’n Merkwaardige jaarvergadering
NAMATE die globale ekonomiese situasie vererger, is die jaarvergaderinge van talle sakeondernemings glad nie gelukkige geleenthede nie. Van die vergaderinge van die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank wat in Toronto gehou is, het die tydskrif Maclean’s gesê: “Hoop was die skaarsste produk by die jaarvergaderinge.”
’n Ander soort jaarvergadering is egter verlede jaar gehou. Al die sessies daarvan het die Christelike hoop weerspieël, die aanwesiges ware vreugde verskaf en broederliefde versterk. Die vrug van God se gees was geredelik by hierdie vergadering te sien.—Galasiërs 5:22; 1 Korinthiërs 13:13.
Op Saterdag, 2 Oktober 1982, het die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië die eerste keer in sy geskiedenis van 98 jaar sy jaarvergadering buitekant die Verenigde State van Amerika gehou. Op daardie mylpaaldatum het 119 lede van die korporasie (die wetlike agentskap wat deur Jehovah se Getuies gebruik word) en meer as 2 000 ander mense by die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies naby Toronto, Kanada, vergader.
Dit was ook opmerklik dat die meeste lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies dit kon bywoon. Hulle teenwoordigheid het die geleentheid nog meer besonder gemaak, want dit het hulle en ander ’n unieke geleentheid gebied. In watter opsig?
Wel, op voorstel van die Kanadese tak het die plaaslike ouere manne in gemeentes dwarsoor die land die tak verwittig wie van hulle die Koninkryk al baie jare lank verkondig. Hulle was die aangewese persone om deur die tak genooi te word as ’n blyk van liefde teenoor nulle sowel as om erkenning te verleen aan hulle jare van getroue diens.
Nagenoeg 1 800 veterane (baie met 40 en meer jare van diens) uit elke provinsie van Kanada was teenwoordig en kon mekaar leer ken. Hoewel hulle al dekades lank “medewerkers van God” was, het die meeste mekaar nog nooit tevore ontmoet nie.—1 Korinthiërs 3:9.
Vrydag se sessies
Die meeste veterane het nog nie die nuwe takfasiliteite in Kanada gesien nie, en daarom is Vrydagoggend en die vroeë deel van die middag van 1 Oktober opsygesit vir toere deur die geboue. Die besoekers het ook middagete in die eetsaal geniet. Later het busse hulle na die Byeenkomssaal geneem vir die aandete en Vrydagaand se program. Dit het ’n afsonderlike jaarvergadering ingesluit, naamlik dié van die Internasionale Bybelstudentevereniging van Kanada, die Kanadese korporasie wat deur Jehovah se Getuies gebruik word. Na daardie kort sakevergadering van die 20 lede van die korporasie, het die hele gehoor na drie toesprake geluister.
Die eerste het die geskiedenis van die Kanadese IBSV vanaf die stigtingsjaar, 1925, hersien en getoon dat dit in die lewe geroep is om Koninkryksprediking te bevorder. Toe het L. K. Greenlees van die Bestuursliggaam gepraat oor die feit dat Christene geen deel van die wêreld is nie en getoon dat dit ons beskouing raak van hoe ons die wêreld, sy onderwysstelsel, sy rykdom en luukse gebruik. Eindelik het F. W. Franz, as president van die Kanadese korporasie, ’n bemoedigende toespraak oor die Grotere Kores, Jesus Christus, as die Herder-Bevryder van God se volk gehou. Broer Franz het sy kommentare gebaseer op Jesaja 44 en 5, en almal aangespoor om oor die hele wêreld as een kudde onder die een Herder bymekaar te bly.
Saterdag se sessies
Saterdag se program het begin met gebed en ’n tydige bespreking van ’n Bybelteks, gevolg deur enkele ondervindinge.
Toe is die sakevergadering van die Wagtoringgenootskap gehou. Die sekretaris het berig dat daar nou 464 stemgeregtigde lede van die korporasie is en dat 455 lede persoonlik of by volmag teenwoordig was, genoeg om oor die volgende dienstermyn van twee van die Genootskap se direkteure te stem. Grant Suiter en J. E. Barr is eenparig herkies.
Die sekretaris het ook aangekondig dat die Kanadese Departement van Verbruikers- en Korporatiewe Aangeleenthede op 22 Julie 1982 ’n nuwe Kanadese korporasie vir Jehovah se Getuies genaamd die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Kanada goedgekeur het. Dit sal ’n einde maak aan die verwarring wanneer die IBSV-naam in handelinge met die publiek gebruik word. Die nuwe korporasie sal ’n ledetal van hoogstens 100 hê, met ’n raad van 7 direkteure.
Broer Franz het toe etlike gepaste kommentare oor “organisasie” gemaak. Hy het getoon dat wanneer ’n groep betreklik klein is, dit nie beteken dat Jehovah dit nie as ’n organisasie sal gebruik nie. ’n Mens moet nie ‘die dag van klein dinge verag nie’ (Sagaria 4:10). Natuurlike Israel het klein begin, en so ook geestelike Israel, wat aanvanklik uit slegs sowat 120 bestaan het.—Deuteronomium 7:7; Handelinge 1:15; 2:1-4.
Die middag is ’n program van vier toesprake aangebied onder voorsitterskap van Lloyd Barry. Karl Klein het verduidelik dat die beginsel dat wie volop saai ook volop sal maai op alle intelligente wesens van toepassing is. Jehovah inkluis, en dat dit op alle gebiede van ’n Christen se lewe geld (2 Korinthiërs 9:6). A. D. Schroeder het getoon dat Jehovah se organisasie al hoe beter Bybelopleiding aanbied terwyl die wêreld bevrees en hopeloos is. L. A. Swingle het die wêreldwye uitbreiding van Jehovah se Getuies van 3 868 verkondigers in 1918 tot meer as 2 300 000 vandag hersien. Hy het verduidelik dat die potensiaal vir verdere groei blyk uit rapporte soos dié dat Ecuador verlede jaar ’n vermeerdering van 14 persent gehad het en dat meer as 536 000 die Here se Aandmaal in Mexiko bygewoon het. Theodore Jaracz het sy hoorders aangespoor om “hulle daarop toe te lê om die Koninkrykswerk snel te laat loop”.—2 Thessalonicense 3:1.
Teen die einde van die vergadering het broer F. W. Franz aangekondig dat vanjaar se jaarvergadering in Engeland gehou sal word. Die applous het die gehoor se opregte goedkeuring getoon vir die gedagte dat hierdie jaarlikse geleentheid van vreugde en Christelike omgang met broers in ander lande gedeel moet word.
So het twee heerlike dae van geloofversterkende omgang ten einde geloop. “Dit was Inderdaad onvergeetlik en geestelik opbouend om teenwoordig te wees toe lede van die Bestuursliggaam ons toegespreek het”, het een veteraan-Koninkryksverkondiger gesê. Nog iets wat tot die vreugde van die geleentheid bygedra het, was die feit dat 128 broers van die Brooklyn-Bethel en 28 van Watchtower Farms af dit bygewoon het. Twaalf plekke in Noord-Amerika, selfs een in Kalifornië, was per kabel verbind. Dit het die totale opkoms op 4 059 te staan gebring, onder meer 70 Franssprekende broers by die Byeenkomssaal vir wie die program regstreeks vertaal is.
Al die aanwesiges moes met broer Franz saamstem toe hy aan die einde van die eerste dag gesê het: “Watter verkwikkende dag was dit tog vir ons almal—om hierdie assosiasie te geniet!” Dieselfde kon van die tweede dag gesê word. Die voorbereiding het baie beplanning en werk gekos, maar Jehovah het hierdie pogings geseën.
Diegene wat die voorreg gehad het om dit by te woon, is bemoedig en verkwik deur die assosiasie wat hulle met ou en nuwe vriende geniet het. Dit was vir baie hulle eerste jaarvergadering, maar dit was vir almal ’n uiters merkwaardige jaarvergadering.
[Prent op bladsy 11]
Die Wagtoringgenootskap se president en sekretaris stem saam met die ander lede