HOOFSTUK 24
Niks kan ons “skei van God se liefde nie”
1. Watter negatiewe gevoel ervaar baie mense, insluitende party ware Christene?
HET Jehovah God jou as persoon lief? Party stem saam dat God die mensdom in die algemeen liefhet, soos Johannes 3:16 sê. Maar hulle voel in werklikheid: ‘God kan my as individu nooit liefhê nie.’ Selfs ware Christene voel soms onseker hieroor. Een man wat mismoedig was, het gesê: “Dit is vir my baie moeilik om te glo dat God enigsins vir my omgee.” Worstel jy soms met soortgelyke twyfelgedagtes?
2, 3. Wie wil ons graag laat glo dat ons niks werd of onbeminlik in Jehovah se oë is, en hoe kan ons hierdie gedagte bestry?
2 Satan wil ons graag laat glo dat Jehovah God ons nie liefhet nie en dat ons geen waarde in sy oë het nie. Satan verlei mense wel dikwels deur hulle ydelheid en trots te streel (2 Korintiërs 11:3). Maar hy skep ook behae daarin om die selfrespek van kwesbare mense te verpletter (Johannes 7:47-49; 8:13, 44). Dit is veral so in hierdie kritieke “laaste dae”. Baie word vandag groot in gesinne waar daar geen “natuurlike geneentheid” is nie. Ander is voortdurend blootgestel aan mense wat wreedaardig, selfsugtig en eiesinnig is (2 Timoteus 3:1-5). Nadat hulle jare lank mishandeling, rassisme en haat verduur het, is sulke mense moontlik daarvan oortuig dat hulle niks werd of onbeminlik is.
3 As jy sulke negatiewe gevoelens ervaar, moet jy nie wanhopig raak nie. Baie van ons is van tyd tot tyd onredelik streng op onsself. Maar onthou, God se Woord is bedoel om “dinge reg te stel” en om “sterk verskanste dinge omver te werp” (2 Timoteus 3:16; 2 Korintiërs 10:4). Die Bybel sê: “Ons sal ons hart voor hom gerusstel met betrekking tot alles waarin ons hart ons veroordeel, want God is groter as ons hart en weet alles” (1 Johannes 3:19, 20). Kom ons kyk na vier maniere waarop die Skrif ons help om ‘ons hart gerus te stel’, of van Jehovah se liefde te verseker.
Jy is waardevol vir Jehovah
4, 5. Hoe toon Jesus se illustrasie van die mossies dat ons waardevol is in Jehovah se oë?
4 Eerstens, die Bybel leer uitdruklik dat elkeen van God se knegte waardevol is in sy oë. Jesus het byvoorbeeld gesê: “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (Matteus 10:29-31). Kyk wat daardie woorde vir Jesus se eerste-eeuse luisteraars beteken het.
5 Ons wonder dalk waarom enigiemand ’n mossie sou koop. Wel, in Jesus se dag was die mossie die goedkoopste voël wat as kos verkoop is. Let op dat iemand twee mossies vir ’n muntstuk van geringe waarde kon koop. Maar later het Jesus gesê dat iemand wat bereid was om twee muntstukke te bestee, nie vier mossies nie, maar vyf gekry het. Die ekstra voël is bygevoeg asof dit absoluut geen waarde gehad het nie. Hierdie voëls was miskien in die oë van mense niks werd nie, maar hoe het die Skepper hulle beskou? Jesus het gesê dat “nie een van hulle [nie eens die een wat bygevoeg word] voor God vergeet” word nie (Lukas 12:6, 7). Nou kan ons Jesus se punt begin verstaan. As Jehovah soveel waarde aan ’n enkele mossie heg, hoeveel waardevoller is ’n mens dan! Soos Jesus verduidelik het, ken Jehovah elke besonderheid omtrent ons. Selfs die hare op ons kop is getel!
6. Waarom is ons seker dat Jesus realisties was toe hy gesê het dat die hare op ons kop getel is?
6 Ons hare is getel? Party dink dalk dat Jesus hier onrealisties was. Maar dink net aan die hoop op die opstanding. Hoe intiem moet Jehovah ons tog ken om ons te kan herskep! Ons is vir hom so waardevol dat hy elke besonderheid onthou, met inbegrip van ons genetiese kode en al ons jare van herinneringe en ondervindinge.a In vergelyking hiermee sou dit iets eenvoudigs wees om ons hare te tel—waarvan daar omtrent 100 000 op die gemiddelde kop groei.
Wat sien Jehovah in ons?
7, 8. (a) Wat is party eienskappe wat Jehovah verheug is om te vind wanneer hy menseharte deursoek? (b) Wat is party van ons werke wat Jehovah waardeer?
7 Tweedens, die Bybel leer ons wat Jehovah in sy knegte waardeer. Kortom, hy skep behae in ons goeie eienskappe en in die pogings wat ons aanwend. Koning Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Jehovah deursoek alle harte, en hy onderskei elke neiging van die gedagtes” (1 Kronieke 28:9). Hoe verheug moet God tog wees wanneer hy miljarde menseharte in hierdie gewelddadige, haatdraende wêreld deursoek en ’n hart vind wat vrede, waarheid en regverdigheid liefhet! Wat gebeur wanneer God ’n hart vind wat oorloop van liefde vir hom, wat meer van hom wil leer en hierdie kennis aan ander wil meedeel? Jehovah sê vir ons dat hy op diegene let wat met ander oor hom praat. Hy het selfs “’n gedenkboek” vir almal “wat Jehovah vrees en vir dié wat aan sy naam dink” (Maleagi 3:16). Sulke eienskappe is vir hom kosbaar.
8 Wat is party van die goeie werke wat Jehovah waardeer? Beslis ons pogings om sy Seun, Jesus Christus, na te volg (1 Petrus 2:21). ’n Lewensbelangrike werk wat God waardeer, is die verkondiging van die goeie nuus van sy Koninkryk. Ons lees in Romeine 10:15: “Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!” Ons dink miskien nie gewoonlik aan ons voete as “lieflik”, of mooi, nie. Maar hier verteenwoordig hulle die pogings wat Jehovah se knegte aanwend om die goeie nuus te verkondig. Al hierdie pogings is pragtig en kosbaar in sy oë.—Matteus 24:14; 28:19, 20.
9, 10. (a) Waarom kan ons seker wees dat Jehovah ons volharding te midde van verskillende ontberinge waardeer? (b) Watter negatiewe beskouings het Jehovah nooit van sy getroue knegte nie?
9 Jehovah waardeer ook ons volharding (Matteus 24:13). Onthou, Satan wil hê dat jy jou rug op Jehovah moet draai. Elke dag dat jy aan Jehovah getrou bly, is nog ’n dag waarin jy gehelp het om ’n antwoord op Satan se uittartings te gee (Spreuke 27:11). Dit is soms nie maklik om te volhard nie. Gesondheidsprobleme, finansiële moeilikhede, emosionele angs en ander struikelblokke kan van elke dag ’n beproewing maak. Uitgestelde verwagtinge kan ook ontmoedigend wees (Spreuke 13:12). Volharding ondanks hierdie uitdagings is vir Jehovah nog kosbaarder. Daarom het koning Dawid Jehovah gevra om sy trane in ’n “leersak” te bewaar, en hy het vol vertroue bygevoeg: “Is hulle nie in u boek nie?” (Psalm 56:8). Ja, Jehovah waardeer en onthou al die trane en lyding wat ons verduur terwyl ons ons lojaliteit teenoor hom handhaaf. Ook dit is kosbaar in sy oë.
Jehovah waardeer ons volharding ondanks beproewinge
10 Maar die selfveroordelende hart weier dalk om hierdie bewyse te aanvaar dat ons waardevol is in God se oë. Dit fluister miskien knaend: ‘Maar daar is so baie ander wat voorbeeldiger is as ek. Hoe teleurgesteld moet Jehovah tog wees wanneer hy my met hulle vergelyk!’ Jehovah vergelyk ons nie met ander nie; hy is ook nie onbuigsaam of hardvogtig in sy denke nie (Galasiërs 6:4). Hy lees ons hart met groot insig, en hy waardeer die goeie—al is dit ook hoe gering.
Jehovah skei die goeie van die slegte
11. Wat kan ons van Jehovah leer uit die manier waarop hy die geval van Abia hanteer het?
11 Derdens, terwyl Jehovah ons deursoek, sif hy alles noukeurig, op soek na die goeie. Toe Jehovah byvoorbeeld opdrag gegee het dat die hele afvallige vorstehuis van koning Jerobeam tereggestel moet word, het Hy beveel dat een van die koning se seuns, Abia, ’n behoorlike begrafnis moes kry. Waarom? “Iets goeds teenoor Jehovah, die God van Israel, [is] in hom gevind” (1 Konings 14:1, 10-13). Jehovah het as ’t ware die hart van daardie jong man gesif en “iets goeds” daarin gevind. Ongeag hoe gering of onbeduidend daardie “iets goeds” miskien was, Jehovah het dit die moeite werd geag om dit in sy Woord te meld. Hy het dit selfs beloon deur ’n gepaste mate van barmhartigheid aan daardie een lid van ’n afvallige huis te bewys.
12, 13. (a) Hoe toon die geval van koning Josafat dat Jehovah die goeie in ons soek selfs wanneer ons sondig? (b) Hoe tree Jehovah soos ’n liefdevolle Ouer op wanneer dit by ons goeie werke en eienskappe kom?
12 ’n Selfs positiewer voorbeeld kan in goeie koning Josafat gevind word. Toe die koning iets dwaas gedoen het, het Jehovah se profeet vir hom gesê: “Hiervoor is daar verontwaardiging teen u van die kant van Jehovah.” Wat ’n ontstellende gedagte! Maar Jehovah se boodskap het nie daar geëindig nie. Dit het voortgegaan: “Daar is nietemin goeie dinge by u gevind” (2 Kronieke 19:1-3). Jehovah se regverdige toorn het hom dus nie verblind vir die goeie in Josafat nie. Hoe anders tog as onvolmaakte mense! Wanneer ander ons ontstel het, is ons dikwels blind vir die goeie in hulle. En wanneer ons sondig, verblind die teleurstelling, skaamte en skuldgevoel wat ons ervaar, ons moontlik vir die goeie in ons. Maar onthou, Jehovah vergewe ons as ons berou het oor ons sondes en hard probeer om dit nie te herhaal nie.
13 Wanneer Jehovah jou sif, werp hy sulke sondes weg, net soos ’n prospekteerder wat goud uitwas, waardelose gruis weggooi. Wat van jou goeie eienskappe en werke? Dit is die “stukkies goud” wat hy hou! Het jy al opgemerk hoe liefdevolle ouers hulle kinders se tekeninge of skooltake bewaar, soms dekades nadat die kinders daarvan vergeet het? Jehovah is die liefdevolste Ouer. Solank ons aan hom getrou bly, sal hy nooit ons goeie werke en eienskappe vergeet nie. Trouens, hy sal dit as onregverdig beskou om dit te vergeet, en hy is nooit onregverdig nie (Hebreërs 6:10). Hy sif ons ook op ’n ander manier.
14, 15. (a) Waarom verblind ons onvolmaakthede Jehovah nooit vir die goeie in ons nie? Lig toe. (b) Wat sal Jehovah doen met die goeie dinge wat hy in ons vind, en hoe beskou hy sy getroue knegte?
14 Jehovah kyk verby ons onvolmaakthede en sien ons potensiaal. Ter toeligting: Kunsliefhebbers sal groot moeite doen om erg beskadigde skilderye of ander kunswerke te restoureer. Toe iemand byvoorbeeld ’n tekening deur Leonardo da Vinci, wat ongeveer R340 miljoen werd is, in die National Gallery in Londen, Engeland, met ’n haelgeweer beskadig het, het niemand voorgestel dat die tekening weggegooi moet word omdat dit nou beskadig is nie. Daar is onmiddellik begin om die 500 jaar oue meesterstuk te restoureer. Waarom? Want dit was kosbaar in die oë van kunsliefhebbers. Is jy nie meer werd as ’n kryt-en-houtskool-tekening nie? Jy is beslis in God se oë—ongeag hoe beskadig jy weens oorgeërfde onvolmaaktheid is (Psalm 72:12-14). Jehovah God, die vaardige Skepper van die mensdom, sal doen wat nodig is om almal wat op sy liefdevolle sorg reageer, tot volmaaktheid te herstel.—Handelinge 3:21; Romeine 8:20-22.
15 Ja, Jehovah sien die goeie in ons wat ons miskien nie in onsself sien nie. En terwyl ons hom dien, sal hy die goeie laat toeneem totdat ons uiteindelik volmaak is. Ongeag hoe Satan se wêreld ons behandel, Jehovah waardeer sy getroue knegte en beskou hulle as begeerlik, of kosbaar.—Haggai 2:7; voetnoot in NW.
Jehovah sit sy liefde in dade om
16. Wat is die grootste bewys van Jehovah se liefde vir ons, en hoe weet ons dat hierdie gawe vir ons persoonlik bedoel is?
16 Vierdens, Jehovah doen baie om sy liefde vir ons te bewys. Christus se losprysoffer is sekerlik die kragtigste antwoord op die sataniese leuen dat ons niks werd of onbeminlik is. Ons moet nooit vergeet dat die pynlike dood wat Jesus aan die folterpaal gesterf het en die selfs groter pyn wat Jehovah verduur het terwyl hy sy geliefde Seun sien sterf het, bewys is van hulle liefde vir ons nie. Ongelukkig is dit vir baie mense moeilik om te glo dat hierdie gawe vir hulle persoonlik bedoel is. Hulle voel onwaardig. Maar onthou dat die apostel Paulus eens ’n vervolger van Christus se volgelinge was. Tog het hy geskryf: “Die Seun van God [het] my liefgehad . . . en homself vir my oorgegee.”—Galasiërs 1:13; 2:20.
17. Deur middel waarvan trek Jehovah ons na hom en na sy Seun?
17 Jehovah bewys sy liefde vir ons deur elkeen van ons te help om by die voordele van Christus se offerande baat te vind. Jesus het gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Johannes 6:44). Ja, Jehovah self trek ons na sy Seun en die hoop op ewige lewe. Hoe? Deur middel van die predikingswerk, waardeur ons individueel bereik word, en deur middel van sy heilige gees, wat Jehovah gebruik om ons te help om geestelike waarhede te verstaan en toe te pas ten spyte van ons beperkings en onvolmaakthede. Jehovah kan dus van ons sê soos hy van Israel gesê het: “Met ’n liefde tot onbepaalde tyd het ek jou liefgehad. Daarom het ek jou met liefderyke goedhartigheid getrek.”—Jeremia 31:3.
18, 19. (a) Wat is die intiemste manier waarop Jehovah sy liefde vir ons bewys, en wat toon dat hy self hierna omsien? (b) Hoe verseker God se Woord ons dat Jehovah met empatie luister?
18 Ons ervaar Jehovah se liefde seker op die intiemste manier deur die voorreg van gebed. Die Bybel nooi elkeen van ons: “Bid onophoudelik” tot God (1 Tessalonisense 5:17). Hy luister. Hy word selfs die “Hoorder van die gebed” genoem (Psalm 65:2). Hy het hierdie verantwoordelikheid aan niemand anders oorgedra nie, nie eens aan sy eie Seun nie. Dink net: Die Skepper van die heelal spoor ons aan om hom in gebed te nader, met vrymoedigheid van spraak. En watter soort luisteraar is hy? Koud, ongevoelig, onverskillig? Glad nie.
19 Jehovah het empatie. Wat is empatie? Een getroue bejaarde Christen het gesê: “Empatie is jou pyn in my hart.” Word Jehovah werklik deur ons pyn geraak? Ons lees oor die lyding van sy volk Israel: “In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak” (Jesaja 63:9). Jehovah het nie net hulle moeilikhede gesien nie; hy het empatie vir die volk gehad. Jehovah se woorde aan sy knegte lig toe presies hoe intens hy voel: “Wie aan julle raak, raak aan my oogappel” (Sagaria 2:8).b Hoe pynlik sou dit tog wees! Ja, Jehovah het empatie vir ons. Wanneer ons seerkry, kry hy seer.
20. Watter ongebalanseerde denke moet ons vermy as ons die raad in Romeine 12:3 wil gehoorsaam?
20 Geen gebalanseerde Christen sal hierdie bewys van God se liefde en agting as ’n verskoning vir trots of egotisme gebruik nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Deur die onverdiende goedhartigheid wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat hy ’n gesonde verstand het, elkeen na die maat van geloof wat God aan hom toebedeel het” (Romeine 12:3). ’n Ander vertaling sê hier: “Ek sê vir elkeen van julle om homself nie bo sy werklike waarde te skat nie, maar om ’n matige skatting van homself te maak” (A Translation in the Language of the People, deur Charles B. Williams). Terwyl ons dan die warmte van ons hemelse Vader se liefde geniet, moet ons gesond van verstand wees en onthou dat ons nie God se liefde kan verdien of daarop aanspraak kan maak nie.—Lukas 17:10.
21. Watter sataniese leuens moet ons voortdurend weerstaan, en met watter Goddelike waarheid moet ons voortgaan om ons hart gerus te stel?
21 Laat ons almal alles in ons vermoë doen om al Satan se leuens te verwerp, insluitende die leuen dat ons niks werd of onbeminlik is. As jou ondervindinge in die lewe jou geleer het om te dink dat jy ’n struikelblok is wat te groot is selfs vir God se ontsaglike liefde om te oorkom, of dat jou goeie werke te onbeduidend is om selfs deur sy alsiende oë raakgesien te word, of dat jou sondes te groot is om selfs deur die dood van sy kosbare Seun bedek te word, is jy ’n leuen geleer. Verwerp hierdie leuens met jou hele hart! Laat ons voortgaan om ons hart gerus te stel met die waarheid wat in Paulus se geïnspireerde woorde uitgedruk word: “Ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie.”—Romeine 8:38, 39.
a Die Bybel verbind die opstandingshoop herhaaldelik met Jehovah se geheue. Die getroue man Job het vir Jehovah gesê: “Ag, . . . as u maar vir my ’n tydgrens wou stel en aan my wou dink!” (Job 14:13). Jesus het gepraat van die opstanding van “almal wat in die gedenkgrafte is”. Dit was gepas omdat Jehovah die dooies wat hy van voorneme is om op te wek, volmaak onthou.—Johannes 5:28, 29.
b Party vertalings gee hier te kenne dat die een wat aan God se volk raak, aan sy eie oog of Israel se oog raak, nie God se oog nie. Hierdie wanopvatting is ingebring deur sommige kopiïste wat hierdie gedeelte as oneerbiedig beskou het en dit dus verander het. Hulle ondeurdagte poging het afbreuk gedoen aan die intensiteit van Jehovah se persoonlike empatie.