DIE INVLOEDRYKE FARISEËRS
Die Fariseërs was ’n vooraanstaande sekte van Judaïsme in die dae van Jesus se aardse bediening. Hulle het probeer om hulle van ander, selfs ander Jode, af te skei. Trouens, die naam “Fariseërs” beteken moontlik “afgeskeidenes”. Die juiste oorsprong van hierdie sekte van Judaïsme is vandag onbekend. Teen die laaste helfte van die tweede eeu v.G.J. was die Fariseërs egter reeds al ’n invloedryke liggaam.
Waar hy oor die dae van Johannes Hyrcanus in daardie tydperk skrywe, sê die Joodse geskiedskrywer Josefus van hulle: “Hierdie mense het so groot mag oor die menigte, dat wanneer hulle iets teen die koning of teen die hoëpriester sê, hulle sommer dadelik geglo word.”a
TOE Jesus op die aarde was, was die Fariseërs se invloed so sterk dat vooraanstaande manne bang was om openlik te erken dat hy inderdaad die Christus is. Die Bybel berig: “Tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.”—Joh. 12:42, 43.
As ’n liggaam was die Fariseërs begaan daaroor om hulle eie geregtigheid op te rig. Hulle het nougeset die tiende van sulke geringe produkte soos kruisement, anys en koljander betaal (Matt. 23:23). Hulle het gereeld weens godsdiensredes gevas (Matt. 9:14). Hulle was begaan daaroor om oorleweringe tot die letter na te kom, veral wat die hou van die sabbat en die was van hulle hande betref.—Matt. 12:1, 2; 15:2.
Daarbenewens wou die Fariseërs ander met hulle geregtigheid beïndruk en dus het hulle dit in die openbaar vertoon. Dit was selfs in hulle kleredrag te sien. Volgens die wet van Moses moes die Israeliete fraiings aan die some van hulle klere hê. Dit moes hulle herinner aan hulle heilige posisie voor Jehovah God en aan die nodigheid om sy gebooie te hou (Num. 15:38-41). Die Fariseërs het dit ’n stap verder gevoer. Hulle het die fraiings van hulle klere langer gemaak sodat hulle opvallend onder die mense kon wees. Aangesien die gewoonte onder die Jode ontstaan het om klein houers met skriftekste daarin aan die voorkop en aan die linkerarm te dra, was die Fariseërs eweneens opvallend omdat hulle groteres gedra het.—Matt. 23:2, 5, NW.
Weens hulle werke het die Fariseërs meerderwaardig gevoel teenoor mede-Israeliete wat nie die Wet volgens die Fariseërs se tradisionele vertolking gehou het nie. Hulle gesindheid is weerspieël in ’n gebed wat Jesus Christus in een van sy gelykenisse aan ’n Fariseër toegeskryf het: “o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry” (Luk. 18:11, 12). Die Fariseërs het inderdaad met veragting neergesien op diegene wat versuim het om die groot aantal rabbynse oorleweringe te hou. Toe dienaars wat gestuur is om Jesus gevange te neem met leë hande terugkom omdat hulle deur sy lering beïndruk is, het hulle gesê: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet [dit wil sê, die rabbynse vertolking daarvan] nie ken nie, is vervloek!”—Joh. 7:45-49.
Vol vertroue dat hulle regverdig is, het die Fariseërs gemeen dat hulle op spesiale voorregte geregtig is en dat ander hulle voortrefliker posisie moes respekteer. Wanneer hulle tydens maaltye onthaal is, het hulle verwag om die vernaamste plekke te hê. By die sinagoge het hulle die voorste sitplekke verkies. Hierdie sitplekke was na die gehoor toe gerig en was vir die owerste van die sinagoge en vername gaste gehou. Selfs in die besige markpleine wou hulle hê dat daar spesiale aandag aan hulle geskenk moes word en dat hulle teenwoordigheid deur begroetinge erken moes word. Dit het hulle behaag as mense hulle “Rabbi” (Leraar) genoem het.—Matt. 23:6, 7.
Omdat hulle op hulle eie geregtigheid vertrou het, was die Fariseërs onder die vernaamste vyande van Jesus Christus. Hy het dikwels nie ooreenkomstig hulle tradisionele vertolking van die wet gehandel nie. Dit is waarom hulle hom veroordeel het.
Die Fariseërs het blykbaar gedink dat kontak met mense wat nie die wet volgens hulle tradisionele beskouing gehou het nie besoedeling ten gevolge gehad het (Luk. 7:36-40). Die feit dat Jesus met vermeende sondaars en tollenaars omgegaan en selfs saam met hulle geëet het, het dus vir hulle rede gebied om beswaar te maak (Luk. 15:1, 2). Hulle het nie besef dat sulke persone geestelike hulp nodig gehad het en dat Jesus, deur liefdevolle besorgdheid en meegevoel beweeg, bereid was om daardie hulp te verleen nie.—Luk. 15:3-32.
Toe Jesus klei gemaak het om op die oë van ’n blinde man te sit en daardeur genesing op ’n sabbat bewerkstellig het, het party van die Fariseërs gesê: “Hierdie man kom nie van God nie, omdat Hy die sabbat nie hou nie” (Joh. 9:16). Toe hulle Jesus se wonderdadige genesingswerke op die sabbat sien, het hulle hulle nie saam met die wat genees is, verheug nie maar was hulle woedend oor wat hulle as skendinge van die sabbat beskou het. Dit was hierdie hardheid van hulle harte wat Jesus bedroef gemaak het. Weens hulle tradisionele beskouings het die Fariseërs nie alleen nie mense in ag geneem nie, maar so kwaad geword dat hulle Jesus wou doodmaak oor wat hulle as skendinge van die Wet bestempel het.—Mark. 3:1-6.
Jesus het inderdaad rede gehad om die Fariseërs te veroordeel. Hulle houding teenoor God se wet en mede-Israeliete het die gees van die wet geweld aangedoen en dit ’n las vir die mense gemaak. Die gewigtiger sake van die wet—geregtigheid, barmhartigheid, getrouheid en liefde vir God—het hulle uit die oog verloor (Matt. 23:23; Luk. 11:42-44). Soos Jesus aangaande die sabbat aangetoon het: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie” (Mark. 2:27). Op gebiede wat werklik die lewens van mense geraak het, was hulle beheptheid met mensevoorskrifte vir ernstige skade verantwoordelik. Kinders kon byvoorbeeld die verantwoordelikheid om bejaarde en behoeftige ouers te help ontduik deur te beweer dat hulle eiendom aan God toegewy was.—Matt. 15:3-9.
Nie al die Fariseërs het natuurlik ’n totaal onredelike beskouing gehad nie. Daar was uitsonderinge. Die geleerde Fariseër Gamaliel het by ander lede van die Sanhedrin daarop aangedring om hulle nie met die volgelinge van Jesus Christus te bemoei nie. Hy het gesê: “Laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie—dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie” (Hand. 5:38, 39). Die Fariseër Nikodemus het belangstelling in die werk en bedrywigheid van Jesus Christus getoon (Joh. 3:1, 2; 7:47-52; 19:39). En toe die waarheid aan Paulus geopenbaar is, het hy opgehou om ’n Fariseër te wees en ’n toegewyde dissipel van Jesus Christus geword.—Hand. 26:5; Filip. 3:5.
As ’n liggaam kan die Fariseërs nietemin vandag as ’n waarskuwende voorbeeld vir Christene dien. Hulle geval illustreer die gevaar daarvan om op ’n mens se eie goedheid en geregtigheid te vertrou. Daar toegewyde dienaars van God besef dat ‘julle almal broeders is’, soos Jesus gesê het, sal hulle nie verwag of begeer om as voortrefliker beskou te word nie, en hulle sal ook nie probeer om weens hulle posisie in God se gemeente spesiale aandag, vernaamheid en gunste van medegelowiges te kry nie.—Matt. 23:8; 1 Pet. 5:1-4.
Met die oog op wat die Fariseërs gedoen het, kan ouere manne in die gemeentes van God se volk gerus onthou dat hulle geen gesag het om reëls neer te lê wat verder gaan as wat duidelik in die Bybel gesê word nie. Daar moet weliswaar partymaal sekere reëlings vir ordelikheid getref word, maar selfs hier moet ons ons afvra: Verval ons enigsins in ’n weg soos die van die Fariseërs wat, terwyl hulle gemeen het dat ywer vir geregtigheid hulle aandryf, versuim het om op Godgelyke wyse mensebehoeftes en -gevoelens in aanmerking te neem? Nie alleen diegene wat gesag het, moet op hulle hoede wees nie, maar almal in die Christengemeente moet sorg dat hulle mekaar soos dierbare broers en susters bejeën, en nie voorstanders van onskriftuurlike reëls word en daardeur die dinge wat waarlik belangrik is—die goddelike eienskappe geregtigheid, getrouheid, barmhartigheid en liefde—oor die hoof sien nie.
[Voetnoot]
a Antiquities of the Jews, Boek XIII, hfst. X, par. 5