HOOFSTUK 93
Die Seun van die mens sal geopenbaar word
DIE KONINKRYK IS BY HULLE
HOE SAL DIT WEES WANNEER JESUS GEOPENBAAR IS?
Jesus is nog steeds in Samaria of in Galilea. Party Fariseërs vra hom nou oor die koms van die Koninkryk. Hulle verwag dat dit ’n asemrowende gebeurtenis sal wees, maar Jesus sê: “Die Koninkryk van God kom nie op ’n opvallende manier nie. En mense sal ook nie sê: ‘Kyk hier!’ of: ‘Daar!’ nie. Want die Koninkryk van God is by julle.” – Lukas 17:20, 21.
Party mense dink dalk dat Jesus sê dat die Koninkryk in mense se harte regeer. Maar dit kan nie die geval wees nie, want die Koninkryk is nie in die harte van die Fariseërs met wie Jesus nou praat nie. Tog is dit by hulle, want Jesus, die een wat as Koning van God se Koninkryk gekies is, is daar by hulle. – Matteus 21:5.
Waarskynlik nadat die Fariseërs weg is, gee Jesus sy dissipels nog besonderhede oor die koms van die Koninkryk. Hy gee eers ’n waarskuwing wat verband hou met sy teenwoordigheid in Koninkryksmag: “Daar kom ’n tyd wanneer julle graag een van die dae van die Seun van die mens sal wil sien, maar julle sal dit nie sien nie” (Lukas 17:22). Jesus dui aan dat die Seun van die mens in die toekoms in die Koninkryk sal regeer. Voordat daardie tyd kom, sal party dissipels dalk in spanning daarna uitsien, maar hulle sal moet bly wag totdat die Seun van die mens kom op die tyd wat God vasgestel het.
Jesus sê verder: “Mense sal vir julle sê: ‘Kyk daar!’ of: ‘Kyk hier!’ Moenie uitgaan of agter hulle aanloop nie. Want net soos die weerlig van een deel van die hemel tot in ’n ander deel van die hemel flits, so sal die Seun van die mens in sy dag wees” (Lukas 17:23, 24). Hoe kan Jesus se dissipels sorg dat hulle nie valse messiasse volg nie? Jesus sê dat die koms van die ware Messias sal wees soos ’n weerligstraal wat oor ’n groot gebied gesien kan word. Die bewyse van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag sal duidelik gesien kan word deur almal wat aandag skenk.
Dan gebruik Jesus voorbeelde uit die verlede om te wys hoe mense se gesindhede sal wees gedurende daardie toekomstige tyd: “Net soos dit in die dae van Noag was, so sal dit in die dae van die Seun van die mens wees . . . Net soos dit ook in die dae van Lot was: Hulle het geëet, hulle het gedrink, hulle het gekoop, hulle het verkoop, hulle het geplant, hulle het gebou. Maar op die dag toe Lot uit Sodom uitgegaan het, het dit vuur en swael uit die hemel gereën en hulle almal vernietig. Dit sal net so wees op die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.” – Lukas 17:26-30.
Jesus het nie gesê dat mense in Noag se dag en in Lot se dag vernietig is omdat hulle normale dinge gedoen het soos om te eet, te drink, te koop, te verkoop, te plant en te bou nie. Noag en Lot en hulle gesinne het ook party van hierdie dinge gedoen. Maar die ander mense het dit gedoen sonder om aandag te skenk aan God se wil en hulle het die tyd geïgnoreer waarin hulle gelewe het. Daarom spoor Jesus sy dissipels aan om aandag te skenk aan God se wil en om dit uit te voer. Op hierdie manier wys hy vir hulle wat hulle moet doen om te bly lewe wanneer God in die toekoms vernietiging bring.
Die dissipels moet dus seker maak dat hulle aandag nie afgelei word deur die dinge van die wêreld rondom hulle nie, “die dinge wat . . . agtergelaat” is. Jesus sê: “Op daardie dag moet die een wat op die dak is maar wie se besittings in die huis is, nie afkom om dit te gaan haal nie, en die een wat buite op die landery is, moet ook nie teruggaan na die dinge wat hy agtergelaat het nie. Dink aan die vrou van Lot” (Lukas 17:31, 32). Sy het ’n soutpilaar geword.
Jesus beskryf verder wat sal gebeur wanneer die Seun van die mens as Koning sal regeer. Hy sê vir sy dissipels: “In daardie nag sal twee mense in een bed wees. Die een sal saamgeneem word, maar die ander een sal agtergelaat word” (Lukas 17:34). Party sal gered word, maar ander sal agtergelaat word en hulle lewe verloor.
Die dissipels vra: “Waar sal dit gebeur, Here?” Jesus antwoord: “Waar die liggaam is, daar sal die arende ook bymekaarkom” (Lukas 17:37). Ja, party sal wees soos arende wat goeie sig het en ver kan sien. Hierdie dissipels sal bymekaarkom by die ware Christus, die Seun van die mens. In daardie toekomstige tyd sal Jesus sy getroue dissipels van lewensreddende waarhede voorsien.