Dit kan lonend wees om ONGETROUD te bly
“Daar is persone wat hulleself onbekwaam gemaak het [om te trou] ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan vat, laat hom dit vat.”—Matt. 19:12.
1. Hoe het Jehovah se dienaars van die ou tyd die huwelik en ouerskap in vergelyking met die ongetroude lewe beskou?
BAIE mense vind dit moeilik om te verstaan hoe die ongehude staat ’n wenslike lewenswyse kan wees. Sedert Jehovah God die eerste man en vrou, Adam en Eva, in die huwelik bevestig het, het die meeste mense mettertyd verkies om liewer te trou as om ongetroud te bly. Onder God se dienaars van die ou tyd was dit ook die uitsondering as iemand ongetroud gebly het. Toe Jefta se dogter, ter vervulling van haar vader se gelofte, die reg om te trou moes verbeur, het dit aanvanklik droefheid ten gevolge gehad. Met haar vader se toestemming het sy en haar gesellinne twee maande lank na die berge gegaan om daar ‘haar maagdelike staat te beween’ (Rigt. 11:38). Ja, nie die ongetroude lewe nie, maar die huwelik en ouerskap is as die voortrefliker seëninge beskou.—Rut 4:13-17; Ps. 127:3-5; Spr. 5:18; 18:22; 31:10; Pred. 9:9.
2. Watter veranderinge in die beskouing van die bindende aard van die huwelik het Jesus se koms na die aarde toe ten gevolge gehad?
2 Eers sowat 4 000 jaar na die eerste huwelik is daarop gewys dat dit vir sekere manne en vroue beter is om ongetroud te bly. Destyds het ’n nuwe tydvak, die Christelike tydvak, ’n aanvang geneem. Die veranderinge wat dit teweeggebring het, het ook ’n uitwerking gehad op die beskouing van die ongetroude lewe en die huwelik soos dit lank onder die ou Wetsverbondreëling onder die Israeliete gehuldig is. In antwoord op ’n vraag oor egskeiding het Jesus, die stigter van die Christendom, duidelik getoon dat God se oorspronklike standaard vir die huwelik onder sy dissipels herstel sou word. Veelwywery en egskeiding behalwe op grond van huweliksontrouheid sou iets van die verlede wees.—Matt. 19:4-9.
3. (a) Hoe het Jesus se dissipels gereageer op sy verklaring aangaande die bindende aard van die huweliksband? (b) Het die dissipels reg gehad met hulle gevolgtrekkings oor die ongetroude lewe? (c) Wat het Jesus gesê oor waarom sekere manne onbekwaam is om te trou?
3 Hoe het Jesus se dissipels gereageer op sy verklaring aangaande die bindende aard van die huwelik? “As die saak van ’n man met ’n vrou so is”, het hulle gesê, “dan is dit nie wenslik om te trou nie” (Matt. 19:10). Hulle het gemeen dat dit beter sou wees om ongetroud te bly as om die risiko te loop om in ’n onwenslike verhouding te beland wat nie na willekeur beëindig kon word nie. Vrees vir ’n onwenslike huweliksituasie of onwilligheid om onselfsugtig van jouself vir ’n maat te gee is egter nie goeie redes om ten alle koste ongetroud te bly nie. Dit blyk uit wat die Seun van God vervolgens vir sy dissipels gesê het: “Almal vat hierdie woord [om ongetroud te bly] nie, maar net dié aan wie dit [die gawe, NW] gegee is. Want daar is persone wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is, en daar is persone wat deur mense onbekwaam gemaak is, en daar is persone wat hulleself onbekwaam gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan vat, laat hom dit vat.”—Matt. 19:11, 12.
’N GEESTELIKE REDE
4. Wat is die edelste rede om ongetroud te bly, en waarom?
4 Derhalwe is die edelste rede om ongetroud te bly ’n geestelike. Geen man of vrou kan ’n meer verhewe doel in die lewe hê as om homself of haarself aan Koninkrykswerk te wy en medemense te help om die wonderlike beloning van die ewige lewe aan te gryp en daaraan vas te hou nie. Vry van die sorge en angs wat daaraan verbonde is om ’n huweliksmaat en kinders te hê, kan die ongetroude persoon God in ’n groter mate dien. Hoe wenslik en lonend kan dit die ongetroude lewe tog maak!
5. Kan alle mans die ongetroude lewe vat, en hoe blyk dit uit die instruksies in verband met manne wat aan die vereistes voldoen om bedieningsknegte en ouere manne te wees?
5 Hierdie ongetroude lewe na eie keuse is egter net vir diegene wat “dit kan vat”. Onder die eerste-eeuse Christene kon slegs ’n minderheid dit doen. Dit blyk uit die instruksies wat gegee is in verband met manne wat aan die vereistes sou voldoen om bedieningsknegte en ouere manne te wees. Die manier waarop hulle aan hulle gesinne leiding gegee het, moes in aanmerking geneem word, waaruit dit blyk dat manne wat oud genoeg was om aangestel te word gewoonlik getroude mans met kinders sou wees.—1 Tim. 3:2, 12; Tit. 1:6.
6, 7. Hoe kan ’n persoon seker wees dat hy plek vir die ongetroude lewe kan maak?
6 Aangesien die meeste van God se dienaars deur die eeue heen mettertyd getrou het, kan dit gevra word: Hoe kan ’n persoon seker wees dat hy een van die weinige is wat plek daarvoor kan maak om ongetroud te bly? Die apostel Paulus verstrek ’n geïnspireerde antwoord: “Hy wat in sy hart vasstaan en nie onder dwang verkeer nie, maar mag het oor sy eie wil en dit in sy eie hart besluit het om sy [maagdelike staat] te bewaar, hy doen goed.”—1 Kor. 7:37, vgl. NW.
7 Die persoon wat die “gawe” het om ongetroud te bly, moet dus self kan sien dat dit in sy geval weens geestelike redes beter is om ongetroud te bly. Dit beteken nie dat ’n mens bloot ’n knaende hartsbegeerte om te trou en ’n gesinslewe te geniet onderdruk nie. Nee, ’n persoon moet in sy hart volkome daarvan oortuig wees dat dit reg is vir hom om ongetroud te bly, en hy moet bereid wees om alles te doen wat nodig is om kuis te bly. Daar moet niks in sy geaardheid of geneigdheid wees wat buitengewoon versteur sou word as hy vir ’n onbepaalde tyd ongetroud sou bly nie.
8. (a) Is iemand ’n beter mens as hy ongetroud bly? (b) Wat is volgens Romeine 12:3-8 die gebalanseerde beskouing van ‘gawes’, en hoe moet hulle gebruik word?
8 Iemand wat ter wille van die Koninkryk ongetroud kan bly, moet natuurlik nie op getroude Christene neersien nie. Uit God se standpunt is hy nie ’n beter mens omdat hy ongetroud is nie. Hy moet besef dat hy is wat hy is weens Jehovah se onverdiende goedheid. Die gebalanseerde beskouing van ‘gawes’ wat Christene persoonlik het, word deur die apostel Paulus in Romeine 12:3-8 uiteengesit:
“Ek [sê] vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ’n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het. Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie ’n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.”
Gawes moet derhalwe nie gebruik word om onsself te verhef nie, maar tot nut van die gemeente, om die lede daarvan op te bou.
DIEGENE WAT NIE DIE “GAWE” HET NIE
9. Waarom kan dit in die geval van volwassenes wat nie plek vir die ongetroude lewe kan maak nie, nuttig wees om ’n aantal jare lank te wag voordat hulle in die huwelik tree?
9 Maar wat van ’n Christen wat werklik graag wil trou? Hoewel hy nie die gawe het om ongetroud te bly nie, wil dit nie sê dat hy inderhaas moet trou nie. Veral as ’n persoon nog in sy twintigerjare is, is daar nog baie om omtrent die lewe te leer en is daar baie ondervinding wat op die gebied van mensebetrekkinge opgedoen kan word deur omgang met ongetroude persone, egpare en kinders van alle ouderdomme. As ’n mens etlike jare as ’n ongetroude volwassene lewe, kan dit jou die ervaring en insig gee om goeie oordeel aan die dag te lê wanneer jy ’n lewensmaat kies en om huwelikverantwoordelikhede goed na te kom.
10. Hoe toon tekste soos Deuteronomium 7:3, 4 en 1 Korinthiërs 7:39 dat Jehovah in die huwelike van sy dienaars belangstel?
10 ’n Christen moet nooit vergeet dat die Allerhoogste in die huwelike van sy getroue dienaars belangstel nie. Hy weet alte goed hoe geestelik rampspoedig ’n ongelukkige huwelik kan wees en daarom het hy die Israeliete beveel om geen huweliksverbonde met aanbidders van ander gode aan te gaan nie (Deut. 7:3, 4). Die apostel Paulus het insgelyks daarop gewys dat ’n Christenweduwee “vry [is] om te trou met wie sy wil, maar net in die Here” (1 Kor. 7:39). Is dit dan nie logies dat as Jehovah God sien dat een van sy dienaars waarlik ’n maat nodig het hy daardie persoon se gebede om ’n goeie huweliksmaat te vind sal verhoor nie? Alte seker, as dit werklik nodig is!
11. (a) Wat moet Christene wat werklik moet trou maar nog nie ’n geskikte maat gevind het nie, doen? Waarom? (b) Watter Bybelse voorbeelde toon dat Jehovah selfs ’n huweliksmaat kan voorsien vir diegene wat werklik een nodig het?
11 Dit wil nie sê dat huwelike in die hemel gereël word en dat daar vir elke Christen maar net een ideale maat onder die talle volwasse dienaars van Jehovah is nie. Nee, dit beteken eenvoudig dat Jehovah kan sorg dat sy toegewyde dienaars kry wat hulle nodig het, met inbegrip van ’n huweliksmaat ingeval dit ’n groot beproewing word om kuisheid in ’n ongetroude staat te handhaaf (Spr. 19:14). Die Allerhoogste het ’n agtermekaar vrou vir Isak en ’n goeie man vir Rut voorsien. In albei gevalle het dit ryke seëninge ten gevolge gehad omdat die doen van Jehovah se wil eerste gestel is (Gen. 24:2-4, 12-27, 50, 51, 67; Rut 1:16, 17; 3:10; 4:13-17). Christene wat die behoefte voel om te trou, moet dus oor die saak bid en dan geduldig op Jehovah wag, met die vertroue dat hy in hulle geluk en welsyn belangstel.
BESKOU GOEIE VOORBEELDE VAN PERSONE WAT ONGETROUD WAS
12. Waarom kan ons baat vind by ’n bespreking van die voorbeeld van diegene wat daarin geslaag het om ’n sukses van die ongetroude lewe te maak?
12 Hetsy ’n ongetroude volwassene die gawe het om ongetroud te bly of nie, hy kan baat vind by ’n bespreking van Bybelse voorbeelde van diegene wat ’n sukses van die ongetroude lewe gemaak het. Dit kan sy lewe as ’n ongetroude persoon sinvoller en lonender maak. Selfs egpare kan daarby baat vind, daar tyd en omstandighede ’n persoon van ’n maat kan beroof en aldus daardie een konfronteer met die besluit of hy weer moet trou of nie.
13. Waarin het Jesus Christus, as ’n ongetroude man, volkome opgegaan, en wat was sy gesindheid teenoor sy diens?
13 As ’n ongetroude man is Jesus Christus sekerlik die beste voorbeeld. Hy het volkome daarin opgegaan om sy Vader se wil te doen. “My voedsel”, het hy gesê, “is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Joh. 4:34). Die Seun van God het soggens vroeg opgestaan en tot laat in die nag gedien, die mense geleer, die siekes genees en die wat onder demoniese beheer was, bevry (Mark. 1:32; Luk. 21:37, 38). Hy het met die grootste gewilligheid gedien. Dit word toegelig deur sy antwoord aan die melaatse wat gesê het: “Here, as U wil, kan U my reinig.” Die Bybel berig: “Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig!”—Luk. 5:12, 13.
14. Wat toon dat Jesus omgang met mans, vrouens en kinders geniet het?
14 Dit is ook merkwaardig dat Jesus Christus tuis was in die geselskap van almal—mans, vrouens en kinders. Hy het uitnodigings na maaltye en selfs feesmaaltye aangeneem en die geleenthede wat hulle daar voorgedoen het, gebruik om belangrike geestelike onderrigting mee te deel (Luk. 5:29-32; 14:1-24). Getroude mans was onder sy intiemste metgeselle (1 Kor. 9:5). Hy was besonder lief vir Lasarus en sy susters Maria en Martha, in wie se huis in Betanië hy moontlik dikwels ’n gas was (Luk. 10:38-42; Joh. 11:1, 5). Jesus het dit ook geniet om met kinders om te gaan. Eenkeer het die dissipels ouers afgeraai om hulle kindertjies na hom toe te bring sodat hy hulle kon aanraak en oor hulle kon bid. “Toe Jesus dit sien”, so deel die Skrif ons mee, “het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir [die dissipels] gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie . . . En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën.”—Mark. 10:13-16.
15. Watter lesse kan ons uit die voorbeeld van Jesus Christus leer ten opsigte van wat tot ’n gelukkige lewe van vergenoegdheid as ’n ongetroude persoon bydra?
15 Die voorbeeld van Jesus Christus openbaar dat diegene wat hulle ongetroude lewe wil geniet volkome daarin moet opgaan om heelhartig van hulle tyd, kragte en vermoëns te gee om hulle medemens te help. Hulle moet opregte belangstelling in mense hê en behae skep in die geselskap van mans, vrouens en kinders. Hulle moet ook heilsame genot uit die lewe kan put—en dit sonder oordrewe selfverloëning, wat ‘geen waarde by die bestryding van die bevrediging van die vlees’ het nie.—Kol. 2:23, NW.
16. (a) Wat toon dat Paulus se ongetroude lewe ander werklik tot seën was? (b) Sou dit, met die oog op die apostel se woorde in 2 Korinthiërs 11:23-28, vir hom moontlik gewees het om te bereik wat hy wel bereik het as hy ’n getroude man was?
16 As ’n navolger van Jesus Christus was die apostel Paulus een wat ware bevrediging uit sy heilige diens as ’n ongetroude man geput het. Deur Jehovah se onverdiende goedheid was hy in staat om oorvloediger te arbei as al die ander apostels, hy het duisende kilometers oor see en land gereis en baie gemeentes in Europa en Klein-Asië gestig (1 Kor. 15:9, 10). Met ’n vrou en kinders sou hy klaarblyklik nooit so ’n uitgebreide evangelisasiewerk kon onderneem het wat hom weens die destyds bestaande omstandighede herhaaldelik in gevaarlike situasies laat beland het nie. Omstreeks die jaar 55 G.J. kon hy van homself praat as “in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels” (2 Kor. 11:23). Deur sy onselfsugtige, heelhartige diens het Paulus die voortreflike geluk gesmaak wat ’n mens kry as jy gee. Dit het hom ook by sy medegelowiges bemind gemaak.—Hand. 20:24-27, 31-38.
17. Watter soort lewe sal ’n mens lei as jy ter wille van die Koninkryk ongetroud bly?
17 Dit blyk dus duidelik dat toe Paulus onder inspirasie aanbeveel het dat mense ongetroud bly, hy nie ’n lewe van eiebelang, gemak of genotsug aanbeveel het nie. Nee, hy het ’n lewenswyse aanbeveel wat uit “welvoeglike en onafgebroke toewyding aan die Here” bestaan. Vry van die sorge en angs oor ’n maat en kinders kan die ongetroude volwassene volkome tot die beskikking van die Here Jesus Christus wees en in belang van ander dien (1 Kor. 7:32-35). Op grond van sy eie ervaring was Paulus daarvan oortuig dat as diegene wat die gawe besit ongetroud bly dit ’n gelukkiger lewe sal beteken as hulle voortdurend gee (1 Kor. 7:40). Hy het geskrywe: “Ek wens dat alle mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so en die ander weer anders.”—1 Kor. 7:7.
18. (a) Hoe het Anna en Dorkas hulle tyd nuttig gebruik? (b) Hoe kan vroue, op grond van Mattheüs 28:19, 20, 1 Timotheüs 5:10 en Titus 2:3-5 hulle ongehude staat tot seën van ander gebruik?
18 Vroue het ook groot vreugde daarin gevind om ongetroud te bly. Anna is ’n goeie voorbeeld. Nadat sy slegs sewe jaar lank getroud was, het haar man gesterf en het sy vir die res van haar lewe ongetroud gebly. Waarmee het sy haar dae gevul? Geestelike dinge het eerste gekom. Selfs toe sy al vier-en-tagtig jaar oud was, “het [sy] nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag” (Luk. 2:36, 37). Later was daar in die Christengemeente ongetroude vroue wat ’n ware seën vir ander was. Dorkasa moes een van hulle gewees het. “Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het.” Sy het onder- en bo-klere vir behoeftige weduwees in die gemeente gemaak (Hand. 9:36, 39). Haar goeie dade het sekerlik die gasvrye versorging van Christenvreemdelinge in haar huis ingesluit asook troos en hulp aan diegene wat die een of ander behoefte gehad het. (Vergelyk 1 Timotheüs 5:10). As ’n dissipelin van Jesus Christus was sy ongetwyfeld gretig om vir ander van die Koninkryk te vertel.—Matt. 28:19, 20.
19. Waarom moet Christene wat plek vir die ongetroude lewe gemaak het, waardeer word?
19 Net soos in die eerste eeu G.J. is daar vandag ongetroude manne en vroue wat ’n aanwins vir die Christengemeente is. Hulle smaak hulle grootste vreugde wanneer hulle hulleself volkome ten behoewe van ander, binne sowel as buite die gemeente, bestee. Hulle ongetroude lewe is lonend omdat hulle nie hulle eie belange nie, maar dié van die Meester, die Here Jesus Christus, dien. En moet hulle gawe nie deur alle ander in die gemeente waardeer word weens die voortreflike diens wat dit so baie van hulle in staat gestel het om te verrig nie?
20. Waarom geniet toegewyde, ongetroude Christene ’n bevredigende lewe, en watter bemoediging kan hulle uit Jesaja 56:5 put?
20 Hulle lewe is sekerlik nie verkwis omdat hulle hulleself die huwelik en ouerskap ontsê het nie, maar bly steeds sinvol en bevredigend. Hoewel hulle nie self gesinne het nie, het hulle in die Christengemeente persone gevind wat hulle net so innig liefhet soos eie moeders en vaders, broers en susters, en soos seuns en dogters (Mark. 10:30). Hulle verheug hulle oor Jehovah se versekering: “Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ’n gedenkteken en ’n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ’n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie.”—Jes. 56:5.
[Voetnoot]
a In verband met die dood van Dorkas word daar geen melding gemaak van ’n eggenoot wat gerou het nie. Dit gee te kenne dat sy destyds ongetroud was.
[Prent op bladsy 322]
Jesus Christus, wat tuis was in die geselskap van almal—mans, vrouens en kinders—is die beste voorbeeld van iemand wat ’n sukses van die ongetroude lewe gemaak het
[Prent op bladsy 323]
Die apostel Paulus, wat die ongetroude lewe aanbeveel het vir diegene wat die gawe besit, het ’n goeie voorbeeld gestel in die wyse waarop hy ander se gewetens in ag geneem het