God se Woord is lewend
Waarom mense slegte dinge doen
DIE man heel voor, wat naby die muur in ’n stryd gewikkel is, is Uria. Koning Dawid van Israel het aan Joab, sy leërowerste, geskryf: “Sit Uria op die voorpunt van die hewigste geveg; trek julle dan agter hom terug, dat hy in die slag kan sneuwel.”—2 Samuel 11:15.
Uria was ’n goeie, lojale man. Waarom het Dawid, wat ook ’n kneg van Jehovah was, Uria dan opsetlik laat doodmaak?
Die volgende Bybelverse werp lig op die saak: “God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”—Jakobus 1:13-15.
Jy vra dalk: Maar hoe help hierdie informasie ons om te begryp waarom Dawid Uria laat doodmaak het? Om die antwoord te kry, moet ons ingaan op die omstandighede wat daartoe gelei het dat Dawid Uria dood wou hê.
Eendag, terwyl Uria weg was, het Dawid toevallig van sy dak af gekyk en gesien hoedat Uria se beeldskone vrou Batseba bad. Wat het Dawid gedoen? Hy het bly kyk. Hy het sodoende toegelaat dat ’n begeerte na geslagsomgang met Batseba in sy hart posvat. Dit was nie God wat Dawid versoek het nie. Nee, Dawid is deur sy eie begeerte weggesleep en verlok.
Eindelik het die verkeerde begeerte in Dawid so sterk geword dat hy Batseba na sy paleis laat bring het. Daar het hy omgang met haar gehad. Later, toe Batseba swanger geraak het en Dawid nie hulle owerspel geheim kon hou nie, het hy gereël dat Uria in die geveg sneuwel.
Dawid se sonde het weliswaar nie meegebring dat hy vir ewig God se guns verloor het en die doodvonnis deur Hom opgelê is nie. Dit is omdat Dawid opreg berouvol was en Jehovah hom genadig was (Psalm 51:3-16). Hierdie ondervinding help ons nietemin om te begryp dat mense dikwels slegte dinge doen omdat hulle verkeerde begeertes in hulle hart koester. Ons moet dus uit Dawid se ondervinding leer om situasies, sowel as bedrywighede en vermaak wat “hartstog” wek, te vermy.—Kolossense 3:5; 1 Thessalonicense 4:3-5.