HOOFSTUK 3
“Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem”
HIERDIE woorde van die apostel Paulus in Hebreërs 13:7 kan ook vertaal word met: “Hou dié in gedagte wat julle bestuurders is.” Van Pinkster 33 HJ af het die getroue apostels van die Here Jesus Christus hierdie rol as ’n bestuursliggaam vervul. Hulle het die leiding daarin geneem om riglyne aan die pas gestigte Christengemeente te voorsien (Hand. 6:2-4). Teen omtrent 49 HJ is hierdie bestuursliggaam vergroot en het dit nie meer net Jesus se apostels ingesluit nie. Toe ’n besluit oor die besnydenis geneem moes word, het die bestuursliggaam uit “die apostels en ouermanne in Jerusalem” bestaan (Hand. 15:1, 2). Dit was hulle verantwoordelikheid om aandag te skenk aan sake wat alle Christene geraak het. Hulle het briewe en instruksies uitgestuur, wat die gemeentes versterk het en dit vir die dissipels moontlik gemaak het om verenig te bly in denke en optrede. Die gemeentes was gehoorsaam aan die riglyne van die bestuursliggaam en was onderdanig aan hulle, en daarom is hulle deur Jehovah geseën en was hulle voorspoedig. – Hand. 8:1, 14, 15; 15:22-31; 16:4, 5; Heb. 13:17.
2 Ná die dood van die apostels het die groot afvalligheid begin (2 Tess. 2:3-12). Soos Jesus in sy illustrasie oor die koring en die onkruid voorspel het, is onkruid (naamchristene) tussen die koring (gesalfde Christene) gesaai. Deur die eeue heen is die groepe toegelaat om sy aan sy te groei tot die oestyd toe, “die tyd van die einde” (Matt. 13:24-30, 36-43). Individuele gesalfde Christene het gedurende hierdie tyd nog steeds Jesus se guns geniet. Maar daar was nie ’n bestuursliggaam nie, geen kanaal op die aarde wat duidelik deur Jesus gebruik is om sy volgelinge leiding te gee nie (Matt. 28:20). Hy het egter voorspel dat daar ’n verandering gedurende die oestyd sou plaasvind.
3 “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf?” Met hierdie vraag het Jesus Christus ’n illustrasie gebruik wat deel is van “die teken” wat hy oor “die einde van die wêreldstelsel” gegee het (Matt. 24:3, 42-47). Jesus het aangedui dat hierdie getroue slaaf besig sou wees om geestelike voedsel “op die regte tyd” aan God se volk te voorsien. Net soos Jesus ’n groep manne – eerder as ’n individu – gebruik het om die leiding in die eerste eeu te neem, is die getroue slaaf wat Jesus gedurende die einde van die wêreldstelsel gebruik ook nie een man nie.
WIE IS “DIE GETROUE EN VERSTANDIGE SLAAF”?
4 Wie is deur Jesus aangestel om geestelike voedsel aan sy volgelinge te gee? Dit is net gepas dat hy gesalfde Christene op die aarde gebruik. Die Bybel sê dat hulle “’n koninklike priesterdom” is wat die opdrag ontvang het om “‘die wonderlike eienskappe oral bekend [te] maak’ van die Een wat [hulle] uit die duisternis tot in sy wonderlike lig geroep het” (1 Pet. 2:9; Mal. 2:7; Op. 12:17). Is alle gesalfdes op die aarde deel van die getroue slaaf? Nee. Toe Jesus wonderdadig fisiese kos gegee het aan ’n skare van sowat 5 000 mans, buiten vroue en jong kinders, het hy dit aan die dissipels uitgedeel, en die dissipels weer aan die skare (Matt. 14:19). Hy het baie deur middel van ’n klein groepie kos gegee. Vandag voorsien hy geestelike voedsel op ’n soortgelyke manier.
5 “Die getroue bestuurder, die verstandige,” bestaan dus uit ’n klein groepie gesalfde broers. Gedurende Christus se teenwoordigheid is hulle direk betrokke by die voorbereiding en voorsiening van geestelike voedsel (Luk. 12:42). Regdeur die laaste dae het die gesalfde broers wat “die getroue en verstandige slaaf” uitmaak, saam by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies gedien. Vandag is hierdie gesalfde broers die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies.
6 Christus gebruik hierdie liggaam om inligting oor die vervulling van Bybelprofesieë te publiseer. Hulle gee ook tydige riglyne oor die toepassing van Bybelbeginsels in ons daaglikse lewe. Hierdie geestelike voedsel word deur middel van die plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies versprei (Jes. 43:10; Gal. 6:16). In Bybeltye was ’n slaaf wat vertrou kon word, ’n bestuurder van ’n huishouding. So ook is die getroue en verstandige slaaf die verantwoordelikheid gegee om die huisgesin van die geloof te bestuur. Die getroue slaaf hou dus ook toesig oor materiële bates, die predikingswerk, byeenkomsprogramme, die aanstelling van opsieners om na verskeie pligte om te sien en die produksie van Bybellektuur – alles tot voordeel van die “huisknegte”. – Matt. 24:45.
7 Wie is die “huisknegte”? Eenvoudig gestel, dit is die mense wat gevoed word. Eers was al die huisknegte gesalfdes. Later het die huisknegte ook die groot menigte “ander skape” ingesluit (Joh. 10:16). Albei groepe word gevoed deur die geestelike voedsel wat deur die getroue slaaf voorsien word.
8 Wanneer Jesus tydens die groot verdrukking kom om oordeel oor hierdie goddelose stelsel uit te spreek en te voltrek, sal hy die getroue slaaf “oor al sy besittings aanstel” (Matt. 24:46, 47). Almal wat deel is van die getroue slaaf, sal hulle hemelse beloning ontvang. Saam met die res van die 144 000 sal hulle Christus se hemelse gesag deel. Daar sal nie meer ’n getroue en verstandige slaaf op die aarde wees nie. Maar Jehovah en Jesus sal leiding gee vir die mense op die aarde wat onder die Messiaanse Koninkryk sal lewe deur middel van diegene wat as “hoofde” aangestel sal word. – Ps. 45:16.
WAAROM MOET ONS ‘DIÉ IN GEDAGTE HOU WAT DIE LEIDING NEEM’?
9 Daar is baie redes waarom ons ‘dié in gedagte moet hou wat die leiding neem’ en vertroue in hulle moet stel. Watter voordele hou dit in as ons dit doen? Die apostel Paulus het gesê: “Hulle waak oor julle en sal daarvoor aanspreeklik gehou word. As julle dit doen, sal hulle hulle werk met vreugde kan doen sonder om te sug, want anders sal dit vir julle skadelik wees” (Heb. 13:17). Dit is baie belangrik dat ons gehoorsaam en onderdanig is aan die riglyne van dié wat die leiding onder ons neem omdat hulle ons geestelik beskerm en ondersteun.
10 Soos opgeteken in 1 Korintiërs 16:14, het Paulus gesê: “Doen alles wat julle doen met liefde.” Besluite wat vir God se volk gemaak word, is op hierdie verhewe eienskap van liefde gegrond. Eerste Korintiërs 13:4-8 sê die volgende oor liefde: “Liefde is geduldig en goedhartig. Liefde is nie jaloers nie. Dit praat nie groot nie, word nie trots nie, gedra hom nie ongepas nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie gou kwaad nie. Dit hou nie boek van slegte dinge wat aan hom gedoen is nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Liefde faal nooit nie.” Omdat al die besluite op grond van liefde en tot voordeel van Jehovah se knegte gemaak word, het ons alle rede om veilig te voel onder sulke leiding. En dit is eintlik ’n weerspieëling van Jehovah se liefde.
Dit is baie belangrik dat ons onderdanig is aan diegene wat oor ons waak en ons geestelik beskerm
11 Soos in die eerste eeu, gebruik Jehovah onvolmaakte manne om sy volk te lei. Ja, Jehovah het dikwels onvolmaakte mense gebruik om sy wil uit te voer. Noag het ’n ark gebou en gepreek oor die vernietiging wat in sy dag sou kom (Gen. 6:13, 14, 22; 2 Pet. 2:5). Moses is aangestel om Jehovah se volk uit Egipte uit te lei (Eks. 3:10). Onvolmaakte manne is geïnspireer om die Bybel te skryf (2 Tim. 3:16; 2 Pet. 1:21). Die feit dat Jehovah vandag onvolmaakte manne gebruik om die leiding te gee in die predikings- en dissipelmaakwerk, verswak nie ons vertroue in God se organisasie nie. Dit versterk ons eerder omdat ons weet dat alles wat die organisasie bereik, net met Jehovah se hulp moontlik is. Al is die getroue slaaf al deur baie moeilike tye en ander ondervindinge, is dit duidelik dat God se gees in beheer is van sake. Die sigbare deel van Jehovah se organisasie in ons tyd het al baie seëninge ontvang. En daarom ondersteun ons dit ten volle en vertrou ons dit.
HOE WYS ONS DAT ONS VERTROUE HET
12 Dié wat in verantwoordelike posisies in die gemeente aangestel word, wys dat hulle vertroue het deur die verantwoordelikhede wat hulle kry, vreugdevol te aanvaar en getrou te doen (Hand. 20:28). As Koninkryksverkondigers neem ons ywerig deel aan die werk om van huis tot huis te gaan, herbesoeke te doen en tuisbybelstudies te hou (Matt. 24:14; 28:19, 20). Om ten volle baat te vind by die ryk geestelike voedsel wat deur die getroue slaaf voorsien word, berei ons voor vir ons Christelike vergaderinge, insluitende byeenkomste, en woon ons hulle by. Wanneer ons met ons broers by hierdie Christelike vergaderinge assosieer, moedig ons mekaar aan, en dit is baie goed vir ons. – Heb. 10:24, 25.
13 Wanneer ons die organisasie met ons materiële bydraes ondersteun, wys ons dat ons dit vertrou (Spr. 3:9, 10). Wanneer ons sien dat ons broers materieel swaarkry, help ons hulle dadelik (Gal. 6:10; 1 Tim. 6:18). Ons doen dit in ’n gees van broederliefde, en ons is altyd op die uitkyk na geleenthede om vir Jehovah en sy organisasie te wys dat ons die goedheid wat ons kry, waardeer. – Joh. 13:35.
14 Ons wys ook dat ons die organisasie vertrou deur hulle besluite te ondersteun. Dit sluit in dat ons nederig die leiding volg van diegene wat in posisies van toesig geplaas is, soos kringopsieners en gemeentelike ouermanne. Hierdie broers word ingesluit by “dié wat die leiding onder [ons] neem”, aan wie ons gehoorsaam en onderdanig moet wees (Heb. 13:7, 17). Al verstaan ons nie heeltemal wat die redes vir sekere besluite is nie, weet ons dat dit altyd vir ons goed sal wees as ons dit ondersteun. Daarom seën Jehovah ons vir ons gehoorsaamheid aan sy Woord en aan sy organisasie. So wys ons dat ons onderdanig is aan die Meester, Jesus Christus.
15 Ja, ons het alle rede om die getroue en verstandige slaaf te vertrou. Satan, die god van hierdie wêreld, doen alles wat hy kan om Jehovah se naam en organisasie oneer aan te doen (2 Kor. 4:4). Moenie ’n slagoffer van Satan se goddelose taktiek word nie! (2 Kor. 2:11). Hy weet dat hy “min tyd” oorhet voordat hy in die afgrond gegooi sal word, en hy is vasbeslote om soveel van Jehovah se volk as moontlik te kry om hulle rug op God te draai (Op. 12:12). Maar laat ons al hoe nader aan Jehovah kom terwyl Satan sy pogings verskerp. Mag ons ons vertroue stel in Jehovah en in die kanaal wat hy gebruik om sy volk vandag te lei. Wanneer ons dit doen, kan ons deel wees van ’n verenigde broederskap.