Julie
Maandag 1 Julie
Verneder julle . . . onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef. — 1 Pet. 5:6.
Sebna was blykbaar die “bestuurder” oor die huis van Hiskia, en hy het baie gesag gehad (Jes. 22:15). Maar hy het later trots geword en wou ander laat dink dat hy belangrik is (Jes. 22:16-18). Omdat Sebna graag belangrik wou wees, het God hom ‘uit sy amptelike pos weggeruk’ en hom met Eljakim vervang (Jes. 22:19-21). Dit het gebeur toe die Assiriese koning Sanherib Jerusalem wou aanval. Later het hierdie koning hoë amptenare en duisende soldate na Jerusalem toe gestuur om die Jode bang te maak en om Hiskia sover te kry om oor te gee (2 Kon. 18:17-25). Eljakim is gestuur om met die amptenare te gaan praat, maar hy was nie alleen nie. Twee ander manne is saam met hom gestuur. Een van hulle was Sebna, wat nou die sekretaris was. Hieruit sien ons dat Sebna blykbaar nie verbitterd of vir homself jammer gevoel het nie. Hy was nederig en het minder belangrike voorregte aanvaar. w18.03 25 ¶7-8, 10
Dinsdag 2 Julie
Hou aan om deur gees te wandel, en julle sal hoegenaamd geen vleeslike begeerte uitvoer nie. — Gal. 5:16.
As ons agterkom dat ons denke om materiële en vleeslike dinge draai, moet ons nie moed opgee nie. Hou aan om vir Jehovah se heilige gees te vra, en hy sal jou help om op die regte dinge te fokus (Luk. 11:13). Dink aan die apostel Petrus. Hy het nie altyd soos Christus gedink nie (Matt. 16:22, 23; Luk. 22:34, 54-62; Gal. 2:11-14). Maar hy het nie moed opgegee nie. Met Jehovah se hulp het Petrus geleer om soos Christus te dink. Ons kan dit ook doen. Petrus het later spesifieke eienskappe genoem wat ons kan help (2 Pet. 1:5-8). As ons ons ‘ywerig inspan’ om eienskappe soos selfbeheersing, volharding en broederlike liefde aan te kweek, sal dit ons help om ’n geestelike mens te wees. Ons kan ons elke dag afvra: ‘Aan watter eienskap kan ek vandag werk om geestelik sterker te word?’ w18.02 25-26 ¶12-13
Woensdag 3 Julie
Ek het die woorde van sy mond as ’n skat bewaar, meer as wat vir my voorgeskryf is. — Job 23:12.
Job het God se beginsels baie goed verstaan. Hy het Jehovah goed geken en dit het hom gehelp om op die regte manier op te tree. Byvoorbeeld, Job kon nie sê dat hy God liefhet as hy nie vir ander mense lief was nie (Job 6:14). Hy het nie gedink dat hy beter as ander is nie. Hy het hulle almal as sy familie gesien, maak nie saak of hulle ryk of arm was nie. Hy het gesê: “Het die Een wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie?” (Job 31:13-22). Selfs toe Job ryk en belangrik was, het hy nie trots geword en ander as minder belangrik gesien nie. Baie mense wat vandag ryk en belangrik is, tree heeltemal anders op. Job het alle afgodediens verwerp. Hy het nie toegelaat dat enigiets vir hom belangriker as Jehovah word nie, nie eers materiële dinge nie. Hy het geweet dat as dit sou gebeur, hy “die ware God daar bo” sou verwerp (Job 31:24-28). En die huwelik was heilig vir Job, want dit is ’n belofte wat ’n man en vrou aan mekaar en voor Jehovah maak. Hy het selfs ’n belofte aan homself gemaak om nie met verkeerde gedagtes na ’n ander vrou te kyk nie. — Job 31:1. w18.02 11 ¶16; 12 ¶18-19
Donderdag 4 Julie
[Noag] was onberispelik onder sy tydgenote. Noag het met die ware God gewandel. — Gen. 6:9.
Noag wou nie net ’n goeie lewe lei nie. Hy was ook ’n “prediker van regverdigheid” wat moedig vir ander van sy geloof vertel het (2 Pet. 2:5). Die apostel Paulus het geskryf: “Deur hierdie geloof het hy die wêreld veroordeel” (Heb. 11:7). Daar is geen twyfel dat mense hom gespot, vervolg of selfs gedreig het om hom seer te maak nie. Maar hy het nie ‘vir mense gebewe’ nie (Spr. 29:25). Hy het eerder die moed gehad wat Jehovah vir sy getroue knegte gee. Nadat Noag God meer as 500 jaar lank getrou gedien het, het Jehovah vir hom gesê om ’n ark te bou om die mense en diere te red (Gen. 5:32; 6:14). Hierdie projek moes vir Noag baie moeilik gelyk het, en dit was nie net die bouwerk nie. Noag het sekerlik geweet dat mense hom selfs meer sou spot en teëstaan. Maar Noag het geloof in Jehovah gehad en was gehoorsaam. “Hy het net so gedoen.” — Gen. 6:22. w18.02 4 ¶4, 6-7
Vrydag 5 Julie
Hoe goed en hoe lieflik is dit . . . [om] in eenheid saam [te] woon! — Ps. 133:1.
’n Belangrike manier hoe ons eenheid bevorder, is om lief te hê soos Jehovah, die God van liefde (1 Joh. 4:8). Ons wil nooit die volgende van ons broers en susters sê nie: “Ek moet dalk lief wees vir hulle, maar ek hoef nie van hulle te hou nie!” As ons so voel, volg ons nie Paulus se raad wat sê dat ons “mekaar in liefde [moet] verdra” nie (Ef. 4:2). Paulus het nie net gesê dat ons “mekaar [moet] verdra” nie. Hy het gesê dat ons dit “in liefde” moet doen. Daar is ’n verskil. In ons gemeentes is daar baie verskillende soorte mense, en Jehovah het hulle almal getrek (Joh. 6:44). Jehovah het hulle getrek omdat hy vir hulle lief is. Hoe kan ons dan sê dat ons broers en susters nie ons liefde verdien nie? Ons wil hulle liefhê, net soos Jehovah hulle liefhet! — 1 Joh. 4:20, 21. w18.01 16 ¶14
Saterdag 6 Julie
Dink . . . aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid. — Pred. 12:1.
Party ouers dink dat dit beter vir hulle kind sal wees om eers verder te gaan leer en ’n goeie werk te kry voordat hy gedoop word. Hierdie ouers het dalk goeie bedoelings, maar sal dit hulle kind help om regtig suksesvol te wees? Nog belangriker, stem dit ooreen met wat die Bybel sê? Ons moet onthou dat hierdie wêreld en alles daarin gekant is teen wat Jehovah dink en wat hy wil hê (Jak. 4:7, 8; 1 Joh. 2:15-17; 5:19). ’n Goeie vriendskap met Jehovah is ’n kind se beste beskerming teen Satan, sy wêreld en die slegte denke wat dit bevorder. As ouers opvoeding en ’n goeie werk te veel beklemtoon, kan ’n kind begin dink dat die dinge in hierdie wêreld belangriker is as hulle vriendskap met Jehovah. Wil jy, as ’n liefdevolle ouer, werklik hê dat hierdie wêreld jou kind moet leer wat hom gelukkig sal maak? Die enigste manier om werklik suksesvol en gelukkig te wees, is om Jehovah eerste in ons lewe te stel. — Ps. 1:2, 3. w18.03 10 ¶10-11
Sondag 7 Julie
Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek. — Matt. 6:33.
Baie wat ’n eenvoudige lewe lei, is gelukkiger en het ook meer tyd om Jehovah te dien. Jack het sy groot huis en sy besigheid verkoop, want hy het geweet dat dit hom sou help om saam met sy vrou te pionier. Hy sê: “Ek het vir jare probleme by die werk gehad wat vir my baie stres veroorsaak het. My vrou, wat pionier, was altyd gelukkig. Sy het altyd gesê: ‘Ek het die beste baas ooit!’ Noudat ek pionier, werk ons al twee vir dieselfde Persoon, Jehovah.” Om te kyk of ons geld te veel liefhet, moet ons eerlik met onsself wees wanneer ons hierdie vrae beantwoord: ‘Wys die manier waarop ek lewe dat ek regtig glo wat die Bybel oor geld sê? Is geldmaak die belangrikste ding in my lewe? Is materiële dinge vir my belangriker as my vriendskap met Jehovah en met ander mense? Vertrou ek dat Jehovah vir my sal sorg?’ Ons kan seker wees dat Jehovah nooit dié sal teleurstel wat op hom vertrou nie. w18.01 25 ¶12-13
Maandag 8 Julie
Soos julle altyd gehoorsaam was . . . [hou aan] om julle eie redding met vrees en bewing te bewerk. — Fil. 2:12.
Dit is ’n ernstige verantwoordelikheid om aan jou eie redding te werk. Om dit te doen, moet jy God se Woord lees en daaroor nadink, met Jehovah praat in gebed en nadink oor hoe Jehovah jou al gehelp het. Dit sal jou help om meer oortuig te wees dat Jehovah jou Vriend is. En dit sal jou motiveer om met ander oor jou geloof te praat (Ps. 73:28). Jesus het gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Matt. 16:24). Om Jesus te volg, moet elke Christen homself aan Jehovah toewy en gedoop word. Dit is die begin van wonderlike seëninge nou, en sal lei tot ewige lewe in God se nuwe wêreld. Daarom moet jy alles in jou vermoë doen om aan te hou werk aan jou eie redding! w17.12 27 ¶18-19
Dinsdag 9 Julie
Beklee julle dan . . . met . . . lankmoedigheid. — Kol. 3:12.
As ouers hulle kinders geduldig leer, sal die kinders met tyd “die breedte en lengte en hoogte en diepte” van geloof verstaan (Ef. 3:18). Ons kan hulle op ’n manier leer wat hulle sal verstaan en wat by hulle ouderdom sal pas. As hulle oortuig is van wat hulle leer, sal dit vir hulle makliker wees om hulle geloof voor ander te verdedig, selfs voor hulle skoolmaats (1 Pet. 3:15). Byvoorbeeld, kan jou kinders uit die Bybel verduidelik wat met ons gebeur wanneer ons sterf? Verstaan hulle die Bybel se verduideliking? Onthou dat jy geduldig moet wees om jou kind te help om in God se Woord te glo, maar dit is die moeite werd (Deut. 6:6, 7). Jou voorbeeld is ook belangrik om jou kinders te help om hulle geloof op te bou. Stephanie, ’n ma van drie dogters, sê: “Ek vra my af: ‘Vertel ek my kinders hoekom ek oortuig is dat Jehovah bestaan, van sy liefde en dat hy regverdig is?’ Ek kan nie verwag dat my kinders oortuig moet wees as ek nie oortuig is nie.” w17.12 20 ¶8-10
Woensdag 10 Julie
Jou broer sal opstaan. — Joh. 11:23.
Waarom kon Marta seker wees dat haar broer ’n opstanding sou kry? Sy was oortuig daarvan, want sy het geweet van persone wat in die verlede opgewek is. Toe sy jonk was, het sy moontlik daarvan by die huis en by die sinagoge geleer. Ons kan na drie verhale in die Bybel kyk oor persone wat opgewek is. Dink ’n bietjie aan die eerste opstanding. Dit het gebeur in die tyd toe Jehovah sy profeet Elia die krag gegee het om wonderwerke te doen. In Sarfat, ’n Fenisiese kusdorpie, was ’n arm weduwee baie gasvry teenoor die profeet. Jehovah het toe ’n wonderwerk gedoen. Hy het seker gemaak dat haar meel en olie nie opraak nie sodat sy en haar seun nie sou sterf nie (1 Kon. 17:8-16). Haar seun het later siek geword en gesterf. Maar Elia het haar gehelp. Terwyl hy aan die liggaam geraak het, het hy gebid: “God, laat die siel van hierdie kind asseblief in hom terugkeer.” En dit het gebeur! God het Elia se gebed gehoor, en die kind het lewend geword. Dit is die eerste opstanding wat in die Bybel genoem word (1 Kon. 17:17-24). Marta het sekerlik van hierdie wonderwerk geweet. w17.12 3 ¶1; 4 ¶3, 5-6
Donderdag 11 Julie
Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie. — Matt. 6:24.
Mense sê dalk vir ons om ons tyd en energie te gebruik om ’n goeie werk te kry en te hou, veral ’n werk waar jy belangrik is of baie geld verdien. Omdat baie mense in die wêreld dink dat ’n goeie werk jou gelukkig sal maak, kan ’n Christen dalk ook so begin dink. Is dit regtig waar dat jy gelukkig sal wees as jy ’n goeie werk het waar jy belangrik is en baie geld verdien? Nee. Dink aan die voorbeeld van Satan. Hy wou in beheer gewees het. Hy wou ook belangrik gewees het. En op ’n manier het hy gekry wat hy wou hê. Maar hy is nie gelukkig nie, hy is kwaad (Matt. 4:8, 9; Op. 12:12). ’n Goeie werk kan jou net vir ’n kort tydjie gelukkig maak. Maar dink net hoe gelukkig ons is wanneer ons ander leer van God en die wonderlike hoop om vir ewig te lewe. Geen werk in hierdie wêreld kan jou so gelukkig maak nie. Mense in die wêreld is ook aggressief, jaloers en kompeteer met mekaar. Maar die Bybel sê dat dit alles “’n gejaag na die wind” is. — Pred. 4:4. w17.11 22-23 ¶11-13
Vrydag 12 Julie
Hulle [het], nadat hulle lofliedere gesing het, na die Olyfberg uitgegaan. — Matt. 26:30.
Toe die Christengemeente gestig is, het musiek ’n belangrike deel van ware aanbidding gebly. Dink aan wat op die belangrikste aand in die mensegeskiedenis gebeur het. Nadat Jesus die Here se Aandmaal ingestel het, het hy saam met sy dissipels lofliedere gesing. Die eerste-eeuse Christene het gewys hoe ons God met sang moet loof. Hulle het in huise bymekaargekom. Al was dit nie so mooi soos die tempel nie, het hulle nog steeds ywerig vir Jehovah gesing. Die apostel Paulus het vir sy Christenbroers gesê: “Hou aan om mekaar te leer en ernstig te vermaan met psalms, lofliedere tot God, geestelike liedere met welwillendheid, terwyl julle in julle harte tot Jehovah sing” (Kol. 3:16). Die liedjies in ons sangboek is geestelike liedjies wat met waardering gesing moet word. Dit is deel van die geestelike voedsel wat “die getroue en verstandige slaaf” vir ons gee. — Matt. 24:45. w17.11 4 ¶7-8
Saterdag 13 Julie
Julle moet stede uitkies wat vir julle geskik is. As vrystede moet hulle vir julle dien. — Num. 35:11.
Dit was maklik om by die ses vrystede uit te kom. Jehovah het vir die Israeliete gesê om drie stede aan albei kante van die Jordaanrivier te kies. Hoekom? Sodat enige vlugteling maklik en vinnig na ’n vrystad kon vlug (Num. 35:12-14). Die paaie na die vrystede was in ’n goeie toestand gehou (Deut. 19:3). Volgens Joodse tradisie was daar padtekens langs die pad om die vlugteling te help om die stad te vind. Omdat daar vrystede was, was dit nie vir ’n vlugteling nodig om na ’n ander land toe te vlug nie. Daar kon hy dalk in die versoeking kom om valse gode te begin aanbid. Dink hieraan: Jehovah het beveel dat ’n moordenaar doodgemaak moet word. Maar hy het ook seker gemaak dat iemand wat ’n ander persoon per ongeluk doodgemaak het, genade bewys kon word en beskerming kon kry! ’n Bybelkommentator het geskryf: “Dit was maklik vir ’n vlugteling om baat te vind by die reëling van die vrystede.” Jehovah is nie ’n wrede regter wat net sy knegte wil straf nie. Hy is eerder ’n God “wat ryk is in barmhartigheid”, of genade. — Ef. 2:4. w17.11 14 ¶4-5
Sondag 14 Julie
Keer terug tot my, . . . en ek sal tot julle terugkeer. — Sag. 1:3.
’n Vlieënde boekrol, ’n vrou wat in ’n houer geseël is en twee vrouens wat vlieg met vlerke soos ’n ooievaar. Hierdie is van die opwindende visioene wat Sagaria gesien het (Sag. 5:1, 7-9). Hoekom het Jehovah hierdie visioene vir sy profeet gegee? Sagaria se sesde en sewende visioen is ’n ernstige waarskuwing vir dié wat aanhou doen wat verkeerd is. Jehovah sal goddeloosheid verwyder. Ons, as sy knegte, moet goddeloosheid haat. Hierdie visioene verseker ons dat as ons hard werk om Jehovah gelukkig te maak, sal hy ons beskerm en seën. Dit is moeilik om rein te bly in hierdie goddelose wêreld, maar met Jehovah se hulp sal ons dit regkry! w17.10 21 ¶1; 25 ¶19
Maandag 15 Julie
Net so moet die bejaarde vroue hulle gedra soos dit die heiliges betaam . . . dat hulle die jong vroue tot besinning kan bring. — Tit. 2:3, 4.
Ongetroude susters het nou baie geleenthede om meer te doen in die bediening. Hulle kan pionier, gaan help waar daar meer verkondigers nodig is, die LDC-spanne help en aansoek doen vir die Skool vir Koninkrykspredikers. Party word selfs genooi om Gileadskool by te woon. Ouer susters is ook ’n seën vir die gemeente, hoewel hulle nie al hierdie dinge kan doen nie. Ons is baie lief vir hulle! Party van hulle kan nie meer so baie vir Jehovah doen as wat hulle kon toe hulle jonk was nie. Maar hulle kan nog steeds moedig wees en goeie dinge doen. Byvoorbeeld, ’n ouer suster het moed nodig as sy gevra word om met ’n jonger suster oor haar kleredrag te praat. Sy sal taktvol met die jonger suster praat en haar help om te sien watter uitwerking haar kleredrag op ander kan hê (1 Tim. 2:9, 10). Sulke liefdevolle raad kan die jonger suster baie help. w17.09 31-32 ¶17-18
Dinsdag 16 Julie
Jy sal die kennis van God vind. — Spr. 2:5.
Deur die jare heen het baie leiers mense verbied om die Bybel te lees. Maar godvresende manne het nie opgehou om die Bybel te vertaal en te versprei nie. Een van hierdie manne was John Wycliffe wat in die 14de eeu in Engeland geleef het. Hy het vas geglo dat almal God se Woord moet kan lees. Maar in sy dag het die meeste mense in Engeland nooit die boodskap van die Bybel in hulle eie taal gehoor nie. In 1382 het John Wycliffe en ander die Bybel in Engels vertaal. Hulle was baie lief vir die Bybel. Hulle het dwarsdeur Engeland van dorpie tot dorpie gegaan om vir mense die Bybel voor te lees en handgeskrewe afskrifte van gedeeltes van die Bybel aan hulle te gee. Van toe af het mense in Europa en ander dele van die wêreld die Bybel in baie tale begin vertaal en versprei sodat die gewone mense dit kon verstaan. w17.09 20-21 ¶10-12
Woensdag 17 Julie
Diegene wat wel trou, sal egter verdrukking in hulle vlees hê. — 1 Kor. 7:28.
As ’n vrou nie kinders kan hê nie, is dit ook ’n ‘verdrukking in die vlees’ (Spr. 13:12). In Bybeltye was dit ’n skande om kinderloos te wees. Jakob se vrou Ragel was baie bedroef toe haar suster kinders gehad het (Gen. 30:1, 2). Daar is een vorm van verdrukking waaraan getroude mense nie altyd dink nie. Die dood van ’n geliefde. Ja, die dood van ’n geliefde huweliksmaat is ’n baie moeilike toets. Dit is iets wat ’n huweliksmaat nie verwag nie. Christene glo vas aan die komende opstanding wat Jesus belowe het (Joh. 5:28, 29). Hoe help hierdie hoop die oorlewende huweliksmaat? Dit vertroos die huweliksmaat baie. Dit is nog ’n manier waarop ons liefdevolle Vader ons deur sy Woord vertroos en ondersteun. w17.06 4 ¶1; 5 ¶6; 6 ¶9
Donderdag 18 Julie
Jehovah, Jehovah, ’n barmhartige en genadige God. — Eks. 34:6.
By een geleentheid het God sy naam en sy eienskappe aan Moses bekendgemaak. Barmhartigheid en genade, of medelye, was die eerste eienskappe wat Hy genoem het (Eks. 34:5-7). Jehovah kon sy krag of sy wysheid eerste genoem het. Maar Moses wou weet of Jehovah hom regtig sou help. Daarom het Jehovah eienskappe genoem wat wys dat hy werklik sy knegte wil help (Eks. 33:13). Ons is gemaak om medelydend te wees, maar omdat ons onvolmaak is, is ons soms selfsugtig. Dit is dalk vir ons moeilik om te besluit of ons ander gaan help en of ons eerder op onsself gaan fokus. Wat kan ons help om meer medelye te hê? Eerstens, kyk hoe Jehovah en ander medelydend was. Tweedens, kyk hoe ons Jehovah se voorbeeld kan navolg en hoe dit vir ons goed kan wees. w17.09 8 ¶1; 9 ¶3
Vrydag 19 Julie
[Ag] met ootmoed die ander hoër as julleself. — Fil. 2:3.
Ons beweegrede om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee, moet wees om Jehovah te eer, nie om deur mense vereer te word nie. Onthou dat selfs ’n volmaakte geesskepsel trots geword en gesondig het. (Vergelyk Esegiël 28:17.) Ons is onvolmaak, en daarom is dit baie moeiliker om nie trots te wees nie. Maar dit is moontlik om ons met nederigheid te beklee. Wat sal ons help om dit te doen? Om nederig te bly, moet ons elke dag God se Woord lees en peins oor wat ons lees (Deut. 17:18-20). Ons moet veral nadink oor Jesus se leringe en oor sy wonderlike voorbeeld van nederigheid (Matt. 20:28). Jesus het selfs die voete van sy apostels gewas (Joh. 13:12-17). Ons moet aanhou bid vir God se gees. Dit sal ons help om te stry teen die neiging om beter as ander te wil wees. — Gal. 6:3, 4. w17.08 25 ¶11-12
Saterdag 20 Julie
Laat julle versoeke . . . by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak. — Fil. 4:6, 7.
Ons het miskien al gevoel dat ons die leiding van God se heilige gees gevolg het toe ons ’n besluit gemaak het. Maar dinge het nie gebeur soos ons verwag het nie. Ons het dalk baie uitdagings gehad of ons moes groot aanpassings in ons lewe maak (Pred. 9:11). Wat kan ons help om ons oor niks te kwel nie en om “die vrede van God” te hê? Paulus se woorde aan die Filippense wys dat gebed baie help wanneer ons bekommerd is oor ’n probleem. In plaas daarvan om bekommerd te wees, moet ons eerder bid (1 Pet. 5:6, 7). Wanneer jy bid, moet jy die volle vertroue hê dat Jehovah vir jou omgee. Sê dankie vir die seëninge wat jy geniet. Ons vertroue in hom word versterk wanneer ons onthou dat hy “oneindig meer kan doen as alles wat ons vra of wat ons ons voorstel”. — Ef. 3:20. w17.08 9 ¶4; 10 ¶6, 10
Sondag 21 Julie
Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie, maar in die veelheid van raadgewers kom iets tot stand. — Spr. 15:22.
Baie Christene het gepionier toe hulle jonk was en dit het hulle gelukkig gemaak. As jy nog jonk is, vertel hierdie pioniers gerus van jou toekomsplanne. Hulle sal vir jou sê dat die voltydse diens jou dinge sal leer wat jou vir die res van jou lewe kan help. Nadat Jesus se Vader hom in die hemel baie dinge geleer het, het hy bly leer terwyl hy hier op die aarde was. Byvoorbeeld, hy het geleer hoe gelukkig dit ’n mens maak om iemand se hart met die goeie nuus te bereik en om lojaal onder beproewing te bly (Jes. 50:4; Heb. 5:8; 12:2). Jesus het gesê: “Gaan . . . en maak dissipels van mense . . . en leer hulle” (Matt. 28:19, 20). Dit is ’n baie bevredigende loopbaan om dissipels te maak, en dit verheerlik Jehovah. Maar ’n mens word natuurlik nie oornag ’n goeie onderrigter nie. w17.07 23 ¶6-7
Maandag 22 Julie
Ek [sal] julle voortdurend vertroos. — Jes. 66:13.
Ons Vader, Jehovah, is ongetwyfeld die grootste bron van vertroosting (2 Kor. 1:3, 4). Nog ’n bron van vertroosting is die broers in die gemeente (1 Tess. 5:11). Hoe kan jy dié met ’n “verslae gees” aanmoedig en vertroos? (Spr. 17:22). Onthou, daar is “’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Pred. 3:7). ’n Weduwee met die naam Dalene sê: “Bedroefdes moet vir ander van hulle gedagtes en gevoelens vertel. Die belangrikste ding wat jy vir ’n bedroefde persoon kan doen, is om te luister — sonder om hom in die rede te val.” Junia, wie se broer selfmoord gepleeg het, sê: “Al kan jy hulle hartseer nie heeltemal verstaan nie, moet jy net probeer verstaan hoe hulle voel.” Hou in gedagte dat almal nie op dieselfde manier treur nie. w17.07 13 ¶3; 14 ¶11-13
Dinsdag 23 Julie
Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is. — Ps. 83:18.
Vandag draai baie mense se lewe net om geld. Hulle hoofdoel is om geld te maak en om seker te maak dat hulle dit nie verloor nie. Vir ander is hulle gesin, gesondheid en wat hulle in die lewe wil bereik die belangrikste. Maar daar is iets wat belangriker is. Dit is die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit. Ons moenie hierdie geskil vergeet nie. Hoe kan dit gebeur? As ons nie versigtig is nie, kan alledaagse dinge ons so besig hou dat ons vergeet hoe belangrik die regverdiging van God se soewereiniteit werklik is. Of ons kan toelaat dat ons probleme belangriker word as hierdie groot geskil. As ons Jehovah se soewereiniteit ondersteun, sal dit ons met ons probleme help en sal ons nader aan Jehovah kom. w17.06 22 ¶1-2
Woensdag 24 Julie
Word navolgers van my, net soos ek dit van Christus is. — 1 Kor. 11:1.
Jehovah regeer op ’n liefdevolle manier. Gesinshoofde en ouer manne wat lief is vir Jehovah se soewereiniteit sal nie veeleisend en dominerend wees nie. Hulle sal Jehovah eerder navolg. Paulus het Jehovah en sy Seun op hierdie manier nagevolg. Paulus het ander nie verleë laat voel of hulle gedwing om te doen wat reg is nie. Hy het hulle eerder aangespoor om te doen wat reg is (Rom. 12:1; Ef. 4:1; Filem. 8-10). Hy het dinge op Jehovah se manier gedoen. Dit is wat ons almal moet doen as ons Jehovah se heerskappy ondersteun. Ons ondersteun Jehovah se heerskappy deur saam met die broers te werk wat hy aangestel het. Ons wil altyd teokratiese reëlings ondersteun al verstaan ons ’n besluit nie ten volle nie of al stem ons nie daarmee saam nie. Dit is natuurlik nie hoe die wêreld dinge doen nie, maar dit is hoe dinge onder Jehovah se heerskappy werk. — Ef. 5:22, 23; 6:1-3; Heb. 13:17. w17.06 30 ¶14-15
Donderdag 25 Julie
Julle word . . . deur God geleer om mekaar lief te hê. — 1 Tess. 4:9.
Broers en susters wat mismoedig of depressief is, of wat ander probleme het, het ons aandag, aanmoediging en vertroosting nodig (Spr. 12:25; Kol. 4:11). Ons wys dat ons ons broers werklik liefhet as ons “dié wat in die geloof aan ons verwant is” in woord en daad help (Gal. 6:10). Die Bybel het voorspel dat mense “in die laaste dae” selfsugtig en gierig sal wees (2 Tim. 3:1, 2). As Christene moet ons hard werk om ons liefde vir God, vir Bybelwaarheid en vir ons broers en susters te versterk. Ons sal ons broers en susters soms misverstaan, maar omdat ons lief is vir mekaar, sal ons sulke misverstande op ’n liefdevolle manier oplos! (Ef. 4:32; Kol. 3:14). Laat ons dus aanhou om Jehovah, sy Woord en ons broers intens lief te hê. w17.05 21 ¶17-18
Vrydag 26 Julie
As ons die bewering maak: “Ons het geen sonde nie”, mislei ons onsself. — 1 Joh. 1:8.
Christene verwag dat hulle soms in die wêreld onregverdig behandel sal word. Maar ons geloof word dalk getoets wanneer ons in die gemeente onregverdig behandel word. Wat sal jy doen as jy dink dat iemand in die gemeente jou onregverdig behandel het of as jy iets in die gemeente sien wat nie reg lyk nie? Sal dit jou laat struikel? Omdat ons almal onvolmaak is, sal party in die gemeente ons miskien onregverdig behandel of ons sal hulle onregverdig behandel. Getroue Christene is nie verbaas as dit wel gebeur nie en hulle word ook nie daardeur gestruikel nie. Jehovah het praktiese raad in die Bybel voorsien om ons te help om lojaal te bly, selfs al behandel medegelowiges ons onregverdig. — Ps. 55:12-14. w17.04 19 ¶4-5
Saterdag 27 Julie
Diegene wat wel trou, sal . . . verdrukking in hulle vlees hê. — 1 Kor. 7:28.
As jy ’n huweliksmaat het wat Jehovah nie dien nie, kan dit baie probleme veroorsaak. Maar Jehovah sê dat jy nie kan skei of uitmekaar kan gaan net omdat jou huweliksmaat Hom nie dien nie (1 Kor. 7:12-16). Al neem jou man nie die geestelike leiding omdat hy Jehovah nie dien nie, moet jy hom nog steeds respekteer as die hoof van die gesin. En as jou vrou Jehovah nie dien nie, moet jy haar aanhou liefhê en vir haar sorg (Ef. 5:22, 23, 28, 29). Wat moet jy doen as jou maat jou diens aan Jehovah probeer beperk? ’n Suster se man het byvoorbeeld vir haar gesê dat sy net op sekere dae velddiens mag doen. As jy in so ’n situasie is, vra jou af: ‘Sê my maat dat ek Jehovah moet ophou dien? Sal dit verkeerd wees om te doen wat my maat van my vra?’ Deur redelik te wees, sal jy minder probleme in jou huwelik hê. — Fil. 4:5. w17.10 13 ¶7-8
Sondag 28 Julie
Jy moet dit by jou kind inskerp. — Deut. 6:7.
Soos daar voorspel is, stroom mense “uit al die tale van die nasies” na Jehovah se organisasie (Sag. 8:23). Maar as jou kinders jou taal nie verstaan nie, kan dit moeilik wees om hulle die waarheid te leer. Jou kinders is jou belangrikste Bybelstudente. Hulle moet Jehovah leer ken om vir ewig te kan lewe (Joh. 17:3). Praat gedurig met jou kinders oor wat Jehovah ons in sy Woord leer (Deut. 6:6, 7). Jou kinders sal heel moontlik die plaaslike taal by die skool leer. Maar hulle sal slegs jou taal leer as jy gereeld in jou taal met hulle praat. Dit sal vir hulle makliker wees om vir jou te sê hoe hulle voel as hulle jou taal kan praat. Maar om tweetalig te wees, het ook ander voordele. Dit sal jou kinders se denkvermoë verbeter en hulle help om beter met ander te kommunikeer. w17.05 9 ¶5-6
Maandag 29 Julie
Jy moet jou oor die berg Tabor versprei, en . . . ek [sal] Sisera . . . na jou toe trek, en ek sal hom inderdaad in jou hand gee. — Rigt. 4:6, 7.
In vergelyking met Jabin se leër met sy 900 strydwaens met ystersense, het die Israeliete nie eers wapens gehad om hulle mee te verdedig nie (Rigt. 4:1-3, 13; 5:6-8). Jehovah het vir Barak die instruksies hierbo gegee. Barak het dadelik Jehovah se instruksies gevolg (Rigt. 4:14-16). Gedurende die geveg in Taänag was daar ’n wolkbreuk wat die hele plek in ’n modderbad verander het. Barak het Sisera se leër 24 kilometer ver agternagesit — tot by Haroset. Langs die pad het Sisera van sy strydwa afgespring en na Saänannim, moontlik naby Kedes, gehardloop. Hy het in die tent van Jael, die vrou van Heber die Keniet, gaan wegkruip. Uitgeput het hy aan die slaap geraak en daar het Jael hom doodgemaak (Rigt. 4:17-21). Jehovah het die vyand oorwin! w17.04 29-30 ¶6-8
Dinsdag 30 Julie
Jehovah het ’n geskil met die nasies. . . . Wat die goddeloses betref, hy sal hulle aan die swaard oorgee. — Jer. 25:31.
Sal daar ná Armageddon enige organisasies op die aarde wees? Die Bybel sê: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Pet. 3:13). Die vorige hemele en aarde, die korrupte organisasies en al die mense onder hulle beheer, sal iets van die verlede wees. Waarmee sal hulle vervang word? “Nuwe hemele en ’n nuwe aarde.” Die nuwe hemele verwys na ’n nuwe regering, of die Koninkryk, wat bestaan uit Jesus Christus en sy 144 000 medeheersers. Die nuwe aarde verwys na diegene waaroor God se Koninkryk sal regeer. Die Koninkryksregering sal Jehovah God, wat ’n God van orde is, volmaak navolg (1 Kor. 14:33). Die “nuwe aarde” sal goed georganiseerd wees. Regverdige manne sal die leiding neem (Ps. 45:16). Hulle sal deur Christus en sy 144 000 medeheersers gerig word. Stel jou voor hoe dit sal wees as al die korrupte organisasies vervang word met ’n enkele, verenigde organisasie wat nooit korrup sal word nie! w17.04 11 ¶8-9
Woensdag 31 Julie
Hulle sal een vlees word. — Gen. 2:24.
Die huwelik is heilig. ’n Paartjie maak hulle huweliksgelofte voor God en voor ooggetuies. Hulle belowe dat hulle mekaar sal liefhê, koester en respekteer vir “solank as wat [hulle] albei saam op aarde lewe onder God se huweliksreëling”. Dalk het almal miskien nie hierdie woorde gesê nie, maar hulle het nog steeds ’n gelofte aan God gemaak. Hulle word dan man en vrou, en hulle huwelik is ’n lewenslange verbintenis (1 Kor. 7:39). Jesus het gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” — nie die man of die vrou of enigiemand anders nie. ’n Paartjie wat op trou staan, moet nooit dink dat egskeiding ’n opsie is nie (Mark. 10:9). Daar was natuurlik nog nooit ’n volmaakte huwelik nie. Elke huwelik bestaan uit twee onvolmaakte mense. Daarom sê die Bybel dat egpare soms “verdrukking in hulle vlees” sal hê. — 1 Kor. 7:28. w17.04 7 ¶14-15