LES 80
Jesus kies twaalf apostels
Nadat Jesus omtrent een en ’n half jaar lank gepreek het, moes hy ’n belangrike besluit neem. Wie sou hy kies om saam met hom te werk? Wie sou hy oplei om die leiding te neem in die Christengemeente? Jesus wou hê dat Jehovah hom moes help om hierdie besluite te maak. Daarom het hy na ’n berg toe gegaan waar hy alleen kon wees en die hele nag lank gebid. Die volgende oggend het Jesus party van sy dissipels bymekaargeroep en sy 12 apostels gekies. Kan jy party van hulle name onthou? Hulle name was Petrus, Andreas, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Tomas, Matteus, Jakobus die seun van Alfeus, Taddeus, Simon en Judas Iskariot.
Andreas, Petrus, Filippus, Jakobus
Die Twaalf sou oral saam met Jesus gaan. Nadat hy hulle opgelei het, is hulle uitgestuur om op hulle eie te gaan preek. Jehovah het hulle krag gegee om demone uit te dryf en om siek mense gesond te maak.
Johannes, Matteus, Bartolomeus, Tomas
Jesus het die Twaalf sy vriende genoem en hy het hulle vertrou. Die Fariseërs het gedink dat die apostels net gewone mense was wat nie geleerd is nie. Maar Jesus het hulle vir hulle werk opgelei. Hulle was saam met Jesus gedurende die belangrikste tye van sy lewe. Byvoorbeeld, hulle was saam met hom kort voor sy dood en ná sy opstanding. Soos Jesus, was die meeste van die Twaalf van Galilea. Party van hulle was getroud.
Jakobus die seun van Alfeus, Judas Iskariot, Taddeus, Simon
Die apostels was onvolmaakte manne wat foute gemaak het. Partykeer het hulle gepraat sonder om te dink en nie goeie besluite geneem nie. Ander kere was hulle ongeduldig. Hulle het selfs gestry oor wie die belangrikste is. Maar hulle was goeie mense wat lief was vir Jehovah. Nadat Jesus weggegaan het, sou hulle die eerste lede van die Christengemeente word.
“Ek noem julle vriende, want ek het julle alles vertel wat ek by my Vader gehoor het.” – Johannes 15:15