HOOFSTUK ELF
‘Herders na my hart’
1, 2. (a) Wat kan gebeur as ’n kudde skape nie beskerm word nie? (b) Wat het die werk van ’n herder in Bybeltye behels?
HIROJASOE was ’n seuntjie in Japan toe sy ma ’n ram en ’n ooi gekoop het. Hy het hulle opgepas, en die ooi het elke jaar twee lammers gehad; die kudde het dus groter geword. Teen die tyd dat hy 12 was, was daar 12 of 13 skape. “Vroeg een oggend, terwyl ek nog in die bed was”, vertel hy, “het ek hulle hoor blêr. Ek het nie onmiddellik uitgegaan nie. Toe ek uiteindelik uitgaan, het ek ’n trop wilde honde sien weghardloop van my lammers af, waarvan die pense oopgeskeur was. Ek het naarstig na die ooi gesoek. Ek het haar in ’n plas bloed gevind, waar sy nog asem gehaal het. Net die ram het dit oorleef. Ek was verpletter. Ek moes dadelik gaan kyk het of die kudde veilig is toe ek hulle gehoor het. Hulle was weerloos teen die honde.”
2 In Bybeltye het byna almal geweet wat die werk van ’n herder behels. Sy werk was om sy kudde na weivelde te lei en te verseker dat die diere in sy sorg goed gevoed is. Hy het hulle ook teen roofdiere beskerm en gaan soek na dié wat afgedwaal het (1 Sam. 17:34-36). Die herder het sy kudde laat lê om ongesteurd te rus. Hy het ook gehelp met die geboorte van die lammers en dan vir hulle gesorg. Baie Bybelskrywers, insluitende Jeremia, het die beeld van ’n herder gebruik om ’n man voor te stel wat die werk het om na mense om te sien, hetsy as hulle heerser of as hulle geestelike opsiener.
3. Waarna het Jeremia verwys toe hy die woorde “herder” en ‘herders wat lei’ gebruik het?
3 Party in die Christengemeente dink dalk net aan die ouer manne as herders wanneer hierdie manne hulle broers besoek om hulle te help en aan te moedig. Maar uit die manier waarop Jeremia die woorde “herder” en ‘herders wat lei’ gebruik het, kan ons sien dat hy dit toegepas het op alle aspekte van die verhouding tussen Juda se opsieners en die volk. God het die vorste, profete en priesters in Juda dikwels as slegte herders veroordeel omdat hulle nie die belange van die gewone mense op die hart gedra het nie (Jer. 2:8). Hulle het hulle “skape” mishandel, mislei en verwaarloos terwyl hulle hulle eie belange selfsugtig nagejaag het. God se volk was in ’n skokkende toestand van geestelike verwaarlosing. Jehovah het “wee” oor hierdie valse herders uitgespreek, en hy het sy volk verseker dat hy aan hulle liefdevolle, sorgsame herders sou gee wat die kudde werklik sou beskerm.—Lees Jeremia 3:15; 23:1-4.
4. Wie sien vandag na God se kudde om en met watter gees?
4 God se belofte het ’n groot vervulling gehad in die Hoofherder van Jehovah se skape, Jesus, wat die Hoof van die Christengemeente geword het. Hy het homself “die goeie herder” genoem, een wat ware medelye getoon het teenoor dié wat hy gelei het (Joh. 10:11-15). Vandag gebruik Jehovah onderherders om na sy aardse kudde om te sien, gesalfde broers van die “getroue en verstandige slaaf”-klas asook pligsgetroue ouer manne van die “groot menigte” (Op. 7:9). Hierdie herders streef daarna om Jesus se selfopofferende gees te weerspieël. Hulle wil die gemeente voed en koester, in navolging van Christus. Wee enigeen wat hulle broers verwaarloos of oor hulle baasspeel of wat ’n hardvogtige of aanmatigende gesindheid teenoor hulle aanneem! (Matt. 20:25-27; 1 Pet. 5:2, 3). Waarna soek Jehovah vandag in Christenherders? Wat kan ons leer uit Jeremia se geskrifte oor die gepaste gesindhede en beweegredes wat ouer manne moet hê terwyl hulle na hulle verantwoordelikhede omsien? Kom ons ondersoek hulle rolle as voorsieners van hulp en beskermende sorg, as onderrigters binne en buite die gemeente en as regters.
HULLE VOORSIEN BESKERMENDE SORG
5-7. (a) Op watter manier verwag Jehovah dat daar na sy skape omgesien moet word, en waarom? (b) Hoe kan ouer manne ware liefde toon vir hulle broers, insluitende dié wat afgedwaal het?
5 Die apostel Petrus het Jehovah “die herder en opsiener van [ons] siele” genoem (1 Pet. 2:25). Watter gesindheid openbaar God teenoor sy “skape”? Ons vind ’n antwoord deur terug te kyk na Jeremia se dag. Nadat Jehovah die slegte herders wat die kudde verstrooi en verwaarloos het, gekritiseer het, het hy gesê dat hy sy skape sou “bymekaarmaak” en hulle na hulle weiveld sou terugbring. Hy het belowe om goeie herders oor hulle aan te stel, ‘wat hulle sou lei’ en sou toesien dat sy volk teen wrede vyande beskerm word (Jer. 23:3, 4). Ja, Jehovah se skape was vir hom kosbaar. Sy skape is vandag ook vir hom kosbaar. Hy het ’n hoë prys vir hulle ewige welsyn betaal.—1 Pet. 1:18, 19.
6 Soos letterlike herders moet Christenopsieners nie nalatig wees wat hulle versorging van die gemeente betref nie. Streef jy daarna, as jy as ’n ouer man dien, om wakker te wees vir enige teken dat jou broers ly, en is jy bereid om hulle so gou moontlik te help? Die wyse koning Salomo het geskryf: “Jy behoort die voorkoms van jou skape goed te ken. Rig jou hart op jou kuddes” (Spr. 27:23). Hierdie vers vestig die aandag op die vlytigheid van letterlike herders; maar in beginsel kan dit toegepas word op die sorg wat geestelike herders in die gemeente voorsien. Stry jy, as jy as ’n ouer man dien, daadwerklik teen enige neiging om ander te oorheers? Die blote feit dat Petrus gepraat het van “baasspeel oor dié wat God se erfenis is”, bewys dat dit beslis vir ’n ouer man moontlik is om dit te doen. Hoe kan jy help bereik wat in Jeremia 33:12 beskryf word? (Lees.) Veral enkelouers, weduwees, stiefgesinne, bejaardes en jongmense het moontlik aandag en hulp nodig.
7 Net soos ’n herder dalk met letterlike skape sal doen, moet ’n gemeentelike herder soms mense wat om die een of ander rede van die kudde afgedwaal het, gaan soek en hulle dan help. Om dit te doen, sal selfopoffering en nederigheid van hom vereis. Hy bestee geduldig tyd daaraan om na die behoeftes om te sien van diegene wat aan sy toesig toevertrou is. Dit sal goed wees as gemeentelike ouer manne hulle eerlik afvra: ‘In watter mate streef ek daarna om eerder aan te moedig en op te bou as om te veroordeel of te kritiseer? Wil ek werklik verbeter?’ Herhaalde pogings is soms nodig om iemand te help om God se beskouing van sake te kry. As ’n broer of suster huiwer om skriftuurlike raad (nie net ’n persoonlike opinie nie) te aanvaar, dink dan aan die Opperherder en -opsiener, Jehovah. Hy het geduldig tot sy weerspannige volk bly ‘spreek’ en hulle probeer help (Jer. 25:3-6). Die meeste van God se hedendaagse knegte beoefen nie slegte dinge nie, maar wanneer raad nodig is, moet ’n ouer man dit gee, soos Jehovah dit gegee het.
8. Hoe kan geestelike herders Jeremia se voorbeeld volg?
8 Terwyl daar nog hoop was dat mede-Jode dalk na Jehovah sou terugkeer, het Jeremia vir hulle gebid. Hy het vir God gesê: “Onthou hoe ek voor u gestaan het om goed van hulle te praat, om u woede van hulle af te wend” (Jer. 18:20). Uit hierdie woorde kan jy sien dat Jeremia na die goeie in sy broers gesoek het, nie sleg van hulle gedink het nie. Vandag moet Christenopsieners Jeremia se gesindheid navolg totdat daar duidelike bewys is dat ’n persoon sy hart onberouvol daarop gerig het om kwaad te doen. ’n Positiewe stap is om ander te prys vir die goeie wat hulle doen en om vir en saam met hulle te bid.—Matt. 25:21.
Watter belofte aangaande geestelike herders het God deur Jeremia gemaak? Hoe kan Christenopsieners beskermende sorg voorsien?
“HULLE SAL JULLE BESLIS VOED”
9, 10. Waarom moet ’n goeie herder (gemeentelike ouer man) ’n onderrigter wees?
9 In ooreenstemming met wat ons in Jeremia 3:15 lees, moet Christenherders ander “voed met kennis en insig”, oftewel as onderrigters dien (1 Tim. 3:2; 5:17). Jehovah het sy volk belowe dat die goeie herders dit sou doen. En hy het die Jode aangespoor om die teregwysing van sy profeet Jeremia te aanvaar. (Lees Jeremia 6:8.) Om gesond te wees, het skape voeding nodig. So ook het God se volk skriftuurlike voeding en leiding nodig om geestelik gesond te bly.
10 Wanneer dit by onderrigting kom, het ouer manne ’n tweevoudige rol—om dié te help wat alreeds in die gemeente is en om dié te help wat nog nie ware Christene is nie. Onthou aangaande laasgenoemde: Een van die hoofredes waarom die Christengemeente bestaan, is om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Ouer manne moet dus ywerige evangeliedienaars wees (Jer. 1:7-10). As sodanig kom hulle hulle verantwoordelikheid teenoor God na en stel hulle ook vir hulle broers ’n goeie voorbeeld. As jy as ouer man gereeld saam met verskillende broers en susters velddiens doen, vind jy dan nie dat dit jou die geleentheid gee om hulle te help om hulle onderrigvermoëns asook jou eie te verfyn nie? En wanneer jy ywerig die leiding neem in die evangelisasiewerk, voorsien jy noodsaaklike aanmoediging, wat die hele gemeente kan help om vordering te maak.
11, 12. Waaraan moet ’n ouer man aandag skenk as hy ’n goeie herder wil wees?
11 Wat ouer manne die gemeente leer, moet op die Bybel gegrond wees; dan sal dit heilsame geestelike voedsel wees. Jy kan dus verstaan dat gemeentelike herders ywerige studente van God se Woord moet wees om bekwame onderrigters te wees. Vergelyk dit met wat Jeremia getoon het die rede was vir die onbekwaamheid van die leiers van sy volk: “Die herders het hulle redeloos gedra, en hulle het selfs Jehovah nie gesoek nie. Daarom het hulle nie met insig opgetree nie, en al hulle kuddes in die weivelde is verstrooi” (Jer. 10:21). Dié wat onderrigters moes gewees het, het nie skriftuurlike beginsels gevolg nie en het God nie gesoek nie. Hulle kon dus nie met ware wysheid optree nie. Jeremia het ’n selfs sterker veroordeling van die sogenaamde profete bekend gemaak.—Lees Jeremia 14:14, 15.
12 In teenstelling met daardie valse herders bestudeer Christenopsieners Jesus se voorbeeld en volg hulle dit. Hulle kan dus as wyse herders van die kudde dien. Dit kan vir hulle ’n uitdaging wees om gereeld vir sulke studie tyd te maak, in die lig van al die eise wat aan hulle tyd en aandag gestel word. Maar is jy, as jy as ’n ouer man dien, vas oortuig dat jou onderrigting net voordelig en waar kan wees en van kennis en insig kan getuig as jy dit op God se Woord en die riglyne van die “getroue en verstandige slaaf”-klas grond? As jy agterkom dat jy minder persoonlike studie doen as voorheen, wat sal jy doen sodat jy kan voortgaan om anders te wees as die valse herders van Jeremia se dag?
13. Wat het Jeremia gehelp om ’n goeie onderrigter te wees, en wat kan Christenherders van vandag by hom leer?
13 Iets wat Jeremia ’n baie bekwame onderrigter gemaak het, was sy gebruik van illustrasies. Hy is natuurlik deur Jehovah onderrig. Hoe onvergeetlik sou dit tog nie gewees het om te sien hoe hy ’n erdepot op die grond stukkend gooi en aankondig dat Jerusalem en sy mense net so verpletter sou word nie! (Jer. 19:1, 10, 11). Nog ’n voorbeeld is toe Jeremia ’n houtjuk gemaak en gedra het om uit te beeld dat sy volk gebuk sou gaan onder die swaar juk van onderworpenheid aan Babilon (Jer., hfst. 27-28). Die ouer manne in julle gemeente is nie deur God beveel om sulke dramatiese dinge te doen om ’n punt toe te lig nie. Maar waardeer jy dit nie wanneer hulle gepaste illustrasies en ondervindinge in hulle onderrigting gebruik nie? Weldeurdagte en gepaste illustrasies en voorbeelde kan kragtig sowel as motiverend wees.
14. (a) Waarop was Jeremia se verwysing na “balsem in Gilead” gegrond? (b) Hoe kan Christen- ouer manne die geestelike gesondheid van hulle broers bevorder?
14 Hoe dankbaar kan ons tog wees vir die onderrigting deur Christenherders! In sy dag het Jeremia gesien dat sy volk geestelike genesing nodig het. Hy het gevra: “Is daar geen balsem in Gilead nie? Of is daar geen geneser daar nie?” (Jer. 8:22). Daar was letterlike balsem in Gilead, die deel van Israel oos van die Jordaan. Hierdie geurige plantolie was bekend vir sy helende eienskappe en is dikwels aangewend om wonde te streel en te genees. Maar daar was geen geestelike genesing nie. Waarom nie? Jeremia het gesê: “Die profete profeteer op grond van leuens; en wat die priesters betref, hulle onderwerp mense met hulle mag. En my volk wou dit graag so hê” (Jer. 5:31). Wat van vandag? Stem jy nie saam dat daar beslis “balsem in Gilead”—ja, in julle gemeente—is nie? Ons kan strelende balsem vergelyk met die vertroosting wat besorgde Christenherders voorsien deur hulle broers liefdevol op Bybelbeginsels te wys, opbouend te wees en vir en saam met hulle te bid.—Jak. 5:14, 15.
Watter aspekte van die onderrigting deur ouer manne in julle gemeente waardeer jy die meeste? Wat maak hulle onderrigting doeltreffend?
“SÓ HET JEHOVAH GESÊ”
15, 16. Waarom het letterlike sowel as geestelike kuddes aandag nodig?
15 Stel jou die vreugde voor van ’n letterlike herder wie se harde werk en lang ure beloon word met die geboorte van gesonde lammers! Maar hy weet dat hierdie lammers aandag nodig het om te floreer. Die herder moet verseker dat hulle die regte voeding ontvang. Lammers word met ’n lang stert gebore wat op die grond en deur mis kan sleep. Omdat die herder wil hê dat sy diere skoon en gesond moet bly, sny hy dalk hulle sterte korter, en hy doen dit op behendige wyse om nie onnodige pyn te veroorsaak nie. Geestelike herders gee ook liefdevolle aandag aan die skape, die lede van hulle gemeente (Joh. 21:16, 17). Die ouer manne is ook verheug om te sien dat belangstellendes stappe doen om ware Christene te word. Christenopsieners wil hê dat al die skape, jonk en oud, gesond en behoorlik gevoed moet wees, en daarom hou hulle nie op om aandag aan hulle te skenk en in te gryp wanneer dit nodig is nie. Hierdie werk sluit beslis in dat hulle hulle broers herinner aan wat ‘Jehovah gesê het’, dit wil sê wat die Skrif leer.—Jer. 2:2, 5; 7:5-7; 10:2; Tit. 1:9.
16 Jeremia het vrymoedigheid nodig gehad om God se boodskap te verkondig. Gemeentelike opsieners het dit ook nodig, veral in gevalle waar hulle moet praat om hulle broers te beskerm. Byvoorbeeld, ’n geestelike herder sien dalk dat dit nodig is om in te gryp om te verhoed dat ’n ‘pasgebore lammetjie’ of selfs ’n ouer “skaap” deur die vuilheid van Satan se wêreld besmet word. Die een wat in gevaar verkeer, soek dalk nie eers raad nie. Maar kan ’n pligsgetroue herder eenvoudig staan en toekyk hoe ’n lid van sy kudde op moeilikheid afstuur? Natuurlik nie! Ook sal hy so ’n situasie nie ligtelik opneem en maak asof alles in die haak is wanneer dit duidelik nie is nie en ’n medekneg gevolglik sy of haar vrede met Jehovah kan verloor.—Jer. 8:11.
17. Wanneer en hoe moet ’n herder dalk spesiale aandag aan ’n spesifieke skaap gee?
17 As ’n skaap wat nie op sy hoede is nie, verlok word om van die kudde weg te dwaal, sal ’n wakker herder hom vinnig na veiligheid teruglei. (Lees Jeremia 50:6, 7.) Net so sal ’n opsiener dalk soms ferm maar liefdevol redeneer met diegene wat hulleself in gevaarlike situasies plaas. Byvoorbeeld, hy let dalk op dat ’n verloofde paartjie sonder ’n chaperone tyd saam deurbring op plekke waar hulle hartstog hulle kan oorweldig. ’n Liefdevolle ouer man met insig kan die paartjie help om sulke gevaarlike situasies te vermy. Terwyl hy versigtig sal wees om hulle nie te beskuldig nie, kan hy situasies meld wat kan lei tot gedrag wat Jehovah haat. Soos Jeremia, veroordeel getroue ouer manne die dinge wat God veroordeel. Hierin volg hulle Jehovah na, wat nie hardvogtig is nie, maar deur middel van sy profeet by sy volk gepleit het: “Moet asseblief nie hierdie verfoeilike ding doen wat ek gehaat het nie” (Jer. 5:7; 25:4, 5; 35:15; 44:4). Waardeer jy werklik die besorgdheid wat liefdevolle herders vir die kudde toon?
18. Watter aanmoedigende resultate lewer die pogings van geestelike herders op?
18 Nie almal vir wie Jeremia raad gegee het, het natuurlik na hom geluister nie. Maar party het wel. Toe Barug, Jeremia se metgesel en sekretaris, byvoorbeeld sterk raad nodig gehad het, het Jeremia dit gewillig gegee (Jer. 45:5). Met watter resultaat? Barug het God se guns geniet en Jerusalem se vernietiging oorleef. Vandag kan dit ouer manne eweneens aanspoor om ‘voort te gaan om hulle daarop toe te lê’ om lewensreddende ‘vermaning en onderrigting’ te gee as hulle positiewe resultate behaal wanneer hulle medegelowiges help.—1 Tim. 4:13, 16.
DISSIPLINE “IN DIE REGTE MATE”
19, 20. Watter verantwoordelikheid het ouer manne in hulle handelinge met oortreders?
19 Nog ’n rol van hedendaagse opsieners is dié van geestelike regters. In seldsame gevalle sal ouer manne dalk te doen hê met moedswillige sondaars, vir wie hulle tot berou wil lei. Jehovah het oortreders liefdevol maar reguit aangespoor om hulle slegte weë te laat staan (Jer. 4:14). As iemand in die gemeente egter nie ’n sondige weg wil verlaat nie, moet opsieners optree om die kudde teen ’n potensieel verderflike invloed te beskerm. Soos die Skrif beveel, sal hulle die oortreder moontlik moet uitsit. In hierdie omstandighede verwag Jehovah dat ouer manne goddelike geregtigheid moet handhaaf. Die goeie koning Josia was voorbeeldig in hierdie opsig. “Hy het die wettige eis van die geteisterde en die arme verdedig.” Hy het God se liefde vir geregtigheid nagevolg. Daarom kon Jehovah aangaande Josia se dade vra: “Was dít nie omdat hy my geken het nie?” Omdat Josia geregtigheid en regverdigheid uitgeoefen het, “het dit met hom goed gegaan”. Voel jy nie veiliger wanneer die ouer manne in julle gemeente daarna streef om Josia se voorbeeld te volg nie?—Jer. 22:11, 15, 16.
20 Jy kan die vertroue hê dat Jehovah oortreders “in die regte mate” dissiplineer (Jer. 46:28). Gevolglik moet die ouer manne medegelowiges moontlik, afhangende van die omstandighede en die gesindheid wat geopenbaar word, raad gee, vermaan of teregwys. En dit is dalk selfs nodig om ’n onberouvolle oortreder uit te sit. In so ’n geval bid ouer manne nie in die openbaar vir iemand wat uitgesit is en ’n sondige weg volg nie; dit sou sinloos wees om dit te doen (Jer. 7:9, 16).a Maar hulle sal God navolg deur vir die uitgesette persoon te wys hoe om weer God se guns te verkry. (Lees Jeremia 33:6-8.) Hoewel uitsetting pynlik kan wees, kan ons seker wees dat God se standaarde reg en regverdig is en dat dit vir almal die beste is.—Klaagl. 1:18.
21. Wat moet die toestand van God se kudde wees, en hoe kan jy daartoe bydra?
21 Wanneer gemeentelike herders die geïnspireerde standaarde van God identifiseer en toepas, sal die kudde gevoed, gesond en goed beskerm wees (Ps. 23:1-6). Wat Jeremia ons vertel oor gesindhede en beweegredes, dié wat gepas sowel as dié wat onvanpas is, kan vir Christenopsieners nuttig wees terwyl hulle die ernstige verantwoordelikheid nakom om na God se skape om te sien. Elkeen van ons kan ons dus afvra: ‘Sal ek aanhou om waardering te toon vir Jehovah se reëling om sy volk te onderrig, te lei en te beskerm deur herders te ondersteun wat die kudde “met kennis en insig” lei?’—Jer. 3:15; 23:4.
In watter omstandighede moet opsieners moedig optree? Wat verwag Jehovah van Christen- ouer manne wanneer hulle as regters optree?