Wagtoring AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jd hfst. 8 bl. 97-110
  • ‘Wat vra Jehovah van jou?’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon laai nie.

  • ‘Wat vra Jehovah van jou?’
  • Lewe met Jehovah se dag in gedagte
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT VRA JEHOVAH VAN JOU?
  • ‘WEES BESKEIE’
  • KWEEK VERHEWE SEDES AAN
  • STREEF KUISHEID NA
  • WEES ‘LIEF VIR GOEDHARTIGHEID’
  • WANDEL MET DIE WARE GOD
  • Wat verwag Jehovah van ons?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Ons sal vir ewig in Jehovah se naam wandel!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Jehovah se knegte het ware hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Bybelboek nommer 33—Miga
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Lewe met Jehovah se dag in gedagte
jd hfst. 8 bl. 97-110

HOOFSTUK AGT

‘Wat vra Jehovah van jou?’

1, 2. Waarom is dit bemoedigend om te let op hoe Jehovah op die sedelike verval van sy eertydse volk gereageer het?

STEL jou hierdie toneel voor: ’n Meisie skrik wanneer daar hard teen die deur gehamer word. Sy is bang dat dit die verdorwe handelaar is wat die geld kom eis wat hulle gesin hom skuld. Hy het al baie mense uitgebuit deur valse gewigte te gebruik en onwettige rente te vra. Om straf hiervoor vry te spring, koop hy stadsleiers om, wat die slagoffers se klagtes ignoreer. Die meisie voel weerloos; haar vader het die gesin vir ’n jonger vrou verlaat. Sy en haar moeder sal moontlik as slawe verkoop word.

2 Hierdie scenario is ’n kombinasie van party van die gebruike wat deur die 12 profete veroordeel is (Amos 5:12; 8:4-6; Miga 6:10-12; Sefanja 3:3; Maleagi 2:13-16; 3:5). Hoe sou jy gereageer het as jy destyds gelewe het? Die situasie lyk dalk negatief, maar positiewe kenmerke van Jehovah se handelinge met sy volk gedurende die dae van daardie profete kan jou bemoedig. Ja, jy kan uit hierdie 12 boeke sien dat God verhewe eienskappe en gesindhede beklemtoon het. Sy aanmoediging kan jou sedes versterk, jou aanspoor om goeie dade te verrig en jou beweeg om hom te loof. Omdat Jehovah se oordeelsdag vinnig nader kom, kan jy insig verkry in wat God van jou vra as jy let op die positiewe boodskap in hierdie boeke. Begin deur na Miga se dag te kyk, in die agtste eeu v.G.J.

Prent op bladsy 98

Jehovah is nie blind vir verdorwenheid en ongeregtigheid nie

WAT VRA JEHOVAH VAN JOU?

3, 4. (a) Watter roerende pleidooi bevat die boek Miga? (b) Hoe word jy persoonlik deur die vraag in Miga 6:8 geraak?

3 Wanneer jy Miga se boek lees, sal jy dalk eers voel dat dit ’n lang lys van beskuldigings teen die eiesinnige Israeliete is. Jehovah was weliswaar nie blind vir die sedelike verval van sy toegewyde volk nie, insluitende dié van wie hy gesê het dat hulle “haat wat goed is en liefhet wat sleg is” (Miga 3:2; 6:12). Maar saam met die veroordeling is daar een van die Bybel se mees roerende en aansporende vermanings. Miga vestig die aandag op die Bron van regverdige standaarde en vra hierdie gedagteprikkelende vraag: “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”—Miga 6:8.

4 Sien jy hier ’n pleidooi van ons Skepper? Ons word liefdevol herinner aan positiewe gesindhede wat ons kan aanleer eerder as om toe te laat dat ons meegevoer word deur die heersende goddeloosheid. Jehovah weet dat ons as lojale mense godvrugtige eienskappe wil aankweek, en hy verloor nie vertroue in ons nie. Hoe sal jy antwoord as jy persoonlik gevra word: ‘Wat vra Jehovah van jou?’ Kan jy dink aan spesifieke gebiede in jou lewe waar God se sedelike standaarde ’n verskil maak—of behoort te maak? Jou verhouding met God en die gehalte van jou lewe sal grootliks verbeter as jy aan hierdie standaarde bly voldoen. Met ’n aardwye paradys wat op hande is, kan jy aanmoediging put uit hierdie vermaning: “Saai vir julle saad in regverdigheid; maai in ooreenstemming met liefderyke goedhartigheid. Bewerk vir julle bewerkbare grond, wanneer daar tyd is om Jehovah te soek totdat hy kom en julle onderrig gee in regverdigheid” (Hosea 10:12). Kom ons ondersoek nou ’n paar sleutelgedagtes in die goeie raad van Miga 6:8.

‘WEES BESKEIE’

5. Waarom is dit belangrik om “beskeie” te wandel met God?

5 Dit is betekenisvol dat Miga sê dat Jehovah van ons vra om “beskeie te wandel met” Hom. Beskeidenheid kan ons net tot voordeel strek, want “wysheid is by die beskeidenes” (Spreuke 11:2). Beskeidenheid sluit in dat ons bewus is van die beperkings wat deur Adamitiese sonde aan ons opgelê word. As ons daarna streef om enige opsetlike sonde te vermy, is dit noodsaaklik dat ons eerstens erken dat ons in sonde gebore word.—Romeine 7:24, 25.

6. Hoe kan dit ons tot voordeel strek as beskeidenheid ons laat besef wat die gevolge van sonde is?

6 Waarom is beskeidenheid tesame met ootmoed so belangrik om opsetlike sonde te vermy? Wel, iemand wat beskeie is, besef watter krag sonde kan uitoefen (Psalm 51:3). Hosea help ons om te verstaan dat sonde verloklik kan wees en dat dit altyd verwoestende gevolge het. Jehovah het byvoorbeeld belowe dat hy ‘rekenskap sal eis’ vir die ongehoorsaamheid van sy eertydse volk. Klink dit of daardie onbeskeie sondaars alle gevolge sou kon vryspring? Hulle het dalk so gehoop, aangesien sonde dikwels misleidend en verslawend is. Nog belangriker, sonde vervreem sondaars van God en kan hulle hierdie uiterste toestand laat bereik: “Hulle handelinge laat nie toe dat hulle tot hulle God terugkeer nie.” Opsetlike sonde sal die oortreder se innerlike krag ondermyn en hom verander in iemand “wat skadelike dinge beoefen”. Daarbenewens maak sonde die sondaar se lewe nutteloos. Dit lyk dalk wel vir ’n rukkie of hy suksesvol is, maar die onberouvolle sondaar kan nie verwag om God se goedkeuring te hê nie.—Hosea 1:4; 4:11-13; 5:4; 6:8.

7. Hoe reageer beskeie mense op Jehovah se leiding?

7 Beskeie mense erken ook dat hulle God se leiding nodig het om die droewige gevolge van sonde te vermy. Miga het ’n tyd—ons dag—vooruitgesien wanneer menigtes gretig daarna sou streef om ‘omtrent Jehovah se weë onderrig’ te word en ‘in sy paaie te wandel’. Sulke sagmoediges soek “die wet” en “die woord van Jehovah”. Dit is waarskynlik vir jou ’n vreugde om onder diegene te wees wie se begeerte dit is om ‘in die naam van Jehovah te wandel’ deur op sy vereistes ag te slaan. Maar soos Miga, stel jy miskien belang in bykomende maniere om “sedelik rein” te bly (Miga 4:1-5; 6:11). As jy beskeie probeer doen wat Jehovah van jou vra, sal dit jou grootliks help.

VOORBEELDIGE BESKEIDENHEID EN OPENHARTIGHEID

Jona het openhartigheid en beskeidenheid geopenbaar wat nie gevind word onder nie-Bybelse skrywers nie. Hy het openlik vertel van sy eie ongehoorsaamheid en van geleenthede toe hy ’n gebrek aan vertroue in Jehovah gehad het. Hy het nie sy verkeerde gesindheid teenoor sy opdrag of teenoor God se besluit om die Nineviete te spaar, probeer verberg nie. Wat ’n goeie voorbeeld van beskeidenheid is dit tog vir ons om na te volg!

KWEEK VERHEWE SEDES AAN

8. Wat het jy opgemerk omtrent die sedes van die wêreld van vandag?

8 Ter bevordering van ons geestelike en fisiese welsyn vra Jehovah ons om sedelik kuis te wees ondanks die verdorwenheid in die wêreld om ons (Maleagi 2:15). Ons word gebombardeer met seksueel gelaaide boodskappe. Baie mense voel dat dit ’n normale deel van die lewe is om na pornografiese prente en rolprente te kyk, oor wellustige seksdade te lees en na liedjies met suggestiewe lirieke te luister. Verder is daar mense wat geen respek vir vroue toon nie en hulle net as seksvoorwerpe beskou. Of op skool is jongmense se gesprekke vol vuil grappe en seksuele insinuasies. Hoe kan jy sulke verderflike invloede weerstaan?

9. Hoe het baie gedurende die tyd van die 12 profete versuim om Jehovah se standaarde te handhaaf?

9 Die 12 profete wat ons bespreek, gee waardevolle vermanings. Hulle het gelewe voor die tyd van bioskoopkomplekse en videowinkels, maar in hulle tyd was daar falliese simbole, sogenaamd heilige prostitusie en skaamtelose promiskuïteit (1 Konings 14:24; Jesaja 57:3, 4; Habakuk 2:15). Jy kan bewys hiervan sien in wat die profete geskryf het: “Wat die manne betref, met die hoere sonder hulle hulle af, en met die vroulike tempelprostitute bring hulle offerandes.” “’n Man en sy vader het na dieselfde meisie toe gegaan, om my heilige naam te ontheilig.” Party het gereeld gedurende vrugbaarheidsritusse “vir prostitute betaal”.* Egbreuk was algemeen, met ontroue huweliksmaats wat “agter [hulle] hartstogtelike minnaars aan geloop het”.—Hosea 2:13; 4:2, 13, 14; Amos 2:7; Miga 1:7, Contemporary English Version.

10. (a) Hoofsaaklik wat sit agter onsedelike gedrag? (b) Hoe het God se eertydse volk hulle aan geestelike hoerery skuldig gemaak?

10 Jy besef waarskynlik dat geslagsonsedelikheid ’n weerspieëling is van ’n persoon se gesindheid en beweegredes (Markus 7:20-22). Aangaande sy onsedelike volk het Jehovah gesê dat “die gees van hoerery [“die drang na seks”, CEV] . . . hulle laat afdwaal” het en dat “hulle niks anders as losbandige gedrag beoefen het nie” (Hosea 4:12; 6:9).* Sagaria het “die gees van onreinheid” gemeld (Sagaria 13:2). Die volk se lewenswyse het getuig van ’n onbeskaamde gesindheid, verontagsaming of selfs minagting van Jehovah se standaarde en gesag. ’n Persoon sou dus sy denke en sy hartstoestand drasties moes verander om sy beweegredes reg te stel. Hierdie besef moet Christene selfs dankbaarder maak vir die hulp wat hulle ontvang om onsedelikheid en die tragiese gevolge daarvan te vermy.

STREEF KUISHEID NA

11. Wat is party van die gevolge van geslagsonsedelikheid?

11 Jy het moontlik al gesien dat losse sedes dikwels gesinne uitmekaarskeur, kinders van ouerlike leiding beroof, tot walglike siektes lei en aanleiding gee tot aborsies, wat die vernietiging van lewe beteken. Diegene wat die Skepper in geslagsake verontagsaam, ly dikwels fisiese en emosionele skade. Miga het geskryf: “Omdat [iemand] onrein geword het, is daar ’n verwoesting; en die verwoestingswerk is pynlik” (Miga 2:10). Hierdie wete maak godvrugtige mense standvastiger. Hulle verontreinig nie hulle hart en verstand deur gedurig oor onrein dinge te dink nie.—Matteus 12:34; 15:18.

12. Hoe vind ons daarby baat om Jehovah se beskouing van geslagsomgang te aanvaar?

12 Christene reageer nie bloot uit vrees vir siekte of buite-egtelike swangerskap nie. Hulle besef die waarde daarvan om liefde vir God se wet aan te kweek en sy beskouing van geslagsedes te aanvaar. Jehovah het ’n normale begeerte na geslagsomgang as ’n blyk van huweliksliefde in mense geplaas. Dit was deel van God se skeppingsvoorneme. Wanneer geslagsomgang op sy regte plek gehou word—in die huwelik—is dit voordelig: dit bind die man en vrou saam as een en lei soms tot voortplanting. Maar wanneer geslagsomgang buite die huwelik plaasvind, is dit uiters vernietigend, soos bevestig word deur wat die 12 profete beskryf het. Onsedelike geslagsgebruike het tot God se misnoeë gelei. Dit was destyds ’n baie hoë prys om te betaal, en dit sal vandag net so ’n hoë prys wees om te betaal.

13. Hoe kan ons in sekere sin ‘hoerery verwyder’ en versoeking vermy?

13 Hosea het sy tydgenote gesmeek om ‘hoerery voor hulle te verwyder’, wat daarop dui dat hulle daadwerklik moes optree om hulle sedes te beskerm (Hosea 2:2). In ons geval is dit verstandig om ons uit enige gevaarlike situasie te verwyder. Byvoorbeeld, jy kom dalk by die skool of in jou buurt herhaaldelik voor ’n sekere versoeking te staan. Jy kan miskien nie van skool verander of verhuis nie, maar daar is moontlik ander maniere waarop jy die versoeking kan vermy en gevolglik ‘hoerery voor jou kan verwyder’. Laat ander weet dat jy ’n ware Christen is, een van Jehovah se Getuies. Verduidelik jou waardes en jou oortuigings op ’n duidelike, respekvolle manier. Maak seker dat ander weet dat jy vasbeslote is om Jehovah se hoë standaarde te handhaaf (Amos 5:15). Nog ’n manier om ‘hoerery te verwyder’, is om pornografie en twyfelagtige vermaak te vermy. Dit kan beteken dat jy ’n tydskrif moet weggooi of nuwe vriende moet vind—persone wat Jehovah liefhet en wat saamstem dat jy moet doen wat hy van jou vra (Miga 7:5). Ja, met Jehovah se hulp kan jy voorkom dat jy deur die wêreld se onsedelikheid besmet word!

Prent op bladsy 104

Dit is ’n beskerming om jou Christelike oortuigings duidelik bekend te maak

WEES ‘LIEF VIR GOEDHARTIGHEID’

14, 15. (a) Wat beteken dit om “goedhartigheid lief te hê”? (b) Hoe help liefde vir goedhartigheid ons om onberispelik te wees?

14 Miga het beklemtoon dat Jehovah ons vra om “goedhartigheid lief te hê”. Om goedhartig te wees, beteken om goeie dinge eerder as enigiets skadeliks te doen. Goedhartigheid hou ten nouste verband met goedheid en sedelike voortreflikheid. Dit vereis dat ons eerlik en regverdig moet wees in ons persoonlike sake en in ons handelinge met ander. In Hoofstuk 6 van hierdie boek het ons belangrike gebiede in die lewe ondersoek, soos sake- en finansiële aangeleenthede, waar regverdigheid en eerlikheid ’n baie belangrike rol speel. Maar dit is nie die enigste gebiede in die lewe waar ons regverdig, eerlik en goedhartig moet wees nie.

15 Mense wat goedhartigheid liefhet en wat aan ander wil goeddoen, probeer om onberispelik te wees. Jehovah het vir die Israeliete wat nie hulle materiële verpligtinge ten opsigte van rein aanbidding nagekom het nie, gesê: “Julle beroof my” (Maleagi 3:8). Kan jy aan maniere dink waarop ’n mens God vandag kan “beroof”? Sê nou ’n Christen het toegang tot geld wat in die plaaslike gemeente of in ’n ander situasie bygedra is om Koninkryksbelange te bevorder? Wie se geld is dit? Hierdie geld behoort eintlik aan Jehovah, aangesien dit gegee is om sy aanbidding te bevorder (2 Korintiërs 9:7). Moet enigiemand dink dat hy hierdie geld kan “leen” om na ’n persoonlike noodgeval om te sien of dat hy gewyde fondse sonder behoorlike magtiging vir ’n ander doel kan gebruik? Natuurlik nie. Dit sal daarop neerkom dat hy van God steel! En dit sal beslis nie goedhartig of regverdig wees teenoor diegene wat hierdie geld vir God se werk bygedra het nie.—Spreuke 6:30, 31; Sagaria 5:3.

16, 17. (a) Hoe het party in die dae van Amos en van Miga gierigheid geopenbaar? (b) Wat is God se beskouing van hebsug?

16 Goedhartigheid en goedheid beweeg Christene ook om hebsug te vermy. Gedurende Amos se tyd was uitermatige gierigheid algemeen. Onversadigbare uitbuiters was bereid om “’n regverdige”—hulle eie medeaanbidder—“vir blote silwer [te] verkoop”! (Amos 2:6). Dit was dieselfde in Miga se tyd, toe die rykes van Juda beslag gelê het—met geweld, indien nodig—op die eiendom van dié wat te swak was om hulleself te verdedig (Miga 2:2; 3:10). Deur die grond van hulle medemens in besit te neem, het daardie gierige mense Jehovah se Wet oortree: met inbegrip van die laaste van die Tien Woorde en die voorskrifte teen die permanente verkoop van erfgrond.—Eksodus 20:13, 15, 17; Levitikus 25:23-28.

17 Dit is vandag miskien nie so algemeen soos in die dae van die profete dat mense verkoop word of slawe gemaak word nie. Maar wat daarvan om finansiële voordeel uit ander te trek of hulle uit te buit? ’n Christen wat goedhartigheid liefhet, sal beslis nie sy medeaanbidders uitbuit nie. Hy besef byvoorbeeld dat dit nie gepas of goedhartig sou wees om ’n besigheid te begin of ’n beleggingskema te bevorder wat op medegelowiges as die vernaamste klante konsentreer nie. Om te beplan om vinnig geld te maak deur mede-Christene uit te buit, sal getuig van hebsug, waarteen Christene gewaarsku word (Efesiërs 5:3; Kolossense 3:5; Jakobus 4:1-5). Gierigheid kan geopenbaar word deur liefde vir geld, ’n begeerte na mag of gewin, selfs gulsigheid na kos en drank, seks of ander dinge. Miga het getoon dat selfsugtige, gierige mense “nie versadig [sal] raak nie”. Dit is ook vandag die geval.—Miga 6:14.

Prent op bladsy 106

Baie Christene voorsien liefdevol in die geestelike behoeftes van mense van ander lande

18, 19. (a) Wat het party van die 12 profete oor Jehovah se besorgdheid oor die “inwonende vreemdeling” gesê? (b) Hoe kan liefdevolle belangstelling in ander verhoudinge verbeter waar jy woon?

18 Jehovah het sy volk beveel om ‘geen inwonende vreemdeling te verkul’ nie. En deur Maleagi het God gesê: ‘Ek sal nader kom na julle toe vir die oordeel, teen dié wat die inwonende vreemdeling wegwys’ (Sagaria 7:10; Maleagi 3:5). Het die omgewing waar jy woon, ’n verandering ondergaan as gevolg van ’n instroming van immigrante of ander mense van ’n ander nasionaliteit, ras of agtergrond? Miskien het hulle daarheen getrek op soek na veiligheid, werk of beter lewenstoestande. Hoe beskou jy mense wie se taal en lewenstyl van joune verskil? Vind jy in jou enige neigings tot vooroordeel, wat presies die teenoorgestelde van goedhartigheid sou wees?

19 Dink hoe positief mense sal reageer as jy toon dat persone van ander lande of agtergronde ewe veel verdien om Christelike waarheid te hoor. Goedhartigheid sal ook enige gevoel teëwerk dat sulke nuwelinge inbreuk maak op die gebruik van die Koninkryksaal of ander middele. Die apostel Paulus het party eerste-eeuse Joodse Christene, wat ’n mate van vooroordeel teenoor nie-Jode gekoester het, daaraan herinner dat niemand werklik verdienstelik is nie; net God se onverdiende goedhartigheid maak dit vir enigiemand moontlik om redding te verkry (Romeine 3:9-12, 23, 24). Goedhartigheid teenoor ander sal ons beweeg om bly te wees dat God se liefde nou baie mense bereik wat voorheen dalk min geleentheid gehad het om die goeie nuus te hoor (1 Timoteus 2:4). Mense van ander lande of agtergronde is dikwels minder bevoorreg, en daarom moet ons oor hulle besorg wees en aan hulle goedhartigheid betoon, hulle in ons midde verwelkom en elkeen “soos ’n boorling” onder ons behandel.—Levitikus 19:34.

WANDEL MET DIE WARE GOD

20. Tot wie het party Israeliete hulle gewend om leiding?

20 Miga het ook beklemtoon dat ons met God moet wandel, op hom moet vertrou as die ware God en sy leiding moet soek (Spreuke 3:5, 6; Hosea 7:10). Nadat die Jode uit ballingskap teruggekeer het, het party hulle tot waarsêers, fortuinvertellers en valse gode gewend, moontlik om hulp gedurende ’n droogte. Hulle het in werklikheid bose geesmagte aangeroep om hulle te help, ondanks die feit dat Jehovah al hierdie gebruike duidelik veroordeel het (Deuteronomium 18:9-14; Miga 3:6, 11; 5:12; Haggai 1:10, 11; Sagaria 10:1, 2). Daardie Jode het deurmekaar geraak met geesskepsele wat in verset teen die ware God is!

21, 22. (a) Watter vorme van spiritisme is algemeen in jou omgewing? (b) Waarom raak ware knegte van Jehovah nie betrokke by die okkulte nie?

21 Vandag dink party dat die bose geeste wat in die Skrif gemeld word, slegs simbolies is van die begrip “boosheid”. Maar die Bybel toon dat die demone werklik bestaan en agter astrologie, heksery en party vorme van toorkuns is (Handelinge 16:16-18; 2 Petrus 2:4; Judas 6). Die gevare van spiritisme is net so werklik. Mense in baie kulture vertrou op sjamane, of toordokters wat beweer dat hulle mistieke kragte het, en op towenaars. Ander soek leiding in die horoskoop of gebruik tarotkaarte, wiggelstokke, ouija-borde of spesiale kristalle. Selfs pogings om met die geeste van die dooies te kommunikeer, is baie algemeen. Sekere staatsmanne het hulle al glo tot astrologie en spiritistiese mediums gewend om hulle besluite te help neem. Al hierdie dinge is duidelik in stryd met Miga se raad dat ons met die ware God wandel en sy leiding volg.

22 Jy—’n ware kneg van Jehovah—moet beslis sulke gebruike vermy. Jy kan seker wees dat God nooit toorkuns of die okkulte gebruik om sy wil te openbaar of om sy krag uit te oefen nie. Inteendeel, soos Amos 3:7 ons verseker, Jehovah ‘openbaar sy vertroulike saak aan sy knegte, die profete’. Daarbenewens kan betrokkenheid by die okkulte ’n mens onder die invloed en beheer laat kom van die leier van die demone, Satan, wat ’n leuenaar is en wie se strategie dit is om mense te mislei. Hy en sy trawante is daarop uit om mense leed aan te doen, aangesien hulle nog altyd wreed was, mense selfs doodgemaak het (Job 1:7-19; 2:7; Markus 5:5). Dit is te verstane dat Miga waarsêery en towery veroordeel het toe hy ons aangespoor het om met die ware God te wandel.

Prente op bladsy 109

God se knegte moet okkulte gebruike vermy

23. Slegs wie kan ons gepaste versoeke toestaan?

23 Ware geestelikheid word slegs by Jehovah en sy rein aanbidding gevind (Johannes 4:24). “Rig julle versoeke . . . tot Jehovah”, het die profeet Sagaria geskryf (Sagaria 10:1). Selfs al veroorsaak bose geesmagte dat jy aangeval of versoek word, moet jy onthou: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom” (Joël 2:32). Hierdie versekering is belangrik terwyl ons sy groot dag goed in gedagte hou.

24. Watter lesse het jy uit Miga 6:8 geleer?

24 Die woorde in Miga 6:8 gee ons ongetwyfeld baie stof tot nadenke. Om sterk sedelikheid te bou, moet ons die regte beweegredes en godvrugtige eienskappe hê. Hosea het aanmoediging gegee vir ons wat “aan die einde van die dae” lewe. Hy het gesê dat godvresende mense gedurende ons tyd Jehovah se goedheid sou soek (Hosea 3:5). Amos het God se uitnodiging om juis dit te doen, bevestig: “Soek wat goed is, . . . sodat julle kan bly lewe.” Ons word ook aangespoor: “Wees lief vir wat goed is” (Amos 5:14, 15). As ons dit doen, sal ons verkwik word deurdat ons doen wat Jehovah van ons vra.

Die Bybelvertaler Joseph Rotherham sê van die nasies van Kanaän, wie se gedrag die Israeliete nagevolg het: “Hulle aanbidding was uiters wellustig en verskriklik wreed. Vroue het hulle kuisheid ter ere van hulle gode prysgegee. Hulle heilige plekke was bordele. Die geslagsorgane is openlik deur walglike simbole voorgestel. Die volke het heilige (!) prostitute gehad, manlik en vroulik.”

God se volk was ook skuldig aan geestelike hoerery. Hulle het ongeoorloofde verhoudings met heidense nasies nagejaag en Baälaanbidding met ware aanbidding vermeng.

WAT KAN JY LEER
  • uit Jehovah se innige versoek dat jy volgens sy standaarde lewe?—Sagaria 6:15; Maleagi 3:16, 18.

  • deur te peins oor die aard van sonde en die droewige gevolge daarvan?—Maleagi 4:1; Romeine 6:12-14; 1 Korintiërs 6:18.

  • uit die sedelike dwalinge van God se eertydse volk?—Hosea 8:7; 10:12; 14:9.

HOE KAN JY DAARBY BAAT VIND
  • as jy Jehovah se beskouing van geslagsedelikheid aanvaar?—Hosea 3:3; 4:11.

  • as jy die 12 profete se vermanings teen gierigheid en selfsug toepas?—Miga 7:5-7; Filippense 2:4.

  • as jy teen spiritisme en okkulte gebruike waak?—Miga 5:12; Nahum 3:4; Maleagi 3:5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2020)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Voorkeure
    • Copyright © 2019 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan