NADER ONS ARMAGEDDON?
“Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.”—Matt. 24:21.
1. (a) Wat dink party mense is “Armageddon”? (b) Is Armageddon net nog ’n oorlog tussen nasies?
DIE woord “Armageddon” klink vir baie mense onheilspellend. Vir party beteken dit die “einde van die wêreld” wanneer alle menselewe uitgewis gaan word en die aarde onbewoonbaar gemaak gaan word, moontlik deur ’n kernoorlog tussen nasies. Die Afrikaanse woord “Armageddon” slaan weliswaar op ’n rampspoedige gebeurtenis, ’n oorlog. Maar die Bybel sê dat dit “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” is wat gevoer gaan word by die plek wat “Armageddon” genoem word.—Openb. 16:14, 16.
2. Sal Armageddon die einde van die mensdom of die einde van die aarde beteken?
2 Kan God se oorlog, Armageddon, moontlik die einde van die hele mensdom of die einde van hierdie planeet beteken? Nee, glad nie. God se Woord verseker ons: “So sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word.”—Jes. 45:18.
3. Wat sal Armageddon bereik?
3 Hoewel Armageddon nie die einde van die hele mensdom of van die aarde gaan beteken nie, sal dit beslis die einde beteken van ’n stelsel van dinge (of “wêreld”) soos ons dit ken. Armageddon sal God se manier wees om heeltemal ontslae te raak van vandag se verslegtende politieke, ekonomiese, maatskaplike en godsdiensstelsels wat soveel droefheid veroorsaak. “My strafoordeel” sê Jehovah, is “om nasies te versamel, koninkryke te vergader om my grimmigheid oor hulle uit te stort, al die gloed van my toorn” (Sef. 3:8). God se oorlog, Armageddon, sal dus die voltrekking van sy strafoordeel wees aan “konings”, “nasies” en “koninkryke”. Ander wat ook deur hom veroordeel gaan word, is volgens die Bybel die ondersteuners van hierdie huidige, goddelose stelsel van dinge, die “owerstes”, “sterkes”, “vrymense”, “slawe” en “klein sowel as groot”.—Openb. 16:14; 19:18.
4. Hoe beskryf Bybelprofesie toestande na Armageddon?
4 Die einde van die huidige stelsel sal die weg baan vir ’n splinternuwe orde wat deur God geskep gaan word, ’n mensegemeenskap waarin die wil van God sal geskied “soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:10). Volgens Bybelprofesie sal “geregtigheid” in daardie nuwe orde na Armageddon “woon” (2 Pet. 3:13). Hoe verkwikkend, hoe opwindend sal dit tog wees na soveel eeue van ongeregtigheid, lyding, hartseer en trane! Wanneer God se wil oor die hele aarde geskied en daar geregtigheid heers, sal ’n tyd van ongekende geluk ingelui word. Die Bybel voorspel: “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Ps. 37:11). Dit is geen wonder dat Jesus dit “Paradys” genoem het nie.—Luk. 23:43.
DIE KOMENDE “GROOT VERDRUKKING”
5. Wat is die “groot verdrukking” en hoe weet ons dat dit slegs ’n kort rukkie sal duur?
5 God se oorlog, Armageddon, sal die laaste deel wees van ’n tydperk wat die “groot verdrukking” genoem word. Jesus het soos volg daarvan gepraat: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21). As ons die rampe van die verlede in gedagte hou, is dit duidelik dat die komende “groot verdrukking” ’n tyd van omwenteling gaan wees sonder enige gelyke in die ganse geskiedenis van die mensdom. Maar genadiglik sal dit slegs ’n baie kort rukkie duur, want God gaan dit “verkort”.—Matt. 24:22.
6. Waarom kan ons die “groot verdrukking” met vertroue tegemoetgaan?
6 Hoewel die “groot verdrukking” die allerverskriklikste tyd sal wees, kan ons egter vertroos word deur die feit dat dit die allerbeste tyd—in God se nuwe orde—onmiddellik voorafgaan. Daar is ook die baie verblydende vooruitsig dat baie mense wat nou lewe daardie komende tyd van moeilikheid gaan oorlewe! God se Woord beloof dat “’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” as oorlewendes “uit die groot verdrukking [sal] kom”. God het selfs nou al alle trane van hulle oë afgevee (Openb. 7:9, 14, 17). Jesus was gevolglik baie optimisties oor die toekoms, al het hy geweet dat die mensdom nog die “groot verdrukking” moes verduur. Sy hoopvolle woorde was: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”—Luk. 21:28.
7. Waarom besef ander dat daar ’n klimaks in menseaangeleenthede aan die kom is?
7 Dit is al dekades lank net Jehovah se Getuies wat op die internasionale toneel druk besig is om die waarskuwing te rig oor hierdie komende tyd van moeilikheid wat op Armageddon gaan uitloop (Mark. 13:10). Soms voel ander egter aan dat iets rampspoedigs aan die kom is, want hulle sien hoedat wêreldtoestande vererger sonder enige hoop op ware of blywende verbetering. Op 4 Mei 1980 het die redakteur van Miami se Herald, Jim Hampton, byvoorbeeld geskryf:
“Trek jou maag ook deesdae op ’n knop? Die verskriklike knop wat jou snags wakker hou en vir jou sê dat daar iets ernstigs met jou land en met die hele wêreld skort? Die knop wat jou soms laat ril omdat jy so pas besef het dat Armageddon nie net ’n allegorie is waarvan jy in die Bybel lees nie, maar dat dit ’n werklikheid is? En dat die vuurhoutjie vir die eerste keer in jou lewe so na aan die lont is dat Armageddon werklik moontlik is?
“Ek het daardie knop. En ek is nie skaam om dit te erken nie, want ek het ’n dosyn van my vriende gevra of hulle dit ook het, en daar is nie een wat dit nie het nie. . . .
“Enigiemand met ’n halwe, logiese verstand kan die betekenis van die rampspoedige gebeure van die afgelope paar jaar reg vertolk en besef dat die wêreld op ’n geskiedkundige drempel staan. Dis ’n drempel wat net so belangrik is soos die Renaissance, die Industriële Rewolusie of die Elektroniese Eeu. Dit sal mense se lewenswyse vir ewig verander.
“Maar anders as daardie drempels, wat die beskawing se vooruitgang wesenlik bevorder het, besit hierdie een . . . die potensiaal vir boosaardigheid op ’n skaal wat die wêreld nog nooit gesien het nie.”
Hoewel hierdie redakteur Armageddon nie heeltemal uit die Bybelse verband gesien het nie, het hy reg gehad toe hy gesê het dat die mensdom ’n tyd van moeilikheid nader “op ’n skaal wat die wêreld nog nooit gesien het nie”. Wat die mensdom eintlik nader, is die “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” net soos Jesus voorspel het.
8. Watter informasie het ons nodig, en waarom?
8 As ons die lewe liefhet en graag in ’n regverdige nuwe orde wil lewe wat God gaan skep, is dit noodsaaklik dat ons meer te wete kom oor hierdie “groot verdrukking” en sy Armageddon-klimaks. Ons het gesaghebbende antwoorde nodig op vrae soos: Hoe weet ons dat ons werklik die “groot verdrukking” nader? Watter gebeurtenis sal ’n gewisse teken wees dat dit begin het?
HOE ONS WEET DAT DIT NABY IS
9, 10. Hoe beskryf die Bybel die tydperk wat die “groot verdrukking” voorafgaan?
9 Toe Jesus gepraat het oor die komende “groot verdrukking” het hy ook party van die dinge voorspel wat sou toon dat dit voor die deur is. By een geleentheid het sy dissipels vir hom gevra wat die “teken” van die “voleinding van die wêreld” sou wees (Matt. 24:3). Jesus het gepraat van ’n bepaalde geslag wat probleme op ’n ongekende skaal sou begin ondervind. Hy het internasionale oorlog, siekte-epidemies, voedseltekorte en aardbewings “op verskillende plekke” vir daardie geslag voorspel. Hy het hierdie dinge “’n begin van die smarte” genoem. Die moeilikhede sou so groot wees dat daar “op die aarde [groot] benoudheid van nasies in hulle radeloosheid” sou wees terwyl baie “mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”.—Matt. 24:7, 8, 34; Luk. 21:10, 11, 25, 26.
10 Omtrent 32 jaar later het die apostel Paulus, onder inspirasie van God se heilige gees, die volgende profesie oor die “voleinding van die wêreld” neergeskryf: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand.” Die profesie sê ook dat “goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” en dit toon dat daar na die begin van die “laaste dae” ’n toenemende agteruitgang in mense-aangeleenthede sou wees, iets wat sou uitloop op die uitbreek van die “groot verdrukking”.—2 Tim. 3:1-5, 13.
11, 12. Waarom was die jaar 1914 ’n keerpunt in die geskiedenis?
11 Die tydperk waarna Jesus en geïnspireerde Bybelskrywers soos Paulus verwys het, is ongetwyfeld die tydperk waarin ons nou lewe! Trouens, dit duur al voort sedert die “keerpunt” in hedendaagse geskiedenis, die jaar 1914, waarin die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het. Baie geskiedkundiges verwys korrek na daardie jaar as die beslissende jaar vir die mensdom, want dit is die jaar waarin die wêreld ’n tydperk van moeilikheid binnegegaan het wat nog nooit tevore op so ’n aardwye skaal ondervind is nie. Die Eerste Wêreldoorlog was ’n bewys hiervan, aangesien dit soveel erger as enige vorige oorlog was dat dit destyds “Die Groot Oorlog” genoem is. Dit was die eerste globale of wêreldoorlog. Dit was volskaalse oorlogvoering en het so te sê elke land van die aarde geraak.
12 Die boek La Grande Guerre (Die Groot Oorlog) deur generaal Richard Thoumin, wat oorspronklik in Frankryk gepubliseer is, sê van die Eerste Wêreldoorlog: “Die bloed en trane van die Eerste Wêreldoorlog het die voorkoms van die aarde verander.” Die generaal het ook geskryf:
“Toe die wapens uiteindelik in November 1918 neergelê is, het tienmiljoen manne hulle lewens verloor, en is dubbeld soveel gewond of vermink. Dit is geen wonder dat die stryd die ‘Groot Oorlog’ genoem is nie . . .
Die unieke ‘grootheid’ van die Eerste Wêreldoorlog . . . was in omvang en syfers, in industriële produksie en materiële vernietiging. . . . Nog nooit het soveel lande en sulke groot leërs in sulke reuse-veldslae teenoor mekaar te staan gekom nie; nog nooit is sulke groot aantalle vegters gedood of vermink nie; nog nooit het die mens met sulke magtige wapens oorlog gevoer nie.”
13. Watter ander gebeure gedurende die Eerste Wêreldoorlog en kort daarna toon dat die “laaste dae” toe begin het?
13 In 1918, nog voor die einde van die oorlog, het die Spaanse griep-epidemie oor die aarde begin trek. Dit het meer as 20 miljoen mense gedood, meer as die aantal wat tydens die oorlog gesterf het. Gedurende en na die oorlog het miljoene meer weens verhongering gesterf. Aardbewings het ook ’n hoë tol geëis: in 1915 is sowat 30 000 in Italië gedood; in 1920 het nagenoeg 180 000 in China gesterf; in 1923 het ongeveer 143 000 in Japan vergaan. Dit is met goeie rede dat verslaggewer Frank Peters in St. Louis se Post-Dispatch geskryf het: “In 1914 het die beskawing ’n wrede en moontlik ongeneeslike siekte gekry.” Ja, wêreldoorlog, siekte-epidemies, voedselskaarstes en aardbewings “op verskillende plekke”. Dit was beslis “’n begin van die smarte” wat Jesus voorspel het. Die “laaste dae” die “tyd van die einde” het voorwaar begin!—Matt. 24:8; 2 Tim. 3:1; Dan. 12:4.
MEER GETUIENIS
14. Waarom kan ons sê dat ons diep in die “laaste dae” is?
14 Nou, vroeg in 1981, het 66 jaar verstryk sedert die kritieke jaar 1914. Gedurende daardie tyd het die Tweede Wêreldoorlog ook plaasgevind waartydens sowat 55 miljoen mense gedood is, en wat geëindig het met die vernietiging van twee stede deur atoombomme, iets wat die kerneeu ingelui het. Sedertdien toon toestande dat die mensdom nie in staat is om sy probleme op te los nie, en elke deel van hierdie stelsel van dinge gaan agteruit. Al hierdie dinge sê vir ons dat ons diep in die “laaste dae” is, en dat gebeure vinnig op die “groot verdrukking” afstuur.
15, 16. Wat sê ander oor toestande in ons dag?
15 Teen die einde van 1979 het ekonoom Leonard Silk geskryf: “Hierdie vakansietyd is die skaarsste artikel waarskynlik nie olie nie, maar hoop. Want met die einde van die onstuimige dekade van die sewentigerjare voor die deur, neem die gevare vir die wêreldekonomie—en wêreldvrede—toe. Gedurende die noordelike lente van 1980 het rubriekskrywer Max Lerner gesê: “Die wêreld het skynbaar ’n stadium bereik waar inflasie, stakings, bankrotskap, dweepsug en terrorisme so te sê waarborg dat niks werk en niemand in beheer is nie. Kan enigiemand nog êrens regeer?”
16 Toe daar vir die burgemeester van groot stede in die Verenigde State gevra is waarom so baie van hierdie stedelike gebiede in so ’n betreurenswaardige toestand is, het een geantwoord: “Die probleme is feitlik onoorkoomlik. Enigiemand wat nie gefrustreerd is nie, dink nie.” Daar is vir ’n ander burgemeester gevra of die stede nou “onregeerbaar” is, en hy het gesê dat die feite “daardie indruk wil skep”. Gus Tyler, skrywer van die boek Scarcity, het eweneens gesê: “Aanrandings, diefstal, sluipmoorde op polisiemanne en dwelmsmousery het ’n semi-anargie na baie stede gebring.”
17. Watter gevolgtrekking het intensiewe navorsing ’n groep onder leiding van ’n vername politieke figuur onlangs laat maak?
17 Voormalige kanselier van die Bondsrepubliek van Duitsland, Willy Brandt, het aan die hoof gestaan van groep wat wêreldtoestande twee en ’n halwe jaar lank ondersoek het. Dit was die gevolgtrekking wat hulle onlangs gemaak het:
“Aan die begin van die tagtigerjare staar die wêreldgemeenskap baie groter gevare in die gesig as te enige tyd sedert die Tweede Wêreldoorlog. Dit is duidelik dat die wêreldekonomie nou so sleg vaar dat dit alle nasies se onmiddellike belange sowel as hulle belange op die lange duur benadeel. . . .
“Armoede en honger word ernstiger; daar is reeds 800 miljoen brandarmes en hulle neem toe; tekorte aan graan en ander voedselsoorte vergroot die moontlikheid op honger en verhongering. . . .
“ln ontwikkelende lande sterf daar elke jaar tussen 20 en 25 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf . . .
“’n Aantal arm lande word bedreig deur die onherstelbare vernietiging van hulle ekologiese sisteme terwyl talle meer afstuur op voedseltekorte en moontlik massaverhongering. Wat die internasionale ekonomie betref, bestaan daar die moontlikheid van . . . ’n ineenstorting van krediet omdat groot skuldenaars nie hulle skuld vereffen nie of omdat banke ineenstort . . . [en] ’n groter stryd om invloed of beheer oor hulpbronne wat tot militêre botsings lei.”
18. Watter ander onlangse verwikkelinge in wêreldaangeleenthede bewys dat die weg vir die “groot verdrukking” gebaan word?
18 Voeg hierby die deeglik geboekstaafde verbrokkeling van gesinslewe en die huwelik gedurende onlangse jare, die ontsaglike vermeerdering van allerhande misdade en gewelddadigheid, die verskriklike toename van dwelmmisbruik en alkoholisme, en die vermeerdering van jeugmisdaad. Is dit nie duidelik dat die mensegemeenskap op alle gebiede besig is om te verbrokkel nie, soos Jesus gesê het die geval sou wees net voor die “groot verdrukking”? (Matt. 24:12). Beskou daarbenewens hierdie verwikkeling, soos gemeld in World Press Review: “Die wêreld van die Tagtigerjare is in baie opsigte skrikwekkend, nie net weens die armoede en onreg wat so baie laat ly nie . . . maar weens die werktuie vir globale vernietiging waarmee mense speel.” Dit het daardie vernietigingswerktuie “afgryslik” genoem, en geen wonder nie, want Brittanje se New Scientist berig: “Daar is sowat 60 000 kernplofkoppe in vandag se arsenale, met ’n plofkrag gelykstaande aan meer as 16 000 miljoen ton TNT (gelyk aan 1 250 000 Hirosjima-bomme).” Party van hierdie wapens is so dodelik dat net een bom ’n klein land kan uitwis, of ’n hele deel van ’n groot land. Ja, vir die eerste keer in die geskiedenis is die mens in staat om die meeste lewe op aarde uit te wis.
19. Op wie moet ons vertrou vir die oplossing van vandag se probleme?
19 Moet ons dink dat wêreldleiers hierdie probleme op die een of ander manier sal oplos omdat hulle moontlik opreg, intelligent, op hoogte van sake en invloedryk is? Let op wat die voormalige Amerikaanse Minister van Finansies, Michael Blumenthal, gesê het: “Niemand verstaan die huidige situasie ten volle nie. Dit sluit alle regeringsamptenare wat beleid vorm in. Hulle is net so dronkgeslaan soos jy wanneer hulle soggens die koerant oopmaak. Die feit is dat niemand . . . werklik in staat was om die probleme waarin ons beland het met enige mate van akkuraatheid te voorspel nie.” Maar die Bybel het, en dit voeg hierdie verstandige raad by: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” Maar “welgeluksalig is hy . . . wie se hoop is op die HERE sy God . . . wat trou bly tot in ewigheid.”—Ps. 146:3-6.
20. Waarvan kan ons seker wees, en watter vrae wil ons dus beantwoord hê?
20 Al die toestande wat in Bybelprofesie voorspel is, is beslis hier. Ons is inderdaad baie diep in die “laaste dae” van hierdie stelsel van dinge en nader die laaste deel, die “groot verdrukking” wat met Armageddon gaan eindig. En wat gaan die uitbreek van daardie “groot verdrukking” presies kenmerk? ’n Gebeurtenis wat al ver ontwikkel het. Wat is hierdie gebeurtenis? Die volgende artikel sal dit bespreek.
[Prent op bladsy 12]
ln God se nuwe orde sal mense “hulle verlustig oor groot vrede”