Hoe om navorsing te doen
KONING SALOMO het “gepeins en ’n deeglike ondersoek ingestel, sodat hy baie spreuke in volgorde kon saamstel”. Waarom? Omdat hy “korrekte woorde van waarheid” wou neerskryf (Pred. 12:9, 10). Lukas het “alles van die begin af noukeurig nagespeur” sodat hy die gebeure van Christus se lewe in logiese volgorde kon vertel (Luk. 1:3). Albei hierdie knegte van God het navorsing gedoen.
Wat is navorsing? Dit is ’n noukeurige soeke na inligting oor ’n spesifieke onderwerp. Dit sluit leeswerk in, en dit vereis dat ’n mens die beginsels wat by studie betrokke is, moet toepas. Dit kan ook onderhoude met mense insluit.
Watter situasies vereis navorsing? Hier is ’n paar voorbeelde. Jou persoonlike studie of Bybellees kan vrae laat ontstaan wat vir jou belangrik is. Iemand vir wie jy getuig, vra moontlik ’n vraag waaroor jy graag spesifieke inligting wil hê om ’n antwoord te gee. Jy moet dalk ’n toespraak hou.
Kom ons kyk na daardie toewysing om ’n toespraak te hou. Die materiaal wat jy gevra is om te dek, lyk miskien baie algemeen. Hoe kan jy dit plaaslik toepas? Maak dit interessant deur navorsing te doen. Wanneer dit gestaaf word met een of twee syfers of met ’n voorbeeld wat by jou materiaal pas en wat die lewe van diegene in jou gehoor raak, word ’n punt wat voor die hand liggend gelyk het leersaam, selfs motiverend. Die gepubliseerde materiaal wat jy gebruik, is vir lesers regoor die wêreld voorberei, maar jy moet die punte verder toelig, illustreer en op een gemeente of op een persoon toepas. Hoe moet jy te werk gaan?
Voordat jy na inligting begin soek, moet jy eers jou gehoor in ag neem. Wat weet hulle alreeds? Wat moet hulle weet? Bepaal dan jou doel. Is dit om te verduidelik? te oortuig? te weerlê? of te motiveer? Om te verduidelik, vereis dat jy verdere inligting verskaf om ’n saak te verklaar. Hoewel die basiese feite dalk verstaanbaar is, sal jy miskien moet toelig wanneer of hoe om te doen wat gesê word. Om te oortuig, vereis dat jy redes gee wat toon waarom iets so is, en dit sluit in dat jy bewyse voorlê. Om te weerlê, verg ’n deeglike kennis van albei kante van ’n saak sowel as ’n noukeurige ontleding van bewyse wat gebruik word. Ons soek natuurlik nie net goeie argumente nie, maar ons wil ook feite op ’n taktvolle manier aanbied. Om te motiveer, behels dat ons die hart bereik. Dit beteken dat jy jou gehoor aanspoor en hulle begeerte versterk om op te tree in ooreenstemming met wat bespreek word. Werklike voorbeelde van mense wat dit gedoen het, selfs wanneer dit moeilik was, kan help om die hart te bereik.
Is jy nou gereed om te begin? Nog nie heeltemal nie. Kyk hoeveel inligting jy nodig gaan hê. Tyd is dalk ’n belangrike faktor. Hoeveel tyd sal jy tot jou beskikking hê as jy die inligting aan ander gaan voordra? Vyf minute? Vyf-en-veertig minute? Is daar ’n vasgestelde tyd daarvoor, soos by ’n gemeentelike vergadering, of is dit aanpasbaar, soos tydens ’n Bybelstudie of ’n herdersbesoek?
Laastens, watter navorsingshulpe is aan jou beskikbaar? Is daar, benewens wat jy by die huis het, nog ander in die biblioteek by julle Koninkryksaal? Sal broers wat Jehovah al baie jare dien, jou toelaat om hulle navorsingshulpe te gebruik? Is daar ’n openbare biblioteek in julle omgewing waar naslaanwerke gebruik kan word indien nodig?
Die gebruik van ons belangrikste navorsingshulp—die Bybel
Begin by die Bybel self as jy navorsing oor die betekenis van ’n teks doen.
Ondersoek die konteks. Vra jou af: ‘Vir wie is hierdie teks geskryf? Wat toon die omliggende verse oor die omstandighede wat tot die verklaring aanleiding gegee het of oor die gesindheid van die mense wat betrokke is?’ Sulke besonderhede kan ons dikwels help om ’n teks te verstaan, en dit kan ook ’n toespraak waarin jy dit gebruik, interessanter maak.
Hebreërs 4:12 word byvoorbeeld dikwels aangehaal om te toon watter krag God se Woord het om harte te raak en lewens te beïnvloed. Die konteks vergroot ons waardering vir hierdie feit. Dit bespreek die ondervindinge van Israel gedurende die 40 jaar in die wildernis voordat hulle die land binnegegaan het wat Jehovah aan Abraham belowe het (Heb. 3:7–4:13). “Die woord van God”, sy belofte om hulle in ’n plek van rus in te bring volgens sy verbond met Abraham, was nie dood nie; dit was lewend en sou binnekort vervul word. Die Israeliete het alle rede gehad om geloof daarin te beoefen. Maar terwyl Jehovah hulle van Egipte na die berg Sinai en van daar af na die Beloofde Land gelei het, het hulle herhaaldelik ’n gebrek aan geloof getoon. Hulle het dus deur hulle reaksie op die manier wat God sy woord uitgevoer het, geopenbaar wat in hulle harte was. God se woord van die belofte openbaar vandag op ’n soortgelyke wyse wat in mense se harte is.
Gaan die kruisverwysings na. Party Bybels het kruisverwysings. Het joune? Indien wel, kan dit nuttig wees. Beskou ’n voorbeeld uit die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif. Eerste Petrus 3:6 verwys na Sara as ’n navolgenswaardige voorbeeld vir Christenvrouens. ’n Kruisverwysing na Genesis 18:12 staaf hierdie gedagte deur te sê dat Sara “by haarself” van Abraham as haar heer gepraat het. Haar onderworpenheid was dus opreg. Buiten dat dit jou hierdie soort insig gee, kan kruisverwysings jou na tekste verwys wat die vervulling van ’n Bybelprofesie toon of wat op iets wys wat in die Wetsverbond voorafgeskadu word. Maar jy moet besef dat sommige kruisverwysings nie bedoel is om sulke verduidelikings te gee nie. Hulle verwys dalk bloot na parallelle gedagtes of na biografiese of geografiese inligting.
Soek met behulp van ’n Bybelkonkordansie. ’n Bybelkonkordansie is ’n alfabetiese indeks van woorde wat in die Bybel gebruik word. Dit kan jou help om tekste te vind wat met die onderwerp verband hou waaroor jy navorsing doen. Terwyl jy dit ondersoek, sal jy ander nuttige besonderhede vind. Jy sal bewyse sien van “die patroon” van waarheid wat in God se Woord uiteengesit word (2 Tim. 1:13). Die Nuwe Wêreld-vertaling bevat ’n basiese “Indeks van Bybelwoorde”. Die Comprehensive Concordance is baie vollediger. As dit aan jou beskikbaar is, sal dit jou na al die tekste neem wat elk van die belangrike woorde in die Bybel bevat.
Leer om ander navorsingshulpe te gebruik
In die venster op bladsy 33 is ’n lys van verskeie ander navorsingshulpe wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien is (Matt. 24:45-47). Baie daarvan het ’n inhoudsopgawe, en baie het ’n indeks agterin, wat jou sal help om spesifieke inligting te vind. Aan die einde van elke jaar verskyn daar saakregisters in Die Wagtoring sowel as die Ontwaak! met daardie jaar se artikels in.
As jy vertroud is met die soort inligting wat in die Bybelstudiepublikasies gedek word, kan dit die navorsingsproses versnel. Sê byvoorbeeld jy soek inligting oor profesieë, leerstellings, Christelike gedrag of die toepassing van Bybelbeginsels. Die Wagtoring sal waarskynlik die inligting bevat wat jy soek. Die Ontwaak! bespreek aktuele sake, hedendaagse probleme, godsdiens, die wetenskap en volke van verskillende lande. Kommentaar oor elke verslag in die Evangelies verskyn in chronologiese volgorde in Die grootste mens wat nog geleef het. ’n Vers-vir-vers-bespreking van Bybelboeke kan gevind word in publikasies soos Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, Gee ag op Daniël se profesie! en die twee dele van Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom. In Redenering uit die Skrif sal jy bevredigende antwoorde op honderde Bybelvrae vind wat dikwels in die velddiens geopper word. Sien Die mensdom se soeke na God vir ’n duideliker begrip van ander godsdienste, hulle leerstellings en hulle geskiedkundige agtergrond. ’n Breedvoerige bespreking van die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies kan in Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk gevind word. Vir ’n verslag van huidige verwikkelinge in die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus, kan jy die jongste Yearbook of Jehovah’s Witnesses raadpleeg. Insight on the Scriptures is ’n Bybelensiklopedie en -atlas. As jy inligting nodig het oor volke, plekke, dinge, tale of geskiedkundige gebeure van die Bybel, is dit ’n uitstekende bron.
“Watch Tower Publications Index.” Hierdie register wat in meer as 20 tale uitgegee word, sal jou na inligting in ’n wye verskeidenheid van ons publikasies verwys. Dit is in ’n saak- en teksregister verdeel. Om die saakregister te gebruik, moet jy ’n woord vind wat verband hou met die onderwerp waaroor jy navorsing wil doen. Om die teksregister te gebruik, moet jy in die lys van tekste die een vind wat jy beter wil verstaan. As iets gedurende die jare wat deur die register gedek word, oor daardie onderwerp of daardie teks gepubliseer is, sal jy ’n lys verwysings vind wat jy kan naslaan. Voor in die register word die afkortings gegee van die name van publikasies waarna verwys word. (Met behulp daarvan sal jy byvoorbeeld sien dat w99 3/1 15 na Die Wagtoring van 1 Maart 1999, bladsy 15, verwys.) Hoofopskrifte soos “Field Ministry Experiences” en “Life Stories of Jehovah’s Witnesses” kan nuttig wees om motiverende aanbiedings vir die gemeente voor te berei.
Aangesien navorsing baie boeiend kan wees, moet jy versigtig wees dat jou aandag nie afgelei word nie. Spits jou toe op jou doel om die materiaal te soek wat jy nodig het vir die taak waaraan jy werk. As die register jou na ’n sekere bron verwys, blaai na die bladsy(e) wat aangegee word, gebruik dan onderhofies en die eerste sinne van paragrawe om jou na die materiaal te neem wat jy nodig het. As jy na die betekenis van ’n sekere Bybelvers soek, moet jy eers die teksverwysing op die bladsy vind waarna jy verwys is. Kyk dan na die omliggende kommentare.
“Watchtower Library” op CD-ROM. As jy toegang tot ’n rekenaar het, sal jy dit dalk nuttig vind om die Watchtower Library op CD-ROM te gebruik, wat ’n groot verskeidenheid van ons publikasies bevat. Die gebruikersvriendelike soekprogram stel jou in staat om na ’n woord, ’n kombinasie van woorde of ’n teksverwysing in enige van die publikasies in die Watchtower Library te soek. Al is hierdie navorsingshulp nie in jou taal beskikbaar nie, sal jy moontlik daarby baat kan vind in ’n taal wat internasionaal gebruik word en wat jy kan verstaan.
Ander teokratiese biblioteke
In sy tweede geïnspireerde brief aan Timoteus het Paulus die jong man gevra om “die boekrolle, veral die perkamente”, na hom in Rome te bring (2 Tim. 4:13). Sekere geskrifte was waardevol vir Paulus, en hy het hulle gehou. Jy kan dieselfde doen. Hou jy jou persoonlike eksemplare van Die Wagtoring, Ontwaak! en Ons Koninkryksbediening selfs nadat dit by gemeentelike vergaderinge bestudeer is? Indien wel, sal jy dit tesame met die ander Christelike publikasies wat jy aangeskaf het, as navorsingshulpe kan gebruik. Die meeste gemeentes het ’n versameling van teokratiese publikasies in ’n biblioteek by die Koninkryksaal. Dit is vir die gebruik van die hele gemeente terwyl hulle by die Koninkryksaal is.
Persoonlike lêers
Wees op die uitkyk na interessante items wat jy kan gebruik wanneer jy met ander praat en hulle onderrig. As jy ’n nuusbrokkie, syfer of voorbeeld in ’n koerant of ’n tydskrif vind wat jy in jou bediening kan gebruik, kan jy dit uitsny of ’n afskrif van die inligting maak. Skryf die datum neer, asook die naam van die tydskrif en moontlik die naam van die skrywer of uitgewer. Tydens gemeentelike vergaderinge kan jy ’n aantekening maak van redenasies en illustrasies wat jou kan help om die waarheid aan ander te verduidelik. Het jy al ooit aan ’n goeie illustrasie gedink maar nie ’n geleentheid gehad om dit onmiddellik te gebruik nie? Skryf dit neer, en hou dit in ’n lêer. Wanneer jy al ’n geruime tyd op die Teokratiese Bedieningskool was, sal jy al heelwat aanbiedings voorberei het. Pleks van die aantekeninge van daardie toesprake weg te gooi, kan jy dit gerus hou. Die navorsing wat jy gedoen het, kan later goed te pas kom.
Praat met mense
Jy kan baie by mense leer. Toe Lukas sy Evangelieverslag saamgestel het, het hy klaarblyklik baie inligting ingesamel deur onderhoude met ooggetuies te voer (Luk. 1:1-4). Moontlik kan ’n mede-Christen lig op ’n saak werp waaroor jy navorsing probeer doen het. Volgens Efesiërs 4:8, 11-16 gebruik Christus “gawes in die vorm van mense” om ons te help om in “die juiste kennis van die Seun van God” te groei. As jy met ervare knegte van God praat, kan jy nuttige idees kry. Wanneer jy met mense praat, sal jy ook kan agterkom wat hulle dink, en dit kan jou help om materiaal voor te berei wat werklik prakties is.
Beoordeel jou resultate
Nadat koring geoes is, moet die graankorrels van die kaf geskei word. Dit geld ook vir wat jy tydens jou navorsing vind. Voordat dit gereed is om gebruik te word, moet jy die waardevolle inligting skei van wat oortollig is.
As jy die inligting in ’n toespraak gaan gebruik, moet jy jou afvra: ‘Dra die punt wat ek wil gebruik, werklik iets nuttigs tot my aanbieding van die onderwerp by? Of, al is dit interessante materiaal, lei dit die aandag af van die onderwerp waaroor ek veronderstel is om te praat?’ As jy dit oorweeg om aktuele sake of materiaal uit die immer veranderende veld van die wetenskap of geneeskunde te gebruik, moet jy seker maak dat dit die jongste inligting is. Jy moet ook besef dat sommige punte in party van ons ouer publikasies bygewerk is; daarom moet jy die jongste inligting nagaan wat oor die onderwerp gepubliseer is.
Jy moet veral versigtig wees as jy besluit om inligting uit sekulêre bronne te gebruik. Moet nooit vergeet dat God se Woord die waarheid is nie (Joh. 17:17). Jesus beklee die sleutelrol in die vervulling van God se voorneme. Gevolglik sê Kolossense 2:3: “In hom is al die skatte van wysheid en van kennis sorgvuldig verborge.” Beoordeel die resultate van jou navorsing uit hierdie oogpunt. Wat sekulêre navorsing betref, moet jy jou afvra: ‘Is hierdie materiaal oordryf, spekulatief of kortsigtig? Is dit met ’n selfsugtige of kommersiële motief geskryf? Stem ander gesaghebbende bronne daarmee saam? Bowenal, stem dit ooreen met Bybelwaarheid?’
Spreuke 2:1-5 spoor ons aan om na kennis, begrip en onderskeidingsvermoë te bly soek ‘soos na silwer en verborge skatte’. Dit impliseer dat inspanning nodig is wat tot ryk belonings sal lei. Navorsing verg inspanning, maar dit sal jou help om God se gedagtes oor sake te vind, om verkeerde opvattings reg te stel en om ’n goeie begrip van die waarheid te verkry. Dit sal jou toesprake ook leersamer en lewendiger maak, sodat dit ’n plesier sal wees om dit aan te bied en ’n genot sal wees om na te luister.