HOOFSTUK EEN
Jehovah se boodskappe vir destyds en vandag
1, 2. Hoe het party na verborge skatte gesoek, maar wat kan jou help om jou lewe aangenamer te maak?
DEUR die jare heen het baie mense daarvan gedroom om verborge skatte te vind. Het jy al geskiedkundige verslae gelees oor ontdekkingsreisigers, argeoloë en ander wat werklik na sulke skatte gesoek het? Jy sal miskien nie self op so ’n soektog gaan nie, maar sê nou jy vind wel ’n skat? Hoe lonend sou dit tog wees as daardie skat jou lewe kon verbeter of dit aangenamer en suksesvoller kon maak!
2 Die meeste mense gaan nooit op ’n letterlike skattejag nie, maar hulle soek moontlik na geluk deur geld, goeie gesondheid en ’n gelukkige huwelik na te streef, skatte wat nie gevind kan word deur in die grond te grawe nie. Daar is ook nie ’n letterlike kaart wat wys waar hierdie skatte gevind kan word nie. Soos jy weet, is inspanning nodig om dit te verkry. Daarom waardeer baie mense goeie raad oor hoe om hulle doelwitte te bereik en hulle lewe aangenamer en suksesvoller te maak.
3, 4. Waar kan jy praktiese raad vind oor hoe om te lewe?
3 Jy het in werklikheid nuttige raad tot jou beskikking, leiding wat ander reeds gehelp het om gelukkig te wees. Die Bybel gee die beste raad oor hoe om te lewe, soos baie al besef het. Die Engelse skrywer Charles Dickens het oor die Bybel gesê: “Dit is die beste boek wat daar nog ooit in die wêreld was of sal wees, . . . want dit leer jou die beste lesse waardeur enige mens . . . moontlik gelei kan word.”
4 Hierdie opmerking verbaas niemand wat aanvaar dat die Bybel deur God geïnspireer is nie. Jy aanvaar waarskynlik die versekering wat ons in 2 Timoteus 3:16 lees: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer.” Met ander woorde, die Bybel bevat uiters nuttige inligting wat vir mense kan wys hoe om in die komplekse wêreld van vandag te lewe. Diegene wat hulle voetstappe volgens die Bybel rig, kan ’n lewe geniet wat werklik aangenamer en suksesvoller is.
5-7. Na watter dele van die Bybel kan jy gaan vir nuttige leiding?
5 Maar in watter dele van die Bybel dink jy kan jy hierdie raad vind? Party dink dalk aan die Bergpredikasie, waarin Jesus doeltreffende raad oor aspekte van die daaglikse lewe gegee het. Ander sal aan die apostel Paulus se briewe dink. En enigiemand kan nuttige raad vind in Psalms en Spreuke—boeke wat vol wysheid is. Om die waarheid te sê, afhangende van jou situasie of die uitdagings waarvoor jy te staan kom, kan enige boek van die Bybel nuttig wees, selfs Bybelboeke wat hoofsaaklik geskiedkundig is, soos die boeke Josua tot Ester. Die geskiedenis daarin bevat waarskuwende lesse vir almal wat gelukkig wil wees in hulle diens aan God (1 Korintiërs 10:11). Ja, hierdie boeke bevat raad wat jy kan gebruik om jou voetstappe te rig, om jou lewe suksesvol te maak. Dink aan hierdie waarheid: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê.”—Romeine 15:4; Josua 1:8; 1 Kronieke 28:8, 9.
6 Daar is egter ’n deel van die Bybel wat vir baie mense feitlik onverkende gebied is, waarin skatte gevind kan word. Dit is die groep van 12 boeke wat dikwels die Klein Profete genoem word. Hulle word gewoonlik ná die groter Bybelboeke Esegiël en Daniël gevind, maar voor Matteus se Evangelie. (In die meeste Bybels kom die 12 boeke in hierdie volgorde voor: Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi.) Soos ons gesien het, is die Bybel deur God geïnspireer, en dit is nuttig om te onderrig en om vir mense te wys hoe om te lewe. Sluit dit hierdie boeke in?
7 Beslis! Trouens, die sogenaamde Klein Profete bevat skatte wat waarlik nuttig is om vir ons te wys hoe om vandag te lewe. Om te verstaan waarom party mense hierdie boeke oor die hoof sien, kan ons dink aan wat die 12 in baie tale genoem word: die Klein Profete. Kan hierdie term op sigself mense se beskouing van die boeke beïnvloed? Het dit dalk selfs jou denke in sekere mate beïnvloed?
IS DIE “KLEIN PROFETE” WERKLIK MINDER BELANGRIK?
8. (a) Wat is ’n belangrike manier waarop God leiding voorsien het? (b) Wat word die 12 boeke onder bespreking dikwels genoem, maar waarop slaan die term?
8 Die apostel Paulus het sy brief aan die Hebreërs soos volg begin: “God, wat lank gelede by baie geleenthede en op baie maniere met ons voorvaders gepraat het deur middel van die profete, het aan die einde van hierdie dae met ons gepraat deur middel van ’n Seun” (Hebreërs 1:1, 2). Aangesien God menslike profete gebruik het om sy boodskappe oor te dra, moet ons beslis nie enige van hierdie boodskappers of wat hulle geskryf het, as “klein”, of minder belangrik, beskou nie. Nietemin het die benaming “Klein Profete” veroorsaak dat party mense die boeke se inhoud as minder belangrik beskou. Ander het tot die slotsom gekom dat die boodskappe in hierdie boeke minder gesag het as ander Bybelboeke. Maar in werklikheid verwys die naam “Klein Profete”a wat in baie tale gebruik word, bloot na die feit dat hierdie 12 boeke korter is as party ander.
9. Waarom is die lengte van ’n Bybelboek geen aanduiding van sy relatiewe waarde nie?
9 Die feit dat ’n Bybelboek kort is, is geen aanduiding van sy belangrikheid of waarde vir jou nie. Die boek Rut is baie korter as die boeke daarvoor en daarna, maar watter aangrypende inligting kan jy tog daarin vind! Daardie kort boek beklemtoon hoe geheg ons aan ware aanbidding moet wees, toon watter groot waardering God vir vroue het en voorsien noodsaaklike besonderhede oor Jesus se geslagslyn (Rut 4:17-22). Nog ’n voorbeeld is die boek Judas, wat jy naby die einde van die Bybel sal vind. Dit is so kort dat dit in party gedrukte Bybels nie eens ’n bladsy beslaan nie. Maar watter kosbare inligting en leiding vind jy tog daarin: God se handelinge met bose engele, waarskuwings oor verdorwe mense wat die gemeente binnesypel en aansporing om hard te stry vir die geloof! Jy kan net so seker wees dat die boeke van die sogenaamde Klein Profete, hoewel hulle kort is, nie onbelangrik is wat hulle inhoud of hulle waarde vir jou betref nie.
PROFETIES IN WATTER SIN?
10, 11. (a) Waaraan dink party moontlik wanneer hulle die term “profete” hoor? (b) Wie was die profete volgens die Bybel, en wat het hulle gedoen?
10 Nog ’n aspek wat bespreek moet word, behels die terme “profete” en “profeties”. ’n Mens assosieer moontlik hierdie woorde met die voorspelling van die toekoms. Baie mense dink dat ’n profeet net iemand is wat voorspel wat die toekoms inhou—miskien met raaiselagtige woorde wat op verskillende maniere vertolk kan word. Dit beïnvloed party se beskouing van hierdie 12 boeke.
11 Wanneer jy hierdie 12 boeke lees, sal jy gou sien dat hulle inderdaad vol voorspellings is, waarvan baie oor die koms van die groot dag van Jehovah handel. Dit stem ooreen met die basiese betekenis van die woord “profeet”. ’n Profeet was iemand wat ’n intieme verhouding met God gehad het en wat dikwels gebruik is om te openbaar wat sou plaasvind. Van Henog af het baie Bybelprofete dan ook die toekoms voorspel.—1 Samuel 3:1, 11-14; 1 Konings 17:1; Jeremia 23:18; Handelinge 3:18; Judas 14, 15.
12. Hoe kan jy toon dat dit meer behels het om ’n profeet te wees as om net voorspellings te maak?
12 Ons moet egter in gedagte hou dat die taak van Jehovah se profete nie uitsluitlik daaruit bestaan het om goddelike voorspellings te uiter nie. God het profete dikwels as woordvoerders gebruik om vir ander te vertel wat sy wil is. Byvoorbeeld, ons dink miskien nie aan Abraham, Isak en Jakob as persone wat die toekoms voorspel het nie, en tog klassifiseer Psalm 105:9-15 hulle as profete. God het hulle soms gebruik om iets oor die toekoms te openbaar, soos toe Jakob sy seuns geseën het. Maar hierdie aartsvaders was ook profete in die sin dat hulle vir hulle gesinne vertel het wat Jehovah gesê het oor die rol wat hulle in God se voorneme speel (Genesis 20:7; 49:1-28). Nog ’n aanduiding van die betekenisveld van die Bybelse woord “profeet” is die feit dat Aäron as ’n profeet gedien het vir Moses. Aäron het die rol van profeet vervul deur ’n woordvoerder, of “mond”, vir Moses te wees.—Eksodus 4:16; 7:1, 2; Lukas 1:17, 76.
13, 14. (a) Toon dat die profete meer gedoen het as om net voorspellings te maak. (b) Hoe kan jy baat vind by die wete dat die profete meer gedoen het as om net voorspellings te maak?
13 Dink ook aan die profete Samuel en Natan (2 Samuel 12:25; Handelinge 3:24; 13:20). Jehovah het hulle albei gebruik om bekend te maak wat in die toekoms sou gebeur, maar hy het hulle ook op ander maniere as profete laat dien. As profeet het Samuel die Israeliete aangespoor om hulle van afgodediens af te keer en weer rein aanbidding te beoefen. En hy het God se oordeel teen koning Saul bekend gemaak, waaruit ons kan leer dat Jehovah groter waarde heg aan gehoorsaamheid as aan materiële offerandes. Ja, Samuel se rol as profeet het ingesluit dat hy bekend maak wat God se beskouings is oor die regte manier om te lewe (1 Samuel 7:3, 4; 15:22). Die profeet Natan het voorspel dat Salomo die tempel sou bou en dat sy koninkryk stewig gevestig sou wees (2 Samuel 7:2, 11-16). Maar Natan het ook as profeet opgetree toe hy Dawid se sonde met Batseba en teen Uria uitgewys het. Wie kan vergeet hoe Natan Dawid se egbreuk blootgelê het—die illustrasie van ’n ryk man wat ’n arm man se geliefde en enigste lam geneem het? Natan het ook ’n rol gespeel in die organisering van ware aanbidding by God se heiligdom.—2 Samuel 12:1-7; 2 Kronieke 29:25.
14 Die punt is dat ons nie moet dink dat die boodskappe in hierdie profetiese boeke net uit profesieë—voorspellings oor die toekoms—bestaan nie. Hulle bevat goddelike verklarings oor baie ander dinge en gee ons ook duidelike insig in hoe God se volk destyds veronderstel was om te lewe en hoe ons vandag moet lewe. Trouens, ons is daarvan oortuig dat wat ons in die Bybel vind, met inbegrip van hierdie 12 boeke, baie nuttig en prakties is en dat dit mense help om te sien wat die beste lewenswyse is. Hierdie geïnspireerde boeke gee ons waardevolle leiding wat ons kan help “om met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe”.—Titus 2:12.
HOE OM BAAT TE VIND
15, 16. (a) Watter figuurlike element kan in die “Klein Profete” gevind word? (b) Watter profetiese beelde bevat hierdie boeke?
15 Daar is baie maniere waarop ons daarby kan baat vind wanneer ons God se geïnspireerde Woord lees. Party Bybelboeke vertel ons wat op ’n sekere tyd gebeur het en ander is poëties, elkeen met unieke waarde. In nog ander kom die figuurlike, of simboliese, element na vore, soos in die geval van hierdie 12 boeke. Jesus het byvoorbeeld na gebeure in die boek Jona verwys toe Hy gesê het: “’n Goddelose en owerspelige geslag hou aan om ’n teken te soek, maar dit sal geen teken gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want net soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van die reusagtige vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en sal dit veroordeel; want hulle het berou gehad as gevolg van wat Jona gepreek het, maar kyk! iets meer as Jona is hier.”—Matteus 12:39-41.
16 Dit is duidelik dat Jesus baie meer in die boek Jona gesien het as net ’n geskiedkundige verslag van God se handelinge met Jona, die profeet se bedrywighede in Nineve en die gevolg toe Jona God se waarskuwingsboodskap verkondig het. Jesus het besef dat die profeet Jona ’n figuurlike rol gespeel het, wat vooruitgewys het na Jesus Christus, sy dood en sy opstanding op die derde dag. Verder het die Nineviete se reaksie ’n teenstelling gevorm—’n teenstelling met hoe die meeste Jode op Jesus se prediking en werke gereageer het (Matteus 16:4). Gevolglik verstaan ons dat hierdie 12 boeke profetiese beelde, of ooreenkomste, bevat van God se handelinge met sy volk in hedendaagse tye. Sulke studies is fassinerend en nuttig.b
17. Wat is hierdie boek se benadering met betrekking tot die 12 boeke?
17 Maar die benadering van die boek wat jy in jou hand het, is nie ’n studie van die figuurlike, of simboliese, betekenis van die boek Jona of van die ander 11 boeke nie. Ook is dit nie ’n vers-vir-vers-ontleding nie. Die klem is eerder hoofsaaklik op inligting in hierdie boeke wat ons in ons daaglikse lewe kan toepas. Vra jou af: ‘Watter nuttige raad of goddelike leiding voorsien Jehovah in hierdie 12 boeke aan my? Hoe kan hierdie boeke my help om “met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe”? Wat vertel dit my van die Christelike lewenswyse, sedelikheid, die gesinslewe en gesindhede in hierdie kritieke dae, aangesien “die dag van Jehovah kom, want dit is naby”?’ (Titus 2:12; Joël 2:1; 2 Timoteus 3:1). Terwyl jy bevredigende antwoorde vind, sal jy waarskynlik verse ontdek wat jy baie sal waardeer, verse wat jy nog nie voorheen gebruik het wanneer jy Bybelraad aan ander gegee het nie. Op hierdie manier sal jou skatkamer van waardevolle Skrifgedeeltes ongetwyfeld groter word.—Lukas 24:45.
18. Hoe is hierdie boek saamgestel, en hoe kan jy hierby baat vind?
18 Die hoofstukke van hierdie boek is in vier dele ingedeel. Probeer ’n oorsig van elke deel kry wanneer jy daarmee begin. In elkeen van die volgende 13 hoofstukke sal jy twee vensters vind wat bedoel is om jou te help om die inligting wat jy gedek het, in jou verstand te laat insink. Die vrae in hierdie vensters sal jou in staat stel om na te dink oor wat jy gelees het en om oor die waarde en toepassing daarvan te peins. Die eerste venster is omtrent in die helfte van die hoofstuk. Wanneer jy dié venster bereik, moet jy die vrae daarin deurgaan. Dit sal jou help om wat jy so pas gestudeer het, diep in jou hart in te plant (Matteus 13:8, 9, 23; 15:10; Lukas 2:19; 8:15). Die tweede venster sal jou in staat stel om te peins oor wat jy in die laaste deel van daardie hoofstuk gelees het en om dit deel te laat word van jou skatkamer van kennis. Neem dus die tyd om hierdie vensters te bestudeer. Hulle kan jou beslis help om te sien op watter praktiese maniere jy kan baat vind by wat jy studeer.
19. Wat moet jy eers vasstel omtrent die 12 boeke?
19 Om ’n grondslag te lê vir wat gaan volg, kan jy jou afvra wat jy van die inhoud van elkeen van hierdie 12 boeke weet. Deur wie het God hierdie boodskappe voorsien, en watter soort manne was hulle? In watter tydperke het hulle gelewe, en onder watter omstandighede het hulle gedien? (Die tydkaart op bladsye 20 en 21 sal baie nuttig wees; raadpleeg dit dikwels terwyl jy die volgende hoofstukke bestudeer.) Wat was die onmiddellike boodskap of toepassing, en hoe kan hierdie kennis jou help om die materiaal in konteks te sien? Die volgende hoofstuk sal jou help om hierdie belangrike vrae te beantwoord.
a Die Encyclopaedia Judaica sê dat hierdie term “blykbaar sy oorsprong het in die Latynse benaming in die Vulgaat (Prophetae Minores). Die byvoeglike naamwoord ‘klein’ in die titel ‘Klein Profete’ verwys nie na die relatiewe belangrikheid van die 12 profete in vergelyking met Jesaja, Jeremia en Esegiël nie, maar eerder na die feit dat hulle baie kleiner [oftewel korter] is.”—Deel 12, bladsy 49.
b Sien byvoorbeeld die bespreking van Haggai en Sagaria in Paradise Restored to Mankind—By Theocracy!, uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.