STUDIE 49
Gegronde argumente aangevoer
WANNEER jy iets sê, het jou gehoor die volste reg om te vra: “Waarom is dit waar? Watter bewyse is daar dat die dinge wat die spreker sê, aanvaar moet word?” As ’n onderrigter is jy onder verpligting om sulke vrae te beantwoord of jou gehoor te help om die antwoorde te vind. As die punt noodsaaklik is vir jou argument, moet jy seker maak dat jy jou gehoor goeie redes gee om dit te aanvaar. Dit sal help om jou aanbieding oortuigend te maak.
Die apostel Paulus het oorredingskrag gebruik om mense te oortuig. Deur middel van gegronde argumente, logiese redenasies en ernstige versoeke het hy probeer om sy toehoorders van siening te laat verander. Hy het ’n goeie voorbeeld vir ons gestel (Hand. 18:4; 19:8). Party sprekers gebruik natuurlik oorredingskrag om mense te mislei (Matt. 27:20; Hand. 14:19; Kol. 2:4). Hulle begin moontlik met ’n verkeerde veronderstelling, maak op eensydige bronne staat, gebruik oppervlakkige argumente, ignoreer feite wat met hulle beskouing bots of beroep hulle meer op emosie as op rede. Ons moet seker maak dat ons sulke metodes vermy.
Stewig gegrond op God se Woord. Wat ons vir ander leer, moet nie uit onsself kom nie. Ons probeer aan hulle oordra wat ons uit die Bybel geleer het. Die publikasies van die “getroue en verstandige slaaf”-klas het ons grootliks hiermee gehelp. Hierdie publikasies spoor ons aan om die Skrif sorgvuldig te bestudeer. Op ons beurt rig ons ander na die Bybel, nie om vir hulle te bewys dat ons reg is nie, maar met die nederige begeerte om hulle self te laat sien wat dit sê. Ons stem saam met Jesus Christus, wat in gebed tot sy Vader gesê het: “U woord is die waarheid” (Joh. 17:17). Daar is geen hoër gesag as Jehovah God, die Skepper van hemel en aarde nie. Die geldigheid van ons argumente hang daarvan af of dit op sy Woord gegrond is.
Soms sal jy met mense praat wat nie met die Bybel vertroud is of dit nie as die Woord van God beskou nie. Jy moet goeie oordeel aan die dag lê om te weet wanneer en hoe jy Bybeltekste moet gebruik. Maar jy moet hulle aandag so gou as moontlik op daardie gesaghebbende bron van inligting probeer vestig.
Beteken dit dat jy eenvoudig ’n toepaslike teks as ’n onweerlegbare argument kan aanhaal? Nie noodwendig nie. Jy sal dalk die aandag op die konteks moet vestig om te toon dat die teks wel staaf wat jy sê. As jy ’n beginsel uit ’n teks aflei en die konteks nie daardie onderwerp bespreek nie, sal meer bewyse dalk nodig wees. Jy sal moontlik verwante tekste moet gebruik om jou gehoor te oortuig dat die dinge wat jy sê, wel stewig op die Skrif gegrond is.
Moenie die punt wat deur ’n teks bewys word, oordryf nie. Lees dit sorgvuldig. Die teks handel dalk nie regstreeks oor die onderwerp wat jy bespreek nie. Maar jou argument sal slegs oortuigend wees as die persoon wat na jou luister, kan insien hoe dit bewys lewer van die punt wat jy maak.
Gesteun deur stawende getuienis. In party gevalle kan dit nuttig wees om bewyse uit ’n betroubare nie-Bybelse bron te gebruik om mense die redelikheid van die Skrif te help insien.
Jy kan byvoorbeeld na die sigbare heelal verwys as bewys dat daar ’n Skepper is. Jy kan die aandag vestig op natuurwette, soos swaartekrag, en redeneer dat die bestaan van sulke wette impliseer dat daar ’n Wetgewer is. Jou redenasie sal geldig wees as dit strook met wat God se Woord sê (Job 38:31-33; Ps. 19:1; 104:24; Rom. 1:20). Sulke bewyse is nuttig omdat dit toon dat wat die Bybel sê, met waarneembare feite ooreenstem.
Probeer jy iemand help om te sien dat die Bybel werklik die Woord van God is? Jy haal dalk geleerdes aan wat sê dat dit is, maar bewys dit die punt? Sulke aanhalings help slegs mense wat daardie geleerdes respekteer. Kan jy die wetenskap gebruik om te bewys dat die Bybel waar is? As jy die menings van onvolmaakte wetenskaplikes as jou gesag gebruik, bou jy op ’n wankelrige fondament. Maar as jy begin met die Woord van God en dan na wetenskaplike bevindings verwys wat die juistheid van die Bybel bevestig, sal jou argumente op ’n stewige fondament gegrond wees.
Lê altyd voldoende bewyse voor, ongeag wat jy probeer bewys. Die hoeveelheid bewyse wat nodig is, sal van jou gehoor afhang. As jy byvoorbeeld die laaste dae bespreek soos dit in 2 Timoteus 3:1-5 beskryf word, kan jy jou gehoor se aandag op ’n opspraakwekkende nuusberig vestig wat toon dat mense geen “natuurlike geneentheid” het nie. Daardie een voorbeeld is dalk al wat nodig is om te bewys dat hierdie aspek van die teken van die laaste dae nou vervul word.
’n Analogie—’n vergelyking van twee dinge wat belangrike elemente in gemeen het—kan dikwels nuttig wees. Op sigself bewys die analogie niks; die geldigheid daarvan moet opgeweeg word teen wat die Bybel self sê. Maar die analogie kan iemand help om die redelikheid van ’n gedagte in te sien. So ’n analogie kan byvoorbeeld gebruik word wanneer jy verduidelik dat God se Koninkryk ’n regering is. Jy kan noem dat God se Koninkryk, soos menseregerings, ook heersers, onderdane, wette, ’n regstelsel en ’n opvoedkundige stelsel het.
Werklike ondervindinge kan dikwels gebruik word om te toon hoe verstandig dit is om die Bybel se raad toe te pas. Persoonlike ondervindinge kan ook gebruik word om te bevestig wat jy sê. Wanneer jy byvoorbeeld vir iemand sê hoe belangrik dit is om die Bybel te lees en te bestudeer, kan jy verduidelik hoe jou lewe daardeur verbeter is. Die apostel Petrus het sy broers aangemoedig deur na die gedaanteverandering te verwys, waarvan hy ’n ooggetuie was (2 Pet. 1:16-18). Paulus het ook na sy eie ondervindinge verwys (2 Kor. 1:8-10; 12:7-9). Jy moet jou persoonlike ondervindinge natuurlik spaarsaam gebruik sodat jy nie te veel aandag op jouself vestig nie.
Aangesien mense se agtergrond en denkwyse verskil, sal bewyse wat vir een persoon voldoende is, iemand anders dalk nie oortuig nie. Neem dus die beskouings van jou gehoor in ag wanneer jy besluit watter argumente jy sal gebruik en hoe jy dit sal aanbied. Spreuke 16:23 sê: “Die hart van die wyse laat sy mond insig toon, en by sy lippe voeg dit oorredingskrag.”