HOOFSTUK 34
Jesus kies twaalf apostels
DIE 12 APOSTELS
Johannes die Doper het Jesus sowat ’n jaar en ’n half gelede as die Lam van God voorgestel. Toe Jesus met sy openbare bediening begin het, het ’n aantal opregte mans sy dissipels geword, soos Andreas, Simon Petrus, Johannes, dalk Jakobus (Johannes se broer), Filippus en Bartolomeus (wat ook Natanael genoem word). Met verloop van tyd word baie ander mense volgelinge van Christus. – Johannes 1:45-47.
Nou is Jesus gereed om sy apostels te kies. Hulle sal sy naaste medewerkers wees en sal spesiale opleiding ontvang. Maar voordat Jesus hulle kies, gaan hy na ’n berg, dalk een naby die See van Galilea, nie ver van Kapernaum nie. Hy bid die hele nag lank, waarskynlik om wysheid en God se seën te vra. Die volgende dag roep hy sy dissipels en kies hy 12 van hulle as apostels.
Jesus kies die ses wat aan die begin genoem is, sowel as Matteus, wat by die belastingkantoor was toe Jesus hom geroep het. Die ander vyf wat gekies word, is Judas (wat ook Taddeus en “die seun van Jakobus” genoem word), Simon, die Kananeër, Tomas, Jakobus, die seun van Alfeus, en Judas Iskariot. – Matteus 10:2-4; Lukas 6:16.
Teen dié tyd het hierdie 12 saam met Jesus gereis, en hy ken hulle goed. ’n Paar van hulle is familie van hom. Die broers Jakobus en Johannes is blykbaar Jesus se neefs. En as Alfeus, soos party dink, die broer was van Josef, Jesus se pleegvader, dan was die seun van Alfeus, die apostel Jakobus, ook ’n neef van Jesus.
Jesus sukkel natuurlik nie om sy apostels se name te onthou nie. Maar kan jy dit onthou? Iets wat kan help, is om te onthou dat daar twee is met die naam Simon, twee met die naam Jakobus en twee met die naam Judas. Simon (Petrus) het ’n broer met die naam Andreas, en Jakobus (die seun van Sebedeus) het ’n broer met die naam Johannes. Dit is hoe ’n mens die name van agt apostels kan onthou. Die ander vier is die belastinggaarder (Matteus), die een wat later twyfel (Tomas), die een wat van onder ’n boom geroep is (Natanael) en Natanael se vriend (Filippus).
Elf van die apostels is van Galilea, Jesus se tuisgebied. Natanael is van Kana. Filippus, Petrus en Andreas is oorspronklik van Betsaida. Petrus en Andreas trek later na Kapernaum, waar Matteus blykbaar gewoon het. Jakobus en Johannes woon ook in of naby Kapernaum, en hulle het ’n vissersbesigheid daar naby. Dit lyk asof Judas Iskariot, wat Jesus later verraai, die enigste apostel is wat van Judea af kom.