Junie
Dinsdag 1 Junie
Die ander vrou het haar heeltyd uitgetart om haar te ontstel. – 1 Sam.1:6, vtn.
Die profeet Samuel se ma, Hanna, het moeilike probleme gehad. Sy kon vir jare nie kinders kry nie (1 Sam. 1:2). In die Israelitiese kultuur is daar geglo dat ’n vrou wat nie kinders kon kry nie, deur God vervloek is. So Hanna het baie vernederd gevoel (Gen. 30:1, 2). En daar was iets wat Hanna se lewe selfs moeiliker gemaak het. Haar man was ook getroud met ’n ander vrou, Peninna, by wie hy kinders gehad het en wat haar uitgetart het. Hanna was baie hartseer oor haar situasie. Sy was so ontsteld “dat sy gehuil het en nie geëet het nie”. Sy was “bitter hartseer” (1 Sam. 1:7, 10). Hoe het Hanna vertroosting gevind? Hanna het haar hart voor Jehovah in gebed uitgestort. Nadat sy gebid het, het sy haar situasie aan die hoëpriester Eli verduidelik. Hy het toe vir haar gesê: “Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou gee wat jy van hom gevra het.” Wat het toe gebeur? Hanna “het weggegaan en geëet, en sy was nie meer hartseer nie” (1 Sam. 1:17, 18). Gebed het Hanna gehelp om haar vrede terug te kry. w20.02 21 ¶4-5
Woensdag 2 Junie
Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord. – Kol. 4:6.
Jehovah sal binnekort ’n einde aan hierdie stelsel maak. Slegs dié met die “regte gesindheid vir die ewige lewe” sal oorleef (Hand. 13:48). Dit is net natuurlik dat ons ook wil hê dat ons familielede Jehovah saam met ons moet dien. Ons liefdevolle Vader, Jehovah, wil nie hê “dat enigiemand vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal berou moet toon” (2 Pet. 3:9). Ons moet in gedagte hou dat daar ’n regte en ’n verkeerde manier is om die boodskap van redding te verkondig. Ons is dalk taktvol wanneer ons vir ’n vreemdeling getuig, maar dalk té reguit wanneer ons met ons familielede praat. Baie van ons is dalk spyt wanneer ons dink aan die eerste keer toe ons vir ons familielede probeer getuig het en wens dat ons dit anders gedoen het. Dit is goed om die apostel Paulus se raad in vandag se teks in gedagte te hou wanneer ons met ons familielede praat. Anders veroorsaak ons dalk dat hulle glad nie met ons wil praat nie eerder as wat ons hulle oortuig om na ons te luister. w19.08 14-15 ¶3-5
Donderdag 3 Junie
Christus het . . . vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg. – 1 Pet. 2:21.
Hoe het jy gevoel toe jy die volgende waarhede oor die Seun geleer het? Jesus is die tweede belangrikste persoon in die heelal. Hy was bereid om sy lewe vir ons as ’n losprys te gee. Wanneer ons deur ons dade wys dat ons geloof in die losprys het, kan ons sondes vergewe word, kan ons Jehovah se vriend word en kan ons die ewige lewe kry (Joh. 3:16). Jesus is ons Hoëpriester. Hy wil ons help om die voordele van die losprys te geniet en om ’n goeie verhouding met God te hê (Heb. 4:15; 7:24, 25). As Koning van God se Koninkryk sal Jehovah hom gebruik om Sy naam te heilig, om ’n einde te bring aan goddeloosheid en om in die komende Paradys seëninge te bring wat nooit sal ophou nie (Matt. 6:9, 10; Op. 11:15). Ons moet Jesus se voorbeeld volg. Hy het ’n voorbeeld vir ons gestel deur sy lewe te gebruik om God se wil te doen (Joh. 4:34). Wanneer jy aanvaar wat die Bybel oor Jesus leer, word jy lief vir God se dierbare Seun. Hierdie liefde motiveer jou om jou lewe te gebruik om God se wil te doen, net soos Jesus gedoen het. w20.03 10 ¶12-13
Vrydag 4 Junie
Bid sonder ophou. – 1 Tess. 5:17.
Jesus het gereeld gebid gedurende sy laaste dag op die aarde. Toe Jesus vir sy dissipels gewys het hoe om sy dood te herdenk, het hy vir die brood en wyn gebid (1 Kor. 11:23-25). Voordat hulle die plek verlaat het waar hulle die Pasga gehou het, het Jesus saam met sy dissipels gebid (Joh. 17:1-26). Toe hy en sy dissipels daardie aand by die Olyfberg aangekom het, het hy herhaaldelik gebid (Matt. 26:36-39, 42, 44). En die laaste woorde wat Jesus voor sy dood gesê het, was ’n gebed (Luk. 23:46). Jesus het tot Jehovah gebid oor alles wat op daardie belangrike dag gebeur het. Een rede hoekom Jesus sy beproewing kon verduur, was omdat hy gereeld tot sy Vader gebid het om hom te help. Maar die apostels het daardie aand aan die slaap geraak en het nie aanhou bid nie. Daarom het hulle moed verswak toe hulle beproef is (Matt. 26:40, 41, 43, 45, 56). Wanneer ons beproewinge ervaar, sal ons getrou bly slegs as ons Jesus se voorbeeld navolg en ‘aanhou bid’. w19.04 9 ¶4-5
Saterdag 5 Junie
Ek is Jehovah, en ek verander nie. – Mal. 3:6.
Jehovah haat spiritisme! Hy het vir die Israeliete gesê: “Die volgende mag nooit onder julle gevind word nie: enigiemand wat sy seun of sy dogter as ’n offerande in die vuur verbrand, enigiemand wat van waarsêery gebruik maak, enigiemand wat toorkuns beoefen, enigiemand wat na tekens soek, ’n towenaar, enigiemand wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek, enigiemand wat hulp gaan soek by ’n persoon wat geeste oproep of by ’n fortuinverteller of enigiemand wat die dooies raadpleeg. Want enigiemand wat hierdie dinge doen, is afskuwelik vir Jehovah” (Deut. 18:10-12). Christene is nie onder die Wet wat Jehovah vir die Israeliete gegee het nie. Maar ons weet dat hy nog steeds dieselfde oor spiritisme voel. Jehovah waarsku ons teen spiritisme omdat hy weet dat Satan dit gebruik om mense kwaad aan te doen. Satan gebruik spiritisme om leuens te bevorder – insluitende die leuen dat die dooies iewers anders voortleef (Pred. 9:5). Satan gebruik ook spiritisme om mense in vrees te laat lewe en om hulle van Jehovah af weg te hou. Hy wil hê dat mense wat spiritisme beoefen op bose geeste moet vertrou, en nie op Jehovah nie. w19.04 21 ¶5-6
Sondag 6 Junie
As jy doen wat sleg is, moet jy bang wees. – Rom. 13:4.
Kindermolestering is ’n growwe sonde. Die molesteerder maak die kind seer op ’n manier wat tot ernstige skade lei. Hy veroorsaak dat die kind sy vertroue in hom verloor en beroof die kind van sy of haar gevoel van veiligheid. Kinders moet teen so ’n goddelose daad beskerm word, en slagoffers van molestering het vertroosting en hulp nodig (1 Tess. 5:14). Wanneer iemand wat deel van die gemeente is, ’n kind molesteer, gee hy die gemeente ’n slegte reputasie (Matt. 5:16; 1 Pet. 2:12). Ons duld nie mense in die gemeente wat onberouvol is oor hulle goddelose dade en die gemeente ’n slegte reputasie gee nie. Wanneer iemand in die gemeente ’n landswet oortree, soos om ’n kind te molesteer, sondig hy teen die owerheid. (Vergelyk Handelinge 25:8.) Die ouermanne het nie die gesag om iemand te straf wat die landswette oortree nie, maar hulle beskerm nie enige kindermolesteerder teen die wetlike gevolge van sy sonde nie. w19.05 9 ¶4-7
Maandag 7 Junie
Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. – 1 Kor. 3:19.
Ons kan enige uitdaging oorkom omdat Jehovah ons Groot Onderrigter is (Jes. 30:20, 21). Sy Woord gee ons alles wat ons nodig het sodat ons “heeltemal bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Tim. 3:17). Wanneer ons Bybelleringe in ons lewe toepas, word ons wyser as dié wat “die wysheid van hierdie wêreld” bevorder (Ps. 119:97-100). Ongelukkig wakker die wysheid van hierdie wêreld dikwels ons vleeslike begeertes aan. Daarom kan dit soms moeilik wees om nie soos dié wat deel van hierdie wêreld is, te dink en op te tree nie. Die Bybel sê met goeie rede: “Pasop dat niemand julle vang deur middel van filosofie en leë bedrog wat op die tradisies van mense gebaseer is . . . nie” (Kol. 2:8). Net soos die Bybel oor die laaste dae voorspel het, het mense in groot mate “lief vir plesier” geword (2 Tim. 3:4). Die feit dat seksueel oordraagbare siektes, soos vigs, so algemeen voorkom, is net een bewys dat die wysheid van die wêreld dwaasheid is. – 2 Pet. 2:19. w19.05 21 ¶1-2; 22 ¶4-5
Dinsdag 8 Junie
[Staan vas] teen die slinkse planne van die Duiwel. – Ef. 6:11.
Satan het die Israeliete bedrieg deur hulle te laat dink dat hulle die gebruike van hulle heidense bure moes volg as hulle voorspoedig wou wees. Daardie bure het geglo dat hulle sekere rituele moes uitvoer sodat hulle gode dit sou laat reën. Dié wat nie geloof in Jehovah gehad het nie, het geglo dat dít die enigste manier was om ’n lang droogte te voorkom, en daarom het hulle heidense rituele uitgevoer om die valse god Baäl te eer. Satan het ook onsedelike begeertes as ’n strik gebruik. Die heidense nasies het hulle gode aanbid deur walglike onsedelike dade te doen. Hierdie onsedelike vorm van aanbidding het vroulike sowel as manlike tempelprostitusie ingesluit. Homoseksualiteit en ander vorme van seksuele onsedelikheid is nie net verdra nie, maar dit het normaal geword! (Deut. 23:17, 18; 1 Kon. 14:24). Die heidene het geglo dat hierdie rituele hulle gode aangespoor het om die land vrugbaar te maak. Baie Israeliete het gehou van die heidene se seksueel onsedelike rituele en het toegelaat dat hulle mislei word om valse gode te aanbid. w19.06 2 ¶3; 4 ¶7-8
Woensdag 9 Junie
God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet van julle werk en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie. – Heb. 6:10.
Baie voltydse dienaars, insluitende Betheliete, het nuwe toewysings ontvang. Dit kan vir getroue broers en susters moeilik wees om die toewysing waarvoor hulle so lief is, te verlaat. As jy een van hulle is, wat kan jou help om hierdie verandering te hanteer? Bly na aan Jehovah deur elke dag die Bybel te lees en daaroor na te dink. Hou ook aan om in jou nuwe gemeente ’n volle aandeel te hê in die verkondiging van die goeie nuus. Jehovah onthou dié wat hom getrou bly dien, selfs al kan hulle nie meer doen wat hulle voorheen gedoen het nie. Hou jou lewe eenvoudig. Moenie toelaat dat die bekommernisse van Satan se wêreld jou geestelike bedrywighede verstik nie (Matt. 13:22). Die wêreld of selfs vriende en familielede met goeie bedoelings kan druk op ons plaas om finansiële sekuriteit in Satan se wêreld te soek, maar ons moet hierdie druk weerstaan (1 Joh. 2:15-17). Vertrou op Jehovah, wat belowe dat hy “op die regte tyd” in al ons geestelike, emosionele en materiële behoeftes sal voorsien. – Heb. 4:16; 13:5, 6. w19.08 20 ¶4; 21-22 ¶7-8
Donderdag 10 Junie
Gee jou las vir Jehovah, en hy sal jou ondersteun. – Ps. 55:22.
Gaan jy deur ’n stresvolle tyd? Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah ons emosionele probleme verstaan! Hy weet wat ons kan en nie kan doen nie en hy weet selfs wat ons dink en hoe ons voel (Ps. 103:14; 139:3, 4). As ons op Jehovah vertrou, sal ons hulp ontvang wanneer ons probleme het wat stres veroorsaak. Stres kan veroorsaak dat jy negatief begin dink, en dit kan jou mismoedig laat voel. As dit gebeur, moet jy onthou dat Jehovah jou sal help wanneer jy deur ’n stresvolle tyd gaan. Hoe sal hy jou help? Hy wil hê dat jy hom van jou probleme moet vertel. En hy sal jou gebede om hulp beantwoord (Ps. 5:3; 1 Pet. 5:7). Bid dus gereeld tot Jehovah en vertel hom van jou probleme. Hy sal nie direk met jou praat nie, maar hy sal met jou deur middel van sy Woord, die Bybel, en deur sy organisasie praat. Die verslae wat jy in die Bybel lees, kan jou vertroos en hoop gee. En jou broers en susters kan jou aanmoedig. – Rom. 15:4; Heb. 10:24, 25. w19.06 16 ¶7-8
Vrydag 11 Junie
Julle sal deur al die nasies gehaat word as gevolg van my naam. – Matt. 24:9.
Wanneer jy vervolg word, bid tot Jehovah, ‘stort jou hart uit soos water’ en praat met jou liefdevolle Vader oor al jou vrese en bekommernisse (Klaagl. 2:19). Hoe meer jy op hierdie manier bid, hoe nader sal jy aan Jehovah voel (Rom. 8:38, 39). Wees vas oortuig dat die seëninge van God se Koninkryk waar sal word (Num. 23:19). As jou geloof in sulke beloftes swak is, sal dit vir Satan en dié onder sy beheer makliker wees om jou bang te maak (Spr. 24:10; Heb. 2:15). Doen navorsing oor God se beloftes oor sy Koninkryk en die redes waarom jy oortuig kan wees dat dit waar sal word. Hoe sal dit jou help? Kyk na die voorbeeld van Stanley Jones wat sewe jaar lank in die tronk was vir sy geloof. Wat het hom gehelp om getrou te volhard? Hy het gesê dat sy geloof sterk was omdat hy kennis van God se Koninkryk gehad het en nooit vir ’n oomblik daaraan getwyfel het nie, en as gevolg daarvan was hy standvastig. As jy sterk geloof in God se beloftes het, sal jy nie toelaat dat vrees keer dat jy hom dien nie. – Spr. 3:25, 26. w19.07 2 ¶1; 3 ¶6-7
Saterdag 12 Junie
As julle in ’n stad of dorpie ingaan, moet julle die mense daar soek wat julle boodskap waardig is, en bly daar totdat julle vertrek. – Matt. 10:11.
Hoekom is dit so belangrik om dissipels te maak? Want slegs dissipels van Christus kan God se vriende wees. En dié wat Christus navolg, verbeter hulle lewe nou en hulle het die hoop om in die toekoms vir ewig te lewe (Joh. 14:6; 17:3). Jesus het ons beslis ’n belangrike verantwoordelikheid gegee, maar ons doen nie hierdie werk op ons eie nie. Die apostel Paulus het oor homself en sekere van sy mede-aanbidders geskryf: “Ons is God se medewerkers” (1 Kor. 3:9). Dit is beslis ’n groot voorreg wat Jehovah en Christus aan onvolmaakte mense gegee het! Die dissipelmaakwerk kan ons ook baie gelukkig maak. Die eerste stap wat ons moet doen om dissipels te maak, is om te “soek” na dié wat die regte hartstoestand het. Ons bewys dat ons werklik Jehovah se Getuies is deur vir almal te getuig wat ons ontmoet. En ons bewys dat ons ware Christene is deur gehoorsaam te wees aan Christus se bevel om te preek. w19.07 15 ¶3-5
Sondag 13 Junie
Wysheid is ’n beskerming net soos geld ’n beskerming is, maar die voordeel van kennis is: Wysheid bewaar die lewe van dié wat dit besit. – Pred. 7:12.
Die eerste ding waarin baie mense belangstel, is die praktiese wysheid in die Bybel. ’n Suster van New York wat vir mense getuig wat Mandaryns praat, sê: “Ek probeer belangstelling in mense toon en na hulle luister. As ek uitvind dat hulle nuwe immigrante is, vra ek dalk: ‘Hoe vind jy dit hier? Het jy al werk gekry? Behandel die plaaslike mense jou goed?’” Soms skep dit ’n geleentheid om oor ’n Bybellering te begin praat. Wanneer dit gepas is, voeg die suster dalk by: “Hoe dink jy kan ons goed met mense oor die weg kom? Kan ek vir jou ’n spreekwoord in die Bybel wys? Dit sê: ‘As ’n stryery begin, is dit asof ’n dam se sluise oopgemaak word. Gaan dus weg voordat die stryery begin.’ Dink jy dat hierdie raad ons kan help om met ander oor die weg te kom?” (Spr. 17:14). Sulke gesprekke kan ons help om mense te identifiseer wat graag meer wil leer. w19.07 23 ¶13
Maandag 14 Junie
Wat sal gebeur met die een wat val as hy niemand het om hom op te help nie? – Pred. 4:10.
Wat broers wat na ’n nuwe toewysing moes trek die nodigste het, is dat ons hulle omstandighede moet probeer verstaan eerder as om hulle jammer te kry. Hulle sukkel dalk met hulle gesondheid of hulle familielede het gesondheidsprobleme. Hulle treur dalk oor die dood van ’n geliefde. En al sê hulle niks nie, is hulle dalk hartseer omdat hulle verlang na hulle geestelike familie in hulle vorige toewysing. Dit kan tyd neem om deur sulke diep en dikwels gemengde gevoelens te werk. Intussen kan julle ondersteuning en voorbeeld hulle help om aan te pas. “In my vorige toewysing het ek elke dag Bybelstudies gehou,” sê ’n suster wat jare lank in ’n ander land gedien het. “In my nuwe toewysing was dit moeilik om selfs net die geleentheid te kry om die Bybel oop te maak of om ’n video in die bediening te wys. Maar die plaaslike verkondigers het my gevra om saam met hulle na hulle herbesoeke en studies te gaan. Dit het my gehelp om meer positief te wees. Ek het geleer om gesprekke in die nuwe gebied te begin. Al hierdie dinge het my gehelp om weer gelukkig te wees.” w19.08 22 ¶10; 23-24 ¶13-14
Dinsdag 15 Junie
Ek vra Euodia en ek vra Sintige om dieselfde denke te hê terwyl hulle die Here dien. – Fil. 4:2.
Net soos in die geval van Euodia en Sintige is daar iets wat dit vir ons ook baie moeilik kan maak om ’n sterk band van liefde met ander te vorm – die neiging om op onvolmaakthede te fokus. Ons almal maak elke dag foute. As ons heeltyd fokus op ander se onvolmaakthede, sal ons liefde vir hulle verkoel. As ’n broer ons byvoorbeeld nie help om die Koninkryksaal skoon te maak nie, raak ons dalk geïrriteerd. As ons dan ’n lys begin maak van al die ander foute wat ons weet ons broer gemaak het, sal hy ons al hoe meer irriteer en sal ons liefde vir hom minder word. As jy in ’n soortgelyke situasie is, sal dit goed wees om oor hierdie feit na te dink: Jehovah sien ons onvolmaakthede en dié van ons broer. Maar ten spyte van hierdie onvolmaakthede is hy nog steeds lief vir ons en vir ons broer. Daarom moet ons Jehovah se liefde navolg en ’n positiewe beskouing van ons broers hê. Wanneer ons hard probeer om vir ons broers lief te wees, sal ons ons band van eenheid met hulle versterk. – Fil. 2:1, 2. w19.08 9-10 ¶7-8
Woensdag 16 Junie
Jehovah . . . skenk . . . aandag aan die nederiges. – Ps. 138:6.
Jehovah is lief vir nederige mense. Net mense wat regtig nederig is, kan ’n liefdevolle en persoonlike verhouding met hom hê. Maar “hy ken die hoogmoediges net van ver af”. Omdat ons almal Jehovah se hart wil bly maak en sy liefde vir ons wil ondervind, het ons goeie redes om te leer om nederig te wees. ’n Nederige persoon is nie trots of arrogant nie. Die Bybel wys dat ’n nederige persoon die regte beskouing van sy verhouding met Jehovah God het en van sy verhouding met ander mense. ’n Nederige persoon erken dat almal op die een of ander manier beter as hy is (Fil. 2:3, 4). Dit lyk dalk of party mense nederig is, maar hulle is nie regtig nederig nie. Hulle is dalk skaam. Of hulle is dalk respekvol of vriendelik as gevolg van hulle kultuur of die manier hoe hulle grootgemaak is. Maar diep in hulle hart is hulle dalk baie trots. Een of ander tyd sal hulle hulle ware kleure wys. – Luk. 6:45. w19.09 2 ¶1, 3-4
Donderdag 17 Junie
Hy [neem wraak] op . . . dié wat nie die goeie nuus oor ons Here Jesus gehoorsaam nie. – 2 Tess. 1:8.
“Die goeie nuus oor ons Here Jesus” sluit al die waarhede in wat Jesus aan ander geleer het. Ons is gehoorsaam aan die goeie nuus wanneer ons dit in ons lewe toepas. Hierdie gehoorsaamheid sluit in dat ons Koninkryksbelange eerste in ons lewe stel, volgens God se regverdige standaarde lewe en God se Koninkryk verkondig (Matt. 6:33; 24:14). Dit sluit ook in dat ons Christus se gesalfde broers ondersteun terwyl hulle omsien na die belangrike werk wat aan hulle gegee is (Matt. 25:31-40). Hulle sal binnekort wys dat hulle waardeer wat die “ander skape” vir hulle gedoen het (Joh. 10:16). Hoe sal hulle dit doen? Voordat die oorlog van Armageddon begin, sal die 144 000 reeds in die hemel wees as onsterflike geespersone. Hulle sal dan deel wees van die hemelse leërmag wat “’n groot menigte” skaapgeaarde mense sal beskerm en Gog sal vernietig (Op. 2:26, 27; 7:9, 10). Die groot menigte sal baie bly wees dat hulle Jehovah se gesalfde knegte ondersteun het terwyl hulle nog op die aarde was! w19.09 12-13 ¶16-18
Vrydag 18 Junie
Julle sal nuwe krag kry. – Matt. 11:29.
Hoekom is die werk wat Jesus ons gegee het, verfrissend? Omdat ons die beste opsieners het. Jehovah, die heel beste Opsiener, is nie ’n wrede of ondankbare baas nie. Hy waardeer die werk wat ons doen (Heb. 6:10). En hy gee ons die krag wat ons nodig het om die werk wat hy ons gegee het, te kan doen (2 Kor. 4:7; Gal. 6:5). Jesus, ons Koning, het vir ons gewys hoe om ander te behandel (Joh. 13:15). En die ouermanne wat oor ons toesig hou, probeer om Jesus, “die groot herder”, se voorbeeld na te volg (Heb. 13:20; 1 Pet. 5:2). Hulle doen hulle bes om liefdevol, aanmoedigend en moedig te wees terwyl hulle ons voed en beskerm. Ons werk ook saam met die beste vriende. Die liefdevolle band en betekenisvolle werk wat ons het, kan nêrens anders gevind word nie. Dink net daaraan: Ons het die voorreg om saam met mense te werk wat die hoogste standaarde het, maar hulle dink nie dat hulle beter as ander is nie. Hulle beskou ander as hoër as hulleself. Hulle beskou ons nie net as medewerkers nie, maar ook as vriende. En daardie vriendskap is so sterk dat hulle bereid is om hulle lewe vir ons te gee! w19.09 20 ¶1; 23 ¶12-14
Saterdag 19 Junie
Julle is nie in die duisternis sodat daardie dag onverwags oor julle sal kom soos dit oor ’n dief sal kom nie. – 1 Tess. 5:4.
Die apostel Paulus praat hier van “Jehovah se dag” (1 Tess. 5:1-6). In hierdie konteks verwys dit na die tydperk wat begin met die aanval op “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, en eindig met Armageddon (Op. 16:14, 16; 17:5). Paulus wys ook vir ons wat ons moet doen om gereed te wees vir “Jehovah se dag”. Ons moenie “aanhou slaap soos die res nie”. Ons moet “wakker” bly en oplettend wees sodat ons neutraal bly deur nooit betrokke te raak by die wêreld se politieke sake nie. As ons wel betrokke raak, kan ons “deel van die wêreld” word (Joh. 15:19). Ons weet dat net God se Koninkryk wêreldvrede kan bring. Ons wil ander ook help om wakker te word deur hulle te leer wat die Bybel voorspel het in die wêreld sal gebeur. Dit sal te laat wees vir mense om Jehovah te begin dien wanneer die groot verdrukking begin. Dit is waarom ons predikingswerk so dringend is! w19.10 8 ¶3; 9 ¶5-6
Sondag 20 Junie
Neem ’n boekrol en skryf al die woorde daarin wat ek teen Israel en Juda . . . vir jou gesê het. – Jer. 36:2.
Nadat hulle die boekrol voltooi het, moes Jeremia op sy vriend Barug staatmaak om die boodskap aan die mense oor te dra (Jer. 36:5, 6). Barug het moedig sy gevaarlike toewysing uitgevoer. Kan jy jou net voorstel hoe trots Jeremia moes gewees het toe Barug na die tempelvoorhof gegaan het en gedoen het wat hy gevra is om te doen? (Jer. 36:8-10). Die vorste, of leiers, het gehoor wat Barug gedoen het en hulle het hom beveel om die boekrol hardop vir hulle te lees! (Jer. 36:14, 15). Hulle het besluit om koning Jojakim te vertel wat Jeremia gesê het. Koning Jojakim het so kwaad geword toe hy hoor wat Jeremia op die boekrol laat neerskryf het dat hy dit verbrand het en beveel het dat Jeremia en Barug gearresteer word. Maar Jeremia het nog ’n boekrol geneem, dit vir Barug gegee, en terwyl Jeremia vir Barug gesê het wat Jehovah se boodskap is, het Barug “al die woorde van die boekrol wat koning Jojakim van Juda in die vuur verbrand het, daarin geskryf”. – Jer. 36:26-28, 32. w19.11 3-4 ¶4-6
Maandag 21 Junie
Dit is God wat julle versterk . . . Hy gee julle die begeerte en die krag om op te tree. – Fil. 2:13.
Jehovah kan enigiets word wat nodig is om sy voorneme te vervul. Jehovah het byvoorbeeld ’n Onderrigter, ’n Vertrooster en ’n Evangelieprediker geword. Dit is maar net ’n paar van die baie dinge wat hy geword het (Jes. 48:17; 2 Kor. 7:6; Gal. 3:8). Nogtans gebruik hy dikwels mense om sy voorneme uit te voer (Matt. 24:14; 28:19, 20; 2 Kor. 1:3, 4). Jehovah kan ook enigeen van ons die wysheid en krag gee wat ons nodig het om te word wat ook al nodig is om sy voorneme te vervul. Dit is alles deel van die betekenis van Jehovah se naam, volgens ’n hele paar geleerdes. Ons almal wil deur Jehovah gebruik word, maar party twyfel dalk of Jehovah hulle gebruik. Hoekom? Omdat hulle beperk voel deur hulle ouderdom, omstandighede of vermoëns. Maar ander voel dalk dat hulle alreeds genoeg doen en dat dit nie nodig is om meer te doen nie. w19.10 20 ¶1-2
Dinsdag 22 Junie
Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge. – 1 Tim. 6:10.
Materialisme kan ons aandag aflei en veroorsaak dat ons ons skild van geloof afskeep. Die apostel Paulus het gesê: “Niemand wat as ’n soldaat dien, raak betrokke by die sakebedrywighede van die lewe nie omdat hy die een wat hom in diens geneem het, tevrede wil stel” (2 Tim. 2:4). Om die waarheid te sê, Romeinse soldate mag nie enige ander werk gedoen het nie. Net soos goeie soldate, is die belangrikste ding vir ons om ons Bevelvoerders, Jehovah en Christus, gelukkig te maak. Dit is vir ons kosbaarder as enigiets wat Satan se wêreld vir ons kan aanbied. Ons maak seker dat ons die nodige tyd en energie het om Jehovah te dien en om ons skild van geloof en die res van ons geestelike wapenrusting in ’n goeie toestand te hou. Ons moet altyd waaksaam bly! Hoekom? Die apostel Paulus het gewaarsku dat “dié wat vasbeslote is om ryk te wees, . . . van die geloof afgedwaal” het. – 1 Tim. 6:9, 10. w19.11 17 ¶12, 14; 18 ¶15
Woensdag 23 Junie
Skielike vernietiging [sal] onverwags oor hulle kom. – 1 Tess. 5:3.
Daar sal ’n aankondiging van “vrede en veiligheid” wees voordat “Jehovah se dag” begin (1 Tess. 5:1-6). In 1 Tessalonisense 5:2 verwys “Jehovah se dag” na die “groot verdrukking” (Op. 7:14). Hoe sal ons weet wanneer hierdie verdrukking gaan begin? Die Bybel sê dat daar ’n buitengewone aankondiging sal wees. Hierdie aankondiging sal die teken wees dat die groot verdrukking gaan begin. Dit sal die aankondiging van “vrede en veiligheid” wees wat in die Bybel voorspel is. Sal godsdiensleiers hierby betrokke wees? Moontlik. Wat ook al die geval is, hierdie aankondiging is ’n leuen wat eintlik van die demone af kom. Maar hierdie leuen is veral gevaarlik omdat dit mense sal laat dink dat hulle veilig is net voordat die grootste verdrukking in die mens se geskiedenis begin. Dan sal “skielike vernietiging onverwags oor hulle kom, net soos geboortepyne oor ’n swanger vrou”. Maar wat sal met Jehovah se lojale knegte gebeur? Hulle sal dalk verbaas wees oor die skielike begin van Jehovah se dag, maar hulle sal nie onkant gevang word nie. w19.09 9 ¶7-8
Donderdag 24 Junie
Daar is vir alles ’n vasgestelde tyd . . . ’n tyd om te soek en ’n tyd om as verlore te beskou. – Pred. 3:1, 6.
Wanneer jy besluite neem, moet jy spesifiek wees. Hoe meer spesifiek jy is, hoe makliker sal dit wees om te doen wat jy beplan het. Byvoorbeeld, jy het dalk besluit om die Bybel meer gereeld te lees. Maar as jy nie ’n spesifieke skedule in gedagte het nie, sal jy dalk nie jou doelwit bereik nie. Of die ouermanne besluit dalk om meer herdersbesoeke in die gemeente te doen, maar ná ’n rukkie het hulle nog nie gedoen wat hulle besluit het nie. Om hulle te help, kan hulle die volgende vrae vra: “Het ons ’n lys van broers en susters opgestel wat veral by ’n herdersbesoek sal baat vind? Het ons ’n spesifieke tyd opsygesit om hulle te besoek?” Wees ook realisties. Nie een van ons het die tyd, middele of energie om alles te doen wat ons graag wil doen nie. Wees dus realisties en redelik. Wanneer nodig, moet jy dalk ’n besluit verander wat jy besef te moeilik is om uit te voer. w19.11 29 ¶11-12
Vrydag 25 Junie
Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. – Op. 7:14.
Jesaja 65:21-23 beskryf hoe die lewe in die toekoms op die aarde sal wees. Ons sal nie lui wees en niks doen nie. Die Bybel wys eerder dat God se volk gedurende daardie tyd betekenisvolle werk sal doen wat hulle gelukkig sal maak. Aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy kan ons seker wees dat “die skepping ook vrygemaak sal word van slawerny aan agteruitgang en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê” (Rom. 8:21). Net soos Jehovah seker gemaak het dat die Israeliete genoeg tyd vir werk en rus gehad het, sal hy dieselfde vir sy volk doen gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy. Daar sal sekerlik tyd wees vir geestelike dinge. Om God te aanbid is baie belangrik vir ons geluk, en dit sal ook so in die nuwe wêreld wees. Alle getroue mense sal gelukkig wees gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy omdat ons almal God sal dien en werk sal hê wat ons geniet. w19.12 13 ¶15, 17-18
Saterdag 26 Junie
Hierdie woorde . . . moet in jou hart wees, en jy moet dit vir jou kinders herhaal. – Deut. 6:6, 7.
‘Om in te skerp’ beteken ‘om te leer deur dikwels te herhaal’. Om dit te doen, moet ouers gereeld tyd met hulle kinders spandeer. Partykeer kan ouers gefrustreerd raak omdat hulle heeltyd instruksies vir hulle kinders moet herhaal. Maar ouers kan dit as ’n geleentheid sien om hulle kinders te help om God se Woord te verstaan en toe te pas. Daarom moet jy jou kinders goed ken. Psalm 127 vergelyk kinders met pyle (Ps. 127:4). Net soos pyle van verskillende materiaal gemaak word en in grootte verskil, is daar nie een kind wat presies dieselfde as die ander een is nie. So ouers moet besluit hoe hulle elke kind gaan leer. ’n Paartjie in Israel wat twee kinders suksesvol grootgemaak het om Jehovah te dien, sê wat hulle gehelp het: “Ons het ’n Bybelstudie met elke kind apart gehou.” Elke gesinshoof sal natuurlik besluit of dit nodig of moontlik is om op hierdie manier te studeer. w19.12 26-27 ¶18-20
Sondag 27 Junie
Alles wat julle . . . wil hê dat mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. – Matt. 7:12.
Wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan, waardeer ons beslis dié wat aanbied om ons op praktiese maniere te help! Ryan, wie se pa onverwags in ’n tragiese ongeluk gesterf het, sê: “Wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan, lyk dinge wat ons gewoonlik elke dag doen, onmoontlik. Praktiese hulp – selfs al is dit iets kleins – kan baie help.” Hou altyd in gedagte dat jy ander kan vertroos selfs wanneer jy klein dingetjies doen om te help. Die eerste-eeuse dissipel Markus was ’n besige Christen. Maar Markus het tyd gemaak om die apostel Paulus te vertroos, en Paulus het geweet dat hy Markus kon vra om hom te help. Toe iemand in Angela se familie vermoor is, was sy dankbaar vir dié wat bereid was om haar te vertroos. Sy sê: “Wanneer vriende regtig wil help, is hulle maklik om mee te praat. Hulle is nie huiwerig of bang om te help nie.” Ons kan ons afvra: ‘Ken mense my as iemand wat bereid is om my broers en susters op praktiese maniere te vertroos?’ w20.01 11-12 ¶14-16
Maandag 28 Junie
Enigeen wat op ’n onwaardige manier die brood eet of uit die beker van die Here drink, [sal] skuldig wees. – 1 Kor. 11:27.
Hoe kan ’n gesalfde die embleme op ’n “onwaardige manier” by die Gedenkmaal gebruik? Hy doen dit as hy van die embleme eet en drink, maar nie volgens Jehovah se regverdige standaarde lewe nie (Heb. 6:4-6; 10:26-29). Gesalfdes besef dat hulle getrou moet bly as hulle “die prys van God se roeping na die hemel [wil] ontvang, wat hy deur middel van Christus Jesus gee” (Fil. 3:13-16). Jehovah se heilige gees help sy knegte om nederig te wees, nie trots nie (Ef. 4:1-3; Kol. 3:10, 12). So gesalfdes dink nie dat hulle beter as ander is nie. Hulle weet dat Jehovah nie noodwendig die gesalfdes meer heilige gees gee as wat hy vir sy ander knegte gee nie. Hulle dink nie dat hulle Bybelwaarhede beter as ander verstaan nie. En hulle sal nooit vir iemand anders sê dat hy ook gesalf is en van die embleme by die Gedenkmaal moet gebruik nie. Hulle erken eerder nederig dat net Jehovah mense nooi om hemel toe te gaan. w20.01 27-28 ¶4-5
Dinsdag 29 Junie
Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom. – Jak. 4:8.
Jehovah wil hê dat ons nader aan hom moet kom en met hom moet praat. Hy moedig ons aan om ‘vol te hou met gebed’ en hy is altyd daar om na ons te luister (Rom. 12:12). Hy is nooit te besig of te moeg om na ons te luister nie. En ons luister na hom deur sy Woord, die Bybel, te lees saam met publikasies wat ons help om dit te verstaan. Ons luister ook na hom deur ons volle aandag te gee by Christelike vergaderinge. Gereelde kommunikasie met Jehovah help ons om na aan hom te bly. Jehovah wil hê dat ons ons hart voor hom moet uitstort (Ps. 62:8). Dit sal goed wees as ons ons afvra: ‘Is my gebede oppervlakkig, elkeen ’n gedrukte kopie van ’n vorige een of is dit soos ’n liefdevolle briefie wat ek met die hand geskryf het?’ Jy is ongetwyfeld baie lief vir Jehovah en jy wil jou verhouding met hom sterk hou. Om dit te doen, moet jy gereeld met hom praat. Vertel hom hoe jy voel. Vertel hom wat jou gelukkig maak en wat jou hartseer maak. Wees verseker dat jy na hom toe kan gaan vir hulp. w20.02 9 ¶4-5
Woensdag 30 Junie
Wees herders vir die kudde van God wat onder julle sorg is en dien as opsieners. – 1 Pet. 5:2.
Jehovah het ouermanne die belangrike verantwoordelikheid gegee om na sy volk om te sien. Ouermanne kan baie leer uit die manier waarop Nehemia Jehovah se volk behandel het. As die goewerneur van Juda het Nehemia baie gesag gehad (Neh. 1:11; 2:7, 8; 5:14). Dink aan party van die uitdagings wat Nehemia gehad het. Hy het uitgevind dat die mense die tempel verontreinig het en dat hulle nie die Leviete finansieel ondersteun het soos die Wet gesê het nie. Die Jode het nie Jehovah se wet oor die Sabbat gehoorsaam nie, en party mans het met vrouens getrou wat nie Jehovah gedien het nie. Goewerneur Nehemia sou hierdie moeilike situasie moes hanteer (Neh. 13:4-30). Nehemia het nie sy gesag misbruik deur sy eie standaarde op God se volk af te dwing nie. Hy het eerder ernstig tot Jehovah gebid en sy leiding gevra en hy het die volk Jehovah se Wet geleer (Neh. 1:4-10; 13:1-3). Nehemia het ook nederig saam met sy broers gewerk en hy het hulle selfs gehelp om Jerusalem se mure te herbou. – Neh. 4:15. w19.09 15-16 ¶9-10