Maart
Saterdag 1 Maart
Die hoop lei nie tot teleurstelling nie. – Rom. 5:5.
Die nuwe wêreld is nog nie hier nie. Maar dink aan party van die dinge wat wel hier is – die sterre, die bome, die diere en ander mense. Niemand twyfel dat al hierdie dinge regtig bestaan nie, al was daar ’n tyd toe dit nie bestaan het nie. Dit is nou hier net omdat Jehovah dit gemaak het (Gen. 1:1, 26, 27). Ons God het ook belowe dat hy ’n nuwe wêreld sal maak. Hy sal daardie belofte laat waar word. In die nuwe wêreld sal mense die lewe vir ewig met volmaakte gesondheid geniet. Ons kan seker wees dat die nuwe wêreld sal kom op God se vasgestelde tyd (Jes. 65:17; Op. 21:3, 4). Intussen moet jy elke geleentheid gebruik om jou geloof te versterk. Bou waardering op vir die losprys. Dink na oor Jehovah se krag. Bly besig met geestelike aktiwiteite. Deur dit te doen, kan jy onder dié wees “wat deur geloof en geduld die beloftes sal ontvang”. – Heb. 6:11, 12. w23.04 31 ¶18-19.
Sondag 2 Maart
Het ek nie vir jou gesê dat jy die heerlikheid van God sal sien as jy glo nie? – Joh. 11:40.
Jesus kyk op en bid. Hy wil Jehovah al die eer gee vir wat volgende gebeur. Dan roep Jesus uit: “Lasarus, kom uit!” (Joh. 11:43). En Lasarus kom uit die graf uit! Jesus het nou net iets gedoen wat party gedink het onmoontlik sou wees. Hierdie verslag versterk ons geloof in die opstandingshoop. Hoe so? Onthou Jesus se belofte aan Marta: “Jou broer sal opstaan” (Joh. 11:23). Net soos sy Vader het Jesus die begeerte en die krag om daardie belofte na te kom. Sy trane het gewys dat hy ’n sterk begeerte het om mense uit die dood op te wek en om die hartseer wat die dood veroorsaak, te verwyder. En die oomblik toe Lasarus uit die graf uit kom, het Jesus bewys dat hy die krag het om die dooies op te wek. Dink ook aan Jesus se herinnering aan Marta wat in vandag se teks genoem word. Ons het goeie redes om te glo dat God se belofte van ’n opstanding sal waar word. w23.04 11-12 ¶15-16
Maandag 3 Maart
Jehovah is naby almal wat hom aanroep, almal wat hom in waarheid aanroep. – Ps. 145:18, vtn.
Ons moet dalk die dinge waarvoor ons bid, verander wanneer ons Jehovah se wil beter verstaan. Ons moet onthou dat Jehovah ’n doel het, en hy sal dit vervul op die tyd wat hy besluit het. Daardie doel sluit in dat Jehovah alle probleme wat vandag so baie lyding veroorsaak, heeltemal en permanent sal wegneem – probleme soos natuurrampe, siekte en die dood. Jehovah sal sy doel vervul deur middel van sy Koninkryk (Dan. 2:44; Op. 21:3, 4). Maar tot dan laat Jehovah Satan toe om oor die wêreld te regeer (Joh. 12:31; Op. 12:9). As Jehovah nou die mensdom se probleme sou oplos, sal dit dalk lyk asof Satan die wêreld op ’n goeie manier regeer. So al moet ons wag vir Jehovah om sekere beloftes te vervul, beteken dit nie dat hy ons nie sal help nie. Jehovah sal ons help. w23.05 8 ¶4; 9-10 ¶7-8
Dinsdag 4 Maart
Weet hoe julle elkeen behoort te antwoord. – Kol. 4:6.
Hoe kan ons ander help om by die Gedenkmaal baat te vind? Die eerste ding wat ons kan doen, is natuurlik om hulle te nooi. Behalwe vir dié wat ons in ons gewone bediening ontmoet, kan ons ’n lys maak van mense wat ons graag wil nooi. Hulle kan ons familielede, werksmaats, skoolmaats en ander insluit. Al het ons nie genoeg gedrukte kopieë van die uitnodiging nie, kan ons ’n skakel na die elektroniese weergawe stuur. Ons sal dalk verbaas wees deur hoeveel mense die uitnodiging aanvaar! (Pred. 11:6). Hou in gedagte dat dié wat ons nooi dalk vrae sal hê – veral as hulle nog nooit een van ons vergaderinge bygewoon het nie. Dit sal goed wees as ons dink aan die vrae wat hulle dalk sal vra en voorberei om dit te beantwoord. Selfs nadat nuwe belangstellendes die Gedenkmaal bygewoon het, het hulle dalk ander vrae. Ons wil doen wat ons ook al kan – voor, gedurende en ná die Gedenkmaal – om dié te help wat “die regte gesindheid” het om by hierdie herdenking baat te vind. – Hand. 13:48. w24.01 12 ¶13, 15; 13 ¶16
Woensdag 5 Maart
Julle is ’n mis wat vir ’n klein rukkie verskyn en dan verdwyn. – Jak. 4:14.
In die Bybel is daar agt verslae van mense wat opgewek was tot lewe op die aarde. Maak ’n goeie studie van hierdie verslae. Terwyl jy dit doen, soek na lesse wat jy kan leer. Dink aan hoe elke voorbeeld wys dat God die begeerte en krag het om die dooies op te wek. En dink veral aan die belangrikste opstanding – dié van Jesus. Onthou dat sy opstanding deur honderde ooggetuies bevestig was en ons ’n goeie grondslag vir ons geloof gee (1 Kor. 15:3-6, 20-22). Ons is baie dankbaar teenoor Jehovah vir sy belofte van die opstanding! Ons kan seker wees dat hierdie belofte sal waar word, want Jehovah het die begeerte en die krag om dit na te kom. Laat ons vasbeslote wees om ons geloof in hierdie kosbare hoop te versterk. Deur dit te doen, sal ons al hoe nader kom aan die God wat in werklikheid vir elkeen van ons belowe: ‘Jou geliefdes sal opstaan!’ – Joh. 11:23. w23.04 8 ¶2; 12 ¶17; 13 ¶20
Donderdag 6 Maart
[Wandel] beskeie . . . met jou God! – Miga 6:8.
Beskeidenheid en nederigheid is baie soortgelyke eienskappe. Ons wys dat ons beskeie is deur die regte beskouing te hê van onsself en van ons beperkings. As ons nederig is, respekteer ons ander en beskou ons hulle as belangriker as onsself (Fil. 2:3). ’n Beskeie persoon is gewoonlik ook ’n nederige persoon. Gideon was ’n beskeie en nederige man. Toe Jehovah se engel vir Gideon gesê het dat hy gekies is om Israel van die kragtige Midianiete te red, het daardie nederige man gesê: “My familiegroep is die onbelangrikste in Manasse, en ek is die onbelangrikste in my vader se huis” (Rigt. 6:15). Hy het nie bekwaam gevoel vir daardie toewysing nie, maar Jehovah het geweet dat hy dit kan doen. Met Jehovah se hulp het Gideon sy toewysing suksesvol voltooi. Ouermanne doen hulle bes om in alle dinge beskeie en nederig te wees (Hand. 20:18, 19). Hulle spog nie oor wat hulle kan doen of wat hulle gedoen het nie, en hulle dink nie dat hulle waardeloos is omdat hulle swakhede het of foute gemaak het nie. w23.06 3 ¶4-5
Vrydag 7 Maart
Hy sal jou kop vergruis. – Gen. 3:15.
Die feit dat Satan se kop vergruis sal word, sal meer as 1 000 jaar van nou af gebeur (Op. 20:7-10). Die Bybel voorspel hierdie buitengewone gebeure wat voor dit sal plaasvind. Eerstens, die nasies sal sê dat daar “vrede en veiligheid” is (1 Tess. 5:2, 3). Die groot verdrukking sal “onverwags” begin wanneer die nasies alle valse godsdiens aanval (Op. 17:16). Daarna sal Jesus mense oordeel en die skape van die bokke skei (Matt. 25:31-33, 46). Maar Satan sal nie sit en niks doen nie. Omdat hy God se volk so baie haat, sal hy ’n groep nasies wat die Bybel Gog van die land Magog noem, beweeg om Jehovah se rein aanbidders aan te val (Eseg. 38:2, 10, 11). Op die een of ander tyd sal die gesalfde oorblyfsel na die hemel geneem word om by Christus en sy hemelse leërmag aan te sluit om in die oorlog van Armageddon te veg, die finale deel van die groot verdrukking (Matt. 24:31; Op. 16:14, 16). Dan sal Christus se Duisendjarige Heerskappy oor die aarde begin. – Op. 20:6. w23.10 20-21 ¶9-10
Saterdag 8 Maart
U kneg [vrees] Jehovah al van jongs af. – 1 Kon. 18:12.
Vandag bly baie van Jehovah se knegte in lande waar ons werk verbied is. Hulle respekteer die sekulêre owerhede, maar soos Obadja gee hierdie kosbare broers en susters aan Jehovah wat aan hom behoort – uitsluitlike toegewydheid (Matt. 22:21). Hulle wys hulle vrees vir God deur aan hom gehoorsaam te wees eerder as aan mense (Hand. 5:29). Hulle doen dit deur aan te hou om die goeie nuus te verkondig en deur in die geheim bymekaar te kom (Matt. 10:16, 28). Hulle probeer seker maak dat hulle broers en susters die geestelike kos het wat hulle nodig het. Kyk na die voorbeeld van Henri, wat in ’n Afrikaland bly waar ons werk vir ’n ruk verbied was. Gedurende die verbod het Henri aangebied om Bybellektuur by sy broers en susters af te lewer. Hy het geskryf: “Ek is van nature ’n skaam persoon. . . . Jehovah [het] my die moed gegee het wat ek nodig gehad het.” Dink jy dat jy so moedig soos Henri kan wees? Jy kan as jy ’n gesonde vrees vir God ontwikkel. w23.06 16 ¶9, 11
Sondag 9 Maart
Sonde het . . . deur een mens in die wêreld ingekom. – Rom. 5:12.
Toe Adam en Eva gerebelleer het, het dit dalk gelyk asof Satan God se doel om die aarde met volmaakte, gehoorsame mense te vul, in die wiele gery het. Satan het dalk gedink dat Jehovah baie min opsies oorgehad het. Een opsie was om Adam en Eva dood te maak en om nog ’n volmaakte paartjie te skep om Sy doel vir die mens te vervul. Maar as God dit gedoen het, sou die Duiwel Hom daarvan beskuldig het dat Hy ’n leuenaar is. Hoekom? Omdat Jehovah vir Adam en Eva gesê het dat hulle nageslag die aarde sou vul volgens Genesis 1:28. Of dalk het Satan gedink dat Jehovah Adam en Eva sou toelaat om ’n onvolmaakte nageslag voort te bring wat nooit volmaaktheid sou kon bereik nie (Pred. 7:20; Rom. 3:23). In daardie geval sou die Duiwel beslis Jehovah daarvan beskuldig het dat hy ’n mislukking is. Hoekom? Omdat hierdie opsie nie God se doel sou bereik nie, dit wil sê om die Paradysaarde met volmaakte, gehoorsame nakomelinge van Adam en Eva te vul. w23.11 6 ¶15-16
Maandag 10 Maart
Moenie verder gaan as die dinge wat geskryf is nie. – 1 Kor. 4:6.
Jehovah gee ons duidelike riglyne deur sy Woord en deur sy organisasie. Ons het geen rede om enige iets te voeg by dit wat hy voorsien nie (Spr. 3:5-7). Daarom gaan ons nie verder as wat in die Bybel geskryf is nie, en ons maak nie reëls vir ons broers en susters oor persoonlike sake nie. Satan gebruik “leë bedrog” en “die basiese dinge van die wêreld” om mense te mislei en te verdeel (Kol. 2:8). In die eerste eeu het dit filosofie ingesluit wat gebaseer was op menslike idees, asook leringe van die Jode wat nie gebaseer was op die Skrif nie en die lering dat Christene gehoorsaam moet wees aan die Wet van Moses. Hierdie idees het mense mislei omdat dit mense se aandag afgetrek het van die ware Bron van wysheid, Jehovah. Vandag gebruik Satan die media en sosiale netwerke om samesweringsteorieë te versprei, asook valse nuusverslae wat deur politieke leiers bevorder word. w23.07 16 ¶11-12
Dinsdag 11 Maart
Hoe groot is u werke, o Jehovah! Hoe diep is u gedagtes tog! – Ps. 92:5.
Satan sou hom nooit kon voorstel wat Jehovah sou doen nie. Jehovah het die beste oplossing gehad om sy doel te vervul, al het Satan en Adam en Eva gerebelleer. Jehovah het gewys dat hy nie ’n leuenaar is nie en het by sy woord gebly deur Adam en Eva toe te laat om kinders te hê. En Jehovah het gewys dat hy nie ’n mislukking is nie, maar dat hy suksesvol is. Hy het seker gemaak dat sy doel vervul sou word deur ’n “nageslag” te voorsien wat Adam en Eva se gehoorsame nakomelinge sou red (Gen. 3:15; 22:18). Jehovah se losprysreëling het Satan seker verstom! Hoekom? Omdat die losprys gebaseer is op onselfsugtige liefde (Matt. 20:28; Joh. 3:16). Dit is ’n eienskap wat Satan nie het nie; hy is selfsugtig. So, wat sal gebeur as gevolg van die losprysreëling? Aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy sal volmaakte, gehoorsame nakomelinge van Adam en Eva op ’n paradysaarde woon – net soos Jehovah oorspronklik wou hê. w23.11 6 ¶17
Woensdag 12 Maart
God sal . . . oordeel. – Heb. 13:4.
Ons is gehoorsaam aan Jehovah se wet oor die heiligheid van lewe en bloed. Hoekom? Omdat Jehovah sê dat bloed lewe voorstel, ’n kosbare geskenk van hom (Lev. 17:14). Toe Jehovah mense begin toelaat om vleis te eet, het hy hulle beveel om nie die bloed te eet nie (Gen. 9:4). Hy het hierdie bevel herhaal toe hy die Wet van Moses aan Israel gegee het (Lev. 17:10). En hy het gesê dat die eerste-eeuse bestuursliggaam alle Christene moet beveel om hulle te “weerhou . . . van bloed” (Hand. 15:28, 29). Ons gehoorsaam hierdie bevel getrou wanneer ons mediese besluite maak. Ons is ook streng gehoorsaam aan Jehovah se hoë sedelike standaarde. Deur kragtige figuurlike taal te gebruik, spoor die apostel Paulus ons aan om ons liggaamsdele ‘dood te maak’. Dit beteken dat ons alles moet doen wat ons kan om ontslae te raak van enige verkeerde begeertes. Ons vermy dit om na enige iets te kyk of om enige iets te doen wat kan lei tot seksuele onsedelikheid. – Kol. 3:5; Job 31:1. w23.07 15 ¶5-6
Donderdag 13 Maart
Uiteindelik het hy haar alles vertel. – Rigt. 16:17.
Was Simson so verblind deur sy liefde vir Delila dat hy nie kon sien waarmee sy besig is nie? Wat ook al die geval was, Delila het Simson oor en oor gevra om vir haar te sê hoekom hy so sterk is, en op die ou end het Simson haar vertel. Ongelukkig het Simson toegelaat dat hy in ’n situasie beland wat veroorsaak het dat hy sy krag en Jehovah se goedkeuring vir ’n ruk lank verloor het (Rigt. 16:16-20). Simson het baie pyn en lyding deurgemaak omdat hy Delila vertrou het eerder as Jehovah. Die Filistyne het Simson gevange geneem en sy oë uitgesteek. Hy was in die tronk in Gasa, en hulle het hom ’n graanmaler gemaak. Toe is hy verneder toe die Filistyne bymekaargekom het om fees te vier. Hulle het ’n groot offerande aan hulle valse god Dagon geoffer, asof hy Simson in hulle hande gegee het. Hulle het Simson uit die tronk gehaal en hom na die partytjie toe gebring om hulle te “vermaak” – om hom te bespot. – Rigt. 16:21-25. w23.09 5-6 ¶13-14
Vrydag 14 Maart
Doen dinge wat alle mense as goed sal beskou. – Rom. 12:17.
Dalk vra ’n werksmaat of ’n skoolmaat ons uit oor ons Christelike standpunt oor sekere sedelike kwessies. Ons sal ons bes doen om ons oortuigings te verdedig terwyl ons die persoon se beskouing respekteer (1 Pet. 3:15). Dit is dikwels goed om die vraag te sien as ’n manier om uit te vind waarin hy belangstel eerder as ’n aanval of ’n uitdaging. Dit is goed om op ’n kalm en vriendelike manier te reageer, maak nie saak wat die rede is hoekom iemand ’n vraag gevra het nie. Ons antwoord kan hom dalk motiveer om weer oor sy opinie te dink. As ’n werksmaat byvoorbeeld vra hoekom ons nie verjaarsdae vier nie, dink hieraan: Wonder hy dalk of ons ’n goeie tyd mag hê? Ons sal dalk ons werksmaat kan gerusstel deur vir hom te sê hoe baie ons sy belangstelling in sy kollegas waardeer. Dit sal ons moontlik die geleentheid gee om ’n vriendelike gesprek te hê oor wat ons uit die Bybel kan leer wanneer dit by verjaarsdae kom. w23.09 17 ¶10-11
Saterdag 15 Maart
Julle [moet] oppas dat die wettelose mense met hulle valse leringe julle nie saam met hulle weglei en julle julle standvastigheid verloor nie. – 2 Pet. 3:17.
Dit is vir ons ’n voorreg om die tyd wat oorbly, te gebruik om vir mense van alle nasies te getuig. Die apostel Petrus spoor ons aan om Jehovah se dag “goed in gedagte [te] hou” (2 Pet. 3:11, 12). Hoe? Dit sal goed wees as ons – elke dag as dit moontlik is – nadink oor die seëninge van die nuwe wêreld. Visualiseer hoe jy skoon lug inasem, gesonde kos eet, geliefdes terugverwelkom wanneer hulle opgewek word en mense wat eeue gelede gelewe het, leer oor die vervulling van Bybelprofesieë. Wanneer jy oor hierdie dinge nadink, sal dit jou help om in afwagting te bly en oortuig te wees dat die einde binnekort gaan kom. Omdat ons “vooruit weet” wat in die toekoms gaan gebeur, sal ons nie ‘weggelei’ word deur valse onderrigters nie. w23.09 27 ¶5-6
Sondag 16 Maart
Wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dit is regverdig. – Ef. 6:1.
Jongmense is omring deur ander jongmense wat “ongehoorsaam [is] aan hulle ouers” (2 Tim. 3:1, 2). Hoekom is baie van hulle ongehoorsaam? Party voel dat hulle ouers skynheilig is. Daar word van die kinders verwag om dinge te doen wat die ouers self nie doen nie. Ander voel dat hulle ouers se raad outyds, onprakties of te streng is. As jy ’n jong persoon is, voel jy ooit so? Baie vind dit moeilik om gehoorsaam te wees aan Jehovah se gebod wat in vandag se teks genoem word. Wat kan jou help om dit te doen? Jy kan leer om gehoorsaam te wees by die beste voorbeeld – Jesus (1 Pet. 2:21-24). Hy was ’n volmaakte mens met onvolmaakte ouers. Maar Jesus het sy ouers geëer selfs wanneer hulle foute gemaak het en hom soms verkeerd verstaan het. – Eks. 20:12. w23.10 7 ¶4-5
Maandag 17 Maart
Daar [word] ’n einde gemaak aan die vorige gebod omdat dit swak en ondoeltreffend is. – Heb. 7:18.
Die apostel Paulus het verduidelik dat die offerandes wat die Wet vereis het, nie sondes heeltemal kon wegneem nie. Daarom is daar “’n einde gemaak” aan die Wet. Toe het Paulus hulle ’n paar dieper waarhede geleer. Hy het sy mede-Christene herinner aan ’n “beter hoop” op grond van Jesus se losprys wat hulle regtig kon help om “nader aan God” te kom (Heb. 7:19). Paulus het aan sy Hebreeuse broers verduidelik dat die manier hoe hulle Jehovah nou aanbid het, baie beter is as die manier hoe hulle hom in die verlede aanbid het. Die manier hoe die Jode volgens die Wet aanbid het, was net “’n skaduwee van die toekomstige dinge, maar die werklikheid behoort aan die Christus” (Kol. 2:17). ’n Skaduwee is net ’n onduidelike vorm van iets; dit is nie die regte ding nie. Net so was die manier hoe die Jode God in die verlede aanbid het, ’n skaduwee omdat ’n beter manier van aanbidding sou kom. Ons moet die reëling verstaan wat Jehovah in plek gestel het vir ons sondes om vergewe te word sodat ons hom op ’n aanvaarbare manier kan aanbid. w23.10 25 ¶4-5
Dinsdag 18 Maart
In die tyd van die einde sal die koning van die suide in ’n stotery met hom betrokke raak, en die koning van die noorde sal hom bestorm. – Dan. 11:40.
Daniël hoofstuk 11 praat van twee konings, of politieke magte, wat teen mekaar kompeteer. Deur hierdie profesie met ander in die Bybel te vergelyk, weet ons dat Rusland en die lande wat hom ondersteun vandag “die koning van die noorde” is en dat die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag “die koning van die suide” is. God se volk wat onder die heerskappy van “die koning van die noorde” lewe, word deur hierdie koning vervolg. Party Getuies is al geslaan en in die tronk gegooi vir hulle geloof. Die dade van “die koning van die noorde” intimideer nie ons broers nie; dit versterk eerder hulle geloof. Hoekom? Omdat ons broers weet dat die vervolging van God se volk profesieë in die boek Daniël vervul (Dan. 11:41). Die feit dat ons dit weet, kan ons help om ons hoop sterk te hou en om getrou aan Jehovah te bly. w23.08 11 ¶15-16
Woensdag 19 Maart
Wie aan julle raak, raak aan my oogappel. – Sag. 2:8.
Omdat Jehovah ons liefhet, verstaan hy ons gevoelens en is hy gretig om ons te beskerm. Hy voel hartseer wanneer ons hartseer is. As gevolg daarvan kan ons met vertroue bid: “Bewaar my soos die appel van u oog” (Ps. 17:8). Die oog is ’n sensitiewe en kosbare deel van die liggaam. So wanneer Jehovah ons met die appel van sy oog vergelyk, is dit asof hy sê: ‘Enige iemand wat julle, my volk, seermaak, maak iets seer wat vir my kosbaar is.’ Jehovah wil hê dat ons oortuig moet wees dat hy ons persoonlik liefhet. Maar hy weet dat ons as gevolg van vorige ondervindinge dalk wonder of hy ons kan liefhê. Of ons ondervind dalk nou situasies wat ons vertroue in Jehovah se liefde toets. Wat sal ons vertroue versterk? As ons leer hoe Jehovah sy liefde vir Jesus, die gesalfdes en ons almal wys. w24.01 27 ¶6-7
Donderdag 20 Maart
Die hand van ons God was oor ons, en hy het ons van die vyand . . . gered. – Esra 8:31.
Esra het gesien hoe Jehovah Sy volk in moeilike tye ondersteun. Jare vroeër in 484 VHJ het Esra heel moontlik in Babilon gebly toe koning Ahasveros beveel het dat die Jode regdeur die Persiese Ryk doodgemaak moet word (Est. 3:7, 13-15). Esra se lewe was in gevaar! Toe die Jode “in elke provinsie” hiervan hoor, het hulle gevas en getreur en ongetwyfeld Jehovah se leiding in gebed gevra (Est. 4:3). Dink net hoe Esra en die ander Jode gevoel het toe die teenoorgestelde gebeur – dié wat beplan het om die Jode dood te maak, is eerder doodgemaak! (Est. 9:1, 2). Wat Esra gedurende daardie tyd ondervind het, het hom beslis voorberei vir ander moeilike tye in die toekoms en het sy vertroue versterk in Jehovah se vermoë om Sy volk te beskerm. w23.11 17 ¶12-13
Vrydag 21 Maart
Die mens [word] sonder werke deur God as regverdig beskou. – Rom. 4:6.
Die apostel Paulus het hoofsaaklik verwys na “werke van die wet”, die wet van Moses, wat op die berg Sinai gegee is (Rom. 3:21, 28). Dit lyk asof party Joodse Christene in Paulus se dag gesukkel het om te aanvaar dat hulle nie meer volgens die Wet van Moses moes lewe nie en nie meer die werke moes doen wat deur daardie Wet vereis was nie. Daarom het Paulus Abraham se voorbeeld gebruik om te bewys dat ’n regverdige standpunt voor God nie die gevolg is van “werke van die wet” nie. Paulus het eerder verduidelik dat ons geloof nodig het. Dit is aanmoedigend omdat dit ons leer dat geloof in God en in Christus in werklikheid tot God se goedkeuring kan lei. Aan die ander kant is die “werke” wat in Jakobus hoofstuk 2 bespreek word, nie die “werke van die wet” wat Paulus genoem het nie. Jakobus verwys na die werke of aktiwiteite wat Christene in hulle daaglikse lewe doen (Jak. 2:24). Sulke werke wys of ’n Christen opregte geloof in God het of nie. w23.12 3 ¶8; 4-5 ¶10-11
Saterdag 22 Maart
’n Man is die hoof van sy vrou. – Ef. 5:23.
Susters wat daaraan dink om te trou, moet hulle maat baie versigtig kies. Onthou dat die man met wie jy trou, jou hoof sal word (Rom. 7:2; Ef. 5:33). So vra jouself: ‘Is hy ’n volwasse Christen? Stel hy geestelike dinge eerste in sy lewe? Neem hy wyse besluite? Kan hy sy foute erken? Respekteer hy vrouens? Het hy die vaardighede wat nodig is om my geestelik, materieel en emosioneel te ondersteun?’ As jy ’n goeie man wil vind, sal jy natuurlik ’n goeie vrou moet wees. ’n Goeie vrou is “’n helper” en “’n maat” vir haar man (Gen. 2:18). En omdat sy lief is vir Jehovah doen sy wat sy kan om haar man in ’n goeie lig te stel (Spr. 31:11, 12; 1 Tim. 3:11). Jy kan voorberei vir hierdie toekomstige rol deur jou liefde vir Jehovah te versterk en deur ’n helper vir ander by die huis en in die gemeente te wees. w23.12 22-23 ¶18-19
Sondag 23 Maart
As een van julle . . . wysheid nodig het, moet hy aanhou om God te vra. – Jak. 1:5.
Jehovah belowe om vir ons die wysheid te gee wat ons nodig het om goeie besluite te maak. Ons het veral die wysheid van God nodig wanneer ons besluite maak wat die res van ons lewe sal affekteer. Hy gee ons ook die krag om te volhard. Net soos hy vir die apostel Paulus gedoen het, sal Jehovah ons die krag gee wat ons nodig het om gedurende moeilike tye te volhard (Fil. 4:13). Iets wat Hy gebruik, is ons geestelike familie. Die aand voor hy sy lewe opgeoffer het, het Jesus ernstig gebid. Hy het Jehovah gesmeek om nie toe te laat dat ander dink dat hy nie respek vir God se naam het en dat hulle hom daarvoor veroordeel nie. In plaas daarvan om dit te doen, het Jehovah Jesus gehelp deur ’n engel te stuur om hom te versterk (Luk. 22:42, 43). Jehovah sal ons dalk ook help deur middel van ’n opbouende oproep of ’n besoek van een van ons broers of susters. Ons almal kan soek na geleenthede om “’n goeie woord” met ons broers en susters te deel. – Spr. 12:25. w23.05 10-11 ¶9-11
Maandag 24 Maart
Hou . . . aan om mekaar aan te moedig en mekaar op te bou. – 1 Tess. 5:11.
Onbedrywiges wat die Gedenkmaal bywoon, was dalk bang vir hoe mense in die gemeente sou reageer. So vermy dit om ongemaklike vrae te vra of om iets te sê wat hulle kan seermaak. Hierdie broers en susters is ons medeaanbidders. Ons is bly om weer saam met hulle te aanbid! (Ps. 119:176; Hand. 20:35). Dit is geen wonder dat Jesus gereël het dat ons elke jaar sy dood herdenk nie. Wanneer ons dit doen, vind ons en ander op baie maniere daarby baat (Jes. 48:17, 18). Ons liefde vir Jehovah en Jesus word sterker. Ons wys hoe baie ons dit wat hulle vir ons gedoen het, waardeer. Ons kom al hoe nader aan ons broers en susters. En ons help ander dalk om te leer hoe hulle ook die seëninge kan geniet wat die losprys moontlik maak. So laat ons alles doen wat ons kan om gereed te wees vir hierdie jaar se Gedenkmaal – die belangrikste dag van die jaar! w24.01 14 ¶18-19
Dinsdag 25 Maart
Ek, Jehovah, is . . . die Een wat jou lei. – Jes. 48:17.
Hoe lei Jehovah ons? Hoofsaaklik deur middel van sy geskrewe Woord, die Bybel. Maar hy gebruik ook mense om ons te lei. Byvoorbeeld, hy gebruik “die getroue en verstandige slaaf” om geestelike kos te voorsien wat ons help om wyse besluite te maak (Matt. 24:45). Jehovah gebruik ook ander bekwame manne om ons te lei. Byvoorbeeld, kringopsieners en gemeentelike ouermanne voorsien aanmoediging en onderrigting wat ons kan help om deur moeilike tye te kom. Ons is dankbaar vir die betroubare leiding gedurende hierdie kritieke laaste dae! Dit help ons om Jehovah se goedkeuring te behou en hou ons op die pad na die lewe. Maar soms is dit dalk vir ons moeilik om Jehovah se leiding te volg, veral wanneer dit deur onvolmaakte manne gegee word. Op sulke tye moet ons veral daarvan oortuig wees dat Jehovah die een is wat sy volk lei en dat ons seëninge sal ontvang wanneer ons sy leiding volg. w24.02 20 ¶2-3
Woensdag 26 Maart
Ons moet liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid. – 1 Joh. 3:18.
Ons kan groei in ons liefde vir Jehovah deur sy Woord deeglik te studeer. Terwyl jy die Bybel lees, probeer om te verstaan wat elke verslag jou oor Jehovah leer. Vra jou af: ‘Hoe wys hierdie verslag dat Jehovah my liefhet? Watter redes gee dit my om Jehovah lief te hê?’ Nog ’n manier hoe ons kan groei in ons liefde vir Jehovah, is deur elke dag tot hom te bid en vir hom te sê hoe ons regtig voel (Ps. 25:4, 5). Jehovah sal dan ons gebede beantwoord (1 Joh. 3:21, 22). Ons moet ook in ons liefde vir ander groei. ’n Paar jaar ná sy bekering het die apostel Paulus ’n goeie jong man met die naam Timoteus ontmoet. Timoteus het Jehovah liefgehad, en hy het mense liefgehad. Paulus het vir die Filippense gesê: “Ek het niemand anders om te stuur wat dieselfde gesindheid as [Timoteus] het en wat opreg na julle belange sal omsien nie” (Fil. 2:20). Dit is duidelik dat Paulus beïndruk was deur Timoteus se liefde vir die broers en susters. Die gemeentes waarheen Timoteus gegaan het, het beslis uitgesien na sy besoeke. – 1 Kor. 4:17. w23.07 9 ¶7-10
Donderdag 27 Maart
Ek sal jou . . . nooit in die steek laat nie. – Heb. 13:5.
Voordat Israel die Beloofde Land binnegegaan het, het Moses gesterf. Het Jehovah opgehou om sy volk te help nadat hierdie getroue man gesterf het? Nee. Solank as wat hulle getrou gebly het, het Jehovah vir hulle gesorg. Voordat Moses gesterf het, het Jehovah vir hom gesê om Josua aan te stel om die volk te lei. Moses was al baie jare lank besig om Josua op te lei (Eks. 33:11; Deut. 34:9). En daar was baie ander bekwame mans wat die leiding geneem het – hoofde oor 1 000, 100, 50 en selfs 10 (Deut. 1:15). Daar was goed vir God se volk gesorg. ’n Soortgelyke voorbeeld is dié van Elia. Hy het jare lank die leiding geneem in rein aanbidding onder die Israeliete. Maar later het Jehovah hom die toewysing gegee om in Juda te dien (2 Kon. 2:1; 2 Kron. 21:12). Was getroue mense in die tienstammeryk van Israel in die steek gelaat? Nee. Elia was al jare lank besig om Elisa op te lei. Jehovah het aangehou om sy doel te bereik, en hy het vir sy getroue aanbidders gesorg. w24.02 5 ¶12
Vrydag 28 Maart
Gaan voort om as kinders van die lig te lewe. – Ef. 5:8.
Die Christene in Efese het nou volgens Jehovah se Woord gelewe, wat soos ’n lig was wat hulle gelei het (Ps. 119:105). Hierdie Efesiërs het hulle valse godsdiensgebruike en onsedelike gedrag agtergelaat. Hulle het “navolgers van God [geword]” en hulle bes gedoen om Jehovah te aanbid en hom gelukkig te maak (Ef. 5:1). Net so was ons in godsdiens- en sedelike duisternis voordat ons die waarheid geleer het. Party van ons het vakansiedae gevier wat deel is van valse godsdiens; ander het ’n onsedelike lewe gelei. Maar toe ons geleer het oor Jehovah se standaarde van wat reg en verkeerd is, het ons veranderinge gemaak. Ons het begin om ons lewe in ooreenstemming te bring met sy regverdige vereistes. En as gevolg daarvan het ons baie seëninge geniet (Jes. 48:17). Maar nou ondervind ons nog steeds uitdagings. Ons moet wegbly van die duisternis wat ons agtergelaat het en “[voortgaan] om as kinders van die lig te lewe”. w24.03 21 ¶6-7
Saterdag 29 Maart
Net soos ons reeds vordering gemaak het, moet ons aanhou om ordelik op hierdie weg voort te gaan. – Fil. 3:16.
Jy voel dalk dat jy nie gereed is vir toewyding en doop nie. Dalk moet jy nog veranderinge in jou lewe maak om volgens Jehovah se standaarde te lewe of dalk het jy nog tyd nodig om jou geloof te versterk (Kol. 2:6, 7). Nie alle studente vorder teen dieselfde pas nie, en nie alle jonges is op dieselfde ouderdom gereed vir toewyding en doop nie. Probeer jou geestelike vordering evalueer volgens wat jy kan doen en nie in vergelyking met iemand anders nie (Gal. 6:4, 5). Al besef jy dat jy nie gereed is om jou aan Jehovah toe te wy nie, moet jy daardie stap as ’n doelwit hou. Vra Jehovah om jou te help om die nodige veranderinge in jou lewe te maak (Fil. 2:13). Jy kan seker wees dat hy jou gebed sal hoor en jou sal help. – 1 Joh. 5:14. w24.03 5 ¶9-10
Sondag 30 Maart
Mans, [julle moet] aanhou om volgens kennis met julle vrouens saam te lewe. – 1 Pet. 3:7.
Op een geleentheid was Sara ontsteld en het sy vir Abraham gesê hoe sy gevoel het, en sy het hom selfs vir die probleem blameer. Abraham het geweet dat Sara ’n onderdanige en ondersteunende vrou is. Hy het na haar geluister en probeer om die probleem op te los (Gen. 16:5, 6). Wat kan ons leer? Mans, julle het die gesag om besluite vir julle gesinne te maak (1 Kor. 11:3). Maar dit sal liefdevol wees as jy aandagtig na jou vrou se opinie luister voordat jy ’n besluit maak, veral as die besluit haar sal raak (1 Kor. 13:4, 5). Op ’n ander geleentheid het Abraham besluit om gasvry te wees teenoor onverwagse besoekers. Hy het Sara gevra om te stop waarmee sy besig is en om baie brode voor te berei (Gen. 18:6). Sara het vinnig opgetree en Abraham se besluit ondersteun. Vrouens, julle kan Sara navolg deur julle mans se besluite te ondersteun. Wanneer julle dit doen, versterk julle julle huwelik. – 1 Pet. 3:5, 6. w23.05 24-25 ¶16-17
Maandag 31 Maart
Die wysheid van bo is . . . bereid om te gehoorsaam. – Jak. 3:17.
Nadat Gideon as rigter aangestel was, is sy gehoorsaamheid en moed getoets. Hy het die gevaarlike toewysing gekry om sy pa se altaar vir Baälaanbidding te vernietig (Rigt. 6:25, 26). Later, nadat Gideon ’n leërmag bymekaargemaak het, het Jehovah twee keer vir hom gesê dat hy sy leërmag kleiner moet maak (Rigt. 7:2-7). Daar is uiteindelik vir hom gesê dat hy die vyand se leërmag in die middel van die aand moet aanval (Rigt. 7:9-11). Ouermanne moet ‘bereid wees om gehoorsaam te wees’. ’n Gehoorsame ouerman onderwerp hom gewilliglik aan wat die Bybel sê en aan die riglyne van God se organisasie. Deur dit te doen, stel hy ’n goeie voorbeeld vir ander. Maar sy gehoorsaamheid kan getoets word. Byvoorbeeld, hy vind dit dalk moeilik om by te bly met die riglyne wat hy ontvang. In party gevalle wonder hy dalk of sekere riglyne regtig prakties of wys is. Of hy word dalk gevra om ’n toewysing te aanvaar wat sy vryheid in gevaar kan stel. Hoe kan ouermanne Gideon se gehoorsaamheid in sulke situasies navolg? Luister mooi na riglyne en pas dit toe. w23.06 4-5 ¶9-11