Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • wt hfst. 18 bl. 159-166
  • “Hulle is geen deel van die wêreld nie”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Hulle is geen deel van die wêreld nie”
  • Aanbid die enigste ware God
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”
  • Dissipels volg Jesus se leiding
  • Neutrale Christene in hierdie laaste dae
  • Neutrale Christene in die laaste dae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Moet godsdiens by die politiek betrokke raak?
    Nog onderwerpe
  • “Hulle is geen deel van die wêreld nie”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Waarom bly Jehovah se Getuies polities neutraal?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
Sien nog
Aanbid die enigste ware God
wt hfst. 18 bl. 159-166

Hoofstuk Agtien

“Hulle is geen deel van die wêreld nie”

1. (a) Wat het Jesus voor sy dood ten behoewe van sy dissipels gebid? (b) Waarom is dit so belangrik om “geen deel van die wêreld” te wees nie?

DIE aand voordat Jesus doodgemaak is, het hy ten behoewe van sy dissipels gebid. Omdat Jesus geweet het dat Satan hulle onder geweldige druk sou plaas, het hy vir sy Vader gesê: “Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:15, 16). Waarom is dit so belangrik om afgeskeie van die wêreld te wees? Omdat Satan die heerser van hierdie wêreld is. Christene sal nie ’n deel wil word van ’n wêreld wat onder sy beheer is nie.—Lukas 4:5-8; Johannes 14:30; 1 Johannes 5:19.

2. Hoe was Jesus geen deel van die wêreld nie?

2 Die feit dat Jesus geen deel van die wêreld was nie, het nie beteken dat hy ander nie liefgehad het nie. Inteendeel, hy het die siekes genees, die dooies opgewek en mense van God se Koninkryk geleer. Hy het selfs sy lewe vir die mensdom afgelê. Maar hy het nie die goddelose gesindhede en dade liefgehad van dié wat die gees van Satan se wêreld geopenbaar het nie. Hy het dus gewaarsku teen dinge soos onsedelike begeertes, ’n materialistiese lewenswyse en ’n strewe na vernaamheid (Matteus 5:27, 28; 6:19-21; Lukas 20:46, 47). Dit is derhalwe nie verbasend dat Jesus ook die wêreld se politiek vermy het nie. Hoewel hy ’n Jood was, het hy nie kant gekies in die politieke geskille tussen Rome en die Jode nie.

“My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”

3. (a) Waarvan het die Joodse godsdiensleiers Jesus voor Pilatus beskuldig, en waarom? (b) Wat toon dat Jesus glad nie daarin belanggestel het om ’n mensekoning te word nie?

3 Dink aan wat gebeur het toe die Joodse godsdiensleiers Jesus in hegtenis laat neem het en hom na Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur, laat bring het. Daardie leiers was in werklikheid ontsteld omdat Jesus hulle huigelary blootgelê het. Om die goewerneur so ver te kry om teen Jesus op te tree, het hulle hom beskuldig en gesê: “Ons het gevind dat hierdie man ons nasie ondermyn en die betaling van belasting aan die keiser verbied en sê dat hy self Christus, ’n koning, is” (Lukas 23:2). Dit was onteenseglik ’n leuen, want toe die volk Jesus ’n jaar tevore koning wou maak, het hy geweier (Johannes 6:15). Hy het geweet dat hy in die toekoms ’n hemelse Koning sou wees (Lukas 19:11, 12). En hy sou nie deur mense op die troon geplaas word nie, maar deur Jehovah.

4. Wat was Jesus se gesindheid teenoor die betaling van belasting?

4 Net drie dae voordat Jesus in hegtenis geneem is, het die Fariseërs hom probeer kry om iets inkriminerends oor die kwessie van belastingbetaling te sê. Maar hy het gesê: “Wys my ’n denarius [’n Romeinse muntstuk]. Wie se beeld en opskrif het dit?” Toe hulle sê: “Die keiser s’n”, het hy geantwoord: “Betaal dan alte seker aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.”—Lukas 20:20-25.

5. (a) Watter les het Jesus sy dissipels geleer toe hy in hegtenis geneem is? (b) Hoe het Jesus die rede vir sy optrede verduidelik? (c) Wat was die uitslag van daardie verhoor?

5 Nee, Jesus het die mense nie geleer om teen die sekulêre owerheid in opstand te kom nie. Toe soldate en ander manne gekom het om Jesus in hegtenis te neem, het Petrus ’n swaard uitgetrek en een van die manne geslaan en sy oor afgekap. Maar Jesus het gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:51, 52). Die volgende dag het Jesus sy optrede aan Pilatus verduidelik en gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie” (Johannes 18:36). Pilatus het erken dat daar ‘geen grond vir die aanklagte’ teen Jesus was nie. Maar hy het voor die druk van die gepeupel geswig en Jesus aan die paal laat nael.—Lukas 23:13-15; Johannes 19:12-16.

Dissipels volg Jesus se leiding

6. Hoe het die vroeë Christene getoon dat hulle die gees van die wêreld vermy maar mense liefhet?

6 Jesus se dissipels het dus verstaan wat dit vereis het om geen deel van die wêreld te wees nie. Dit het beteken dat hulle die goddelose gees en dade van die wêreld moes vermy, wat die gewelddadige en onsedelike vermaak van die Romeinse arena en teater ingesluit het. As gevolg hiervan is die dissipels haters van die mensdom genoem. Maar hulle het nie hulle medemens gehaat nie, inteendeel, hulle het hulle ingespan om ander te help om by God se voorsienings vir redding baat te vind.

7. (a) Wat het die vroeë dissipels ondervind omdat hulle geen deel van die wêreld was nie? (b) Hoe het hulle die politieke heersers en die betaling van belasting beskou, en waarom?

7 Soos Jesus is sy volgelinge ook vervolg, dikwels deur regeringsamptenare wat verkeerd ingelig is. Maar omstreeks 56 G.J. het die apostel Paulus aan Christene in Rome geskryf en hulle aangespoor om “onderdanig [te] wees aan die hoër owerhede [politieke heersers], want daar is geen gesag behalwe deur God nie”. Nie dat Jehovah sekulêre regerings tot stand bring nie, maar hy laat hulle toe om te bestaan totdat sy Koninkryk alleen oor die hele aarde heers. Paulus het Christene gepas aangeraai om sekulêre amptenare te respekteer en belasting te betaal.—Romeine 13:1-7; Titus 3:1, 2.

8. (a) In watter mate moet Christene aan die hoër owerhede onderdanig wees? (b) Hoe het die vroeë Christene Jesus se voorbeeld gevolg?

8 Maar onderdanigheid aan politieke heersers moet relatief wees, nie onbeperk nie. Wanneer die mens se wette met Jehovah se wette bots, moet diegene wat Jehovah dien, Sy wette gehoorsaam. Let op wat die boek On the Road to Civilization—A World History van die vroeë Christene sê: “Christene het geweier om sekere pligte van Romeinse burgers na te kom. Die Christene het . . . gevoel dat dit ’n skending van hulle geloof is om militêre diens te doen. Hulle het geen politieke amp beklee nie. Hulle het nie die keiser aanbid nie.” Toe die Joodse Hoë Raad die dissipels “uitdruklik beveel” het om op te hou preek, het hulle geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:27-29.

9. (a) Wat was die rede vir die Christene in Jerusalem se optrede in 66 G.J.? (b) In watter opsig is dit ’n waardevolle voorbeeld?

9 Die dissipels het streng neutraliteit ten opsigte van politieke en militêre geskille gehandhaaf. In 66 G.J. het die Jode in Judea teen die keiser in opstand gekom. Die Romeinse leër het Jerusalem gou omsingel. Wat het die Christene in die stad gedoen? Hulle het Jesus se raad om uit die stad pad te gee, onthou. Toe die Romeine tydelik teruggetrek het, het die Christene oor die Jordaanrivier na die bergstreek van Pella gevlug (Lukas 21:20-24). Hulle neutraliteit dien as voorbeeld vir getroue Christene van latere tye.

Neutrale Christene in hierdie laaste dae

10. (a) Met watter werk bly Jehovah se Getuies besig, en waarom? (b) Ten opsigte waarvan bly hulle neutraal?

10 Toon die geskiedkundige verslag dat daar in hierdie laaste dae ’n groep is wat in navolging van die vroeë Christene streng neutraliteit handhaaf? Ja, Jehovah se Getuies doen dit. Hulle het gedurende hierdie hele tydperk aanhou verkondig dat God se Koninkryk die enigste middel is waardeur blywende vrede, voorspoed en geluk vir liefhebbers van regverdigheid gebring kan word (Matteus 24:14). Maar hulle het streng neutraliteit ten opsigte van die geskille tussen die nasies gehandhaaf.

11. (a) Hoe vorm die neutraliteit van die Getuies ’n teenstelling met die gebruike van die geestelikes? (b) Wat is Jehovah se Getuies se beskouing oor wat ander met betrekking tot die politiek doen?

11 In skerp teenstelling hiermee is die geestelikes van hierdie wêreld se godsdienste baie betrokke by politieke aangeleenthede. In party lande het hulle veldtogte vir of teen kandidate gevoer. Party geestelikes beklee selfs ’n politieke amp. Ander het druk op politici uitgeoefen om programme te steun wat deur die geestelikes goedgekeur word. Maar Jehovah se Getuies bemoei hulle nie met die politiek nie. Hulle probeer ander ook nie keer as hulle by ’n politieke party wil aansluit, hulle as kandidaat wil stel of in verkiesings wil stem nie. Jesus het gesê dat sy dissipels geen deel van die wêreld sou wees nie, en daarom neem Jehovah se Getuies glad nie aan die politiek deel nie.

12. Wat is die gevolg omdat die godsdienste van hierdie wêreld nie neutraal is nie?

12 Soos Jesus voorspel het, het nasies herhaaldelik oorlog gemaak. Selfs faksies in nasies het teen mekaar geveg (Matteus 24:3, 6, 7). Die godsdiensleiers het feitlik altyd die een nasie of faksie teen die ander ondersteun en hulle volgelinge aangespoor om dieselfde te doen. Met watter gevolg? Lidmate van dieselfde godsdiens maak mekaar in die stryd dood bloot omdat hulle van verskillende nasionaliteite of stamme is. Dit is in stryd met God se wil.—1 Johannes 3:10-12; 4:8, 20.

13. Wat toon die feite oor die neutraliteit van Jehovah se Getuies?

13 Maar Jehovah se Getuies het in alle konflikte streng neutraal gebly. The Watchtower van 1 November 1939 het gesê: “Almal wat aan die Here se kant is, sal neutraal wees ten opsigte van die strydende nasies.” Jehovah se Getuies in alle nasies en onder alle omstandighede bly nog steeds by hierdie standpunt. Hulle laat nie toe dat die wêreld se verdelende politiek en oorloë hulle internasionale broederskap verskeur nie. Hulle ‘smee van hulle swaarde ploegskare en van hulle spiese snoeimesse’. Omdat hulle neutraal is, leer hulle nie meer om oorlog te voer nie.—Jesaja 2:3, 4; 2 Korintiërs 10:3, 4.

14. Wat het Jehovah se Getuies ondervind omdat hulle afgeskeie van die wêreld gebly het?

14 Wat is een gevolg van hulle neutraliteit? Jesus het gesê: “Omdat julle geen deel van die wêreld is nie, . . . haat die wêreld julle” (Johannes 15:19). Baie van Jehovah se Getuies is in die tronk gesit omdat hulle God se knegte is. Party is gemartel, selfs doodgemaak, net soos in die geval van die eerste-eeuse Christene. Dit is omdat Satan, “die god van hierdie stelsel van dinge”, Jehovah se knegte teëstaan, wat geen deel daarvan is nie.—2 Korintiërs 4:4; Openbaring 12:12.

15. (a) Waarheen trek al die nasies op, en wat vermy Jehovah se Getuies nougeset? (b) Waarom is afgeskeidenheid van die wêreld so ’n ernstige saak?

15 Jehovah se knegte is bly dat hulle geen deel van die wêreld is nie, want al die nasies daarvan trek op na hulle einde by Armageddon (Daniël 2:44; Openbaring 16:14, 16; 19:11-21). Ons sal daardie uiteinde vermy omdat ons afgeskeie is van die wêreld. As ’n verenigde volk regoor die wêreld is ons lojaal aan God se hemelse Koninkryk. Omdat ons geen deel van die wêreld is nie, is ons weliswaar aan die bespotting en vervolging daarvan blootgestel. Maar dit sal binnekort tot ’n einde kom, aangesien hierdie teenswoordige bose wêreld onder Satan vir ewig vernietig sal word. Daarenteen sal diegene wat Jehovah dien, vir ewig in sy regverdige nuwe wêreld onder God se Koninkryk lewe.—2 Petrus 3:10-13; 1 Johannes 2:15-17.

Hersieningsbespreking

• Hoe het Jesus getoon wat daarby betrokke is om “geen deel van die wêreld” te wees nie?

• Wat was die vroeë Christene se gesindheid teenoor (a) die gees van die wêreld, (b) sekulêre heersers en (c) die betaling van belasting?

• Hoe het Jehovah se Getuies in ons tyd bewys gelewer van hulle Christelike neutraliteit?

[Prent op bladsy 165]

Jesus het verduidelik dat hy en sy volgelinge “geen deel van die wêreld” is nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel