September
Sondag 1 September
[Voed jou kinders op] in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah. — Ef. 6:4.
Een van die grootste voorregte wat Christenouers kan hê, is om hulle kind “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” groot te maak (Ps. 127:3). Kinders in die nasie Israel was aan Jehovah toegewy toe hulle gebore is. Maar dit is nie dieselfde vir die kinders van Christene vandag nie. En liefde vir God en die waarheid word ook nie oorgeërf nie. Van die dag dat hulle kind gebore word, moet dit die ouers se doel wees om ’n dissipel te maak — om hulle kind te help om ’n toegewyde, gedoopte kneg van Jehovah te word. Wat kan belangriker as dit wees? Dit is ’n persoon se toewyding, doop en getroue diens aan God wat dit vir hom moontlik sal maak om tydens die groot verdrukking gered te word (Matt. 24:13). Ouers, mag julle vreugde en tevredenheid ervaar wanneer julle sien dat julle kinders hulle lewe toewy en gedoopte knegte van Jehovah word. w18.03 12 ¶16-17
Maandag 2 September
Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. — 1 Tim. 4:16.
Almal moet Christus se voorbeeld navolg wanneer hulle die Bybel gebruik om ander te dissiplineer, of dit nou in die gesin of in die gemeente is. As ons Jehovah se dissipline aanvaar en hom en Jesus navolg wanneer ons ander dissiplineer, sal ons baie seëninge geniet. Daar sal vrede in ons families en gemeentes wees, en almal sal voel dat hulle geliefd en veilig is en waardeer word. Dit is net ’n voorsmakie van al die seëninge wat ons in die toekoms sal ontvang (Ps. 72:7). Jehovah se dissipline leer ons hoe om vir ewig as ’n verenigde familie in vrede saam te lewe, met Jehovah as ons Vader (Jes. 11:9). Wanneer ons dissipline só beskou, sal ons dit sien vir wat dit werklik is: ’n pragtige bewys van Jehovah se liefde vir ons. w18.03 26 ¶15; 27 ¶17, 19
Dinsdag 3 September
Mense is deur hom in die Jordaanrivier gedoop en het hulle sondes openlik bely. — Matt. 3:6.
Almal wat gekom het om deur Johannes gedoop te word, het dit gedoen omdat hulle berou gehad het oor hulle sondes teen die Wet van Moses (Matt. 3:1-6). Johannes het die unieke voorreg gehad om Jesus, die volmaakte seun van God, te doop (Matt. 3:13-17). Jesus se doop was nie ’n teken van berou nie, want hy was sonder sonde (1 Pet. 2:22). Sy doop het eerder gewys dat hy gereed was om God se wil te doen (Heb. 10:7). Nadat Jesus begin preek het, het sy dissipels ook mense begin doop (Joh. 3:22; 4:1, 2). Daardie persone is ook gedoop omdat hulle berou gehad het oor hulle sondes teen die Wet van Moses. Maar ná Jesus se dood en opstanding, sou daar ’n ander rede wees hoekom sy volgelinge gedoop word. w18.03 5 ¶6-7
Woensdag 4 September
Die geestelike mens ondersoek . . . alle dinge. — 1 Kor. 2:15.
Wat beteken dit om ’n “geestelike mens” te wees? ’n Geestelike mens se verhouding met God is vir hom baie belangrik. Hy doen sy bes om ’n ‘navolger van God’ te wees (Ef. 5:1). Dit beteken dat hy altyd probeer om soos Jehovah te dink en Sy beskouing van sake te hê. God is vir hom ’n werklike persoon. Anders as ’n fisiese mens probeer ’n geestelike mens om volgens Jehovah se standaarde te lewe (Ps. 119:33; 143:10). ’n Geestelike mens fokus nie op die werke van die vlees nie, maar hy doen sy bes om die vrug van die gees in sy lewe te openbaar (Gal. 5:22, 23). Dink hieraan: Net soos iemand wat goed is met besigheid ’n besigheidsman genoem kan word, net so kan iemand wat op geestelike dinge fokus ’n geestelike mens genoem word. w18.02 19 ¶3, 6
Donderdag 5 September
O Daniël, besonder geliefde man. — Dan. 10:11.
Daniël was ’n gevangene in Babilon, ’n stad wat vol afgodediens en spiritisme was. Die Babiloniërs het ook nie van die Jode gehou nie en het hulle en hulle God, Jehovah, gespot (Ps. 137:1, 3). Dit moes getroue Jode soos Daniël baie seergemaak het! Daar was selfs vir Daniël en sy drie vriende gesê wat hulle moes eet. Dit het ’n probleem geword, want Daniël wou hom nie “verontreinig met die lekkernye van die koning” nie (Dan. 1:5-8, 14-17). Daniël het nog ’n uitdaging gehad, wat miskien nie soos een gelyk het nie. Hy het besonderse eienskappe gehad, en daarom het hy spesiale voorregte gekry (Dan. 1:19, 20). Nogtans het Daniël nie trots geword of gedink dat hy altyd reg is nie. Hy het nederig gebly en Jehovah die eer vir sy sukses gegee (Dan. 2:30). Toe Daniël nog ’n jong man was, het Jehovah gesê dat hy ’n goeie voorbeeld van regverdigheid is, en word hy selfs saam met Noag en Job genoem (Eseg. 14:14). God het Daniël beslis vertrou! Daniël het sy hele lewe lank gehoorsaam en getrou gebly. w18.02 5 ¶11-12
Vrydag 6 September
Levi het ’n groot onthaal vir [Jesus] in sy huis gegee. — Luk. 5:29.
Jesus het ’n gebalanseerde beskouing van plesier gehad. Hy was by ’n “huweliksfees” en ’n “groot onthaal” (Joh. 2:1-10). By die troue was daar nie genoeg wyn nie, en daarom het hy ’n wonderwerk gedoen en water in wyn verander. Nogtans het Jesus nie plesier die belangrikste ding in sy lewe gemaak nie. Jehovah was die belangrikste persoon in sy lewe, en hy het alles gedoen wat hy kon om mense te help. Hy was bereid om baie pyn te verduur en aan ’n paal te sterf om die mensdom te red. Jesus het aan sy volgelinge gesê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele” (Matt. 5:11, 12). As ons werklik lief is vir God, sal ons nie net die dinge vermy wat ons weet Jehovah ongelukkig sal maak nie, ons sal ook dinge vermy wat ons dink hom ongelukkig sal maak. — Matt. 22:37, 38. w18.01 26 ¶16-18
Saterdag 7 September
As ’n mens sy kneg van jongs af bederf, sal hy in sy latere lewe ’n ondankbare word. — Spr. 29:21.
Ons gee vir Jehovah omdat ons lief is vir hom en hom waardeer. Ons is verstom wanneer ons dink aan alles wat Jehovah vir ons gedoen het. Koning Dawid het erken dat alles wat ons het, van Jehovah af kom. En alles wat ons vir Jehovah gee, het ons eintlik van hom ontvang (1 Kron. 29:11-14). Dit is goed vir ons om te gee en nie net te ontvang nie. Dink byvoorbeeld aan ’n kind wat ’n geskenk vir sy ouers gee. Hy het dit gekoop met die sakgeldjies wat hulle vir hom gegee het. So ’n geskenk maak die ouers baie bly. ’n Seun of dogter wat pionier en nog by die huis bly, gee hulle ouers dalk ’n paar rand om te help om kos te koop of die huur te betaal. Die ouers verwag dit dalk nie, maar hulle aanvaar dit. Hoekom? Want dit is ’n manier vir hulle kind om te wys dat hy alles waardeer wat sy ouers vir hom doen. Jehovah weet ook dat dit goed is vir ons om van ons waardevolle dinge te gee. w18.01 18 ¶4, 6
Sondag 8 September
Jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe, jy en jou nageslag. — Deut. 30:19.
Jy moet meer doen as om net vir jou kinders te sê wat reg en verkeerd is. Jy moet hulle ook help om oor vrae te redeneer soos: ‘Hoekom sê die Bybel dat sekere dinge wat vir jou dalk lekker lyk, verkeerd is? Hoe kan ek seker wees dat die Bybel se standaarde altyd goed is vir my?’ (Jes. 48:17, 18). As jou kind gedoop wil word, moet jy hom ook help om te verstaan wat die verantwoordelikheid van ’n gedoopte Christen is. Wat is die voordele? Watter probleme kan daar dalk wees? Hoekom is dit alles die moeite werd? (Mark. 10:29, 30). Daarom is dit belangrik om eers mooi oor hierdie dinge te dink voordat jy gedoop word. Help jou kinders om oor hierdie dinge na te dink. Dit sal hulle help om daarvan oortuig te wees dat dit altyd goed is om volgens die Bybel se standaarde te lewe. w17.12 21 ¶14-15
Maandag 9 September
[Hy noem] hulle almal selfs by die naam. — Jes. 40:26.
Baie van ons broers en susters is ernstig siek. Party sorg vir hulle bejaarde familielede, al is hulle self ook oud. Party sukkel om net kos op die tafel te sit. En ons weet dat van julle nie net met een nie, maar met ’n paar van hierdie probleme op dieselfde tyd sukkel! As Jehovah belangstel in lewelose dinge, dink net hoe Jehovah oor jou diens aan hom voel. Jy dien hom nie omdat jy dit moet doen nie, maar omdat jy vir hom lief is! (Ps. 19:1, 3, 14). Ons liefdevolle Vader ken jou baie goed. Hy het ‘selfs al die hare op jou kop getel’ (Matt. 10:30). En die psalmis verseker ons: “Jehovah ken die dae van die onberispelikes” (Ps. 37:18). Ja, hy weet waardeur ons elke dag gaan, en hy kan ons die krag gee om al ons beproewinge te verduur. w18.01 7 ¶1; 8 ¶4
Dinsdag 10 September
Tabita, staan op! — Hand. 9:40.
Toe Petrus Tabita opgewek het, was dit so oortuigend dat baie in die stad “in die Here begin glo” het. Hierdie nuwe dissipels kon vir almal oor die goeie nuus vertel, en dat Jehovah die vermoë het om die dooies op te wek (Hand. 9:36-42). Daar was nog ’n opstanding wat baie gesien het. By een geleentheid het die apostel Paulus ’n vergadering in ’n bovertrek in Troas gehou, wat nou Noordwes-Turkye is. Paulus het tot middernag toe gepraat. ’n Jong man met die naam Eutigus het by die venster gesit en luister. Maar hy het aan die slaap geraak en drie verdiepings ver geval. Dalk was Lukas die eerste persoon wat by Eutigus uitgekom het. Omdat hy ’n dokter was, het hy geweet dat Eutigus nie net seergekry het of bewusteloos was nie. Hy was dood! Paulus het ook na Eutigus toe gegaan en sy arms om Eutigus se liggaam gesit en gesê: “Sy siel is in hom.” Dink net hoe die mense gevoel het wat dit gesien het! Hulle “was uitermate vertroos” omdat hulle geweet het dat die jong man dood was en weer lewend geword het. — Hand. 20:7-12. w17.12 5 ¶10-11
Woensdag 11 September
Kom, aanskou die dade van Jehovah. — Ps. 46:8.
Begin mense dit nou uiteindelik regkry om die wêreld se probleme op te los? Mense is nog steeds besig om oorlog te maak. Misdaad soos gesinsgeweld, terrorisme en misdaad oor die Internet word baie meer. En dodelike siektes is steeds wydverspreid. Die ekonomie en politieke organisasies word deur selfsugtige mense beheer. Hulle kan nie oorlog, misdaad, siekte en armoede verwyder nie — net God se Koninkryk kan. Dink aan wat Jehovah vir die mens gaan doen. Oorlog: God se Koninkryk gaan alles verwyder wat oorlog veroorsaak soos selfsugtigheid, korrupsie, patriotisme, valse godsdiens en natuurlik Satan ook (Ps. 46:9). Misdaad: God se Koninkryk leer nou al miljoene mense om mekaar lief te hê en te vertrou. Geen ander regering kan dit doen nie (Jes. 11:9). Siekte: Jehovah gaan alle siekte wegvat en mense sal volmaak en gesond wees (Jes. 35:5, 6). Armoede: Jehovah sal al die armoede in die wêreld wegvat. En almal sal baie gelukkig wees en ’n vriendskap met hom kan geniet. — Ps. 72:12, 13. w17.11 24 ¶14-16
Donderdag 12 September
Geen bloedskuld [sal] op jou kom nie. — Deut. 19:10.
Een van die hoofredes vir die vrystede was om die Israeliete teen bloedskuld te beskerm. Lewe is kosbaar vir Jehovah en hy haat “hande wat onskuldige bloed vergiet” (Spr. 6:16, 17). Omdat God heilig en regverdig is, kon hy selfs nie ’n lewe wat per ongeluk geneem is, ignoreer nie. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het gewys dat lewe nie vir hulle kosbaar was nie. Hoe so? Jesus het gesê: “Julle het die sleutel van die kennis weggeneem; julle het self nie ingegaan nie, en dié wat ingaan, het julle verhinder!” (Luk. 11:52). Hulle was veronderstel om die mense te help om God se Woord te verstaan en die ewige lewe te kry. Maar die skrifgeleerdes en Fariseërs het mense gekeer om Jesus, “die Hoofbewerker van die lewe”, te volg. Hulle het die mense eerder op die pad na vernietiging gelei (Hand. 3:15). Die Fariseërs was trots en selfsugtig, en daarom was ander mense se lewe nie vir hulle kosbaar nie. Hoe wreed en genadeloos! w17.11 15 ¶9-10
Vrydag 13 September
Elkeen wat hom . . . vir my . . . skaam, vir hom sal die Seun van die mens hom ook skaam. — Mark. 8:38.
Jy het dalk nie van die begin af jou familie vertel dat jy die Bybel saam met die Getuies studeer nie. Maar toe jou geloof sterker geword het, het jy besef dat jy hulle moet vertel dat jy Jehovah wil dien. Omdat jy hierdie standpunt vir die waarheid ingeneem het, het dit dalk probleme tussen jou en jou familie veroorsaak. Probeer verstaan hoe hulle voel. Ons is dalk baie bly oor wat ons in die Bybel geleer het, maar ons familie glo dalk dat ons om die bos gelei is of dat ons deel geword het van ’n vreemde godsdiensgroep. Hulle dink dalk dat ons nie meer lief is vir hulle nie omdat ons nie meer vakansiedae saam met hulle vier nie. Hulle is ook dalk bang dat iets slegs met ons gaan gebeur nadat ons sterf. Luister na hulle en probeer verstaan hoe hulle voel en hoekom hulle bekommerd is oor jou (Spr. 20:5). Die apostel Paulus het probeer om “alle soorte mense” te verstaan, sodat hy die goeie nuus vir hulle kon vertel. As ons ons familielede probeer verstaan, kan dit ons help om hulle die waarheid te leer. — 1 Kor. 9:19-23. w17.10 15 ¶11-12
Saterdag 14 September
Speel melodieë vir [Jehovah]. — Ps. 33:2.
Ons is dalk skaam omdat ons nie regtig weet hoe om te sing nie. Maar daar is ’n paar basiese voorstelle wat ons kan volg om beter te kan sing. Jy kan hard en met ’n sterk stem sing as jy leer om reg asem te haal. Net soos elektrisiteit ’n gloeilamp laat brand, gee asemhaling jou stem krag wanneer jy praat of sing. Jy moet so hard sing soos wat jy praat, of selfs harder as dit. Die Bybel sê soms vir Jehovah se aanbidders om ‘uit te roep met vreugde’ wanneer ons vir Jehovah sing (Ps. 33:1-3). Probeer die volgende: Kies ’n liedjie uit ons sangboek waarvan jy baie hou. Lees die woorde hardop met ’n sterk stem en selfvertroue. Sê dan al die woorde van een frase van die liedjie in een asem met dieselfde stemsterkte. Sing dan daardie frase net so hard (Jes. 24:14). Jou sangstem sal sterker word, en dit is ’n goeie ding. Moenie dat dit jou bang maak of skaam laat voel nie! w17.11 5-6 ¶11-13
Sondag 15 September
Elkeen wie se gees die ware God opgewek het, [het opgestaan] om op te trek en die huis van Jehovah te herbou wat in Jerusalem was. — Esra 1:5.
Op die lang reis terug na Jerusalem het die Jode baie tyd gehad om te dink oor die nuwe plek waar hulle sou bly. Hulle het gehoor hoe pragtig Jerusalem en die tempel was (Esra 3:12). Hoe sou jy gevoel het as jy saam met hulle gereis het en Jerusalem vir die eerste keer gesien het? Sou dit jou hartseer gemaak het om die geboue te sien wat vernietig is en vol onkruid was? Sou jy Jerusalem se afgebreekte mure, met groot gapings waar hekke en torings was, vergelyk het met Babilon se groot dubbele mure? Maar die Jode het nie moedeloos geword nie. Hoekom nie? Hulle het gesien hoe Jehovah hulle gedurende hulle lang reis gehelp en beskerm het. Die eerste ding wat hulle gedoen het toe hulle daar aangekom het, was om ’n altaar te bou, en hulle het elke dag offerandes aan Jehovah gemaak. — Esra 3:1, 2. w17.10 26-27 ¶2-3
Maandag 16 September
Moenie bang of verskrik wees nie, want Jehovah . . . is met jou. — 1 Kron. 28:20.
Salomo het heel waarskynlik baie by sy pa, Dawid, geleer oor wat dit beteken om moedig te wees. Dawid was baie dapper toe hy teen Goliat geveg het. Met die hulp van God en ’n gladde klip het Dawid die reus doodgemaak (1 Sam. 17:45, 49, 50). Ons kan sien hoekom Dawid Salomo later aangemoedig het om moedig te wees en die tempel te bou. Jehovah sou hom help om die tempel te bou. Met Dawid se aanmoedigende woorde in gedagte, het Salomo nie toegelaat dat sy ouderdom of sy gebrek aan ondervinding vir hom ’n struikelblok word nie. Hy was baie moedig en het hard gewerk. Met Jehovah se hulp het hy die pragtige tempel in sewe en ’n half jaar voltooi. Net soos Jehovah Salomo gehelp het, kan hy ons ook help om moedig te wees en om ons werk in die gesin en in die gemeente te doen (Jes. 41:10, 13). As ons Jehovah moedig dien, kan ons daarvan seker wees dat hy ons nou en in die toekoms sal seën. w17.09 28 ¶3; 29 ¶4; 32 ¶20-21
Dinsdag 17 September
Die woord van God is lewend en oefen krag uit. — Heb. 4:12.
Jehovah se knegte is oortuig daarvan dat sy Woord, sy boodskap aan mense, ‘lewend is en krag uitoefen’. Baie van ons het al gesien hoe die Bybel ons en ander mense se lewens verander. Party van ons broers en susters was voorheen diewe, seksueel onsedelik of verslaaf aan dwelms. Ander was suksesvol in hierdie wêreld, maar het nog steeds ’n leemte in hulle lewe gevoel (Pred. 2:3-11). Die krag wat die Bybel het om lewens te verander, het hulle gehelp om nou ’n doel in die lewe te hê. Ons geniet dit om sulke ondervindinge in Die Wagtoring in die reeks “Die Bybel verander lewens” te lees. En selfs nadat hulle Christene geword het, moet hulle hard werk om met die hulp van die Bybel hulle verhouding met Jehovah te versterk. w17.09 23 ¶1
Woensdag 18 September
Omdat Jehovah medelye met hom gehad het, . . . [het] hulle . . . hom uitgebring en hom buite die stad laat staan. — Gen. 19:16.
Net soos Jehovah Lot se probleme verstaan het, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons probleme ook verstaan (Jes. 63:7-9; Jak. 5:11; 2 Pet. 2:9). Jehovah het ook gesê dat sy knegte medelydend moet wees. Dink byvoorbeeld aan ’n wet wat Jehovah aan die Israeliete gegee het. ’n Skuldeiser kon die klere neem van iemand wat hom geld geskuld het as ’n waarborg dat hy hom sou terugbetaal (Eks. 22:26, 27). Maar iemand sonder medelye kon sy klere vat en dit nie teruggee nie. Dan sou die persoon niks gehad het om hom warm te hou nie. Maar Jehovah het sy knegte geleer om medelye te hê. Wat leer ons uit hierdie wet? As ons broers en susters swaarkry en ons hulle kan help, moet ons dit doen. — Kol. 3:12; Jak. 2:15, 16; 1 Joh. 3:17. w17.09 9 ¶4-5
Donderdag 19 September
Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. — Luk. 23:34.
Jesus het gebid dat sy Vader sy vyande moet vergewe. Hy is ’n uitsonderlike voorbeeld van iemand wat sagmoedig en geduldig gebly het selfs toe hy geweldige druk en pyn verduur het! (1 Pet. 2:21-23). Paulus het een manier genoem waarop ons kan wys dat ons sagmoedig en geduldig is. Hy het geskryf: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kol. 3:13). Ons moet sagmoedig en geduldig wees om ander te kan vergewe. Dit sal vrede en eenheid in die gemeente bevorder. Jehovah vereis dat Christene sagmoedig en geduldig moet wees. Hierdie eienskappe is noodsaaklik as ons in sy nuwe wêreld wil lewe (Matt. 5:5; Jak. 1:21). As ons sagmoedig en geduldig is, eer ons Jehovah en help ons ander om dieselfde te doen. — Gal. 6:1; 2 Tim. 2:24, 25. w17.08 25-26 ¶15-17
Vrydag 20 September
Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos. — 2 Pet. 2:9.
Ons vind baie voorbeelde in die Bybel van hoe Jehovah dinge gedoen het wat niemand verwag het nie. Koning Hiskia het gelewe toe koning Sanherib van Assirië Juda ingeval en al die versterkte stede, behalwe Jerusalem, ingeneem het (2 Kon. 18:1-3, 13). Toe het Sanherib gekom om Jerusalem aan te val. Wat het koning Hiskia gedoen? Hy het tot Jehovah gebid en Jehovah se profeet Jesaja vir raad gevra (2 Kon. 19:5, 15-20). Hiskia het gewys dat hy redelik is en die boete betaal wat Sanherib vereis het (2 Kon. 18:14, 15). Hiskia het toe voorbereidings getref vir ’n lang beleëring (2 Kron. 32:2-4). Maar hoe is hierdie probleem opgelos? Jehovah het ’n engel gestuur wat 185 000 van Sanherib se soldate in een nag doodgemaak het. Nie eens Hiskia het dit verwag nie! — 2 Kon. 19:35. w17.08 10 ¶7; 11 ¶12
Saterdag 21 September
Maak dissipels van mense . . . , en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. — Matt. 28:19, 20.
Hoe kan jy nou vir die voltydse diens beplan? Om Jehovah heelhartig te dien, moet jy geestelike eienskappe aankweek. Wees ’n ywerige student van God se Woord, dink diep na oor wat jy leer en gee opbouende kommentare by die vergaderinge. Jy kan leer hoe om ’n bekwame verkondiger van die goeie nuus te wees terwyl jy nog op skool is. Leer om belangstelling in mense te toon deur taktvol te vra wat hulle dink en dan na hulle te luister. Jy kan ook aanbied om te help om die Koninkryksaal skoon te maak en dit in stand te hou. Jehovah gebruik graag dié wat nederig en gewillig is (Ps. 110:3; Hand. 6:1-3). Die apostel Paulus het Timoteus gevra om saam met hom as ’n sendeling te dien, want hy is “gunstig vermeld deur die broers”. — Hand. 16:1-5. w17.07 23 ¶7; 26 ¶14
Sondag 22 September
Voor my sal elke knie buig, by my sal elke tong sweer. — Jes. 45:23.
Voordat die geskil oor die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit nie opgelos is nie, kan daar nie ware vrede en eenheid wees nie. Maar nadat Jehovah se soewereiniteit geregverdig is, sal almal Jehovah se heerskappy vir ewig aanvaar. Dan sal daar vrede in die hemel en op die aarde wees (Ef. 1:9, 10). God se soewereiniteit sal geregverdig word. Satan se heerskappy en menseregerings sal misluk en vernietig word. God se heerskappy deur middel van sy Messiaanse Koninkryk sal suksesvol wees. En getroue knegte sal dan bewys het dat mense wel lojaal kan bly aan God se heerskappy (Jes. 45:24). Wil jy een van hierdie getroue ondersteuners van Jehovah se soewereiniteit wees? Natuurlik! Dan moet jy besef hoe belangrik hierdie groot geskil werklik is. w17.06 23 ¶4-5
Maandag 23 September
’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is. — Spr. 17:17.
Ons almal treur op verskillende maniere. Ná die dood van ’n geliefde is daar baie vriende en familie om die bedroefde te vertroos. Maar wanneer die bedroefde weer alleen is, moet jy bereid wees om hulle te help en te vertroos. Christene moet bereid wees om bedroefdes te vertroos vir solank as wat hulle dit nodig het (1 Tess. 3:7). Onthou dat enigiets hulle weer baie hartseer kan maak. Dit kan ’n huweliksherdenking, ’n liedjie, ’n foto, ’n reuk, ’n geluid of selfs die tyd van die jaar wees. Dit kan baie moeilik wees as die persoon vir die eerste keer iets alleen moet doen, soos om die Gedenkmaal of ’n byeenkoms by te woon. Maar hou in gedagte dat bedroefdes nie net aanmoediging op spesiale geleenthede nodig het nie. w17.07 16 ¶17-19
Dinsdag 24 September
[Moenie] uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander. — Fil. 2:4.
As ons liefdevolle belangstelling in ander toon, help dit ons om van ons eie probleme te vergeet. Getroude en ongetroude susters geniet dit om as medewerkers van God die goeie nuus te verkondig. Hulle doen God se wil met die doel om hom te verheerlik. Baie sê dat velddiens vir hulle net die regte medisyne is. Ons toon dat ons in mense belangstel as ons die goeie nuus aan hulle verkondig. En wanneer ons goed doen aan ons broers en susters, wys ons dat ons baie lief is vir hulle. Die apostel Paulus was ’n goeie voorbeeld vir ons. Hy het soos ’n “sogende moeder” vir die gemeente in Tessalonika geword. Hy was ook soos ’n geestelike vader (1 Tess. 2:7, 11, 12). Kinders wat Jehovah liefhet en sy leiding volg, kan ’n bron van vertroosting vir hulle gesin wees. Hulle sal hulle ouers respekteer en hulle op praktiese maniere help. Hulle kan ook die gesin geestelik help. w17.06 7 ¶13-14; 8 ¶17
Woensdag 25 September
Maak vir julle vriende deur middel van die onregverdige rykdom. — Luk. 16:9.
Dit is baie duidelik dat miljarde mense brandarm is terwyl ander meer geld het as wat hulle ooit in ’n leeftyd kan uitgee. Jesus het geweet dat die ekonomiese stelsel nie sou verander totdat God se Koninkryk kom nie. Volgens die Bybel is die “koopmanne”, of die kommersiële stelsel, tesame met die politieke en godsdiensstelsel, deel van Satan se wêreld (Op. 18:3). God se knegte het hulle heeltemal van die politiek en valse godsdiens afgeskei. Maar hulle kan hulle nie geheel en al van die kommersiële wêreld afskei nie. As Christene kan ons gerus ons beskouing van die kommersiële wêreld ondersoek. Vra jou af: ‘Hoe kan ek my materiële besittings gebruik om te wys dat ek aan God getrou is? Hoe kan ek minder betrokke wees by die kommersiële wêreld? Watter ondervindinge wys dat God se knegte ten volle op hom vertrou?’ w17.07 7 ¶1-3
Donderdag 26 September
Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe [nie]. — Luk. 21:34.
Jesus het geweet dat ons lewe baie moeilik sou wees as gevolg van die sorge van hierdie stelsel van dinge. Jesus het in sy illustrasie van die saaier gesê dat party mense “die woord van die koninkryk” sou aanvaar en vordering sou maak, maar dat “die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom” die ‘woord sou verstik’ (Matt. 13:19-22; Mark. 4:19). As ons nie versigtig is nie, kan die sorge van die lewe veroorsaak dat ons nie meer so ywerig in Jehovah se diens is nie. Ons wys dat ons lief is vir Christus deur die predikingswerk eerste in ons lewe te stel. Hoe kan ons aanhou om dit te doen? Ons moet onsself afvra: ‘Waarvoor is ek die liefste? Wat gee my meer vreugde? My diens aan Jehovah of ander dinge?’ w17.05 23 ¶3-4
Vrydag 27 September
[Spreek] maklik verstaanbare woorde. — 1 Kor. 14:9.
As daar nie ’n gemeente in die taal van die immigrante is nie, moet hulle na ’n gemeente gaan wat die plaaslike taal praat (Ps. 146:9). Maar as daar ’n gemeente is wat julle moedertaal gebruik, is die vraag natuurlik: Na watter een van die twee gemeentes moet julle gaan? Nadat die gesinshoof goed daaroor nagedink en gebid het en met sy vrou en kinders daaroor gepraat het, moet hy die besluit neem (1 Kor. 11:3). Ouers moet mooi nadink oor wat hulle kinders nodig het. Vir ’n kind om Bybelwaarhede goed te verstaan, het hy natuurlik baie meer nodig as om net na die vergaderinge toe te gaan. Maar dink hieraan: As kinders ’n vergadering bywoon in die taal wat hulle die beste verstaan, leer hulle baie makliker en dalk selfs meer as wat hulle ouers besef. Maar as kinders nie die taal verstaan nie, sal hulle nie so maklik kan leer nie. — 1 Kor. 14:11. w17.05 10 ¶10-11
Saterdag 28 September
Omdat die volk hulle vrywillig aangebied het, loof Jehovah. — Rigt. 5:2.
Vra jou gerus af: ‘Het ek die moed en geloof om Jehovah se bevele met alles wat ek het te gehoorsaam?’ As jy daaraan dink om in ’n ander land te gaan werk om meer geld te verdien, vra jouself af: ‘Het ek biddend nagedink oor die uitwerking wat dit op my gesin en die gemeente sal hê?’ Jehovah gee ons die voorreg om hom as Heerser van die heelal te ondersteun. Die Duiwel probeer van Adam en Eva se tyd af om mense te kry om hom as heerser te aanvaar. Maar as ons Jehovah as Heerser aanvaar, wys ons vir Satan baie duidelik aan wie se kant ons is. Ons geloof en lojaliteit wat ons motiveer om vrywillige diens te doen, maak Jehovah baie bly (Spr. 23:15, 16). As ons Jehovah lojaal ondersteun en gehoorsaam is, kan hy Satan ’n antwoord gee (Spr. 27:11). Ons gehoorsaamheid aan Jehovah is vir hom kosbaar en dit verskaf hom groot vreugde. w17.04 32 ¶15-16
Sondag 29 September
Wanneer jy ’n gelofte aan God doen, moet jy nie aarsel om dit te betaal nie, want daar is geen behae in die sotte nie. Wat jy plegtig belowe, moet jy betaal. — Pred. 5:4.
Die Wet van Moses het gesê: “As ’n man ’n gelofte aan Jehovah doen of ’n eed sweer waardeur hy sy siel . . . verbind, mag hy sy woord nie breek nie. Volgens alles wat uit sy mond uitgegaan het, moet hy doen” (Num. 30:2). Salomo het later die woorde van vandag se teks onder inspirasie geskryf. Jesus het die erns van geloftes bevestig: ‘Daar is vir dié van die ou tyd gesê: “Jy mag nie sweer sonder om jou eed na te kom nie, maar jy moet jou geloftes aan Jehovah betaal”’ (Matt. 5:33). Dit is duidelik dat dit ’n ernstige saak is om beloftes aan God te maak. Ons beskouing van ons geloftes het ’n uitwerking op ons verhouding met Jehovah. Dawid het geskryf: “Wie mag teen die berg van Jehovah opgaan, en wie mag in sy heiligdom opstaan? Enigiemand wat . . . nie ’n valse eed afgelê het nie.” — Ps. 24:3, 4. w17.04 3-4 ¶3-4
Maandag 30 September
Hy het nie met sy tong gelaster nie. — Ps. 15:3.
Wanneer ’n Christen dink dat hy onregverdig behandel word, moet hy versigtig wees om nie sleg te praat van ander nie. Dit is natuurlik gepas om die ouer manne om hulp te vra en hulle te laat weet as iemand ernstig gesondig het (Lev. 5:1). Maar as daar nie ’n ernstige sonde gepleeg is nie, kan probleme opgelos word sonder om iemand anders, of selfs die ouer manne, daarvan te vertel (Matt. 5:23, 24; 18:15). Ons moet lojaal wees en die Bybel gebruik om sulke probleme op te los. Partykeer moet ons erken dat ons nie onregverdig behandel was nie, maar dat dit net ’n misverstand was. Ons sal baie bly wees dat ons nie die situasie erger gemaak het deur sleg te praat van ’n mede-Christen nie! Om van ander sleg te praat, sal nooit die situasie verbeter nie, maak nie saak of ons reg of verkeerd is nie. As ons lojaal bly teenoor Jehovah en ons broers, sal ons nie hierdie fout maak nie. w17.04 21 ¶14