Hoofstuk 34
Wat is verkeerd met fuifdrinkery?
Hoe sal jy die volgende vrae beantwoord? Maak ’n ✔ in die gepaste blokkie.
Drink jou portuurs, al is hulle minderjarig, of maak hulle hulle skuldig aan fuifdrinkery?
□ Ja □ Nee
Het jou portuurs al ooit druk op jou geplaas om alkohol te drink?
□ Ja □ Nee
Was jy al ooit betrokke by fuifdrinkery?
□ Ja □ Nee
WAT is fuifdrinkery, oftewel binge drinking? Vir party is dit wanneer jy net drink om dronk te word. ’n Verslag deur die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Drankmisbruik en Alkoholisme het probeer om meer spesifiek te wees. Volgens hulle word fuifdrinkery “gewoonlik gedefinieer as die inname van vyf of meer drankies ná mekaar in die geval van mans en vier of meer drankies ná mekaar in die geval van vroue”.
As jy al ooit in die versoeking gekom het om te veel te drink of om te drink hoewel jy onder die wettige ouderdom is, is jy nie alleen nie. Baie jongmense misbruik drank.a Maar vra jou af: ‘Weet ek werklik waarom ek wil drink en watter uitwerking drank op my kan hê?’ Hoe sal jy byvoorbeeld die volgende vrae beantwoord? Maak ’n ✔ in die blokkie langs jou antwoord, en kyk dan na die feite.
a. Tieners drink net omdat hulle van die smaak van drank hou.
□ Waar □ Onwaar
b. Omdat tieners jonger en fikser is, ondervind hulle nie soveel ernstige newe-effekte as gevolg van drankmisbruik as volwassenes nie.
□ Waar □ Onwaar
c. Fuifdrinkery kan jou nie doodmaak nie.
□ Waar □ Onwaar
d. Die Bybel veroordeel die gebruik van drank heeltemal.
□ Waar □ Onwaar
e. Swak gesondheid is die enigste gevolg van fuifdrinkery.
□ Waar □ Onwaar
a. Tieners drink net omdat hulle van die smaak van drank hou. Antwoord—Onwaar. In ’n opname wat in Australië oor alkoholbewustheid gedoen is, het 36 persent van die jongmense met wie ’n onderhoud gevoer is, gesê dat hulle hoofsaaklik drink om tydens sosiale geleenthede in te pas. In die Verenigde State het 66 persent tydens ’n opname gesê dat hulle weens portuurdruk drink. Maar meer as die helfte het ook gesê dat hulle drink om van probleme te probeer vergeet.
b. Omdat tieners jonger en fikser is, ondervind hulle nie soveel ernstige newe-effekte as gevolg van drankmisbruik as volwassenes nie. Antwoord—Onwaar. “Nuwe navorsing toon dat jong drinkers met vuur speel”, sê ’n artikel in die tydskrif Discover. Waarom? “Tieners wat te veel drink, kan ’n groot deel van hulle verstandelike vermoë vernietig.”
Chroniese alkoholinname hou ook verband met erger aknee, voortydige plooie, gewigstoename en drank- en dwelmverslawing. Dit kan ook die senustelsel, die lewer en die hart ernstig beskadig.
c. Fuifdrinkery kan jou nie doodmaak nie. Antwoord—Onwaar. Oormatige hoeveelhede drank verhoed dat die brein genoeg suurstof kry; dit kan lewensbelangrike liggaamsfunksies aantas. Die simptome kan naarheid, bewusteloosheid en stadige of onreëlmatige asemhaling insluit. In sommige gevalle kan dit tot die dood lei.
d. Die Bybel veroordeel die gebruik van drank heeltemal. Antwoord—Onwaar. Die Bybel sê nie dat dit verkeerd is om drank te drink nie en dit sê ook nie dat jongmense nie pret mag hê nie (Psalm 104:15; Prediker 10:19). Volgens die wet moet jy natuurlik ’n sekere ouderdom wees voordat jy alkohol mag gebruik.—Romeine 13:1.
Die Bybel waarsku wel teen oormatige drinkery. “Wyn is ’n spotter, sterk drank is luidrugtig, en elkeen wat daardeur afdwaal, is nie wys nie”, sê Spreuke 20:1. Ja, drank kan maak dat jy jou verspot gedra! Dit kan weliswaar tydelike genot verskaf, maar as jy te veel drink, “byt dit soos ’n slang” en sit jy later met baie probleme.—Spreuke 23:32.
e. Swak gesondheid is die enigste gevolg van fuifdrinkery. Antwoord—Onwaar. As jy dronk word, kan jy die slagoffer word van allerhande soorte aanranding—selfs verkragting. Terselfdertyd kan jy ander in gevaar stel deur op ’n manier op te tree wat jy nie gewoonlik sou nie. Die Bybel waarsku dat “jy nie helder sal kan dink of duidelik sal kan praat” as jy te veel drink nie (Spreuke 23:33, Today’s English Version). Kortom, jy sal ’n gek van jouself maak! Ander pynlike gevolge kan verbroke vriendskappe insluit, asook swak prestasie op skool en by die werk, ’n kriminele rekord en armoede.—Spreuke 23:21.
Bowenal moet jy dink aan die geestelike skade wat oormatige drinkery tot gevolg kan hê. Jehovah God wil hê dat jy hom met “jou hele verstand” moet dien—nie ’n verstand wat onnodig beskadig is deur te veel drank nie (Matteus 22:37). God se Woord veroordeel nie net “oordadighede met wyn” nie, maar ook “drinkpartye” (1 Petrus 4:3). Fuifdrinkery is dus strydig met die wil van ons Skepper en kan keer dat jy ’n hegte vriendskap met God geniet.
Watter keuse gaan jy maak?
Gaan jy eenvoudig jou portuurs volg wat drank misbruik? “Weet julle nie”, sê die Bybel, “dat as julle aanhou om julleself as slawe vir iemand aan te bied om hom te gehoorsaam, julle slawe van hom is omdat julle hom gehoorsaam nie?” (Romeine 6:16). Wil jy werklik ’n slaaf word van jou portuurs of van drank?
Wat moet jy doen as jy in die strik van fuifdrinkery getrap het? Kry onmiddellik hulp deur met jou ouers of ’n geestelik volwasse vriend te praat. Bid tot Jehovah God en smeek hom om jou te help. Hy is immers “’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word” (Psalm 46:1). Aangesien portuurdruk dikwels tot fuifdrinkery en drinkery onder minderjariges aanleiding gee, sal jy dalk jou keuse van vriende drasties moet verander.b Dit sal nie maklik wees om sulke veranderinge aan te bring nie, maar met Jehovah se hulp kan jy suksesvol wees.
Dwelmverslawing kan oorkom word. Vind uit hoe.
[Voetnote]
a Sien die venster “Wie doen dit?” op bladsy 249.
b Vir meer inligting, sien Hoofstukke 8 en 9 van hierdie boek en Hoofstuk 15 van Deel 2.
SLEUTELTEKSTE
“’n Dronkaard . . . sal in armoede verval.”—Spreuke 23:21.
WENK
Identifiseer die redes waarom jy alkohol wil drink. Probeer dan dink aan ander, gesonder maniere waarop jy pret kan hê of stres kan verwerk.
HET JY GEWEET . . . ?
Volgens een Amerikaanse studie “is die moontlikheid agt keer groter dat diegene wat dikwels aan fuifdrinkery deelneem, van klasse af sal wegbly, met hulle skoolwerk sal agterraak, beseer sal word en eiendom sal beskadig as in die geval van dié wat dit nie doen nie”.
AKSIEPLAN!
As my vriende wil hê dat ek saam met hulle moet drink, sal ek sê ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom wil jou portuurs hê dat ander saam met hulle moet drink?
● Sal jy vir die teenoorgestelde geslag aantrekliker wees as jy drink, en waarom sê jy so?
[Lokteks op bladsy 250]
Wanneer my skoolmaats vir my drank aanbied, sê ek vir hulle dat ek nie hoef te drink om pret te hê nie.’’—Mark
[Venster op bladsy 249]
wie doen dit?
Volgens ’n studie onder hoërskoolkinders in Engeland, Skotland en Wallis het tot ’n kwart van 13- en 14-jariges “gesê dat hulle al ten minste vyf drankies in een sessie ‘weggeslaan’ het”. Ongeveer die helfte van al die 15- en 16-jariges met wie daar onderhoude gevoer is, het gesê dat hulle dit ook al gedoen het. Volgens die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste “het omtrent 10,4 miljoen adolessente tussen die ouderdom van 12 en 20 gesê dat hulle alkohol gebruik. Van hulle was 5,1 miljoen fuifdrinkers, waarvan 2,3 miljoen strawwe drinkers was wat ten minste vyf keer per maand te veel drink.” In Australië het ’n studie aan die lig gebring dat meer meisies as seuns in dié land fuifdrinkers is—hulle drink tussen 13 en 30 drankies ná mekaar!
[Prent op bladsy 251]
Drank kan soos ’n slang byt