STUDIE 40
Akkurate stellings
WAAROM sou ’n Christen iets sê wat nie waar is nie? Dalk herhaal hy bloot iets wat hy gehoor het, sonder dat hy die tyd geneem het om die feite na te gaan. Of hy oordryf dalk iets omdat hy, sonder om dit te besef, sy bronnemateriaal verkeerd gelees het. Wanneer ons selfs in onbelangrike sake sorgvuldige aandag aan akkuraatheid skenk, sal dié wat na ons luister, sien dat hulle seker kan wees van die geloofwaardigheid van die belangriker aspekte van ons boodskap.
In die veldbediening. Baie voel skrikkerig om aan die veldbediening te begin deelneem omdat hulle besef dat hulle nog baie moet leer. Maar hulle kom gou agter dat hulle ’n doeltreffende getuienis kan gee, selfs met net ’n basiese kennis van die waarheid. Hoe? Die sleutel is voorbereiding.
Raak vertroud met die onderwerp wat jy wil bespreek, voordat jy in die velddiens uitgaan. Probeer aan vrae dink wat mense miskien sal vra. Soek na bevredigende Bybelse antwoorde. Dit sal jou voorberei om akkurate antwoorde te gee terwyl jy in ’n ontspanne stemming is. Gaan jy ’n Bybelstudie hou? Berei die studiemateriaal goed voor. Maak seker dat jy die skriftuurlike grondslag vir die antwoorde op die gedrukte vrae verstaan.
Sê nou ’n huisbewoner of ’n werksmaat vra ’n vraag waarop jy nie voorbereid is om te antwoord nie? Weerstaan die versoeking om te raai as jy nie seker van die feite is nie. “Die hart van die regverdige dink na sodat hy kan antwoord” (Spr. 15:28). Jy vind dalk die nodige hulp in die boek Redenering uit die Skrif of in “Bybelonderwerpe vir bespreking”. As jy nie een hiervan by jou het nie, kan jy aanbied om navorsing te doen en terug te kom. As die persoon wat die vraag gestel het, opreg is, sal hy nie omgee om vir die regte antwoord te wag nie. Trouens, hy sal moontlik beïndruk wees deur jou nederigheid.
As jy saam met ervare verkondigers in die veldbediening werk, kan dit jou help om bekwaam daarin te word om God se Woord reg te hanteer. Let op watter tekste hulle gebruik en hoe hulle daaroor redeneer. Aanvaar nederig enige wenke of raad wat hulle gee. Die ywerige dissipel Apollos het by die hulp van ander baat gevind. Lukas het Apollos beskryf as ’n “welsprekende” man wat “goed vertroud [was] met die Skrif”, “gegloei het van die gees” en “die dinge omtrent Jesus met juistheid gespreek en geleer” het. En tog was daar ’n leemte in sy begrip. Toe Priscilla en Aquila dit opmerk, het hulle “hom by hulle geneem en die weg van God met groter juistheid vir hom uitgelê”.—Hand. 18:24-28.
‘Hou stewig vas aan die betroubare woord.’ Ons aanbiedings by vergaderinge moet hoë agting vir die gemeente se rol as “’n pilaar en stut van die waarheid” weerspieël (1 Tim. 3:15). As ons die waarheid wil verdedig, is dit belangrik dat ons die sin begryp van die tekste wat ons in toesprake wil gebruik. Neem die konteks en die bedoeling van die tekste in ag.
Wat jy by ’n gemeentelike vergadering sê, word miskien herhaal. Natuurlik ‘struikel ons almal dikwels’ (Jak. 3:2). Maar jy sal dit nuttig vind om gewoontes aan te leer wat jou help om akkurate stellings te maak. Baie broers wat by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit het, sal met verloop van tyd ouer manne word. Daar word “meer as gewoonlik” verwag van diegene aan wie so ’n verantwoordelikheid toevertrou is (Luk. 12:48). As ’n ouer man onverskillig is en verkeerde raad gee wat ernstige probleme vir gemeentelede veroorsaak, kan die ouer man hom God se misnoeë op die hals haal (Matt. 12:36, 37). ’n Broer wat aan die vereistes voldoen om ’n ouer man te wees, moet daarvoor bekend wees dat hy “met betrekking tot sy onderrigkuns stewig aan die betroubare woord vashou”.—Tit. 1:9.
Maak seker dat jou gevolgtrekkings strook met “die patroon van gesonde woorde” wat in al die skriftuurlike waarhede waarneembaar is (2 Tim. 1:13). Dit behoort jou nie af te skrik nie. Miskien het jy nog nie die hele Bybel deurgelees nie. Hou aan om daaraan te werk. Maar kyk intussen hoe die volgende wenke jou kan help om die materiaal te ontleed wat jy dalk in jou onderrigting wil gebruik.
Vra jou eers af: ‘Strook hierdie materiaal met wat ek reeds uit die Bybel geleer het? Sal dit dié wat na my luister, nader aan Jehovah bring, of verheerlik dit die wysheid van die wêreld en moedig dit mense aan om dít te volg?’ Jesus het gesê: “U woord is die waarheid” (Joh. 17:17; Deut. 13:1-5; 1 Kor. 1:19-21). Maak ook goed gebruik van studiehulpe wat deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas voorsien word. Dit sal jou nie net help om tekste reg te verstaan nie, maar ook om dit op ’n gebalanseerde en redelike manier toe te pas. As jy jou toesprake op “die patroon van gesonde woorde” baseer en op Jehovah se kanaal vertrou wanneer jy tekste verduidelik en toepas, sal jou stellings akkuraat wees.
Hoe om die akkuraatheid van inligting na te gaan. Aktuele gebeure, aanhalings en ondervindinge kan nuttig wees wanneer jy sekere punte toelig en toepas. Hoe kan jy seker maak dat die inligting akkuraat is? Een manier is om sulke inligting uit betroubare bronne te kry. Onthou om seker te maak dat dit die jongste inligting is. Statistiek raak verouderd; nuwe wetenskaplike ontdekkings word voortdurend gemaak en namate die mens die geskiedenis en eertydse tale beter verstaan, moet gevolgtrekkings wat op verouderde kennis gebaseer is, hersien word. Wees baie versigtig as jy inligting wil gebruik waarvan die bron koerante, die televisie, die radio, elektroniese pos of die Internet is. Spreuke 14:15 maan: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.” Vra jou af: ‘Is die bron daarvoor bekend dat dit akkurate inligting verskaf? Kan die inligting elders bevestig word?’ Moenie inligting gebruik as jy nie seker is oor die geloofwaardigheid daarvan nie.
Behalwe om die betroubaarheid van die bronne na te gaan, moet jy ook goed nadink oor hoe jy die inligting wil gebruik. Maak seker dat jy aanhalings en statistiek op ’n manier gebruik wat strook met die konteks waaruit dit geneem is. Wees versigtig dat “party mense” nie “die meeste mense”, “baie mense” nie “almal” en “in sommige gevalle” nie “altyd” word wanneer jy jou punt wil beklemtoon nie. As sake vergroot word of verslae in verband met die aantal, omvang of erns van iets oordryf word, ontstaan daar twyfel oor die geloofwaardigheid van wat jy sê.
Wanneer alles wat jy sê, akkuraat is, sal jy ’n reputasie opbou as iemand wat die waarheid respekteer. Dit stel Jehovah se Getuies as ’n groep in ’n goeie lig. Nog belangriker, dit vereer “Jehovah, die God van waarheid”.—Ps. 31:5.