Ouers, bereik julle kind se hart
“My seun, as jou hart wys word, dan sal my hart hom ook verheug.”—Spr. 23:15.
1, 2. (a) Wat is Christenouers se begeerte, maar hoe het een vader gevoel? (b) Wat moet gedurende kinderopleiding bereik word, en waarom?
CHRISTENOUERS wil hulle kinders bitter graag teen vernietigende sedelike valstrikke beskerm. As jy ’n ouer is, deel jy ongetwyfeld dieselfde besorgdheid as dié van ’n Christenvader met vier tienderjariges wat geskryf het: “Die sedes waarmee ons jongmense te kampe het, versleg voortdurend, en soms is dit moeilik om tred te hou met elke nuwe benadering van die wêreld. My voortdurende gebed is om hulle te kan help. Ek het hulle so lief.”
2 Maar waarom gebeur dit soms dat ’n kind, selfs nadat hy na godsdiensvergaderinge geneem is en die Bybel se sedelikheid geleer is, nogtans in geslagsonsedelikheid verval? Hoewel kopkennis belangrik is, speel die hart ’n lewensbelangrike rol, veral waar dit by sedes kom. Wat kan ’n ouer doen om ’n kind se hart te bereik sodat dit ‘wys kan word’?—Spr. 4:23; 23:15.
SKEP RAAD UIT DIE HART
3. Wat beteken Spreuke 20:5, en watter optrede verg dit van ouers?
3 Voordat jy die hart kan bereik, moet jy tot ’n mate uitvind wat daarin is. “Die raad [’n mens se werklike doel of diepgewortelde plannea] in die hart van ’n man mag diep waters wees, ’n man van verstand sal dit tog uitskep” (Spr. 20:5). Die ware gevoelens in die hart van ’n kind is soos water onder in ’n diep put. In Bybeltye was party putte meer as 30 meter diep en moes mense met ’n trap afloop om die water ‘uit te skep’. Dit was ’n groot taak! Om jou kind se planne ‘uit te skep’ kan net so moeilik wees. Dit verg empatie en fyn waarnemingsvermoë. Dit kan die vaardige gebruik van vrae en geduld vereis—soms moet jy gewillig wees om ure lank met die kind te gesels voordat sy ware gevoelens uitkom. As jy die kind daaraan herinner dat jy deur dieselfde stadium gegaan het, en dat jy ook onvolmaak is, en deur geleenthede te skep dat die kind soms alleen by jou kan wees, sal jy dit vir hom makliker maak om openhartig te praat.—Job 33:5-7.
4. Watter soort woorde kan volgens Spreuke 12:18 kommunikasie benadeel?
4 Maar ’n ‘onverskillige’ woord of verklaring kan verpletterend wees. Party sê dinge sonder om te dink, en dit is “soos swaardsteke”. Hulle woorde maak seer en veroorsaak vervreemding. Probeer dus om ‘kalm van gees’ te bly terwyl jy werklik luister. Jy kan waarskynlik gevalle onthou toe iemand neerhalend met jou gepraat het of met jou gevoelens gespot het. Hy het moontlik gesê: ‘Jy weet tog van beter!’ Het jy daarna gehunker om weer daardie persoon in jou vertroue te neem?—Spr. 12:18; 17:27.
5. (a) Watter soort onderrig het ’n tienderjarige nodig? (b) Voorsien die meeste ouers sulke onderrig?
5 Wanneer ’n kind sy tienderjare bereik, word sy geslagsdrange baie sterk. Die jong persoon het iemand nodig met wie hy kan praat, iemand wat kan verduidelik wat met sy liggaam gebeur en wat ’n eindelose lys baie delikate en persoonlike vrae kan beantwoord. Maar in ’n opname onder 1 400 ouers met opgeskote kinders het 92 persent nooit seksuele gedrag met hulle kinders bespreek nie. Die agtergrond van die ouers, die volksgebruike of die opvatting dat sulke besprekings onnodig is, verhinder soms selfs Christenouers om sulke goeie oordeel en sorg aan die dag te lê. Hoe belangrik is sulke besprekings nou eintlik?
6, 7. Hoe belangrik is dit dat ouers seksuele gedrag met hulle kinders bespreek?
6 Wel, nadat een Christelike ouere man met ’n aantal gesinne onderhoude gevoer het, het hy tot die gevolgtrekking gekom: “Dit is interessant dat daar ’n patroon is. Vir ouers wat seks vroeg reeds deeglik bespreek het en hulle daarop toegelê het om goeie kommunikasie met hulle kinders te behou, was die resultate goed. Vir diegene wat die probleem om die een of ander rede nie vroeg aangepak het nie, was die resultate gewoonlik sleg.”
7 Sulke besprekings hou baie voordele in. Eerstens, dit kan die kind se verstand beskerm teen verkeerde, vuil informasie wat hy later sal hoor. Tweedens, dit kan respek vir en vertroue in ouers opbou en ’n grondslag vir kommunikasie wees wat tot in die rypingsjare sal duur. En derdens, dit kan dit vir jou kind makliker maak om die intiemste aangeleenthede met jou te bespreek. Maar baie ouers wonder hoe hulle presies te werk moet gaan om hierdie netelige onderwerp te bespreek.
ONDERRIG DIE HART
8. Hoe vroeg moet gesprekke oor seks begin?
8 Die waarde daarvan om die kind op ’n vroeë ouderdom te begin onderrig, kan nie oorbeklemtoon word nie. ’n Aantal 10- en 11-jariges het al swanger geraak. Party navorsers dring daarop aan dat kommunikasie oor seks goed gevestig moet wees voordat die kind ses jaar oud is. Anders sal dit dalk nooit bestaan nie. Dit is dikwels voldoende om net ’n jong kind se vrae oor hierdie onderwerp eerlik en onbeskaamd te beantwoord.b Maar ’n tiener het instruksie nodig oor hoe om sulke begeertes te beheer. Om die hart te bereik, moet die onderrig die vorm van vriendelike hulp hê, nie van ’n beskuldiging nie.
9. Wat moet ’n ouer in ’n kind se hart probeer sit, en waarom?
9 Jesus het gesê: “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is” (Luk. 6:45). Om jou kind se hart te bereik, moet jy dus kosbare dinge in daardie jong hartjie sit—dinge waarop hy of sy emosioneel sal reageer en wat hy of sy sal koester. Waarom? Sodat “wat goed is” uit daardie hart sal kom.—Matt. 12:34, 35.
10, 11. Wat kan uit die voorbeelde in die boek Spreuke geleer word oor hoe ’n mens jou kind se hart tydens ’n bespreking van geslagsedelikheid kan bereik?
10 Die onderrig oor hierdie onderwerp in Spreuke is ’n goeie voorbeeld vir ouers. Dit bespreek seksuele gedrag openlik en tog met waardigheid. Let op die gebalanseerde benadering van hoofstuk vyf. Die onderrigter of ouer bespreek realisties die genot van geslagsomgang en veral die nodigheid om geslagsonsedelikheid te vermy. Dit lyk of die prostituut se lippe ‘heuningstroop drup’ terwyl sy probeer om ’n man te verlei. Maar die gevolge is “bitter soos wilde-als” en soos “’n swaard aan weerskante skerp”! (Ve. 3, 4). Dan raak die Bybelse onderrigter ’n teer puntjie aan deur vir die jong man te toon hoe hy sy “waardigheid” deur sulke gedrag kan verloor (V. 9, NW). Maar hierdie bespreking skep nie die indruk dat alle seks sonde is nie. Wat ’n pragtige beeld skilder hy tog van geslagsomgang in die huwelik.—Ve. 15-19.
11 Die ouer beskuldig of raas nie met die jong man nie. In Spreuke hoofstuk sewe verhaal hy ander se ondervindings en gebruik hy eenvoudige uitdrukkings (Spr. 7:6, 7, 13, 17, 18). Die onderrigter gebruik goeie gelykenisse—’n hartstogtelike man wat deur ’n hoer verlei word, is soos ’n bul wat na die slagpaal gaan, en ‘’n pyl splits sy lewer’ (Spr. 7:22, 23). Hoe kon ’n jong persoon ooit sulke beeldspraak vergeet! So ’n waarskuwende voorbeeld wat in die hart gebêre word, sal die jong persoon help om versoeking te weerstaan. Die ouer het nie net gesê dat geslagsonsedelikheid verkeerd is nie, maar het vertel waarom, die gevolge verduidelik en getoon hoe maklik die jong persoon daarby betrokke kan raak.
12, 13. (a) By watter geleenthede kan ’n ouer seksuele gedrag met sy of haar kind bespreek? (b) Het jy ander tye gevind wat gerieflik is? (c) Is dit genoeg om net goeie dinge deur onderrigting in ’n kind se hart te sit as jy wil hê dat hy sedelik moet wees?
12 Talle Christenouers het soortgelyke gesprekke gevoer. Hulle het talle geleenthede te baat geneem wanneer die onderwerp op ’n natuurlike, informele manier benader kon word. Party van hierdie geleenthede was tydens lang wandelings, tydens gesprekke oor ’n voorval wat die waarde van goeie sedes toelig, nadat sulke materiaal tydens gemeentelike vergaderinge bespreek is of wanneer die onderwerp tydens hulle eie gesin se geestelike besprekings behandel is. Baie gebruik die boek Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benutc om hulle te help. Sulke besprekings was nie altyd maklik nie, maar opregte liefde vir die kind het die ouers aangespoor. Een moeder met vyf kinders het erken: “Ek het myself gedwing om daaroor te praat totdat ek nie langer ongemaklik gevoel het nie, en die kind ook nie.” Moenie dat jou kind matelose hartseer ervaar weens ’n gebrek aan “goeie lering” op hierdie uiters delikate gebied nie.—Spr. 4:2.
13 Maar ondanks al die goeie dinge wat deur onderrigting in ’n kind se hart ingeskerp kan word, is sotheid weens oorgeërfde sondigheid ook diep in die hart gewortel.—Ps. 51:7.
DISSIPLINE LOUTER DIE HART
14. Wat is dissipline, en waarom is dit so belangrik?
14 Wat kan sotheid uit die jong hart verwyder? Volgens Spreuke 22:15 is dit “die tugroede”. Tugtiging of dissipline is opleiding wat vorm of verbeter. Dit is fermheid met begrip; dit smoor of “vertoorn” dus nie ’n kind met onredelike beperkings nie (Ef. 6:4). Dissipline is noodsaaklik wanneer jou kind in die ander geslag begin belangstel. As ’n mens ’n paartjie toelaat om saam te verkeer wanneer enigeen van die twee te jonk is om te trou, is dit moeilikheid soek.
15. (a) Watter situasie maak baie ouers raad-op? (b) Wat het die broers van die Sulammitiese meisie gedoen toe sy en haar vriend alleen wou wees?
15 Maar baie ouers vra: ‘Wat kan jy doen wanneer hulle saam wil wees?’ Toe die broers van die Sulammitiese meisie ontdek het dat die herderseun alleen op ’n verlate plek in die berg saam met hulle suster wou gaan wandel, het hulle, klaarblyklik op bevel van hulle ouers of met dié se goedkeuring, ’n stokkie daarvoor gesteek! Hulle het vir haar werk gegee om haar besig te hou en die twee van mekaar af weg te hou. Hoewel hulle haar vertrou het, het hulle geweet hoe groot die krag van versoeking kan wees. Het dit die meisie se lewe geruïneer? Inteendeel, dit het die paartjie gehelp om kuis te bly totdat hulle later getrou het.—Hoogl. 1:6; 2:8-15.
16. Wat het party ouers gedoen om hulle kinders se harte te beskerm?
16 ’n Soortgelyke fermheid, tesame met die verskaffing van bedrywighede om die kind se gedagtes besig te hou, is vandag nodig. In hierdie verband moet ouers goeie oordeel en godvrugtige wysheid aan die dag lê (Spr. 24:3). Dit is vir ouers uiters moeilik om ’n kind se gevoelens te bedwing wanneer hy eers emosioneel by ’n verhouding betrokke geraak het. Voordat hulle toelaat dat hulle kind afsprake maak (waar dit sosiaal aanvaarbaar is), moet Christenouers die kind se ouderdom, emosionele rypheid en geestelike vordering in ag neem, asook met wie die kind wil uitgaan en wat hulle wil doen. Daar is vir ’n moeder, wie se 19-jarige dogter weens onsedelikheid uitgesit is, gevra wat sy meen sy anders kon gedoen het toe sy haar kind grootgemaak het. Sy het geantwoord: “Ek sou haar nooit toegelaat het om ’n romantiese verhouding met die ander geslag aan te knoop terwyl sy in haar vroeë tienderjare was nie. Ek sou nie aangeneem het dat sy so sterk is dat sy haar probleem kon hanteer nie.”
17, 18. (a) Moet ’n paartjie wat wil trou beledig voel wanneer ’n ouer of iemand onder die ouer se toesig as ’n chaperon optree? (b) Wat het een jong man op die moeilike manier geleer?
17 Party ouers het met die jong paartjie gaan sit en vir hulle verduidelik waarom hulle nie hulle afsprake kon goedkeur nie. As die saak met die ouers van die ander kind bespreek word, kan bykomende steun dalk verkry word. Een Christenouer met vier kinders het gesê: “Baie ouers dink dat verhoudings tussen jong seuns en meisies ‘oulik’ is en staan dit voor, en hulle laat ook groepe tieners uitgaan sonder enige volwassenes om toesig te hou. Ons sien gevolglik ’n ‘afpaardery’, onsedelikheid en vroeë huwelike. Ons spoor ons kinders aan om stokperdjies te kry of ander fisiese bedrywighede aan te pak, soos ysskaats en fietsry wat hulle alleen, saam met die gesin of saam met ander van dieselfde geslag kan doen.”
18 Selfs al is die paartjie oud genoeg vir hofmakery, moet julle hulle help deur te reël dat daar ’n chaperon is. ’n Verloofde Christenpaartjie wat eerlank sou trou, het hulle waaksaamheid laat verslap en hulle aan “onreinheid” skuldig gemaak (Gal. 5:19). Met verwysing daarna het die jong man erken: “Ons het die meeste van die tyd ’n chaperon gehad. Maar die paar keer dat ons nie een gehad het nie, was vir ons nadelig.” Ander jongmense het hulle ouers later bedank omdat hulle streng was en hulle vermaak versigtig gekontroleer het, want hulle het kuis gebly en sonder enige berou of slegte herinneringe in die huwelik getree. As jou kind se bedoelings eerbaar is, behoort hy nie beledig te voel oor jou godvrugtige dissipline nie, want dit is die “weg tot die lewe”.—Spr. 6:23.
HELP JOU KIND OM ’N VERHOUDING MET GOD OP TE BOU
19. (a) Wat is jou kind se grootste beskerming teen onsedelikheid, en wat sal hom help om dit te verkry? (b) Watter vrae kan ouers oor hulle eie voorbeeld stel?
19 Jou kind se grootste beskerming teen onsedelikheid is ’n persoonlike, intieme verhouding met Jehovah. Selfs al is dit iets wat die kind self moet opbou, kan ’n ouer help. Eerstens, jou voorbeeld van toegewydheid sal ’n lewende voorbeeld bied wat nagevolg kan word. Diegene wat in eerste-eeuse Thessalonika Christene geword het, het gesien “watter soort mense” Paulus en sy metgeselle was en het “navolgers” van hulle geword deur soortgelyke “volle versekerdheid” te verkry (1 Thess. 1:4-6, vgl. NW). Watter ‘soort mens’ sien jou kinders in jou? Sien hulle jou “volle versekerdheid”, daar hulle opmerk dat jy jou hele lewe rondom jou toewyding aan God bou en opofferings vir sy aanbidding maak? Sien hulle jou sterk afkeuring van onsedelikheid deurdat jy nie deur sedelik verdorwe dinge vermaak word nie? Sien hulle ’n voorbeeld van liefde in die wyse waarop jy jou huweliksmaat of ander behandel? Hoor hulle dat jy oor Jehovah praat op ’n manier wat duidelik toon dat hy vir jou werklik is? So ’n voorbeeld sal vir die kind ’n aansporing wees om opofferings te maak om Jehovah se wet te hou. Jou kind sal sien dat dit belangrik is om dit te doen.
20. Wat kan die uitwerking van jou goeie opleiding aftakel?
20 Jy kan verder help deur ’n wakende oog oor jou kinders se omgang te hou en metgeselle vir hulle te kies wat geestelike “volle versekerdheid” toon. Niks kan jou werk vinniger aftakel as slegte maats nie—selfs al word hulle in die Christengemeente aangetref. Sulke slegte metgeselle kan jou kind se geestelikheid ruïneer en ’n generasiegaping veroorsaak.—Spr. 13:20; Jud. 3, 4, 12, 16, 19.
21. (a) Wat gee volgens 1 Johannes 2:14 geestelike krag, en watter verantwoordelikheid plaas dit op ouers? (b) Watter wenke het jy om sulke studies gereeld en interessant te hou?
21 As ’n ouer moet jy oortuig wees van die krag van God se Woord, die Bybel. Die apostel Johannes het gesê dat die geestelik sterk “jongmanne” in die gemeente aan wie hy geskryf het “die Bose oorwin het” omdat ‘die woord van God in hulle gebly het’ (1 Joh. 2:14). Godvresende ouers sal dus nie alleen ’n intieme gesinsgees in die hand werk en ’n goeie voorbeeld stel nie, maar hulle moet ook reël dat die gesin gereeld die Woord van God saam bestudeer sodat die boodskap daarvan diep in ’n jong persoon se hart kan insink. Een egpaar het met verdriet gesien hoedat twee van hulle drie kinders gedurende die tienderjare sleg uitval. Die vader, wat hulle van kleins af in ’n Christenhuis grootgemaak het, het erken: “As ek die kans gehad het om dit oor te doen, sou daar meer gereelde gesinsBybelstudie gewees het. Ons s’n was altyd lukraak. Ek weet dat ’n gereelde studie ons as ’n gesin nader aan mekaar sou gebring het en hulle geestelik baie meer sou versterk het.” As die ouers goed voorberei, ’n meganiese, gespanne, te formele prosedure vermy en die studie aanpas om in die kinders se behoeftes te voorsien, sal almal na die bespreking uitsien en sal dit die gesin geestelik nader aan mekaar bring. Met al die dinge wat ouers se tyd in beslag neem, is dit weliswaar nie maklik nie, maar die gehalte van die tyd wat saam bestee word, is belangriker as die lengte van sulke besprekings. Daarbenewens moet kinders geleer word om self goeie persoonlike studiegewoontes te hê.—Deut. 6:4-9.
22. Hoe kan jy jou kind leer om sinvolle gebede te doen?
22 Soos blyk uit die ondervinding op bladsy 12, bou ’n mens deur intieme, hartgrondige gebed ’n hegte verhouding met God op. Help jou kind om te leer hoe nodig gebed is en hoe om ‘sy hart voor Jehovah uit te stort’ (Ps. 62:9). Laat jou kind jou hartgrondige gebede hoor. Bespreek wat by sy gebede ingesluit kan word. As jy vir hom vertel hoe Jehovah jou gebede verhoor het en die kind aanspoor om na antwoorde op sy gebede te soek, sal hy besef dat gebed krag het.
23, 24. (a) Waarom moet ’n kind geleer word om Jehovah te vrees? (b) Saam met wie moet ouers gereeld in die veldbediening werk, en waarom?
23 “Die intiemheid met Jehovah behoort aan die wat hom vrees”, het koning Dawid geskryf (Ps. 25:14, NW). As jou kind werklik ’n intieme verhouding met God wil verkry, moet hy ’n heilsame vrees hê vir die verskriklike gevolge as hy “die lewende God” mishaag (Hebr. 10:31; Spr. 8:13). Die kind moet weliswaar Jehovah liefhê en Sy goedertierenheid en goedheid innig waardeer, maar hy moet ook ernstige respek hê vir God se vermoë om te straf en om ’n persoon te laat ‘maai wat hy gesaai het’ (Gal. 6:7). As hierdie gesonde “vrees” van kleins af by die kind ingeskerp word, sal hy ’n goeie gewete verkry. In plaas daarvan om te dink: ‘Dit is in orde, mits ek nie betrap word nie’, sal hy voel soos Josef, wat die versoeking om onsedelik te wees weerstaan het en gesê het: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?”—Gen. 39:7-9.
24 Deur saam met jou kind in die Christelike bediening te werk, sal jy hom help om dieselfde tere belangstelling in mense te verkry as wat Jehovah het. Namate die kind se waardering toeneem, sal sy hart sien hoe dit ‘baie ryk kan maak’ deur vir hulle die “evangelie” te leer wat nuttige veranderinge in hulle lewens kan meebring. Hierdie bediening is ook ’n goeie hulp om ’n intieme verhouding met God te verkry.—2 Kor. 6:10.
OUERS HET HULP BO DIE NORMALE NODIG
25, 26. (a) Waarom het ouers hulp ‘bo die normale’ nodig? (b) Vanwaar kom sulke hulp? (c) Wat het een vader gedoen toe hy gedink het dat hy sy kind ‘verloor’, en wat het hy later besef?
25 “Dit is nie maklik om die ouer van tienderjariges te wees nie”, het een Christenvader gesê. Hy het gemeld dat hy raad-op is met sy teruggetrokke 16-jarige dogter wat baie druk van seuns by die skool verduur. “Ek bid dikwels op my eie en saam met haar—maar ek is nog steeds bekommerd.” Hy het inderdaad die nodigheid gesien vir goddelike hulp wat hom en sy dogter “krag bo die normale” sou gee.—2 Kor. 4:7, NW.
26 Soms kan ouers hulpeloos voel wanneer dit lyk of al hulle pogings tevergeefs is. Maar moenie moed opgee nie! As gevolg van sy seun se eiesinnigheid het een Christenvader erken dat hy op ’n sekere stadium gedink het dat hy sy seun, wat hy van kleins af in die Christelike leer grootgemaak het, “verloor” het. “Ek het gekniel en gebid totdat die trane oor my gesig gerol het, en ek het Jehovah gesmeek om my te help”, het hierdie vader gesê. “Jehovah het daardie gebede verhoor en die seun het geleidelik ten goede verander. Ek het beslis nader aan Jehovah gekom toe ek sy invloed in my gesin waargeneem het.” Ja, wend jou tot Jehovah om hulp; vertrou op hom. Bid saam met jou kinders en vir hulle. Sien Jehovah se invloed in julle gesin.—1 Thess. 5:17.
27. (a) Wie moet God se wet op die kind se hart skryf? (b) Hoe voel julle ouers wanneer julle kind toon dat sy hart ‘wys geword het’?
27 Besef dat dit uiteindelik die kind is wat Jehovah se wette op sy eie hart moet skryf. (Vergelyk Spreuke 3:1-4.) Maar doen as ouer alles in jou vermoë om jou kind se hart te bereik. Wat ’n beloning sal dit tog wees om te sien hoe daardie kind lojaal aan die waarheid bly! Hoeveel rede tog vir ‘jou hart om hom te verheug’ as jou kinders toon dat hulle harte ‘wys geword het’! (Spr. 23:15). Jy sal soos die apostel Johannes wees wat van sy geestelike kinders kon sê: “Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.”—3 Joh. 4.
[Voetnote]
a “Raad” bevat soms die gedagte van voorneme.—Kyk Jesaja 29:15; 46:10.
b Kyk die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou, ble. 122-124, asook die artikels “’n Vader praat met sy seuns” en “’n Moeder praat met haar dogters” in Ontwaak! van 22 Augustus en 22 September 1965, vir spesifieke wenke oor sulke besprekings
c Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.
Kan jy hierdie vrae ter hersiening beantwoord?
• Waarom is dit belangrik om die hart te bereik wanneer ’n mens kinders oplei?
• Waarom moet ouers geslagsake met hulle kinders bespreek?
• Wat is ’n kind se grootste beskerming teen geslagsonsedelikheid, en wat sal hom of haar help om hierdie beskerming te verkry?
• Hoe kan ’n kind geleer word om sinvolle gebede te doen?
• Waarom moet Christenouers gereeld saam met hulle kinders velddiens doen?
[Lokteks op bladsy 14]
My ouers het nooit ’n openlike gesprek oor seks met my gehad nie. Daar was so baie dinge wat ek graag wou weet. Ek het baie nuuskierig, dwaas en verleibaar geword.’—’n Vyftienjarige meisie
[Prent op bladsy 15]
Kommunikasie tussen ouer en kind is baie belangrik
[Prent op bladsy 16]
Met Bybelstudiehulpe kan ’n ouer gesonde onderrig oor seks gee
[Prent op bladsy 18]
As jy en jou kind saam velddiens doen, help dit hom of haar geestelik