Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 8/1 bl. 21-27
  • Stel geloof in die Koninkryk!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stel geloof in die Koninkryk!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DANIËL SE WAARSKUWENDE WOORDE
  • DIE GESKIEDENIS BEVESTIG DANIËL SE WAARSKUWING
  • DIE “HORINKIE” VERSKYN
  • WAAR IS ONS IN DIE TYDSTROOM?
  • ’n Profetiese reus—Wat sal sy val beteken?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Die opkoms en ondergang van ’n ontsaglike beeld
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Gee ag op God se profetiese woord vir ons dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Deel 7—Die laaste van die groot wêreldmoondhede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 8/1 bl. 21-27

STEL GELOOF IN DIE KONINKRYK!

“Oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag.”—1 Thess. 5:1, 2.

1, 2. Hoe het Jehovah voortgegaan om die verrese Jesus Christus te gebruik?

AS DIE “Woord” of Logos, is Jesus Christus baie deur ons hemelse Vader gebruik (Joh. 1:1-3; Kol. 1:16). Maar Jehovah God het aangehou om Jesus selfs na sy dood en opstanding te gebruik. Dit word goed beklemtoon deur die insiggewende kommentare van die apostel Paulus.

2 Die apostel het duidelik gesê dat dit God se voorneme is om alles in die hemel en op die aarde met hom te versoen en dit deur die vergote bloed van Jesus Christus te doen (Kol. 1:19, 20). Dit strook met Paulus se verklaring dat Jehovah gereël het om “alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig” (Ef. 1:10; Filip. 2:9-11). Maar die kritieke verwikkelinge op hierdie gebied sal ook die oprigting van God se Messiaanse koninkryk en die dramatiese koms van “die dag van die Here” insluit (1 Thess. 5:1, 2). Die Skrif toon baie duidelik wat Christus se rol is sedert hy meer as 1 900 jaar gelede opgevaar het na die hemel. Dit sal goed wees om ons gespanne aandag te skenk aan sy betekenisvolle plek in Jehovah se reëling.

3. Waarom was Jesus bewus van die profetiese woorde wat oor die koninkryksregering gespreek is?

3 As gevolg van sy rol as die Logos of “Woord” voor sy koms na die aarde was Jesus terdeë bewus van die profetiese woorde wat aangaande die Koninkryksregering gespreek is. Gevolglik het Jesus, as mens, die leser genooi om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê wanneer hy peins oor Daniël se woorde in verband met “die tyd van die einde” (Dan. 12:4; Matt. 24:15-22, vgl. NW). Kom ons blaai na die boek Daniël en bespreek ’n paar van die dinge wat Jesus ongetwyfeld as die Logos of “Woord” verstaan het. Want hy was skynbaar die Een wat deur ons hemelse Vader gebruik is om die profete van die ou tyd te laat skryf wat hulle geskryf het.

4. Wat word ons in Daniël 2:44; 7:13, 14 en 12:1 omtrent die Koninkryksregering meegedeel?

4 Wanneer ons dus die boek Daniël met die oog van begrip ondersoek, is daar in die besonder drie interessante mededelings wat ons opval. Die eerste word gevind in Daniël 2:44:

“In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”

’n Verwante mededeling word aangetref in Daniël 7:13, 14, wat sê:

“Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”

Laastens sê Daniël 12:1 die volgende:

“In dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie.”

Hier, in drie passasies van sy profesie, verwys Daniël na die oprigting van die Koninkryksregering, en dit word gegee aan niemand anders nie as ‘die Seun van die mens’ of Migael. Hierdie mededelings verwys duidelik na Christus Jesus in Koninkryksmag.—Openb. 12:7-10.

5. Is dit Skriftuurlik om bewus te wees van ’n tydfaktor vir bewindsaanvaarding deur die Koninkryksregering?

5 Jy sal oplet dat daar in die voorgaande mededelings van Paulus en Daniël ’n tydfaktor gemeld word vir die verskyning en die bewindsaanvaarding van die hemelse regering. As ons bewus is van die tydfaktor, is 1 Thessalonicense 5:1 waarlik op ons van toepassing wanneer dit sê:

“Oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie.”

As ons waarlik die volle betekenis van God se Woord onderskei, veral noudat ons diep in “die tyd van die einde” in beweeg, sal ons nie verras word nie. Ons sal inderdaad persone wees met insig in gebeure wat in verband staan met die tyd van die “voleinding van die wêreld” (Matt. 24:3). Kom ons ondersoek die agtergrond van die drie mededelings van Daniël in verband met die oprigting van die Koninkryksregering.

DANIËL SE WAARSKUWENDE WOORDE

6. Wat word in Daniël 2:40 oor die “vierde koninkryk” gesê?

6 Baie van ons is bekend met die droombeeld wat in Daniël hoofstuk twee beskryf word en weet dat die profeet, met behulp van Jehovah se heilige gees, vir koning Nebukadnesar vertel het wat hierdie beeld beteken het. Dit het ’n opeenvolging van wêreldryke van Babilon af, voorgestel. Ons stel veral belang in die “vierde koninkryk”, waarvan Daniël gesê het:

“Die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis.”—Dan. 2:40.

7. Wat is hierdie “vierde koninkryk”?

7 Watter koninkryk is hierdie ysteragtige een? In Bybelgeskiedenis is die “vierde koninkryk” of wêreldmoondheid, van Babilon af gereken, die Romeinse Ryk, met Medo-Persie en Griekeland tussenin. Die Romeinse Ryk is mettertyd in ’n oostelike ryk en ’n westelike ryk verdeel om dit beter te kon bestuur. Dit was uit hierdie westelike ryk dat die Britse Ryk voortgekom het. As gevolg van die opstand van die Amerikaanse kolonies het die Verenigde State van Amerika tot stand gekom. Om lewensbelangrike, fundamentele redes het hierdie twee lande dit gerieflik gevind om op militêre en ander gebiede saam te werk om in werklikheid die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid te vorm.

8, 9. Watter ooreenkomste is daar tussen Daniël 2:40 en Daniël 7:7?

8 Maar omtrent daardie “vierde koninkryk”—in sy oorspronklike identiteit as die Romeinse Ryk—deel Daniël ons in een van sy ander profesieë mee:

Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was ’n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad.”—Dan. 7:7.

9 As ons Daniël hoofstuk sewe ondersoek, sal ons sien dat die profeet dieselfde vier koninkryke of wêreldmoondhede wat in hoofstuk twee voorgestel word, beskryf. Maar in plaas daarvan om sulke moondhede as dele van ’n beeld te beskryf en met die hoof van goud te begin, beskryf hy hulle as diere. In die sewende hoofstuk begin hy met ’n leeu (Babilon) en eindig met die buitengewoon sterk vierde dier met ystertande. Dit is dus geen toeval dat Daniël 7:7 so baie met Daniël 2:40 ooreenstem nie. In albei hierdie tekste word verpletterende, vermorselende en vreesinboesemende, ysteragtige krag duidelik met hierdie koninkryk van Rome geassosieer. Maar die vraag bly staan: Hoe is dit dat hierdie “vierde koninkryk” twee wêreldmoondhede voorstel?

10. Waaruit ontstaan die “horinkie”?

10 Kom ons lees verder, naamlik Daniël 7:8:

“Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ’n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ’n mond wat groot dinge spreek.”

Hoe interessant! Nog ’n horing begin uit die simboliese dierlike kop van hierdie vierde koninkryk, die Romeinse Wêreldmoondheid, groei. En drie van die bestaande horings word ontwortel om plek te maak vir hierdie uitgroeisel. Wat beteken al hierdie dinge? Kom ons beskou die geskiedenisfeite.

DIE GESKIEDENIS BEVESTIG DANIËL SE WAARSKUWING

11. Waarom is dit interessant om te sien hoe die Romeinse Ryk die gebeure wat deur Daniël beskryf is tot in die fynste besonderhede vervul het?

11 Dit is in werklikheid ‘nie nodig dat iets aan ons geskryf word nie’, want alles is reeds in God se geïnspireerde Woord neergeskryf. As ons daarbenewens geestelik waarlik insigryk is, sal universele gebeure ons nie onverwags oorval soos ’n dief ’n onbehoedsame persoon kan oorval nie. Maar ons moet goed ingelig wees wat die Skrif betref, en dit is interessant om te sien hoe die Romeinse Ryk die gebeure wat in Daniël se profetiese gesigte beskryf is tot in die fynste besonderhede vervul het.

12. Tot watter mate het Rome se oorheersing die Britse Eilande geraak?

12 Rome was uit die staanspoor hoofsaaklik ’n militêre moondheid, en dit het sy invloed en beheer ver uitgebrei. Brittanje, wat destyds baie onder die invloed van stamkoningskap was, het deel van die Romeinse Ryk geword, en daar is dwarsoor die Britse Eilande talle bewyse van sulke oorheersing. Dit sluit die muur in wat keiser Hadrianus dwarsoor die noordelike deel van die Engeland gebou het.

13, 14. (a) Van watter aard was Rome se mag aanvanklik? (b) Maar wat het in die derde en vierde eeu ontwikkel?

13 Namate Rome welvarender en al hoe meer dekadent geword het weens die losbandige lewe van die bewindhebbende klas, het dit as militêre moondheid verswak. Teen die tyd van Nero en daarop volgende keisers was die agteruitgang van Rome se militêre mag duidelik te sien. Maar diegene wat hierdie ryk wou laat voortbestaan, het ’n plan beraam om dit eeue lank ’n groot krag in wêreldaangeleenthede te maak, selfs al was dit nie as ’n militêre moondheid nie. Hoe is dit gedoen?

14 As ons na die derde en vierde eeu G.J. gaan, blyk dit dat Rome ’n baie sterk godsdienstig-politieke mag geword het, benewens ’n militêre moondheid. Daar is listig ’n plan beraam sodat die pouslike gesag in Rome beheer oor ’n groot deel van die destyds bewoonde aarde kon behou. Hierdie reëling was bekend as die feodale stelsel, en met behulp van die Heilige Romeinse Ryk met pouslike Rome as middelpunt, het dit ten minste 1 000 jaar lank die loop van wêreldaangeleenthede bepaal.

15. Hoe het die pousdom honderde jare lank die beheer behou?

15 Onder die feodale stelsel het die oor grote meerderheid mense as landbouers in volslae onkunde en armoede ’n sukkel bestaan gevoer. Daar is verwag dat hulle die gemaksugtige here van die landhuise en kastele dwarsoor Europa, die Britse Eilande inkluis, uit hulle skamelike inkomste moes onderhou. Hierdie leenhere is weer verplig om skatting of belasting te betaal aan die koning in wie se ryk hulle hulle bevind het. Elk van die konings, hetsy in Engeland, Sakse of ander dele van Europa, het basies ’n ondergeskikte bestaan gevoer en daar is van hulle verwag om feodale belasting of skatting aan die pousdom in Rome te betaal. Gedurende daardie lang tydperk wat dikwels die Donker Eeue genoem word, het die pousdom dus groot rykdom en gesag verkry.

16. (a) Hoe is die Heilige Romeinse Ryk goed deur Daniël beskryf? (b) Wat het hy uit die kop van die “vierde dier”, Rome, sien groei?

16 Hoe gepas lyk Daniël se profetiese beskrywing van ’n koninkryk wat voorgestel word deur die ysterbene van die “groot beeld” tog teen hierdie geskiedkundige agtergrond! (Dan. 2:31). En hoe gepas tog die skrikwekkende dier met ystertande wat verslind en vermorsel en in Daniël hoofstuk sewe afgebeeld word! Dit het eers dwarsdeur Europa getier en alles in sy pad deur middel van militêre mag onderwerp. Toe het dit sy mag behou en verder verstewig deur middel van politieke, godsdienstige en handelsondernemings en voorwendsels. Maar wat van hierdie uitgroeisel, hierdie “horinkie”, wat Daniël sien groei het uit die kop van die skrikwekkende “vierde dier” wat Rome voorstel? Wanneer vind dit plaas?

DIE “HORINKIE” VERSKYN

17. Hoe het die “horinkie” begin groei?

17 Tot die jaar 1533 G.J. was die Britse koningskap diensbaar van aard daar dit aan die pousdom onderworpe was. Maar die volgende jaar het koning Hendrik VIII die opperhoof van die Katolieke Kerk van Engeland geword. Hy het bande met Rome verbreek, en hulle met hom. Nou is die rykdom van die Britse Eilande, waarvan ’n groot deel vantevore deur die Rooms-Katolieke Kerk opgeëis is, opgegaar onder die hoofskap van die koning van Engeland oor die Engelse Katolieke Kerk. (Die Katolieke Kerk van Engeland het dieselfde vorm as die Rooms-Katolieke Kerk behou, en dit is tot vandag toe nog in ’n groot mate die geval.) Die mag van die Heilige Romeinse Ryk was aan die afneem, maar ’n “horinkie” was besig om daaruit te groei.

18. In watter posisie was Brittanje teen die tyd van koningin Elizabeth I, en wat het dit vir Frankryk, die Nederlande en Spanje beteken?

18 ’n Paar dekades verstryk en Brittanje bevind homself onder die bewind van koningin Elizabeth I. Intussen het die opgegaarde rykdom van die feodale stelsel in die Britse Eilande sy uitwerking. ’n Gedugte vloot het in aansyn gekom. Onder aanvoering van beroemde manne soos Drake, Raleigh en Hawkins laat die Britse vloot in ’n kort rukkie sy invloed geld in botsings met die vlootmoondhede Spanje, die Nederlande en Frankryk (wat almal steeds onder Rome se rituele oorheersing is) deur hulle almal, onder meer die Spaanse Armada, te verslaan. Brittanje was gevolglik die baas op see en het daaroor gespog.

19. Waarvan sien ons nou ’n wonderlike vervulling as ons Daniël hoofstuk twee en sewe met mekaar vergelyk?

19 Wat sê Daniël 7:8? Ja, drie “horings” sou ontwortel word voor hierdie uitgroeisel, die “horinkie”, wat “groot dinge” sou spreek. Met die opkoms van die Britse Wêreldmoondheid, waarby Amerika later aangesluit het, het ons dus hier die volkome vervulling van hierdie wonderlike profesie. Die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid is ’n uitgroeisel van die Romeinse Ryk. Dit is Rome se “baba”. Dit word dus profeties voorgestel as iets wat uit die kop van Rome, die “vierde dier” met ystertande, groei. Deur Daniël hoofstuk twee en sewe met mekaar te vergelyk, is dit maklik om te sien hoedat die “bene van yster” twee opeenvolgende wêreldmoondhede voorstel, en nie net een nie.—Dan. 2:32, 33.

WAAR IS ONS IN DIE TYDSTROOM?

20. Hoe kan ons die ontwikkeling van die “bene van yster” tot in ons 20ste eeu naspoor?

20 Volgens Daniël 2:41-43 sien ons dat duidelik herkenbare wêreldkoninkryke sou verbygaan. Beeld die twee “bene van yster” dus elkeen ’n aparte wêreldmoondheid af? Nee, net so min as wat die twee “arms van silwer” in die boonste deel van die beeld twee wêreldmoondhede in die bloeityd van Medo-Persië voor stel. Hierdie twee bene en die yster van die voete ontstaan saam uit die Romeinse Ryk, veral sedert die vierde eeu, toe Konstantyn sy westelike hoofstad, Rome, verlaat het om ’n oostelike hoofstad, naamlik Konstantinopel, te stig. Uit hierdie verdeelde ryk het daar verskeie afhanklike nasies gekom, waaroor die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid eindelik die oorhand gekry het. Tydens die twee wêreldoorloë van ons eeu was daardie “bene” voorwaar soos “yster” daar die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid se militêre mag die vyandelike leërs vermorsel het en vir die eerste keer kernwapens tydens oorlog gebruik het.

21. Watter swakheid verskyn eindelik aan die eindpunt van die beeld?

21 Hier kom ons nou by die voete van hierdie groot beeld. Dit stel nog steeds die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid voor. Maar nou het dit ’n swakheid. Die voete en tone het die volle ysteragtige krag van die bene verloor. Want hulle is “gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei”. Daniël vertolk dit waar hy sê:

“Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het—hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak [hulle sal vermeng raak met die nageslag van die mens, NW], maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.”—Dan. 2:33, 43.

22. (a) Waarom is die sosialistiese en kommunistiese heersers nie hier ter sprake nie? (b) Wie is dus die “nageslag van die mens”? (c) Wat kan oor die “yster” en die “klei” gesê word?

22 Beteken dit dat die hedendaagse sosialistiese en kommunistiese heersers ’n wêreldmoondheid word? Nee, want Bybelprofesie toon dat daardie politieke elemente van ’n volksaard nooit wêreldoorheersing sal verkry nie. Die laaste deel van die skrikwekkende beeld bestaan steeds hoofsaaklik uit yster wanneer dit met verloop van tyd sy eindpunt bereik. Dit is steeds die wêreldmoondheid wat uit die Heilige Romeinse Ryk gegroei het. Maar hierdie ysteragtige krag word aan die einde van die tydvak verswak deur die inmenging van ’n sagte, klei-agtige element—’n beweging wat ’n beroep op die mense doen om groter seggenskap in sake te hê, soos deur vakbonde, protesbedrywighede en dies meer. Die “nageslag van die mens”, die sogenaamde gewone man, probeer om sy “sê” te sê oor hoe sake gedoen moet word. Ons sien dit vandag nie alleen in daardie Wes-Europese lande wat eens deel van die Heilige Romeinse Ryk was nie, maar veral in die ryk van die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid. Dit is hier dat sloerstakings, werkstakings en arbeidsonrus die regeringsgesag wat eens soos “yster” was baie verswak het. Terwyl die arbeiders met die heersers bots, probeer die “nageslag van die mens” om voor te skryf hoe dit gaan werk en lewe. Het dit ’n bestendige toestand tussen die werkersklas en die regering tot gevolg? God se Woord sê net: “Hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie.”

23. (a) Wat beteken die feit dat ons nou die “tone” van die beeld bereik het vir ons? (b) Wat kan ons vervolgens verwag? (c) Wat moet ons in hierdie “tyd van die einde” beweeg word om te doen?

23 Waar is ons dan in die tydstroom? Aan die einde van vers 43 is daar nie meer “beeld” oor nie. Ons het by die “tone” uitgekom! Ons lewe in daardie tyd wanneer die ontwikkeling van mensgemaakte regering sy droewige einde bereik. Die klimaks van die eeue is hier! Daniël het vir ons gesê wat om te verwag. Ja, Christus se koninkryk wat oor alle volke gaan heers, die “klip” wat losgeraak het uit die “berg” van Jehovah se universele soewereiniteit, gaan binnekort die voete van die verskriklike beeld tref en die hele struktuur van verdrukkende menslike bewind omverwerp en vernietig. Dit sal die “tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op die tyd nie”. Dit sal vinnig gevolg word deur die wonderlikste tydperk in die hele mensegeskiedenis, Christus se duisendjarige bewind. Kan enige ware Christen die gebeure in hierdie “tyd van die einde” onverskillig en rustig sit en dophou sonder om beweeg te word om die Koninkryksregering te ondersteun? Dit is nou die tyd om te wys aan wie se kant ons is, Jehovah s’n of Satan s’n!—Dan. 2:44, 45; 7:14; 12:1, 4.

24. Watter soort mense wil ons steeds wees, en waarom?

24 Soos 1 Thessalonicense 5:1 sê, het ons nie nodig dat iets oor die tye en geleenthede aan ons geskryf moet word nie! Dit is alles daar in God se Woord. Dit moet net ‘uitgegrawe’ word. Kom ons doen dus wat Hebreërs 10:35-39 aanbeveel: “Werp dan julle vrymoedigheid, wat ’n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ’n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.” Laat ons blywende, aansporende geloof in die Koninkryk stel!

[Tabel/Kaart op bladsy 25]

SIMBOLE IN DANIËL SE KONINKRYKSPROFESIEË

Die groot beeld

(Daniël 2:31-45)

Die vier groot diere

(Daniël 7:2-22)

BABILONIË

vanaf 625 v.G.J.

MEDO-PERSIË

vanaf 539 v.G.J.

GRIEKELAND

vanaf 331 v.G.J.

ROME

vanaf 30 v.G.J.

BRITTANJE & AMERIKA

vanaf 1763 G.J.

RADIKALE VOLKSBEWEGINGS

Die horinkie verskyn

(Daniël 7:8)

Keiser Konstantyn (312-337 G.J.) stig ’n oostelike hoofstad, benewens Rome waaruit die Anglo-Amerikaanse Moondheid voortkom

Hendrik VIII verbreek bande met Rome (1534 G.J.)

Van die tyd van Elizabeth I (1558-1603 G.J.) af begin Brittanje om ‘die drie horings’, naamlik Spanje, die Nederlande en eindelike Frankryk, te ‘ontwortel’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel