Hoofstuk 9
Wat kan ek doen as ek eensaam is?
Dis ’n pragtige dag, en jy het niks beplan nie. Maar al jou vriende het. Hulle is almal besig om hulle te geniet. Jy is al weer uitgesluit! Dis al erg genoeg dat jy nie genooi word nie, maar wat daardeur geïmpliseer word, is nog erger. ‘Dalk is daar iets fout met my’, sê jy vir jouself. ‘Waarom soek niemand my geselskap op nie?’
MISKIEN was jy al meer as een keer in die situasie wat op die oorkantste bladsy beskryf word. Jy voel dalk asof daar ’n groot kloof tussen jou en jou portuurs is. Elke keer as jy ’n gesprek met hulle probeer aanknoop, begin jy stotter en stamel. Wanneer jy wel ’n kans kry om geselskap te geniet, raak jy verleë. Waarom is dit so moeilik om net gesellig te wees?
Eerder as om net aan jou kant van die kloof te bly, kan jy ’n paar brûe bou. Kom ons kyk hoe.
● Kloof 1: ’n Negatiewe beskouing van jouself. Party jongmense kritiseer hulleself voortdurend. Hulle is oortuig dat niemand van hulle hou nie en dat hulle niks het wat die moeite werd is om tot ’n gesprek by te dra nie. Voel jy so oor jouself? Indien wel, sal ’n negatiewe selfbeeld die kloof tussen jou en jou portuurs net groter maak.
Die brug: Fokus op jou sterk punte (2 Korintiërs 11:6). Vra jou af: ‘Wat is my sterk punte?’ Dink aan ’n paar talente of positiewe eienskappe wat jy het, en skryf dit hieronder neer.
․․․․․
Jy het ongetwyfeld tekortkominge en dis goed om daarvan bewus te wees (1 Korintiërs 10:12). Maar jy het ook baie om aan te bied. As jy jou sterk punte erken, sal dit jou die selfvertroue gee om ’n negatiewe selfbeeld te oorkom.
● Kloof 2: Skaamheid. Jy wil baie graag ’n gesprek aanknoop, maar wanneer jy die kans kry, kan jy jou eenvoudig nie sover kry om jou mond oop te maak nie. “Ek is die hele tyd skaam”, kla die 19-jarige Elizabeth. “Dis vir my verskriklik moeilik om by Christelike vergaderinge met mense te gaan gesels, en ek het die grootste bewondering vir mense wat dit kan doen!” As jy soos Elizabeth is, voel jy dalk dat dit onmoontlik is om hierdie kloof te oorbrug.
Die brug: Toon opregte belangstelling in ander. Moenie bekommerd wees nie—jy hoef nie ’n ekstrovert te word nie. Begin deur in net een persoon belangstelling te toon. “Dit help om ander beter te leer ken as jy hulle net vra hoe dit gaan of as jy hulle oor hulle werk uitvra”, sê ’n jong man met die naam Jorge.
Hier is ’n wenk: Moenie net met mense van jou eie ouderdom praat nie. Party van die beste vriende waarvan ons in die Bybel lees, het ’n groot ouderdomsverskil tussen hulle gehad, soos Rut en Naomi, Dawid en Jonatan, en Timoteus en Paulus (Rut 1:16, 17; 1 Samuel 18:1; 1 Korintiërs 4:17). Onthou ook dat ’n gesprek van twee kante kom; jy hoef nie al die werk te doen nie. Mense waardeer goeie luisteraars. As jy geneig is om skaam te wees, onthou dus—jy hoef nie die hele tyd te praat nie!
Skryf die name van twee volwassenes neer wat jy graag beter wil leer ken.
․․․․․
Nader gerus een van die persone wie se naam jy hierbo neergeskryf het, en knoop ’n gesprek aan. Hoe meer vriende jy probeer maak in “die hele gemeenskap van broers”, hoe minder eensaam sal jy voel.—1 Petrus 2:17.
● Kloof 3: Onaangename gedrag. ’n Beterweter staan altyd reg met ’n belediging of ’n sarkastiese aanmerking. Dan is daar die persoon wat daarvan hou om te stry en sy opinies op almal af te dwing. Hy is “alte regverdig” en is gou om iemand te veroordeel wat nie aan sy hoë persoonlike vereistes voldoen nie (Prediker 7:16). Jy kan dit heel moontlik nie verdra om naby sulke mense te wees nie! Maar kan dit wees dat ’n kloof ontstaan het omdat jy so optree? Die Bybel sê: “Die dwaas spreek baie woorde”, en ook: “In die oorvloed van woorde ontbreek die oortreding nie.”—Prediker 10:14; Spreuke 10:19.
Die brug: Kweek “meegevoel” aan (1 Petrus 3:8). Al stem jy nie met iemand anders se beskouing saam nie, laat hom geduldig toe om te praat. Konsentreer op die punte waaroor julle saamstem. As jy voel jy moet sê dat jy nie met iets saamstem nie, sê dit dan op ’n sagmoedige en taktvolle manier.
Praat met ander soos jy wil hê hulle met jou moet praat. Die Bybel se raad is om “alles sonder murmurering en redekaweling te doen” (Filippense 2:14). ’n Onnodige gekibbel of geterg, sowel as om ander te beledig of hulle met ’n eiegeregtige gesindheid te veroordeel, stoot mense net van jou af weg. Hulle sal baie meer van jou hou as jy sorg dat jou “woorde altyd aangenaam [is]”.—Kolossense 4:6.
Ten alle koste?
Ná hierdie kort selfondersoek kan jy moontlik ’n paar maniere sien waarop jy brûe kan bou oor die kloof wat dalk tussen jou en ander ontstaan het. Jy moet natuurlik realisties wees. Jy kan nie verwag dat almal van jou sal hou nie. Jesus het gesê dat daar mense sal wees wat dié wat reg doen, selfs sal haat (Johannes 15:19). Dit help dus nie om ten alle koste vriende te probeer maak nie.
Maar jy kan nogtans ’n redelike poging aanwend om aangenaam te wees, sonder om jou Bybelse standaarde prys te gee. Samuel van Bybeltye was vasbeslote om te doen wat God gelukkig sou maak. Die gevolg? Hy het al hoe “meer geliefd geword vanuit Jehovah se standpunt sowel as vanuit dié van mense” (1 Samuel 2:26). As jy ’n bietjie moeite doen, sal dit ook van jou gesê kan word!
LEES MEER OOR HIERDIE ONDERWERP IN DEEL 1, HOOFSTUK 8
Vir meer inligting, kyk na die DVD “Young People Ask—How Can I Make Real Friends?” Dit is in meer as 40 tale beskikbaar
Ewe skielik tree jou beste vriend op asof hy jou grootste vyand is. Wat kan jy daaromtrent doen?
SLEUTELTEKSTE
“Wie ander ryklik verkwik, sal ook ryklik verkwik word.”—Spreuke 11:25.
WENK
Laat die gesprek vloei. As iemand jou byvoorbeeld vra of jy die naweek geniet het, moenie net ja sê nie. Verduidelik waarom jy dit geniet het. Vra dan wat die ander persoon gedurende die naweek gedoen het.
HET JY GEWEET . . . ?
Volgens die Bybel het Moses, Jeremia en Timoteus dalk ’n probleem met skaamheid gehad.—Eksodus 3:11, 13; 4:1, 10; Jeremia 1:6-8; 1 Timoteus 4:12; 2 Timoteus 1:6-8.
AKSIEPLAN!
Die kloof wat ek die meeste teëkom, is ․․․․․
Ek sal op hierdie gebied ’n brug probeer bou deur ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom is party Christene dalk eensaam?
● Wat kan jou help om op ’n gebalanseerde manier na jouself te kyk, pleks van deur negatiewe gedagtes oorweldig te word?
● Hoe sal jy jou jonger broer of suster troos wat met eensaamheid sukkel?
[Lokteks op bladsy 88]
Een Christensuster het met my probeer vriende maak, maar ek het my ’n ruk lank afsydig gehou. Toe ek uiteindelik verander het, het ek baie simpel gevoel! Sy het een van die beste vriendinne geword wat ek nog ooit gehad het, al is sy 25 jaar ouer as ek!’’—Marie
[Prent op bladsy 87]
Jy kan die kloof tussen jou en jou portuurs oorbrug