Vrae van lesers
• Waarom vier Jehovah se Getuies nie verjaarsdae nie?
Dit is basies omdat hulle die Woord van God eerbiedig en baie graag op die aanduidings daarvan wil reageer.
Verjaarsdagvierings is dwarsoor die wêreld gewild, en dit is al duisende jare die geval. Daar is dikwels ’n partytjie, en geskenke word gegee. Maar sê die Bybel iets oor verjaarsdae?
Daar kan sommer aan die begin gemeld word dat die Bybel ’n mens nie afraai om milddadig geskenke aan ’n dierbare te gee nie (Gen. 33:10, 11; Luk. 15:22; 2 Kor. 8:19). Dit raai ’n mens ook nie af om ’n fees of ’n partytjie te geniet nie, want matige etery en drinkery word aanbeveel as ’n manier om die lewe te geniet (Pred. 3:12, 13). Jesus het ’n bruilof bygewoon. Job se kinders het moontlik oesfeeste gevier wat die geleentheid vir familiereünie gebied het. Abraham het ’n fees gereël toe Isak gespeen is (Joh. 2:1, 2; Job 1:4, 5, 13; Gen. 21:8). En hoewel God die Jode nie beveel het om dit te doen nie, het hulle ’n jaarlikse fees gevier om die hertoewyding van die tempel te herdenk, ’n fees wat Jesus bygewoon het.—Joh. 10:22, 23.
Die Bybel toon egter dat ons rede het om versigtig te wees, want dit sal nie reg wees om sommer aan enige viering deel te neem ongeag die rede of aard daarvan nie (Ex. 32:1-6; 1 Pet. 4:3; 1 Kor. 10:20, 21). Wat van verjaarsdaggelukwense en -vierings?
Dit is duidelik dat talle ware aanbidders verslae van geboortedatums gehou het. Priesters en ander het geweet hoe oud hulle is. So iets is nie sommer geraai nie (Num. 1:2, 3; 4:3; 8:23-25). Maar daar is niks in die Skrif wat te kenne gee dat ware aanbidders jaarlikse verjaarsdagvierings gehad het nie.
Die Bybel vertel slegs van twee verjaarsdagvierings, albei van persone wat nie knegte van die ware God was nie.
Die eerste was dié van Farao van Egipte. Dit is gekenmerk deur die teregstelling van Farao se bakker, wat saam met Josef in die tronk was (Gen. 40:18-22). Waar hy oor Genesis 40:20 kommentaar lewer, sê dr. Adam Clarke: “Dit blyk uit hierdie teks dat die herdenking van ’n geboortedag deur ’n fees ’n baie ou gebruik is. Dit het waarskynlik sy ontstaan gehad by die gedagte dat die siel onsterflik is, daar die begin van lewe baie belangrik moet wees vir ’n persoon wat glo dat hy vir ewig sou lewe.”
Die tweede, sowat 1 800 jaar later, was die verjaarsdag van Herodes Antipas. Die verslag in Markus 6:21-24 lui:
“En op die geskikte dag, toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy groot manne en die owerstes oor duisend en die vernaamstes van Galilea ’n maaltyd gegee het; en toe die dogter van dieselfde Herodias inkom en dans, en Herodes en die wat saam aan tafel was, behaag, sê die koning vir die meisie: Vra my net wat jy wil, en ek sal dit aan jou gee. En hy het vir haar gesweer: Net wat jy my vra, sal ek jou gee, al was dit ook die helfte van my koninkryk. Daarop gaan sy uit en sê vir haar moeder: Wat sal ek vra? Toe antwoord sy: Die hoof van Johannes die Doper.”—Kyk ook Mattheüs 14:6-11.
Dr. Richard Lenski lewer die volgende kommentaar oor die verslag van Herodes se verjaarsdag: “Die Jode het verjaarsdagvierings as ’n heidense gebruik verafsku, maar die Herodesse het selfs die Romeine met hierdie vierings oortref, sodat ‘Herodes se verjaarsdag’ (Herodis dies) ’n spreekwoord vir ’n buitensporige feestelike vertoning geword het.”
Hoe moet ons hierdie twee verjaarsdagvierings beskou? Is dit net toeval dat hulle gemeld word en dat albei vierings was vir persone wat nie God se goedkeuring weggedra het nie? Of is dit moontlik dat Jehovah doelbewus hierdie besonderhede laat opteken het in sy Woord, wat hy beskryf as “nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing”? (2 Tim. 3:16). Daar kan op die minste gesê word dat hierdie twee verslae verjaarsdagvierings uit ’n Bybelse oogpunt in ’n ongunstige lig stel, as ’n gebruik van diegene wat van God vervreem is.
Dit is ook opmerkenswaardig dat God nie die presiese datum van Jesus se geboorte laat opteken het nie, wat beslis die allerbelangrikste verjaarsdag sou gewees het indien God se knegte verjaarsdae moes vier. Die Bybel verstrek eerder die datum van Jesus se dood en beveel Christene om dit elke jaar te herdenk (Luk. 22:19; 1 Kor. 11:23-26). Dit stem ooreen met die feit dat die Bybel sê dat die dag van ’n persoon se dood betekenisvoller is as die dag van sy geboorte indien hy tydens sy lewe ’n goeie naam by God verkry het.—Pred. 7:1, 8.
In harmonie met die Skriftuurlike aanduidings het die vroeë Christene nie verjaarsdae gevier nie.
“Die opvatting van ’n verjaarsdagfees was ver van die idees van die Christene van hierdie tyd oor die algemeen.”—The History of the Christian Religion and Church During the First Three Centuries, deur Augustus Neander.
Met verloop van tyd en namate ’n afval van die suiwer Christelike godsdiens plaasgevind het, is daar begin om die dood te herdenk, nie die geboorte nie.
“Die verering van die martelaars het aanleiding gegee tot ’n oordrewe ophef van die toneel en dag van hulle dood. Op ’n ingewing is die dag van ’n martelaar se dood sy verjaarsdag genoem. Die plekke waar die martelaars gesterf het, is met groot ontsag beskou. . . . Op die herdenkingsdae was die dienste [in die kerke] hoofsaaklik gewy aan ’n bespreking van sy dienste en karakter. . . . Daar moet egter onthou word dat hierdie [jaarlikse] gedenkdienste geen deel van die algemene orde van die Kerk was nie.”—History of the Christian Church, deur dr. John F. Hurst. Dl. 1. ble. 350, 351.
Hoewel die Bybel dus nie ’n spesifieke verbod teen verjaarsdagvierings bevat nie, het Jehovah se Getuies al lank die Skriftuurlike aanduidings in aanmerking geneem en nie verjaarsdae gevier nie. In hierdie opsig stem hulle gedrag ooreen met die patroon van die vroegste Christene.
En hoewel daar geen Bybelse regverdiging vir ’n jaarlikse viering van ’n Christen se dood is nie, kan ons saamstem dat die sterfdag beter is as sy geboortedag. Ons moet dus nie op die geboortedag konsentreer nie, maar ons moet probeer om elke dag Christus se voorbeeld na te volg en God se beeld te weerspieël. Indien ons sterf, sou ons God deur ons lewenswyse verheerlik het en sal hy ons beslis onthou.—Hebr. 5:9; 11:6; Filip. 3:8-11.
• In Kolossense 3:23 word Christene vermaan om hulle here “van harte” te dien “soos vir die Here en nie vir mense nie”. Beteken dit dat sekulêre werk wat gedoen word asof dit vir Jehovah gedoen word deel van ons heilige diens is?
Die Griekse woord la·trei’a, wat in die New World Translation met “heilige diens” vertaal word, verwys na toegewyde aanbidding of diens aan God (Rom. 12:1, NW). Jesus self het getoon dit behels dat ’n mens allereers aan Jehovah getrou moet wees (Matt. 4:8-10; Luk. 4:5-8). Dit is diens wat daarop gemik is om die belange van Jehovah se koninkryk te bevorder.
In vervloë tye het God se toegewyde nasie, Israel, “heilige diens” verrig in gehoorsaamheid aan die vereistes van die Wetsverbond om “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” vir Jehovah te word (Ex. 19:5, 6). Hierdie diens het tipes en skaduwees bevat van werklikhede wat later hul verskyning sou maak onder die Nuwe Verbond-reëling wat met God se koninkryk in die hande van Christus Jesus in verband staan (Hebr. 8:5; 9:9, 14). Gesalfde Christene is dus meegedeel: “Laat ons, aangesien ons ’n koninkryk gaan ontvang wat nie geskud kan word nie, voortgaan om onverdiende goedheid te hê, waardeur ons op welgevallige wyse heilige diens vir God kan verrig met godvrugtige vrees en ontsag” (Hebr. 12:28, NW). Hulle metgeselle, die “groot menigte”, wat na ewige lewe op aarde uitsien, moet eweneens godvrugtige vrees aan die dag lê terwyl hulle hulle toegewese “heilige diens” in die aardse voorhof van Jehovah se tempel verrig.—Openb. 7:9, 15.
Word hierdie “heilige diens” verrig bloot deur ‘’n goeie lewe te lei’, ’n goeie voorbeeld te wees in die wyse waarop ’n mens jou gesin grootmaak en vir hulle sorg, die huis netjies hou, jouself op skool toelê, ensovoorts? Nouliks, want die Israeliete het sulke dinge gedoen bo en behalwe die heilige diens wat Jehovah hulle beveel het om te verrig (Ex. 7:16; 12:25, 26 [la·trei’a, Griekse Septuaginta]). En hoewel die Sabbatwet vereis het dat hulle ‘dien en ses dae lank al hulle werk doen’, is daar selfs op die sewende dag sekere heilige dienste verrig, soos tydens feeste en onderrigting in die sinagoges.—Ex. 13:5, 6; 20:9; Hand. 13:14, 15; 18:4.
Daar is vandag mense wat rein, sedelike lewens lei maar wat hoegenaamd nie in God of sy voornemens belangstel nie. Hulle lewens kan beslis nie as “heilige diens” beskryf word nie. Dit is duidelik dat dit spesifiek te doen het met diens aan God wat verrig word uit waardering vir heilige dinge—buitengewone dinge wat die opoffering van tyd en energie verg. Dit verskil van sekulêre werk of alledaagse take, hoewel hierdie take in die geval van Christene ook “tot verheerliking van God” gedoen moet word.—1 Kor. 10:31; Rom. 1:9.
In hierdie tyd voor die “groot verdrukking” verg ons “heilige diens” in die besonder gehoorsaamheid aan Jesus se bevele om “hierdie evangelie van die koninkryk” te verkondig en aan ander te leer deur die mense te waarsku en dissipels te maak (Matt. 24:14, 21; 28:19, 20). Dit sluit ook ons samekomste vir aanbidding, ons gesinstudies van die Bybel en besprekings van die dagteks in. Dit omvat ook spesiale diens op die pionier- en sendinggebiede, en in Bethelhuise wat funksioneer om geestelike voedsel te voorsien en die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies goed te organiseer. Dit sluit die dienste van reisende en gemeentelike opsieners en bedieningsknegte in wanneer hulle na die geestelike belange van hulle broers omsien (Deut. 31:12, 13; 6:4-9; Ef. 6:4; Hand. 1:8; 20:28; 1 Pet. 5:2, 3; 1 Tim. 3:1, 12, 13). Hierdie “heilige diens” van God se hele georganiseerde volk word met toegewyde harte verrig, en met behulp van Jehovah se gees en sy heilige engele (Filip. 3:3; Hand. 27:23). As ons deur sulke diens aanhou om ‘eers die koninkryk en God se geregtigheid te soek’, sal Jehovah toesien dat die daaglikse lewensbenodigdhede vir ons “bygevoeg” word.—Matt. 6:33; Luk. 12:31.
Ons “heilige diens” moet op dieselfde lees geskoei wees as die soort diens wat Jesus op aarde verrig het (1 Pet. 2:21-23). Dit word gedoen uit liefde vir God en naasteliefde, die soort selfopofferende liefde waarin Jesus die voorbeeld gestel het (Mark. 12:30, 31; Joh. 13:34; 15:13). Hierdie diens lê klem op ons openbare predikingswerk, want ons word meegedeel: “Laat ons dan gedurig deur [Jesus] aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” Moet ook nie vergeet van “die weldadigheid en mededeelsaamheid nie”—nee, nie as blote liefdadigheid nie, maar uit die hart ten behoewe van mede-aanbidders. Wanneer ons broers dus behoeftig is, weens ’n ramp ly of in die nood verkeer, sal ons liefdevolle hulp verleen sodat almal aangespoor kan word om die belydenis van hulle hoop onwankelbaar vas te hou. “God het ’n welbehae aan sulke offers.”—Hebr. 10:23-25; 13:15, 16; Rom. 10:10-15; Jak. 1:27.
Moet jy jou beskouing van “heilige diens” wysig? Doen dit dan in die gees van Tweede Korinthiërs 13:11 (NAB): “Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal met julle wees!”