STUDIE 9
Modulasie
DIE beklemtoning wat jy gebruik, help ’n gehoor om te verstaan wat jy sê. Maar wanneer jy jou stemsterkte, tempo en toonhoogte doeltreffend afwissel, kan jou toespraak baie aangenamer wees om na te luister. Boonop kan dit vir jou gehoor toon hoe jy voel oor wat jy sê. Jou gesindheid teenoor die materiaal kan ’n invloed hê op hoe hulle daaroor voel. Dit is so hetsy jy van die verhoog af of met een persoon in die veldbediening praat.
Die mensestem is ’n wonderlike instrument, wat baie veelsydig is. Wanneer dit behoorlik gebruik word, kan dit lewe aan ’n toespraak gee, die hart raak, emosies wek en mense tot optrede aanspoor. Maar dit kan nie gedoen word deur bloot op jou aantekeninge te merk waar jy jou stemsterkte, tempo of toonhoogte moet verander nie. As ’n mens slegs modulasie gebruik waar jy hierdie merke gemaak het, sal dit onnatuurlik klink. In plaas van lewe en kleur aan jou toespraak te gee, kan dit jou gehoor ongemaklik laat voel. Die behoorlike gebruik van modulasie kom uit die hart.
Wanneer modulasie wyslik gebruik word, sal dit nie onnodig aandag op die spreker vestig nie. Dit sal die gehoor eerder help om hulle in die onderwerp onder bespreking te verdiep.
Pas jou stemsterkte aan. Een manier om die klank van jou stem af te wissel, is om jou stemsterkte te verander. Maar jy moet nie bloot volgens ’n reëlmatige patroon harder of sagter praat nie. Dit sal die betekenis van wat jy sê onduidelik maak. Dit sal nie ’n aangename uitwerking hê as jy te dikwels hard praat nie.
Jou stemsterkte moet by die materiaal pas. Hetsy jy ’n dringende opdrag lees, soos in Openbaring 14:6, 7 of in Openbaring 18:4, of ’n teks waarin sterk oortuiging uitgespreek word, soos in Eksodus 14:13, 14, gepaste toename in stemsterkte is nodig. As jy eweneens ’n skerp veroordeling uit die Bybel lees, soos in Jeremia 25:27-38, sal sekere uitdrukkings uitstaan as jy jou stemsterkte afwissel.
Hou ook jou doel in gedagte. Wil jy jou gehoor tot optrede aanspoor? Wil jy die hoofpunte van jou toespraak laat uitstaan? Die oordeelkundige gebruik van groter stemsterkte sal jou help om hierdie doelwitte te bereik. Maar jy sal nie jou doel bereik deur bloot harder te praat nie. Waarom nie? Wat jy sê, vereis dalk hartlikheid en gevoel, nie groter stemsterkte nie. Ons sal dit in Studie 11 bespreek.
’n Afname in stemsterkte kan afwagting wek wanneer dit oordeelkundig gebruik word. Maar dit vereis gewoonlik groter intensiteit onmiddellik daarna. Angs of vrees kan uitgedruk word deur sagter en terselfdertyd met groter intensiteit te praat. ’n Mens kan ook sagter praat om te toon dat sekere gedagtes van minder belang is as die omliggende inligting. Maar as jy altyd sag praat, kan dit die indruk skep dat jy onseker is of nie oortuig is van wat jy sê nie of nie werklik in jou onderwerp belangstel nie. ’n Mens moet natuurlik ’n baie sagte stemtoon oordeelkundig gebruik.
Verander jou tempo. In daaglikse gesprekke vloei die woorde spontaan terwyl ons ons gedagtes uitspreek. Wanneer ons opgewonde is, is ons geneig om vinnig te praat. Wanneer ons wil hê dat ander presies moet onthou wat ons sê, praat ons teen ’n stadiger tempo.
Maar min nuwe sprekers wissel hulle tempo af. Waarom? Hulle berei hulle woorde te noukeurig voor. Alles is dalk uitgeskryf. Selfs as die toespraak nie van ’n manuskrip af gehou word nie, het hulle moontlik hulle woorde so te sê gememoriseer. Gevolglik word alles teen ’n afgemete tempo voorgedra. As jy leer om van ’n skets af te praat, sal dit jou help om hierdie swakheid reg te stel.
Moenie so skielik vinniger begin praat dat dit ’n mens herinner aan ’n kat wat skielik wegspring wanneer hy ’n hond sien nie. En moet nooit so vinnig praat dat jou uitspraak daaronder ly nie.
As jy jou tempo wil afwissel, moet jy nie bloot met gereelde tussenposes vinniger en stadiger praat nie. So ’n voordragstyl sal afbreuk doen aan die materiaal wat jy aanbied, in plaas daarvan om dit aangenamer te maak om na te luister. Tempowisselinge moet pas by wat jy sê, by die emosies wat jy wil oordra en by jou doel. Lewer jou toespraak teen ’n redelike tempo. As jy ’n gevoel van opgewondenheid wil oordra, moet jy vinniger praat, net soos jy in daaglikse gesprekke sou doen. Dit is ook gepas wanneer jy minder belangrike punte noem of van iets vertel waarvan die besonderhede nie belangrik is nie. Dit sal kleur aan jou toespraak gee en jou toespraak sal ook nie so ernstig klink nie. Aan die ander kant moet ’n mens gewoonlik stadiger praat wanneer jy by belangriker argumente, hoofpunte en klimakse kom.
Wissel jou toonhoogte af. Stel jou voor dat iemand ’n musiekinstrument ongeveer ’n uur lank speel. Die hele tyd speel hy net een noot—eers hard, dan sag, soms vinnig, dan stadig. Daar is ’n afwisseling van klanksterkte en tempo, maar geen afwisseling van toonhoogte nie; die “musiek” is nie baie aangenaam nie. As ons nie ons toonhoogte afwissel nie, sal dit ook nie aangenaam wees om na ons te luister nie.
Veranderinge in toonhoogte het natuurlik nie dieselfde uitwerking in alle tale nie. In ’n toontaal, soos Chinees, kan ’n verandering in toonhoogte die betekenis van ’n woord verander. Maar selfs in so ’n taal kan ’n spreker steeds sekere dinge doen om groter afwisseling aan sy stemtoon te gee. Hy kan die omvang van sy stem probeer vergroot terwyl hy dieselfde relatiewe waardes vir die verskillende tone behou. Hy kan sodoende die hoë tone hoër en die laer tone laer maak.
Selfs in ander tale kan ’n verandering in toonhoogte ’n verskeidenheid gedagtes oordra. ’n Effense verhoging van die toonhoogte tesame met ’n ooreenstemmende toename in stemsterkte kan vir beklemtoning gebruik word. Of ’n verandering in toonhoogte kan gebruik word om grootte of afstand aan te dui. As ’n mens jou stemtoon aan die einde van ’n sin geleidelik laat styg, kan dit aandui dat ’n vraag gestel word. Party tale vereis dalk dat die stemtoon daal.
Opgewondenheid en entoesiasme kan deur ’n hoër toonhoogte uitgedruk word. (In ’n toontaal vereis dit dalk ’n groter stemomvang.) Droefheid en angs vereis dalk ’n laer toonhoogte. (Of in ’n toontaal moet die stemomvang beperk word.) Die emosies waarvan ons hier praat, help die spreker om mense se harte te bereik. Wanneer jy hierdie emosies wil uitdruk, moet jy nie bloot die woorde sê nie. Gebruik jou stem op ’n manier wat toon dat jy jou daarin inleef.
Lê die grondslag. Waar begin ’n mens dan vir modulasie voorberei? Wanneer jy die materiaal vir jou toespraak kies. As jy net redenasies of net raad in jou toespraak insluit, sal jy min geleentheid vir afwisseling in jou toespraak hê. Ontleed dus jou skets, en maak seker dat jy die bestanddele het wat nodig is vir ’n kleurvolle, leersame aanbieding.
Gestel jy kom in die middel van jou toespraak agter dat jy groter verskeidenheid nodig het omdat jou aanbieding eentonig raak. Wat dan? Verander die manier waarop jy jou materiaal aanbied. Hoe? Een manier is om die Bybel oop te slaan, die gehoor te nooi om saam te volg en ’n teks te lees in plaas van net te praat. Of verander ’n stelling na ’n vraag, en pouseer vir klem. Gebruik ’n eenvoudige illustrasie. Dit is tegnieke wat deur ervare sprekers gebruik word. Maar ongeag hoeveel ervaring jy het, jy kan dieselfde tegnieke gebruik wanneer jy jou materiaal voorberei.
’n Mens kan sê dat modulasie in ’n toespraak soos speserye in kos is. As die regte soort en die regte hoeveelheid gebruik word, sal jou gehoor ten volle daarby baat vind en sal dit vir hulle ’n plesier wees om daarna te luister.