Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 7/1 bl. 9-13
  • Katolieke is van die millenniumhoop beroof

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Katolieke is van die millenniumhoop beroof
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VERAGTING VIR “DIE CHILIASME”
  • GETUIENIS VAN DIE “KERKVADERS”
  • WIE IS WAARLIK “APOSTOLIES”?
  • AFVALLIGHEID VERDRAAI DIE CHRISTELIKE HOOP
  • NEO-PLATONISME VERVANG DIE MILLENNIUMHOOP
  • AUGUSTINUS BESLUIT DAT “DAAR GEEN MILLENNIUM SAL WEES NIE”
  • Die Apokalips—Moet ons dit vrees of ons hoop daarop vestig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Christene en die millenniumhoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Die millenniumhoop seëvier
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Die ewige lewe op aarde—’n Herontdekte hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 7/1 bl. 9-13

KATOLIEKE IS VAN DIE MILLENNIUMHOOP BEROOF

DIE hemel of die hel! Wat ’n alternatief! Tog is dit die twee vooruitsigte wat aan miljoene Katolieke, Protestante, Jode en Moslems voorgehou word. Vir Katolieke is daar ook die vaevuur op pad na die hemel. Maar selfs hierdie vrees en hierdie hoop is so vaag dat talle opregte gelowiges twyfel of hulle gegrond is.

Geen wonder dat Franse godsdiensskrywer Jacques Duquesne die volgende gesprekke met twee praktiserende Katolieke kon opteken nie: (Met ’n man) “Glo u aan die hel?—Glad nie, o nee! . . .—En aan die hemel?—Ek dink dit bestaan net so min as die hel.” (Met ’n vrou) “Wat gebeur volgens u mening met ons wanneer ons sterf?—Wanneer ons sterf? Wel, dis nou al etlike jare lank dat ek nie meer glo dat iets oorbly nie.—Wat bedoel u?—Niks bestaan voort nie. Almal kan natuurlik sien dat die liggaam dood is. Wel, dis dieselfde met die siel. Ek weet nie. Ek weet werklik nie. . . .—Maar u glo steeds vas aan God?—Ja, beslis.—Waarom glo u?—Om ’n hoop te hê.”—God for Men of Today (Frans).

Dit is baie duidelik dat die Katolieke Kerk nie vir sy lidmate ’n hoop gegee het wat vaste geloof voortbring nie. Trouens, twyfelgedagtes en selfs ongeloof is party van die slegte vrugte wat nou deur al die tradisionele gelowe van die Christendom gepluk word. In talle oorwegend Katolieke lande was die vae hoop op “hemelse saligheid” nie genoeg om te voorkom dat miljoene mense hulle geloof verloor en hulle tot Kommunisme wend vir die vervulling van hulle natuurlike en geoorloofde begeerte na ’n ordentlike lewe op aarde nie. In ruil vir ’n onsekere hoop op “ewige geluk” in die hemel, is baie skynbaar bereid om hoopvol vir lief te neem met “sewentig jaar” van gelukkige lewe op aarde. En selfs daardie hoop blyk ontwykend te wees.

VERAGTING VIR “DIE CHILIASME”

Baie mense het vandag lou “Christene” geword wat meer belangstel in die hede as in die vervulling van die Christelike hoop. Een rede is dat die Christendom se kerke daardie hoop verdraai het. Hulle praat met veragting van opregte Christene wat op die millennium of duisendjarige bewind van Christus hoop. Die baie gesaghebbende en lywige Franse Dictionnaire de Théologie Catholique definieer “chiliasme” byvoorbeeld soos volg: “Die valse geloof van diegene wat gewag het op ’n wêreldlike bewind van die Messias, wat hulle soms gemeen het ’n duisend jaar lank sou wees. . . . Sedert die vyfde eeu word daar nie meer oor chiliasme gepraat nie, of slegs selde, en dan deur ’n paar eksentrieke sektes.”

Hoewel hierdie gesaghebbende Katolieke werk met minagting praat van diegene wat aan die duisendjarige bewind van die Messias glo, erken dit dat daar voor die vyfde eeu wel oor chiliasme gepraat is. Met ander woorde, die millenniumhoop is gedurende die vyfde eeu uit die gesig verloor. Waarom? Bevestig die geskiedenis wat die Bybel openbaar, naamlik dat die vroeë Christene aan die duisendjarige bewind van Christus geglo het? En indien wel, hoe is miljoene Katolieke en Protestante dan van die millenniumhoop beroof? Laat ons kyk wat agtenswaardige naslaanwerke en geskiedenisboeke in antwoord op hierdie vrae onthul.

GETUIENIS VAN DIE “KERKVADERS”

Katolieke naslaanwerke erken dat baie van die vroegste “Kerkvaders” aan die duisendjarige bewind van Christus, of die millennium, geglo het en dit verkondig het. The Catholic Encyclopedia sê: “’n Latere Katoliek, biskop Papias van Hierapolis, ’n dissipel van St. Johannes [die apostel], het na vore getree as ’n voorstander van ‘die chiliasme’. Hy het beweer dat hy sy leer gekry het van tydgenote van die Apostels, en Ireneüs vertel dat ander ‘ouderlinge’, wat die dissipel Johannes gesien en gehoor het, by hom die geloof in die chiliasme geleer het as deel van die Here se leer. . . .

“Die meeste kommentators vind chiliastiese idees in die Sendbrief van St. Barnabas [vroeë tweede eeu] . . . St. Ireneüs van Lyon, ’n boorling van Klein-Asië wat deur die metgeselle van St. Polycarpus beïnvloed is, het chiliastiese idees aanvaar, en dit in sy werk teen die Gnostici bespreek en verdedig . . . St. Justinus van Rome, die martelaar, stel die leerstelling oor ’n millennium aan die Jode in sy Dialoog met Trifon (hfst. 80-81) . . . St. Melito, Biskop van Sardes in die tweede eeu, is ’n getuie van die voortgesette geloof in die chiliasme in die provinsie Asië. . . .

“. . . Tertullianus, die kampvegter vir Montanisme, verduidelik die leerstelling . . . dat die groot beloofde koninkryk, die nuwe Jerusalem, aan die einde van die tye opgerig sal word en ’n duisend jaar lank sal bestaan. Al hierdie chiliastiese skrywers beroep hulle op verskeie passasies in die profetiese boeke van die Ou Testament, op ’n paar passasies in die Sendbriewe van St. Paulus en op die Openbaring van St. Johannes”. (Ons kursiveer.)

WIE IS WAARLIK “APOSTOLIES”?

Een van die hoofargumente van die Rooms-Katolieke Kerk oor waarom die Protestantse kerke en ook Jehovah se Getuies minderwaardig is, is hulle aanspraak dat hulle die enigste bewaarder van Christelike tradisie is soos dit van die tyd van die apostels af oorgelewer is. A Catholic Dictionary stel dit soos volg: “Die Roomse Kerk is Apostolies, want sy leer is die geloof wat eens aan die Apostels geopenbaar is, ’n geloof wat hy bewaar en verklaar, sonder om daarby te voeg of daarvan weg te neem.” (Ons kursiveer.)

Tog word die manne wat deur The Catholic Encyclopedia as voorstanders van die millenniumhoop gemeld word, deur die Katolieke Kerk as van die vroegste “Kerkvaders” erken. Twee van hulle (Polycarpus en Papias) het volgens oorlewering die apostel Johannes gesien en gehoor en het dissipels ontmoet wat Christus en ander apostels geken het. Al die ander wat aangehaal is, is tweede-eeuse of vroeë derde-eeuse “Vaders” of “Kerkleraars”, en hulle het almal aan die duisendjarige bewind van Christus geglo.

Die baie gesaghebbende Dictionnaire de Théologie Catholique sê selfs dat tydgenote van Papias wat selfs “intelligenter en “skerpsinniger” as hy was, “sy geloof in die duisendjarige bewind gedeel het en hierdie oortuiging beskou het as een van die essensiële dogmas van die Christelike geloof”. Hierdie selfde Katolieke naslaanwerk sê dat hoewel Justinus die Martelaar geweet het dat party van sy tydgenote nie sy siening oor die millennium gedeel het nie, hy van mening was dat hy in hierdie aangeleentheid die “bewaarder van die meer ortodokse leer was”. Met verwysing na Ireneüs sê hierdie woordeboek: “Vir hom is die chiliasme ’n deel van tradisionele leerstellings. . . . Sint Ireneüs dink skynbaar dat ’n mens nie ’n korrekte verklaring van die Skrif kan gee as jy die chiliasme buite rekening laat nie.—Deel X, kolomme 1761, 1762. (Ons kursiveer.)

Wie is dus nader aan die ware apostoliese leer en tradisie: die Rooms-Katolieke Kerk wat diegene wat steeds aan die duisendjarige bewind van Christus glo ’n ‘eksentrieke sekte’ noem—of Jehovah se Getuies, wat die millenniumhoop koester? Hoe het dit gebeur dat hierdie hoop uit die Katolieke dogma weggelaat is?

AFVALLIGHEID VERDRAAI DIE CHRISTELIKE HOOP

In die vorige artikel het ons gesien dat die Jode, as gevolg van die afval wat plaasgevind het gedurende die laaste eeue voor die Gewone Jaartelling, hulle hoop in die opstanding vervang het deur die heidense geloof in die inherente onsterflikheid van die siel en hulle oorspronklike Messiaanse hoop in ’n politieke hoop verander het. Die afval wat onder Christene voorspel is (Hand. 20:29, 30; 2 Thess. 2:3; 1 Joh. 2:18, 19), het eweneens gelei tot ’n verdraaiing van die millenniumhoop.

Joodse geleerde Hugh J. Schonfield het gesê: “Die Christene het eers in die tweede eeu begin wegbeweeg van die hoop op die ondermaanse Koninkryk van God.” “Ondanks beroepe om standvastigheid, lojaliteit en volharding, was baie meer Christene ontnugter en het hulle òf die Kerk verlaat òf dié leraars aangehang wat minder aardgebonde vertolkings van die aard van die Christelike godsdiens aangebied het.”

Omtrent hierdie ‘wegbeweging’ van die hoop op ’n paradys wat deur middel van die hemelse Messiaanse koninkryk of regering op aarde herstel gaan word, sê The New International Dictionary of New Testament Theology (Dl. 2, onder “Paradys”): “Tydens die verdere loop van kerkgeskiedenis is talle buite-bybelse motiewe, prente en gedagtes by die voorstelling van paradys ingelyf. . . . Die bespiegelinge in die kerk oor die paradys en die begrippe van algemene vroomheid word ook verbind aan die feit dat die leerstelling oor die onsterflikheid van die siel na vore gekom het om die plek in te neem van NT-[Nuwe Testament]eskatologie met sy hoop op die opstanding van die dode en die nuwe skepping (Openb. 21 e.v.), sodat die siel ná die dood geoordeel word en na ’n paradys gaan wat, soos daar nou gemeen word, boweaards is”. (Ons kursiveer.)

Met die insypeling van die Griekse leerstelling oor die onsterflikheid van die siel het afvallige Christene dus die paradys van die aarde na die hemel verplaas en die oorspronklike millenniumhoop verwerp. The Encyclopœdia Britannica (1977) erken hieromtrent: “Die invloed van Griekse denke op Christelike teologie het geloof in ’n chiliastiese wêreld ondermyn.”

NEO-PLATONISME VERVANG DIE MILLENNIUMHOOP

Die millenniumhoop was dus ’n slagoffer van die afval. Die vyande daarvan het geen steen onaangeroer gelaat om dit te beveg nie. Waar dit ’n lys verstrek van die teenstanders van die chiliasme, sê die Dictionnaire de Théologie Catholique dat Roomse priester Caius (teen die einde van die tweede eeu en die begin van die derde) “ondubbelsinnig die egtheid van die Openbaring en van die Evangelie van St. Johannes geloën het om die chiliasme te verslaan”. Dieselfde gesaghebbende Katolieke naslaanwerk openbaar ook dat “Sint” Dionysius, ’n derde-eeuse biskop van Alexandria, ’n verhandeling teen die chiliasme geskryf het, en “nie geaarsel het om die egtheid van die Openbaring van Sint Johannes te loën om te voorkom dat die chiliaste hulle geloof daarop baseer nie”.

Ons leer verder in daardie Katolieke woordeboek wat uit 15 bundels bestaan dat die derde-eeuse “Kerkvader” Origenes diegene veroordeel het wat aan die aardse seëninge van die millennium geglo het omdat hulle “die Skrif soos die Jode vertolk”. Om watter ander rede was Origenes so gekant teen die chiliasme? The Catholic Encyclopedia deel ons mee: “In die lig van die Neo-Platonisme waarop sy leerstellings gebaseer was . . . , kon hy [Origenes] nie die kant van die chiliaste kies nie.” Omdat Origenes net soos Plato geglo het aan die inherente onsterflikheid van die siel, was hy verplig om die aardse seëninge van die duisendjarige Messiaanse ryk na die geestelike sfeer oor te plaas.

AUGUSTINUS BESLUIT DAT “DAAR GEEN MILLENNIUM SAL WEES NIE”

Maar dit was ongetwyfeld “Sint” Augustinus wat die millenniumhoop vir Katolieke en selfs Protestante die genadeslag toegedien het. The Encyclopœdia Britannica beskryf hom as “die grootste denker van die Christelike Oudheid” en “die smeltkroes waarin die godsdiens van die Nuwe Testament ten volle met die Platoniese tradisie van Griekse filosofie versmelt is”. Augustinus was ’n kragtige teenstander van die oorspronklike hoop op ’n paradys wat tydens die duisendjarige bewind van Christus op aarde herstel sal word. Ons haal The Catholic Encyclopedia aan: “St. Augustinus was eindelik die mening toegedaan dat daar geen millennium sal wees nie. . . . die groot Kerkleraar . . . gee vir ons ’n sinnebeeldige verduideliking van Hfst. 20 van die Openbaring. Die eerste opstanding, wat deur hierdie hoofstuk behandel word, verwys volgens hom na die geestelike wedergeboorte met doop; die sabbat van ’n duisend jaar na die sesduisend jaar van geskiedenis, is die duur van ewige lewe . . . Hierdie verduideliking van die vermaarde Kerkleraar is deur daaropvolgende Westerse teoloë aanvaar, en die chiliasme in sy vroeër vorm het nie langer steun ontvang nie.”

Dit is nie alleen Katolieke wat aldus van die oorspronklike, Skriftuurlike millenniumhoop beroof is nie, maar ook Protestante. Die Britannica-Macropædia van 1977 sê: “Augustinus se sinnebeeldige chiliasme het die amptelike leer van die kerk geword, en apokaliptisisme [die verwagting van die uiteindelike vernietiging van die kwade en die triomf van die goeie] het ondergeduik. . . . Die Protestantse Hervormers van die Lutherse, Calvinistiese en Anglikaanse tradisies was nie apokaliptici nie, maar het Augustinus se beskouings onversetlik aangehang.”

Katolieke en Protestantse teoloë hou verkeerdelik aan alle regverdiges die hemelse hoop voor wat in die Bybel voorgehou word aan ’n beperkte getal Christene wat geroepe is om saam met Christus as konings, priesters en regters te heers (Openb. 20:4-6; Luk. 22:28-30). Hierdie teoloë bied aan hulle “getroues” ’n vae hoop op “ewige geluk” in die hemel. God se voorneme dat sy wil “soos in die hemel net so ook op die aarde” moet geskied, maak glad nie deel van hulle verwagtinge uit nie (Matt. 6:10). Maar die Bybel bied die wonderlike hoop op ewige lewe, nie net in die hemel vir ’n uitverkore groepie nie, maar ook op aarde vir tallose ander. Hierdie tweevoudige hoop, wat nou verband hou met Christus se duisendjarige bewind of millennium, sal breedvoeriger bespreek word in die twee artikels op bladsye 14-25.

[Prent op bladsy 10]

Tertullianus het geglo dat die beloofde koninkryk opgerig sou word en 1 000 jaar lank sou bestaan

[Prent op bladsy 11]

Origenes het net soos Plato aan ’n onsterflike siel geglo en die duisendjarige bewind oor die aarde geloën

[Prent op bladsy 12]

Augustinus het Griekse filosofie met Bybelleerstellings versmelt en was van mening dat daar geen millennium sal wees nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel