Wagtoring AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • be bl. 282-bl. 285
  • Riglyne vir skoolopsieners

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon laai nie.

  • Riglyne vir skoolopsieners
  • Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Teokratiese Bedieningskool vir 2015 help ons om beter onderrigters te wees
    Ons Koninkryksbediening—2014
  • ’n Skool wat ons toerus vir wat die heel belangrikste is
    Ons Koninkryksbediening—2002
Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
be bl. 282-bl. 285

Riglyne vir skoolopsieners

IN ELKE gemeente word ’n ouer man aangestel om die opsiener van die Teokratiese Bedieningskool te wees. As hierdie verantwoordelikheid aan jou toevertrou is, kan jou entoesiasme vir die skool en jou persoonlike belangstelling in die vooruitgang van elke student grootliks bydra tot wat die skool plaaslik bereik.

’n Belangrike deel van jou toewysing is om die weeklikse Teokratiese Bedieningskool in jou gemeente te hou. Hou in gedagte dat daar, benewens die studente wat toewysings het, ook ander teenwoordig is. Behartig die skool op so ’n manier dat die hele gemeente aanmoedigende, praktiese herinneringe ontvang wat verband hou met ten minste een van die doelwitte van die skool wat op bladsye 5 tot 8 van hierdie handboek genoem word.

Toon belangstelling in alle studente, hetsy hulle leestoewysings moet behartig, aanbiedings in die vorm van ’n demonstrasie moet doen of toesprake moet hou. Help hulle om dit nie bloot as ’n toewysing te beskou nie, maar as ’n geleentheid om vooruitgang in hulle diens aan Jehovah te maak. Die mate waarin hulle hulle inspan, is natuurlik ’n sleutelfaktor in hulle vooruitgang. Maar dit is ook belangrik dat jy vriendelike belangstelling toon, hulle help om die waarde van die raadgewingspunte te verstaan en verduidelik hoe om hierdie raad toe te pas. Luister dus aandagtig na elke toespraak sodat jy nuttige kommentare kan lewer.

Maak seker dat jy die skool op tyd begin en eindig. Stel ’n goeie voorbeeld deur self binne die toegewese tyd te bly wanneer jy jou kommentare gee. As ’n student die tydgrens oorskry, moet jy of ’n assistent ’n teken gee. Die student moet sy sin voltooi en die verhoog verlaat. As ’n ander deel op die program die tydgrens oorskry, moet jy jou eie kommentare verkort en die saak dan ná die vergadering met die broer bespreek.

Wanneer jy teenwoordig is, moet jy die skool hou. As jy soms nie teenwoordig kan wees nie, moet ’n ander ouer man wat vooraf deur die liggaam van ouer manne aangewys is, die skool behartig. As jy hulp nodig het om roosters op te stel, toewysingstrokies uit te skryf en uit te deel of plaasvervangers vir die program te vind, kan ’n bedieningskneg wat deur die liggaam van ouer manne gekies is, jou hiermee help.

Om by die skool aan te sluit. Moedig alle verkondigers aan om by die skool aan te sluit. Ander wat met die gemeente omgaan, kan daarby aansluit as hulle met die leringe van die Bybel saamstem en in ooreenstemming met Christelike beginsels lewe. Wanneer iemand die begeerte uitspreek om by die skool aan te sluit, kan jy hom hartlik daarvoor prys. As die persoon nog nie ’n verkondiger is nie, moet jy as die skoolopsiener die vereistes om by die skool aan te sluit, met hom bespreek. Doen dit verkieslik in die teenwoordigheid van die persoon wat ’n Bybelstudie met hom hou (of in die teenwoordigheid van ’n gelowige ouer). Hierdie vereistes is dieselfde as vir iemand wat ’n ongedoopte verkondiger wil word. Dit word gevind op bladsye 97 tot 99 van Georganiseer om ons bediening te vervul. Hou altyd ’n volledige lys van alle studente op die skool.

Hoe om die raadgewingsvorm te gebruik. Elke student se raadgewingsvorm is in sy persoonlike eksemplaar van die handboek, op bladsye 79 tot 81. Soos die kleurkode aandui, kan enige raadgewingspunt van 1 tot 17 gebruik word wanneer ’n student ’n leestoewysing gegee word. Vir aanbiedings in die vorm van ’n demonstrasie kan enige raadgewingspunt behalwe 7, 52 en 53 gebruik word. Raad vir toesprake sluit al die punte in, behalwe 7, 18 en 30.

Wanneer ’n raadgewingspunt gegee word, moet die skoolopsiener toesien dat die datum met ’n potlood ingeskryf word onder “Datum toegewys” in die ruimte wat langs daardie punt op die raadgewingsvorm in die student se boek voorsien word. Nadat die student sy toewysing behartig het, moet jy hom privaat vra of hy die oefening(e) gedoen het wat aan die einde van die bespreking van die raadgewingspunt verskyn. Indien wel, moet ’n regmerkie in die vierkantjie op die vorm gemaak word. As jy voorstel dat hy voortgaan om aan dieselfde raadgewingspunt te werk, is geen verdere aantekening op die raadgewingsvorm nodig nie; moet net nie die spasie onder “Datum voltooi” invul nie. Dit moet eers gedoen word wanneer hy gereed is om na ’n ander punt oor te gaan. Ná elke studentetoespraak moet die datum links van die agtergrond wat gebruik is, op bladsy 82 van die student se boek ingeskryf word. Daar is plek op die raadgewingsvorm en op die lys van agtergronde sodat elkeen twee keer gebruik kan word. Studente moet hulle boeke gedurende die program by hulle hê.

Wys slegs een raadgewingspunt op ’n slag toe. Dit is gewoonlik die beste om die raadgewingspunte toe te wys in die volgorde waarin hulle verskyn. Maar as party studente besonder goed doen, kan jy hulle aanspoor om sekere lesse op hulle eie deur te werk en toe te pas. Dan kan jy hulle help om aan dié punte te werk wat jy dink die meeste tot hulle ontwikkeling as bekwame sprekers en onderrigters sal bydra.

Al is iemand al baie jare lank ’n student in die skool, kan hy baie daarby baat vind as hy elke les deurwerk en toepas. Om studente met spesifieke behoeftes te help, kan jy sekere spraakhoedanighede kies waaraan hulle moet werk in plaas van stelselmatig deur die raadgewingsvorm te werk.

Hoe om raad te gee. Maak goed gebruik van Bybelvoorbeelde en -beginsels wanneer jy raad gee. Studente moet kan aanvoel dat die raad wat gegee word en die gees waarin dit gegee word, in ooreenstemming met die verhewe beginsels in God se Woord is.

Hou in gedagte dat jy ’n ‘medewerker’ van jou broers en susters is (2 Kor. 1:24). Soos hulle moet jy aanhou om jou daarop toe te lê om as spreker en onderrigter te verbeter. Bestudeer self die boek Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, pas die raad daarin toe en stel ’n goeie voorbeeld sodat ander dieselfde kan doen.

Terwyl jy dit doen, moet dit jou doel wees om studente te help om goeie lesers asook bekwame sprekers en onderrigters te word. Met dié doel voor oë moet jy daarna streef om die nodige hulp te voorsien sodat die studente verstaan wat die verskillende spraakhoedanighede is, waarom dit belangrik is en hoe om dit aan te kweek. Hierdie handboek is so saamgestel dat dit jou daarmee kan help. Maar dit is dikwels nodig dat jy meer doen as om net te lees wat in die boek staan. Bespreek die gedagte wat dit oordra en hoe om dit toe te pas.

Prys die student as daar ’n spesifieke punt is waarop hy goed gedoen het. Sê kortliks wat dit doeltreffend gemaak het of waarom wat hy gedoen het, belangrik is. As hy daarby baat sal vind om verdere aandag aan ’n sekere punt te gee, moet jy seker maak dat hy verstaan waarom. Bespreek hoe hy dit moet doen. Wees spesifiek, maar wees terselfdertyd vriendelik.

Onthou dat baie mense dit uiters moeilik vind om ’n aanbieding voor ’n groep te doen. As iemand voel dat hy nie goed gedoen het nie, sal hy dalk wonder of hy moet aanhou probeer. Volg Jesus na, wat nie ’n “beskadigde riet” verbrysel het of ’n “smeulende vlaspit” uitgedoof het nie (Matt. 12:20). Neem die emosionele toestand van die student in aanmerking. Wanneer jy raad gee, moet jy in ag neem of die student nog redelik nuut is en of hy ’n gesoute verkondiger is. Hartlike en opregte lof kan mense aanspoor om aan te hou om hulle bes te doen.

Behandel elke student met waardigheid. Romeine 12:10 sê vir ons: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.” Watter gepaste raad is dit tog vir ’n raadgewer in die Teokratiese Bedieningskool! As die student ouer as jy is, moet jy die riglyn in 1 Timoteus 5:1, 2 noukeurig toepas. Maar ongeag hoe oud iemand is, wanneer hy op ’n vriendelike manier raad gegee word oor aanpassings wat hy moet maak in die manier waarop hy dinge doen, word dit dikwels makliker aanvaar.—Spr. 25:11.

Wanneer jy raad gee, moet jy sorg dat die student die doel van die opleiding verstaan. Daardie doel is nie bloot om goed genoeg te doen om geprys te word en na die volgende raadgewingspunt te vorder nie. Die doel is nie om ’n spreker en ’n onderrigter te wees wat deur ander bewonder sal word nie (Spr. 25:27). Ons begeerte is om ons gawe van spraak te gebruik om Jehovah te loof en om ander te help om hom te leer ken en lief te hê. Die doel van ons opleiding is om ons toe te rus om die werk wat in Matteus 24:14 en 28:19, 20 uiteengesit word, met welslae uit te voer. Gedoopte broers wat aan die vereistes voldoen, sal moontlik mettertyd gevra word om as openbare sprekers en onderrigters te help om vir “die kudde van God” te sorg.—1 Pet. 5:2, 3.

Raai studente aan om die handboek se bespreking van hulle volgende raadgewingspunt binne ’n paar dae te lees nadat hulle hulle toewysing ontvang het. Spoor hulle aan om toe te pas wat hulle leer wanneer hulle hulle dele vir die skool voorberei, daaglikse gesprekke voer, by vergaderinge kommentaar lewer en velddiens doen.

Hoe om dele toe te wys. Dit moet gewoonlik ten minste drie weke vooruit gedoen word. Indien moontlik moet al hierdie toewysings skriftelik gedoen word.

Dele waarin die gemeente onderrig word, moet aan ouer manne toegewys word, verkieslik aan dié wat sulke dele doeltreffend sal behartig, en aan bedieningsknegte wat goeie onderrigters is.

Wanneer jy besluit watter studentetoesprake aan broers en watter aan susters toegewys gaan word, moet jy die instruksies volg wat saam met die skoolrooster voorsien word. As daar min broers maar baie susters is wat studentetoesprake hou, moet jy seker maak dat die broers genoeg geleenthede gegee word om meer as net leestoewysings te behartig.

Neem mense se omstandighede in ag wanneer jy dele toewys. Is dit nodig om ’n sekere ouer man of bedieningskneg ’n toewysing op die skool te gee op dieselfde aand as wat hy ’n deel op die Diensvergadering het of dieselfde week as wat hy ’n openbare toespraak in die gemeente hou? Is dit nodig om ’n sekere suster ’n aanbieding te gee op dieselfde aand as een van haar jong kinders, wat dalk haar hulp nodig het? Is die onderwerp gepas, veral in die geval van ’n kind of ’n student wat nog nie gedoop is nie? Maak seker dat die toewysing gepas is vir die raadgewingspunt waaraan die student werk.

Vir toewysings wat aan susters gegee word, sal die student gewoonlik haar eie agtergrond kies in ooreenstemming met die instruksies op bladsye 78 en 82. Een assistent moet toegewys word, maar nog ’n assistent kan gebruik word. As ’n student vra dat sy ’n spesifieke assistent wil hê wat werklik goed sal pas by ’n sekere agtergrond, moet die versoek in aanmerking geneem word.

Bykomende klasse. As daar meer as 50 studente in die skool is, sal jy dit dalk wil oorweeg om nog klasse te reël waarin studentetoewysings behartig kan word. Hierdie reëling kan, na gelang van die plaaslike behoefte, alle studentetoewysings of net die laaste twee insluit.

Elke bykomende klas moet ’n bekwame raadgewer hê, verkieslik ’n ouer man. Waar nodig kan dit deur ’n bekwame bedieningskneg waargeneem word. Die liggaam van ouer manne moet hierdie raadgewers goedkeur. Werk ten nouste met hulle saam sodat studente gehelp kan word om te vorder ongeag waar hulle hulle volgende aanbieding doen.

Spesiale leesklas. As die liggaam van ouer manne besluit dat ’n aantal persone in die gemeente basiese leeslesse nodig het in die taal wat in die gemeente gepraat word, kan jy reël dat dit saam met die Teokratiese Bedieningskool gehou word. Hierdie onderrigting kan basiese lees-en-skryf-vaardighede insluit of die doel kan wees om studente se leesvermoë te verbeter.

Hierdie klasse hoef nie op dieselfde tyd as studentetoesprake in die Teokratiese Bedieningskool gehou te word nie. Om die nodige hulp te voorsien, sal meer tyd dalk nodig wees as wat tydens die skool beskikbaar is. Die plaaslike ouer manne kan bepaal wat nodig is en wanneer hierdie onderrigting gegee moet word. Na gelang van die behoefte kan daar reëlings getref word vir groeponderrig of individuele onderrig.

’n Bekwame onderrigter is nodig. Die toewysing moet verkieslik aan ’n broer gegee word wat goed kan lees en wat die taal goed ken. As ’n broer nie beskikbaar is nie, kan die ouer manne ’n bekwame, voorbeeldige suster vra om te help. Sy moet ’n hoofbedekking dra wanneer sy die klas onderrig.—1 Kor. 11:3-10; 1 Tim. 2:11, 12.

Die boekie Apply Yourself to Reading and Writing is al in baie tale beskikbaar gestel. Dit is bedoel om mense basiese lees-en-skryf-vaardighede te leer. Ander onderrigmateriaal kan ook gebruik word, na gelang van die leesvermoë van die studente. Wanneer die studente goed genoeg gevorder het, moet hulle aangespoor word om aan die gewone program in die Teokratiese Bedieningskool deel te neem.

As die opsiener van die Teokratiese Bedieningskool kan jy baie doen waarby die gemeente baat sal vind. Berei goed voor, en kom jou toegewese verantwoordelikheid in ooreenstemming met die raad in Romeine 12:6-8 na, want dit is ’n kosbare pand van God.

    Afrikaanse publikasies (1975-2020)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Voorkeure
    • Copyright © 2019 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan