Hoofstuk Twaalf
Die betekenis van jou doop
1. Waarom moet waterdoop vir elkeen van ons van persoonlike belang wees?
IN DIE jaar 29 G.J. is Jesus gedoop toe Johannes die Doper hom in die Jordaanrivier ondergedompel het. Jehovah het toegekyk en sy goedkeuring uitgespreek (Matteus 3:16, 17). So het Jesus ’n voorbeeld gestel wat al sy dissipels sou volg. Drie en ’n half jaar later het Jesus hierdie instruksies aan sy dissipels gegee: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee. Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” (Matteus 28:18, 19). Is jy gedoop in ooreenstemming met wat Jesus hier beveel het? Indien nie, berei jy jou voor om gedoop te word?
2. Watter vrae in verband met doop moet beantwoord word?
2 Hoe dit ook al sy, ’n duidelike begrip van doop is belangrik vir almal wat Jehovah wil dien en in sy regverdige nuwe wêreld wil lewe. Vrae wat ’n antwoord verdien, sluit die volgende in: Het Christelike doop vandag dieselfde betekenis as Jesus se doop? Wat beteken dit om “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop te word? Wat behels dit om in ooreenstemming met die betekenis van Christelike waterdoop te lewe?
Die doop van Johannes
3. Tot wie was Johannes se doop beperk?
3 Omtrent ses maande voordat Jesus gedoop is, het Johannes die Doper in die wildernis van Judea gepreek en gesê: “Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 3:1, 2). Mense het gehoor wat Johannes gesê het en dit ter harte geneem. Hulle het hulle sondes openlik bely, berou daaroor getoon en toe na Johannes gekom om in die Jordaanrivier deur hom gedoop te word. Daardie doop was vir die Jode.—Lukas 1:13-16; Handelinge 13:23, 24.
4. Waarom was dit noodsaaklik dat die eerste-eeuse Jode berou toon?
4 Dit was noodsaaklik dat daardie Jode berou toon. In die jaar 1513 v.G.J. het hulle voorvaders by die berg Sinai ’n volksverbond—’n formele, plegtige ooreenkoms—met Jehovah God gesluit. Maar weens hulle ernstige sondes het hulle nie hulle verantwoordelikhede onder daardie verbond nagekom nie, en hulle is gevolglik daardeur veroordeel. Teen Jesus se dag was hulle situasie kritiek. “Die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” wat deur Maleagi voorspel is, was naby. In 70 G.J. het daardie “dag” aangebreek toe Romeinse leërs Jerusalem en sy tempel vernietig het en meer as ’n miljoen Jode om die lewe gebring het. Voor daardie vernietiging is Johannes die Doper, met ywer vir ware aanbidding, gestuur “om vir Jehovah ’n voorbereide volk gereed te maak”. Hulle moes berou toon oor hulle sondes teen die Mosaïese Wetsverbond en bereid wees om die Seun van God, Jesus, wat Jehovah na hulle toe sou stuur, aan te neem.—Maleagi 4:4-6; Lukas 1:17; Handelinge 19:4.
5. (a) Waarom wou Johannes Jesus nie doop nie? (b) Wat het Jesus se doop gesimboliseer?
5 Jesus was onder dié wat na Johannes toe gekom het om gedoop te word. Maar waarom? Johannes het geweet dat Jesus geen sondes het om te bely nie, en daarom het hy gesê: “Dit is ek wat deur u gedoop moet word, en kom u na my toe?” Maar Jesus se doop sou iets anders simboliseer. Daarom het Jesus geantwoord: “Laat dit hierdie keer so wees, want só is dit gepas vir ons om alles wat regverdig is, te volbring” (Matteus 3:13-15). Omdat Jesus sonder sonde was, het sy doop nie berou oor sonde gesimboliseer nie, en dit was ook nie vir hom nodig om hom aan God toe te wy nie, aangesien hy ’n lid was van ’n nasie wat reeds aan Jehovah toegewy was. Sy doop op die ouderdom van 30 was eerder uniek aan hom en het gesimboliseer dat hy hom aan sy hemelse Vader aanbied om Sy verdere wil te doen.
6. Hoe ernstig was Jesus daaroor om God se wil vir hom te doen?
6 God se wil vir Christus Jesus het werk in verband met die Koninkryk ingesluit (Lukas 8:1). Dit het ook die opoffering van sy volmaakte menselewe as ’n losprys en as die grondslag vir ’n nuwe verbond ingesluit (Matteus 20:28; 26:26-28; Hebreërs 10:5-10). Jesus het dit wat sy waterdoop gesimboliseer het, baie ernstig opgeneem. Hy het nie toegelaat dat sy aandag deur ander belange afgelei word nie. Tot aan die einde van sy aardse lewe het hy God se wil bly doen en die verkondiging van God se Koninkryk sy vernaamste werk gemaak.—Johannes 4:34.
Die waterdoop van Christendissipels
7. Wat is Christene sedert Pinkster 33 G.J. aangesê om in verband met doop te doen?
7 Jesus se eerste dissipels is deur Johannes in water gedoop en toe na Jesus gestuur as toekomstige lede van die Koninkryk van die hemel (Johannes 3:25-30). Onder Jesus se leiding het hierdie dissipels ook mense gedoop, en dit het dieselfde betekenis as die doop van Johannes gehad (Johannes 4:1, 2). Maar van Pinkster 33 G.J. af het hulle die opdrag begin uitvoer om “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” te doop (Matteus 28:19). Jy sal dit baie nuttig vind om te hersien wat dit beteken.
8. Wat beteken dit om “in die naam van die Vader” gedoop te word?
8 Wat beteken dit om “in die naam van die Vader” gedoop te word? Dit beteken dat ’n mens sy naam, posisie, gesag, voorneme en wette aanvaar. Kyk wat dit behels. (1) Oor sy naam sê Psalm 83:18: “U, wie se naam Jehovah is, u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.” (2) Oor sy posisie sê 2 Konings 19:15: “O Jehovah . . . , u alleen is die ware God.” (3) Oor sy gesag sê Openbaring 4:11 vir ons: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.” (4) Ons moet ook erken dat Jehovah die Lewegewer is, wie se voorneme dit is om ons van sonde en die dood te red: “Redding behoort aan Jehovah” (Psalm 3:8; 36:9). (5) Ons moet aanvaar dat Jehovah die Allerhoogste Wetgewer is: “Jehovah is ons Regter, Jehovah is ons Wetgewer, Jehovah is ons Koning” (Jesaja 33:22). Omdat hy al hierdie dinge is, word ons aangespoor: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”—Matteus 22:37.
9. Wat beteken dit om “in die naam . . . van die Seun” gedoop te word?
9 Wat beteken doop “in die naam . . . van die Seun”? Dit beteken dat ’n mens die naam, posisie en gesag van Jesus Christus erken. Sy naam, Jesus, beteken “Jehovah is Redding”. Sy posisie spruit voort uit die feit dat hy God se enigverwekte Seun is, die eerste van God se skeppingswerke (Matteus 16:16; Kolossense 1:15, 16). Van hierdie Seun sê Johannes 3:16 vir ons: “God het die wêreld [van loskoopbare mense] so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” Omdat Jesus getrou gesterf het, het God hom uit die dode opgewek en hom nuwe gesag gegee. Volgens die apostel Paulus het God Jesus “tot ’n hoër posisie verhef” in die heelal, slegs ondergeskik aan Jehovah. Daarom sal ‘elke knie in die naam van Jesus buig en sal elke tong openlik erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader’ (Filippense 2:9-11). Dit beteken dat Jesus se gebooie, wat van Jehovah af kom, gehoorsaam moet word.—Johannes 15:10.
10. Wat beteken dit om “in die naam . . . van die heilige gees” gedoop te word?
10 Wat beteken dit om “in die naam . . . van die heilige gees” gedoop te word? Dit beteken dat ’n mens die rol en werking van die heilige gees erken. En wat is die heilige gees? Dit is Jehovah se werkende krag, waardeur hy sy voornemens verwesenlik. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Ek sal die Vader versoek, en hy sal julle ’n ander helper gee om vir ewig by julle te wees, die gees van die waarheid” (Johannes 14:16, 17). Wat sou dit hulle in staat stel om te doen? Jesus het verder vir hulle gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Deur middel van die heilige gees het Jehovah ook die opskrifstelling van die Bybel geïnspireer: “Profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is” (2 Petrus 1:21). Ons erken dus die rol van die heilige gees wanneer ons die Bybel bestudeer. Nog ’n manier waarop ons die heilige gees erken, is deur Jehovah te vra om ons te help om “die vrugte van die gees”, dit wil sê “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”, voort te bring.—Galasiërs 5:22, 23.
11. (a) Wat is die ware betekenis van doop in ons dag? (b) In watter opsig is doop soos om te sterf en opgewek te word?
11 Die eerste mense wat in ooreenstemming met Jesus se instruksies gedoop is, was Jode en Joodse proseliete, van 33 G.J. af. Kort daarna is die voorreg van Christendissipelskap aan die Samaritane gebied. Toe, in 36 G.J., is die uitnodiging uitgebrei om onbesnede nie-Jode in te sluit. Voordat die Samaritane en nie-Jode gedoop kon word, moes hulle hulle persoonlik aan Jehovah toewy om hom as dissipels van sy Seun te dien. Dit is vandag nog die betekenis van Christelike waterdoop. Algehele onderdompeling in water is ’n gepaste simbool van hierdie persoonlike toewyding, aangesien doop in simboliese sin ’n begrawing is. Wanneer jy onder die doopwater ingaan, stel dit voor dat jy sterf ten opsigte van jou vorige lewenswyse. Wanneer jy uit die water opgelig word, simboliseer dit dat jy lewend gemaak word om God se wil te doen. Hierdie “een doop” geld vir almal wat ware Christene word. By hulle doop word hulle Christengetuies van Jehovah, God se geordende bedienaars.—Efesiërs 4:5; 2 Korintiërs 6:3, 4.
12. Waarmee kom Christelike doop ooreen, en hoe?
12 Hierdie doop het groot reddingswaarde in die oë van God. Byvoorbeeld, nadat die apostel Petrus gemeld het dat Noag die ark gebou het, waarin hy en sy gesin deur die Vloed heen behoue gebly het, het hy geskryf: “Wat hiermee ooreenkom, red julle ook nou, naamlik die doop (nie die wegdoening van die vuilheid van die vlees nie, maar die versoek tot God om ’n goeie gewete), deur die opstanding van Jesus Christus” (1 Petrus 3:21). Die ark was ’n tasbare bewys dat Noag die werk wat God hom gegee het, getrou gedoen het. Nadat die werk aan die ark voltooi is, “is die wêreld van daardie tyd vernietig toe dit met water oorstroom is” (2 Petrus 3:6). Maar Noag en sy gesin, “agt siele, [is] veilig deur die water heen gevoer”.—1 Petrus 3:20.
13. Waaruit word ’n Christen deur waterdoop gered?
13 Vandag word diegene wat hulle op grond van geloof in die verrese Christus aan Jehovah toewy, as ’n simbool van hierdie toewyding gedoop. Hulle doen dan God se wil vir ons dag en word uit die teenswoordige goddelose wêreld gered (Galasiërs 1:3, 4). Hulle stuur nie meer saam met die teenswoordige goddelose stelsel van dinge op vernietiging af nie. Hulle word hiervan gered en ontvang ’n goeie gewete van God. Die apostel Johannes verseker God se knegte: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.
Die nakoming van ons verantwoordelikhede
14. Waarom is doop op sigself nie ’n waarborg van redding nie?
14 Dit sou verkeerd wees om te dink dat doop op sigself ’n waarborg van redding is. Dit het net waarde as ’n mens jou waarlik deur Jesus Christus aan Jehovah toewy en daarna God se wil doen en tot die einde toe getrou bly. “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—Matteus 24:13.
15. (a) Wat is vandag God se wil vir gedoopte Christene? (b) Hoe belangrik moet Christendissipelskap in ons lewe wees?
15 God se wil vir Jesus het die manier ingesluit waarop hy sy lewe as ’n mens gebruik het. Dit moes as ’n offerande in die dood afgelê word. In ons geval moet ons liggaam vir God aangebied word, en ons moet ’n selfopofferende lewe lei deur God se wil te doen (Romeine 12:1, 2). Ons sou beslis nie God se wil doen as ons ons, selfs nou en dan, opsetlik soos die wêreld om ons gedra of as ons ons lewe om selfsugtige strewes bou en slegs vormdiens aan God verrig nie (1 Petrus 4:1-3; 1 Johannes 2:15, 16). Toe ’n sekere Jood gevra het wat hy moet doen om die ewige lewe te kry, het Jesus erken dat dit belangrik is om ’n sedelik rein lewe te lei. Maar toe het hy iets genoem wat selfs belangriker is: dat ’n mens ’n Christendissipel, ’n volgeling van Jesus, moet wees. Dit moet die hoofsaak in die lewe wees. Dit kan nie ondergeskik aan materiële strewes wees nie.—Matteus 19:16-21.
16. (a) Watter verantwoordelikheid het alle Christene in verband met die Koninkryk? (b) Wat is ’n paar doeltreffende maniere waarop die Koninkrykswerk gedoen kan word, soos geïllustreer op bladsye 116 en 117? (c) Waarvan getuig ons heelhartige deelname aan die getuieniswerk?
16 Dit moet weer beklemtoon word dat God se wil vir Jesus lewensbelangrike werk in verband met God se Koninkryk ingesluit het. Jesus is gesalf om Koning te wees. Maar terwyl hy op die aarde was, het hy ook ywerig omtrent die Koninkryk getuig. Ons het ’n soortgelyke getuieniswerk om te doen, en ons het alle rede om heelhartig daaraan deel te neem. Sodoende toon ons ons waardering vir Jehovah se soewereiniteit sowel as ons liefde vir ons medemens (Matteus 22:36-40). Ons toon ook dat ons in eenheid is met medegelowiges regoor die wêreld, wat almal Koninkryksverkondigers is. Saam, in wêreldwye eenheid, streef ons die ewige lewe in die aardse ryk van hierdie Koninkryk as doelwit na.
Hersieningsbespreking
• Watter ooreenkomste en watter verskille is daar tussen Jesus se doop en hedendaagse waterdoop?
• Wat beteken dit om “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop te word?
• Wat behels dit om die verantwoordelikhede van Christelike waterdoop na te kom?
[Prente op bladsy 116, 117]
MANIERE OM DIE KONINKRYK TE VERKONDIG
Van huis tot huis
Aan familielede
Aan werksmaats
Aan skoolmaats
Op straat
Deur terug te gaan na belangstellendes
By tuisbybelstudies