Laat jou hart terugkeer tot Jehovah
Is jy grootgemaak deur ouers wat Jehovah se Getuies is? Is jy egter nou minder bedrywig in die weg van die waarheid as tevore? Dan sal die volgende inligting vir jou van besondere belang wees.
TALLE botsende emosies wel in ’n jong persoon se hart op. Jy wil byvoorbeeld meer onafhanklikheid hê. Jy kom in aanraking met lewenswyses wat opwindend lyk maar wat strydig is met wat jy geleer is. Soms word die ideale wat jy as kind geleer het, verwaarloos. Dit het moontlik met jou gebeur, selfs al is jou ouers diensknegte van Jehovah God.
Hier en daar dryf jongmense van die Christengemeente af weg. As dit met jou gebeur het, onthou jy ongetwyfeld van die dinge wat jy omtrent Jehovah geleer het. Op een tydstip was jy moontlik na aan God en het jy gereeld tot hom gebid. Jehovah het ongetwyfeld vir jou omgegee net soos hy vir sy eertydse volk, die Israeliete, omgegee het. Waar Jehovah die nasie met ’n jong kindjie vergelyk, het hy gesê: “Ek self het Efraim [dit wil sê, die Israeliete] leer loop . . . hulle op [my] arms geneem . . . Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek.”—Hosea 11:3, 4.
Hoe roerend! ’n Klein, wankelende kindjie wat gehelp word om te loop met leikoorde wat deur ’n liefdevolle ouer vasgehou word! Deur daaraan vas te hou, kon die kindjie steun vind en nie val nie. En was Jehovah se besorgdheid oor jou nie net so teer nie? Sy liefde was sekerlik te sien in die aandag wat jy van jou godvresende ouers of van ander by die Koninkryksaal ontvang het. Kan sulke sorg nie vergelyk word met leiding deur “koorde van liefde” nie? Jou ouers en die ouere manne van die gemeente wou jou klaarblyklik help sodat jy jouself nie emosioneel, fisies en geestelik sou skaad nie. Hulle wou hê dat jy op die weg van die waarheid moes bly.—Vergelyk 3 Johannes 2-4.
Nou is al daardie dinge moontlik net ’n vae herinnering. As jy terugkyk, sal jy dalk aan verskeie redes kan dink waarom jy van die weg van die waarheid afgedwaal het.
’n Dwalende hart
Waarom het soveel van die eertydse Israeliete van ware aanbidding af weggedryf? Omdat “hulle hart . . . nie aan [Jehovah] vasgehou” het nie (Psalm 78:37). Ander toegeneenthede kan liefde vir God verdring. Volgens Jesus Christus kan die sorge van hierdie wêreld, die krag van die rykdom en die “genietinge van die lewe” die woord van God wat eens in die hart geplant was, verstik.—Lukas 8:14; Markus 4:19.
Skoolmaats, sowel as die reklame- en vermaaklikheidsmedia, laat die “genietinge van die lewe” baie aanloklik lyk. Een jong persoon, wie se ouers haar van kleins af God se Woord geleer het, het byvoorbeeld van die weg van die waarheid afgedwaal toe sy negentien was. “Ek wou uitvind hoe die lewe werklik is en party van die dinge doen wat ander jongmense voorgegee het so aangenaam is” het sy erken. “Ek het dus in ’n woonstel ingetrek en afsprake begin maak en na baie partytjies begin gaan net vir die opwinding. Ek het kort daarna opgehou om gemeentelike vergaderinge by te woon. Dit was nie lank voordat ek die sedes van die Bybel verwerp het nie.”
Nie almal wat van die waarheid af wegdryf, maak hulle natuurlik skuldig aan oortreding nie. Party het net nie meer daarin belanggestel om Jehovah te aanbid nie. Hulle het dalk nooit werklik die waarheid hul eie gemaak nie. Die slegte voorbeeld van hul ouers of verwaarlosing het moontlik daartoe bygedra dat hulle nie die waarheid ernstig opneem nie. Nou word hulle harte gevul deur dinge soos gesinsprobleme, pogings om ’n bestaan te maak of ’n sterk begeerte om sukses met ’n loopbaan te behaal.
Maar kan jy waarlik gelukkig wees as jy betreklik min aandag aan jou Maker skenk? Sal dit ware geluk bring as jy jou deur die begeertes van jou hart laat lei?
Die hart—“Niks anders is so bedrieglik nie”
“Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Ja, jou hart kan jou mislei—tot jou eie nadeel. Dit is wat gebeur het met die jong vrou wat vroeër gemeld is. Sy het erken: “Aanvanklik was dit pret om te doen net wat ek wou. Maar na ’n ruk was dit asof ek geen innerlike geluk gehad het nie, hoewel al die opwinding nog daar was. Iets het klaarblyklik ontbreek. Die geluk was slegs skyn. Ek het ongelukkig geword.”
Baie wat weggedryf het, het eweneens erken dat hulle ‘skyngeluk’ gevind het. Weens die innerlike pyn en leemte wat ontstaan het omdat hulle hulle eiesinnige hart gevolg het, weet hulle nou dat ‘niks anders so bedrieglik is nie’.—Today’s English Version.
Is dit ook hoe jy voel wanneer jy jou eie lewe in oënskou neem? Het die dinge wat jy eens as jou hartewens beskou het waarlik die gevoel verskaf dat jy iets bereik het? Verskaf jou gedragslyn gemoedsrus en selfrespek?
Jy kan nie waarlik gelukkig wees as jy nie gemoedsrus het nie. As jou hart “pyn ly” kan geen gelag dit genees nie (Spreuke 14:13). Nog ’n jong persoon het byvoorbeeld op die ouderdom van agttien afgewyk van die Bybelstandaarde wat sy haar hele lewe lank geleer is. Maar van die tydperk waartydens sy ’n “sorglose en opwindende lewe” gelei het, sê sy: “Ek het aan die toekoms begin dink. Wat sou oor vyf jaar met my gebeur het indien ek op my weg volhard het? Ek kon eenvoudig nie voortgaan om myself te oortuig dat ek gelukkig was nie. Sonder enige hoop het ek soos die wêreld se ongelukkigste meisie gevoel!”
Gestel jy het die weg van die waarheid verlaat. Hoe kan jy weer eens ware geluk smaak? Die psalmis Dawid het ’n leidraad voorsien toe hy God gesmeek het: “Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam” (Psalm 86:11). Dawid het geweet dat ’n verdeelde hart ’n groot gevaar was. Veranderinge moet dus in jou hart aangebring word sodat al sy vermoëns op een ding gerig kan wees—“heilige diens” aan Jehovah en ’n hartgrondige eerbied vir ons God (Romeine 12:1, 2, NW). Maar hoe kan hierdie wenslike harttoestand geskep word?
Jou hart kan verander word
Jy moet eerstens besef dat die hart—jou hart—verander kan word. Van sy eiesinnige volk het Jehovah gesê: “Ek sal hulle een hart [’n verenigde hart] gee, en ’n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ’n hart van vlees gee, sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen; en hulle sal [werklik] vir my ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees” (Esegiel 11:19, 20, vgl. NW). Watter goddelike goedertierenheid tog! En stel jou dit voor—harte wat so ongevoelig soos klip was, word sag, gevoelig, vatbaar vir geestelike indrukke.
Maar is dit deur ’n wonderwerk dat Jehovah so ’n verandering teweegbring? Of het jy ook ’n aandeel daarin? Jy moet jou inspan om die dinge wat jy omtrent Jehovah onthou in jou hart te orden (Spreuke 16:1). Dink na oor hierdie informasie. Voeg dit by jou kennis. Wanneer laas het jy ’n Bybel of ’n studiehulp wat deur Jehovah se organisasie voorsien is, opgetel? Jy het ongetwyfeld van hierdie publikasies in jou huis of weet waar hulle bekom kan word. Begin gerus om hulle met opregte belangstelling te lees. As jy juiste kennis van die Bybel toepas, kan dit jou hart en jou gedragslyn verander.—Spreuke 2:10-14.
Wanneer jy die Bybel lees, sal jy Psalm 25 besonder vertroostend vind. Dink na oor smeekbede tot Jehovah soos: “Dink nie aan die sondes van my jonkheid . . . nie” en “Vergeef my ongeregtigheid, want dit is groot.” En dink net hoe vertroostend dit is om te weet dat ‘die vertroulike omgang met Jehovah behoort aan diegene wat hom vrees’.—Psalm 25:7, 11, 14, vgl. NW.
Maar sulke Bybelstudie moenie net ’n inname van feite wees nie. Ons moet dieselfde gesindheid hê as dié van die psalmis wat gesê het: “Ek het u [Jehovah se] woord in my hart gebêre [soos ’n skat weggelê], dat ek teen U nie sal sondig nie” (Psalm 119:11, vgl. NW). Hoe kan jy Jehovah se woord soos ‘’n skat weglê’? Nadat hy die Bybel en verwante publikasisie van die “getroue en verstandige dienskneg” gelees het, kan jy jou afvra: Hoe waardevol is hierdie raad nou eintlik? Sal dit my help om Jehovah te behaag en onnodige hartseer te vermy? Hoe kan ek dit toepas? Toon hierdie praktiese raad nie dat my hemelse Vader weet wat vir my die beste is nie?—Mattheüs 24:45-47.
As jy die wet van God in jou hart inskerp, sal jou skrede nie “wankel” nie (Psalm 37:31). Maar om jou hart na Jehovah te laat terugkeer, sal jy gewoonlik die liefdevolle hulp van ’n ryp getuie van Jehovah nodig hê. Ja, iemand sal moontlik van vooraf moet begin om jou die ‘eerste beginsels van die woorde van God te leer’ (Hebreërs 5:12). Die gemeente se ouere manne sal jou met graagte help. Tree gerus met hulle in verbinding.
Let op jou omgang
Mense kan maklik jou hart ten goede laat neig of dit “verlei”. (Vergelyk 1 Konings 11:3, 4.) Die invloed van jou metgeselle se losbandigheid en “grootpratery” het moontlik daartoe bygedra dat jy van die waarheid af weggedryf het. Sulke persone sê: ‘Niemand skryf vir my voor nie! Waarom moet jy so nougeset wees?’ Maar is hulle werklik vry? Wat van party van die onchristelike gewoontes waaraan hulle moontlik verslaaf is? (Vergelyk 2 Petrus 2:18, 19.) Help hierdie individue jou om die dinge te doen wat blywende nut stig? Nee, hulle verhinder jou. Staak dus sulke slegte omgang en soek ryp persone op, diegene wat ‘wys’ is in God se oë!—Spreuke 13:20; 1 Korinthiërs 15:33.
‘God is meer as jou hart’
Een jong persoon wat op die ouderdom van agttien onchristelike gewoontes aangeleer het, het gesê: “Die vernaamste rede waarom dit so moeilik was om na die waarheid terug te keer, was omdat ek so onwaardig gevoel het. Ek het geglo dat al die dinge wat ek gedoen het so sleg was dat Jehovah my nooit sou vergewe of sou terugneem nie.” Hoewel sy hart hom veroordeel het, het hy mettertyd God se barmhartigheid besef. Hoe vertroostend kan tekste soos 1 Johannes 3:19, 20 tog in sulke situasies wees! Daar lees ons: “Hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel. God is meer as ons hart, en Hy weet alles.”
Ons harte kan ons weliswaar veroordeel. Maar Jehovah sien meer as ons sondes. Hy sien al die “geheime van die hart” (Psalm 44:22). Die omvang van sy kennis stel hom in staat om ons opregte gebede om vergifnis simpatiek aan te hoor. As ons ons sondes bely en ons gedragslyn verander, is God bereid om selfs ernstige sondes op grond van Jesus se losprysoffer uit te wis. Die feit dat ’n persoon so diep gegrief is, toon dat hy of sy nie reddeloos is nie. Maar so ’n individu moet ook Skriftuurlike bystand van die gemeente se ouere manne ontvang vir geestelike hulp en herstel (Jesaja 1:18; 1 Johannes 2:1, 2; 3:21; Jakobus 5:13-16). Gaan jy, as jy van die waarheid af weggedryf het, die nodig stappe doen om te herstel? Ons spoor jou aan om dit te doen.
Jehovah sal hulp voorsien
“Rig jou hart” in plaas daarvan om toe te laat dat dit jou mislei. Ontwikkel die regte vrees vir Jehovah. Die Bybel sê van iemand wat dit doen: “Daar is ’n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie” (Spreuke 23:17-19). En watter kosbare hoop tog—’n eindelose toekoms op ’n nuwe aarde wat deur die heerskappy van God se koninkryk in ’n paradys omgeskep is! Stel jou voor hoe dit sal wees om nie langer deur die neigings van ’n sondige hart gepla te word nie. Wêreldtoestande toon bowendien dat ons ons nou diep in die laaste dae bevind en dat hierdie hoop binnekort verwesenlik sal word. Die strewe om in die verwesenliking van so ’n hoop te deel, is waarlik die moeite werd!—Mattheüs 24:7-14, 34; 2 Timotheüs 3:1-5; 2 Petrus 3:13; Lukas 23:43, NW; Openbaring 21:3, 4.
Die feit dat Jehovah ons ’n wonderlike toekoms aanbied en ons versterk om dit te beërf, behoort ons na aan hom te bring. Hierdie persoonlike verhouding is op sigself ’n ryke beloning. Na haar geestelike herstel het die jong vrou wat vroeër gemeld is, gesê: ‘Dit voel weer vir my of Jehovah my Vader is.’ ’n Intieme verhouding met Jehovah God bring ’n skoon gewete, gemoedsrus en selfrespek mee. Daarbenewens sal jy weer eens ware vriendskappe geniet as jy na Jehovah en sy organisasie terugkeer.
Dit is natuurlik nie maklik om die hart te verander nie. Maar Jehovah sal jou pogings seën. Sy gees sal jou help om ‘die innerlike mens te versterk’ (Efesiërs 3:16). Jy sal vind dat die stryd makliker word namate jy in die gebed en in geestelike studie volhard, met Jehovah se Getuies omgaan en jou hart dissiplineer. Die hart sal begin om ’n verlange te vorm na wat goed is. Dit sal na Jehovah wil terugkeer.
“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou” sê Jehovah. “Kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou” (Jesaja 41:10). Dit is wat Jehovah sal doen vir diegene wat hom waarlik liefhet. As jy van die waarheid af weggedryf het en jou hart jou nogtans beweeg om te doen wat reg is, sal God ‘jou werklik help’ deur middel van sy heilige gees en deur verantwoordelike individue in die Christengemeente. Te dien einde sal die aangestelde ouere manne met graagte geestelike bystand verleen (1 Thessalonicense 5:12; Hebreërs 13:7). Benut hulle liefdevolle hulp. Vra hulle gerus dadelik om jou te help.