KUBAANSE CHRISTENE VOLHARD GETROU
VERLEDE jaar het meer as 100 000 Kubaanse vlugtelinge die Verenigde State binnegekom. Daar was ongeveer 3 000 Getuies van Jehovah onder hulle, waarvan die meeste met geweld gedwing is om Kuba te verlaat. Waarom?
Dit is deel van die godsdiensvervolging wat hulle in Kuba moes verduur. Jehovah se Getuies is voorstanders van God se koninkryk en verkondig dit as die enigste oplossing vir die mensdom se probleme, net soos Jesus Christus beveel het (Matt. 24:14; 28:19, 20). Die Kubaanse regering hou nie daarvan nie, en maak dus die lewe vir die Getuies moeilik. Maar ondanks selfs wrede vervolging volhard Kubaanse Christene getrou.
Een Getuie-vlugteling vertel hoedat hy kaal uitgetrek, in doringdraad toegedraai en bo-op ’n dak gelos is as voedsel vir muskiete. Wanneer die muskiete gebyt het, het hy geruk en dan het die draad sy vlees geskeur. Hy het baie littekens om hom aan die beproewing te herinner. Ander is in gate vol mensedrek gegooi en dae lank sonder kos daar gehou.
’n Nege-en-tagtigjarige vrou wat steeds in Kuba is, is al 40 jaar lank ’n voltydse Koninkryksverkondiger. Inmekaargetrek en krom hobbel sy met haar kierie rond en vertel sy onverskrokke vir almal wat sy teëkom van God se koninkryk. Hoë amptenare het al met veragting vir haar gesê: “Ou vrou, weet jy nie dat jy opgesluit kan word weens die dinge wat jy doen nie?”
Sy antwoord onverskrokke: “Ek is nou te oud, en sal in elk geval geen doel in die tronk dien nie.” Hulle laat haar dus met rus en sy gaan voort om openlik op straat te preek.
Jongmense volhard ook getrou tydens beproewings van hulle geloof. Vlugtelinge vertel van een Kubaanse knaap wat pas begin skoolgaan het. Sy onderwyseres het vir hom gevra om die halsdoek met die driehoekige onderskeidingsteken te dra. Dit word in Kuba gedra om steun aan die Staat te toon. Die jong Getuie het egter vir die onderwyseres verduidelik dat hy nie so ’n politieke simbool kon dra nie, want hy is ’n aanbidder van Jehovah God.
Die onderwyseres het die seun probeer oortuig om die halsdoek aan te sit, maar tevergeefs. Radeloos het sy straat toe gegaan en ’n polisieman ontbied en hom gevra om die jong seun tot ander insigte te bring. Die polisieman het sy rewolwer uitgepluk, dit teen die seun se kop gehou en hom beveel om die halsdoek te dra—anders gaan hy geskiet word. Na ’n paar sekondes het die knaap opgekyk en gevra: “Waarom skiet u nie, want ek gaan dit nie dra nie?” Stom van verbasing het die polisieman die kamer verlaat.
Die regering het nie alleen baie Getuies in tronke en konsentrasiekampe gesit nie, maar ook die verspreiding van Bybellektuur en die Bybel self beperk. Een vlugteling het vertel dat daar slegs een eksemplaar van die “New World Translation” vir die hele dorp was waar sy gewoon het. Dit is begrawe op ’n plek waarvan net die Getuies geweet het. Wanneer die mense in hierdie dorp ’n stuk Bybellektuur in die hande kry, skryf kinders van selfs nege jaar oud dit met die hand oor. Selfs jongmense leer ken dus Bybelwaarhede goed omdat hulle soveel skryfwerk moet doen.
Een vlugteling vertel dat sy laat een aand die boek “Jou jeug—hoe om dit ten beste te benut” gekry het. ’n Ander Getuie sou dit vroeg die volgende oggend kom haal. Teen daardie tyd het sy dit deurgelees en aantekeninge gemaak. So kon ander in die dorp met die informasie gehelp word. Nadat hy gehoor het hoe die vlugteling hierdie ondervinding vertel, het ’n Getuie van Miami gesê: “Soms toon ons nie die waardering vir Bybelwaarhede wat hierdie broers toon nie.”
Gedurende die afgelope paar maande is al die Getuie-vlugtelinge geborg en het hulle nou plekke om te woon. Baie Getuies in die Verenigde State het hulle huise beskikbaar gestel om hierdie Christene wat hulle nog nooit tevore gesien het nie te huisves—beslis ’n blyk van die liefde wat Christus gesê het sy ware dissipels sou kenmerk.
Die beamptes by die vlugtelingkampe het die kontras tussen die Getuies en ander Kubaanse vlugtelinge waargeneem. Toe beamptes by die Miami-kamp wat in die Orange Bowl opgerig is, gevra is of hulle daarvan bewus was dat daar Getuie-vlugtelinge in die kamp was, het hulle geantwoord: “Natuurlik! Hulle is die voorbeeldigste mense hier.”
Die geloof van die Kubaanse Christene is voorwaar ’n aansporing vir al hulle broers op ander plekke. Ons kan uitsien na meer artikels oor hulle getroue volharding.