Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • bt hfst. 27 bl. 211-217
  • Paulus ‘getuig deeglik’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Paulus ‘getuig deeglik’
  • ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Paulus het “God gedank en moed geskep” (Handelinge 28:14, 15)
  • ‘Oral word daarteen gepraat’ (Handelinge 28:16-22)
  • Paulus ‘getuig deeglik’—’n Voorbeeld vir ons (Handelinge 28:23-29)
  • Paulus ‘verkondig die koninkryk van God’ (Handelinge 28:30, 31)
  • Paulus in Rome
    My boek met Bybelverhale
  • Wees moedig – Jehovah is jou Helper
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Verkondig Jehovah se koninkryk met vrymoedigheid!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
bt hfst. 27 bl. 211-217

Hoofstuk 27

Paulus ‘getuig deeglik’

Paulus hou aan preek terwyl hy ’n gevangene in Rome is

Gebaseer op Handelinge 28:11-31

1. In wie stel Paulus en sy metgeselle hulle vertroue, en waarom?

’N SKIP met die boegbeeld “Seuns van Zeus”, waarskynlik ’n groot graanskip, seil van die Mediterreense eiland Malta na Italië. Dit is omstreeks 59 HJ. Aan boord is die apostel Paulus—’n gevangene onder geleide—en mede-Christene Lukas en Aristargus (Hand. 27:2). In teenstelling met die skeepsbemanning vertrou hierdie evangeliedienaars nie op die seuns van die Griekse god Zeus—die tweelingbroers Kastor en Polluks—vir beskerming nie (Hand. 28:11, vtn. in NW). Inteendeel, Paulus en sy metgeselle dien Jehovah, wat geopenbaar het dat Paulus in Rome oor die waarheid sou getuig en voor die keiser sou staan.—Hand. 23:11; 27:24.

2, 3. Watter roete volg Paulus se skip, en watter ondersteuning het hy van die begin af geniet?

2 Drie dae nadat hulle aangedoen het by Sirakuse, ’n pragtige Sisiliaanse stad wat byna net so vernaam was soos Atene en Rome, vertrek die skip na Regium, in die suide van Italië. Daarna help ’n suidewind die vaartuig om die 320 kilometer na die Italiaanse hawe Puteoli (naby hedendaagse Napels) vinniger as gewoonlik af te lê, en dit kom binne twee dae daar aan.—Hand. 28:12, 13.

3 Paulus is nou op die laaste skof van sy reis na Rome, waar hy voor keiser Nero sal verskyn. Van die begin tot die einde was “die God van alle vertroosting” met Paulus (2 Kor. 1:3). Soos ons sal sien, neem hierdie ondersteuning nie af nie en verloor Paulus ook nie sy ywer as ’n sendeling nie.

Paulus het “God gedank en moed geskep” (Handelinge 28:14, 15)

4, 5. (a) Hoe is daar in Puteoli aan Paulus en sy metgeselle gasvryheid betoon, en waarom is hy dalk soveel vryheid gegee? (b) Hoe strek Christene se goeie gedrag hulle tot voordeel, selfs wanneer hulle in die tronk is?

4 By Puteoli het Paulus en sy metgeselle “broers gevind en is [hulle] dringend versoek om sewe dae by hulle te bly” (Hand. 28:14). Wat ’n wonderlike voorbeeld van Christelike gasvryheid! Die geestelike aanmoediging wat hierdie broers van Paulus en sy metgeselle ontvang het, het hulle ongetwyfeld dubbel en dwars vergoed vir hulle gasvryheid. Maar waarom is ’n gevangene onder bewaking soveel vryheid gegee? Moontlik omdat die apostel die volle vertroue van sy Romeinse wagte gewen het.

5 Jehovah se knegte word vandag ook weens hulle Christelike gedrag dikwels spesiale vryhede en voorregte toegestaan wanneer hulle in tronke en konsentrasiekampe is. Byvoorbeeld, in Roemenië het ’n man wat 75 jaar tronkstraf vir roof uitgedien het, God se Woord begin studeer en ’n merkwaardige verandering in persoonlikheid ondergaan. As gevolg hiervan het die tronkowerheid hom aangestel om artikels vir die tronk in die dorp te gaan koop—sonder polisiebewaking! Bowenal verheerlik ons goeie gedrag natuurlik Jehovah.—1 Pet. 2:12.

6, 7. Hoe het die Romeinse broers uitsonderlike liefde betoon?

6 Van Puteoli af het Paulus en sy metgeselle waarskynlik ongeveer 50 kilometer geloop na Kapua op die Appiese Weg, wat na Rome lei. Hierdie welbekende pad, geplavei met groot, plat lawablokke, het ’n pragtige uitsig gebied oor die Italiaanse landskap en, op sekere plekke langs die roete, oor die Middellandse See. Die pad het reisigers ook gelei deur die Pontynse moerasse, ’n moerasgebied wat ongeveer 60 kilometer van Rome af was en waar die Mark van Appius geleë was. Toe die broers in Rome “die nuus oor ons hoor”, het Lukas geskryf, het party tot by die Mark gekom, terwyl ander by die Drie Herberge gewag het, ’n oornagplek sowat 50 kilometer van Rome af. Watter uitsonderlike liefde!—Hand. 28:15.

7 Die Mark van Appius het nie veel geriewe gebied vir ’n reisiger wat ná ’n vermoeiende reis ’n blaaskans nodig gehad het nie. Die Romeinse digter en satirikus Horatius beskryf die Mark as ’n plek wat “stampvol matrose en nors herbergiers” was. Hy het geskryf dat “die water ontsettend vuil was”. En hy het selfs geweier om daar te eet! Maar die afvaardiging uit Rome was, ten spyte van al die ongerief, bereid om daar vir Paulus en sy metgeselle te wag sodat hulle hulle veilig op die laaste skof van hulle reis kon vergesel.

8. Waarom het Paulus God gedank toe hy sy broers “sien”?

8 “Toe Paulus [sy broers] sien”, sê die verslag, “het hy God gedank en moed geskep” (Hand. 28:15). Ja, die blote feit dat die apostel hierdie geliefdes gesien het, van wie hy party dalk persoonlik geken het, het hom versterk en bemoedig. Waarom het Paulus God gedank? Hy het geweet dat onselfsugtige liefde ’n aspek van die vrug van die gees is (Gal. 5:22). Vandag word Christene eweneens deur die heilige gees beweeg om opofferinge vir mekaar te maak en om dié wat dit nodig het, te vertroos.—1 Tess. 5:11, 14.

9. Hoe kan ons dieselfde gees weerspieël as die broers wat Paulus gaan ontmoet het?

9 Heilige gees beweeg gewilliges van hart byvoorbeeld om gasvryheid te betoon aan reisende opsieners, besoekende sendelinge en ander voltydse dienaars, van wie talle groot opofferinge gemaak het om Jehovah in groter mate te dien. Vra jou af: ‘Kan ek meer doen om die besoek van die kringopsiener te ondersteun deur moontlik gasvryheid te betoon aan hom en sy vrou, as hy getroud is? Kan ek reël om saam met hulle in die bediening te werk?’ Dit kan vir jou ’n ryk seën meebring. Stel jou byvoorbeeld die vreugde van die Romeinse broers voor terwyl hulle geluister het hoe Paulus en sy metgeselle hulle van hulle talle opbouende ondervindinge vertel.—Hand. 15:3, 4.

‘Oral word daarteen gepraat’ (Handelinge 28:16-22)

10. Wat was Paulus se omstandighede in Rome, en wat het die apostel kort ná sy aankoms gedoen?

10 Toe die groep reisigers uiteindelik in Rome aankom, “is Paulus toegelaat om op sy eie te woon met die soldaat wat hom bewaak het” (Hand. 28:16). ’n Gevangene wat nie onder streng bewaking gehou is nie, is gewoonlik met ’n ketting aan sy wag geboei om te voorkom dat hy ontsnap. Maar Paulus was ’n Koninkryksverkondiger, en ’n ketting sou hom beslis nie laat stilbly nie. Nadat hy homself net drie dae gegun het om van sy reis te herstel, het hy dus die vernaamste manne onder die Jode in Rome bymekaargeroep om hom aan hulle voor te stel en ’n getuienis te gee.

11, 12. Hoe het Paulus, toe hy met sy mede-Jode gepraat het, enige vooroordeel uit die weg probeer ruim?

11 “Manne, broers”, het Paulus gesê, “hoewel ek niks teen die volk of die gebruike van ons voorvaders gedoen het nie, is ek as ’n gevangene uit Jerusalem in die hande van die Romeine oorgelewer. En dié wou my vrylaat nadat hulle ondersoek ingestel het, aangesien daar geen grond vir die dood in my was nie. Maar toe die Jode aangehou het om daarteen beswaar te maak, was ek verplig om my op die keiser te beroep, maar nie asof ek enigiets gehad het om my nasie van te beskuldig nie.”—Hand. 28:17-19.

12 Deur sy Joodse toehoorders as “broers” aan te spreek, het Paulus probeer om gemeenskaplike grond met hulle te vind en enige vooroordeel wat hulle dalk gehad het, uit die weg te ruim (1 Kor. 9:20). Hy het dit ook duidelik gemaak dat hy nie daar was om ’n beskuldigende vinger na sy mede-Jode te wys nie, maar om hom op die keiser te beroep. Paulus se beroep op die keiser was egter nuus vir die plaaslike Joodse gemeenskap (Hand. 28:21). Waarom het die Jode in Judea skynbaar nagelaat om hulle hiervan in kennis te stel? Een naslaanwerk sê: “Paulus se skip was heel moontlik een van die eerstes wat ná die winter in Italië aangekom het, en verteenwoordigers van die Joodse owerheid in Jerusalem, of ’n brief oor die saak, kon nog nie daar aangekom het nie.”

13, 14. Hoe het Paulus die Koninkrykstema ingelei, en hoe kan ons sy voorbeeld volg?

13 Hierna het Paulus die Koninkrykstema ingelei deur iets te sê wat sekerlik die nuuskierigheid van sy Joodse gaste sou prikkel. Hy het gesê: “Daarom het ek dan dringend versoek om julle te sien en met julle te praat, want ek het hierdie ketting om my weens die hoop van Israel” (Hand. 28:20). Daardie hoop was natuurlik ten nouste verbonde met die Messias en sy Koninkryk, soos deur die Christengemeente verkondig is. “Ons dink dat dit gepas is om by jou te hoor wat jy dink”, het die Joodse ouer manne geantwoord, “want waarlik, wat hierdie sekte betref, ons weet dat daar oral daarteen gepraat word.”—Hand. 28:22.

14 Wanneer ons die geleentheid het om die goeie nuus bekend te maak, kan ons Paulus navolg deur gedagteprikkelende stellings of vrae te gebruik om die belangstelling van ons toehoorders te wek. Ons kan uitstekende wenke vind in publikasies soos Redenering uit die Skrif en Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool. Maak jy goeie gebruik van hierdie Bybelstudiehulpe?

Paulus ‘getuig deeglik’—’n Voorbeeld vir ons (Handelinge 28:23-29)

15. Watter vier dinge is opvallend omtrent Paulus se getuienis?

15 Op die afgesproke dag het die plaaslike Jode “in groter getalle” na Paulus se verblyfplek gekom. Paulus het sake aan hulle verduidelik “deur deeglik aangaande die koninkryk van God te getuig en deur aan die hand van die wet van Moses asook die Profete met oorredingskrag met hulle oor Jesus te praat, van die oggend tot die aand” (Hand. 28:23). Vier dinge is opvallend in verband met Paulus se getuienis. Eerstens, hy het die aandag op God se Koninkryk gevestig. Tweedens, hy het sy toehoorders se hart probeer bereik deur “met oorredingskrag . . . te praat”. Derdens, hy het uit die Skrif geredeneer. Vierdens, hy het ’n selfopofferende gesindheid aan die dag gelê deur “van die oggend tot die aand” te getuig. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons! Wat was die resultaat? “Party het . . . begin glo”, maar ander het nie. Dit het tot onenigheid gelei, en die mense het “begin weggaan”, vertel Lukas.—Hand. 28:24, 25a.

16-18. Waarom het die negatiewe reaksie van die Romeinse Jode Paulus nie verbaas nie, en hoe moet ons daaroor voel wanneer ons boodskap verwerp word?

16 Hierdie reaksie het Paulus nie verbaas nie, want dit was in ooreenstemming met Bybelprofesie en het ’n patroon gevolg waarmee hy bekend was (Hand. 13:42-47; 18:5, 6; 19:8, 9). Gevolglik het Paulus vir die onontvanklike gaste wat weggegaan het, gesê: “Die heilige gees het gepas deur middel van die profeet Jesaja tot julle voorvaders gespreek en gesê: ‘Gaan na hierdie volk toe en sê: “Wanneer julle hoor, sal julle hoor, maar hoegenaamd nie verstaan nie; en wanneer julle kyk, sal julle kyk, maar hoegenaamd nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het onontvanklik geword”’” (Hand. 28:25b-27). Die woord in die oorspronklike taal wat met “onontvanklik” vertaal word, dui op ’n hart wat “dik (vet) geword” het, sodat die Koninkryksboodskap nie kan deurdring nie (Hand. 28:27, vtn. in NW). Wat ’n tragiese situasie!

17 In teenstelling met sy Joodse toehoorders sal “die nasies . . . beslis daarna luister”, het Paulus ten slotte gesê (Hand. 28:28; Ps. 67:2; Jes. 11:10). Die apostel kon inderdaad met gesag oor hierdie onderwerp praat, want hy het persoonlik gesien dat baie nie-Jode op die Koninkryksboodskap gereageer het!—Hand. 13:48; 14:27.

18 Laat ons, soos Paulus, dit nie as ’n persoonlike belediging beskou wanneer mense die goeie nuus verwerp nie. Ons weet immers dat betreklik min mense die pad na die lewe sal vind (Matt. 7:13, 14). Maar laat ons ons verheug wanneer dié met die regte gesindheid ’n standpunt vir ware aanbidding inneem en hulle hartlik verwelkom.—Luk. 15:7.

Paulus ‘verkondig die koninkryk van God’ (Handelinge 28:30, 31)

19. Hoe het Paulus sy omstandighede ten beste benut?

19 Lukas sluit sy verhaal op ’n waarlik positiewe en hartlike noot af en sê: “[Paulus het] ’n volle twee jaar lank in sy eie gehuurde huis gebly, en hy het almal wat na hom toe ingekom het, vriendelik ontvang en die koninkryk van God aan hulle verkondig en die dinge aangaande die Here Jesus Christus geleer met die grootste vrymoedigheid van spraak, sonder enige verhindering” (Hand. 28:30, 31). Wat ’n voortreflike voorbeeld van gasvryheid, geloof en ywer!

20, 21. Noem ’n paar voorbeelde van dié wat by Paulus se bediening in Rome baat gevind het.

20 Een van dié aan wie Paulus gasvryheid betoon het, was ’n man met die naam Onesimus, ’n wegloperslaaf uit Kolosse. Paulus het Onesimus gehelp om ’n Christen te word, en op sy beurt het Onesimus ’n “getroue en geliefde broer” vir Paulus geword. Trouens, Paulus het hom beskryf as “my kind, vir wie ek . . . ’n vader geword het” (Kol. 4:9; Filem. 10-12). Wat ’n aanmoediging was Onesimus tog vir Paulus!a

21 Daar was ook ander wat by Paulus se uitstekende voorbeeld baat gevind het. Vir die Filippense het hy geskryf: “My aangeleenthede [het] eerder op die vooruitgang van die goeie nuus as op iets anders uitgeloop . . . , sodat my boeie in verbintenis met Christus algemeen bekend geword het onder die hele pretoriaanse wag en al die ander; en die meeste van die broers in die Here lê al hoe meer moed aan die dag om die woord van God onbevrees te spreek, omdat hulle weens my gevangenisboeie vertroue gekry het.”—Fil. 1:12-14.

22. Hoe het Paulus sy gevangenskap in Rome benut?

22 Paulus het sy gevangenskap in Rome benut deur belangrike briewe te skryf wat nou deel is van die Christelike Griekse Geskrifte.b Interessant genoeg, in sy brief aan die Efesiërs het Paulus die voorbeeld van Romeinse wapenrusting gebruik om ’n Christen se geestelike wapenrusting te illustreer (Ef. 6:11-17). Dalk het hy hieraan gedink terwyl hy gekyk het na die soldaat wat hom bewaak het (Hand. 28:16). Wat is die les vir ons? As ons oplettend is, kan ons dikwels goeie illustrasies in dinge om ons vind.

23, 24. Hoe het talle hedendaagse Christene soos Paulus ’n positiewe gesindheid aan die dag gelê, al is hulle ten onregte in die tronk gegooi?

23 Teen die tyd van sy vrylating, wat nie in Handelinge genoem word nie, was Paulus al omtrent vier jaar in aanhouding—twee in Sesarea en twee in Rome (Hand. 23:35; 24:27).c Maar hy het ’n positiewe uitkyk behou en soveel as moontlik in God se diens gedoen. Vandag het baie van Jehovah se knegte, hoewel hulle weens hulle geloof ten onregte in die tronk gegooi is, ook hulle vreugde behou en aangehou preek. Dink aan die voorbeeld van Adolfo, wat in Spanje in die tronk was weens sy Christelike neutraliteit. “Jy verbaas ons”, het een offisier gesê. “Ons het jou lewe probeer versuur, en hoe erger ons dit gemaak het, hoe meer het jy geglimlag en iets vriendeliks gesê.”

24 Mettertyd het hulle Adolfo soveel vertrou dat hulle sy seldeur oopgelaat het. Soldate het hom besoek om hom oor die Bybel uit te vra. Een van die wagte het selfs na Adolfo se sel gekom om die Bybel te lees, terwyl Adolfo wag gehou het. Die gevangene het dus die wag “bewaak”! Mag die goeie voorbeeld van sulke getroue Getuies ons beweeg om selfs onder moeilike omstandighede “al hoe meer moed aan die dag [te lê] om die woord van God onbevrees te spreek”.

25, 26. Watter verstommende profesie het Paulus binne 30 jaar in vervulling sien gaan, en hoe vergelyk dit met ons dag?

25 ’n Apostel van Christus onder huisarres wat “die koninkryk van God . . . verkondig” aan almal wat hom besoek—wat ’n bemoedigende slot tot die dinamiese boek Handelinge! In die eerste hoofstuk het ons die opdrag gelees wat Jesus aan sy volgelinge gegee het toe hy gesê het: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Nou, minder as 30 jaar later, is die Koninkryksboodskap verkondig “in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kol. 1:23).d Wat ’n bewys van die krag van God se gees!—Sag. 4:6.

26 Vandag gee daardie selfde gees die oorblywendes van Christus se broers, sowel as hulle metgeselle, die “ander skape”, die krag om in meer as 230 lande aan te hou om “deeglik aangaande die koninkryk van God te getuig”! (Joh. 10:16; Hand. 28:23). Het jy ’n volle aandeel aan hierdie werk?

[Voetnote]

a Paulus wou Onesimus graag by hom hou, maar dit sou in stryd wees met die Romeinse reg en inbreuk maak op die regte van Onesimus se heer, die Christen Filemon. Daarom het Onesimus na Filemon teruggegaan en ’n brief van Paulus saam met hom geneem wat Filemon aangespoor het om sy slaaf vriendelik te ontvang, as ’n geestelike broer.—Filem. 13-19.

b Sien die venster “Die vyf briewe wat Paulus tydens sy eerste gevangenskap in Rome geskryf het”, op bladsy 212.

c Sien die venster “Paulus se lewe ná 61 HJ”, op bladsy 214.

d Sien die venster “Die goeie nuus word ‘in die hele skepping’ verkondig”.

[Venster op bladsy 212]

DIE VYF BRIEWE WAT PAULUS TYDENS SY EERSTE GEVANGENSKAP IN ROME GESKRYF HET

Vyf van die apostel Paulus se briewe is omstreeks 60-61 HJ, tydens sy eerste gevangenskap in Rome, geskryf. In die brief aan Filemon, ’n medegelowige, verduidelik Paulus dat Filemon se wegloperslaaf Onesimus ’n Christen geword het. Paulus was Onesimus se geestelike vader en hy het die slaaf “wat vroeër . . . nutteloos was”, as ’n Christenbroer na sy eienaar teruggestuur.—Filem. 10-12, 16.

In sy brief aan die Kolossense sê Paulus dat Onesimus “uit [hulle] midde” was (Kol. 4:9). Onesimus en sy mede-Christen Tigikus het die voorreg gehad om albei die voorgenoemde briewe sowel as die een wat Paulus aan die Efesiërs geskryf het, af te lewer.—Ef. 6:21.

Toe hy aan die Filippense geskryf het, het Paulus melding gemaak van sy “gevangenisboeie” en weer eens oor die situasie van die briewedraer gepraat—dié keer Epafroditus. Die Filippense het Epafroditus gestuur om Paulus te help. Maar Epafroditus het tot die dood toe siek geword. Hy het ook terneergedruk geraak omdat die Filippense “gehoor het dat hy siek geword het”. Paulus het dus vir hulle gesê om “sulke manne” te waardeer.—Fil. 1:7; 2:25-30.

Die brief aan die Hebreërs is aan die Hebreeuse Christene in Judea geskryf. Hoewel die brief nie spesifiek noem wie die skrywer is nie, is daar bewyse dat dit Paulus was. Dit is in sy skryfstyl. Paulus stuur groete uit Italië, en hy maak melding van Timoteus, wat saam met hom in Rome was.—Fil. 1:1; Kol. 1:1; Filem. 1; Heb. 13:23, 24.

[Venster op bladsy 214]

PAULUS SE LEWE NÁ 61 HJ

Paulus het waarskynlik omstreeks 61 HJ voor keiser Nero verskyn, wat hom blykbaar onskuldig verklaar het. Ons weet nie veel van die apostel se bedrywighede daarna nie. As hy sy beplande reis na Spanje onderneem het, sou dit gedurende hierdie tyd gewees het (Rom. 15:28). Paulus het “tot by die verste grens van die W[este]” gereis, het Klemens van Rome omstreeks 95 HJ geskryf.

Uit Paulus se drie briewe wat uit die tydperk ná sy vrylating dateer—1 en 2 Timoteus en Titus—leer ons dat Paulus Kreta, Masedonië, Nikopolis en Troas besoek het (1 Tim. 1:3; 2 Tim. 4:13; Tit. 1:5; 3:12). Hy is moontlik in Nikopolis, Griekeland, weer in hegtenis geneem. Hoe dit ook al sy, omstreeks 65 HJ was hy weer in Rome in die tronk. Maar dié keer het Nero geen genade betoon nie. Trouens, toe ’n brand die stad in 64 HJ verwoes het, het Nero—volgens die Romeinse geskiedskrywer Tacitus—die Christene valslik daarvan beskuldig en ’n wrede vervolgingsveldtog aan die gang gesit.

In sy tweede brief aan Timoteus het Paulus, wat verwag het dat hy binnekort tereggestel sou word, Timoteus en Markus gevra om gou na hom toe te kom. Die moed van Lukas en Onesiforus, wat hulle lewe gewaag het om Paulus te bemoedig, is opmerkenswaardig (2 Tim. 1:16, 17; 4:6-9, 11). Trouens, as ’n persoon in die openbaar gesê het dat hy ’n Christen is, kon dit tot inhegtenisname en ’n marteldood lei. Paulus het waarskynlik ’n marteldood gesterf kort nadat hy in ongeveer 65 HJ sy laaste brief aan Timoteus geskryf het. Na bewering het Nero omtrent drie jaar ná Paulus se marteldood self ’n gewelddadige dood gesterf.

[Venster op bladsy 217]

DIE GOEIE NUUS WORD “IN DIE HELE SKEPPING” VERKONDIG

Omstreeks 61 HJ, terwyl die apostel Paulus ’n gevangene in Rome was, het hy geskryf dat die “goeie nuus . . . verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kol. 1:23). Hoe moet ons hierdie woorde verstaan?

Paulus het blykbaar in breë trekke beskryf hoe ver die “goeie nuus” al versprei het. Byvoorbeeld, in die vierde eeu VHJ het Aleksander die Grote Asië binnegedring tot by die grense van Indië. Julius Caesar het Brittanje in 55 VHJ binnegeval, en Claudius het die suidelike deel van daardie eiland onderwerp en dit in 43 HJ deel van die Romeinse Ryk gemaak. Die Verre-Ooste was ook bekend, want dit was ’n bron van fyn sy.

Is die goeie nuus in Brittanje, China en die Verre-Ooste verkondig? Waarskynlik nie. Trouens, toe Paulus aan die Kolossense geskryf het, het hy nog nie die doelwit bereik wat hy in 56 HJ genoem het, naamlik om in die destyds “ongedekte gebied” van Spanje te preek nie (Rom. 15:20, 23, 24). Nietemin was die Koninkryksboodskap teen omstreeks 61 HJ oor ’n groot gebied bekend. Op die allerminste het dit versprei tot in die tuislande van die Jode en proseliete wat op Pinkster 33 HJ gedoop is, sowel as na die lande wat deur Jesus se apostels besoek is.—Hand. 2:1, 8-11, 41, 42.

    Afrikaanse publikasies (1975-2023)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2023 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel