Hoofstuk Ses
Die geskil waarby ons almal betrokke is
1, 2. (a) Watter geskil het Satan in Eden geopper? (b) Hoe word daardie geskil deur sy woorde geïmpliseer?
JY IS betrokke by die belangrikste geskil waarvoor die mensdom nog ooit te staan gekom het. Die standpunt wat jy ten opsigte daarvan inneem, sal jou ewige toekoms bepaal. Hierdie geskil het met die opstand in Eden ontstaan. Destyds het Satan vir Eva gevra: “Is dit werklik so dat God gesê het dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” Sy het geantwoord dat God van een boom gesê het: “Julle mag daarvan nie eet nie, . . . sodat julle nie sterf nie.” Toe het Satan Jehovah direk van leuens beskuldig en gesê dat nie Eva of Adam se lewe van gehoorsaamheid aan God afhang nie. Satan het beweer dat God iets goeds van sy skepsele weerhou—die vermoë om hulle eie standaarde in die lewe te stel. Satan het gesê: “God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.”—Genesis 3:1-5.
2 Satan het in werklikheid gesê dat dit vir mense beter sou wees om hulle eie besluite te neem as om God se wette te gehoorsaam. Sodoende het hy God se manier van regeer bevraagteken. Dit het die uiters belangrike geskil oor God se universele soewereiniteit, dit wil sê sy reg om te regeer, geopper. Die vraag het ontstaan: Wat is die beste vir die mens, Jehovah se manier van regeer, of heerskappy onafhanklik van hom? Jehovah kon Adam en Eva natuurlik onmiddellik tereggestel het, maar dit sou beslis nie die soewereiniteitsgeskil bevredigend besleg het nie. Deur die mensegemeenskap toe te laat om ’n geruime tyd te ontwikkel, kon God toon presies wat onafhanklikheid van hom en sy wette sou meebring.
3. Watter sekondêre geskil het Satan geopper?
3 Satan se aanval op Jehovah se reg om te regeer, het nie opgehou met wat in Eden gebeur het nie. Hy het ook ander se lojaliteit aan Jehovah bevraagteken. Dit het ’n nou verwante, sekondêre geskil geword. Sy uitdaging het uiteindelik die nakomelinge van Adam en Eva en al die geesseuns van God, selfs Jehovah se innig geliefde eersgebore Seun, ingesluit. In die dae van Job het Satan byvoorbeeld aangevoer dat diegene wat Jehovah dien, dit nie doen uit liefde vir God en die manier waarop hy regeer nie, maar om selfsugtige redes. Hy het beweer dat almal voor selfsugtige begeertes sal swig as hulle ontberinge ly.—Job 2:1-6; Openbaring 12:10.
Wat die geskiedenis bewys het
4, 5. Wat het die geskiedenis bewys oor die mens se pogings om sy eie voetstappe te rig?
4 ’n Noodsaaklike punt in die soewereiniteitsgeskil is dit: God het mense nie geskep om met welslae onafhanklik van sy heerskappy te lewe nie. Hy het hulle tot hulle eie voordeel afhanklik van sy regverdige wette gemaak. Die profeet Jeremia het erken: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie. Wys my tereg, o Jehovah” (Jeremia 10:23, 24). Daarom spoor God se Woord ons aan: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie” (Spreuke 3:5). Net soos God die mensdom aan sy fisiese wette onderworpe gemaak het om te bly lewe, het hy ook sedewette gemaak, wat ’n harmoniese samelewing sou teweegbring as dit gehoorsaam word.
5 Dit is duidelik dat God geweet het dat die mensdom hulleself nooit met welslae sonder sy heerskappy sou kon rig nie. In ’n vergeefse poging om onafhanklik van God se heerskappy te wees, het mense verskillende politieke, ekonomiese en godsdiensstelsels tot stand gebring. Hierdie verskille het mense in voortdurende konflik met mekaar gebring, wat tot geweld, oorlog en die dood gelei het. “Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel” (Prediker 8:9). Dit is presies wat deur die hele mensegeskiedenis heen gebeur het. Soos in God se Woord voorspel is, het goddelose mense en bedrieërs “van kwaad tot erger” voortgegaan (2 Timoteus 3:13). En gedurende die 20ste eeu, waarin die mensdom groot hoogtes op wetenskaplike en industriële gebied bereik het, het die ergste rampe van alle tye voorgekom. Die woorde van Jeremia 10:23 is beslis waar bewys—mense is nie geskep om hulle eie voetstappe te rig nie.
6. Hoe gaan God binnekort die kwessie van die mens se onafhanklikheid van hom oplos?
6 Die tragiese langtermyngevolge van onafhanklikheid van God het eens en vir altyd getoon dat heerskappy deur mense nooit suksesvol kan wees nie. God se heerskappy is die enigste weg na geluk, eenheid, gesondheid en lewe. En God se Woord toon dat Jehovah onafhanklike menseheerskappy nie meer lank gaan duld nie (Matteus 24:3-14; 2 Timoteus 3:1-5). Hy sal binnekort in menseaangeleenthede ingryp om sy heerskappy oor die aarde te laat geld. ’n Bybelprofesie sê: “In die dae van dié konings [menseregerings wat nou bestaan] sal die God van die hemel ’n koninkryk [in die hemel] oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie [mense sal nooit weer oor die aarde heers nie]. Dit sal al hierdie [hedendaagse] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”—Daniël 2:44.
Oorlewing tot in God se nuwe wêreld
7. Wie sal dit oorleef wanneer God se heerskappy ’n einde aan die mens se heerskappy maak?
7 Wie sal dit oorleef wanneer God se heerskappy ’n einde aan die mens se heerskappy maak? Die Bybel antwoord: “Die regskapenes [diegene wat God se reg om te regeer, ondersteun] sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref [diegene wat nie God se reg om te regeer, ondersteun nie], hulle sal van die aarde af uitgeroei word” (Spreuke 2:21, 22). Die psalmis het eweneens gesê: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie . . . Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:10, 29.
8. Hoe sal God sy soewereiniteit ten volle regverdig?
8 Nadat Satan se stelsel vernietig is, sal God sy nuwe wêreld inlui, wat die vernietigende geweld, oorloë, armoede, lyding, siekte en die dood wat die mensdom duisende jare lank in hulle greep gehou het, heeltemal uit die weg sal ruim. Die Bybel gee ’n pragtige beskrywing van die seëninge wat op die gehoorsame mensdom wag: “Hy [God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Deur middel van sy hemelse Koninkryksregering onder Christus sal God Sy reg om ons Soewerein, dit wil sê ons Heerser, te wees, ten volle regverdig (of, bewys).—Romeine 16:20; 2 Petrus 3:10-13; Openbaring 20:1-6.
Hulle reaksie op die geskil
9. (a) Hoe het diegene wat aan Jehovah lojaal gebly het, sy woord beskou? (b) Hoe het Noag sy lojaliteit bewys, en hoe kan ons by sy voorbeeld baat vind?
9 Deur die eeue heen was daar manne en vroue van geloof wat hulle lojaliteit aan Jehovah as Soewerein bewys het. Hulle het geweet dat hulle lewe daarvan afhang dat hulle na hom luister en aan hom gehoorsaam is. Noag was so ’n man. Daarom het God vir Noag gesê: “Die einde van alle vlees het voor my gekom . . . Maak vir jou ’n ark.” En Noag het hom aan Jehovah se opdrag onderwerp. Ander mense van daardie tyd het ondanks waarskuwings met hulle lewe voortgegaan asof niks buitengewoons sou gebeur nie. Maar Noag het ’n reusagtige ark gebou en ander van Jehovah se regverdige weë bly vertel. Die verslag sê verder: “Noag het gedoen volgens alles wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen.”—Genesis 6:13-22; Hebreërs 11:7; 2 Petrus 2:5.
10. (a) Hoe het Abraham en Sara Jehovah se soewereiniteit ondersteun? (b) Hoe kan ons by die voorbeeld van Abraham en Sara baat vind?
10 Abraham en Sara was ook uitstekende voorbeelde van mense wat Jehovah se soewereiniteit ondersteun het en gedoen het wat hy hulle ook al beveel het. Hulle het in Ur van die Galdeërs, ’n welvarende stad, gewoon. Maar toe Jehovah vir Abraham gesê het om na ’n ander land te gaan, een wat hy nie geken het nie, het Abraham “getrek, net soos Jehovah vir hom gesê het”. Sara het ongetwyfeld ’n gemaklike lewe gehad—met ’n huis, vriende en familie. Maar sy was onderdanig aan Jehovah en aan haar man en het na die land Kanaän gegaan, al het sy nie geweet watter toestande daar op haar wag nie.—Genesis 11:31–12:4; Handelinge 7:2-4.
11. (a) Onder watter omstandighede het Moses Jehovah se soewereiniteit ondersteun? (b) Hoe kan ons by Moses se voorbeeld baat vind?
11 Moses was nog iemand wat Jehovah se soewereiniteit ondersteun het. En hy het dit gedoen onder die moeilikste omstandighede—in persoonlike konfrontasies met Farao van Egipte. Dit is nie dat Moses vol selfvertroue was nie. Inteendeel, hy het getwyfel aan sy vermoë om goed genoeg te praat. Maar hy was gehoorsaam aan Jehovah. Met Jehovah se ondersteuning en die hulp van sy broer, Aäron, het Moses Jehovah se woord herhaaldelik aan die hardnekkige Farao oorgedra. Selfs party Israeliete het Moses skerp gekritiseer. Maar Moses het lojaal alles gedoen wat Jehovah hom beveel het, en deur middel van hom is Israel uit Egipte verlos.—Eksodus 7:6; 12:50, 51; Hebreërs 11:24-27.
12. (a) Wat toon dat lojaliteit aan Jehovah meer behels as om te doen wat God op skrif gestel het? (b) Hoe kan waardering vir hierdie soort lojaliteit ons help om 1 Johannes 2:15 toe te pas?
12 Diegene wat aan Jehovah lojaal was, het nie geredeneer dat niks meer van hulle verwag word as om gehoorsaam te wees aan wat God op skrif gestel het nie. Toe Potifar se vrou Josef probeer verlei het om met haar egbreuk te pleeg, was daar geen geskrewe gebod van God wat egbreuk verbied het nie. Maar Josef het geweet van die huweliksreëling wat Jehovah in Eden ingestel het. Hy het geweet dat dit God sou mishaag as hy geslagsomgang met ’n ander man se vrou het. Josef wou nie kyk in watter mate God hom sou toelaat om soos die Egiptenaars te wees nie. Hy het by Jehovah se weë gebly deur oor God se handelinge met die mensdom te peins en dan nougeset toe te pas wat hy gesien het God se wil is.—Genesis 39:7-12; Psalm 77:11, 12.
13. Hoe is daar bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is in die geval van (a) Job? (b) die drie Hebreërs?
13 Al word hulle swaar beproef, draai diegene wat Jehovah waarlik ken, nie hulle rug op hom nie. Satan het beweer dat selfs Job—van wie Jehovah met soveel lof gepraat het—God sou verlaat as hy al sy besittings of sy gesondheid verloor. Maar Job het bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is, al het Job self nie geweet waarom soveel rampspoed hom tref nie (Job 2:9, 10). Eeue later het Satan, wat nog steeds sy punt probeer bewys het, ’n woedende koning van Babilon daartoe beweeg om drie jong Hebreërs met die dood in ’n vuuroond te dreig as hulle nie in aanbidding buig voor ’n beeld wat die koning opgerig het nie. Hulle moes kies tussen gehoorsaamheid aan die opdrag van die koning en gehoorsaamheid aan Jehovah se wet teen afgodediens en het met beslistheid gesê dat hulle Jehovah dien en dat hy hulle Oppersoewerein is. Getrouheid aan God was vir hulle kosbaarder as hulle lewe!—Daniël 3:14-18.
14. Hoe is dit vir ons as onvolmaakte mense moontlik om te bewys dat ons waarlik aan Jehovah lojaal is?
14 Moet ons uit hierdie voorbeelde aflei dat ’n mens volmaak moet wees om aan Jehovah lojaal te wees, of dat iemand wat ’n fout maak, heeltemal misluk het? Beslis nie! Die Bybel vertel ons dat Moses soms te kort geskiet het. Hoewel Jehovah ontevrede was, het hy Moses nie verwerp nie. Die apostels van Jesus Christus het ook hulle swakhede gehad. Omdat Jehovah ons erfenis van onvolmaaktheid in ag neem, behaag dit hom as ons sy wil nie in enige opsig opsetlik ignoreer nie. As ons wel weens swakheid oortree, is dit belangrik dat ons opreg berouvol is en nie ’n gewoonte van die oortreding maak nie. Sodoende wys ons dat ons werklik liefhet wat Jehovah sê goed is en haat wat hy toon sleg is. Op grond van ons geloof in die versoeningswaarde van Jesus se offerande kan ons ’n rein posisie voor God geniet.—Amos 5:15; Handelinge 3:19; Hebreërs 9:14.
15. (a) Wie onder al die mense het volmaakte onkreukbaarheid teenoor God gehandhaaf, en wat het dit bewys? (b) Hoe word ons gehelp deur wat Jesus gedoen het?
15 Kan dit nietemin wees dat volmaakte gehoorsaamheid aan Jehovah se soewereiniteit eenvoudig vir mense onmoontlik is? Die antwoord hierop was sowat 4 000 jaar lank soos ’n “heilige geheim” (1 Timoteus 3:16). Al is Adam volmaak geskep, het hy nie ’n volmaakte voorbeeld van godvrugtige toegewydheid gestel nie. Wie kon dan? Sekerlik nie een van sy sondige nakomelinge nie. Die enigste mens wat dit gedoen het, was Jesus Christus (Hebreërs 4:15). Wat Jesus gedoen het, het bewys dat Adam, wat gunstiger omstandighede gehad het, volmaakte onkreukbaarheid kon gehandhaaf het as hy wou. Die fout het nie by God se skeppingswerk gelê nie. Jesus Christus is dus die voorbeeld wat ons wil navolg, nie net in gehoorsaamheid aan God se wet nie, maar ook in persoonlike toegewydheid aan Jehovah, die Universele Soewerein.—Deuteronomium 32:4, 5.
Wat is ons persoonlike antwoord?
16. Waarom moet ons voortdurend op ons hoede wees met betrekking tot ons gesindheid teenoor Jehovah se soewereiniteit?
16 Elkeen van ons is vandag betrokke by die geskil oor universele soewereiniteit. As ons openlik gesê het dat ons aan Jehovah se kant is, word ons ’n teiken vir Satan. Hy oefen van alle kante druk op ons uit en sal tot die einde van sy goddelose stelsel van dinge aanhou om dit te doen. Ons moenie ons waaksaamheid laat verslap nie (1 Petrus 5:8). Ons gedrag toon wat ons standpunt is met betrekking tot die allerbelangrikste geskil oor Jehovah se soewereiniteit en die sekondêre geskil oor onkreukbaarheid teenoor God tydens beproewing. Ons kan nie bekostig om dislojale gedrag as onbelangrik te beskou bloot omdat dit in die wêreld algemeen is nie. Onkreukbaarheid vereis dat ons Jehovah se regverdige weë in elke aspek van die lewe probeer toepas.
17. Wat omtrent die oorsprong van leuens en diefstal moet ons dit laat vermy?
17 Ons kan byvoorbeeld nie Satan navolg, wat “die vader van die leuen” is nie (Johannes 8:44). Ons moet in al ons handelinge eerlik wees. In Satan se stelsel is jongmense dikwels nie eerlik met hulle ouers nie. Maar jong Christene vermy dit, en sodoende bewys hulle dat Satan se aantyging dat God se volk hulle onkreukbaarheid tydens beproewing sal prysgee, vals is (Job 1:9-11; Spreuke 6:16-19). Dan is daar sakegebruike wat ’n mens eerder met “die vader van die leuen” as met die God van waarheid kan identifiseer. Ons vermy sulke gebruike (Miga 6:11, 12). Ook diefstal kan nooit geregverdig word nie, al is ’n mens arm of al is die een by wie gesteel word, ryk (Spreuke 6:30, 31; 1 Petrus 4:15). Al is dit ’n algemene gebruik waar ons woon, of al is dit iets kleins wat geneem word, diefstal is nog altyd in stryd met God se wette.—Lukas 16:10; Romeine 12:2; Efesiërs 4:28.
18. (a) Aan watter toets sal die hele mensdom aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy onderwerp word? (b) Watter gewoonte moet ons nou aankweek?
18 Gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus sal Satan en sy demone in die afgrond wees en nie die mensdom kan beïnvloed nie. Wat ’n verligting sal dit tog wees! Maar ná die duisend jaar sal hulle vir ’n kort rukkie losgelaat word. Satan en dié wat hom volg, sal druk uitoefen op diegene onder die herstelde mensdom wat hulle onkreukbaarheid teenoor God handhaaf (Openbaring 20:7-10). As ons die voorreg het om dan te lewe, hoe sal ons ten opsigte van die geskil oor universele soewereiniteit reageer? Aangesien die hele mensdom dan volmaak sal wees, sal enige dislojale daad moedswillig wees en tot ewige vernietiging lei. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons nou die gewoonte aankweek om positief te reageer op enige riglyne wat Jehovah ons gee, hetsy deur sy Woord of deur sy organisasie! As ons dit doen, toon ons ons ware toegewydheid aan hom as die Universele Soewerein.
Hersieningsbespreking
• Wat is die groot geskil waarby ons almal betrokke is? Hoe het ons daarby betrokke geraak?
• Wat is uitsonderlik omtrent die maniere waarop manne en vroue van ouds hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah bewys het?
• Waarom is dit noodsaaklik dat ons Jehovah elke dag deur ons gedrag eer?