Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 3/15 bl. 4-7
  • Sal die Kerk se dade met die pous se woorde strook?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal die Kerk se dade met die pous se woorde strook?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE KATOLIEKE KERK EN OORLOG
  • DIE VERGUNNING VAN GODSDIENSVRYHEID
  • GELYKE VERDELING VAN RYKDOM
  • GOD SE BELOFTE VAN IETS NUUTS
  • Die pous by die V.V.O—’n boodskapper van hoop?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Die pous se besoek aan Mexiko—Sal dit die Kerk tot nut strek?
    Ontwaak!—1990
  • Godsdiens kies kant
    Ontwaak!—1994
  • Die Pous se besoek aan die VN—Wat is daardeur bereik?
    Ontwaak!—1996
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 3/15 bl. 4-7

Sal die Kerk se dade met die pous se woorde strook?

HOE het Ierse Katolieke gereageer op die pous se beroep om ’n einde te maak aan die 10 jaar van geweld waartydens sowat 2 000 persone gedood is?

Op dieselfde wyse waarop hulle gereageer het op meer as 30 beroepe van pous Paulus VI om vrede in Ierland. Hulle het dit verwerp! Die Katolieke Ierse Republikeinse Leër het geantwoord: “Ons meen eerlik waar dat geweld absoluut die enigste manier is om van die euwel van Britse teenwoordigheid in Ierland ontslae te raak.”

Ierse Katolieke in Noord-Ierland meen dat hulle verdruk word deur ’n Protestantse meerderheid. Wanneer hulle dus die pous se beroep verwerp, haal Katolieke hulle Kerk se leerstelling aan dat geweld gebruik kan word om reg te laat geskied.a Het die Ierse Katolieke ’n presedent waar dit kom by “regverdige oorlogvoering”?

DIE KATOLIEKE KERK EN OORLOG

In sy toespraak voor die Verenigde Volke het pous Johannes Paulus II uitgeroep: “In elke plek op aarde verkondig die Katolieke Kerk ’n boodskap van vrede, bid hy vir vrede, lei hy mense op vir vrede.” Maar wat openbaar die geskiedenisfeite? Die Katolieke geskiedkundige E. I. Watkin het geskryf:

“Hoe pynlik die erkenning ook al is, kan ons nie in die belang van ’n valse lering of oneerlike trou die geskiedkundige feit ontken of ignoreer dat Biskoppe deurgaans al die oorloë ondersteun het wat deur hulle regering of hulle land gevoer is nie. Ek weet inderdaad nie van ’n enkele geval waar die hiërargie van ’n land enige oorlog as onregverdig veroordeel het nie . . . Wat die amptelike teorie ook al was, was ‘my land is altyd reg’ die beginsel wat Katolieke Biskoppe tydens oorlog in die praktyk gevolg het. Hoewel hulle by ander geleenthede in die naam van Christus gepraat het, het hulle, wat strydlustige nasionalisme betref, as die woordvoerder van die keiser gepraat.”—Morals and Missiles, onder redaksie van Charles S. Thompson, ble. 57, 58.

Ja, baie Ierse Katolieke doen wat Katolieke tydens konflikte van die verlede gedoen het. Hulle veg. “Maar die Kerk keur dit nie goed nie”, sal iemand beswaar aanteken. “Die pous het hulle aangespoor om ‘hulle gewelddadige weë te verlaat’.” Maar het die pous of die plaaslike Ierse Katolieke hiërargie getoon dat hulle waarlik die stryd in Ierland veroordeel? Het hulle Katolieke wat met hulle moorddadige bedrywighede voortgaan, geëkskommuniseer? Nee, sulke indiwidue is steeds Katolieke van goeie naam! Dieselfde geld natuurlik van Protestantse terroriste.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die pous eweneens geweier om Katolieke leiers soos Adolf Hitler en Hermann Göring of die miljoene lidmate in hulle leërs te ekskommuniseer. Dit is ’n bekende geskiedenisfeit dat die Katolieke Kerk in Duitsland die Nazi-oorlogpoging geseën het, soos getoon word deur die koerantuitknipsels hieronder.

Waarom het Duitse Katolieke amper deur die bank die Nazi-oorlogpoging gesteun? Katolieke geleerde en opvoedkundige Gordon Zahn verduidelik waarom wanneer hy sê: “Die Duitse Katoliek wat hom na sy godsdiensmeerderes gewend het vir geestelike leiding in verband met diens in Hitler se oorloë het feitlik dieselfde antwoorde gekry as wat hy van die Nazi-heerser sou gekry het.”

Die pous het egter vir die Verenigde Volke gepreek: “Geen oorlog meer nie. Nooit weer oorlog nie.” Mooi woorde—woorde wat op die Bybel gebaseer is! (Jes. 2:4). Maar hoe hol klink hulle tog wanneer hulle kom van die hoof van ’n Kerk wie se lede deurgaans hulle lande se oorloë gesteun het, en dit met die goedkeuring en seën van hulle leiers!

DIE VERGUNNING VAN GODSDIENSVRYHEID

Pous Johannes Paulus II het ’n welsprekende pleidooi voor die Verenigde Volke gelewer dat mense oral “al hulle regte onder enige politieke bewind of stelsel” gegun moet word. Het die Katolieke Kerk egter opgetree soos die pous die wêreld se politieke state aangespoor het om op te tree?

Die volgehoue vervolging van talle nie-Katolieke in Katolieke lande soos Argentinië antwoord ontkennend. Trouens, gedurende die sestigerjare het kardinaal Arriba y Castro beweer: “Ons moet onthou dat slegs die Katolieke Kerk die reg het om die evangelie te verkondig. Proselitisme in ’n Katolieke staat is sleg en moet onderdruk word.” Kardinaal Ottaviani, destyds die invloedrykste kerkvors naas pous Paulus VI, het wesenlik dieselfde mening uitgespreek. The Catholic World van Maart 1965 het van hom gesê:

“Sy idee van godsdiensverdraagsaamheid kan kortliks soos volg opgesom word: alhoewel daar nie gesê kan word dat waarheid en dwaling as sodanig met regte in verband staan nie, moet ’n mens aanvoer dat persone wat die waarheid bely regte behoort te geniet wat diegene ontsê word wat dwaling bely. Op hierdie grondslag sal die Katolieke Kerk, indien dit sterk genoeg is, daarop aandring dat die Staat dit ’n bevoorregte posisie gee en die bedrywighede van ander godsdiensgroepe aan bande lê. Indien die Kerk egter self ’n minderheidsgroep is, sal dit òf aanspraak maak op die vryheid wat deur ’n liberale staat gewaarborg word òf in die naam van die regte van die mens protesteer teen verdrukking deur ’n bewind soos die Kommunistiese Staat.”

Vir baie toehoorders het die pous se woorde weer eens, in die lig van die Katolieke Kerk se reputasie van verdrukking, nie alleen hol geklink nie, maar ook baie skynheilig. Pous Johannes Paulus II self is moontlik opreg in sy begeerte dat almal godsdiensvryheid moet geniet. Gedurende die Tweede Vatikaanse Konsilie, toe hy biskop Karol Wojtyla van Krakau, Pole, was, het hy aangevoer dat die Kerk nie op godsdiensvryheid aanspraak kon maak tensy hy dit aan ander toestaan nie. Die tyd sal dus leer of die Kerk se dade gaan strook met die pous se woorde oor hierdie saak.

GELYKE VERDELING VAN RYKDOM

Die grootste beroepe van die pous gedurende sy besoek aan Amerika was waarskynlik dat die mense materialisme moet verwerp en dinge met die armes moet deel. ’n Paar uur na sy lesing voor die Verenigde Volke oor hierdie saak, het hy vir ’n gehoor van sowat 80 000 by New York se Yankee Stadion gesê: “Ons moet ’n eenvoudige lewenswyse vind. Want dit is nie reg dat die lewenstandaard van die ryk lande moet probeer om ditself te handhaaf deur ’n groot deel van die energiereserwes en grondstowwe te verorber wat gegee is om die hele mensdom te dien nie.”

Maar watter uitwerking meen jy dat daardie woorde sal hê wanneer dit kom van ’n man wat in koninklike gewaad geklee is, wat in pragtige limousines rond ry en in groot weelde lewe? Biskop Mariano Gaviola, sekretaris-generaal van die Filippynse Biskopskonferensie vir 1970, het ’n mens ’n idee gegee toe hy gesê het: “Wanneer die biskoppe [en ons kan byvoeg, die pous] omkopery en verdorwenheid in die regering veroordeel en hulle uitspreek teen die misbruik van rykdom, wonder party mense of dit nie ’n geval is van die pot wat die ketel verwyt nie.”

Die Katolieke Kerk se vertonings van rykdom bekommer baie Katolieke. Op 2 September 1967 het The Province van Kanada die volgende gesê waar dit berig het oor die beskouings van Augustynse monnik Robert Adolfs:

“Vader Adolfs sê reguit dat die Kerk kan voortbestaan slegs indien dit die voorbeeld van Jesus Christus volg deur ontslae te raak van alle ‘vorstelike praal’ en die nederige rol van ’n dienskneg aan te neem. . . .

“Hy sê die pous, en die kardinale en biskoppe, moet ophou om swierige gewade en krone en ander dinge te dra wat ‘’n mens laat dink aan ’n koninklike hof’ eerder as aan ’n dienskneg wat die voete van sy broers was.”

Pous Johannes Paulus II het klaarblyklik tot ’n beperkte mate probeer om die beeld van prag en praal te vermy. Net soos sy voorganger Johannes Paulus I het hy die pouslike draagtroon vir oudiënsies verwerp. Maar is dit genoeg?

In 1971 het kardinaal Jose Clements, hoof van Bolivia se Katolieke Kerk, aan die hand gedoen dat die Kerk ontslae moet raak van die skatte wat dit oor die eeue heen versamel het en die geld moet gebruik om huise, skole, paaie en nywerhede te bou. “Ware armoede gee aan die kerk gesag en geloofwaardigheid”, het hy gesê.

Maar sal die Kerk hierdie voorstel aanvaar? Sal hy sy rykdom met die armes deel, soos die pous die ryk nasies aangeraai het om te doen? Die Kerk was nie geneë om dit in die verlede te doen nie; of hy dit wel in die toekoms gaan doen, sal ons maar moet wag en sien.

Die werklik belangrike vraag is egter nie: Sal die Kerk se dade met die pous se woorde strook? nie. Dit is eerder: Sal dit doen wat die Bybel leer?

GOD SE BELOFTE VAN IETS NUUTS

Die pous se boodskap aan die Verenigde Volke het in werklikheid niks nuuts aangebied nie. Dit was basies dieselfde boodskap as dié van pous Paulus VI, wat 14 jaar tevore in sy toespraak aan die V.V.O. gesê het: “Die volke van die aarde wend hulle na die Verenigde Volke as die laaste hoop op harmonie en vrede; ons wil van hierdie geleentheid gebruik maak om, saam met hulle huldeblyk en betuiging van hoop, ook ons eie hulde te bring.”

Die Katolieke Kerk het deurgaans die een of ander vorm van menseregering gesteun as die oplossing vir die mensdom se probleme. Dit verbaas ons dus nie dat sy leiers die V.V.O. onderskrywe nie. Maar vra jouself af: Is dit wat Christus sou gedoen het? Lees jy byvoorbeeld ooit dat hy hulde aan die Romeinse Ryk gebring het as die laaste hoop op harmonie en vrede?

Dit was nie Christus se boodskap nie. Die tema van sy leer was eerder die koninkryk van God, iets heeltemal verskillend van wat mense aangebied het. In die Bybel verwys Jesus en sy dissipels meer as 140 keer na God se koninkryk. Hulle het geweet dat dit ’n werklike regering met Christus, die “Vredevors”, as God se aangestelde heerser is (Jes. 9:5). Die Bybel leer dat daardie Koninkryksbewind “al daardie koninkryke [van menslike oorsprong, die Verenigde Volke inkluis, sal] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan”.—Dan. 2:44; Matt. 6:9, 10.

God se koninkryk sal ’n nuwe bewind vir die aarde wees. Die Bybel verwys daarna as ’n “nuwe hemele”—’n nuwe hemelse administrasie. Dit sal heers oor “’n nuwe aarde”—’n nuwe gemeenskap wat volgens God se regverdige wette lewe. Die apostel Petrus het geskrywe:

“Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon,”—2 Pet. 3:13.

Wat ’n uitstekende geleentheid het pous Paulus VI sowel as Johannes Paulus II tog gehad om die Bybel se boodskap oor God se inkomende wêreldregering aan die V.V.O. te leer! Dit is beslis wat ’n mens kon verwag van een wat daarop aanspraak maak dat hy ’n opvolger van Petrus en ’n verteenwoordiger van Jesus Christus is. Maar hierdie manne het toe nie ’n enkele woord oor God se belofte van iets nuuts geroep nie!

Dit is duidelik dat die pous geen boodskapper van ware hoop is nie. Hy het nie getrou die voorbeeld van Jesus Christus gevolg wat sy Vader se naam en voornemens bekend gemaak het nie. Johannes Paulus II, wat bekend is vir sy sang, het weliswaar God se naam in sang gebruik en selfs vir ’n skare in Haarlem, New York, gesê: “Halleluja is ons lied.” Maar hoeveel besef dat die uitdrukking “Halleluja” God se naam bevat en beteken: “Loof Jah (Jehovah)”?b

Die pous het klaarblyklik nie die gedagtes van daardie Halleluja-lied nageleef nie. Hy het nie God se naam Jehovah bekend gemaak nie. Hy het ook nie gevolg in die voetstappe van Jesus Christus, wat gesê het nie: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.”—Luk. 4:43; Joh. 17:6.

[Voetnote]

a Pous Paulus VI se ensikliek “Ontwikkeling van volke”, afdeling 31.

b Webster’s New Collegiate Dictionary.

[Prente op bladsy 5]

[New York Post, August 27, 1940, Blue Final Edition, p. 15]

Nazi Army Praised

German Catholic Bishops Loyal

[New York Times, September 25, 1939, Late City Edition, p. 6]

GERMAN SOLDIERS RALLIED BY CHURCHES

Protestant and Catholic Exhort to Reich Victory and Just Peace

[New York Times, December 7, 1941, Late City Edition, p. 33]

‘WAR PRAYER’ FOR REICH

Catholic Bishops at Fulda Ask Blessing and Victory

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel