Wagtoring AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • bt hfst. 13 bl. 101-107
  • ‘Daar het groot onenigheid ontstaan’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon laai nie.

  • ‘Daar het groot onenigheid ontstaan’
  • ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Tensy julle . . . besny word” (Handelinge 15:1)
  • “Onenigheid en ’n . . . woordewisseling” (Handelinge 15:2)
  • Hulle het bemoedigende ondervindinge “in besonderhede” vertel (Handelinge 15:3-5)
  • “Die apostels en die ouer manne het bymekaargekom” (Handelinge 15:6-12)
  • Is jou persoonlike opinie die belangrikste?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die vroeë Christene en die Mosaese Wet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Besnydenis—’n Teken van manlikheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
bt hfst. 13 bl. 101-107

Hoofstuk 13

‘Daar het groot onenigheid ontstaan’

Die besnydenisgeskil word voor die bestuursliggaam gebring

Gebaseer op Handelinge 15:1-12

1-3. (a) Watter verwikkeling dreig om die vroeë Christengemeente te verdeel? (b) Hoe kan ons baat vind by ’n studie van hierdie verslag in die boek Handelinge?

PAULUS en Barnabas het so pas na die Siriese stad Antiogië teruggekeer, vreugdevol ná hulle eerste sendingreis. Hulle is verheug dat Jehovah “vir die nasies die deur tot geloof oopgemaak het” (Hand. 14:26, 27). Trouens, Antiogië self is in beroering oor die goeie nuus, en “’n groot aantal” nie-Jode word by hierdie gemeente gevoeg.—Hand. 11:20-26.

2 Die opwindende nuus oor hierdie vermeerdering bereik Judea kort hierna. Maar pleks van almal bly te maak, dwing hierdie verwikkeling die voortgesette debat oor die besnydenis op die voorgrond. Wat moet die verhouding tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges wees, en hoe moet laasgenoemde groep die Mosaïese Wet beskou? Die geskil gee aanleiding tot onenigheid wat so ernstig raak dat dit dreig om die Christengemeente te verdeel. Hoe sal hierdie saak opgelos word?

3 Terwyl ons hierdie verslag in die boek Handelinge ondersoek, sal ons talle waardevolle lesse leer. Dit kan ons help om verstandig op te tree wanneer potensieel verdelende geskille in ons dag ontstaan.

“Tensy julle . . . besny word” (Handelinge 15:1)

4. Watter verkeerde beskouings het sekere gelowiges voorgestaan, en watter vraag laat dit ontstaan?

4 Die dissipel Lukas het geskryf: “Sekere manne het van Judea [na Antiogië] afgekom en die broers begin leer: ‘Tensy julle volgens die gebruik van Moses besny word, kan julle nie gered word nie’” (Hand. 15:1). Daar word nie genoem of hierdie “sekere manne” Fariseërs was voordat hulle Christene geword het nie. Dit lyk egter of hulle ten minste in ’n mate deur daardie Joodse sekte se wettiese denke beïnvloed is. Hulle het dalk ook valslik beweer dat hulle namens die apostels en ouer manne in Jerusalem praat (Hand. 15:23, 24). Maar waarom het Joodse gelowiges nog steeds die besnydenis voorgestaan, ongeveer 13 jaar nadat die apostel Petrus, onder God se leiding, onbesnede nie-Jode in die Christengemeente verwelkom het?*—Hand. 10:24-29, 44-48.

5, 6. (a) Waarom wou party Joodse Christene dalk vashou aan die besnydenis? (b) Was die besnydenisverbond deel van die Abrahamitiese verbond? Verduidelik. (Sien voetnoot.)

5 Daar kan baie redes hiervoor wees. Om maar een te noem, die besnydenis is deur Jehovah self ingestel, en dit was ’n teken van ’n spesiale verhouding met hom. Die besnydenis, wat al voor die Wetsverbond ingestel is maar later ’n deel daarvan geword het, het met Abraham en sy huishouding begin (Lev. 12:2, 3).* Onder die Mosaïese Wet moes selfs vreemdelinge besny word voordat hulle sekere voorregte kon geniet, soos om die Pasgamaal te eet (Eks. 12:43, 44, 48, 49). Trouens, in die verstand van ’n Jood was ’n onbesnede man onrein, veragtelik.—Jes. 52:1.

6 Dit het dus geloof en nederigheid van Joodse gelowiges geverg om hulle denke by geopenbaarde waarheid aan te pas. Die nuwe verbond het die Wetsverbond vervang, en daarom het iemand wat as ’n Jood gebore is, nie meer outomaties ’n lid van God se volk geword nie. En dit het moed geverg van Joodse Christene in Joodse gemeenskappe—soos die gelowiges in Judea—om geloof in Christus te bely en onbesnede nie-Jode as medegelowiges te aanvaar.—Jer. 31:31-33; Luk. 22:20.

7. Watter waarhede het “sekere manne” nie begryp nie?

7 God se standaarde het natuurlik nie verander nie. Bewys hiervan is die feit dat die gees van die Mosaïese Wet in die nuwe verbond vervat is (Matt. 22:36-40). Byvoorbeeld, Paulus het later in verband met die besnydenis geskryf: “Hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en sy besnydenis is dié van die hart deur gees, en nie deur ’n geskrewe kode nie” (Rom. 2:29; Deut. 10:16). Die “sekere manne” van Judea het nie hierdie waarhede begryp nie, maar het aangevoer dat God nooit die wet in verband met die besnydenis herroep het nie. Sou hulle na rede luister?

“Onenigheid en ’n . . . woordewisseling” (Handelinge 15:2)

8. Waarom is die besnydenisgeskil na die bestuursliggaam in Jerusalem verwys?

8 Lukas het verder gesê: “Nadat daar groot onenigheid en ’n heftige woordewisseling van die kant van Paulus en Barnabas met hulle [die “sekere manne”] ontstaan het, het hulle [die ouer manne] gereël dat Paulus en Barnabas en ander van hulle na die apostels en ouer manne in Jerusalem opgaan in verband met hierdie geskil” (Hand. 15:2).* Die ‘onenigheid en die woordewisseling’ het bewys gelewer van sterk gevoelens en besliste oortuigings aan albei kante, en die gemeente in Antiogië kon die saak nie oplos nie. Om die vrede en eenheid te bewaar, het die gemeente wyslik gereël dat die kwessie verwys word na “die apostels en ouer manne in Jerusalem”, wat die bestuursliggaam uitgemaak het. Wat kan ons by die ouer manne in Antiogië leer?

9, 10. In watter opsig het die broers in Antiogië sowel as Paulus en Barnabas ’n goeie voorbeeld gestel vir ons wat vandag leef?

9 Een waardevolle les wat ons leer, is dat ons God se organisasie moet vertrou. Dink hieraan: Die broers in Antiogië het geweet dat die bestuursliggaam net uit Christene van ’n Joodse agtergrond bestaan. Nietemin het hulle vertrou dat dié liggaam die besnydenisgeskil in ooreenstemming met die Skrif sou oplos. Waarom? Die gemeente was vol vertroue dat Jehovah sake deur middel van sy heilige gees en die Hoof van die Christengemeente, Jesus Christus, sou rig (Matt. 28:18, 20; Ef. 1:22, 23). Mag ons, wanneer ernstige kwessies vandag ontstaan, die goeie voorbeeld van die gelowiges in Antiogië navolg deur vertroue te stel in God se organisasie en sy Bestuursliggaam van gesalfde Christene, wat “die getroue en verstandige slaaf” verteenwoordig.—Matt. 24:45.

10 Ons word ook herinner aan die waarde van nederigheid en geduld. Paulus en Barnabas is persoonlik deur die heilige gees aangestel om na die nasies te gaan; nogtans het hulle nie daardie gesag gebruik om die besnydenisgeskil dadelik daar in Antiogië op te los nie (Hand. 13:2, 3). Daarbenewens het Paulus later geskryf: “Ek het as gevolg van ’n openbaring [na Jerusalem] opgegaan”—wat op goddelike leiding in die saak dui (Gal. 2:2). Vandag streef ouer manne daarna om dieselfde nederige, geduldige gesindheid aan die dag te lê wanneer potensieel verdelende kwessies ontstaan. Hulle is nie twisgierig nie, maar vertrou op Jehovah deur die Skrif te raadpleeg asook die instruksies en leiding wat deur die slaafklas voorsien word.—Fil. 2:2, 3.

11, 12. Waarom is dit belangrik om op Jehovah te wag?

11 In sommige gevalle moet ons dalk op Jehovah wag om lig op ’n sekere saak te werp. Onthou dat die broers in Paulus se tyd moes wag tot omstreeks 49 HJ—ongeveer 13 jaar nadat Kornelius in 36 HJ gesalf is—voordat Jehovah ’n finale oplossing in verband met die geskil oor die besnydenis van nie-Jode voorsien het. Waarom moes hulle so lank wag? Moontlik wou God aan opregte Jode genoeg tyd gee om hulle by hierdie groot verandering in sienswyse aan te pas. Die beëindiging van die 1 900 jaar oue besnydenisverbond wat met hulle geliefde voorvader Abraham gesluit is, was immers geen geringe saak nie!—Joh. 16:12.

12 Wat ’n voorreg is dit tog om deur ons geduldige en liefdevolle hemelse Vader onderrig en gevorm te word! Die resultate is altyd goed en altyd tot ons voordeel (Jes. 48:17, 18; 64:8). Laat ons dus nooit weens trots vasklou aan ons eie idees of negatief reageer op organisatoriese veranderinge of aanpassings in die verduideliking van sekere tekste nie (Pred. 7:8). As jy selfs net ’n sweempie van hierdie neiging in jouself bespeur, sal dit goed wees as jy biddend peins oor die tydige beginsels in Handelinge hoofstuk 15.*

13. Hoe kan ons Jehovah se geduld in ons bediening weerspieël?

13 Ons sal dalk geduld aan die dag moet lê wanneer ons die Bybel studeer met mense wat dit moeilik vind om gekoesterde valse opvattings of onskriftuurlike gebruike te laat vaar. In sulke gevalle moet ons moontlik ’n redelike tyd toelaat sodat God se gees op die hart van die student kan inwerk (1 Kor. 3:6, 7). Dit sal ook goed wees as ons oor die saak bid. Op die een of ander manier en op die regte tyd sal God ons help om te weet wat die verstandige weg is.—1 Joh. 5:14.

Hulle het bemoedigende ondervindinge “in besonderhede” vertel (Handelinge 15:3-5)

14, 15. Hoe het die gemeente in Antiogië aan Paulus, Barnabas en die ander reisigers eer bewys, en in watter opsig was hulle teenwoordigheid ’n seën vir medegelowiges?

14 Lukas se verhaal gaan voort: “Nadat hierdie manne . . . ’n ent deur die gemeente begelei is, het hulle verder gegaan deur Fenisië sowel as Samaria en in besonderhede vertel van die bekering van mense van die nasies, en hulle het aan al die broers groot vreugde verskaf” (Hand. 15:3). Die gemeente het Paulus, Barnabas en die ander reisigers ’n ent ver vergesel, ’n daad van Christelike liefde wat aan hulle eer bewys het en getoon het dat die gemeente hulle God se seën toewens. Voorwaar nog ’n uitstekende voorbeeld wat die broers in Antiogië vir ons gestel het! Betoon jy eer aan jou geestelike broers en susters, “veral dié [ouer manne] wat hard werk in woord en onderrigting”?—1 Tim. 5:17.

15 Hierdie reisigers was op hulle reis ’n seën vir mede-Christene in Fenisië en Samaria omdat hulle “in besonderhede” vir hulle ondervindinge vertel het oor die werk in die nie-Joodse veld. Die toehoorders het moontlik Joodse gelowiges ingesluit wat ná Stefanus se marteldood na hierdie gebiede gevlug het. Verslae van Jehovah se seën op die dissipelmaakwerk is ook vandag vir ons broers aanmoedigend, veral vir dié wat beproewinge verduur. Vind jy ten volle baat by sulke verslae deur Christelike vergaderinge en byeenkomste by te woon, asook deur die ondervindinge en lewensverhale in ons lektuur te lees?

16. Wat toon dat die besnydenis ’n groot geskil geword het?

16 Nadat hulle omtrent 550 kilometer suidwaarts gereis het, het die afvaardiging uit Antiogië uiteindelik hulle bestemming bereik. Lukas het geskryf: “Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle vriendelik ontvang deur die gemeente en die apostels en die ouer manne, en hulle het vertel van al die dinge wat God deur middel van hulle gedoen het” (Hand. 15:4). Maar in reaksie hierop het “party van dié van die sekte van die Fariseërs wat gelowig geword het, . . . uit hulle sitplek opgestaan en gesê: ‘Hulle moet besny word en beveel word om die wet van Moses te onderhou’” (Hand. 15:5). Dit is duidelik dat die kwessie in verband met die besnydenis van nie-Joodse Christene ’n groot geskil geword het, en dit moes opgelos word.

“Die apostels en die ouer manne het bymekaargekom” (Handelinge 15:6-12)

17. Wie het die bestuursliggaam in Jerusalem uitgemaak, en waarom was “die ouer manne” dalk hierby ingesluit?

17 “By dié wat saam beraadslaag, is wysheid”, sê Spreuke 13:10. In ooreenstemming met hierdie goeie beginsel het “die apostels en die ouer manne . . . bymekaargekom om op [die besnydenisgeskil] in te gaan” (Hand. 15:6). “Die apostels en die ouer manne” het as verteenwoordigers van die hele Christengemeente opgetree, net soos die Bestuursliggaam van vandag. Waarom het “die ouer manne” saam met die apostels gedien? Onthou dat die apostel Jakobus tereggestel is, en die apostel Petrus was ten minste ’n tyd lank in die tronk. Sou iets soortgelyks dalk met die ander apostels gebeur? Die teenwoordigheid van ander bekwame gesalfde manne sou help verseker dat daar altyd behoorlike toesig is.

18, 19. Watter kragtige woorde het Petrus gespreek, en tot watter slotsom moes sy toehoorders gekom het?

18 Lukas het verder gesê: “Nadat hulle lank geredeneer het, het Petrus opgestaan en . . . gesê: ‘Manne, broers, julle weet goed dat God van die vroeë dae af die keuse onder julle gedoen het dat mense van die nasies deur my mond die woord van die goeie nuus moet hoor en moet glo; en God, wat die harte ken, het getuienis afgelê deur hulle die heilige gees te gee, net soos ook aan ons. En hy het hoegenaamd geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, maar het hulle harte deur geloof gesuiwer’” (Hand. 15:7-9). Volgens een naslaanwerk beteken die Griekse woord wat in vers 7 met “geredeneer” vertaal word, ook “’n soeke”, ‘’n ondervraging’. Die broers het blykbaar in alle opregtheid verskillende menings gehad, en hulle het dit openlik uitgespreek.

19 Petrus se kragtige woorde het almal daaraan herinner dat hy teenwoordig was toe die eerste onbesnede nie-Jode—Kornelius en sy huishouding—in 36 HJ met die heilige gees gesalf is. As Jehovah nie meer ’n onderskeid maak tussen Jood en nie-Jood nie, op watter gesag sou mense dit dan doen? Wat meer is, dit is geloof in Christus wat ’n gelowige se hart suiwer, nie die onderhouding van die Mosaïese Wet nie.—Gal. 2:16.

20. Hoe het voorstanders van die besnydenis ‘God op die proef gestel’?

20 Op grond van die onweerlegbare getuienis van God se woord sowel as die heilige gees het Petrus tot dié slotsom gekom: “Waarom stel julle God dan nou op die proef deur ’n juk op die nek van die dissipels te lê wat ons voorvaders en ook ons nie kon dra nie? Inteendeel, ons vertrou dat ons op dieselfde wyse as ook daardie mense deur die onverdiende goedhartigheid van die Here Jesus gered sal word” (Hand. 15:10, 11). Voorstanders van die besnydenis het in werklikheid ‘God op die proef gestel’, of ‘sy geduld beproef’, soos ’n ander vertaling dit weergee. Hulle het wette op nie-Jode probeer afdwing wat die Jode self nie ten volle kon onderhou nie en wat hulle gevolglik ter dood veroordeel het (Gal. 3:10). Petrus se Joodse toehoorders moes eerder dankbaar gewees het vir God se onverdiende goedhartigheid wat deur Jesus betoon is.

21. Wat was Barnabas en Paulus se bydrae tot die bespreking?

21 Petrus se woorde het sy toehoorders klaarblyklik diep getref, want “die hele menigte [het] stil geword”. Daarna het Barnabas en Paulus vertel van “al die tekens en voortekens wat God deur hulle onder die nasies gedoen het” (Hand. 15:12). Eindelik was die apostels en ouer manne nou in ’n posisie om al die getuienis te beoordeel en ’n besluit te neem wat die wil van God in verband met die besnydeniskwessie duidelik weerspieël het.

22-24. (a) Hoe volg die Bestuursliggaam vandag die voorbeeld van die vroeë bestuursliggaam? (b) Hoe kan alle ouer manne respek vir teokratiese gesag toon?

22 Wanneer die lede van die Bestuursliggaam vandag vergader, vertrou hulle ook op God se Woord vir leiding en bid hulle opreg vir heilige gees (Ps. 119:105; Matt. 7:7-11). Daarom ontvang elke lid van die Bestuursliggaam vooraf ’n agenda sodat hy biddend kan nadink oor die punte vir bespreking (Spr. 15:28). By die vergadering spreek hierdie gesalfde broers hulle gedagtes vryelik en met respek uit. Die Bybel word dikwels gedurende die besprekings gebruik.

23 Gemeentelike ouer manne moet hierdie voorbeeld volg. En as ’n ernstige kwessie nog nie opgelos is nadat dit by ’n ouermanvergadering bespreek is nie, kan die liggaam die plaaslike takkantoor of die aangestelde verteenwoordigers daarvan, soos reisende opsieners, raadpleeg. Die tak kan op sy beurt aan die Bestuursliggaam skryf indien nodig.

24 Ja, Jehovah seën dié wat die teokratiese reëling respekteer en wat nederigheid, lojaliteit en geduld aan die dag lê. Soos ons in die volgende hoofstuk sal sien, is die godgegewe belonings hiervoor ware vrede, geestelike voorspoed en Christelike eenheid.

[Voetnote]

Sien die venster “Die leringe van die Judaïseerders”, op bladsy 103.

Die besnydenisverbond was nie deel van die Abrahamitiese verbond, wat vandag nog van krag is nie. Die Abrahamitiese verbond het in 1943 VHJ in werking getree toe Abraham (destyds Abram) die Eufraat oorgesteek het op pad na Kanaän. Hy was toe 75 jaar oud. Die besnydenisverbond is later gesluit, in 1919 VHJ, toe Abraham 99 jaar oud was.—Gen. 12:1-8; 17:1, 9-14; Gal. 3:17.

Titus, ’n Griekse Christen wat later ’n vertroude metgesel en gesant van Paulus geword het, was blykbaar ’n lid van die afvaardiging (Gal. 2:1; Tit. 1:4). Hierdie man was ’n goeie voorbeeld van ’n onbesnede nie-Jood wat deur die heilige gees gesalf is.—Gal. 2:3.

Sien die venster “Jehovah se Getuies grond hulle oortuigings op die Bybel”, op bladsy 105.

[Venster op bladsy 103]

DIE LERINGE VAN DIE JUDAÏSEERDERS

Selfs nadat die eerste-eeuse bestuursliggaam die besnydenisgeskil opgelos het, het party wat gesê het dat hulle Christene is, hardkoppig geweier om die saak daar te laat. Die apostel Paulus het hulle “valse broers” genoem wat “die goeie nuus oor die Christus wil verdraai”.—Gal. 1:7; 2:4; Tit. 1:10.

Die Judaïseerders wou die Jode blykbaar tevrede stel sodat hulle die Christelike geloof nie met soveel geweld sou teëstaan nie (Gal. 6:12, 13). Die Judaïseerders het aangevoer dat mense hulle regverdigheid bewys deur werke van die Mosaïese Wet in sake soos dieet, die besnydenis en Joodse feeste.—Kol. 2:16.

Dit is te verstane dat dié wat sulke beskouings gehad het, ongemaklik gevoel het in die teenwoordigheid van nie-Joodse gelowiges. Ongelukkig het selfs ’n aantal gerespekteerde Christene uit ’n Joodse agtergrond hierdie onheilsame gevoelens geopenbaar. Byvoorbeeld, toe verteenwoordigers van die gemeente in Jerusalem Antiogië besoek het, het hulle nie met hulle nie-Joodse broers gemeng nie. Selfs Petrus, wat tot op dié stadium vryelik met die nie-Jode geassosieer het, het hom onttrek—hy het nie eens saam met hulle geëet nie. Ja, hy het opgetree in stryd met die einste beginsels wat hy vroeër verdedig het. Gevolglik het Paulus Petrus streng vermaan.—Gal. 2:11-14.

[Venster op bladsy 105]

‘JEHOVAH SE GETUIES GROND HULLE OORTUIGINGS OP DIE BYBEL’

Soos duidelik gesien kan word in die geval van die vroeë Christengemeente, is die geskiedenis van ware aanbidding een van progressiewe geestelike verligting (Spr. 4:18; Dan. 12:4, 9, 10; Hand. 15:7-9). Vandag pas Jehovah se volk ook hulle oortuigings by geopenbaarde waarheid aan; hulle dwing nie die Skrif om by hulle beskouings te pas nie. Onbevooroordeelde waarnemers erken hierdie feit. Jason David BeDuhn, ’n medeprofessor in die godsdienswetenskap aan die Universiteit van Noord-Arizona in die Verenigde State, het in sy boek Truth in Translation geskryf dat Jehovah se Getuies die Bybel “met ’n soort onskuld benader en hulle oortuigings en gebruike op die Bybel grond, sonder om vooraf te besluit wat daarin gevind moet word”.

[Prent op bladsy 107]

Party het volgehou: ‘Die nie-Jode moet beveel word om die wet van Moses te onderhou’

    Afrikaanse publikasies (1975-2020)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Voorkeure
    • Copyright © 2019 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan