Maart
Sondag 1 Maart
U regeer oor alles. – 1 Kron. 29:12.
Wanneer ons die eerste twee hoofstukke van Genesis lees, kan ons sien dat Adam en Eva die soort vryheid gehad het waarvan mense vandag maar net kan droom. Hulle het alles gehad wat hulle nodig gehad het, hulle was nie bang vir enigiets nie en niemand het hulle onregverdig behandel nie. Adam en Eva was glad nie bekommerd oor wat hulle gaan eet, watter werk hulle gaan doen en of hulle sou siek word en sou sterf nie (Gen. 1:27-29; 2:8, 9, 15). Maar wanneer dit by vryheid kom, moet ons in gedagte hou dat Jehovah God die enigste een is wat absolute en onbeperkte vryheid het. Hoekom? Want hy is die Skepper van alles en die almagtige Soewerein van die heelal (1 Tim. 1:17; Op. 4:11). Maar alle skepsele in die hemel en op die aarde het net relatiewe vryheid, met ander woorde vryheid met beperkings. Hulle moet erken dat Jehovah God die enigste een is wat die reg het om te besluit watter beperkings regverdig, nodig en redelik is. Dit is presies wat Jehovah God reg van die begin af vir sy menseskepping gedoen het. w18.04 4 ¶4, 6
Maandag 2 Maart
Hoe lieflik . . . is die voete van die een wat goeie nuus bring. – Jes. 52:7.
In hierdie wêreld volhard ons slegs met Jehovah se hulp (2 Kor. 4:7, 8). Maar dink aan dié wat nie ’n goeie vriendskap met Jehovah het nie. Dit moet vir hulle baie moeilik wees om sonder sy hulp in hierdie wêreld te lewe. Net soos Jesus voel ons jammer vir hulle, en motiveer dit ons om vir hulle “goeie nuus van iets beters” te vertel. Wees geduldig wanneer jy mense onderrig. Onthou, hulle het dalk nog nooit gedink aan party van die Bybelwaarhede wat ons baie goed ken nie. En baie voel sterk oor die dinge waarin hulle glo. Hulle voel dalk dat hulle geloof hulle nader bring aan hulle familie, kultuur en gemeenskap. Ons kan mense dalk eers help om waardering op te bou vir “nuwe” waarhede – Bybelleringe wat hulle aan die begin nie geken het nie – voordat ons hulle vra om hulle “ou” oortuigings agter te laat waaraan hulle baie geheg was. Eers dan sal hulle gereed wees om van hulle vorige oortuigings weg te breek. Dit sal dalk tyd neem om mense te help om sulke veranderinge te maak. – Rom. 12:2. w19.03 22 ¶10; 23 ¶12; 24 ¶13
Dinsdag 3 Maart
Ek het jou goedgekeur. – Mark. 1:11.
Die manier waarop Jehovah liefde aan sy Seun betoon het en hom goedgekeur het, herinner ons daaraan om na geleenthede te soek om ander aan te moedig (Joh. 5:20). Ons floreer wanneer iemand vir wie ons omgee, wys dat hulle ons liefhet en ons prys vir die goeie dinge wat ons doen. Net so het ons broers en susters in die gemeente en ons gesin ons liefde en aanmoediging nodig. Wanneer ons ander prys, versterk ons hulle geloof en help ons hulle om Jehovah lojaal te dien. Ouers moet veral hulle kinders aanmoedig. Wanneer ouers hulle kinders opreg prys en hulle met liefde behandel, help hulle hulle kinders om te floreer. Die woorde: “Ek het jou goedgekeur” wys dat Jehovah die vertroue gehad het dat Jesus getrou sy Vader se wil sou doen. Jehovah het sulke vertroue in sy Seun, en daarom kan ons ook die volle vertroue hê dat Jesus al Jehovah se beloftes getrou sal vervul (2 Kor. 1:20). Wanneer ons oor Jesus se voorbeeld nadink, maak dit ons selfs meer vasbeslote om by hom te leer en sy voorbeeld na te volg. – 1 Pet. 2:21. w19.03 8 ¶3; 9 ¶5-6
Woensdag 4 Maart
Die wet van die gees wat lewe gee in eenheid met Christus Jesus, het jou vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. – Rom. 8:2.
Wanneer ons besef hoe waardevol ’n geskenk is, wil ons graag vir die een wat dit gegee het, wys hoe dankbaar ons is. Die Israeliete het nie die vryheid waardeer wat Jehovah hulle gegee het toe hy hulle uit slawerny in Egipte bevry het nie. ’n Paar maande nadat hulle bevry is, het hulle begin kla oor die manna wat Jehovah hulle gegee het om te eet. Hulle het verlang na die dinge wat hulle in Egipte geëet en gedrink het, en wou selfs teruggaan soontoe. Dink net daaraan, die ware God, Jehovah, het hulle die vryheid gegee om hom te aanbid. Maar ‘vis, komkommers, waatlemoene, preie, uie en knoffel’ was vir hulle belangriker as hierdie vryheid. Dit is geen wonder dat Jehovah so kwaad geword het vir hulle nie (Num. 11:5, 6, 10; 14:3, 4). Dit is beslis ’n belangrike les vir ons! Die apostel Paulus het Christene aangemoedig om nie die vryheid wat Jehovah ons liefdevol deur middel van sy Seun, Jesus Christus, gegee het, as vanselfsprekend aan te neem nie. – 2 Kor. 6:1. w18.04 9-10 ¶6-7
Donderdag 5 Maart
Hy is lief vir regverdigheid en geregtigheid. Die aarde is gevul met Jehovah se lojale liefde. – Ps. 33:5.
Ons almal wil graag hê dat ander vir ons moet lief wees. En ons almal wil graag regverdig behandel word. As ander ons gereeld sleg en onregverdig behandel, sal ons dalk waardeloos en sonder hoop voel. Jehovah weet dat ons baie graag liefde en geregtigheid wil hê (Ps. 33:5). Ons kan daarvan seker wees dat ons God ons baie liefhet en dat hy wil hê dat ons regverdig behandel moet word. Ons kan die bewyse daarvan sien wanneer ons na die Wet kyk wat Jehovah deur Moses aan die nasie Israel gegee het. Wanneer ons die Wet van Moses bestudeer, leer ons oor die tere gevoelens van ons liefdevolle God, Jehovah (Rom. 13:8-10). Ons kan sien dat die Wet van Moses op liefde gebaseer was omdat liefde die motivering is vir alles wat Jehovah doen (1 Joh. 4:8). Jehovah het die Wet van Moses op twee basiese gebooie baseer – wees lief vir God en wees lief vir jou naaste (Lev. 19:18; Deut. 6:5; Matt. 22:36-40). Elkeen van die meer as 600 gebooie waaruit die Wet bestaan, leer ons iets oor Jehovah se liefde. w19.02 20-21 ¶1-4
Vrydag 6 Maart
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. – Matt. 6:21.
Job was versigtig oor hoe hy ander vrouens behandel het (Job 31:1). Hy het geweet dat dit verkeerd sou wees om romantiese belangstelling te toon in enige ander vrou behalwe sy eie vrou. Vandag lewe ons in ’n wêreld wat vol seksuele versoekings is. Sal ons, net soos Job, weier om ongepaste aandag te gee aan iemand met wie ons nie getroud is nie? Sal ons ook weier om na enige onsedelike of pornografiese prente te kyk, ongeag waar dit verskyn? (Matt. 5:28). As ons hard werk om elke dag sulke selfbeheersing te hê, sal ons meer vasbeslote wees om ons onkreukbaarheid te behou. Job was ook gehoorsaam aan Jehovah in die manier waarop hy materiële dinge beskou het. Job het gesien dat as hy sy vertroue in sy besittings stel, hy ernstig sou sondig en gestraf moes word (Job 31:24, 25, 28). Vandag lewe ons in ’n baie materialistiese wêreld. As ons leer om die regte beskouing van geld en besittings te hê, soos die Bybel ons aanspoor om te doen, sal ons meer vasbeslote wees om ons onkreukbaarheid te behou. – Spr. 30:8, 9; Matt. 6:19, 20. w19.02 6 ¶13-14
Saterdag 7 Maart
Net soos die Vader my liefgehad het, het ek julle liefgehad. – Joh. 15:9.
Jesus het Jehovah se intense liefde vir ons volmaak weerspieël in alles wat hy gedoen het (1 Joh. 4:8-10). Sy liefde het hom beweeg om sy lewe namens ons op te offer. Of ons nou van die gesalfdes of van die “ander skape” is, ons almal vind baat by die liefde wat Jehovah en sy Seun deur middel van die losprys vir ons getoon het (Joh. 10:16; 1 Joh. 2:2). Dink ook aan die items wat by die Gedenkmaal gebruik word. Dit wys dat Jesus lief is vir sy dissipels en hulle omstandighede in ag neem. Hoe so? Jesus het gewys dat hy lief is vir sy gesalfde volgelinge deur ’n eenvoudige manier in te stel waarop hulle sy dood moet herdenk. Met verloop van tyd moes daardie gesalfde dissipels die Gedenkmaal elke jaar hou en dit onder moeilike omstandighede doen, insluitende in die tronk (Op. 2:10). Was dit vir hulle moontlik om aan Jesus gehoorsaam te bly? Ja, dit was! Tot nou toe het Christene probeer om Jesus se dood te herdenk. w19.01 24 ¶13-15
Sondag 8 Maart
Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. – Joh. 8:32.
Hierdie vryheid sluit vryheid van valse godsdiens, onkunde en bygelowe in. Dit sal uiteindelik ook “die glorieryke vryheid van die kinders van God” insluit (Rom. 8:21). Jy kan selfs nou van hierdie vryheid geniet deur getrou aan Christus se woorde, of leringe, te bly (Joh. 8:31). Op hierdie manier sal jy “die waarheid ken”, nie net deur daaroor te leer nie, maar ook deur daarvolgens te lewe. In hierdie ou wêreld, is selfs die sogenaamde goeie lewe kort en onvoorspelbaar. Ons weet nie wat môre gaan gebeur nie (Jak. 4:13, 14). Daarom is dit wys om op die pad te bly wat lei na die “werklike lewe” – die ewige lewe (1 Tim. 6:19). God forseer ons natuurlik nie om daardie pad te kies nie. Ons moet self besluit. Maak Jehovah jou “deel” (Ps. 16:5). Waardeer al die “goeie” dinge wat hy vir jou gegee het (Ps. 103:5). Wees verseker daarvan dat Jehovah vir jou “oorvloedige vreugde” en “geluk . . . vir ewig” kan gee. – Ps. 16:11. w18.12 28 ¶19, 21
Maandag 9 Maart
’n Man moet ook nie sy vrou verlaat nie. – 1 Kor. 7:11.
Net soos Jesus en Jehovah, moet alle Christene die huwelik eer, of respekteer. Maar omdat mense onvolmaak is, gebeur dit nie altyd nie (Rom. 7:18-23). Daarom moet ons nie verbaas wees dat party Christene in die eerste eeu probleme in hulle huwelik gehad het nie. Paulus het geskryf dat “’n vrou nie van haar man moet weggaan nie”; maar dit het soms tog gebeur (1 Kor. 7:10). Paulus het nie die rede vir so ’n skeiding gegee nie. Die probleem was byvoorbeeld nie dat die man seksuele sonde gepleeg en die vrou ’n rede gehad het om van hom te skei en weer te trou nie. Paulus het geskryf dat ’n vrou wat van haar man weggegaan het, ‘ongetroud moes bly of moes teruggaan na haar man toe’. In God se oë was hulle dus nog getroud. In gevalle waar daar nie seksuele sonde betrokke was nie, het Paulus gesê dat dit ’n paartjie se doel moet wees om hulle met mekaar te versoen, watter probleme hulle ook al het. Hulle kan die gemeentelike ouermanne vra om hulle te help. w18.12 13 ¶14-15
Dinsdag 10 Maart
Hou . . . aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek. – Matt. 6:33.
Vandag is dit God se wil dat ons sy vriende word en soveel moontlik in die predikingswerk doen (Matt. 28:19, 20; Jak. 4:8). Mense wat dalk goed bedoel, kan ons probeer kry om nie ons bes in Jehovah se diens te doen nie. Byvoorbeeld, wat as jou baas vir jou ’n beter posisie met meer geld aanbied, maar jy weet dat dit met jou geestelike aktiwiteite sal inmeng? Of wat as jy nog op skool is en jy kry dalk die geleentheid om uit die huis te trek om verder te gaan leer? Sal jy op daardie oomblik weet wat om te doen? Moenie wag vir so iets om te gebeur voordat jy bid, navorsing doen en met ander daaroor praat nie. Dit is beter om nou te leer wat Jehovah se beskouing van sake is en om sy denke jou eie te maak. As jy dan ooit so ’n aanbod sou kry, sal dit nie eintlik vir jou ’n versoeking wees nie. Jy sal presies weet wat om te doen omdat jy alreeds besluit het om gefokus te bly op jou diens aan Jehovah. w18.11 27 ¶18
Woensdag 11 Maart
Beskerm jou hart meer as enigiets anders wat jy beskerm. – Spr. 4:23.
Salomo het koning van Israel geword toe hy maar nog ’n jong man was. Kort nadat hy begin regeer het, het Jehovah in ’n droom vir hom gesê: “Wat wil jy hê moet ek vir jou gee?” Salomo het toe gesê dat hy jonk en onervare is, en daarom het hy vir Jehovah gevra om vir hom “’n gehoorsame hart” te gee sodat hy Sy volk kon rig (1 Kon. 3:5-10). Die feit dat Salomo vir “’n gehoorsame hart” gevra het, het gewys dat hy nederig is. Dit is geen wonder dat Jehovah lief was vir Salomo nie! (2 Sam. 12:24). Ons God was so gelukkig met die jong koning se antwoord dat hy vir Salomo “’n wyse en verstandige hart” gegee het (1 Kon. 3:12). Jehovah het Salomo baie geseën terwyl hy getrou was. Hy het die voorreg gehad om ’n tempel te bou “vir die naam van Jehovah, die God van Israel” (1 Kon. 8:20). Hy het bekend geword vir die wysheid wat hy van God gekry het. En die dinge wat hy gesê het toe hy deur God geïnspireer is, is in drie boeke van die Bybel opgeteken. Een van hierdie boeke is Spreuke. w19.01 14 ¶1-2
Donderdag 12 Maart
Moenie langer toelaat dat hierdie wêreld julle vorm nie. – Rom. 12:2.
Party mense wil nie hê dat enigiemand hulle denke moet vorm, of beïnvloed, nie. Hulle sê: “Ek kan vir myself dink.” Wat hulle waarskynlik probeer sê, is dat hulle hulle eie besluite wil neem en dat hulle die reg het om dit te doen. Hulle wil nie gesê word wat om te doen nie, en hulle wil nie geforseer word om soos ander te wees nie. Ons kan daarvan seker wees dat om Jehovah se beskouing van sake te hê nie beteken dat ons nie ons eie opinies kan hê nie. Tweede Korintiërs 3:17 sê: “Waar die gees van Jehovah is, is daar vryheid.” Ons het die vryheid om te kies watter tipe persoon ons wil wees. Ons kan ons eie voorkeure en belangstellings hê. Dit is hoe Jehovah ons gemaak het. Maar dit beteken nie dat ons vryheid geen perke het nie (1 Pet. 2:16). Wanneer dit kom by wat reg en verkeerd is, wil Jehovah hê dat ons deur sy denke, wat in sy Woord opgeteken is, gelei moet word. w18.11 19 ¶5-6
Vrydag 13 Maart
Demas het my verlaat omdat hy lief is vir hierdie wêreld. – 2 Tim. 4:10.
Toe ons die waarheid geleer het, het ons besef dat geestelike doelwitte belangriker as materiële dinge is. Ons was bereid om materiële opofferings te maak om in die waarheid te wandel. Maar met verloop van tyd sien ons dalk hoe ander die nuutste elektroniese toestelle of ander materiële dinge koop. Miskien begin ons voel dat ons ook hierdie dinge nodig het. Omdat ons nie meer tevrede is met wat ons het nie, begin ons dalk om materiële dinge bymekaar te maak eerder as om op geestelike doelwitte te fokus. Dit herinner ons aan wat met Demas gebeur het. Sy liefde vir “hierdie wêreld” het veroorsaak dat hy opgehou het om saam met die apostel Paulus te dien. Hoekom het Demas Paulus verlaat? Die Bybel sê nie. Maar miskien was sy liefde vir materiële dinge groter as sy liefde vir geestelike aktiwiteite. Of dalk was hy nie meer bereid om persoonlike opofferings te maak om saam met Paulus te dien nie. Ons wil sekerlik nie hê dat die begeerte na materiële dinge weer so sterk word dat ons ons liefde vir die waarheid verloor nie. w18.11 10 ¶9
Saterdag 14 Maart
Julle sal beslis nie sterf nie. – Gen. 3:4.
Satan het slegte bedoelings gehad toe hy hierdie leuen vertel het, want hy het goed geweet dat Eva sou sterf as sy hom sou glo en die vrug eet. Eva en Adam was albei ongehoorsaam aan Jehovah en het uiteindelik gesterf (Gen. 3:6; 5:5). En nog erger, deur hulle sonde het “die dood . . . na alle mense versprei”. Om die waarheid te sê, “die dood as koning regeer”, selfs oor diegene wat nie soos Adam gesondig het nie (Rom. 5:12, 14). In plaas daarvan dat mense vandag volmaak is en vir ewig lewe soos God dit nog altyd wou gehad het, word mense maar omtrent 70 jaar oud, of 80 as hulle baie gesond is. En selfs dan is die lewe “vol probleme en hartseer” (Ps. 90:10). Satan se leuen het beslis baie hartseer veroorsaak! Toe Jesus verduidelik het wat die Duiwel gedoen het, het hy gesê: “Hy het nie in die waarheid vasgestaan nie, want daar is nie waarheid in hom nie” (Joh. 8:44). Die waarheid is nog steeds nie in Satan nie, want hy hou aan om ‘die hele aarde te mislei’ met sy leuens (Op. 12:9). Ons wil nie hê dat die Duiwel ons moet mislei nie. w18.10 6-7 ¶1-4
Sondag 15 Maart
Gelukkig is dié wat vrede maak, want hulle sal kinders van God genoem word. – Matt. 5:9.
Diegene wat die eerste stap doen om vrede te maak, het goeie rede om gelukkig te wees. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Die vrug van regverdigheid word onder vreedsame toestande gesaai vir dié wat vrede maak” (Jak. 3:18). Wanneer daar probleme tussen ons en iemand anders in die gemeente of in ons familie is, kan ons God smeek om ons te help om vrede te maak. As ons dit doen, sal Jehovah ons sy heilige gees gee wat ons sal help om reg op te tree en gelukkig te wees. Jesus het beklemtoon hoe belangrik dit is om die eerste stap te doen om vrede te maak toe hy gesê het: “As jy dan jou offer na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, los jou offer daar voor die altaar en gaan weg. Maak eers vrede met jou broer en kom dan terug en bring jou offer.” – Matt. 5:23, 24. w18.09 21 ¶17
Maandag 16 Maart
Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. – Joh. 13:34.
Op Jesus se laaste aand saam met sy dissipels, het hy amper 30 keer van liefde gepraat. Hy het veral beklemtoon dat sy dissipels ‘mekaar moet liefhê’ (Joh. 15:12, 17). Hulle liefde vir mekaar sou so buitengewoon wees dat almal duidelik sou kon sien dat hulle sy ware volgelinge is (Joh. 13:35). Hierdie soort liefde is meer as net ’n gevoel. Die liefde waarvan Jesus gepraat het, is die pragtige eienskap van selfopofferende liefde. Hy het gesê: “Niemand het groter liefde as iemand wat sy lewe vir sy vriende gee nie. Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel” (Joh. 15:13, 14). Vandag word Jehovah se knegte geïdentifiseer deur hulle opregte, selfopofferende liefde en hulle sterk band van eenheid (1 Joh. 3:10, 11). Ons is baie dankbaar dat Jehovah se knegte hierdie Christelike liefde vir mekaar het, maak nie saak van watter nasionaliteit, stam, taal of agtergrond hulle is nie! w18.09 12 ¶1-2
Dinsdag 17 Maart
As iemand nie vir sy eie mense sorg nie, veral nie vir lede van sy huisgesin nie, het hy die geloof verwerp. – 1 Tim. 5:8.
Jehovah verwag van sy knegte om vir hulle familie te sorg. Byvoorbeeld, jy moet dalk werk om finansieel vir jou geliefdes te voorsien. Baie vrouens bly by die huis om vir hulle jong kinders te sorg. En party volwassenes moet dalk na hulle ouers omsien omdat hulle nie meer vir hulleself kan sorg nie. Ons moet hierdie dinge doen. As jy sulke verantwoordelikhede het, het jy dalk nie soveel tyd vir teokratiese aktiwiteite as wat jy graag sou wou hê nie. Maar moenie mismoedig word nie! Dit maak Jehovah se hart baie bly wanneer jy vir jou gesin sorg (1 Kor. 10:31). Dalk het jy nie baie gesinsverantwoordelikhede op die oomblik nie. Kan jy miskien mede-aanbidders help wat siek of bejaard is? Of kan jy dalk diegene help wat vir hulle sorg? Kyk of daar iemand in jou gemeente is wat miskien hulp nodig het. Deur dit te doen, werk jy dalk saam met Jehovah om ’n gebed te beantwoord. – 1 Kor. 10:24. w18.08 24 ¶3, 5
Woensdag 18 Maart
God was met hom, en hy het hom gered van al sy moeilikhede. – Hand. 7:9, 10.
Josef was omtrent 17 jaar oud toe sy eie broers hom as ’n slaaf verkoop het omdat hulle jaloers was. Voordat dit gebeur het, was hy sy pa se gunsteling (Gen. 37:2-4, 23-28). Dit het omtrent 13 jaar lank baie sleg gegaan met hom in Egipte. Hy was eers ’n slaaf en toe in die tronk, en hy was ver weg van sy pa, Jakob, vir wie hy baie lief was. Wat het Josef gehelp om nie moedeloos en verbitterd te word nie? Terwyl Josef in die tronk was en baie swaargekry het, het hy waarskynlik gefokus op die bewyse dat Jehovah hom seën (Gen. 39:21; Ps. 105:17-19). Die profetiese drome wat Josef gehad het toe hy jonger was, sou hom ook daarvan verseker het dat Jehovah hom goedkeur (Gen. 37:5-11). Hy het moontlik meer as een keer sy hart voor Jehovah uitgestort (Ps. 145:18). Jehovah het Josef se gebede beantwoord deur hom die vertroue te gee dat Hy “met hom” sou wees, maak nie saak watter probleme hy sou deurmaak nie. w18.10 28 ¶3-4
Donderdag 19 Maart
’n Arm man word selfs deur sy bure gehaat, maar ’n ryk man het baie vriende. – Spr. 14:20.
Materiële rykdom is iets wat ons beskouing van ander kan beïnvloed. Maar hoe kan ’n persoon se rykdom of armoede ons beskouing van hom beïnvloed? Salomo is geïnspireer om ’n hartseer waarheid oor onvolmaakte mense neer te skryf, soos vandag se teks toon. Wat leer ons uit hierdie woorde? As ons nie versigtig is nie, kan ons dalk broers wat ryk is as ons vriende wil hê, terwyl ons broers wat arm is, vermy. Hoekom is dit so gevaarlik om ander te oordeel volgens die materiële dinge wat hulle besit? Omdat dit klasseverskille in die gemeente kan veroorsaak. Die dissipel Jakobus het gewaarsku dat hierdie probleem besig was om party gemeentes in die eerste eeu te verdeel (Jak. 2:1-4). Ons moet ons gemeente vandag teen hierdie gevaar beskerm en nie toelaat dat sulke idees ’n invloed op ons het nie. w18.08 10 ¶8-10
Vrydag 20 Maart
Julle [moet] intense liefde vir mekaar . . . hê. – 1 Pet. 4:8.
Ons wys dat ons Jehovah se spesiale vriendskap waardeer deur die manier waarop ons ons broers en susters behandel. Hulle behoort ook aan Jehovah. As ons dit heeltyd in gedagte hou, sal ons ons broers en susters altyd met vriendelikheid en liefde behandel (1 Tess. 5:15). Jesus het vir sy volgelinge gesê: “So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het” (Joh. 13:35). Dit is interessant dat Maleagi Jehovah uitbeeld as iemand wat ‘aandag bly skenk en bly luister’. Hy sien hoe Sy volk mekaar behandel en hoor hoe hulle met mekaar praat (Mal. 3:16). Jehovah ken beslis “dié wat aan hom behoort” (2 Tim. 2:19). Hy weet van elke ding wat ons doen en sê (Heb. 4:13). Jehovah ‘skenk aandag en luister’ wanneer ons nie vriendelik is met ons broers en susters nie. Maar ons kan daarvan seker wees dat Jehovah dit ook raaksien wanneer ons gasvry, vrygewig en vriendelik teenoor ons broers en susters is en hulle vergewe. – Heb. 13:16. w18.07 25 ¶15; 26 ¶17
Saterdag 21 Maart
Dit is Jehovah . . . aan wie julle getrou moet bly. – Deut. 10:20.
Dit maak sin om aan Jehovah getrou te bly. Niemand is magtiger, wyser of liefdevoller as ons God nie! Wie van ons sou nie graag aan sy kant wil wees nie? (Ps. 96:4-6). Maar tog het party van God se aanbidders nie Jehovah se kant gekies toe hulle die kans gehad het om dit te doen nie. Dink byvoorbeeld aan Kain. Hy het geen ander god behalwe Jehovah aanbid nie. Maar Kain se aanbidding was nie vir God aanvaarbaar nie. Saadjies van goddeloosheid was besig om in sy hart te groei (1 Joh. 3:12). Jehovah het Kain probeer help en vir hom gesê: “As jy begin doen wat goed is, sal jy weer my goedkeuring geniet. Maar as jy dit nie doen nie, lê die sonde by die deur en loer, en dit wil jou oorheers. Maar sal jy die oorhand daaroor kry?” (Gen. 4:6, 7). Jehovah het met ander woorde vir Kain gesê: “As jy berou het en my kant kies, dan sal ek ook aan jou kant wees.” Maar Kain het nie na die raad geluister nie. w18.07 17 ¶1, 3; 18 ¶4
Sondag 22 Maart
Julle [moet] julle lig voor mense laat skyn. – Matt. 5:16.
Ons kan ons lig laat skyn deur die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak (Matt. 28:19, 20). Nog ’n manier waarop ons Jehovah kan verheerlik, is deur ons Christelike gedrag. Huisbewoners en mense wat verbyloop, hou ons dop wanneer ons velddiens doen. Ons vriendelike glimlag wanneer ons iemand groet, sê baie oor ons en oor die soort God wat ons aanbid. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Wanneer julle in die huis ingaan, groet die huismense” (Matt. 10:12). In die gebied waar Jesus en die apostels gereeld gepreek het, het mense gewoonlik vreemdelinge ingenooi. Vandag is dit in baie plekke nie meer die gewoonte nie. Maar as jy positief en vriendelik is terwyl jy verduidelik hoekom jy daar is, kan dit die huisbewoner gerusstel en hom help om minder geïrriteerd te wees. ’n Vriendelike glimlag is gewoonlik die beste inleiding. Broers en susters wat openbare getuieniswerk met lektuurtrollies doen, het dit al baie ondervind. Jy sal sien dat mense goed reageer wanneer jy hulle met ’n vriendelike glimlag groet. w18.06 22 ¶4-5
Maandag 23 Maart
God [is] nie partydig . . . nie. – Hand. 10:34.
Dit was die apostel Petrus se gewoonte om net met Jode te assosieer. Maar nadat God dit duidelik gemaak het dat Christene nie partydig moet wees nie, het Petrus vir Kornelius, ’n Romeinse soldaat, gepreek (Hand. 10:28, 35). Daarna het Petrus saam met nie-Joodse gelowiges geëet en geassosieer. Maar jare later het Petrus opgehou om saam met nie-Joodse Christene in die stad Antiogië te eet (Gal. 2:11-14). Paulus het Petrus hieroor tereggewys, en hy het die raad aanvaar. Toe Petrus sy eerste brief aan die Joodse en nie-Joodse Christene in Klein-Asië geskryf het, het hy met liefde gepraat van die hele gemeenskap van broers (1 Pet. 1:1; 2:17). Dit is duidelik dat die apostels uit Jesus se voorbeeld geleer het om vir “alle soorte mense” lief te wees (Joh. 12:32; 1 Tim. 4:10). Al het dit ’n rukkie gevat, het hulle die manier waarop hulle gedink het, verander. Die vroeë Christene het hulle met “die nuwe persoonlikheid” beklee, en het besef dat alle mense in God se oë gelyk is. – Kol. 3:10, 11. w18.06 11 ¶15-16
Dinsdag 24 Maart
Staan . . . vas . . . met die borsplaat van regverdigheid aan. – Ef. 6:14.
Een tipe borsplaat wat in die eerste eeu deur ’n Romeinse soldaat gedra is, het uit horisontale ysterplate bestaan wat oor mekaar gepas het. Hierdie tipe borsplaat het veroorsaak dat ’n soldaat kort-kort moes kyk of die ysterplate nie losgekom het nie sodat sy hart en ander belangrike organe beskerm kan word. Dit kan vergelyk word met hoe Jehovah se regverdige standaarde ons figuurlike hart kan beskerm (Spr. 4:23). Net soos ’n soldaat nie sy borsplaat van yster sou verruil vir een wat van ’n swakker metaal gemaak is nie, sal ons ook nooit Jehovah se standaarde van wat reg is, wil verruil vir ons eie standaarde nie. Ons is eenvoudig nie wys genoeg om ons eie hart te beskerm nie (Spr. 3:5, 6). Daarom kyk ons gereeld of die ‘ysterplate’ wat Jehovah ons gegee het, stewig oor ons hart vasgemaak is. Hoe liewer ons vir hierdie waarhede word, hoe makliker sal dit vir ons wees om ons “borsplaat” te dra. Met ander woorde, dit sal vir ons makliker wees om volgens God se regverdige standaarde te lewe. – Ps. 111:7, 8; 1 Joh. 5:3. w18.05 28 ¶3-4, 6-7
Woensdag 25 Maart
Die volk het met Moses gestry. – Num. 20:3.
Ten spyte van die feit dat Moses die volk so lank onselfsugtig gelei het, het hulle nog steeds gekla. Hulle het nie net gekla omdat hulle te min water gehad het nie, maar hulle het ook oor Moses gekla, asof dit sy skuld was dat hulle dors is (Num. 20:1-5, 9-11). In ’n oomblik van woede het Moses sy sagmoedige gesindheid verloor. Eerder as om geloof te toon en met die rots te praat, soos Jehovah beveel het, het Moses verbitterd geword en met die volk gepraat en gesê dat hy ’n wonderwerk sou doen. Toe het hy die rots twee keer geslaan en baie water het daaruit gestroom. Trots en woede het veroorsaak dat hy ’n ernstige fout maak (Ps. 106:32, 33). Omdat Moses vir ’n oomblik sy sagmoedigheid verloor het, was hy nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie (Num. 20:12). Ons leer belangrike lesse uit hierdie voorbeeld. Eerstens, ons moet aanhoudend daaraan werk om sagmoedig te wees. As ons ons sagmoedigheid verloor, kan ons maklik trots word en onverstandige dinge doen en sê. Tweedens, stres kan dit vir ons moeilik maak om sagmoedig te wees. Daarom moet ons ons bes doen om sagmoedig te bly, selfs wanneer ons onder druk is. w19.02 12-13 ¶19-21
Donderdag 26 Maart
Hierdie goeie nuus van die Koninkryk sal oor die hele bewoonde aarde verkondig word. – Matt. 24:14.
Sal dit ooit vir ons ’n las word om gehoorsaam te wees aan Jesus se opdrag om te preek? Glad nie. Nadat Jesus die illustrasie van die wingerdstok vertel het, het hy gesê dat dit ons vreugde sal gee om oor die Koninkryk te preek (Joh. 15:11). Hy het ons verseker dat sy vreugde ons vreugde sal word. Hoe sal dit gebeur? Jesus het homself met ’n wingerdstok vergelyk en sy dissipels met takke (Joh. 15:5). ’n Wingerdstok ondersteun die takke. Solank die takke deel van die wingerdstok is, sal hulle water en voedingstowwe van die wingerdstok kry. Dit gee Jesus vreugde om sy Vader se wil te doen en solank ons in eenheid met hom bly en sy voetstappe noukeurig volg, sal ons dieselfde vreugde as hy ervaar (Joh. 4:34; 17:13; 1 Pet. 2:21). Hanne, wat al meer as 40 jaar pionier, sê: “Die vreugde wat ek ervaar nadat ek velddiens gedoen het, spoor my aan om in Jehovah se diens te volhard.” Ja, vreugde sal ons beslis die krag gee om aan te hou preek, selfs in moeilike gebiede. – Matt. 5:10-12. w18.05 17 ¶2; 20 ¶14
Vrydag 27 Maart
Ek [is] as . . . ’n onderrigter van nasies [aangestel] om hulle te leer van geloof en waarheid. – 1 Tim. 2:7.
In die eerste eeu was die apostel Paulus heel moontlik die apostel wat die meeste gedoen het om sy broers aan te moedig. Hy is deur die heilige gees gestuur om vir Grieke, Romeine en ander nasies, wat baie gode aanbid het, te preek (Gal. 2:7-9). Paulus het wyd en syd deur die gebied gereis wat vandag Turkye genoem word, sowel as deur Griekeland en Italië. Hy het vir die nie-Jode in hierdie plekke gepreek en Christengemeentes begin. Hierdie nuwe Christene is deur hulle eie landgenote vervolg en het aanmoediging nodig gehad (1 Tess. 2:14). In ongeveer 50 HJ het Paulus aan die jong gemeente in Tessalonika geskryf: “Ons dank God altyd wanneer ons julle almal in ons gebede noem, want ons dink altyd aan julle getroue werk, julle liefdevolle arbeid en julle volharding” (1 Tess. 1:2, 3). Hy het hulle ook aangespoor om mekaar te versterk, en het gesê: “Hou . . . aan om mekaar aan te moedig en mekaar op te bou.” – 1 Tess. 5:11. w18.04 18-19 ¶16-17
Saterdag 28 Maart
Die goeie nuus moet . . . eers . . . verkondig word. – Mark. 13:10.
Jongmense wat fokus op hulle begeerte om Jehovah se hart bly te maak, gee spesiale aandag aan hulle bediening. Omdat die goeie nuus so dringend is, moet dit een van die belangrikste dinge in ons lewe wees. Kan jy dit jou doelwit maak om meer velddiens te doen? Kan jy dalk pionier? Maar sê nou jy geniet dit nie eintlik om velddiens te doen nie? En hoe kan jy jou velddiens verbeter? Daar is twee dinge wat jou sal help: Berei goed voor, en moenie ophou om ander van Jehovah te vertel nie. Jy sal verbaas wees hoe baie jy dit dan sal geniet om velddiens te doen. Jy kan begin deur ’n antwoord voor te berei op ’n vraag wat jou klasmaats gereeld vra, byvoorbeeld: “Hoekom glo jy aan God?” Ons webwerf, jw.org, het artikels wat jongmense help om hierdie vraag self te beantwoord. Daar sal jy ’n werkblad kry met die titel: “Waarom glo ek aan God?” Die werkblad sal jou help om jou eie antwoord voor te berei. w18.04 27 ¶10-11
Sondag 29 Maart
Wees vrugbaar en word baie. – Gen. 1:28.
Hoewel Adam en Eva aan die begin baie vryheid gehad het, het hulle vryheid beperkings gehad. Party van hierdie beperkings was instinktief, met ander woorde hulle het dit gedoen sonder om daaraan te dink. Maar dit was nog steeds beperkings. Hulle het byvoorbeeld geweet dat hulle moes asemhaal, eet en slaap om aan die lewe te bly. Sou hulle dink dat hulle minder vryheid het omdat hulle hierdie dinge moes doen? Nee, want Jehovah het seker gemaak dat selfs wanneer hulle hierdie dinge doen, dit hulle gelukkig en tevrede sou maak (Ps. 104:14, 15; Pred. 3:12, 13). Jehovah het vir Adam en Eva die spesifieke opdrag gegee om kinders te hê en vir die aarde te sorg. Het hierdie opdrag beteken dat hulle vryheid op die een of ander manier van hulle af weggeneem is? Natuurlik nie! Dit is gegee sodat mense deel kon wees van hulle Skepper se voorneme met die aarde. Hulle sou help om die aarde ’n paradys te maak, waar volmaakte mense vir ewig kon bly (Ps. 127:3; Jes. 45:18). Adam en Eva kon saam met hulle gesin vir ewig gelukkig gewees het as hulle Jehovah gehoorsaam het. w18.04 4-5 ¶7-8
Maandag 30 Maart
Almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het, het gelowiges geword. – Hand. 13:48.
As ons geduldig is met mense in die bediening, sal ons nie van hulle verwag om Bybelwaarhede te verstaan of te aanvaar wanneer hulle dit vir die eerste keer hoor nie. Kyk byvoorbeeld hoe ons dalk met iemand sal redeneer oor die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Baie mense dink dalk dat die dood die einde van alles is of dat alle goeie mense hemel toe gaan. ’n Broer vertel watter metode hy gebruik om mense te help om hieroor te redeneer. Eerstens lees hy Genesis 1:28. Dan vra hy die huisbewoner waar God wou hê die mens moes bly en watter soort lewe hy vir hulle wou hê. Die meeste mense sê: “Hy wou hê dat hulle op die aarde moes lewe en gelukkig moes wees.” Volgende lees die broer Jesaja 55:11, en dan vra hy of God se voorneme verander het. Baie keer sê die huisbewoner nee. Laastens lees die broer Psalm 37:10, 11, en dan vra hy wat die toekoms vir die mens inhou. Deur die Bybel op hierdie manier te gebruik, het hy al ’n hele paar mense gehelp om te verstaan dat God nog steeds wil hê dat goeie mense vir ewig op ’n paradysaarde moet lewe. w19.03 24 ¶14-15; 25 ¶19
Dinsdag 31 Maart
Luister na hom. – Matt. 17:5.
Jehovah het dit duidelik gemaak dat hy wil hê dat ons na sy Seun se woorde moet luister en dit moet gehoorsaam. Jesus het sy volgelinge op ’n liefdevolle manier geleer hoe om die goeie nuus te verkondig, en hy het hulle meer as een keer daaraan herinner om aan te hou waak (Matt. 24:42; 28:19, 20). Hy het hulle ook aangespoor om hulle kragtig in te span, en hy het hulle aangemoedig om nie op te gee nie (Luk. 13:24). Jesus het beklemtoon hoe belangrik dit is dat sy volgelinge mekaar moet liefhê, verenig moet bly en sy gebooie moet gehoorsaam (Joh. 15:10, 12, 13). Hierdie raad is vandag nog net so belangrik as wat dit was toe Jesus dit gegee het. Jesus het gesê: “Elkeen wat aan die kant van die waarheid is, luister na my stem” (Joh. 18:37). Ons wys dat ons na sy stem luister wanneer ons “[aanhou] om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe” (Kol. 3:13; Luk. 17:3, 4). Ons wys ook dat ons na sy stem luister deur ywerig die goeie nuus “in goeie tye” en “in moeilike tye” te verkondig. – 2 Tim. 4:2. w19.03 10 ¶9-10