Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 9/15 bl. 27-30
  • Athene—“Stad van baie gode”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Athene—“Stad van baie gode”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N ALGEMENE TOER
  • VAN DIE AGORA NA DIE AREOPAGUS
  • VROEË PREDIKINGSWERK IN ATHENE DRA VRUG
  • ’N TERUGBLIK OP DIE STAD SE GESKIEDENIS
  • DIE SKRIF VERSUS FILOSOFIE
  • DIE WARE CHRISTELIKE GELOOF BESTAAN VOORT
  • Atene se beroemde verlede en uitdagende toekoms
    Ontwaak!—2000
  • ‘Soek God en vind hom werklik’
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Die agora—Die hart van antieke Atene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Op wie kan ons vertrou vir ware geregtigheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 9/15 bl. 27-30

Athene—“Stad van baie gode”

ZEUS, Hera, Artemis, Apollo, Ares—jy het waarskynlik al van ten minste een van hierdie gode en godinne gehoor. Oorblyfsels van hulle standbeelde word aangetref in Athene, die “stad van baie gode”. Maar die vernaamste van al die Griekse gode was Athena, die sogenaamde godin van wysheid. Athene is na haar vernoem, en haar tempel, die Parthenon, is een van die stad se opvallendse bakens.

Wanneer ’n besoeker aan hierdie besige metropolis met amper 2,5 miljoen inwoners na die talle oorblyfsels van afgodsbeelde dwarsoor Athene kyk, sal die woorde wat die Christenapostel Paulus hier gebesig het heel moontlik by hom opkom. Nadat hy deur die stad se strate geloop het, het hy gesê: “Ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.”—Hand. 17:22.

’N ALGEMENE TOER

Gestel ons begin met ’n algemene toer van Athene. Met ’n taxi ry ons met ’n baie smal straatjie langs wat steil na die beginpunt van ’n kabelspoor klim. ’n Paar minute later kom ons uit bo-op Lycabettus, ’n steil, keëlvormige heuwel wat ’n asemrowende gesig van die stad bied. Volgens tradisie staan die St. George-Kapel, teen die kruin van die heuwel op die plek waar ’n altaar vir Zeus eens gestaan het. Terwyl ons verversings buitekant ’n restaurant nuttig, geniet ons die uitsig.

Dit word skemer. Die bedompige hitte wat gedurende die dag oor die stad gehang het, verdwyn geleidelik. In die suidweste sien ons Piraeus wat met voorstede oor ’n afstand van talle kilometer met Athene verbind is. Dit is deur hierdie vernaamste hawe en nywerheidsentrum van Griekeland dat die land se rykdomme soos olywe, druiwe en ander vrugte na baie dele van die wêreld uitgevoer word. Van ons uitkyk af merk ons ook op dat Athene deur berge omring word en vol monumente, museums en kerke is.

Wanneer dit donker word, trek iets skielik ons aandag. Aan die anderkant van die vallei waarin Athene lê, word 1 500 spreiligte aangeskakel wat die Akropolis in lig baai. Dit is voorwaar ’n asemrowende gesig!

VAN DIE AGORA NA DIE AREOPAGUS

Die volgende dag moet ons eenvoudig die Akropolis besoek. Ons parkeer ons motor in een van die besige straatjies naby die Akropolis en loop verder. Laer af aan ons linkerkant sien ons die oorblyfsels van die antieke Agora of markplein. Dit was nie alleen ’n plek om sake te doen nie, maar ook om te debatteer en stadsake te behartig. Die Agora was inderdaad die sentrum van die openbare lewe. Dit is waarom die apostel Paulus omstreeks 50 G.J. tyd daar deurgebring het tydens sy besoek aan Athene op sy tweede sendingreis. Hy het “elke dag op die mark” (die Agora) gesels “met die wat hom teëkom”. Hulle nuuskierigheid word getoon deur die woorde: “Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.”—Hand. 17:17, 21.

Paulus was gou betrokke by ’n gesprek met sekere Epikureïese en Stoïsynse wysgere, en nie lank nie of “hulle het hom geneem en op die Areopagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word?” (Hand. 17:18, 19). Die Agora is van dag ’n interessante plek in die middel van Athene, ’n gebied waarheen piekniekmakers en skilders gaan om van die gewoel van die kamerabehangde toeriste op die Akropolis af weg te kom.

Terwyl ons aandag in beslag geneem word deur hierdie hedendaagse toneel, wil ons nie vergeet dat Paulus se situasie baie gevaarlik was nie. Hy was daarvan verdink dat hy “’n verkondiger is van vreemde gode”, en die wet het bepaal dat ‘geen persoon ander gode of nuwes mag hê nie: en hy mag ook nie enige vreemde gode privaat aanbid nie tensy hulle in die openbaar toegelaat word’. Dit is dus geen wonder dat die apostel gegryp en na die Areopagus geneem is vir ondervraging nie. Daardie Bybelverslag oor die Areopagus het ons nietemin beweeg om na die heuwel met daardie naam te gaan soek.

Ons slaag daarin om die pad soontoe te vind, en na ’n kort wandeling kom ons by die voet van die Areopagus, of Marsheuwel, noordwes van die Akropolis. Dit is ’n opwindende oomblik. Ons staan moontlik op dieselfde plek waar Paulus eens gestaan het toe hy sy onvergeetlike getuienis, wat in Handelinge 17:22-31 opgeteken is, gegee het. Ons vind Paulus se beroemde toespraak op ’n bronsgedenkplaat teen die kant van die klein heuwel. Die tyd het aangebreek om ons Bybels oop te maak en die gebeure wat 19 eeue gelede hier afgespeel het, te herleef.

VROEË PREDIKINGSWERK IN ATHENE DRA VRUG

Paulus se weldeurdagte getuienis voor geleerde manne van Athene is ’n uitstekende les in takt en goeie oordeel. Hy het terselfdertyd ’n goeie regspunt, ’n gepaste argument aangevoer om te antwoord op die beskuldiging dat hy ’n nuwe God verkondig. Die apostel het getoon dat hy oor die Skepper van hemel en aarde preek, die Een wat nie in mensgemaakte tempels woon nie. Paulus het taktvol vir sy hoorders gesê dat hy die “onbekende God” aan hulle verkondig vir wie hulle ’n altaar gemaak het en wat hulle geëer het sonder om Hom te ken. Die apostel het hierdie “onbekende God” nader aan hulle gebring deur uit die geskrifte van Aratus, ’n Ciliciese digter en uit die Himne aan Zeus deur Cleanthes aan te haal. Paulus kon dus vir die Atheners sê dat party van hulle eie digters gesê het: “Ons is ook sy geslag” en dat alle mense gevolglik hulle bestaan aan Hom te danke het.

Paulus het voorts getoon dat hierdie God die bewoonde aarde in geregtigheid gaan oordeel deur ’n man wat hy aangestel het. En as waarborg hiervan het God hom uit die dode opgewek. Op daardie stadium is Paulus in die rede geval, want “toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.” Wat het toe gebeur?

Paulus het van hulle af weggegaan, maar sy meesterlike argument het meer as net hierdie twee uiteenlopende reaksies uitgelok. Daar was ook ’n derde groep, want “sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword, onder wie ook Dionisius, die Areopagiet, was, en ’n vrou met die naam van Damaris en ander saam met hulle” (Hand. 17:32-34). Die vroeë Christelike godsdiens het dus in die “stad van baie gode” gegroei.

’N TERUGBLIK OP DIE STAD SE GESKIEDENIS

Die Akropolis styg net ’n kort entjie van die Areopagus af uit. Ons klim teen die indrukwekkende marmertrap van die Propulaia (of Voorportale), die manjifieke toegangspoort tot die Parthenon, die kroon van die Akropolis, uit. Aan ons regterkant is die tempel van die Ongevleuelde Oorwinning, maar die godin het daaruit verdwyn. Ons loop deur die imposante pilaargange van die Propulaia, en al is hulle gedeeltelik verweer, skep hulle nog ’n oorweldigende indruk dat dit eens ’n indrukwekkende gebou was. Wanneer ons aan die bokant van die trap kom, sien ons die ontsaglike ruïnes van die Parthenon. Wanneer is dit gebou, en waarom? Athene se oorsprong is gesluier in die verlede, alhoewel die argeologie ’n bietjie lig op sy vroeë geskiedenis werp. In die sewende eeu v.G.J. was die stad onder die bewind van die Eupatridae, ’n aristokrasie wat politieke mag uitgeoefen het en in beheer was van die Areopagus, destyds die vernaamste kriminele hof. In die volgende eeu het ’n wetgewer genaamd Solon die grondslag vir ’n demokrasie gelê. Athene was dus die sentrum van die eerste staat met ’n demokratiese regeringsvorm.

Die opkoms van die Medo-Persiese Ryk was ’n groot bedreiging vir Griekeland, en soos die profeet Daniël voorspel het, sou die vierde koning van Persië “alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland” (Dan. 11:2). Die oorloggety het gestyg en gedaal totdat die ‘vierde koning’, Xerxes van Persië, eindelik sy hele ryk se hulp ingeroep het en Griekeland in 480 v.G.J. binnegeval het. Hy het so ver as Athene gekom en die Akropolisvesting afgebrand. Maar die Atheners het die Persiese vloot by Salamis verslaan en die Perse gedwing om terug te val. Athene het leierskap in Griekeland verkry as gevolg van sy sterk vloot.

Athene se goue eeu het toe begin. Gedurende daardie tydperk van groot voorspoed onder die bekwame leierskap van Perikles het die stad die kulturele leier van die antieke wêreld geword. Athene het gefloreer as ’n opvoedkundige sentrum vol professore, lektore en filosowe soos Sokrates, Plato en Aristoteles. Vier filosofieskole het daar gevestig geraak: die Platoniese, die Aristoteliaanse, die Epikureïese en die Stoïsynse (Hand. 17:18, 19). Talle mooi geboue en tempels is ook destyds gebou, onder meer die Parthenon, die vernaamste monument van antieke heidense godsdiens.

DIE SKRIF VERSUS FILOSOFIE

Toe Jesus en sy apostels op die aarde was, was Athene nog belangrik as gevolg van sy filosofieskole. Van sy bakermat in Griekeland het die filosofie na ander dele van die wêreld versprei. Trouens, Paulus moes selfs die Christengemeente in Kolosse, Klein-Asië, waarsku: “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense . . . en nie volgens Christus nie.” Paulus het Christus verkondig “in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is”.—Kol. 2:3, 8.

Toe Paulus aan die Griekse Korinthiërs geskryf het, het hy hom baie sterk uitgespreek teen menslike wysheid. Ter verdediging van die ware Christelike godsdiens het hy menslike filosofie op sy regte plek gesit deur te sê: “As iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word: . . . Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is” (1 Kor. 3:18-20). Ja, nie alleen hulle redenasies is nutteloos nie, maar die werke van hulle hande sal ook vergaan. Kyk maar net na die Akropolis. Weg is die vergulde beeld van Athena. Net ’n deel van die Parthenon staan nog. En wat van die Erechtheion, die gesamentlike heiligdom van Athena en Poseidon? Daar is min van sy eertydse, trotse skoonheid oor.

Terwyl ons die Akropolis verlaat en met die trap van die imposante Propulaia afloop, onthou ons die woorde van die apostel Paulus aan die hof van Athene: “Ons [moet] nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeld werk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.”—Hand. 17:29.

DIE WARE CHRISTELIKE GELOOF BESTAAN VOORT

Was jy, tydens hierdie uitstappie, in staat om ’n idee van die gees van antieke en hedendaagse Athene te kry? Om ’n goeie idee van hierdie gees te kry, moet ’n mens natuurlik met die mense omgaan. Baie besoekers het gevind dat die Atheners waarlik gasvry is. Dit is beslis geen toeval dat die Griekse woord vir vreemdeling ook gas beteken nie, aangesien Grieke baie gasvry teenoor vreemdelinge is.

Dit is dan ook nie verbasend dat die ware Christelike godsdiens, wat deur so ’n gees gekenmerk word, weer eens in Athene en dwarsoor Griekeland wortelgeskiet het nie. In Athene alleen is daar dan meer as 7 000 Getuies van Jehovah wat aan 110 gemeentes verbonde is! In die hele Griekeland is daar 20 000 van Jehovah se Getuies. Alhoewel hulle net soos Paulus beskou word as ‘verkondigers van vreemde gode’, hou hulle aan om die “onbekende God”, Jehovah, aan die inwoners van Athene en die hele Griekeland te verkondig.

Ons besoek het ten einde geloop, en ons loop terug. Wanneer ons van ver af terugkyk, kry ons ons laaste blik op die Akropolis. Die sakkende son verander die stad se marmerkroon in skitterende goud. Wat ’n gesig! Maar ons is veral bly dat daar nou so baie is wat ware geestelike verligting geniet in Athene, die eeue-oue, “stad van baie gode”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel