Het die Bybel die huidige magstryd voorspel?
MAGSPOLITIEK bestaan al duisende jare lank. Gedurende die laat sestigerjare en die vroeë sewentigerjare het dit gelyk asof dit na die agtergrond verskuif het toe ’n oënskynlik “nuwe atmosfeer” in internasionale verhoudings (genaamd détente) party laat glo het dat die fundamentele stryd tussen die Ooste en die Weste besig was om af te neem. Maar onlangse gebeure het getoon dat die magstryd nie tot die verlede behoort nie.
Die gyselaardrama in Iran het Amerika se selfrespek ’n groot knou toegedien, en dit het aanleiding gegee tot ’n opwelling van patriotisme in die Verenigde State. Toe word Ronald Reagan as die nuwe Amerikaanse president verkies. Een van sy vernaamste verkiesingsbeloftes was groter krygsbesteding as teenwig vir die Sowjet-Unie se vinnige militêre uitbreiding. Selfs voor die Amerikaanse presidentsverkiesing het die Russiese leier Leonid Brezhnev gereageer en nadruklik gesê: “Daar bestaan absoluut geen twyfel dat die Verenigde State nooit militêre opper mag sal verkry nie.”
Mnr. Reagan was skaars tot president verkies of hy het hard teruggekap en gesê dat détente ’n “eenrigtingstraat” was wat deur die Sowjet-Unie gebruik is “om sy eie doelwitte na te streef”. Hy het die mening gelug dat die Russiese leiers steeds daarop uit is om ’n “wêreldrewolusie” te veroorsaak en het glo gesê dat “die enigste moraliteit wat hulle erken dinge is wat hulle saak sal bevorder, bedoelende dat hulle hulself die reg toe-eien om enige misdaad te pleeg, te lieg en te bedrieg om daardie doel te bereik”. Moskou het vinnig geantwoord deur president Reagan se aanval ’n “onwaardige set” te noem. Toe Frankryk se Le Monde oor hierdie mondelinge skermutseling verslag gelewer het, het dit gesê dat die toon ’n mens aan die “Koue Oorlog” herinner het.
GEEN VERSLAPPING IN DIE WAPENWEDLOOP
Volgens die Internasionale Instituut vir Strategiese Studies het die Sowjet-Unie gedurende die laat sewentigerjare tussen 11 en 14 persent van sy bruto volksproduk vir krygsbesteding gebruik, vergeleke met 5 persent in die Verenigde State. Die U.S.S.R. is dus nou op militêre gebied beter toegerus as die V.S.A. Hy het meer interkontinentale ballistiese missiele (maar nie meer plofkoppe nie), ballistiese missiele wat deur duikbote afgevuur kan word, kern- en dieselduikbote, groot skepe (maar nie vliegdekskepe of helikopterdraers nie), oorlogsvliegtuie en tenks. Daarbenewens was daar in Desember 1980 3 658 000 manne en vroue in die Russiese leër, vergeleke met 2 050 000 in die Amerikaanse weermag.
Mnr. Reagan se nuwe administrasie is van plan om die situasie reg te stel. In sy eerste boodskap aan die Amerikaanse leër het Minister van Verdediging Caspar Weinberger gesê dat sy opdrag was om “Amerika te herbewapen”. Terwyl daar geraam word dat die Sowjet-Unie op die oomblik jaarliks R137-miljard aan sy weermag bestee, is die Verenigde State van plan om sy krygsbegroting vanjaar tot R131-miljard op te stoot, met gereelde jaarlikse vermeerderinge totdat dit in 1984 R230-miljard bereik.
In die lig van mnr. Brezhnev se verklaring dat “die Verenigde State nooit militêre oppermag sal verkry nie”, is dit duidelik dat die U.S.S.R. ook sy krygsbesteding sal moet vergroot. Daarbenewens sal daar klaarblyklik verwag word dat hierdie twee supermoondhede se bondgenote (soos die lede van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie [NAVO] en die Warschause Verdragslande) hulle voorbeeld volg. Die wapenwedloop duur dus beslis voort—met mening!
DIE OPEENVOLGING VAN WÊRELDMOONDHEDE
Albei kante in die huidige magstryd besit reeds genoeg wapens om die hele mensdom, onder meer die manne en vroue wat aan die almagtige God, Jehovah, toegewy is, etlike kere te vernietig. Dit verbaas ons dus nie dat God se Woord, die Bybel, van die huidige situasie praat nie. En dit is nie al nie. Dit toon ook hoe sake gaan verloop.
Die Bybelboek Daniël (hoofstukke 2 en 7) beskryf ’n opeenvolging van wêreldmoondhede wat deur die verskillende dele van ’n groot beeld, en ook deur vier diere, afgebeeld is. Hulle stel die Babiloniese, Medo-Persiese, Griekse en Romeinse Wêreldmoondhede voor, waarvan laasgenoemde oorgegaan het tot in die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid.a
In hoofstuk 11 beeld die profesie van Daniël die stryd om wêreldmag tussen twee simboliese “konings” uit. Hulle is “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide”, en hierdie tweestryd om wêreldoorheersing bereik ’n hoogtepunt in “die tyd van die einde” (V. 40). Wie beeld hierdie “konings” af? Wat sal die uitslag van hulle mededinging wees? Ons gaan hierdie vraag in die volgende artikel bespreek.
[Voetnoot]
a Kyk asseblief Die Wagtoring van 1 Augustus 1981, bladsye 21 tot 27, en bladsye 92 tot 97 van die boek Ons inkommende wêreldregering—God se koninkryk, uitgegee deur die Wagtoring- en Traktaatgenootskap, vir ’n breedvoerige verduideliking van hierdie profesieë.