Hoofstuk Nege
Die krag van die opstandingshoop
1. Watter vooruitsig sou daar sonder die opstandingshoop vir die dooies gewees het?
HET jy al geliefdes aan die dood afgestaan? Sonder die opstanding sou daar geen hoop gewees het om hulle ooit weer te sien nie. Hulle sou in die toestand gebly het wat die Bybel beskryf wanneer dit sê: “Wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks, . . . want daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool [die graf], die plek waarheen jy gaan nie.”—Prediker 9:5, 10.
2. Watter wonderlike vooruitsig word deur die opstanding moontlik gemaak?
2 Uit barmhartigheid het Jehovah, deur middel van die opstanding, tallose miljoene mense wat gesterf het, die kosbare geleentheid gebied om uit die dood terug te keer en ewige lewe te geniet. Dit beteken dat jy die hartverblydende hoop kan hê om eendag in God se nuwe wêreld weer verenig te word met geliefdes wat gesterf het.—Markus 5:35, 41, 42; Handelinge 9:36-41.
3. (a) Hoe speel die opstanding ’n belangrike rol in die vervulling van Jehovah se voorneme? (b) Veral wanneer is die opstandingshoop vir ons ’n bron van krag?
3 Danksy die opstanding hoef ons nie ’n morbiede vrees vir die dood te hê nie. Sonder dat sy getroue knegte blywende leed aangedoen word, kan Jehovah Satan toelaat om alles in sy vermoë te doen om sy kwaadwillige aantyging te probeer bewys, naamlik “alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel” (Job 2:4). Jesus was tot die dood toe getrou aan God, en daarom het God hom tot hemelse lewe opgewek. Jesus kon dus die waarde van sy volmaakte menseoffer voor sy Vader se hemelse troon aanbied, met lewensreddende voordele vir ons. Deur middel van die opstanding het die lede van die “klein kuddetjie”, as mede-erfgename met Christus, die hoop om in die hemelse Koninkryk met hom verenig te word (Lukas 12:32). Vir ander is daar die hoop op ’n opstanding tot ewige lewe op ’n paradysaarde (Psalm 37:11, 29). Die opstandingshoop is vir alle Christene ’n bron van krag “wat bo die normale is” wanneer hulle beproewinge ondergaan wat hulle van aangesig tot aangesig met die dood bring.—2 Korintiërs 4:7.
Waarom dit noodsaaklik is vir Christelike geloof
4. (a) In watter opsig is die opstanding ’n “grondleer”? (b) Wat beteken die opstanding vir die wêreld oor die algemeen?
4 Die opstanding is volgens Hebreërs 6:1, 2 ’n “grondleer”. Dit maak deel uit van die grondslag van die geloof waarsonder ons nooit ryp Christene kan word nie (1 Korintiërs 15:16-19). Maar die Bybel se opstandingsleer pas nie in by die wêreld se denkwyse oor die algemeen nie. Weens hulle gebrek aan geestelikheid is slegs hierdie lewe vir al hoe meer mense ’n werklikheid. Hulle lewe dus net vir genot. Dan is daar die aanhangers van tradisionele godsdienste—binne sowel as buite die Christendom—wat dink dat hulle ’n onsterflike siel het. Maar hierdie opvatting kan nie met die Bybel se opstandingsleer versoen word nie, aangesien ’n opstanding onnodig sou wees as mense ’n onsterflike siel het. As ’n mens probeer om hierdie twee begrippe met mekaar te versoen, het dit eerder verwarring as hoop tot gevolg. Hoe kan ons opregtes van hart help wat wil weet wat die waarheid is?
5. (a) Wat moet ’n persoon eers weet voordat hy die opstanding kan waardeer? (b) Watter tekste sal jy gebruik om te verduidelik wat die siel is? wat die toestand van die dooies is? (c) Wat kan gedoen word as iemand ’n Bybelvertaling gebruik wat die waarheid verberg?
5 Voordat hierdie persone kan besef wat ’n wonderlike voorsiening die opstanding is, moet hulle ’n juiste begrip van die siel en die toestand van die dooies hê. Dikwels is net ’n paar tekste genoeg om hierdie sake op te klaar vir iemand wat na Bybelwaarheid honger (Genesis 2:7; Psalm 146:3, 4; Esegiël 18:4). Maar party moderne vertalings en geparafraseerde weergawes van die Bybel verberg die waarheid omtrent die siel. Daarom sal dit dalk nodig wees om te kyk na die uitdrukkings wat in die Bybel se oorspronklike tale gebruik is.
6. Hoe kan jy iemand help om te verstaan wat die siel is?
6 Die Nuwe Wêreld-vertaling is veral nuttig hiervoor, want dit vertaal die Hebreeuse woord neʹfesj en die ooreenstemmende Griekse woord psu·kheʹ deurgaans as “siel”. In die aanhangsel van hierdie vertaling word baie tekste aangegee waar hierdie woorde gevind word. Baie ander Bybelvertalings is nie konsekwent nie, maar vertaal moontlik dieselfde oorspronklike woord nie net as “siel” nie, maar ook as “skepsel”, “wese”, “persoon” en “lewe”; “my neʹfesj” word moontlik vertaal as “ek” en “jou neʹfesj” as “jy”. As ander Bybelvertalings met die Nuwe Wêreld-vertaling vergelyk word, sal dit ’n opregte student help om te besef dat die woorde in die oorspronklike tale wat as “siel” vertaal word, na mense sowel as diere verwys. Maar hierdie woorde dra nooit die gedagte oor dat ’n siel iets onsigbaars of ontasbaars is wat by die dood uit die liggaam kan ontsnap en êrens ’n bewuste bestaan kan voer nie.
7. Hoe sal jy uit die Bybel verduidelik wat die toestand is van dié in Sjeool? in Hades? in Gehenna?
7 Die Nuwe Wêreld-vertaling gebruik ook deurgaans die woord “Sjeool” om die Hebreeuse woord sjeʼoolʹ te translitereer, “Hades” vir die Griekse woord haiʹdes en “Gehenna” vir die Griekse woord geʹen·na. “Sjeool” is die ekwivalent van die woord “Hades” (Psalm 16:10; Handelinge 2:27). Die Bybel maak dit duidelik dat Sjeool sowel as Hades na die mensdom se gemeenskaplike graf verwys en met die dood geassosieer word, nie met die lewe nie (Psalm 89:48; Openbaring 20:13). Die Skrif wys ook op die vooruitsig om deur middel van ’n opstanding uit die gemeenskaplike graf terug te keer (Job 14:13; Handelinge 2:31). Daarenteen word diegene wat na Gehenna gaan, geen hoop op toekomstige lewe gebied nie, en daar word nooit gesê dat die siel daar ’n bewuste bestaan voer nie.—Matteus 10:28.
8. Hoe kan ’n behoorlike begrip van die opstanding ’n persoon se gesindheid en dade beïnvloed?
8 Wanneer hierdie sake opgeklaar is, kan ’n persoon gehelp word om te verstaan wat die opstanding vir hom kan beteken. Hy kan ’n idee begin kry van die liefde wat Jehovah geopenbaar het deur so ’n wonderlike voorsiening te maak. Die droefheid van diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het, kan versag word deur die vreugdevolle vooruitsig van ’n hereniging in God se nuwe wêreld. ’n Begrip van hierdie sake is ook onontbeerlik om die betekenis van Christus se dood te verstaan. Eerste-eeuse Christene het besef dat die opstanding van Jesus Christus noodsaaklik is vir die Christelike geloof en dat dit die opstanding van ander moontlik maak. Hulle het ywerig getuig van Jesus se opstanding en die hoop wat dit bied. Net so is diegene wat vandag die opstanding waardeer, gretig om ander van hierdie kosbare waarheid te vertel.—Handelinge 5:30-32; 10:42, 43.
Die gebruik van ‘die sleutel van Hades’
9. Hoe gebruik Jesus eers “die sleutels van die dood en van Hades”?
9 Almal wat saam met Christus in sy hemelse Koninkryk gaan wees, moet uiteindelik sterf. Maar hulle is alte bewus van die versekering wat hy gegee het toe hy gesê het: “Ek het doodgegaan, maar kyk! ek lewe vir ewig en altyd, en ek het die sleutels van die dood en van Hades” (Openbaring 1:18). Wat het hy bedoel? Hy het die aandag op sy eie ondervinding gevestig. Hy het ook gesterf. Maar God het hom nie in Hades gelaat nie. Op die derde dag het Jehovah hom tot geeslewe opgewek en aan hom onsterflikheid gegee (Handelinge 2:32, 33; 10:40). Daarbenewens het God aan hom “die sleutels van die dood en van Hades” gegee sodat hy dit kon gebruik om ander te bevry uit die mensdom se gemeenskaplike graf en van die gevolge van Adamitiese sonde. Omdat Jesus hierdie sleutels besit, kan hy sy getroue volgelinge uit die dode opwek. Hy wek eers die geesgesalfde lede van sy gemeente op en gee aan hulle die kosbare gawe van onsterflike lewe in die hemel, net soos sy Vader dit aan hom gegee het.—Romeine 6:5; Filippense 3:20, 21.
10. Wanneer vind die opstanding van getroue gesalfde Christene plaas?
10 Wanneer sou getroue gesalfde Christene hierdie hemelse opstanding kry? Die Bybel toon dat dit reeds begin het. Die apostel Paulus het verduidelik dat hulle ‘gedurende Christus se teenwoordigheid’ opgewek sou word, en hierdie teenwoordigheid het in die jaar 1914 begin (1 Korintiërs 15:23). Wanneer gesalfde getroues nou, gedurende sy teenwoordigheid, hulle aardse loopbaan voltooi, hoef hulle nie tot die wederkoms van hulle Here dood te bly nie. Sodra hulle sterf, word hulle in die gees opgewek deurdat hulle “verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink”. Watter vreugde ervaar hulle tog, want hulle werke “gaan met hulle saam”!—1 Korintiërs 15:51, 52; Openbaring 14:13.
11. Watter opstanding sal daar vir mense in die algemeen wees, en wanneer sal dit begin?
11 Maar die opstanding van Koninkrykserfgename tot hemelse lewe is nie die enigste opstanding nie. Die feit dat dit in Openbaring 20:6 “die eerste opstanding” genoem word, toon dat nog ’n opstanding moet volg. Diegene wat by hierdie latere opstanding baat vind, sal die vreugdevolle vooruitsig op ewige lewe op ’n paradysaarde hê. Wanneer sal dit plaasvind? Die boek Openbaring toon dat dit sal wees nadat “die aarde en die hemel”—die teenswoordige goddelose stelsel van dinge, met sy regeringsowerhede—verwyder is. Daardie einde van die ou stelsel is baie naby. Daarna sal die aardse opstanding op God se vasgestelde tyd begin.—Openbaring 20:11, 12.
12. Wie sal ingesluit word onder die getroues wat tot lewe op aarde opgewek word, en waarom is dit ’n opwindende vooruitsig?
12 Wie sal by hierdie aardse opstanding ingesluit word? Onder hulle sal getroue knegte van Jehovah uit die vroegste tye wees, manne en vroue wat weens hulle sterk geloof in die opstanding “nie bevryding deur die een of ander losprys wou aanvaar nie”. Dit wil sê, hulle het nie hulle onkreukbaarheid teenoor God prysgegee om ’n gewelddadige, ontydige dood vry te spring nie. Hoe wonderlik sal dit tog wees om hulle persoonlik te leer ken en die besonderhede oor gebeure wat die Bybel net kortliks meld, eerstehands by hulle te hoor! Onder dié wat ook tot aardse lewe opgewek sal word, is Abel, die eerste getroue getuie van Jehovah; Henog en Noag, onbevreesde verkondigers van God se waarskuwingsboodskap voor die Vloed; Abraham en Sara, wat engele onthaal het; Moses, deur wie die Wet by die berg Sinai gegee is; moedige profete soos Jeremia, wat die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. gesien het; en Johannes die Doper, wat gehoor het hoe God Jesus as Sy Seun identifiseer. Daarbenewens sal daar baie lojale manne en vroue wees wat gedurende hierdie laaste dae van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge gesterf het.—Hebreërs 11:4-38; Matteus 11:11.
13, 14. (a) Wat sal met Hades en die dooies daarin gebeur? (b) Wie sal by die opstanding ingesluit word, en waarom?
13 Benewens getroue knegte van God sal daar met verloop van tyd ook ander uit die dode opgewek word, sodat niemand in die gemeenskaplike graf van die mensdom oorbly nie. Die mate waarin daardie graf van sy dooies leeggemaak word, kan gesien word aan hoe Jesus die ‘sleutel van Hades’ ten behoewe van die mensdom sal gebruik. Dit word getoon in ’n visioen wat aan die apostel Johannes gegee is, waarin hy gesien het dat Hades “in die poel van vuur geslinger” word (Openbaring 20:14). Wat beteken dit? Dit beteken dat Hades, die gemeenskaplike graf van die mensdom, heeltemal vernietig word. Dit hou op bestaan, aangesien dit heeltemal van sy dooies leeggemaak is, want Jesus sal nie net al die getroue aanbidders van Jehovah opwek nie, maar hy sal uit barmhartigheid selfs ook die onregverdiges terugbring. God se Woord verseker ons: “Daar [sal] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees.”—Handelinge 24:15.
14 Nie een van hierdie onregverdiges word opgewek om maar net weer tot die dood veroordeel te word nie. In die regverdige milieu wat aardwyd onder God se Koninkryk sal heers, sal hulle gehelp word om hulle lewe met Jehovah se weë in ooreenstemming te bring. Die visioen het getoon dat “die boekrol van die lewe” oopgemaak sal word. Hulle sal derhalwe die geleentheid hê om hulle name daarin te laat skryf. ‘Elkeen van hulle sal geoordeel word volgens hulle dade’ wat hulle ná hulle opstanding verrig het (Openbaring 20:12, 13). As dit dus vanuit die oogpunt van die eindresultaat beskou word, kan hulle opstanding “’n opstanding van die lewe” wees en sal dit nie noodwendig “’n opstanding van oordeel” wees nie.—Johannes 5:28, 29.
15. (a) Wie sal nie opgewek word nie? (b) Hoe moet kennis van die waarheid omtrent die opstanding ons raak?
15 Maar nie almal wat al ooit gelewe en gesterf het, sal opgewek word nie. Party het sondes gepleeg waarvoor geen vergifnis moontlik is nie. Hulle is nie in Hades nie maar in Gehenna, waar hulle ewige vernietiging ondergaan. Onder hulle sal ook diegene wees wat tereggestel is in die “groot verdrukking”, wat nou naby is (Matteus 12:31, 32; 23:33; 24:21, 22; 25:41, 46; 2 Tessalonisense 1:6-9). Hoewel Jehovah buitengewone barmhartigheid bewys deur die dooies uit Hades te bevry, gee die opstandingshoop ons dus geen rede om ongeërg te wees oor hoe ons nou lewe nie. Geen opstanding is moontlik vir diegene wat opsetlik teen Jehovah se soewereiniteit in opstand kom nie. Hierdie kennis behoort ons te beweeg om te toon dat ons groot waardering vir die onverdiende goedhartigheid van God het deur ons lewe in ooreenstemming met sy wil te lei.
Versterk deur die opstandingshoop
16. Hoe kan die opstandingshoop ons grootliks versterk?
16 Dié van ons wat werklik in die opstandingshoop glo, kan grootliks daardeur versterk word. Ons weet dat ons vandag nie die dood onbepaald kan uitstel wanneer ons die einde van ons lewe nader nie—ongeag watter mediese prosedures gebruik word (Prediker 8:8). As ons Jehovah lojaal saam met sy organisasie gedien het, kan ons met volle vertroue na die toekoms uitsien. Ons weet dat ons op God se bestemde tyd deur middel van die opstanding weer sal lewe. En wat ’n wonderlike lewe sal dit tog wees! “Die werklike lewe”, soos die apostel Paulus dit genoem het.—1 Timoteus 6:19; Hebreërs 6:10-12.
17. Wat kan ons help om ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf?
17 Omdat ons weet dat daar ’n opstanding is en die Een ken wat die bron van hierdie voorsiening is, kan ons sterk geloof hê. Dit versterk ons om lojaal aan God te wees selfs wanneer gewelddadige vervolgers ons met die dood dreig. Satan gebruik al lank die vrees vir ’n ontydige dood as ’n manier om mense in slawerny te hou. Maar Jesus het nie sulke vrees gekoester nie. Hy het tot die dood toe aan Jehovah getrou gebly. Deur sy losprysoffer het Jesus dit moontlik gemaak dat ander van sulke vrees bevry kan word.—Hebreërs 2:14, 15.
18. Wat het Jehovah se knegte gehelp om so ’n uitsonderlike reputasie van onkreukbaarheid op te bou?
18 Jehovah se knegte het ’n uitsonderlike reputasie as handhawers van onkreukbaarheid opgebou as gevolg van hulle geloof in die voorsiening van Christus se offerande sowel as in die opstanding. Wanneer druk op hulle uitgeoefen is, het hulle bewys dat ‘hulle hulle eie siel nie liewer gehad het’ as Jehovah nie (Openbaring 12:11). Hulle is verstandig en gee nie Christelike beginsels prys in ’n poging om hulle huidige lewe te red nie (Lukas 9:24, 25). Hulle weet dat Jehovah hulle deur middel van die opstanding sal beloon, selfs al verloor hulle nou hulle lewe omdat hulle sy soewereiniteit lojaal ondersteun. Het jy sulke geloof? Jy sal dit hê as jy Jehovah werklik liefhet en die ware betekenis van die opstandingshoop ter harte neem.
Hersieningsbespreking
• Waarom moet ’n mens weet wat die siel en die toestand van die dooies is voordat jy die opstanding kan waardeer?
• Wie sal uit die dood terugkeer, en hoe moet hierdie kennis ons raak?
• Hoe versterk die opstandingshoop ons?
[Prent op bladsy 84, 85]
Jehovah beloof dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees