Aanhangsel
’n Boodskap aan Christenouers:
As ’n ouer wil jy graag jou dierbare kinders help om Jehovah lief te hê en hulle aan hom toe te wy. Wat kan jy doen om hulle te help om vir doop voor te berei? Wanneer sal hulle gereed wees vir hierdie belangrike stap?
Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle” (Matt. 28:19). So die belangrikste vereiste waaraan ’n mens moet voldoen om gedoop te word, is om ’n dissipel te wees. Dit is iemand wat nie net Christus se leringe verstaan en glo nie, maar wat dit ook presies navolg. Dit is iets wat selfs iemand wat nog jonk is, kan doen.
Stel ’n goeie voorbeeld vir jou kinders, en leer hulle Jehovah se leringe (Deut. 6:6-9). Dit sluit in dat jy gebruik maak van die boek Geniet die lewe vir ewig! Op hierdie manier kan hulle basiese Bybelwaarhede leer. Hulle word ook voorberei om oor Bybelbeginsels te redeneer en daarvolgens te lewe. Help jou kinders sodat hulle hulle oortuigings in hulle eie woorde kan verduidelik (1 Pet. 3:15). Die kennis en aanmoediging wat jy hulle gee en wat hulle verkry as gevolg van persoonlike studie, gesinsaanbidding, gemeentelike vergaderinge en goeie assosiasie, sal hulle help om tot doop te vorder en dan verdere vooruitgang te maak. Help hulle om geestelike doelwitte te stel wat hulle nader aan Jehovah laat kom.
Spreuke 20:11 sê: “Deur sy dade wys ’n kind of sy gedrag rein en reg is.” Hoe toon ’n seun of ’n meisie dat hy of sy ’n dissipel van Jesus Christus geword het en gereed is om gedoop te word?
Een belangrike vereiste is dat die kind aan sy ouer(s) gehoorsaam moet wees (Hand. 5:29; Kol. 3:20). Die Bybel sê dat die 12-jarige Jesus “aan [sy ouers] onderdanig gebly” het (Luk. 2:51). Jy kan natuurlik nie verwag dat jou kind volmaak moet wees nie. Maar iemand wat gedoop wil word, sal Jesus se voorbeeld probeer volg en bekend wees as iemand wat gehoorsaam is aan sy ouers.
Hy sal ook daarin belangstel om Bybelwaarhede te leer (Luk. 2:46). Wil jou kind vergaderinge bywoon en daaraan deelneem? (Ps. 122:1). Het hy die begeerte om die Bybel gereeld te lees en persoonlike studie te doen? – Matt. 4:4.
’n Kind wat daarna streef om gedoop te word, werk hard om Koninkryksbelange eerste te stel (Matt. 6:33). Hy erken dat hy die verantwoordelikheid het om ander van sy geloof te vertel. Hy neem aan verskillende aspekte van die bediening deel en is nie skaam om vir sy onderwysers en skoolmaats te sê dat hy een van Jehovah se Getuies is nie. Hy neem sy toewysings vir die Lewe en Bediening-vergadering ernstig op.
Hy sal ook probeer om sedelik rein te bly deur slegte assosiasie te vermy (Spr. 13:20; 1 Kor. 15:33). Dit sal duidelik gesien kan word in sy keuse van musiek, films, televisieprogramme, videospeletjies en die gebruik van die Internet.
Baie kinders het al positief gereageer op die liefdevolle pogings van hulle ouers. Hulle het op ’n vroeë ouderdom die waarheid hulle eie gemaak en gekwalifiseer om gedoop te word. Mag Jehovah jou seën terwyl jy jou kinders help om hierdie belangrike stap in hulle verhouding met Jehovah te bereik.
’n Boodskap aan die ongedoopte verkondiger:
Dit is ’n voorreg om as ’n ongedoopte verkondiger saam met die gemeente te dien. Ons prys jou vir die geestelike vooruitgang wat jy gemaak het. Jy het God leer ken deur ’n studie van sy Woord en het geloof in sy beloftes beoefen. – Joh. 17:3; Heb. 11:6.
Voordat jy saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, was jy dalk deel van die een of ander godsdiensorganisasie. Of dalk was jy glad nie by ’n godsdiens betrokke nie. Miskien het jy ander dinge gedoen wat teen Bybelbeginsels is. Maar nou het jy gewys dat jy geloof het deur berou te toon, wat beteken dat jy regtig spyt is oor verkeerde dinge wat jy in die verlede gedoen het. Jy het jou ook bekeer, wat beteken dat jy nie meer verkeerde dinge doen nie en vasbeslote is om te doen wat reg is in God se oë. – Hand. 3:19.
Maar miskien het jy “van jongs af die heilige geskrifte geken”. Dit het jou teen onchristelike gedrag en ernstige sonde beskerm (2 Tim. 3:15). Jy het geleer om groepsdruk te weerstaan, sowel as ander versoekings om te doen wat verkeerd is in Jehovah se oë. Jy het gewys dat jy geloof het deur ware aanbidding te ondersteun en deur met ander oor jou geloof te praat. Jy is in die Christelike bediening opgelei. Nou het jy ’n persoonlike besluit geneem om Jehovah as ’n ongedoopte verkondiger te dien.
Of jy nou Jehovah op ’n jong ouderdom leer ken het en of dit later in jou lewe gebeur het, jy oorweeg dalk nou twee verdere stappe in jou geestelike vooruitgang – toewyding en doop. Jy wy jou aan Jehovah toe deur in gebed vir hom te sê dat jy self besluit het om hom alleen vir ewig te dien (Matt. 16:24). As ’n simbool van daardie toewyding word jy dan in water gedoop (Matt. 28:19, 20). Deur toewyding en doop word jy ’n geordende bedienaar van Jehovah God. Wat ’n wonderlike voorreg!
Maar soos jou studie van die Bybel gewys het, sal jy dalk voor verskillende uitdagings te staan kom. Onthou, kort nadat Jesus gedoop is, is hy “deur die gees die wildernis in gelei om deur die Duiwel versoek te word” (Matt. 4:1). Ná jou doop as ’n dissipel van Christus kan jy verdere toetse verwag (Joh. 15:20). Daar sal verskillende soorte toetse wees. Jy sal dalk deur jou familie teëgestaan word (Matt. 10:36). Dalk sal skoolmaats, werksmaats en mense met wie jy voorheen te doen gehad het, jou spot. Onthou altyd Jesus se woorde in Markus 10:29, 30: “Ek verseker julle dat elkeen wat huis of broers of susters of ma of pa of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat het, nou in hierdie tyd 100 keer soveel sal kry – huise, broers, susters, ma’s, kinders en landerye, met vervolginge – en in die wêreld wat kom, die ewige lewe.” So hou aan om hard te werk sodat jy na aan Jehovah kan bly en volgens sy regverdige standaarde kan lewe.
Laat die koördineerder van die liggaam van ouermanne weet wanneer jy besluit om gedoop te word. Die ouermanne sal reël om die vrae wat op hierdie boodskap volg, met jou deur te gaan. Hulle sal dan kan sien of jy kwalifiseer om gedoop te word. Jy kan hierdie vrae op jou eie begin deurgaan as deel van jou gereelde persoonlike studie.
Om vir hierdie besprekings voor te berei, moet jy tyd opsysit om die Bybelverse wat aangehaal word, te lees en daaroor na te dink. Jy kan gerus persoonlike notas in hierdie boek of êrens anders maak. Wanneer die ouermanne die vrae met jou deurgaan, mag jy jou notas en hierdie boek gebruik. As jy sukkel om enige van die vrae te verstaan, kan jy gerus jou Bybelstudiehouer of die ouermanne vra om jou te help.
Wanneer die ouermanne die vrae met jou deurgaan, hoef jy nie lang of ingewikkelde antwoorde te gee nie. ’n Eenvoudige, direkte antwoord in jou eie woorde sal die beste wees. Met baie van die vrae is dit ook goed om na een of twee Bybeltekste te verwys wat die skriftuurlike grondslag vir jou antwoord gee.
As jy nog nie genoeg kennis van basiese Bybelleringe het nie, sal die ouermanne reël dat jy hulp kry sodat jy in jou eie woorde die Bybel se leringe akkuraat kan verduidelik. Dan kan jy moontlik by ’n latere geleentheid gedoop word.
[Aan gemeentelike ouermanne: Instruksies oor hoe om besprekings met doopkandidate te hou, verskyn op bladsy 210-214.]