Hoofstuk Een
Eenheid van aanbidding in ons tyd—Wat beteken dit?
1, 2. (a) Watter opwindende beweging vind in ons tyd plaas? (b) Watter wonderlike hoop het opregtes van hart?
DAAR is wêreldwyd ’n opwindende beweging na eenheid van aanbidding. Dit bring miljoene mense van alle nasies, stamme en tale bymekaar. Elke jaar word daar meer bymekaargebring. Hulle word in die Bybel as “getuies” van Jehovah geïdentifiseer en word “’n groot menigte” genoem. Hulle “verrig dag en nag heilige diens” aan God (Jesaja 43:10-12; Openbaring 7:9-15). Waarom doen hulle dit? Omdat hulle Jehovah as die enigste ware God leer ken het. Dit beweeg hulle om hulle lewe in ooreenstemming te bring met sy regverdige weë. En hulle het geleer dat ons in “die laaste dae” van hierdie teenswoordige goddelose wêreld lewe, dat God dit binnekort gaan vernietig en dat hy dit met sy paradysagtige nuwe wêreld gaan vervang.—2 Timoteus 3:1-5, 13; 2 Petrus 3:10-13.
2 God se Woord belowe: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie . . . Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:10, 11). “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.
3. Hoe word ware eenheid van aanbidding tot stand gebring?
3 Diegene wat nou in ware aanbidding verenig word, sal die eerste inwoners van daardie nuwe wêreld wees. Hulle het geleer wat God se wil is en doen dit na die beste van hulle vermoë. Jesus het getoon hoe belangrik dit is en gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Die apostel Johannes het geskryf: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.
Wat dit in werklikheid beteken
4. (a) Wat beteken dit in werklikheid dat so baie in ons tyd in verenigde aanbidding bymekaargebring word? (b) Hoe beskryf die Bybel hierdie insameling?
4 Wat beteken dit in werklikheid dat so baie in ons tyd in verenigde aanbidding bymekaargebring word? Dit is ’n duidelike bewys dat ons baie naby die einde van hierdie goddelose wêreld is, en God se nuwe wêreld sal onmiddellik daarna begin. Ons is ooggetuies van die vervulling van Bybelprofesieë wat hierdie belangrike insameling voorspel het. Een van hierdie profesieë sê: “Aan die einde van die dae [hierdie laaste dae] sal die berg van die huis van Jehovah [sy verhewe ware aanbidding] stewig gevestig word bo die top van die berge [bo enige ander soort aanbidding], . . . en volke sal daarheen stroom. En baie nasies sal beslis heengaan en sê: ‘Kom, en laat ons opgaan na die berg van Jehovah en na die huis van die God van Jakob; en hy sal ons omtrent sy weë onderrig, en ons sal in sy paaie wandel.’”—Miga 4:1, 2; Psalm 37:34.
5, 6. (a) Waarom kan daar gesê word dat nasies hulle tot Jehovah wend? (b) Watter vrae moet ons ons afvra?
5 Hoewel hele nasies nie na Jehovah se geestelike huis van aanbidding kom nie, kom miljoene individue uit al die nasies wel daarheen. Wanneer hulle van die liefdevolle voorneme en die aantreklike persoonlikheid van Jehovah God leer, word hulle harte diep geraak. Hulle probeer nederig uitvind wat God van hulle verwag. Hulle bid soos die psalmis wat gesê het: “Leer my om u wil te doen, want u is my God.”—Psalm 143:10.
6 Sien jy jou onder die groot menigte mense wat nou deur Jehovah in verenigde aanbidding bymekaargebring word? Toon jou reaksie op die onderrigting wat jy uit Jehovah se Woord ontvang het dat jy werklik besef dat hy die Bron daarvan is? In watter mate sal jy “in sy paaie wandel”?
Hoe dit bereik word
7. (a) In watter mate sal eenheid van aanbidding uiteindelik bereik word? (b) Waarom is dit dringend om nou ’n aanbidder van Jehovah te word, en hoe kan ons ander help om dit te doen?
7 Jehovah se voorneme is dat alle intelligente skepsele in ware aanbidding verenig moet wees. Hoe smag ons tog na die dag wanneer almal wat lewe, die enigste ware God sal aanbid! (Psalm 103:19-22). Maar voordat dit kan gebeur, moet Jehovah almal uit die weg ruim wat weier om sy regverdige wil te doen. Uit barmhartigheid stel hy die mensdom vooraf in kennis van wat hy gaan doen, sodat mense regoor die wêreld die geleentheid kan hê om hulle weg te verander (Jesaja 55:6, 7). Daarom word hierdie dringende beroep in ons dag op “elke nasie en stam en taal en volk” gedoen: “Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek, en aanbid dus die Een wat die hemel en die aarde en see en waterfonteine gemaak het” (Openbaring 14:6, 7). Het jy hierdie uitnodiging aanvaar? Dan is dit jou voorreg om weer ander te nooi om die ware God te leer ken en te aanbid.
8. Watter verdere vooruitgang moet ons ywerig probeer maak nadat ons die grondleerstellings van die Bybel leer ken het?
8 Dit is nie Jehovah se voorneme om aanbid te word deur mense wat sê dat hulle in hom glo maar wat dan voortgaan om hulle eie belange na te jaag nie. God wil hê dat mense “juiste kennis van sy wil” moet verkry en daarvolgens moet lewe (Kolossense 1:9, 10). Mense wat die grondleerstellings van die Bybel leer ken en waardeer, wil dus tot Christelike volwassenheid voortbeur. Hulle wil Jehovah intiemer leer ken, ’n breër en dieper begrip van sy Woord verkry en dit in voller mate in hulle lewe toepas. Hulle probeer om die eienskappe van ons hemelse Vader te weerspieël en sy beskouing van sake te hê. Dit beweeg hulle om maniere te soek waarop hulle aan die lewensreddende werk kan deelneem wat hy in ons dag op die aarde laat doen. Is dit ook wat jy wil doen?—Markus 13:10; Hebreërs 5:12–6:3.
9. Hoe is ware eenheid nou moontlik?
9 Die Bybel toon dat diegene wat Jehovah dien, ’n verenigde volk moet wees (Efesiërs 4:1-3). Hierdie eenheid moet nou bestaan, al lewe ons in ’n verdeelde wêreld en worstel ons nog met ons eie onvolmaakthede. Jesus het ernstig gebid dat al sy dissipels een moet wees, dat hulle ware eenheid moet geniet. Wat sou dit beteken? Eerstens dat hulle ’n goeie verhouding met Jehovah en sy Seun sou hê. Tweedens dat hulle met mekaar verenig sou wees (Johannes 17:20, 21). Met dié doel dien die Christengemeente as die organisasie waardeur Jehovah sy volk onderrig.
Watter faktore dra tot eenheid by?
10. (a) Wat ontwikkel ons wanneer ons self die Bybel gebruik om antwoorde te vind op vrae wat ons raak? (b) Ontleed die faktore wat tot Christelike eenheid bydra deur die vrae in hierdie paragraaf te beantwoord.
10 Sewe belangrike faktore wat tot eenheid van aanbidding bydra, word hieronder genoem. Wanneer jy die bygaande vrae beantwoord, dink na oor hoe elke punt jou verhouding met Jehovah en met mede-Christene raak. As jy oor hierdie punte redeneer en die teksverwysings naslaan wat nie aangehaal word nie, sal dit jou help om Goddelike wysheid, denkvermoë en onderskeidingsvermoë te ontwikkel—eienskappe wat ons almal nodig het (Spreuke 5:1, 2; Filippense 1:9-11). Beskou hierdie faktore een vir een.
(1) Ons erken Jehovah se reg om die standaard te stel van wat goed en sleg is. “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”—Spreuke 3:5, 6.
Waarom moet ons Jehovah se raad en leiding soek wanneer ons besluite neem? (Psalm 146:3-5; Jesaja 48:17)
(2) Ons het God se Woord om ons te lei. “Toe julle God se woord ontvang het, wat julle by ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense aangeneem nie maar, soos dit waarlik is, as die woord van God, wat ook in julle, die gelowiges, aan die werk is.”—1 Tessalonisense 2:13.
Watter gevaar hou dit in as ons eenvoudig doen wat ons “voel” reg is? (Spreuke 14:12; Jeremia 10:23, 24; 17:9)
Wat moet ons doen as ons nie weet watter raad die Bybel oor ’n sekere saak gee nie? (Spreuke 2:3-5; 2 Timoteus 3:16, 17)
(3) Ons almal vind baat by dieselfde geestelike voedingsprogram. “Al jou kinders sal persone wees wat deur Jehovah geleer word” (Jesaja 54:13). “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag [van vernietiging] sien nader kom.”—Hebreërs 10:24, 25.
Watter voordele geniet diegene wat Jehovah se reëlings vir geestelike voeding ten volle benut? (Jesaja 65:13, 14)
(4) Jesus Christus, en geen mens nie, is ons Leier. “Julle moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle leermeester, terwyl julle almal broers is. Wat meer is, moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel. Moet julle ook nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus.”—Matteus 23:8-10.
Behoort enigeen van ons te dink dat hy beter is as ander? (Romeine 3:23, 24; 12:3)
(5) Ons beskou God se Koninkryksregering as die enigste hoop vir die mensdom. “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.’ Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek.”—Matteus 6:9, 10, 33.
Hoe help dit om ons eenheid te bewaar as ons ‘eers die koninkryk soek’? (Miga 4:3; 1 Johannes 3:10-12)
(6) Heilige gees bring eienskappe in aanbidders van Jehovah voort wat noodsaaklik is vir Christelike eenheid. “Die vrugte van die gees . . . is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing.”—Galasiërs 5:22, 23.
Wat moet ons doen sodat God se gees hierdie vrugte in ons kan voortbring? (Handelinge 5:32)
Watter uitwerking het dit op ons verhouding met mede-Christene as ons God se gees het? (Johannes 13:35; 1 Johannes 4:8, 20, 21)
(7) Al God se ware aanbidders verkondig die goeie nuus van sy Koninkryk. “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.
Wat moet ons beweeg om ’n volle aandeel aan hierdie predikingswerk te hê? (Matteus 22:37-39; Romeine 10:10)
11. Wat is die gevolg as ons Bybelwaarhede in ons lewe toepas?
11 As ons Jehovah in eenheid aanbid, bring dit ons nader aan hom en kan ons verkwikkende omgang met medegelowiges geniet. Psalm 133:1 sê: “Kyk! Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers in eenheid saam woon!” Hoe verkwikkend is dit tog om weg te kom van die wêreld met al sy selfsug, onsedelikheid en geweld en te vergader saam met diegene wat Jehovah waarlik liefhet en sy wette gehoorsaam!
Vermy verdelende invloede
12. Waarom moet ons ’n gees van onafhanklikheid vermy?
12 Ons moet verdelende invloede vermy sodat ons nie ons kosbare wêreldwye eenheid versteur nie. Een van hierdie invloede is die gees van onafhanklikheid van God en sy wette. Jehovah help ons om dit te vermy deur die bron daarvan, Satan die Duiwel, te ontmasker (2 Korintiërs 4:4; Openbaring 12:9). Dit is Satan wat Adam en Eva beïnvloed het om te ignoreer wat God gesê het en om besluite in stryd met God se wil te neem. Die gevolge was rampspoedig vir hulle en vir ons (Genesis 3:1-6, 17-19). Hierdie wêreld is deurtrek van die gees van onafhanklikheid van God en sy wette. Ons moet dus hierdie gees in ons bedwing.
13. Wat sal toon of ons ons werklik vir lewe in God se regverdige nuwe wêreld voorberei?
13 Dink byvoorbeeld aan Jehovah se aangrypende belofte om die teenswoordige goddelose wêreld te vervang met nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin ‘regverdigheid sal woon’ (2 Petrus 3:13). Moet dit ons nie beweeg om ons te begin voorberei om dan te lewe wanneer regverdigheid sal seëvier nie? Dit beteken dat ons op die Bybel se duidelike raad moet ag slaan: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie” (1 Johannes 2:15). Ons vermy dus hierdie wêreld se gees—sy onafhanklike gesindheid, sy oordrewe eiebelang, sy onsedelikheid en geweld. Ons maak dit ’n gewoonte om na Jehovah te luister en hom uit die hart te gehoorsaam, ondanks enige neigings van die onvolmaakte vlees om dit nie te doen nie. Ons hele lewenswyse getuig dat ons denke en beweegredes daarop gerig is om God se wil te doen.—Psalm 40:8.
14. (a) Waarom is dit belangrik om nou die geleentheid aan te gryp om Jehovah se weë te leer ken en dit in ons lewe te volg? (b) Wat beteken die teksverwysings in die paragraaf vir ons persoonlik?
14 Wanneer Jehovah se vasgestelde tyd aanbreek om vernietiging te bring oor hierdie goddelose stelsel van dinge en almal wat die weë daarvan verkies, sal hy dit sonder versuim doen. Hy gaan nie daardie tyd uitstel of sy standaarde verander om diegene tegemoet te kom wat die wêreld nog probeer aankleef terwyl hulle God se wil halfhartig leer ken en doen nie. Dit is nou die tyd om op te tree! (Lukas 13:23, 24; 17:32; 21:34-36). Hoe hartverblydend is dit derhalwe om te sien dat die groot menigte hierdie kosbare geleentheid aangryp en gretig die onderrigting soek wat Jehovah deur sy Woord en organisasie voorsien en dat hulle in eenheid wandel in sy weë wat na die nuwe wêreld lei! En hoe meer ons van Jehovah leer, hoe liewer sal ons hom hê en hoe groter sal ons begeerte wees om hom te dien.
Hersieningsbespreking
• Wat is Jehovah se voorneme wat aanbidding betref?
• Watter verdere vooruitgang moet ons ywerig probeer maak nadat ons die grondleerstellings van die Bybel leer ken het?
• Wat kan ons persoonlik doen om in eenheid met ander aanbidders van Jehovah te wees?
[Prent op bladsy 4]
‘Die sagmoediges sal die aarde besit en hulle verlustig in die oorvloed van vrede’