Studie is lonend
HET jy al mense dopgehou terwyl hulle vrugte uitsoek? Die meeste kyk na die kleur en grootte daarvan om vas te stel hoe ryp dit is. Party mense ruik aan die vrug. Ander vat of druk selfs daaraan. Nog ander weeg dit deur ’n vrug in elke hand te hou om te bepaal watter een die swaarste en sappigste is. Wat gaan deur hierdie mense se gedagtes? Hulle ontleed besonderhede, weeg verskille op, onthou wat hulle by vorige geleenthede gekies het en vergelyk wat hulle nou sien met wat hulle reeds weet. ’n Smaaklike beloning wag op hulle omdat hulle noukeurig aandag skenk aan hulle keuse.
Ons ontvang natuurlik baie groter belonings as ons God se Woord bestudeer. Wanneer studie ’n belangrike plek in ons lewe inneem, word ons geloof sterker, neem ons liefde toe, word ons bediening produktiewer en toon die besluite wat ons neem duidelik dat ons onderskeidingsvermoë en Goddelike wysheid het. Aangaande hierdie belonings sê Spreuke 3:15: “Al jou ander verlustiginge kan nie daarmee gelykgestel word nie.” Ontvang jy sulke belonings? Die manier waarop jy studeer, kan ’n rol hierin speel.—Kol. 1:9, 10.
Wat is studie? Dit is nie bloot oppervlakkige leeswerk nie. Dit vereis die gebruik van jou verstandelike vermoëns om ’n onderwerp noukeurig of deeglik te ondersoek. Dit sluit in dat jy ontleed wat jy lees, vergelykings tref met wat jy reeds weet en aandag skenk aan redes wat gegee word vir stellings wat gemaak word. Wanneer jy studeer, moet jy diep nadink oor enige gedagtes in die materiaal wat nuut is vir jou. Dink ook na oor hoe jy skriftuurlike raad in groter mate kan toepas. As ’n Getuie van Jehovah sal jy ook aan geleenthede wil dink wanneer jy die materiaal kan gebruik om ander te help. Studie sluit natuurlik bepeinsing in.
Hoe om in die regte gemoedstemming te kom
Wanneer jy jou gereedmaak om te studeer, haal jy sekere dinge uit, soos jou Bybel, die publikasies wat jy beplan om te gebruik, ’n potlood of pen en moontlik ’n notaboek. Maar berei jy ook jou hart voor? Die Bybel sê vir ons dat Esra “sy hart voorberei [het] om die wet van Jehovah te raadpleeg en om dit na te kom en om Israel voorskrif en geregtigheid te leer” (Esra 7:10). Wat behels dit om ’n mens se hart voor te berei?
Gebed stel ons in staat om die studie van God se Woord met die regte gesindheid te benader. Ons wil hê dat ons hart, ons diepste wese, ontvanklik moet wees vir die onderrigting wat Jehovah ons gee. Vra Jehovah aan die begin van elke studiesessie dat sy gees jou moet help (Luk. 11:13). Vra hom om jou te help om die betekenis te verstaan van wat jy gaan studeer, om te sien hoe dit met sy voorneme verband hou, hoe dit jou kan help om tussen goed en kwaad te onderskei, hoe jy sy beginsels in jou lewe moet toepas en hoe die materiaal jou verhouding met hom raak (Spr. 9:10). ‘Hou aan om God om wysheid te vra’ terwyl jy studeer (Jak. 1:5). Doen ’n eerlike selfondersoek in die lig van wat jy leer terwyl jy Jehovah se hulp vra om ontslae te raak van verkeerde gedagtes of skadelike begeertes. Laat ons Jehovah altyd “met danksegging” loof vir die dinge wat hy aan ons openbaar (Ps. 147:7). Hierdie biddende gesindheid wanneer ons studeer, lei tot ’n hegte verhouding met Jehovah, aangesien dit ons help om na hom te luister wanneer hy deur sy Woord met ons praat.—Ps. 145:18.
So ’n ontvanklike gees onderskei Jehovah se knegte van ander studente. Onder diegene sonder godvrugtige toegewydheid is dit iets algemeens om die geskrewe woord te betwyfel en te betwis. Maar dit is nie ons gesindheid nie. Ons vertrou Jehovah (Spr. 3:5-7). As ons iets nie verstaan nie, is ons nie so vermetel dat ons dink dit moet verkeerd wees nie. Terwyl ons ywerig na die antwoorde soek, wag ons op Jehovah (Miga 7:7). Soos met Esra is dit ons doel om wat ons leer, toe te pas en dit aan ander te leer. As ons hierdie hartsgesindheid het, sal ons ryklik beloon word vir ons studie.
Hoe om te studeer
Moenie net by paragraaf 1 begin en deur die materiaal werk nie, maar neem eers tyd om vooraf na die hele artikel of die hoofstuk in die materiaal te kyk. Begin deur die bewoording van die titel te ontleed. Dit is die tema van wat jy gaan studeer. Let dan noukeurig op hoe die onderhofies met die tema verband hou. Bestudeer enige prente, kaarte of onderrigvensters in die teks. Vra jou af: ‘Na aanleiding van hierdie oorsig, wat verwag ek om te leer? Hoe sal dit vir my van nut wees?’ Dit maak jou studie doelgerig.
Kry nou die feite. Wagtoring-studieartikels en party boeke het gedrukte vrae. Terwyl jy elke paragraaf lees, is dit goed om die antwoorde te merk. Al is daar geen studievrae nie, kan jy nog steeds belangrike gedagtes merk wat jy wil onthou. As ’n gedagte vir jou nuut is, kan jy ’n bietjie meer tyd daaraan bestee om seker te maak dat jy dit goed verstaan. Wees op die uitkyk na illustrasies of redenasies wat nuttig te pas sal kom in die veldbediening of wat jy in die toekoms in ’n toespraak sal kan gebruik. Dink aan spesifieke mense wie se geloof moontlik versterk sal word as jy met hulle praat oor wat jy studeer. Merk die gedagtes wat jy wil gebruik, en hersien dit wanneer jy klaar gestudeer het.
Slaan die teksverwysings na terwyl jy die materiaal bestudeer. Ontleed hoe elke teks met die hoofgedagte van die paragraaf verband hou.
Jy sal dalk op punte afkom wat jy nie maklik verstaan nie of wat jy deegliker wil ondersoek. Moenie toelaat dat dit jou aandag aflei nie, maar maak ’n aantekening daarvan sodat jy later weer daarna kan kyk. Punte word dikwels duideliker terwyl jy deur die res van die materiaal werk. Indien nie, kan jy bykomende navorsing doen. Wat kan jy met hierdie doel merk? Miskien is daar ’n teks aangehaal wat jy nie so goed verstaan nie. Of jy verstaan nie so mooi hoe dit op die onderwerp onder bespreking van toepassing is nie. Miskien voel jy dat jy ’n sekere gedagte in die materiaal verstaan, maar nie goed genoeg om dit aan iemand te verduidelik nie. In plaas van dit net daarby te laat, sal dit verstandig wees om navorsing daaroor te doen wanneer jy klaar is met jou oorspronklike studietaak.
Toe die apostel Paulus sy uitvoerige brief aan die Hebreeuse Christene geskryf het, het hy dit halfpad deur onderbreek om te sê: “Dít [is] die hoofsaak” (Heb. 8:1). Herinner jy jouself van tyd tot tyd ook daaraan? Kyk byvoorbeeld waarom Paulus dit gedoen het. In die voorafgaande hoofstukke van sy geïnspireerde brief het hy reeds getoon dat Christus as God se groot Hoëpriester die hemel self ingegaan het (Heb. 4:14–5:10; 6:20). Maar deur daardie hoofgedagte aan die begin van hoofstuk 8 uit te sonder en te beklemtoon, het Paulus die verstand van sy lesers voorberei om diep na te dink oor hoe dit op hulle lewe betrekking het. Hy het daarop gewys dat Christus ten behoewe van hulle voor die aangesig van God verskyn het en ook vir hulle die weg gebaan het om toegang te kry tot daardie hemelse “heiligdom” (Heb. 9:24; 10:19-22). Die sekerheid van hulle hoop sou hulle aanspoor om die verdere raad toe te pas wat hierdie brief oor geloof, volharding en Christelike gedrag bevat. Wanneer ons studeer en die hoofgedagtes uitsonder, sal dit ons ook help om te sien hoe die tema ontwikkel word en sal dit die goeie redes om in ooreenstemming daarmee op te tree, in ons verstand inprent.
Sal jou persoonlike studie jou tot optrede beweeg? Dit is ’n baie belangrike vraag. Wanneer jy iets leer, moet jy jou afvra: ‘Hoe moet dit my gesindheid en my doelwitte in die lewe raak? Hoe kan ek hierdie inligting gebruik om ’n probleem op te los, ’n besluit te neem of ’n doelwit te bereik? Hoe kan ek dit in my gesin, in die veldbediening, in die gemeente gebruik?’ Oorweeg hierdie vrae biddend, terwyl jy aan werklike situasies dink waarin jy jou kennis kan gebruik.
Nadat jy ’n hoofstuk of ’n artikel voltooi het, moet jy tyd neem om ’n kort hersiening te doen. Kyk of jy die hoofgedagtes en die stawende argumente kan onthou. Hierdie stap sal jou help om die inligting vir toekomstige gebruik te onthou.
Wat om te studeer
As knegte van Jehovah het ons baie om te studeer. Maar waar moet ons begin? Dit is goed as ons elke dag die teks en kommentare in Ondersoek die Skrif elke dag bestudeer. Ons woon elke week gemeentelike vergaderinge by, en as ons ter voorbereiding hiervoor studeer, sal dit ons help om meer daarby baat te vind. Daarbenewens het party wyslik tyd opsy gesit om sommige van ons Christelike publikasies te bestudeer wat gedruk is voordat hulle die waarheid geleer het. Ander kies ’n deel van hulle weeklikse Bybellees en doen dieper navorsing oor daardie verse.
Sê nou jy kan weens jou omstandighede nie al die inligting noukeurig bestudeer wat by die weeklikse gemeentelike vergaderinge bespreek gaan word nie? Moenie die fout maak om deur die materiaal te jaag net sodat dit gedoen is nie, of nog erger, om glad nie te studeer omdat jy nie alles kan doen nie. Besluit eerder hoeveel jy kan studeer, en doen dit deeglik. Doen dit elke week. Probeer met verloop van tyd meer doen sodat jy ook vir die ander vergaderinge kan voorberei.
‘Bou jou huisgesin op’
Jehovah besef dat gesinshoofde hard moet werk om vir hulle geliefdes te sorg. “Maak jou werk buitenshuis klaar”, sê Spreuke 24:27, “en maak dit vir jou op die land gereed.” Nogtans kan jou gesin se geestelike behoeftes nie oor die hoof gesien word nie. Gevolglik sê die vers verder: “Daarna moet jy ook jou huisgesin opbou.” Hoe kan gesinshoofde dit doen? Spreuke 24:3 sê: “Deur onderskeidingsvermoë sal [’n huisgesin] stewig gevestig word.”
Hoe kan onderskeidingsvermoë jou huisgesin tot voordeel strek? Onderskeidingsvermoë is die verstandelike vermoë om nie net te sien wat voor die hand liggend is nie. Daar kan tereg gesê word dat ’n doeltreffende gesinstudie met ’n studie van jou gesin self begin. Hoe vorder jou gesinslede wat hulle geestelikheid betref? Luister aandagtig wanneer jy met hulle gesels. Is hulle geneig om te kla of om opstandig te wees? Strewe hulle materiële belange ten alle koste na? Voel jou kinders ongemaklik om hulle voor hulle portuurs as Jehovah se Getuies te identifiseer wanneer jy saam met hulle in die veldbediening is? Geniet hulle julle program van Bybellees en -studie as ’n gesin? Maak hulle werklik Jehovah se weg hulle lewensweg? As jy oplettend is, sal jy as gesinshoof agterkom wat jy moet doen om geestelike eienskappe in elke gesinslid aan te kweek en op te bou.
Gaan Die Wagtoring en Ontwaak! na vir artikels wat spesifieke behoeftes bespreek. Sê dan vooraf vir die gesin wat julle gaan bestudeer sodat hulle oor die inligting kan dink. Laat daar altyd ’n liefdevolle atmosfeer tydens die studie heers. Beklemtoon die waarde van die materiaal onder bespreking en pas dit spesifiek op julle gesin se behoeftes toe sonder om enige gesinslid te berispe of in die verleentheid te stel. Hou almal betrokke. Help elkeen om te sien hoe Jehovah se Woord “volmaak” is om presies te voorsien wat in die lewe nodig is.—Ps. 19:7.
Ontvang die belonings
Oplettende mense sonder geestelike insig kan die heelal, wêreldgebeure en selfs hulleself bestudeer, en tog verstaan hulle nie die ware betekenis van wat hulle sien nie. Maar met behulp van God se gees kan mense wat God se Woord gereeld bestudeer, die handewerk van God in hierdie dinge sien, asook die vervulling van Bybelprofesieë en die ontvouing van God se voorneme om gehoorsame mense te seën.—Mark. 13:4-29; Rom. 1:20; Op. 12:12.
Hoewel dit wonderlik is, moet dit ons nie trots maak nie. Daaglikse ondersoek van God se Woord help ons eerder om nederig te bly (Deut. 17:18-20). Dit beskerm ons ook teen “die bedrieglike krag van die sonde”, want wanneer God se Woord in ons hart lewe, is die moontlikheid kleiner dat die aantrekkingskrag van die sonde sterker sal wees as ons voorneme om dit te weerstaan (Heb. 2:1; 3:13; Kol. 3:5-10). Ons sal dus kan wandel “op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag terwyl [ons] voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk” (Kol. 1:10). Dít is ons doel wanneer ons God se Woord bestudeer, en om dit te bereik, is die grootste beloning.