sefanja 3:14, 15). Wat ’n vreugdevolle tyd sal dit tog wees! Wanneer Jehovah die herstelde oorblyfsel in 537 v.G.J. uit Babilon bymekaarmaak, sal dit soos ’n droom wees wat bewaarheid word.—Psalm 126:1.
3. Watter vervullings het die profetiese woorde van Jesaja hoofstuk 61?
3 Hierdie herstelling word in Jesaja hoofstuk 61 voorspel. Maar hoewel daardie profesie ’n duidelike vervulling in 537 v.G.J. gehad het, word dit gedurende ’n latere tydperk meer in besonderhede vervul. Jesus en sy volgelinge in die eerste eeu en Jehovah se volk in hedendaagse tye is betrokke by hierdie omvattender vervulling. Hoe betekenisvol is hierdie geïnspireerde woorde tog!
‘Die jaar van welwillendheid’
4. Wie het in die eerste vervulling van Jesaja 61:1 die opdrag gekry om goeie nuus te verkondig, en wie het dit in die tweede vervulling gekry?
4 Jesaja skryf: “Die gees van die Soewereine Heer Jehovah is op my, omdat Jehovah my gesalf het om goeie nuus aan die sagmoediges te verkondig. Hy het my gestuur om die gebrokenes van hart te verbind, om uit te roep dat dié wat gevange geneem is, vrygelaat sal word en dat die oë van die gevangenes wyd oopgemaak sal word” (Jesaja 61:1). Wie is die een wat die opdrag kry om die goeie nuus te verkondig? Dit is in die eerste plek waarskynlik Jesaja, wat deur God geïnspireer word om goeie nuus vir die gevangenes in Babilon op te teken. Maar Jesus het na die belangrikste vervulling verwys toe hy Jesaja se woorde op homself toegepas het (Lukas 4:16-21). Ja, Jesus is uitgestuur om goeie nuus aan die sagmoediges te verkondig en met dié doel is hy by sy doop met heilige gees gesalf.—Matteus 3:16, 17.
5. Wie verkondig die goeie nuus nou al sowat 2 000 jaar lank?
5 Daarbenewens het Jesus sy volgelinge geleer om evangeliedienaars, of verkondigers van die goeie nuus, te wees. Op Pinkster 33 G.J. is omtrent 120 van hulle met heilige gees gesalf en het hulle geestelike kinders van God geword (Handelinge 2:1-4, 14-42; Romeine 8:14-16). Ook hulle is die opdrag gegee om die goeie nuus aan die sagmoediges en gebrokenes van hart te verkondig. Hierdie 120 was die eerste van 144 000 wat op hierdie manier gesalf is. Die laaste lede van hierdie groep is vandag nog op die aarde bedrywig. Gesalfde volgelinge van Jesus getuig dus al nagenoeg 2 000 jaar lank “oor berou teenoor God en geloof in ons Here Jesus”.—Handelinge 20:21.
6. Wie het verligting ontvang toe die goeie nuus in die ou tyd verkondig is, en wat van vandag?
6 Jesaja se geïnspireerde boodskap het vir berouvolle Jode in Babilon verligting gebring. In die dae van Jesus en sy dissipels het dit verligting gebring vir Jode wat gebroke van hart was weens die goddeloosheid in Israel en wat in gevangenskap aan die valse godsdienstradisies van eerste-eeuse Judaïsme was (Matteus 15:3-6). Vandag is daar miljoene wat verstrik is in die Christendom se heidense gebruike en godonterende tradisies en wat “sug en steun” oor al die verfoeilike dinge wat in daardie godsdiensstelsel gepleeg word (Esegiël 9:4). Diegene wat gehoor gee aan die goeie nuus, word uit daardie bejammerenswaardige toestand bevry (Matteus 9:35-38). Hulle oë van die verstand gaan wyd oop wanneer hulle leer om Jehovah “met gees en waarheid” te aanbid.—Johannes 4:24.
7, 8. (a) Wat is die twee ‘jare van welwillendheid’? (b) Wat is Jehovah se ‘dae van wraak’?
7 Daar is ’n spesifieke tyd waarin die goeie nuus verkondig moet word. Jesus en sy volgelinge het die opdrag ontvang “om die jaar van die welwillendheid van Jehovah en die dag van die wraak van ons God uit te roep; om al die treurendes te vertroos” (Jesaja 61:2). ’n Jaar is ’n lang tyd, maar dit het ’n begin en ’n einde. Jehovah se ‘jaar van welwillendheid’ is die tydperk waartydens hy sagmoediges die geleentheid gee om op sy vryheidsboodskap te reageer.
8 In die eerste eeu het die jaar van welwillendheid vir die Joodse nasie in 29 G.J. begin, toe Jesus met sy aardse bediening begin het. Hy het vir die Jode gesê: “Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 4:17). Daardie jaar van welwillendheid het geduur tot Jehovah se ‘dag van wraak’, wat in 70 G.J. sy hoogtepunt bereik het toe Jehovah die Romeinse leërs toegelaat het om Jerusalem en sy tempel te vernietig (Matteus 24:3-22). Ons lewe vandag in ’n ander jaar van welwillendheid, een wat begin het toe God se Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig is. Aan die einde van hierdie jaar van welwillendheid sal daar weer ’n dag van wraak wees, maar op ’n groter skaal, wanneer Jehovah hierdie hele wêreldstelsel van dinge tydens die “groot verdrukking” vernietig.—Matteus 24:21.
9. Wie vind vandag baat by Jehovah se jaar van welwillendheid?
9 Wie vind vandag baat by God se jaar van welwillendheid? Diegene wat gehoor gee aan die boodskap, sagmoedigheid aan die dag lê en die verkondiging van God se Koninkryk in “al die nasies” ywerig ondersteun (Markus 13:10). Sulke persone vind dat die goeie nuus ware vertroosting bring. Maar dié wat die boodskap verwerp en weier om baat te vind by Jehovah se jaar van welwillendheid, sal binnekort die werklikheid van sy dag van wraak moet ervaar.—2 Tessalonisense 1:6-9.
Geestelike vrugte wat God verheerlik
10. Watter uitwerking het Jehovah se wonderlike daad ten behoewe van sy volk op die Jode wat van Babilon af terugkeer?
10 Die Jode wat van Babilon af terugkeer, besef dat Jehovah iets wonderliks ten behoewe van hulle gedoen het. Hulle getreur as gevangenes verander in vreugde en lof omdat hulle uiteindelik vry is. Jesaja vervul dus sy profetiese opdrag, dit wil sê “om aan dié wat oor Sion treur, toe te wys, om aan hulle te gee ’n hooftooisel in plaas van as, vreugdeolie in plaas van rou, die mantel van lof in plaas van die mismoedige gees; en hulle moet groot bome van regverdigheid genoem word, wat deur Jehovah geplant is, sodat prag aan hom verleen kan word”.—Jesaja 61:3.
11. Wie in die eerste eeu het goeie rede gehad om Jehovah vir sy wonderlike daad te loof?
11 In die eerste eeu het die Jode wat ’n vrylating uit gevangenskap aan valse godsdiens aangeneem het, God ook geloof vir sy wonderlike daad ten behoewe van hulle. Hulle mismoedige gees is vervang deur ’n “mantel van lof” toe hulle uit ’n geestelik dooie nasie verlos is. Jesus se dissipels was die eerstes wat hierdie verandering ervaar het toe hulle droefheid oor sy dood in vreugde verander het omdat hulle verrese Heer hulle met heilige gees gesalf het. Kort daarna het 3 000 sagmoedige persone wat ag geslaan het op die predikingswerk van daardie pas gesalfde Christene, ’n soortgelyke verandering ondervind, en op Pinkster 33 G.J. is hulle gedoop (Handelinge 2:41). Hoe goed was dit tog om seker te wees dat hulle Jehovah se seën het! Hulle het nie ‘oor Sion getreur’ nie, maar het die heilige gees ontvang en is verkwik deur “vreugdeolie”, wat die vreugde afbeeld van dié wat ryklik deur Jehovah geseën word.—Hebreërs 1:9.
12, 13. (a) Wie was “groot bome van regverdigheid” onder die terugkerende Jode in 537 v.G.J.? (b) Wie was sedert Pinkster 33 G.J. “groot bome van regverdigheid”?
12 Jehovah seën sy volk met “groot bome van regverdigheid”. Wie is hierdie groot bome? In die jare ná 537 v.G.J. was hulle persone wat God se Woord bestudeer en daaroor gepeins het en Jehovah se regverdige standaarde bevorder het (Psalm 1:1-3; Jesaja 44:2-4; Jeremia 17:7, 8). Manne soos Esra, Haggai, Sagaria en die hoëpriester Josua was in die besonder “groot bome”—standvastige manne wat die waarheid voorgestaan en die geestelike besoedeling in die nasie teëgestaan het.
13 Van Pinkster 33 G.J. af het God sulke “groot bome van regverdigheid”—moedige gesalfde Christene—in die geestelike grondgebied van sy nuwe nasie, “die Israel van God”, geplant (Galasiërs 6:16). Deur die eeue heen het hierdie “bome” tot 144 000 vermeerder en regverdige vrugte voortgebring om prag, of heerlikheid, aan Jehovah God te verleen (Openbaring 14:3). Die laaste van hierdie statige “bome” het gefloreer in die jare sedert 1919, toe Jehovah die oorblywendes van die Israel van God uit hulle tydelike toestand van onbedrywigheid laat herlewe het. Deur te sorg dat hulle oorvloedige geestelike water het, het Jehovah as ’t ware ’n woud van regverdige, vrugdraende bome voortgebring.—Jesaja 27:6.
14, 15. Watter projekte het Jehovah se bevryde aanbidders aangepak in (a) 537 v.G.J.? (b) 33 G.J.? (c) 1919?
14 Jesaja vestig die aandag op die werk van hierdie “bome” en sê verder: “Hulle moet die plekke herbou wat al lank woes lê; hulle sal selfs die verlate plekke van vroeër tye oprig, en hulle sal beslis die verwoeste stede nuut maak, die plekke wat van geslag tot geslag verlate was” (Jesaja 61:4). Getroue Jode wat uit Babilon teruggekeer het, het Jerusalem en sy tempel, wat so lank woes gelê het, op bevel van koning Kores van Persië herbou. Daar was in die jare ná 33 G.J. en 1919 ook herbouingsprojekte.
15 In 33 G.J. was Jesus se dissipels diep bedroef deur sy inhegtenisname, verhoor en dood (Matteus 26:31). Maar hulle gemoedstoestand het verander toe hy ná sy opstanding aan hulle verskyn het. En toe heilige gees op hulle uitgestort is, het hulle besig geraak met die werk om die goeie nuus te verkondig, “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). So het hulle rein aanbidding begin herstel. Net so het Jesus Christus van 1919 af die oorblyfsel van sy gesalfde broers plekke laat herbou “wat van geslag tot geslag verlate was”. Die geestelikes van die Christendom het eeue lank versuim om mense die kennis van Jehovah te leer en het dit met mensgemaakte tradisies en onskriftuurlike leerstellings vervang. Die gesalfde Christene het hulle gemeentes gereinig van gebruike wat deur valse godsdiens besoedel is, sodat die herstelling van ware aanbidding kon vooruitgaan. En hulle het begin met die grootste getuieniswerk wat die wêreld nog gesien het.—Markus 13:10.
16. Wie het die gesalfde Christene met hulle herstellingswerk gehelp, en watter take is aan hulle toevertrou?
16 Dit was ’n ontsaglike opdrag. Hoe kon die betreklik min oorblywende lede van die Israel van God so ’n taak uitvoer? Jehovah het Jesaja geïnspireer om te sê: “Vreemdelinge sal staan en julle kuddes oppas, en die uitlanders sal julle landbouers en julle wingerdarbeiders wees” (Jesaja 61:5). Die figuurlike vreemdelinge en uitlanders is “’n groot menigte” van Jesus se “ander skape” (Openbaring 7:9; Johannes 10:11, 16).a Hulle word nie met die vooruitsig op ’n hemelse erfdeel met die heilige gees gesalf nie. Hulle het die hoop op die ewige lewe op ’n paradysaarde (Openbaring 21:3, 4). Ook hulle is lief vir Jehovah, en die werk om geestelike herders, landbouers en wingerdarbeiders te wees, is aan hulle toevertrou. Hierdie take is nie vernederende werk nie. Onder die leiding van die oorblywendes van die Israel van God help hierdie werkers om mense as herders te lei, vir hulle te sorg en hulle in te samel.—Lukas 10:2; Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:2; Openbaring 14:15, 16.
17. (a) Wat sal lede van die Israel van God genoem word? (b) Wat is die enigste offerande wat nodig is vir die vergifnis van sondes?
17 Wat van die Israel van God? Deur middel van Jesaja sê Jehovah vir hulle: “Wat julle betref, julle sal die priesters van Jehovah genoem word; die dienaars van ons God sal julle genoem word. Die rykdom van die nasies sal julle eet, en in hulle heerlikheid sal julle uitgelate oor julleself praat” (Jesaja 61:6). In eertydse Israel het Jehovah die Levitiese priesterdom voorsien om offers namens die priesters self en hulle mede-Israeliete te bring. Maar in 33 G.J. het Jehovah opgehou om die Levitiese priesterdom te gebruik en het hy ’n beter reëling ingestel. Hy het die volmaakte lewe van Jesus as ’n offerande vir die sondes van die mensdom aanvaar. Sedertdien was geen ander offerande nodig nie. Jesus se offerande geld vir ewig.—Johannes 14:6; Kolossense 2:13, 14; Hebreërs 9:11-14, 24.
18. Watter soort priesterdom maak die Israel van God uit, en wat is hulle opdrag?
18 Hoe is die lede van die Israel van God dan “die priesters van Jehovah”? Toe die apostel Petrus aan ander gesalfde Christene geskryf het, het hy gesê: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat julle die voortreflikhede alom bekend sou maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (1 Petrus 2:9). Gevolglik maak die gesalfde Christene as ’n groep ’n priesterdom uit wat ’n spesifieke opdrag het: om die nasies van Jehovah se heerlikheid te vertel. Hulle moet sy getuies wees (Jesaja 43:10-12). Dwarsdeur die laaste dae het gesalfde Christene hierdie lewensbelangrike opdrag getrou uitgevoer. Gevolglik is daar nou miljoene wat saam met hulle deelneem aan die werk om van Jehovah se Koninkryk te getuig.
19. Watter diens sal gesalfde Christene die voorreg hê om te verrig?
19 Verder het lede van die Israel van God die vooruitsig om op ’n ander manier as priesters te dien. Ná hulle dood word hulle tot onsterflike geeslewe in die hemel opgewek. Daar dien hulle nie net as heersers saam met Jesus in sy Koninkryk nie, maar ook as priesters van God (Openbaring 5:10; 20:6). As sodanig sal hulle die voorreg hê om die voordele van Jesus se losprysoffer ten behoewe van die getroue mense op aarde aan te wend. In die apostel Johannes se visioen wat in Openbaring hoofstuk 22 opgeteken staan, word hulle weer as “bome” beskryf. Al 144 000 “bome” word in die hemel gesien, waar hulle “twaalf vrugteoeste voortbring, wat elke maand hulle vrugte oplewer. En die blare van die bome [is] vir die genesing van die nasies” (Openbaring 22:1, 2). Wat ’n wonderlike priesterlike diens is dit tog!
Skaamte en vernedering, dan vreugde
20. Op watter seën wag die koninklike priesterdom ondanks teenstand?
20 Van 1914 af, toe Jehovah se jaar van welwillendheid begin het, het die koninklike priesterdom nog net teenstand van die geestelikes van die Christendom gekry (Openbaring 12:17). Nietemin het alle pogings om die verkondiging van die goeie nuus stop te sit, uiteindelik misluk. Jesaja se profesie het dit voorspel en gesê: “In plaas van julle skaamte sal daar ’n dubbele deel wees, en in plaas van vernedering sal hulle met vreugde uitroep oor hulle deel. Daarom sal hulle in hulle land ’n dubbele deel in besit neem. Hulle sal blydskap tot onbepaalde tyd geniet.”—Jesaja 61:7.
21. Hoe het gesalfde Christene ’n dubbele deel seëninge geniet?
21 Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die nasionalistiese Christendom skaamte en vernedering oor die gesalfde oorblyfsel gebring. Diegene wat agt getroue broers van die hoofkwartier in Brooklyn valslik van sedisie aangekla het, het geestelikes ingesluit. Hierdie broers is nege maande lank onregverdig gevange gehou. Uiteindelik is hulle in die lente van 1919 vrygelaat, en later is alle aanklagte teen hulle teruggetrek. So het die plan om die predikingswerk stop te sit, misluk. Jehovah het nie toegelaat dat sy aanbidders blywend aan skaamte blootgestel word nie, maar hy het hulle bevry en hulle in hulle geestelike grondgebied, “hulle land”, herstel. Daar het hulle ’n dubbele deel seëninge gekry. Jehovah se seën het ruimskoots vergoed vir alles wat hulle gely het. Hulle het werklik rede gehad om met vreugde uit te roep!
22, 23. Hoe het gesalfde Christene Jehovah se voorbeeld gevolg, en hoe het hy hulle beloon?
22 Wat Jehovah volgende sê, gee Christene van vandag nog ’n rede tot vreugde: “Ek, Jehovah, het geregtigheid lief; ek haat roof tesame met onregverdigheid. En ek sal hulle loon in waaragtigheid gee, en ’n verbond wat tot onbepaalde tyd duur, sal ek met hulle sluit” (Jesaja 61:8). Deur hulle studie van die Bybel het die gesalfde oorblyfsel geleer om geregtigheid lief te hê en goddeloosheid te haat (Spreuke 6:12-19; 11:20). Hulle het geleer om “van hulle swaarde ploegskare [te] smee” en het neutraal gebly in die mensdom se oorloë en politieke opskuddings (Jesaja 2:4). Hulle het ook godonterende gebruike, soos laster, egbreuk, diefstal en dronkenskap, agtergelaat.—Galasiërs 5:19-21.
23 Omdat gesalfde Christene dieselfde liefde vir geregtigheid as hulle Skepper het, het Jehovah vir hulle “hulle loon in waaragtigheid” gegee. En deel van hierdie “loon” is ’n verbond wat tot onbepaalde tyd duur—die nuwe verbond—waarvan Jesus sy volgelinge op die nag voor sy dood vertel het. Dit is op grond van hierdie verbond dat hulle ’n geestelike nasie, God se spesiale volk, word (Jeremia 31:31-34; Lukas 22:20). Onder hierdie verbond sal Jehovah al die voordele van Jesus se losprysoffer aanwend, wat die vergifnis van sonde vir die gesalfdes sowel as vir alle ander getroues onder die mensdom insluit.
Hulle verheug hulle in die seëninge van Jehovah
24. Wie onder die nasies is “die nageslag” wat geseën word, en hoe het hulle ’n “nageslag” geword?
24 Party onder die nasies het Jehovah se seën op sy volk raakgesien. Dit is voorspel in Jehovah se belofte: “Hulle nageslag sal bekend wees onder die nasies, en hulle nakomelinge onder die volke. Almal wat hulle sien, sal hulle herken, dat hulle die nageslag is wat deur Jehovah geseën is” (Jesaja 61:9). Lede van die Israel van God, gesalfde Christene, was bedrywig onder die nasies gedurende Jehovah se jaar van welwillendheid. Vandag is daar miljoene wat op hulle bediening gereageer het. Deur ten nouste met die Israel van God saam te werk, geniet mense onder die nasies die voorreg om “die nageslag [te word] wat deur Jehovah geseën is”. Die hele mensdom kan hulle vreugdevolle toestand sien.
25, 26. Hoe toon alle Christene dat hulle dit eens is met die woorde in Jesaja 61:10?
25 Alle Christene, die gesalfdes sowel as die ander skape, sien daarna uit om Jehovah vir ewig te loof. Hulle stem heelhartig met die profeet Jesaja saam, wat onder inspirasie sê: “Ek sal my vir seker in Jehovah verheug. My siel sal bly wees in my God. Want hy het my met die klere van redding beklee; met die moulose oorkleed van regverdigheid het hy my omhul, soos die bruidegom wat, op priesterlike wyse, ’n hooftooisel ombind, en soos die bruid wat haar met sierade versier.”—Jesaja 61:10.
26 Geklee in “die moulose oorkleed van regverdigheid”, is gesalfdes vasbeslote om rein in Jehovah se oë te bly (2 Korintiërs 11:1, 2). Aangesien Jehovah hulle regverdig verklaar het met die vooruitsig om hemelse lewe te beërf, sal hulle nooit weer na die verlate toestand van Babilon die Grote, waaruit hulle bevry is, terugkeer nie (Romeine 5:9; 8:30). Die klere van redding is vir hulle van onskatbare waarde. Hulle metgeselle, die ander skape, is ook vasbeslote om volgens Jehovah God se verhewe standaarde van rein aanbidding te lewe. Aangesien hulle “hulle klere gewas en dit wit gemaak [het] in die bloed van die Lam” word hulle regverdig verklaar en sal hulle “die groot verdrukking” oorleef (Openbaring 7:14; Jakobus 2:23, 25). Tot dan volg hulle die voorbeeld van hulle gesalfde metgeselle na deur nie toe te laat dat Babilon die Grote hulle enigsins besmet nie.
27. (a) Wat sal gedurende die Duisendjarige Heerskappy op merkwaardige wyse “uitspruit”? (b) Hoe spruit regverdigheid reeds onder die mensdom uit?
27 Vandag is Jehovah se aanbidders bly om in ’n geestelike paradys te wees. Binnekort sal hulle ook letterlik in die Paradys lewe. Ons sien heelhartig na daardie tyd uit, wat in die laaste woorde van Jesaja hoofstuk 61 duidelik beskryf word: “Soos die aarde sy uitspruitsel voortbring, en soos die tuin laat uitspruit wat daarin gesaai is, so sal die Soewereine Heer Jehovah regverdigheid en lof voor al die nasies laat uitspruit” (Jesaja 61:11). Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal die aarde sien hoe ‘regverdigheid uitspruit’. Mense sal triomfantlik uitroep, en regverdigheid sal tot die uiterstes van die aarde uitbrei (Jesaja 26:9). Maar ons sal nie vir daardie wonderlike dag hoef te wag om voor al die nasies lof te bring nie. Regverdigheid spruit reeds onder die miljoene uit wat heerlikheid aan die God van die hemel gee en die goeie nuus van sy Koninkryk verkondig. Ons geloof en ons hoop gee ons nou reeds goeie rede om ons in die seëninge van ons God te verheug.
[Voetnoot]
a Jesaja 61:5 het moontlik in die ou tyd ’n vervulling gehad, aangesien nie-Jode saam met vleeslike Jode na Jerusalem teruggegaan het en waarskynlik gehelp het om die land te herstel (Esra 2:43-58). Maar dit wil voorkom of die profesie van vers 6 af net op die Israel van God van toepassing is.
[Prent op bladsy 323]
Jesaja het goeie nuus om aan Joodse gevangenes te verkondig
[Prent op bladsy 331]
Jehovah het in 33 G.J. begin om 144 000 “groot bome van regverdigheid” te plant
[Prent op bladsy 334]
Regverdigheid sal op aarde uitspruit