Februarie
Saterdag 1 Februarie
[Voer] jou bediening ten volle [uit]. – 2 Tim. 4:5.
Jesus het baie medelye vir ander gehad. Mense kon sy liefde vir hulle aanvoel en het na die Koninkryksboodskap geluister. Hoe meer ons sulke medelye vir mense ontwikkel, hoe beter sal ons ons bediening kan uitvoer. Wat kan ons help om meegevoel te hê met die mense vir wie ons preek? Ons moet ons voorstel hoe hulle dink en voel, en dan moet ons hulle behandel soos ons graag behandel wil word (Matt. 7:12). Dink aan wat elke persoon nodig het. Ons moenie dieselfde metode gebruik met elkeen wat ons in ons bediening ontmoet nie. Ons wil eerder probeer om die spesifieke omstandighede en beskouings van elke persoon te verstaan. Vra taktvolle vrae om die persoon te leer ken en om uit te vind waarin hy glo (Spr. 20:5). Wanneer ons vrae vra, laat ons hulle eintlik toe om vir ons te sê hoekom hulle die goeie nuus nodig het. Wanneer ons weet wat hulle spesifieke behoeftes is, kan ons meegevoel betoon en hulle dan die hulp gee wat hulle nodig het, net soos Jesus gedoen het. – Vergelyk 1 Korintiërs 9:19-23. w19.03 20 ¶2; 22 ¶8-9
Sondag 2 Februarie
Vertrou alles wat jy doen, aan Jehovah toe, dan sal jou planne suksesvol wees. – Spr. 16:3.
Adam en Eva het gewys dat hulle glad nie die goeie dinge waardeer het wat Jehovah vir hulle gedoen het nie. Ons almal het die geleentheid om te wys dat ons nie saamstem met die besluit wat hulle geneem het nie. Deur gedoop te word, wys ons vir Jehovah dat ons glo dat hy die gesag het om vir ons die standaard te stel vir wat reg en verkeerd is. Ons bewys dat ons lief is vir ons Vader en hom vertrou. Die uitdaging wat ons het nadat ons gedoop is, is om elke dag volgens Jehovah se standaarde te lewe, nie ons eie nie. Miljoene van God se knegte lewe op hierdie manier. Jy kan soos hulle wees as jy aanhou om God se Woord, die Bybel, beter te verstaan, as jy gereeld met jou broers en susters assosieer en as jy ywerig vir ander vertel wat jy oor jou liefdevolle Vader geleer het (Heb. 10:24, 25). Wanneer jy besluite neem, moet jy luister na die raad wat Jehovah jou deur sy Woord en sy organisasie gee (Jes. 30:21). Dan sal alles wat jy doen suksesvol wees. – Spr. 16:20. w19.03 6-7 ¶17-18
Maandag 3 Februarie
Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo, want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte. – Jak. 1:17.
Jehovah het ons ’n oorvloed geestelike voedsel gegee. Ons kry byvoorbeeld goeie raad deur middel van ons vergaderinge, tydskrifte en webwerwe. Het jy al ooit na ’n toespraak geluister, ’n artikel gelees of na JW Broadcasting gekyk en gedink: ‘Dit is net wat ek nodig gehad het’? Hoe kan ons vir Jehovah wys dat ons sy vrygewigheid waardeer? (Kol. 3:15). Een manier is deur gereeld in gebed vir hom dankie te sê vir hierdie goeie gawes. Nog ’n manier hoe ons vir Jehovah kan wys dat ons dankbaar is, is deur ons plek van aanbidding skoon en netjies te hou. Ons help gereeld om die Koninkryksaal skoon te maak en in stand te hou. En dié wat die elektroniese toerusting hanteer wat deur die gemeente gebruik word, maak seker dat hulle dit nie beskadig nie. Wanneer ons mooi na ons Koninkryksale kyk, sal dit langer hou en sal ons minder herstelwerk hoef te doen. Op hierdie manier sal daar meer geld beskikbaar wees om ander Koninkryksale regoor die wêreld te bou en te herstel. w19.02 18 ¶17-18
Dinsdag 4 Februarie
Dit is maar net ’n klein deeltjie van sy werke. Wat ons van hom gehoor het, is maar net ’n fluistering! – Job 26:14.
Job het tyd spandeer om na te dink oor hoe wonderlik Jehovah se skepping is (Job 26:7, 8). Hy was verstom toe hy oor die aarde, die hemel, die wolke en die donderweer gedink het. Hy het erken dat hy baie min weet oor al die dinge wat Jehovah gemaak het. Jehovah se woorde was ook vir Job kosbaar, en daarom het hy gesê: “Ek het sy woorde as ’n skat bewaar” (Job 23:12). Job se ontsag en diep respek vir Jehovah het hom beweeg om sy Vader lief te hê en Sy hart bly te maak. Daarom was Job meer vasbeslote om sy onkreukbaarheid te behou. Ons moet Job se voorbeeld navolg. Ons weet baie meer oor die wonders van die skepping as wat mense in Job se tyd geweet het. En ons het die hele geïnspireerde Bybel wat ons help om te sien watter soort Persoon Jehovah werklik is. Alles wat ons leer, kan ons help om ons hart met ontsag te vul. Ons ontsag en respek vir Jehovah sal ons dan motiveer om hom lief te hê en te gehoorsaam. Dit sal ook ons begeerte versterk om nie ons onkreukbaarheid prys te gee nie. – Job 28:28. w19.02 5 ¶12
Woensdag 5 Februarie
Ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen? – Ps. 118:6.
Regdeur die geskiedenis het menseheersers Jehovah se knegte vervolg. Hulle beskuldig ons dalk daarvan dat ons slegte dinge doen. Maar die werklike rede hoekom hulle kwaad is, is omdat ons “eerder aan God as heerser gehoorsaam [is] as aan mense” (Hand. 5:29). Ons word dalk gespot, in die tronk gegooi of selfs fisies mishandel. Maar met Jehovah se hulp sal ons nie in opstand kom nie. Ons sal eerder kalm bly wanneer ons getoets word. Dink aan die voorbeeld van die drie Hebreërs wat na Babilon geneem is – Hananja, Misael en Asarja. Hulle het op ’n kalm manier vir die koning verduidelik hoekom hulle nie die beeld wat hy gemaak het, sal aanbid nie. Hulle was gewillig om enigiets te aanvaar wat Jehovah sou toelaat om met hulle te gebeur (Dan. 3:1, 8-28). Hoe kan ons die drie Hebreërs se voorbeeld navolg wanneer ons lojaliteit aan God getoets word? Ons vertrou nederig dat Jehovah vir ons sal sorg (Ps. 118:7). Wanneer mense ons van ’n oortreding beskuldig, antwoord ons hulle op ’n kalm en respekvolle manier (1 Pet. 3:15). En ons weier om enigiets te doen wat ons vriendskap met ons liefdevolle Vader in gevaar stel. w19.02 10-11 ¶11-13
Donderdag 6 Februarie
Moenie bang wees nie! – Joh. 16:33.
Ons kan meer moed kry deur na te dink oor die hoop wat Christus se losprysoffer vir ons moontlik maak (Joh. 3:16; Ef. 1:7). In die weke voor die Gedenkmaal het ons ’n spesiale geleentheid om ons waardering vir die losprys op te bou. Ons kan dit doen deur die Bybellees vir die Gedenkmaal te volg en deur te bid en na te dink oor die gebeurtenisse rondom Jesus se dood. Dan wanneer ons vir die Gedenkmaal bymekaar kom, sal ons die betekenis van die Gedenkmaalembleme en die unieke offerande wat dit simboliseer beter verstaan. Wanneer ons waardeer wat Jesus en Jehovah vir ons gedoen het en hoe ons en ons geliefdes daarby baat vind, versterk dit ons hoop en word ons gemotiveer om moedig te wees en tot die einde toe te volhard (Heb. 12:3). Ons is so dankbaar dat Jesus, ons hemelse Hoëpriester, nog steeds hierdie eienskappe betoon en dat hy namens ons by Jehovah pleit sodat ons gered kan word! (Heb. 7:24, 25). Om te wys dat ons baie dankbaar is, moet ons getrou Jesus se dood herdenk, net soos hy beveel het. – Luk. 22:19, 20. w19.01 22 ¶8; 23-24 ¶10-11
Vrydag 7 Februarie
Aanvaar asseblief my vrywillige lofoffers, o Jehovah. – Ps. 119:108.
Jehovah het ons almal die voorreg gegee om hom te loof. Ons antwoorde by vergaderinge is een manier waarop ons “’n lofoffer” aan God bring, en niemand anders kan dit vir ons doen nie (Heb. 13:15). Verwag Jehovah dieselfde soort lofoffer, of antwoord, van elkeen van ons? Nee, beslis nie! Dink aan die gemeentelike vergaderinge as ’n ete saam met goeie vriende. Wat sal jy doen as vriende in die gemeente jou na ’n braai uitnooi en jou vra om iets kleins saam te bring om te eet? Dalk is jy ’n bietjie senuweeagtig, maar jy sal seker jou bes doen om iets saam te bring waarvan almal hou. Jehovah nooi ons ook uit na ’n ete by ’n tafel vol goeie dinge by ons vergaderinge (Ps. 23:5; Matt. 24:45). En dit maak sy hart bly as ons ook ietsie bring. Maar ons wil ons beste vir hom gee. Daarom moet jy goed voorberei en soveel antwoorde gee as wat jy kan. Dan sal jy nie net by Jehovah se tafel eet nie, maar jy sal ook iets saambring wat ander in die gemeente kan geniet. w19.01 8 ¶3; 13 ¶20
Saterdag 8 Februarie
Die mense wat ander gode volg, sal baie droefheid ondervind. – Ps. 16:4.
In Bybelse tye was seksuele onsedelikheid dikwels deel van valse aanbidding (Hos. 4:13, 14). Baie mense het van valse aanbidding gehou omdat hulle dit geniet het om onsedelik te wees. Maar het dit hulle werklik gelukkig gemaak? Glad nie! Dawid het gesê dat diegene wat valse gode aanbid ‘baie droefheid sal ondervind’. Hulle het ook veroorsaak dat hulle kinders verskriklik ly (Jes. 57:5). Jehovah het sulke wreedheid gehaat! (Jer. 7:31). In ons dag aanvaar valse godsdiens ook dikwels seksuele onsedelikheid, insluitende homoseksualiteit. Mense wat hierdie dinge doen, dink dalk dat hulle vry is, maar in werklikheid veroorsaak hulle dat hulle “baie droefheid ondervind”, soos jy al miskien opgelet het (1 Kor. 6:18, 19). Jongmense, luister na julle hemelse Vader. Oortuig jouself dat dit vir jou eie beswil is om aan hom gehoorsaam te wees. Dink mooi na oor die slegte gevolge van onsedelikheid, dan sal jy besef dat enige tydelike plesier wat dit jou gee nie die moeite werd is nie. – Gal. 6:8. w18.12 27-28 ¶16-18
Sondag 9 Februarie
Ek sal ook so teenoor jou optree. – Hos. 3:3.
As ’n Christen se maat seksuele sonde gepleeg het, sal die onskuldige Christen ’n besluit moet maak. Jesus het gesê dat die onskuldige maat ’n rede sal hê om te skei en dan vry sal wees om weer te trou (Matt. 19:9). Maar die onskuldige maat het ook die keuse om sy of haar maat te vergewe. Dit sal nie verkeerd wees nie. Hosea het Gomer teruggeneem, en hy het vir haar gesê dat sy nie weer aan hom ontrou mag wees nie. Hosea het ’n ruk lank “nie seksuele omgang” met Gomer gehad nie (Hos. 3:1-3). Maar Hosea het later waarskynlik weer seksuele omgang met haar gehad. Hierdeur het hy gewys dat God bereid was om sy volk terug te neem en sy verhouding met hulle voort te sit (Hos. 1:11; 3:4, 5). Hoe kan dit vandag met ’n huwelik vergelyk word? As ’n onskuldige maat besluit om nie te skei nie en seksuele omgang hervat, wys dit dat hy of sy hulle maat vergewe het (1 Kor. 7:3, 5). Daarna is daar nie meer ’n grondslag vir egskeiding nie. Hulle moet dan as ’n egpaar saamwerk om te wys dat hulle God se beskouing van die huwelik het. w18.12 13 ¶13
Maandag 10 Februarie
Die verstandige sien die gevaar en vermy dit. – Spr. 22:3.
Wanneer ons studeer, moet ons nadink oor Jehovah se beskouing van sake, want dit kan ons help om in die toekoms goeie besluite te neem. Op hierdie manier sal ons gereed wees en weet wat om te doen as ons in ’n situasie is waar ons onmiddellik ’n besluit moet neem. Toe Potifar se vrou Josef probeer verlei het, het Josef haar dadelik verwerp. Dit is duidelik dat Josef voor die tyd gedink het oor Jehovah se beskouing van getrouheid in die huwelik (Gen. 39:8, 9). Hy het vir Potifar se vrou gesê: “Hoe kan ek dan so ’n slegte ding doen en in werklikheid teen God sondig?” Dit wys dat hy God se denke sy eie gemaak het. Wat van ons? Sê nou iemand by die werk begin met ons flirt. Of wat as iemand ’n seksueel eksplisiete boodskap of foto na ons selfoon stuur? As ons voor die tyd geleer het om soos Jehovah te dink en reeds besluit het wat ons in sulke situasies gaan doen, sal dit baie makliker wees om getrou aan Jehovah te bly. w18.11 25-26 ¶13-14
Dinsdag 11 Februarie
Ek [sal] van vreugde uitroep as gevolg van wat Jehovah doen. – Hab. 3:18.
Party geleerdes dink dat hierdie vers letterlik beteken: “Ek sal spring van vreugde in die Here; ek sal ronddans omdat ek my in God verheug.” Dit gee ons beslis ’n wonderlike versekering! Jehovah het nie net vir ons wonderlike beloftes gegee nie, hy het ons ook verseker dat hy spoedig sy voornemens sal vervul. Die belangrike les wat ons uit die boek Habakuk leer, is dat ons op Jehovah moet vertrou (Hab. 2:4). Ons kan sulke vertroue kry en behou as ons ons verhouding met Jehovah versterk deur (1) te volhard in gebed en Jehovah van al ons bekommernisse te vertel; (2) mooi te luister na wat Jehovah vir ons in sy Woord sê en enige riglyne te volg wat ons deur sy organisasie kry en (3) getrou en geduldig te wees terwyl ons op Jehovah wag. Dit is wat Habakuk gedoen het. Hoewel hy bedroef was toe hy sy boek begin het, het hy dit afgesluit met ’n uitroep van vertroue en vreugde. Kom ons volg hierdie aanmoedigende voorbeeld na sodat ons ook Jehovah se liefdevolle besorgdheid kan voel! Ons kan beslis nie sulke vertroosting in hierdie goddelose wêreld kry nie. w18.11 17 ¶18-19
Woensdag 12 Februarie
[Christus] het vir almal gesterf sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. – 2 Kor. 5:15.
Daar is iets wat ware Christene verseker dat God hulle liefhet. Die Bybel sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Jesus het ook gewys hoe lief hy ons het deur sy lewe vir ons te gee. Ons word werklik deur sy liefde versterk! God se Woord belowe dat nie eers “moeilike tye of swaarkry” ons “van die liefde van die Christus [kan] skei” nie (Rom. 8:35, 38, 39). Wanneer ons met probleme sukkel wat ons fisies, emosioneel of geestelik uitput, kan die krag van Jesus se liefde ons versterk en ons help om te volhard (2 Kor. 5:14). Jesus se liefde het die krag om ons te ondersteun en te motiveer om nie op te gee nie, selfs wanneer ons dinge soos rampe, vervolging en persoonlike teleurstellings moet deurmaak of baie stres verduur. w18.09 14 ¶8-9
Donderdag 13 Februarie
Ek sal u weg van waarheid volg. – Ps. 86:11.
As ons in die waarheid wil wandel, moet ons al Jehovah se woorde aanvaar en daaraan gehoorsaam wees. Ons moet die waarheid eerste in ons lewe stel en volgens Bybelbeginsels lewe. Ons moet, net soos Dawid, vasbeslote wees om in God se waarheid te bly wandel. As ons nie vasbeslote is nie, sal ons miskien wonder oor die dinge wat ons opgegee het vir die waarheid en dalk van daardie dinge wil terughê. Ons wil eerder aan die volle waarheid vashou. Ons besef dat ons nie kan kies watter waarhede ons wil aanvaar en wat ons wil ignoreer nie. Ons moet in “die hele waarheid” wandel (Joh. 16:13). Ons moet ons tyd wyslik gebruik as ons nie van die waarheid wil wegdryf nie. As ons nie versigtig is nie, kan ons dalk baie tyd daaraan spandeer om televisie te kyk, om op die Internet te wees of om aan ontspanning en stokperdjies deel te neem. Al is dit nie verkeerd om hierdie dinge te doen nie, kan die hoeveelheid tyd wat ons daaraan spandeer, veroorsaak dat ons minder tyd het vir persoonlike studie en ander geestelike aktiwiteite. w18.11 10 ¶7-8
Vrydag 14 Februarie
Ek het my siel gekalmeer en tot bedaring gebring. – Ps. 131:2.
Wanneer ons omstandighede onverwags verander, kan dit ons angstig maak en emosionele stres veroorsaak (Spr. 12:25). Dit kan selfs vir ons moeilik wees om hierdie veranderinge te aanvaar. Hoe kan ons in sulke tye ons siel ‘kalmeer en tot bedaring bring’? (Ps. 131:1-3). Vandag kan ons ook, ten spyte van moeilike omstandighede, die kalmerende uitwerking ervaar van “die vrede van God” wat ons verstandelike vermoëns beskerm (Fil. 4:6, 7). As ons op Jehovah vertrou wanneer gevoelens van angstigheid ons oorweldig, kan die vrede van God ons meer vasbeslote maak om ons geestelike doelwitte te bereik. Die vrede van God kan ons ook beskerm teen enige neiging om moed op te gee. God se gees help ons nie net om kalm te bly nie, maar ook om tekste te vind wat ons sal help om aan te hou om op geestelike dinge te fokus. – Joh. 14:26, 27. w18.10 27 ¶2; 28 ¶5, 8
Saterdag 15 Februarie
Praat die waarheid met mekaar. – Sag. 8:16.
Wat het die slegste uitwerking op die mensdom gehad? Die leuen! ’n Leuen is wanneer ’n persoon iets sê wat nie waar is nie om iemand anders te bedrieg. En wie het die eerste leuen uitgedink? “Die Duiwel” is “die vader van die leuen”, het Jesus Christus gesê (Joh. 8:44). Wanneer het hy die eerste leuen vertel? Dit het duisende jare gelede in die tuin van Eden gebeur. Die eerste mense, Adam en Eva, het die lewe baie geniet. Hulle het in die Paradys gewoon wat hulle Skepper vir hulle gegee het. Toe het die Duiwel in die prentjie gekom. Hy het geweet dat God Adam en Eva beveel het om nie van “die boom van die kennis van wat goed en wat sleg is” te eet nie en dat hulle sou sterf as hulle ongehoorsaam was. Maar Satan het nogtans, deur middel van ’n slang, vir Eva gesê: “Julle sal beslis nie sterf nie [die eerste leuen wat ooit vertel is]. Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë geopen sal word en julle soos God sal wees omdat julle kennis sal hê van wat goed en wat sleg is.” – Gen. 2:15-17; 3:1-5. w18.10 6 ¶1-2
Sondag 16 Februarie
Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien. – Matt. 5:8.
Om ons hart suiwer te hou, moet ons gevoelens en begeertes rein wees. Ons moet ons gedagtes skoon hou as ons Jehovah wil aanbid op ’n manier wat geestelik rein is (2 Kor. 4:2; 1 Tim. 1:5). Maar hoe kan dié wat suiwer van hart is “God sien”, terwyl die Bybel sê: “Geen mens kan [God] sien en lewe nie”? (Eks. 33:20). Die Griekse woord wat as “sien” vertaal word, kan die gedagte oordra “om met die verstand te sien, om te verstaan, om te weet”. Diegene wat God met ‘die oë van die harte’ sien, is dié wat hom regtig leer ken het en sy eienskappe waardeer (Ef. 1:18). Behalwe om God se eienskappe te leer ken, kan ware aanbidders “God sien” wanneer hulle sien hoe Jehovah hulle help (Job 42:5). Hulle fokus ook ‘die oë van hulle hart’ op die wonderlike seëninge wat God belowe aan diegene wat hulle bes probeer om suiwer te bly en hom getrou te dien. w18.09 20 ¶13, 15-16
Maandag 17 Februarie
Wysheid is van die grootste belang. Verkry dus wysheid. – Spr. 4:7.
Wanneer ons iets doen omdat ons weet dat dit reg is, sal Jehovah ons seën. Hoewel wysheid op kennis gebaseer is, is daar meer daarby betrokke as om net feite te verstaan. Wysheid het te doen met die besluite wat ons neem. Selfs miere het wysheid. Hulle is instinktief wys omdat hulle in die somer kos bymekaarmaak (Spr. 30:24, 25). Christus, “die wysheid van God”, doen altyd wat sy Vader se hart bly maak (1 Kor. 1:24; Joh. 8:29). God weet dat dit een ding is om die regte besluit te neem, maar iets heeltemal anders is om te doen wat jy besluit het. En hy seën diegene wat nederig bly en wat doen wat hulle weet reg is (Matt. 7:21-23). Daarom moet ons hard daaraan werk om die gemeente ’n plek te maak waar almal Jehovah nederig kan dien. Dit neem tyd en geduld om toe te pas wat ons weet reg is. Maar as ons dit doen, wys dit dat ons nederig is, en dit sal ons nou en vir altyd gelukkig maak. w18.09 7 ¶18
Dinsdag 18 Februarie
Laat elkeen sy eie dade ondersoek, . . . en nie omdat hy homself met ander vergelyk nie. – Gal. 6:4.
Die Skepper wou hê dat volmaakte mense saam met hom moes werk om sy voornemens te vervul. Vandag is mense onvolmaak, maar getroue persone kan nog steeds elke dag saam met Jehovah werk. Ons word byvoorbeeld “God se medewerkers” wanneer ons die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en dissipels maak (1 Kor. 3:5-9). Dink net watter wonderlike voorreg ons het om saam met die almagtige Skepper te werk! Hy het ons gekies om deel te neem aan ’n werk wat vir hom baie belangrik is. Maar om te preek en dissipels te maak is nie die enigste manier waarop ons saam met Jehovah kan werk nie. Ander maniere waarop ons dit kan doen, is deur ons familie en mede-aanbidders te help, deur gasvry te wees, deur as vrywilligers op teokratiese projekte te werk en deur meer in Jehovah se diens te doen (Kol. 3:23). Maar jy moenie die dinge wat jy vir Jehovah kan doen, vergelyk met wat ander kan doen nie. Hou in gedagte dat niemand dieselfde is nie. Ons ouderdom, gesondheid, omstandighede en vermoëns verskil. w18.08 23 ¶1-2
Woensdag 19 Februarie
Bly gretig wag daarvoor! Want dit sal vir seker waar word. – Hab. 2:3.
Jehovah het Habakuk verseker dat sy opregte vrae beantwoord sal word. Jehovah sou binnekort vir hom verligting bring. Dit was asof God vir die profeet gesê het: “Wees geduldig, vertrou op my. Ek sal jou vrae beantwoord, al lyk dit asof dit lank neem!” Jehovah het hom daaraan herinner dat Hy ’n spesifieke tyd het wanneer hy Sy beloftes sou vervul. Hy het Habakuk aangespoor om te wag vir die vervulling van Sy beloftes. Die profeet sou nie teleurgesteld wees nie. As ons geduldig op Jehovah wag en luister na wat hy vir ons sê, sal dit ons help om op hom te vertrou en om ’n kalm hart te hê ten spyte van enige probleme en beproewinge. Jesus het bevestig dat ons op Jehovah as die Groot Tydhouer kan vertrou en het gesê dat ons nie moet fokus op “tye en tydperke” wat God nog nie bekendgemaak het nie (Hand. 1:7). Daarom moet ons nie opgee nie, maar ons moet nederig en geduldig wees en geloof in God hê. En terwyl ons wag, moet ons ons tyd goed gebruik om Jehovah tot die beste van ons vermoë te dien. – Mark. 13:35-37; Gal. 6:9. w18.11 16 ¶13-14
Donderdag 20 Februarie
God het vir my gewys dat ek geen mens onrein of onheilig moet noem nie. – Hand. 10:28.
Net soos ander Jode van daardie tyd, het Petrus grootgeword met die idee dat nie-Jode onrein is. Maar daar het ’n paar dinge gebeur wat veroorsaak het dat Petrus sy beskouing verander het. Jehovah het Petrus byvoorbeeld ’n visioen laat sien (Hand. 10:9-16). Ons moet, soos Petrus, onsself goed ondersoek en gewillig wees om hulp te aanvaar sodat ons kan sien of daar nog enige vooroordeel in ons hart is. Wat kan ons nog doen? As ons verruim word, of ons hart wyd oopmaak, sal ons toelaat dat liefde die vooroordeel in ons hart vervang (2 Kor. 6:11-13). Is dit jou gewoonte om net saam met mense van jou eie ras, etniese groep, nasionaliteit, stam of taal te kuier? Dan moet jy jou hart wyer oopmaak. Miskien kan jy iemand van ’n ander agtergrond nooi om saam met jou velddiens te doen. Of nooi hulle na jou huis vir ’n ete of om by jou te kom kuier (Hand. 16:14, 15). As jy dit doen, sal jou hart so vol liefde word dat daar nie plek sal wees vir vooroordeel nie. w18.08 9 ¶3, 6; 10 ¶7
Vrydag 21 Februarie
Sorg dat julle nie . . . struikelblokke word nie. – 1 Kor. 10:32.
Party Getuies doen dinge wat wys dat hulle wêreldse gedrag nie heeltemal verwerp nie. By partytjies dans en gedra hulle hulle op ’n manier wat nie vir Christene aanvaarbaar is nie. En die kommentare en foto’s van hulleself wat hulle op sosiale media plaas, is nie wat ’n mens van ’n geestelike persoon sou verwag nie. Hulle kan dus ’n negatiewe invloed op ander hê wat hulle bes doen om anders as die wêreld te wees (1 Pet. 2:11, 12). Die wêreld moedig mense aan om te fokus op “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die gespog met ’n mens se besittings” (1 Joh. 2:16). Maar omdat ons aan Jehovah behoort, word ons gewaarsku om “goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met verstandigheid en regverdigheid en toegewydheid aan God in hierdie wêreld te lewe” (Tit. 2:12). Die manier waarop ons praat, ons eet- en drinkgewoontes, hoe ons lyk en aantrek en ons werksgewoontes – alles wat ons doen – moet dit vir almal duidelik maak dat ons uitsluitlik aan Jehovah toegewy is. w18.07 25 ¶13-14
Saterdag 22 Februarie
Ons oë [is] op Jehovah ons God gerig totdat hy goedheid aan ons betoon. – Ps. 123:2.
As ons ons figuurlike oë op Jehovah hou, sal ons nie toelaat dat die dinge wat ander mense doen, ons baie kwaad laat word nie. Ons sal ook nie toelaat dat dit ’n negatiewe invloed op ons verhouding met Jehovah het nie. Dit is veral belangrik as ons, soos Moses, sekere verantwoordelikhede in God se organisasie het. Al moet elkeen van ons ‘aanhou om met vrees en diep respek aan ons eie redding te werk’, moet ons onthou dat Jehovah ons nie volgens een streng, onbuigsame standaard oordeel nie (Fil. 2:12). Ons moet natuurlik ook onthou dat hoe meer verantwoordelikheid ons het, hoe meer word daar van ons verwag (Luk. 12:48). Maar as ons Jehovah werklik liefhet, sal niks ons laat struikel of ons van sy liefde skei nie (Ps. 119:165; Rom. 8:37-39). Laat ons, in hierdie moeilike tye waarin ons lewe, aanhou om ons oë te hou op die Een wat ‘in die hemel op sy troon sit’, sodat ons kan verstaan wat sy wil is (Ps. 123:1). Ons moet nooit toelaat dat ons verhouding met Jehovah negatief beïnvloed word deur die dinge wat ander mense doen nie. w18.07 16 ¶19-20
Sondag 23 Februarie
Julle [moet] julle lig voor mense laat skyn, sodat hulle . . . julle Vader wat in die hemel is, kan verheerlik. – Matt. 5:16.
Ons is baie bly om te hoor dat Jehovah se volk besig is om meer in sy diens te doen! In 2017 het ons meer as 10 000 000 Bybelstudies gehou. Dit is ’n duidelike bewys dat God se knegte besig is om hulle lig te laat skyn! En dink aan die miljoene belangstellendes wat die Gedenkmaal bygewoon het. Hulle het die geleentheid gehad om te leer van die liefde wat God aan ons bewys het toe hy die losprys voorsien het (1 Joh. 4:9). Jehovah se knegte regoor die wêreld praat verskillende tale. Maar dit keer ons nie om ons Vader, Jehovah, in eenheid te loof nie (Op. 7:9). Dit maak nie saak wat ons moedertaal is of waar ons bly nie, ons kan “as ligte in die wêreld” skyn (Fil. 2:15). Die groei wat ons sien, die eenheid wat ons geniet en die feit dat ons hard daaraan werk om waaksaam te bly, is alles dinge wat ons help om Jehovah te verheerlik. w18.06 21 ¶1-3
Maandag 24 Februarie
Rabbi, eet iets. – Joh. 4:31.
Jesus se antwoord het gewys dat hy die geestelike gesprek so geniet het dat hy dit nie wou onderbreek net omdat hy honger was nie. Dit was sy Vader se wil dat hy vir alle mense, selfs vir ’n Samaritaanse vrou, moes preek. En die predikingswerk was vir hom soos kos (Joh. 4:32-34). Jakobus en Johannes het hierdie les nie mooi verstaan nie. Terwyl die dissipels saam met Jesus deur Samaria gereis het, het hulle slaapplek gesoek in ’n Samaritaanse dorpie. Die Samaritane het geweier om vir hulle slaapplek te gee. Jakobus en Johannes het baie kwaad geword en wou hê dat daar vuur uit die hemel moet kom om die hele dorpie te vernietig. Jesus het hulle ernstig tereggewys (Luk. 9:51-56). ’n Mens wonder dalk of Jakobus en Johannes op dieselfde manier sou gereageer het as hierdie onvriendelike dorpie in Galilea was, die gebied waar hulle vandaan gekom het. Dit lyk asof vooroordeel die rede vir hulle vyandigheid was. Die apostel Johannes was dalk ’n bietjie skaam oor hierdie uitbarsting toe hy jare later aan ’n suksesvolle predikingskampanje in Samaria deelgeneem het. – Hand. 8:14, 25. w18.06 10-11 ¶12-13
Dinsdag 25 Februarie
Staan . . . vas met die lyfband van waarheid om julle middel vasgemaak. – Ef. 6:14.
As Bybelwaarheid soos ’n gordel styf om ons vasgemaak is, sal dit deel van ons lewe wees, en ons sal ons bes doen om altyd die waarheid te praat. Hoekom wil ons nooit leuens vertel nie? Omdat leuens een van Satan se beste wapens is. Wanneer iemand ’n leuen vertel, maak hy homself seer sowel as die persoon wat hom glo (Joh. 8:44). Daarom doen ons ons bes om nie leuens te vertel nie, al is ons onvolmaak (Ef. 4:25). Maar dit kan ’n uitdaging wees. Abigail, wat 18 is, sê: “Dit lyk nie altyd of dit die moeite werd is om die waarheid te praat nie, veral as ’n leuen jou kan help om uit ’n moeilike situasie te kom.” Hoekom moet ’n mens dan die waarheid praat? Victoria, wat 23 is, sê: “Jy sal dalk geboelie word wanneer jy die waarheid praat en wanneer jy jou geloof verdedig. Maar die voordele maak dit die moeite werd: jy kry meer selfvertroue, jy voel nader aan Jehovah en jy kry die respek van diegene wat jou liefhet.” Dit is beslis die moeite werd om altyd jou ‘lyfband van waarheid om jou middel’ te dra. w18.05 28 ¶3, 5
Woensdag 26 Februarie
Hou dus aan waak. – Matt. 24:42.
Hoe erger hierdie kritieke tye word, hoe belangriker sal dit vir ons wees om aan te hou waak. Jehovah sal op presies die regte tyd optree (Matt. 24:42-44). Intussen moet ons geduldig wees en aanhou waak. Lees God se Woord elke dag en moet nooit ophou bid nie (1 Pet. 4:7). Leer uit die goeie voorbeelde van broers en susters wat al jare lank met vreugde aanhou waak en hulle lig laat skyn. Bly besig deur opbouende dinge te doen en met jou broers en susters te assosieer. Jy sal gelukkiger wees, en dit sal voel asof die tyd vinnig verbygaan (Ef. 5:16). Dit versterk ons geloof om te weet dat ons Jehovah nog steeds kan dien op ’n manier wat sy hart bly maak, al is ons onvolmaak. Daarom moet ons dit waardeer dat Jehovah vir ons “gawes in die vorm van mense”, gemeentelike ouermanne, gegee het (Ef. 4:8, 11, 12). Wanneer die ouermanne jou volgende keer besoek, sal dit goed wees as jy die geleentheid gebruik om by hulle wysheid te leer en na hulle raad te luister. w18.06 24-25 ¶15-18
Donderdag 27 Februarie
As julle my gebooie gehoorsaam, sal julle in my liefde bly. – Joh. 15:10.
Jesus het nie net vir sy dissipels gesê om in sy liefde te wees nie, maar om ‘in sy liefde te bly’. Hoekom het Jesus dit gesê? Want ons het volharding nodig as ons jaar na jaar ’n ware dissipel van Christus wil bly. Jesus het beklemtoon hoe belangrik volharding is deur die woord “bly” oor en oor in Johannes 15:4-10 te gebruik. Hoe wys ons dat ons in Christus se liefde wil bly en sy goedkeuring wil hê? Deur te doen wat Jesus sê. Wat Jesus eintlik vir ons sê, is: ‘Wees gehoorsaam aan my.’ Jesus vra ons net om te doen wat hy gedoen het, want hy sê verder: “Net soos ek die Vader se gebooie gehoorsaam het en in sy liefde bly.” Jesus stel die voorbeeld (Joh. 13:15). Jesus se gebooie, of opdragte, kom van sy Vader. Daarom wys ons dat ons vir Jehovah lief is wanneer ons Jesus se opdrag om te preek, gehoorsaam (Matt. 17:5; Joh. 8:28). En wanneer ons vir Jehovah en Jesus wys dat ons hulle liefhet, hou hulle ons in hulle liefde. w18.05 18 ¶5-7
Vrydag 28 Februarie
Die planne van hardwerkende mense lei tot sukses. – Spr. 21:5.
Tieners moet besluite neem oor hulle opvoeding, watter werk hulle gaan doen en nog baie ander dinge. Dit sal makliker wees om goeie besluite te neem as jy weet wat jou doelwitte is. Hoe vroeër jy planne maak deur goeie doelwitte te stel, hoe gouer sal jy jou doelwitte bereik. Duisende jongmense in gemeentes regoor die wêreld verdien om geprys te word. Hulle wy hulleself aan Jehovah toe en maak teokratiese doelwitte die belangrikste ding in hulle lewe. Hierdie jongmense geniet regtig hulle lewe terwyl hulle leer om Jehovah se leiding in elke aspek van hulle lewe te volg. Dit sluit ook hulle gesinslewe in. Salomo het gesê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart . . . Neem hom in ag in alles wat jy doen, en hy sal jou paaie gelykmaak” (Spr. 3:5, 6). Jongmense in die gemeente is baie kosbaar in Jehovah se oë. Hy is regtig lief vir hulle en sal hulle beskerm, lei en seën. w18.04 26 ¶7; 27 ¶9
Saterdag 29 Februarie
Julle moet mekaar liefhê. Net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. – Joh. 13:34.
Die apostel Johannes was ’n steunpilaar in die vroeë Christengemeente. Sy boeiende Evangelieverslag van Jesus se bediening het Christene deur die eeue aangemoedig, en doen dit nog steeds. Johannes se Evangelie is die enigste een waarin ons lees dat Jesus se ware dissipels aan hulle liefde vir mekaar uitgeken sou word (Joh. 13:35). Daar is ook kosbare waarhede in Johannes se drie briewe. Wanneer ons sondes ons mismoedig laat voel, is dit vir ons ’n verligting om te lees dat ‘die bloed van Jesus ons van alle sonde reinig’ (1 Joh. 1:7). En as ons hart ons bly veroordeel, kry ons ’n knop in ons keel en trane van dankbaarheid in ons oë wanneer ons lees dat ‘God groter as ons hart is’ (1 Joh. 3:20). Johannes is die enigste een wat geskryf het dat ‘God liefde is’ (1 Joh. 4:8, 16). En in sy tweede en derde brief prys hy Christene wat aanhou om ‘die weg van die waarheid te volg’. – 2 Joh. 4; 3 Joh. 3, 4. w18.04 18 ¶14-15