Oktober
Dinsdag 1 Oktober
As een van julle . . . wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt. — Jak. 1:5.
Wysheid kom van Jehovah, en hy deel dit graag met ander. Een manier hoe ons wysheid van God kry, is deur sy dissipline te aanvaar. Hierdie wysheid beskerm ons sodat ons nie dinge doen wat verkeerd is nie en help ons om na aan Jehovah te bly (Spr. 2:10-12). Dit sal ons “in God se liefde hou . . . met die ewige lewe in die vooruitsig” (Jud. 21). Maar ons onvolmaaktheid, die manier waarop ons grootgemaak is en ander dinge kan dit soms vir ons moeilik maak om dissipline te aanvaar of om dit as iets te sien wat ons kan help. Ons leer om lief te word vir dissipline en besef dat dit ’n bewys van God se liefde is, wanneer ons sien hoe dit ons in ons lewe help. Spreuke 3:11, 12 sê: “My seun, moenie die dissipline van Jehovah verwerp nie . . . want Jehovah wys die een tereg wat hy liefhet.” Ons kan seker wees dat Jehovah die beste vir ons wil hê (Heb. 12:5-11). Omdat God ons so goed ken, is sy dissipline altyd regverdig en presies wat ons nodig het. w18.03 28-29 ¶1-2
Woensdag 2 Oktober
Wees gasvry teenoor mekaar. — 1 Pet. 4:9.
Die apostel Petrus het die woorde hierbo geskryf aan verskillende gemeentes in Klein-Asië. Hulle is baie erg vervolg. Wat kon hierdie Christene help om deur daardie stresvolle tyd te kom? (1 Pet. 1:1; 4:4, 7, 12). Let op dat Petrus sy broers en susters aangemoedig het om gasvry te wees “teenoor mekaar”, teenoor dié wat reeds hulle vriende was. Hoe sou gasvryheid hulle help? Dit sou hulle nader aan mekaar bring. Dink aan jou eie ondervinding. Het iemand jou al na hulle huis toe genooi? Onthou jy nog hoe lekker dit was? Is julle vriendskap nie versterk toe jy broers of susters na jou huis oorgenooi het nie? ’n Baie goeie manier om ons broers en susters beter te leer ken, is deur gasvry teenoor hulle te wees. Christene in Petrus se dag moes al hoe nader aan mekaar kom terwyl toestande vererger het. Ons moet dieselfde in hierdie “laaste dae” doen. — 2 Tim. 3:1. w18.03 14-15 ¶1-3
Donderdag 3 Oktober
Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle. — Matt. 5:3.
Die Bybel praat met lof van geestelike mense. Romeine 8:6 wys wat die voordeel is om ’n geestelike mens te wees. Dit sê: “Want om die vlees te bedink, beteken die dood, maar om die gees te bedink, beteken lewe en vrede.” As ons nou op geestelike dinge gefokus bly, sal ons vrede met God en ook innerlike vrede geniet en sal ons die hoop hê om in die toekoms vir ewig te lewe. Maar ons lewe in ’n gevaarlike wêreld. Die wêreld is vol mense wat net aan hulle vleeslike begeertes dink. Daarom moet ons hard werk om ’n geestelike mens te word en om ons geestelikheid te beskerm. As ons nie ons verstand met Jehovah se gedagtes vul nie, sal die wêreld ons verstand met vleeslike gedagtes vul. Judas het gepraat van mense wat so gefokus sou wees op vleeslike dinge dat hulle nie meer Jehovah se heilige gees sou hê nie. — Jud. 18, 19. w18.02 19 ¶5, 7; 20 ¶8
Vrydag 4 Oktober
Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. — 2 Tim. 3:13.
Baie dokters en verpleegsters werk met mense wat aansteeklike siektes het. Hulle sorg vir die pasiënte omdat hulle hulle wil help. Maar hulle moet hulleself altyd beskerm sodat hulle nie ook hierdie aansteeklike siekte kry nie. Jehovah se knegte is amper in dieselfde situasie. Ons lewe en werk dalk saam met mense wie se eienskappe van God s’n verskil. Dit kan vir ons baie moeilik wees. Vandag is daar baie mense wat nie lief is vir God nie, en daarom lewe hulle nie volgens sy standaarde nie. In die apostel Paulus se tweede brief aan Timoteus het hy eienskappe genoem van mense wat nie God se vriende is nie (2 Tim. 3:1-5). Dit is dalk vir ons ’n skok om te sien hoe hierdie eienskappe algemeen word, maar hierdie slegte gedrag kan ons beïnvloed (Spr. 13:20). Daarom moet ons ons beskerm teen hierdie slegte eienskappe, terwyl ons nog steeds ander geestelik help. w18.01 27 ¶1-2
Saterdag 5 Oktober
Maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle. — Matt. 28:19.
In die jaar 33, kort ná Jesus se opstanding, het hy met meer as 500 mans, vroue en moontlik kinders gepraat. Dit was dalk by daardie geleentheid dat hy die opdrag hierbo gegee het (1 Kor. 15:6). Ja, dit lyk asof honderde volgelinge van Jesus daar was toe hy hierdie woorde gesê het. Jesus het ook gesê dat elkeen wat sy dissipel wil wees, of sy “juk” wil neem, gedoop moet word (Matt. 11:29, 30). Elkeen wat God wil dien op ’n manier wat Hom gelukkig maak, moet aanvaar dat Jehovah Jesus gebruik om Sy wil uit te voer. Nadat ’n persoon dit gedoen het, kan hy gedoop word. Dit is die enigste soort waterdoop wat God aanvaar. Daar is baie bewyse in die Bybel dat nuwe dissipels van Christus in die eerste eeu verstaan het hoekom dit belangrik was om gedoop te word. En hulle het nie hulle doop onnodig uitgestel nie. — Hand. 2:41; 9:18; 16:14, 15, 32, 33. w18.03 5 ¶8
Sondag 6 Oktober
O Daniël, besonder geliefde man. — Dan. 10:11.
Ons lewe vandag in ’n wêreld wat vol onsedelikheid en valse aanbidding is as gevolg van die invloed van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. Die Bybel noem dit “’n woonplek . . . van demone” (Op. 18:2). Mense kan sien dat ons anders is, en daarom spot hulle ons (Mark. 13:13). Maar laat ons, net soos Daniël, nader aan Jehovah kom. Wanneer ons nederig is, op Jehovah vertrou en hom gehoorsaam, sal ons ook kosbaar in sy oë wees (Hag. 2:7). Ouers kan uit die voorbeeld van Daniël se ouers leer. Hoe so? As ’n jong seun in Juda, was daar baie goddelose mense om hom. Maar Daniël het lief geword vir Jehovah. Sy ouers moes hom van Jehovah geleer het (Spr. 22:6). Selfs Daniël se naam, wat “God is my regter” beteken, wys dat sy ouers Jehovah baie liefgehad het (Dan. 1:6). Ouers, wees geduldig met julle kinders wanneer julle hulle van Jehovah leer (Ef. 6:4). Bid ook saam met hulle en vir hulle. Wanneer jy jou bes doen om hulle Bybelwaarhede te leer, sal Jehovah julle seën. — Ps. 37:5. w18.02 5 ¶12; 6 ¶14-15
Maandag 7 Oktober
Alles kom van u, en uit u hand het ons aan u gegee. — 1 Kron. 29:14.
Om te gee is deel van ons aanbidding. Die apostel Johannes het in ’n visioen gehoor hoe Jehovah se knegte in die hemel sê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep” (Op. 4:11). Jehovah verdien beslis al die heerlikheid en eer, en daarom wil ons net ons beste vir hom gee. Jehovah het die nasie Israel deur Moses beveel om elke jaar drie feeste te hou. Deel van hulle aanbidding by hierdie feeste was om iets vir Jehovah te gee. Hulle kon nie “met leë hande voor Jehovah verskyn nie” (Deut. 16:16). Om onselfsugtig te gee, is vandag ook ’n baie belangrike deel van ons aanbidding. Dit wys dat ons die werk wat die aardse deel van Jehovah se organisasie doen, waardeer en ondersteun. w18.01 18 ¶4-5
Dinsdag 8 Oktober
Ek sal julle verkwik. — Matt. 11:28.
Jesus het bygevoeg: “Neem my juk op julle . . . Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matt. 11:29, 30). Hierdie woorde is baie waar! Partykeer is ons doodmoeg wanneer ons vergaderinge toe gaan of velddiens doen. Maar hoe voel ons wanneer ons weer huis toe gaan? Ons voel goed, en ons is weer reg om ons probleme te hanteer. Jesus se juk is beslis sag! Kom ons kyk na die voorbeeld van een van ons susters. Sy ly aan chroniese moegheid, depressie en migraines. Daarom is dit soms vir haar moeilik om na die vergaderinge toe te gaan. Maar nadat sy die moeite gedoen het om ’n vergadering by te woon, het sy gesê: “Die toespraak het gegaan oor ontmoediging. Die broer het die toespraak met soveel empatie en besorgdheid gehou, dat ek in trane was. Ek het besef hoe belangrik dit is om by die vergaderinge te wees.” Sy was baie bly dat sy die moeite gedoen het om na die vergadering toe te gaan! w18.01 8 ¶6-7
Woensdag 9 Oktober
My voete het amper afgewyk. — Ps. 73:2.
Wat kan jy doen as jou kind oor die waarheid begin twyfel nadat hy gedoop is? Byvoorbeeld, miskien begin jou seun of dogter van die dinge in die wêreld hou. Of hulle begin dalk twyfel of dit regtig beter is om volgens Bybelstandaarde te lewe (Ps. 73:1, 3, 12, 13). As ’n ouer, moet jy besef dat die manier hoe jy op sulke vrae reageer, jou kind se keuse om Jehovah te dien of nie, sal beïnvloed. Probeer om nie met jou kind hieroor te baklei nie, maak nie saak of hy baie jonk of ’n tiener is nie. Maak eerder seker dat jou kind weet dat jy vir hom lief is en hom wil help. ’n Jong persoon wat gedoop is, het hulle lewe aan Jehovah toegewy. Dit is ’n belofte om Jehovah te dien en hom lief te hê bo alle ander dinge (Mark. 12:30). Jehovah neem hierdie belofte baie ernstig op, en ons moet ook. — Pred. 5:4, 5. w17.12 22 ¶16-17
Donderdag 10 Oktober
Ek weet dat [my broer] in die opstanding op die laaste dag sal opstaan. — Joh. 11:24.
Net soos Marta, het Jehovah se lojale knegte geweet dat daar ’n opstanding in die toekoms gaan wees. Dink aan wat Jehovah vir Abraham gesê het hy met Isak moes doen, die seun waarvoor hy so lank gewag het. Jehovah het gesê: “Neem asseblief jou seun, jou enigste seun wat jy só liefhet, Isak, en . . . offer hom . . . as ’n brandoffer” (Gen. 22:2). Dink net hoe Abraham oor hierdie opdrag moes gevoel het. Jehovah het belowe dat al die nasies deur Abraham se nageslag geseën sou word (Gen. 13:14-16; 18:18; Rom. 4:17, 18). Jehovah het ook gesê dat hierdie seëninge ‘deur Isak’ sou kom (Gen. 21:12). Maar hoe kon dit gebeur as Abraham sy seun opgeoffer het? Paulus was geïnspireer om te verduidelik dat Abraham geglo het dat God Isak uit die dood sou opwek (Heb. 11:17-19). Abraham het nie geweet wanneer sy seun ’n opstanding sou kry nie. Maar hy het vertrou dat Jehovah Isak sou opwek. w17.12 6 ¶12-14
Vrydag 11 Oktober
Ek [is rein] van die bloed van alle mense. — Hand. 20:26.
Soos Paulus, moet ons dieselfde beskouing van lewe hê as Jehovah. Hy wil hê “dat almal tot berou moet kom” (2 Pet. 3:9). Ons moet Jehovah navolg en ook lief wees vir mense. As ons genadig is, sal dit ons motiveer om ywerig te preek en sal dit ons baie gelukkig maak. Ons wys ook dat ons Jehovah se beskouing van lewe het as ons die regte beskouing van veiligheid het. Ons moet versigtig ry en veilig werk, selfs wanneer ons bouwerk of herstelwerk aan plekke van aanbidding doen of daarheen ry. Mense, veiligheid en gesondheid is altyd belangriker as om tyd en geld te spaar. Ons regverdige God doen altyd wat reg is, en ons wil graag soos hy wees. Ouer manne het die verantwoordelikheid om aan hulle en ander se veiligheid te dink (Spr. 22:3). Daarom moet jy luister as ’n ouer man jou aan veiligheidsreëls herinner (Gal. 6:1). As jy Jehovah se beskouing van lewe het, sal “geen bloedskuld op jou kom nie”. — Deut. 19:10. w17.11 16 ¶11-12
Saterdag 12 Oktober
Moet julle nie van die prys laat beroof . . . nie. — Kol. 2:18.
Gesalfde Christene het ’n baie spesiale hoop. Die apostel Paulus het hierdie hoop “die prys van God se roeping na bo” genoem (Fil. 3:14). Hulle sien daarna uit om saam met Jesus Christus in sy hemelse Koninkryk te dien en om mense te help om weer volmaak te word (Op. 20:6). Wat ’n wonderlike hoop en uitnodiging van God! Die ander skape sien daarna uit om vir ewig op die aarde te lewe. Dit is ook ’n wonderlike hoop! (2 Pet. 3:13). Om gesalfde Christene te help om getrou te bly en die prys te verkry, het Paulus gesê: “Hou julle verstande gerig op die dinge daar bo” (Kol. 3:2). Hulle moes bly fokus op hulle wonderlike hemelse hoop (Kol. 1:4, 5). As God se knegte aan al die seëninge dink wat Jehovah gee, sal dit hulle help om hulle oë op die prys te hou. — 1 Kor. 9:24. w17.11 25 ¶1-2
Sondag 13 Oktober
Sing tot Jehovah! — Ps. 96:1.
Baie van die liedjies in ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah is in die vorm van ’n gebed. Hierdie liedjies kan jou help om vir Jehovah te sê hoe jy voel. Ander liedjies kan ons ‘tot liefde en goeie werke aanspoor’ (Heb. 10:24). Ons wil graag die musiek, ritme en woorde van ons liedjies leer ken. Jy kan dit doen deur na die kooropnames te luister wat op jw.org beskikbaar is. As jy die liedjies by die huis oefen, sal jy leer om met meer selfvertroue en uit die hart te sing. Onthou dat sang ’n belangrike deel van ons aanbidding is. Dit is een van die beste maniere hoe ons vir Jehovah kan wys dat ons vir hom lief is en hom waardeer (Jes. 12:5). As jy met vreugde sing, sal jy ander aanmoedig om dit ook te doen. Almal in die gemeente — jonk, oud en belangstellendes — kan Jehovah op hierdie manier aanbid. Moenie skaam wees om uit die hart te sing nie. Ja, kom ons sing met vreugde! w17.11 7 ¶18-19
Maandag 14 Oktober
Wees dus versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe. — Matt. 10:16.
Baie vlugtelinge kom vandag van lande waar daar beperkings op ons werk is. Ywerige Getuies in lande waarheen vlugtelinge stroom, het duisende vlugtelinge gehelp om “die woord van die koninkryk” vir die eerste keer te hoor (Matt. 13:19, 23). Baie van hulle wat “swaar belaai” is, word geestelik by ons vergaderinge verkwik. Hulle sê: “God is werklik onder julle” (Matt. 11:28-30; 1 Kor. 14:25). As ons vir vlugtelinge preek, moet ons “versigtig” en “skerpsinnig” wees (Spr. 22:3). Luister geduldig na hulle probleme, maar moenie oor politiek praat nie. Volg die riglyne van die takkantoor en die plaaslike owerheid. Moet nooit julle lewe in gevaar stel nie. Respekteer die godsdiens en gebruike van die vlugtelinge. Party kulture het streng reëls oor hoe vrouens moet aantrek. As ons vir vlugtelinge preek, moet ons klere hulle nie aanstoot gee nie. w17.05 7 ¶17-18
Dinsdag 15 Oktober
Laat julle woorde altyd aangenaam wees. — Kol. 4:6.
Ons kan Jehovah vra vir sy heilige gees om ons te help om aangename woorde te gebruik wanneer ons met ons ongelowige familie praat. Ons moenie met hulle stry oor wat hulle glo nie. As hulle ons seermaak met wat hulle sê of doen, kan ons die apostels se voorbeeld volg. Paulus het geskryf: “Wanneer ons uitgeskel word, seën ons; wanneer ons vervolg word, hou ons uit; wanneer ons beswadder word, smeek ons [of, “antwoord ons vriendelik”]” (1 Kor. 4:12, 13). Al help aangename woorde ons wanneer ons met ons familielede praat, kan ons goeie gedrag selfs ’n groter impak maak (1 Pet. 3:1, 2, 16). Deur ons voorbeeld moet ons familielede kan sien dat Jehovah se Getuies gelukkige huwelike het, goed vir hulle kinders sorg, die standaarde in die Bybel volg en ’n betekenisvolle lewe lei. Selfs al kom van ons familielede nooit in die waarheid nie, weet ons dat ons goeie gedrag Jehovah bly maak. w17.10 15 ¶13-14
Woensdag 16 Oktober
Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel. — 2 Tim. 2:15.
Dit moet ons nie verbaas dat baie mense vandag groot veranderinge in hulle lewens gemaak het omdat hulle die Bybel gestudeer het nie. Hierdie ondervindinge herinner ons aan die eerste-eeuse broers en susters wat die hemelse hoop gehad het (1 Kor. 6:9-11). Nadat Paulus van mense gepraat het wat nie God se Koninkryk sal beërf nie, het hy gesê: “En tog is dit wat party van julle was.” Maar hulle het verander met die hulp van die Bybel en God se heilige gees. Selfs nadat hulle Christene geword het, het party weer ernstige foute gemaak. Byvoorbeeld, die Bybel vertel van een gesalfde broer wat uitgesit moes word, maar wat later herstel is (1 Kor. 5:1-5; 2 Kor. 2:5-8). Dit is aanmoedigend om te sien hoe ons broers en susters met die hulp van die Bybel hulle lewe verander het. Ons wil beslis goed gebruik maak van die Bybel. w17.09 23-24 ¶2-3
Donderdag 17 Oktober
Laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid. — 1 Joh. 3:18.
Jehovah is die Bron van liefde (1 Joh. 4:7). Die belangrikste soort liefde is gebaseer op goeie beginsels. In die Bybel word hierdie liefde beskryf deur die Griekse woord a·gaʹpe. Dit kan gevoelens van hartlikheid teenoor ander insluit. Maar dit is meer as net ’n gevoel. Dit is liefde wat ons motiveer om goeie dinge vir ander te doen sonder om iets terug te verwag. Hierdie soort liefde maak ons gelukkig en maak ons lewe betekenisvol. Jehovah het gewys dat hy lief is vir die mens selfs voordat hy Adam en Eva geskep het. Hy het die aarde geskep vir mense, nie net om te kan oorleef nie, maar ook om die lewe te geniet. Jehovah het dit nie vir homself gedoen nie. Hy het dit vir ons gedoen. Jehovah het toe die mens geskep en hulle die hoop gegee om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. w17.10 7 ¶1-2
Vrydag 18 Oktober
Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. — Jak. 2:8.
Jakobus het bygevoeg: “As julle aanhou om sommige voor te trek, bedryf julle ’n sonde” (Jak. 2:9). As ons vir mense lief is, sal ons nie teen hulle diskrimineer weens hulle opvoeding, ras of sosiale status nie. Ons moenie maak asof ons onpartydig is nie. Dit moet deel van ons persoonlikheid wees. Liefde is “lankmoedig en goedhartig” en “raak nie opgeblase nie” (1 Kor. 13:4). Ons het geduld, goedhartigheid en nederigheid nodig om die goeie nuus van die Koninkryk aan ons bure te verkondig (Matt. 28:19). Hierdie eienskappe maak dit ook makliker om met al ons broers en susters in die gemeente oor die weg te kom. As ons almal liefde betoon, sal ons gemeentes verenig wees en Jehovah eer. Die Bybel se beskrywing van die nuwe persoonlikheid sluit af met die woorde: “Beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.” — Kol. 3:14. w17.08 26 ¶18-19
Saterdag 19 Oktober
Jehovah . . . het . . . keer op keer waarskuwings aan hulle gestuur, omdat hy medelye met sy volk . . . gehad het. — 2 Kron. 36:15.
Ons moet ook medelye hê vir dié wat Jehovah nog nie ken nie, want hulle kan nog altyd berou toon en Jehovah se vriende word. Jehovah wil nie hê dat enigiemand in die komende oordeel vernietig moet word nie (2 Pet. 3:9). Totdat God die goddeloses vernietig, wil ons aanhou om hierdie waarskuwingsboodskap te verkondig sodat almal by God se medelye kan baat vind. Jesus is ’n goeie voorbeeld van iemand met medelye. Hy het innig jammer vir die skare gevoel, want “hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder”. Wat het Jesus toe gedoen? “Hy het hulle baie dinge begin leer” (Matt. 9:36; Mark. 6:34). Hy was heeltemal anders as die Fariseërs wat mense glad nie wou help nie (Matt. 12:9-14; 23:4; Joh. 7:49). Wil jy nie ook, soos Jesus, mense help en hulle van Jehovah leer nie? w17.09 9 ¶6; 10 ¶9
Sondag 20 Oktober
Ek sal bedrywig raak, en wie kan dit afwend? — Jes. 43:13.
Het Josef, terwyl hy in die tronk was, ooit gedink dat hy die onderheerser van Egipte sou word en dat Jehovah hom sou gebruik om sy familie tydens ’n hongersnood te red? (Gen. 40:15; 41:39-43; 50:20). Jehovah se dade het ongetwyfeld Josef se verwagtinge oortref. Het die bejaarde Sara ooit gedink dat Jehovah haar sou toelaat om haar eie seun te hê? Isak se geboorte het al haar verwagtinge oortref (Gen. 21:1-3, 6, 7). Ons kan nie verwag dat Jehovah al ons probleme op ’n wonderdadige manier voor sy beloofde nuwe wêreld moet wegneem nie. En ons kan ook nie daarop aandring dat hy wonderwerke in ons lewe moet verrig nie. Maar ons weet dat die God wat sy knegte op ’n wonderdadige wyse gehelp het, ook ons God, Jehovah, is (Jes. 43:10-12). Ons het die vertroue dat hy ons die nodige krag sal gee om sy wil uit te voer (2 Kor. 4:7-9). Ja, Jehovah kan ons selfs in die moeilikste situasies help as ons getrou aan hom bly. w17.08 11-12 ¶13-14
Maandag 21 Oktober
Laat jou werke aan Jehovah oor en jou planne sal stewig bevestig word. — Spr. 16:3.
Wanneer jy saam met ander voltydse dienaars werk, sal dit jou help om ’n volwasse Christen te word. As ons Jehovah ywerig dien terwyl ons nog jonk is, kan dit ons ook later help om ’n gelukkiger huwelik te hê. Baie pioniers wat trou, hou aan om saam te pionier (Rom. 16:3, 4). Ons hart is by ons planne betrokke. Psalm 20:4 sê van Jehovah: “Mag hy u gee na u hart, en mag hy al u planne verwesenlik.” Dink mooi na oor wat jy met jou lewe wil doen. En hou in gedagte wat Jehovah nou besig is om te doen en wat jy in sy diens kan doen. Doen dan wat Jehovah gelukkig sal maak. As jy Jehovah heelhartig dien, sal dit jou baie gelukkig maak, want so ’n lewe verheerlik God. Ja, “verlustig jou ook in Jehovah, en hy sal jou die versoeke van jou hart gee”. — Ps. 37:4. w17.07 26 ¶15-18
Dinsdag 22 Oktober
Loof Jah . . . want dit is lieflik — lof is gepas. — Ps. 147:1.
Ons prys gewoonlik iemand wat iets baie goed gedoen het. As ons mense prys, hoeveel te meer moet ons Jehovah God nie loof nie! Ons loof hom vir sy ontsaglike krag wat ons in die skepping kan sien en ook vir sy liefde vir mense wat duidelik gesien kan word in die losprysoffer van sy Seun. Die skrywer van Psalm 147 wou Jehovah baie graag loof. Hy het ander ook aangespoor om God saam met hom te loof (Ps. 147:7, 12). Ons weet nie wie hierdie psalm geskryf het nie, maar hy het blykbaar geleef toe Jehovah die Israeliete uit Babilon bevry het en hulle na Jerusalem teruggekeer het (Ps. 147:2). Die psalmis het Jehovah geloof, want die Israeliete kon Jehovah weer in hulle eie land aanbid. Watter redes het jy om Jehovah in jou lewe te loof? — Ps. 147:1. w17.07 17 ¶1-3
Woensdag 23 Oktober
Maak vir julle vriende deur middel van die onregverdige rykdom, sodat wanneer dit faal, hulle julle in die ewige woonplekke sal ontvang. — Luk. 16:9.
Jesus het geweet dat die meeste van sy volgelinge in hierdie onregverdige wêreld sal moet werk om geld te verdien. Alhoewel Jesus nie verduidelik het waarom hy rykdom ‘onregverdig’ noem nie, toon die Bybel dat die idee om baie geld te maak nie deel van God se voorneme was nie. Jehovah het alles voorsien wat Adam en Eva in Eden nodig gehad het (Gen. 2:15, 16). Later, toe God sy heilige gees op gesalfdes uitgestort het, het “nie eers een . . . gesê dat enige van sy besittings sy eie was nie; maar hulle het alles gemeenskaplik besit” (Hand. 4:32). Die profeet Jesaja het voorspel dat mense alles op die aarde in oorvloed sal geniet (Jes. 25:6-9; 65:21, 22). Maar intussen het Jesus se volgelinge “praktiese wysheid” nodig. Hulle moet deur middel van die “onregverdige rykdom” vir hulle gesinne sorg, maar hulle moet ook God se wil doen. — Luk. 16:8. w17.07 8 ¶4-6
Donderdag 24 Oktober
Alles wat hy het, is in jou hand. — Job 1:12.
In die boek Job, een van die eerste Bybelboeke wat geskryf is, het Satan beweer dat as Job tot die uiterste beproef sou word, hy God sal verwerp. Satan wou hê dat God die lyding oor Job moes bring. Jehovah het geweier om dit te doen, maar hy het Satan toegelaat om Job te beproef. Toe het Job sy besittings verloor en sy tien kinders en sy dienaars is doodgemaak. Satan het dit laat lyk asof God die een is wat Job se lyding veroorsaak het (Job 1:13-19). Daarna het Satan Job met ’n vreeslike siekte getref (Job 2:7). Die woorde van sy vrou en sy drie sogenaamde vriende het sy lyding net vererger (Job 2:9; 3:11; 16:2). Was Satan reg? Nee. Al het Job baie gely, het hy geweier om Jehovah te verwerp. — Job 27:5. w17.06 24 ¶9-10
Vrydag 25 Oktober
As iemand vir . . . dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën. — 1 Tim. 5:8.
Jehovah het gesinshoofde vandag die verantwoordelikheid gegee om vir hulle gesin te sorg. Hulle moet hard werk om dit te doen. Maar in hierdie laaste dae kan ons werk baie stresvol wees. Omdat werk so skaars is, voel dié wat wel ’n werk het dat hulle langer en soms vir minder geld moet werk. En besighede probeer meer werk met minder mense doen. Werkers voel gespanne, uitgeput en word selfs siek. Baie is bekommerd dat hulle hulle werk sal verloor as hulle nie doen wat hulle werkgewer van hulle vra nie. Vir Christene is dit belangriker om aan Jehovah God lojaal te wees as aan hulle werkgewer (Luk. 10:27). Ons werk om in ons daaglikse behoeftes te voorsien en sodat ons die predikingswerk kan doen. Maar as ons nie versigtig is nie kan ons werk veroorsaak dat ons ons aanbidding afskeep. w17.05 23 ¶5-7
Saterdag 26 Oktober
Luister na jou vader wat jou geboorte veroorsaak het, en moenie jou moeder verag bloot omdat sy oud geword het nie. — Spr. 23:22.
Soms vra nuwelinge in die gemeente ervare verkondigers om hulle te help om hulle kinders die waarheid te leer. As ’n ouer iemand vra om ’n Bybelstudie met sy kinders te hou, moet hy nie die rol van die ouers probeer oorneem nie (Ef. 6:1-4). Partykeer vra ouers wat nie in die waarheid belangstel nie die Getuies om met hulle kinders te studeer. Die Getuie moet onthou dat hy nie die kind se ouer word net omdat hy die kind geestelik help nie. Dit sal goed wees om die studie by die kinders se huis te hou wanneer die ouers of ’n ander ervare Getuie daar is. Anders sal dit beter wees om die studie in ’n openbare plek te hou. Dan sal niemand die verkeerde indruk kry nie. Hopelik sal die ouers mettertyd hulle godgegewe verantwoordelik nakom en hulle kinders self geestelik opvoed. w17.06 8 ¶15-16
Sondag 27 Oktober
As ek dan nie [die een wat praat] verstaan nie, sal . . . die een wat praat . . . vir my ’n uitlander wees. — 1 Kor. 14:11.
As kinders nie hulle ouers se kultuur verstaan nie, sal hulle miskien nie hulle ouers se taal wil leer of hulle geloof wil aanvaar nie. Christen-ouers stel hulle kinders se geestelike belange bo hulle eie (1 Kor. 10:24). ’n Broer met die naam Samuel sê: “Ek en my vrou het gekyk om te sien watter taal die beste vir ons kinders was om geestelik vordering te maak, en ons het gebid vir wysheid. . . . Toe ons gesien het dat hulle min by die vergaderinge in ons taal geleer het, het ons besluit om na ’n gemeente te gaan wat die plaaslike taal praat. Ons het gereeld die vergaderinge bygewoon en velddiens gedoen. Ons het ook die plaaslike broers genooi om by ons te kom eet en om saam met ons op uitstappies te gaan. Dit het die kinders gehelp om die broers beter te leer ken en Jehovah te leer ken, nie net as hulle God nie, maar ook as hulle Vader en Vriend. Dit was vir ons belangriker as om die kinders ons taal te leer.” w17.05 10 ¶11-13
Maandag 28 Oktober
Loof Jehovah. — Rigt. 5:2.
Binnekort sal die hele aarde gevul wees met mense wat Jehovah se heerskappy bo enige ander verkies. Ons sien baie uit na daardie dag! Ons sing saam met Debora en Barak: “Laat al u vyande so vergaan, o Jehovah, en laat dié wat u liefhet, wees soos wanneer die son in sy mag opgaan” (Rigt. 5:31). Hierdie versoek sal beantwoord word wanneer Jehovah ’n einde aan Satan se goddelose wêreld maak! Wanneer Armageddon uitbreek, sal Jehovah nie mense as vrywilligers nodig hê om die vyand te vernietig nie. Dan sal ons ‘stil staan en die redding van Jehovah sien’ (2 Kron. 20:17). Maar nou het ons baie geleenthede om Jehovah se heerskappy met moed en ywer te ondersteun. Debora en Barak se oorwinningslied het met lof aan Jehovah begin. Hulle het nie die eer aan mense gegee nie. Hulle het gesing: “Omdat die volk hulle vrywillig aangebied het, loof Jehovah” (Rigt. 5:1, 2). Wanneer ons Jehovah vrywillig dien, kan dit ander ook aanspoor om Jehovah te loof! w17.04 32 ¶17-18
Dinsdag 29 Oktober
Ek [het] hoegenaamd niks gedoen waarvoor hulle my in die kerker moes sit nie. — Gen. 40:15.
Al het Josef nie van die onregte tydens daardie 13 jaar van swaarkry vergeet nie, het hy nie verbitterd geword nie (Gen. 45:5-8). En hy het nooit toegelaat dat ander se onvolmaaktheid en verkeerde optrede hom van Jehovah skei nie. Omdat Josef lojaal was, kon hy sien hoe Jehovah hierdie ongeregtighede regstel en hom en sy familie seën. Ons moet ook ons vriendskap met Jehovah baie waardeer en beskerm. Ons moet nooit toelaat dat die onvolmaaktheid van ons broers ons van God skei nie (Rom. 8:38, 39). As ons deur ’n mede-aanbidder onregverdig behandel word, moet ons eerder soos Josef wees en nader aan Jehovah kom en Sy beskouing van sake kry. As ons die raad in die Bybel gevolg het en alles gedoen het om die probleem op te los, moet ons die saak in Jehovah se hande laat. Ons is oortuig daarvan dat hy die saak op sy tyd en manier sal regstel. w17.04 20 ¶12; 22 ¶15-16
Woensdag 30 Oktober
As u . . . aan u slavin ’n manlike nakomeling sal gee, sal ek hom aan Jehovah gee al die dae van sy lewe. — 1 Sam. 1:11.
Hanna het haar gelofte aan God sonder huiwering nagekom. Sy het Samuel na die hoëpriester Eli by die tabernakel in Silo geneem en gesê: “Met betrekking tot hierdie seun het ek gebid dat Jehovah my versoek moet toestaan wat ek van hom gevra het. En op my beurt het ek hom aan Jehovah geleen. Al die dae dat hy bestaan, is hy een wat gevra is vir Jehovah” (1 Sam. 1:24-28). “En die seun Samuel het grootgeword by Jehovah” (1 Sam. 2:21). Maar hoe het Hanna hieroor gevoel? Sy was baie lief vir haar seuntjie, maar sy sou hom nie elke dag kon sien terwyl hy grootword nie. Dink net hoe graag sy hom wou omhels, met hom wou speel en hom wou versorg, en dink aan al die kosbare herinneringe wat sy sou misloop. Maar Hanna was bereid om hierdie dinge prys te gee om haar gelofte aan God na te kom, en dit het haar baie bly gemaak. — 1 Sam. 2:1, 2; Ps. 61:1, 5, 8. w17.04 5 ¶7-8
Donderdag 31 Oktober
Weet dít, dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. — 2 Tim. 3:1.
Nadat die apostel Paulus voorspel het “dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom”, is hy geïnspireer om te skryf: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (2 Tim. 3:2-5, 13). Het jy al gesien hoe hierdie woorde vervul word? Baie van ons was al slagoffers van goddelose mense soos gewelddadige boelies, rassiste en wrede misdadigers. Party van hulle probeer nie eers om hulle goddelose dade weg te steek nie. Ander gee voor dat hulle mense help, maar hulle is in werklikheid goddeloos. Al was ons nog nooit self ’n slagoffer van misdaad nie, het goddelose mense nog steeds ’n uitwerking op ons. Dit maak ons siek as ons hoor hoe sleg kinders, bejaardes en mense wat hulleself nie kan beskerm nie, behandel word. Goddelose mense tree onmenslik, dierlik of selfs demonies op (Jak. 3:15). Gelukkig gee Jehovah se Woord ons hoop. w17.04 10 ¶4