HOOFSTUK SES
“Gehoorsaam asseblief die stem van Jehovah”
1, 2. Watter gesindheid het diegene wat “die gewilde weg” volg dikwels, en waarom moet jy anders wees?
GEHOORSAAMHEID is nie in vandag se wêreld in die mode nie. Baie mense neem nie besluite volgens selfs ’n algemene riglyn, soos ‘Doen wat reg is’ nie. Hulle denke kan eerder opgesom word as ‘Doen wat jy wil’ of ‘Kyk waarmee jy kan wegkom’. Jy kan dit sien wanneer bestuurders verkeerstekens verontagsaam, beleggers finansiële wette oortree en hoë amptenare wette verbreek wat hulle moontlik self help maak het. Om so “die gewilde weg” te volg, selfs al is dit verkeerd of skadelik, was ook in Jeremia se dag algemeen.—Jer. 8:6.
2 Jy besef dat diegene wat die guns van God die Almagtige wil hê, nie maar net “die gewilde weg” moet volg nie. Dit is betekenisvol dat Jeremia dié wat ‘die stem van Jehovah nie gehoorsaam het nie’, gestel het teenoor dié wat Hom wou gehoorsaam (Jer. 3:25; 7:28; 26:13; 38:20; 43:4, 7). Elkeen van ons moet ontleed waar ons in hierdie opsig staan. Waarom? Satan se aanvalle op die onkreukbaarheid van ware aanbidders het baie hewig geword. Hy is soos ’n slang wat stilletjies vir sy prooi lê en wag en dan skielik aanval met ’n pik wat dodelik kan wees. Ons vasbeslotenheid om die stem van Jehovah te gehoorsaam, help ons om van die giftande van hierdie slang af weg te beweeg. Maar hoe kan ons meer vasbeslote word om Jehovah te gehoorsaam? Die geskrifte van Jeremia kan ons help.
DIE EEN AAN WIE ONS GEHOORSAAMHEID VERSKULDIG IS
3. Waarom verdien Jehovah ons gehoorsaamheid?
3 Waarom verdien Jehovah ons nougesette gehoorsaamheid? Jeremia openbaar een rede deur te sê: “Hy is die Maker van die aarde deur sy krag, die Een wat die vrugbare land stewig gevestig het deur sy wysheid” (Jer. 10:12). Jehovah is die Soewerein van die heelal. Ons moet hom meer as alle ander heersers vrees. Hy het die absolute reg om van ons te verwag om gehoorsaam te wees aan sy wyse bevele, wat ons in werklikheid vir ewig tot voordeel sal strek.—Jer. 10:6, 7.
4, 5. (a) Watter waarheid het die Jode in tye van droogte geleer? (b) Hoe het Juda se inwoners “lewende water” van Jehovah vermors? (c) Hoe kan jy “lewende water” drink wat deur God voorsien word?
4 Jehovah is egter nie net die Universele Heerser nie; hy is ook die Onderhouer van lewe—ons lewe. Dit is op dramatiese wyse aan die Jode van Jeremia se tyd duidelik gemaak. Egipteland was baie afhanklik van die waters van ’n rivier, die Nyl, maar die situasie was anders in die Beloofde Land. God se volk was in ’n groot mate afhanklik van seisoenale reën en het dikwels afvloeiwater in ondergrondse reënputte opgegaar (Deut. 11:13-17). Net Jehovah kon reën stuur om die grond nat te maak sodat dit ’n opbrengs sou lewer. Maar hy kon ook die nodige reën terughou. Ongehoorsame Jode in Jeremia se dag het dus ’n reeks verwoestende droogtes ondervind wat hulle lande en wingerde laat verdor het en hulle putte en reënputte laat opdroog het.—Jer. 3:3; 5:24; 12:4; 14:1-4, 22; 23:10.
5 Hoewel daardie Jode letterlike water as kosbaar beskou het, het hulle die “lewende water” verwerp wat Jehovah hulle vryelik aangebied het. Hulle het dit gedoen deur opsetlik aan God se Wet ongehoorsaam te wees en deur op bondgenootskappe met omliggende nasies te vertrou. Soos diegene wat in tye van waterskaarste water in ’n reënput gooi wat gekraak is en nie die water kan hou nie, het die Jode die gevolge gedra. (Lees Jeremia 2:13; 17:13.) Ons het beslis rede om nie groot rampspoed oor ons te bring deur ’n soortgelyke weg te volg nie. Jehovah voorsien ons steeds van oorvloedige leiding wat op sy geïnspireerde Woord gebaseer is. Ons vind natuurlik net by hierdie “lewende water” baat as ons dit gereeld bestudeer en daarna streef om daarvolgens te lewe.
6. (a) Beskryf koning Sedekia se gesindheid teenoor gehoorsaamheid aan Jehovah. (b) Waarom dink jy dat die koning onverstandig was?
6 Namate God se dag van afrekening met Juda nader gekom het, het gehoorsaamheid al hoe belangriker geword. As individuele Jode Jehovah se guns en beskerming wou ontvang, moes hulle berou hê en hom begin gehoorsaam. Koning Sedekia het voor hierdie besluit te staan gekom. Hy het nie ferm standpunt ingeneem vir wat reg is nie. Toe sy ondergeskiktes vir hom gesê het dat hulle Jeremia wou doodmaak, het hy nie die ruggraat gehad om hulle teë te staan nie. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, het die profeet die aanslag op sy lewe met die hulp van Ebed-Meleg oorleef en het hy Sedekia later aangespoor: “Gehoorsaam asseblief die stem van Jehovah.” (Lees Jeremia 38:4-6, 20.) Dit is duidelik dat die koning vir sy eie beswil moes besluit: Sal hy God gehoorsaam?
Waarom was dit vir Jeremia gepas om die Jode herhaaldelik aan te spoor om God te gehoorsaam?
GEHOORSAAMHEID AAN JEHOVAH IS ’N DRINGENDE SAAK
7. Wat is van die situasies waarin jou gehoorsaamheid getoets kan word?
7 Gehoorsaamheid is vandag net so belangrik as wat dit in Jeremia se dag was. Hoe vasbeslote is jy om Jehovah te gehoorsaam? Sal jy, as jy per ongeluk aan ’n pornografiese webwerf op die Internet blootgestel word, daarna bly kyk of sal jy teen enige versoeking stry en daardie webwerf verlaat? Sê nou ’n ongelowige by die werk of skool vra jou om saam met hom of haar uit te gaan? Sal jy sterk genoeg wees om te weier? Sal afvalliges se lektuur of Internetwebwerwe jou nuuskierigheid wek of jou afstoot? In hierdie en ander situasies moet jy die woorde van Jeremia 38:20 in gedagte hou.
8, 9. (a) Waarom is dit verstandig om te luister wanneer die ouer manne jou probeer help? (b) Hoe moet jy herhaalde raad van die ouer manne beskou?
8 Jehovah het Jeremia dikwels na Sy volk gestuur met aansporings soos: “Keer asseblief terug, elkeen van sy slegte weg, en maak julle weë en julle handelinge goed.” (Jer. 7:3; 18:11; 25:5; lees Jeremia 35:15.) Vandag doen Christen- ouer manne eweneens hulle bes om medegelowiges te help wat in geestelike gevaar verkeer. As die ouer manne jou die een of ander tyd raad gee om ’n onverstandige of verkeerde weg te vermy, moet jy na hulle luister. Hulle het dieselfde doelwit as Jeremia.
9 Die ouer manne sal jou dalk herinner aan Bybelbeginsels wat hulle alreeds onder jou aandag gebring het. Jy moet besef dat dit nooit maklik is om raad te herhaal nie, maar dat dit baie moeiliker raak as die persoon wat die hulp nodig het, ’n gesindheid openbaar soos dié van baie van die Jode wat Jeremia gehoor het. Probeer om die ouer manne se herhaalde pogings om jou te help, as ’n blyk van Jehovah se liefde te beskou. Jy moet ook besef dat dit nie vir Jeremia nodig sou gewees het om sy waarskuwings te herhaal as daar vroeër ’n gepaste reaksie was nie. Ja, die manier om herhaalde raad te vermy, is om die raad sonder versuim toe te pas.
JEHOVAH VERGEWE VRYELIK, MAAR NIE OUTOMATIES NIE
10. Waarom vergewe Jehovah sondes nie outomaties nie?
10 Ons kan Jehovah nie in hierdie stelsel van dinge volmaak gehoorsaam nie, ongeag hoe hard ons probeer. Ons dank hom dus dat hy bereid is om ons tekortkominge te vergewe. Maar hy vergewe sondes nie outomaties nie. Waarom nie? Omdat sonde vir Jehovah weersinwekkend is (Jes. 59:2). Hy wil derhalwe seker wees dat ons sy vergifnis waardig is.
11. Waarom is dit onmoontlik om geheime sondes weg te steek?
11 Soos ons gesien het, was baie Jode in Jeremia se tyd oor die algemeen ongehoorsaam aan God en het hulle dus van sy geduld en barmhartigheid misbruik gemaak. Kan een van God se hedendaagse knegte ’n soortgelyke neiging ontwikkel? Ja, as hy of sy Jehovah se herinneringe ignoreer en sonde begin beoefen. In sommige gevalle het dit openlik plaasgevind, soos wanneer iemand ’n owerspelige huwelik aangaan. Maar selfs as ’n sonde nie deur ander mense gesien word nie, is die een wat aan Jehovah ongehoorsaam is, op ’n gevaarlike weg. Iemand wat ’n dubbele lewe lei, dink dalk: ‘Niemand sal uitvind nie.’ Maar die werklikheid is dat God verstande en harte ondersoek, en hy kan sien wat agter geslote deure plaasvind. (Lees Jeremia 32:19.) Wat moet gedoen word as iemand wel aan God ongehoorsaam was?
12. Wat moet die ouer manne soms doen om die gemeente te beskerm?
12 Baie Jode het die hulp versmaai wat Jehovah keer op keer deur middel van Jeremia aangebied het. Net so kan iemand wat hom vandag aan ernstige sonde skuldig gemaak het, onberouvol wees en die hulp van die ouer manne verwerp. In so ’n geval moet die ouer manne die skriftuurlike voorskrif volg om die gemeente te beskerm deur die oortreder uit te sit. (1 Kor. 5:11-13; sien die venster “Die lewe sonder wet”, op bladsy 73.) Maar beteken dit dat daar vir ewig geen hoop vir hom of haar sal wees nie, dat hy of sy nooit weer Jehovah se guns sal kan geniet nie? Nee. Die Israeliete was lank opstandig; tog het God gesê: “Keer terug, julle afvallige kinders. Ek sal julle afvallige toestand genees” (Jer. 3:22).a Jehovah nooi oortreders om tot hom terug te keer. Trouens, hy beveel hulle om dit te doen.
Waarom is dit verstandig om God se vergifnis te vra wanneer ons sondig?
GEHOORSAAM JEHOVAH DEUR TOT HOM TERUG TE KEER
13. Wat moet iemand erken as hy tot Jehovah wil terugkeer?
13 Soos Jeremia getoon het, moet iemand wat tot God wil terugkeer, hom afvra: ‘Wat het ek gedoen?’ Dan moet hy, in die lig van die Bybel se standaarde, die eerlike antwoord aanvaar. Die onberouvolle Jode van Jeremia se tyd het hierdie vraag ontwyk. Hulle het geweier om die omvang van hulle sondes te erken, en daarom het—en kon—Jehovah hulle nie vergewe nie. (Lees Jeremia 8:6.) In teenstelling hiermee erken ’n berouvolle sondaar dat hy, deur sy ongehoorsaamheid aan Jehovah, God se naam en die Christengemeente oneer aangedoen het. Iemand wat werklik berouvol is, is ook diep bedroef oor die leed wat hy onskuldige mense moontlik aangedoen het. Hy moet besef dat sy versoek om vergifnis net by Jehovah gewig sal dra as hy die volle gevolge van sy slegte dade erken. Maar om weer God se guns te verkry, behels meer.
14. Hoe kan iemand “tot Jehovah terugkeer”? (Sien ook die venster “Wat is berou?”)
14 Iemand wat werklik berouvol is, sal sy beweegredes, begeertes en gewoontes ondersoek. (Lees Klaagliedere 3:40, 41.) Hy sal gebiede van sy lewe in oënskou neem waar hy ’n swakheid openbaar, soos sy vriendskappe met die teenoorgestelde geslag, sy gebruik van alkohol of tabak, sy gebruik van die Internet of sy sakeaangeleenthede. Soos ’n huisvrou selfs die versteekte hoekies van haar kombuis skrop om haar huis skoon en higiënies te hou, moet ’n berouvolle persoon hard werk om sy gedagtes en verborge dade te reinig. Hy moet “tot Jehovah terugkeer” deur God se vereistes na te kom en aan Sy standaarde te voldoen. Party Jode in Jeremia se tyd het “valslik” tot Jehovah teruggekeer. Hulle het voorgegee dat hulle berouvol is, maar het nooit hulle hart of hulle lewe verander nie (Jer. 3:10). In teenstelling met hulle sal iemand wie se versoek om vergifnis opreg is, nie probeer om Jehovah en Sy gemeente om die bos te lei nie. In plaas van net sy aansien te wil red of weer met familielede of ander in die waarheid te wil assosieer, wil hy die oortredings wat hy begaan het, heeltemal die rug toekeer en God se vergifnis en guns verdien.
15. Watter soort gebede rig ’n waarlik berouvolle persoon tot God?
15 Gebed is ’n noodsaaklike deel van berou. In die ou tyd het mense dikwels hulle hande na die hemel opgehef wanneer hulle bid. Wanneer ’n waarlik berouvolle persoon vandag bid, ‘hef hy sy hart saam met sy palms tot God op’, soos Jeremia dit gestel het (Klaagl. 3:41, 42). Omdat hy spyt voel, word die berouvolle sondaar beweeg om in ooreenstemming met sy smeking om vergifnis op te tree. Sy gebede is opreg en kom diep uit sy hart.
16. Waarom is dit redelik om tot God terug te keer?
16 Jy besef ongetwyfeld dat ’n sondaar wat werklik sy oortredings erken, moontlik sy trots te bowe moet kom. Maar ’n belangrike feit is: Jehovah wil hê dat sondaars tot hom moet terugkeer. Wanneer God ware berou in ’n mensehart sien, reageer sy hart daarop. Hy word “onstuimig” met tere gevoelens omdat hy almal wil vergewe wat oor hulle sondes berou het, net soos hy die Israeliete vergewe het wat uit ballingskap teruggekeer het (Jer. 31:20). Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat God vrede en hoop in die vooruitsig stel vir dié wat hom gehoorsaam! (Jer. 29:11-14). Hulle kan weer eens ’n plek onder God se toegewyde knegte hê.
GEHOORSAAMHEID KAN JOU BESKERM
17, 18. (a) Wie was die Regabiete? (b) Waarvoor is hulle bekend, soos op bladsy 77 uitgebeeld word?
17 Nougesette gehoorsaamheid aan Jehovah is die veilige weg. Dit word deur die voorbeeld van die Regabiete in Jeremia se dag toegelig. Meer as twee eeue vroeër het hulle Kenitiese voorvader Jonadab, wat hom lojaal aan Jehu se kant geskaar het, hulle ’n aantal beperkende gebooie opgelê. Een was om nie wyn te drink nie. Hoewel Jonadab lank tevore gesterf het, het die Regabiete aan hom gehoorsaam gebly. As ’n toets het Jeremia hulle na ’n eetkamer in die tempel geneem, wyn voor hulle gesit en hulle aangespoor om te drink. Hulle het vir hom gesê: “Ons sal geen wyn drink nie.”—Jer. 35:1-10.
18 Vir die Regabiete was dit belangrik om hulle voorvader, wat al lank dood was, te gehoorsaam. Ware aanbidders moet die gebooie van die lewende God met selfs groter ywer gehoorsaam. Die Regabiete se vasbeslotenheid om gehoorsaam te wees, het Jehovah beïndruk, en dit het ’n skerp teenstelling gevorm met die Jode se ongehoorsaamheid. God het die Regabiete belowe dat hy hulle teen die komende rampspoed sou beskerm. As ons hierdie les op ons dag toepas, is dit dan nie redelik dat diegene wat Jehovah nougeset gehoorsaam, verseker is van sy beskerming gedurende die groot verdrukking nie?—Lees Jeremia 35:19.
Waarom is berou oor ernstige sonde ’n belangrike aspek van gehoorsaamheid? Hoe kan gehoorsaamheid ’n persoon help sodat dit nie vir hom nodig sal wees om berou te toon nie?
DIEGENE WAT JEHOVAH GEHOORSAAM, IS NIE ALLEEN NIE
19. Watter beskerming kan God jou gee as jy hom gehoorsaam?
19 Ons moenie dink dat God se beskermende sorg vir sy volk tot die verlede beperk is nie. Jehovah beskerm gehoorsames ook nou teen geestelike gevaar. Soos ’n hoë muur eertydse stede teen aanvalle beskerm het, beskerm God se wet diegene wat dit bestudeer en voortdurend toepas. Sal jy binne die beskermende muur van God se sedelike voorskrifte bly? As jy dit doen, kan jy seker wees dat dit met jou goed sal gaan (Jer. 7:23). Baie ondervindinge bevestig hierdie feit.—Sien die venster “Gehoorsaamheid aan Jehovah bied beskerming”.
20, 21. (a) Waarvan kan jy seker wees terwyl jy Jehovah dien? (b) Hoe het koning Jojakim gereageer op God se boodskap deur Jeremia?
20 Teenstanders maak dit moeilik om God te dien, hetsy hulle gesinslede, werks- of skoolmaats of gesagsfigure in jou omgewing is. Maar jy kan seker wees dat Jehovah jou in selfs die moeilikste situasies sal ondersteun as jy hom in alles nougeset gehoorsaam. Moenie vergeet nie—God het belowe om Jeremia te onderskraag tydens die hewige teenstand wat hy sou teëkom, en dit is presies wat Jehovah gedoen het. (Lees Jeremia 1:17-19.) Een van die kere toe God se steun duidelik was, was in die dae van koning Jojakim.
21 Min heersers van Israel het God se woordvoerders so verbete teëgestaan soos Jojakim. Ons kan dit sien in die geval van die profeet Uria, Jeremia se tydgenoot. Goddelose koning Jojakim was bereid om hom oor internasionale grense te laat agternasit. Toe Jehovah se profeet Uria teruggebring is, het die koning hom laat doodmaak (Jer. 26:20-23). In Jojakim se vierde regeringsjaar het Jehovah Jeremia beveel om al die woorde wat Hy tot op daardie stadium gespreek het, neer te skryf en dit dan in die tempel voor te lees. Jojakim het Jeremia se boekrol laat haal en dit deur ’n hofbeampte aan hom laat voorlees. Terwyl dit voorgelees is, het die koning die dokument stuk vir stuk opgeskeur en in ’n vuur gegooi, hoewel sommige van die vorste hom aangespoor het om dit nie te doen nie. Toe het hy manne gestuur om Jeremia en Barug in hegtenis te neem. Wat het gebeur? “Jehovah het hulle weggesteek.” (Jer. 36:1-6; lees Jeremia 36:21-26.) Jehovah het Jojakim nie toegelaat om hierdie twee getroue manne leed aan te doen nie.
22, 23. Wat leer jy uit die ondervinding van ’n Getuie in Sentraal-Asië oor God se onderskraging?
22 As Jehovah dit goeddink, kan hy sy hedendaagse knegte ook teen gevaar beskerm. Maar in die meeste gevalle gee hy hulle die moed en wysheid om hom te gehoorsaam en om met die verkondiging van die goeie nuus voort te gaan. ’n Enkelmoeder wat ons Gulistan sal noem, het vier kinders. Jehovah het haar onderskraag. Sy was ’n tyd lank die enigste Getuie in ’n groot gebied van Sentraal-Asië waar die owerheid die Koninkrykspredikingswerk teëstaan. Die naaste gemeente is meer as 400 kilometer van Gulistan af, en dus geniet sy selde die geselskap van ryp Christene. Ondanks teenstand en ander probleme preek sy van huis tot huis en vind sy baie belangstellendes. Volgens ’n onlangse verslag het sy met tot 20 mense Bybelstudies gehou en na ’n groeiende groep van Jehovah se skape omgesien.
23 Net soos God Jeremia en Getuies soos Gulistan gehelp het, is hy bereid om jou en sy ander gehoorsame knegte te help. Wees vasbeslote om eerder aan hom as Heerser gehoorsaam te wees as aan mense. Dan sal teenstand en ander struikelblokke jou nie verhinder om die enigste ware God in die openbaar voor die mense in julle gebied te loof nie.—Jer. 15:20, 21.
24. Watter voordele bring gehoorsaamheid nou vir jou mee?
24 Ons kan nie ware vreugde en tevredenheid in die lewe verkry as ons onafhanklik van ons Skepper lewe nie (Jer. 10:23). Sien jy, nadat jy bestudeer het wat Jeremia oor gehoorsaamheid geskryf het, maniere waarop jy Jehovah kan toelaat om jou voetstappe in voller mate te rig? Sy gebooie vorm die enigste gids vir die lewe wat tot volkome geluk en sukses lei. “Gehoorsaam my stem”, spoor Jehovah ons aan, “sodat dit met julle goed kan gaan.”—Jer. 7:23.
Hoe kan jy lesse oor gehoorsaamheid wat in die boek Jeremia gevind word, in jou verhouding met God toepas?
a Hier het Jehovah die noordelike koninkryk van Israel aangespreek. Die lede van daardie tienstammeryk was al sowat 100 jaar in ballingskap toe Jeremia sy boodskap verkondig het. Hy het erken dat dié nasie tot in sy dag nog geen berou getoon het nie (2 Kon. 17:16-18, 24, 34, 35). Individue kon nietemin weer God se guns verkry en selfs uit ballingskap terugkeer.