Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • bt hfst. 5 bl. 36-43
  • “Ons moet . . . aan God as heerser gehoorsaam wees”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ons moet . . . aan God as heerser gehoorsaam wees”
  • ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Jehovah se engel het die deure oopgemaak’ (Handelinge 5:12-21a)
  • “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:21b-33)
  • ‘Julle sal hulle nie kan keer nie’ (Handelinge 5:34-42)
  • Bekwame manne om na ‘nodige aangeleenthede’ om te sien (Handelinge 6:1-6)
  • ‘Die woord van God het aangehou groei’ (Handelinge 6:7)
  • ‘Ons kan nie ophou praat oor Jesus nie’
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Wie gehoorsaam jy—God of mense?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Niks kon hulle keer nie
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
bt hfst. 5 bl. 36-43

Hoofstuk 5

“Ons moet . . . aan God as heerser gehoorsaam wees”

Die apostels neem ’n standpunt in wat ’n presedent stel vir alle ware Christene

Gebaseer op Handelinge 5:12–6:7

1-3. (a) Waarom is die apostels voor die Sanhedrin gebring, en waarop kom die kwessie neer? (b) Waarom stel ons intens belang in die standpunt wat die apostels ingeneem het?

DIE regters van die Sanhedrin is briesend! Die apostels van Jesus staan tereg voor hierdie hooggeregshof. Waarom? Josef Kajafas, die hoëpriester en voorsitter van die Sanhedrin, spreek hulle streng aan: “Ons het julle uitdruklik beveel om nie voort te gaan om in hierdie naam te leer nie.” Die woedende voorsitter kan hom nie eens sover kry om Jesus se naam te noem nie. “Julle het Jerusalem nietemin met julle leer vervul”, gaan Kajafas voort, “en julle is vasbeslote om die bloed van hierdie man oor ons te bring” (Hand. 5:28). Die boodskap is duidelik: Hou op preek—of anders!

2 Hoe sal die apostels reageer? Hulle opdrag om te preek, het van Jesus gekom, wat sy gesag van God gekry het (Matt. 28:18-20). Sal die apostels swig voor mensevrees en stilbly? Of sal hulle die moed hê om standvastig te bly en aan te hou preek? Die kwessie kom in werklikheid hierop neer: Sal hulle aan God gehoorsaam wees of aan mense? Sonder om te aarsel, praat die apostel Petrus namens al die apostels. Sy woorde is ondubbelsinnig en moedig.

3 As ware Christene stel ons intens belang in die apostels se reaksie op die dreigemente van die Sanhedrin. Die predikingsopdrag is ook op ons van toepassing. Terwyl ons hierdie godgegewe toewysing uitvoer, sal ons dalk ook met teenstand te kampe kry (Matt. 10:22). Teenstanders sal ons werk moontlik probeer beperk of verbied. Wat sal ons doen? Ons kan daarby baat vind as ons kyk na die standpunt wat die apostels ingeneem het asook die omstandighede wat tot hulle verhoor voor die Sanhedrin gelei het.a

‘Jehovah se engel het die deure oopgemaak’ (Handelinge 5:12-21a)

4, 5. Waarom is Kajafas en die Sadduseërs “met jaloesie vervul”?

4 Onthou dat Petrus en Johannes, toe hulle die eerste keer beveel is om op te hou preek, geantwoord het: “Ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand. 4:20). Ná daardie verskyning voor die Sanhedrin het Petrus en Johannes en die res van die apostels aangehou om in die tempel te preek. Die apostels het groot tekens gedoen, soos om die siekes te genees en demone uit te dryf. Hulle het dit “in Salomo se pilaargang” gedoen, ’n oordekte suilegang aan die oostekant van die tempel, waar baie Jode bymekaargekom het. Mense is blykbaar selfs genees as Petrus se skaduwee net op hulle geval het! Baie wat fisies genees is, het op woorde van geestelike genesing gereageer. Gevolglik is “gelowiges in die Here . . . voortdurend bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue”.—Hand. 5:12-15.

5 Kajafas en die Sadduseërs, die godsdienssekte waaraan hy behoort het, is “met jaloesie vervul” en het die apostels in die tronk laat stop (Hand. 5:17, 18). Waarom was die Sadduseërs so woedend? Die apostels het geleer dat Jesus opgewek is, maar die Sadduseërs het nie aan die opstanding geglo nie. Die apostels het gesê dat ’n mens alleenlik gered kan word deur geloof in Jesus te stel, maar die Sadduseërs was bang vir weerwraak van Rome as die volk Jesus as hulle Leier sou beskou (Joh. 11:48). Geen wonder dat die Sadduseërs vasbeslote was om die monde van die apostels te snoer nie!

6. Wie is vandag die vernaamste aanstigters van vervolging teen Jehovah se knegte, en waarom behoort dit ons nie te verbaas nie?

6 Ook vandag is godsdiensteenstanders die vernaamste aanstigters van vervolging teen Jehovah se knegte. Hierdie persone probeer dikwels hulle invloed by regeringsowerhede en die media gebruik om ons predikingswerk stop te sit. Moet dit ons verbaas? Nee. Ons boodskap stel valse godsdiens aan die kaak. Deur Bybelwaarhede aan te neem, word opregtes van hart bevry van onskriftuurlike opvattings en gebruike (Joh. 8:32). Is dit dan enigsins verbasend dat ons boodskap godsdiensleiers dikwels met jaloerse haat vervul?

7, 8. Watter uitwerking het die engel se opdrag ongetwyfeld op die apostels gehad, en wat kan ons ons gerus afvra?

7 Terwyl die apostels in die tronk gesit en wag het om verhoor te word, het hulle dalk gewonder of hulle vyande hulle ’n marteldood sou laat sterf (Matt. 24:9). Maar gedurende die nag het iets heeltemal onverwags gebeur—“Jehovah se engel [het] die deure van die gevangenis oopgemaak” (Hand. 5:19).b Die engel het hulle spesifieke instruksies gegee: ‘Gaan staan in die tempel’ en ‘hou aan om te spreek’ (Hand. 5:20). Hierdie bevel het die apostels ongetwyfeld verseker dat wat hulle gedoen het, reg was. Die engel se woorde het hulle moontlik ook versterk om standvastig te bly ongeag wat gebeur. Met sterk geloof en groot moed het die apostels “met dagbreek in die tempel ingegaan en begin leer”.—Hand. 5:21.

8 Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Sal ek die nodige geloof en moed hê om onder soortgelyke omstandighede aan te hou preek?’ Ons kan krag put uit die wete dat die noodsaaklike werk om “deeglik aangaande die koninkryk van God te getuig”, deur die engele gesteun en gerig word.—Hand. 28:23; Op. 14:6, 7.

“Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:21b-33)

9-11. Wat was die apostels se reaksie op die Sanhedrin se bevel dat hulle moet ophou preek, en hoe het dit ’n presedent vir ware Christene gestel?

9 Kajafas en die ander regters van die Sanhedrin was nou oorgehaal vir die apostels. Onbewus van wat by die tronk gebeur het, het die hof beamptes gestuur om die gevangenes te gaan haal. Stel jou die beamptes se verbasing voor toe hulle ontdek het dat die gevangenes weg is, al was die tronk ‘in alle veiligheid toegesluit, met die wagte wat by die deure staan’ (Hand. 5:23). Die hoofman van die tempel het kort voor lank uitgevind dat die apostels weer in die tempel is, waar hulle van Jesus Christus getuig—die einste werk waarvoor hulle in die tronk gestop is! Die hoofman en sy beamptes het hulle na die tempel gehaas om die gevangenes te gaan haal en hulle na die Sanhedrin te bring.

10 Soos aan die begin van hierdie hoofstuk beskryf is, het die woedende godsdiensleiers uitdruklik gesê dat die apostels moet ophou preek. Wat was die apostels se reaksie? Petrus het as woordvoerder opgetree en moedig gesê: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Hand. 5:29). Die apostels het sodoende ’n presedent gestel vir ware Christene in toekomstige eeue. Menseheersers verbeur hulle reg op gehoorsaamheid wanneer hulle verbied wat God vereis of wanneer hulle vereis wat God verbied. Vandag kan ons eweneens nie ophou om ons godgegewe toewysing uit te voer om die goeie nuus te verkondig as “die hoër owerhede” ons getuieniswerk verbied nie (Rom. 13:1). Ons sal eerder onopvallende maniere vind om aan te hou om deeglik oor God se Koninkryk te getuig.

11 Dit is nie verbasend dat die apostels se moedige antwoord die verergde regters rasend van woede gemaak het nie. Hulle was vasbeslote om die apostels “om die lewe [te] bring” (Hand. 5:33). Dit het nou na ’n uitgemaakte saak gelyk dat hierdie moedige en ywerige getuies ’n marteldood sou sterf. A, maar hulp sou vanuit ’n uiters onverwagte oord kom!

‘Julle sal hulle nie kan keer nie’ (Handelinge 5:34-42)

12, 13. (a) Watter raad het Gamaliël aan sy kollegas gegee, en wat het hulle gedoen? (b) Hoe kan Jehovah vandag ten behoewe van sy volk tussenbeide tree, en waarvan kan ons seker wees as hy sou toelaat dat ons “ter wille van regverdigheid [ly]”?

12 Gamaliël, “’n leermeester van die Wet wat by die hele volk in aansien was”, het begin praat.c Hierdie wetsgeleerde was ongetwyfeld hooggeag deur sy kollegas, want hy het die situasie in hande geneem, en selfs “beveel dat die [apostels] vir ’n klein rukkie na buite geneem moet word” (Hand. 5:34). Deur te verwys na voorbeelde uit die verlede van opstande wat gou doodgeloop het nadat die leiers gesterf het, het Gamaliël die hof aangespoor om geduldig en verdraagsaam te wees in hulle handelinge met die apostels, wie se Leier, Jesus, maar kort tevore gesterf het. Gamaliël se redenasie was oortuigend: “Moet julle nie met hierdie manne bemoei nie, maar laat staan hulle (want as hierdie plan of hierdie werk uit mense is, sal dit omvergewerp word; maar as dit uit God is, sal julle hulle nie kan keer nie); anders kan daar miskien bevind word dat julle eintlik teen God stry” (Hand. 5:38, 39). Die regters het na sy raad geluister. Hulle het die apostels nogtans laat slaan en hulle beveel om “op te hou om in Jesus se naam te spreek”.—Hand. 5:40.

13 Jehovah kan nou, net soos destyds, vooraanstaande manne soos Gamaliël gebruik om ten behoewe van Sy volk tussenbeide te tree (Spr. 21:1). Deur middel van sy gees kan Jehovah magtige heersers, regters of wetgewers in ooreenstemming met sy wil laat optree (Neh. 2:4-8). Maar as hy sou toelaat dat ons “ter wille van regverdigheid [ly]”, kan ons van twee dinge seker wees (1 Pet. 3:14). Eerstens, God kan ons die krag gee om dit te verduur (1 Kor. 10:13). Tweedens, teenstanders sal God se werk “nie kan keer nie”.—Jes. 54:17.

14, 15. (a) Hoe het die apostels gereageer op die slae wat hulle ontvang het, en waarom? (b) Vertel ’n ondervinding wat toon dat Jehovah se volk met vreugde volhard.

14 Het die slae die apostels se gees gedemp of hulle minder vasberade laat word? Beslis nie! Hulle het vreugdevol “van die Sanhedrin af weggegaan” (Hand. 5:41). Waarom? Beslis nie weens die fisiese pyn wat deur die slae veroorsaak is nie. Hulle was bly omdat hulle geweet het dat hulle vervolg is weens hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah en omdat hulle in die voetstappe van hulle Voorbeeld, Jesus, gevolg het.—Matt. 5:11, 12.

15 Soos ons eerste-eeuse broers, volhard ons vreugdevol wanneer ons ter wille van die goeie nuus ly (1 Pet. 4:12-14). Nee, ons geniet dit nie om aan dreigemente, vervolging of gevangenisstraf onderwerp te word nie. Maar ons put diep tevredenheid daaruit wanneer ons ons onkreukbaarheid handhaaf. Dink byvoorbeeld aan Henryk Dornik, wat jare van wrede behandeling onder totalitêre regimes verduur het. Hy vertel dat die owerheid in Augustus 1944 besluit het om hom en sy broer na ’n konsentrasiekamp te stuur. Die teenstanders het gesê: “Dit is onmoontlik om hulle te oorreed om enigiets te doen. Hulle put vreugde daaruit om martelaars te wees.” Broer Dornik verduidelik: “Hoewel ek geen begeerte gehad het om ’n martelaar te wees nie, het dit my vreugde verskaf om op moedige en waardige wyse te ly weens my lojaliteit aan Jehovah.”—Jak. 1:2-4.

16. Hoe het die apostels getoon dat hulle vasbeslote was om deeglik te getuig, en hoe volg ons die apostoliese predikingsmetode?

16 Die apostels het geen tyd verspil om hulle getuieniswerk te hervat nie. Hulle het onverskrokke voortgegaan om “elke dag in die tempel en van huis tot huis . . . die goeie nuus oor die Christus . . . bekend te maak” (Hand. 5:42).d Hierdie ywerige predikers was vasbeslote om deeglik te getuig. Let daarop dat hulle hulle boodskap na mense se huise geneem het, soos Jesus Christus hulle beveel het (Matt. 10:7, 11-14). Dit is ongetwyfeld hoe hulle dit reggekry het om Jerusalem met hulle leer te vervul. Vandag is Jehovah se Getuies daarvoor bekend dat hulle hierdie apostoliese predikingsmetode volg. Deur elke huis in ons gebied te besoek, toon ons duidelik dat ons ook deeglik wil wees en almal die geleentheid wil gee om die goeie nuus te hoor. Het Jehovah ons huis-tot-huis-bediening geseën? Ja, hy het! Miljoene het in hierdie tyd van die einde aan die Koninkryksboodskap gehoor gegee, en baie het die goeie nuus vir die eerste keer gehoor toe ’n Getuie aan hulle deur geklop het.

Bekwame manne om na ‘nodige aangeleenthede’ om te sien (Handelinge 6:1-6)

17-19. Watter verdelende geskil het nou ontstaan, en watter riglyne het die apostels gegee om dit op te los?

17 Die jong gemeente het nou voor ’n subtiele gevaar te staan gekom wat dit van binne bedreig het. Wat was dit? Baie van die dissipels wat gedoop is, was besoekers in Jerusalem en wou meer leer voordat hulle teruggaan huis toe. Dissipels wat in Jerusalem gewoon het, het gewilliglik geld geskenk om voedsel en ander benodigdhede te voorsien (Hand. 2:44-46; 4:34-37). Op hierdie stadium het ’n netelige situasie ontstaan. “In die daaglikse uitdeling” van voedsel is die Griekssprekende weduwees “oor die hoof gesien” (Hand. 6:1). Die Hebreeussprekende weduwees is egter nie oor die hoof gesien nie. Die probleem het dus blykbaar met diskriminasie verband gehou. Min geskille het die potensiaal om groter verdeeldheid te veroorsaak as dié een.

18 Die apostels, wat as die bestuursliggaam van die groeiende gemeente opgetree het, het besef dat dit vir hulle nie verstandig sou wees “om die woord van God te laat staan om voedsel . . . uit te deel nie” (Hand. 6:2). Om die saak op te los, het hulle die dissipels opdrag gegee om sewe manne te kry wat “vol gees en wysheid” is en wat die apostels oor hierdie “nodige aangeleentheid” kon aanstel (Hand. 6:3). Bekwame manne was nodig, want die werk het heel waarskynlik nie net die uitdeling van voedsel behels nie, maar ook die hantering van geld, die aankoop van voorraad asook noukeurige boekhouding. Die gekose manne het almal Griekse name gehad, wat hulle moontlik vir die gekrenkte weduwees aanvaarbaarder gemaak het. Nadat die apostels die aanbeveling biddend oorweeg het, het hulle die sewe manne aangestel om na hierdie “nodige aangeleentheid” om te sien.e

19 Het die feit dat die sewe aangestelde manne na die uitdeling van voedsel omgesien het, beteken dat hulle nou vrygestel was van die verantwoordelikheid om die goeie nuus te verkondig? Beslis nie! Een van die manne wat gekies is, was Stefanus, wat sou bewys dat hy ’n moedige en kragtige getuie was (Hand. 6:8-10). Filippus was ook een van die sewe, en hy word “die evangeliedienaar” genoem (Hand. 21:8). Die sewe manne was klaarblyklik dus nog steeds ywerige Koninkrykspredikers.

20. Hoe volg God se volk vandag die apostoliese patroon?

20 Jehovah se volk volg vandag die apostoliese patroon. Manne wat aanbeveel word om gemeentelike verantwoordelikhede na te kom, moet godvrugtige wysheid aan die dag lê en bewys lewer dat die heilige gees op hulle werksaam is. Onder die leiding van die Bestuursliggaam word manne wat aan skriftuurlike vereistes voldoen, aangestel om as ouer manne of bedieningsknegte in die gemeentes te dien (1 Tim. 3:1-9, 12, 13).f Daar kan gesê word dat diegene wat aan die vereistes voldoen, deur die heilige gees aangestel word. Hierdie hardwerkende manne sien om na talle ‘nodige aangeleenthede’. Byvoorbeeld, ouer manne reël dalk dat praktiese hulp gegee word aan getroue bejaardes wat ’n werklike behoefte het (Jak. 1:27). Party ouer manne is aktief betrokke by die bou van Koninkryksale, reëlings vir byeenkomste of hospitaalskakelwerk. Bedieningsknegte sien om na baie pligte wat nie direk met herders- of onderrigtingswerk verband hou nie. Al sulke bekwame manne moet gemeentelike en organisatoriese verantwoordelikhede in ewewig hou met die godgegewe plig om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.—1 Kor. 9:16.

‘Die woord van God het aangehou groei’ (Handelinge 6:7)

21, 22. Wat toon dat Jehovah die jong gemeente geseën het?

21 Met Jehovah se steun het die jong gemeente vervolging van buite en ’n potensieel verdelende probleem van binne deurstaan. Jehovah se seën kon duidelik gesien word, want ons lees: “Die woord van God [het] aangehou groei, en die aantal dissipels het in Jerusalem geweldig bly toeneem; en ’n groot menigte priesters het aan die geloof gehoorsaam geword” (Hand. 6:7). Dit is maar net een van ’n hele paar vorderingsverslae wat in die boek Handelinge gevind word (Hand. 9:31; 12:24; 16:5; 19:20; 28:31). Vind ons dit vandag nie aanmoedigend wanneer ons verslae hoor oor die vordering van die Koninkrykspredikingswerk in ander wêrelddele nie?

22 Destyds, in die eerste eeu HJ, was die woedende godsdiensleiers nie van plan om tou op te gooi nie. ’n Vlaag van vervolging was op hande. Kort voor lank is Stefanus uitgesonder vir wrede teenstand, soos ons in die volgende hoofstuk sal sien.

[Voetnote]

a Sien die venster “Die Sanhedrin—Hooggeregshof van die Jode”, op bladsy 39.

b Dit is die eerste van sowat 20 spesifieke verwysings na engele in die boek Handelinge. Vroeër, in Handelinge 1:10, word daar indirek na engele verwys as “manne in wit klere”.

c Sien die venster “Gamaliël—Hooggeag onder die rabbi’s”, op bladsy 41.

d Sien die venster “Die predikingswerk ‘van huis tot huis’”, op bladsy 42.

e Hierdie manne het moontlik aan die algemene vereistes vir ouer manne voldoen, aangesien dit ’n groot verantwoordelikheid was om na daardie “nodige aangeleentheid” om te sien. Die Skrif sê egter nie presies wanneer manne vir die eerste keer as ouer manne of opsieners in die Christengemeente aangestel is nie.

f Hoewel die gemeente die sewe manne van goeie getuienis aanbeveel het, is die eintlike aanstelling deur die apostels gedoen.

[Venster op bladsy 39]

DIE SANHEDRIN—HOOGGEREGSHOF VAN DIE JODE

Al was Judea ’n provinsie van die Romeinse Ryk, het Rome die Jode toegelaat om hulle eie tradisies te volg en grotendeels selfregerend te wees. Plaaslike howe het geringe misdade en siviele sake hanteer, maar sake wat nie in daardie howe beslis kon word nie, is na die Groot Sanhedrin in Jerusalem verwys. Hierdie liggaam het as die hooggeregshof van die Joodse volk en as ’n nasionale bestuursraad gefunksioneer. Dit het ook die laaste sê gehad oor die vertolking van die Joodse wet, en die gesag daarvan is deur Jode in alle wêrelddele gerespekteer.

Die Sanhedrin het in sy raadsaal vergader, wat blykbaar in die tempelgebied of daar naby was. Die raad het bestaan uit 71 lede—die hoëpriester, wat die voorsitter was; ander priesterlike adellikes, insluitende Sadduseërs; aristokrate uit die lekestand en deskundige skrifgeleerdes. Die hof se beslissings was finaal.

[Venster op bladsy 41]

GAMALIËL—HOOGGEAG ONDER DIE RABBI’S

Die Gamaliël van Handelinge word oor die algemeen geïdentifiseer as Gamaliël die Ouere, die kleinseun van Hillel, wat die stigter was van die liberaalste van die twee skole van Fariseïsme. Gamaliël het ’n vername posisie in die Sanhedrin beklee en was so hooggeag onder die rabbi’s dat hy die eerste een was wat die eretitel “Rabban” ontvang het. Die Misjna sê: “Toe rabban Gamaliël die Ouere gesterf het, het die heerlikheid van die Wet tot ’n einde gekom en het reinheid en onthouding vergaan.” Etlike welwillende wette word aan hom toegeskryf. “Van besondere belang”, sê die Encyclopaedia Judaica, “is sy beslissing waarvolgens ’n vrou toegelaat is om weer te trou op die getuienis van net een getuie dat haar man gesterf het.” Hy het blykbaar ook wette uitgevaardig wat vrouens teen beginsellose mans en weduwees teen beginsellose kinders beskerm het en het blykbaar aangevoer dat arm nie-Jode dieselfde reg as arm Jode moet hê om oesoorblyfsels op te tel.

[Venster op bladsy 42]

DIE PREDIKINGSWERK “VAN HUIS TOT HUIS”

Ten spyte van die Sanhedrin se verbod op hulle predikingswerk het die dissipels aangehou om “elke dag in die tempel en van huis tot huis” te preek en te onderrig (Hand. 5:42). Presies wat beteken “van huis tot huis”?

In die oorspronklike Grieks beteken die frase katʼ oiʹkon letterlik “volgens huis”. Etlike vertalers sê dat die woord ka·taʹ in ’n “distributiewe” sin verstaan moet word; dit wil sê, die dissipels se prediking is van een huis na die ander versprei. ’n Soortgelyke gebruik van ka·taʹ kom in Lukas 8:1 voor, waar daar gesê word dat Jesus “van stad tot stad en van dorpie tot dorpie” gepreek het.

Die meervoudsvorm, katʼ oiʹkous, word in Handelinge 20:20 gebruik. Die apostel Paulus het vir Christenopsieners gesê: “Ek [het] my nie daarvan weerhou . . . om julle in die openbaar en van huis tot huis te leer nie.” Dat Paulus hier nie soos party beweer, gepraat het net van onderrigting in die ouer manne se huise nie, kan in die volgende vers gesien word: “Maar ek het aan Jode sowel as Grieke deeglik oor berou teenoor God en geloof in ons Here Jesus getuig” (Hand. 20:21). Medegelowiges het reeds berou getoon en in Jesus geloof gestel. Om van huis tot huis te preek en te onderrig, het dus klaarblyklik verwys na die werk om vir ongelowiges te getuig.

[Prent op bladsy 36]

“Toe het hulle hulle gebring en hulle in die Sanhedrinsaal laat staan.”—Handelinge 5:27

[Prent op bladsy 43]

Soos die apostels, preek ons “van huis tot huis”

    Afrikaanse publikasies (1975-2023)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2023 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privacy Settings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel